![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
SAAKNOMMER: 622/91
J VD M
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPêLAFDELING)
In die saak tussen:
A
MOKGALAKA Appellant
en
DIE
STAAT Respondent
CORAM: E M GROSSKOPF, EKSTEEN, ARR et
VAN COLLER, Wnd AR
VERHOORDATUM: 18 MAART 1993
LEWERINGSDATUM: 31 MAART 1993
UITSPRAAK
VAN COLLER, Wnd AR:
Die appellant is op 13 November 1989 in die landdroshof vir die distrik van Johannesburg skuldig
2
bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer. Hy is gevonnis
tot 12 maande gevangenisstraf waarvan ses maande voorwaardelik
opgeskort is vir
vyf jaar. Die appellant se appél na die Witwatersrandse Plaaslike
Afdeling teen beide die skuldigbevinding
en vonnis is van die hand gewys. Verlof
is deur hierdie Hof aan die appellant verleen om teen die vonnis te
appelleer.
Volgens die getuienis was die appellant by 'n
meenthuiskompleks in diens as tuinier. Hy het ook werk in die tuine van sommige
van
die bewoners verrig. Die klaagster, wat deur die landdros as 'n baie skraal
persoon beskryf is, het in een van die meenthuise gewoon.
Haar ouderdom blyk nie
uit die oorkonde nie. Ongeveer 'n jaar of twee voor die voorval wat tot die
onderhawige saak teen die appellant
aanleiding gegee het, het die
bestuurskomitee die tuine van die kompleks onder die beheer van die klaagster
geplaas. Die
3
appellant moes dus haar opdragte uitvoer.
Die klaagster het
getuig dat sy die oggend van 30 Augustus 1989 met die appellant gepraat het oor
werk wat hy gedoen het. Die gesprek
was heel vriendelik en sy het geen kritiek
teen sy werk uitgespreek nie. Sy het hom ook meegedeel dat sy en twee ander
dames, ook
inwoners van die kompleks, op 'n later stadium 'n aangeleentheid met
hom wou bespreek. Die appellant het haar toe meegedeel dat hy
ook baie klagtes
het. Sy het aan hom gesê dat hulle dit alles by die samespreking sal
uitpluis. Die appellant het begin skreeu
en sy het hom versoek om liewer te
gaan. Hy het die klaagster toe aan die keel gegryp en haar gewurg. Sy het
losgeruk en die appellant
het haar met die vuis op die linkeroog geslaan. Sy het
by die motorhuis ingehardloop. Die appellant het haar agtervolg, haar teen
die
muur vasgedruk en haar geslaan, geskop en gewurg. Sy het begin skreeu en
haar
4
huishulp, Bella, het tot haar hulp gekom. Bella het gepoog om die appellant van haar weg te trek maar kon nie daarin slaag nie. 'n Ander vrou het ook op die toneel verskyn en die appellant het die klaagster gelos en by die tuinhek uitgehardloop. Hy is kort daarna gearresteer. Volgens die klaagster het sy kneusplekke op haar hele liggaam gehad. Haar mond was stukkend en haar linkeroog was blou. Sy het ook lelike krapmerke aan die nek gehad en haar tande het vir weke gepyn as gevolg van die houe wat sy in die gesig ontvang het. Volgens die klaagster se getuienis was sy nog ten tye van die verhoor vreesbevange en angstig in die nag. Sy het dit as vertraagde skok bestempel. Dit blyk uit die klaagster se getuienis dat sy haar huisdokter dieselfde dag gaan spreek het. Die Staat het egter nie sy getuienis aangebied nie.
Bella Cisilwa het getuig dat toe sy in die motorhuis kom, die klaagster teen die muur gesit het en
5
die appellant het haar hande gehouvas. Sy het merke aan die klaagster se
keel gesien en ook gesien dat haar een oog blou is. Sy het
nie gesien dat die
appellant die klaagster slaan nie.
Die appellant se weergawe van die
gebeure daardie oggend is kortliks soos volg. Die klaagster het die wyse waarop
hy sekere blomme
geplant het, gekritiseer. Sy het hom gevra waarom die blare van
die blomme geel is en sy het op hom geskreeu. Sy het hom met die
oop hand op die
linkerwang geslaan. Sy het ook aan hom gevra waarom hy "kafferwerk" doen. Hy was
heeltemal uit die veld geslaan en
het getuig dat hy die klaagster twee keer in
die gesig met die oop hand geklap het. Sy het na die motorhuis gehardloop en hy
het
by die hek uitgeloop. Volgens die appellant het hy 'n hele aantal probleme
met die klaagster ondervind nadat hy onder haar toesig
geplaas is. Sy het sekere
beloftes wat sy teenoor hom gemaak het nie nagekom nie.
6
So bv het sy onderneem dat hy dubbele besoldiging sou kry wanneer hy op verlof gaan. Sy sou ook sorg dra dat versekering vir hom uitgeneem word. Hierdie ondernemings is nie gestand gedoen nie. Die appellant het ook van ander probleme wat tussen hom en die klaagster sou bestaan het getuig, maar dit is nie nodig om hierop in te gaan nie. Dit dien vermeld te word dat die appellant tydens sy pleitverduideliking erken het dat hy die klaagster vasgehou, gewurg en twee keer met die oop hand in die gesig geslaan het. Hy het ook erken dat hy haar een keer met die vuis agter die nek geslaan het.
Die landdros het bevind dat daar niks onwaarskynlik in die Staat se weergawe is nie en dat dit aanvaar behoort te word. Geen uitdruklike bevinding aangaande die geloofwaardigheid van die klaagster is egter gemáak nie. Hierteenoor het die landdros bevind, met verwysing ook na die appellant se
7
pleitverduideliking, dat sy weergawe nie redelik moontlik waar kon wees nie.
Ten tye van die verhoor was die appellant 50 jaar oud en sy vrou en vyf kinders het op daardie stadium in Venda gewoon. Die appellant het ongeveer ses jaar by die kompleks gewerk maar sy dienste is na die voorval beëindig. Op daardie stadium was sy salaris R270 per maand. Hy het ook uit ander werk 'n verdere inkomste van R200 per maand gehad. Hierdie werk is nie deur die voorval geraak nie. Die appellant is in 1970 skuldig bevind aan moord en tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy is gedurende 1975 vrygelaat.
Mnr Navsa wat namens die appeílant verskyn het, het aangevoer dat die landdros haar by die oorweging van 'n gepaste vonnis in verskeie opsigte wanvoorgelig het. In die lig van die bevinding waartoe geraak is, is dit voldoende om met slegs twee te
8
handel.
Dit blyk uit die landdros se redes vir
vonnis
dat sy die aanval op die klaagster as ' n baie
ernstige aanranding
beskou het. Aangaande die erns van
die aanranding was sy slegs
aangewese op die getuienis
van die klaagster. Dat die klaagster
geslaan, geskop
en gewurg is kan nie aangeveg word nie. Daar
moes
egter twyfel by die landdros bestaan het of
die
aanranding so gewelddadig was as wat die
klaagster
voorgegee het en ook of die gevolge so ernstig was
soos
deur haar getuig. Dit is tydens
kruisondervraging
uitdruklik aan die klaagster gestel dat die
appellant
sal getuig dat hy haar nie so hewig toegetakel het
as
wat sy te kenne wou gee nie. Die klaagster
het
geantwoord dat sy haar dokter se bewyse het.
Die
geneesheer is egter nie as getuie geroep nie en mnr
Van
Deventer, namens die Staat, het tereg toegegee dat
dit
' n leemte in die Staat se saak is. Volgens die
9
klaagster is sy ook in die motorhuis ernstig aangerand.
Volgens haar hoofgetuienis het die appellant haar geslaan, geskop en gewurg.
In
kruisondervraging het sy gesê dat die appellant haar geskop en geklap het
en probeer het om by haar keel uit te kom. Die
appellant sou haar dus in die
motorhuis nie gewurg het nie. Volgens die klaagster sou Bella en die ander dame
die aanranding in die
motorhuis gesien het. Bella het egter getuig dat sy slegs
gesien het dat die appellant die klaagster se hande houvas. Die dame wat
ná Bella die motorhuis binne gegaan het, is ook nie as getuie geroep nie.
Die redelike moontlikheid bestaan derhalwe dat die
klaagster die aard en erns
van die aanranding oordryf het. Hoewel die landdros in haar redes vir vonnis
sê dat sy nie wil spekuleer
aangaande wat in die motorhuis gebeur het nie,
is haar versuim om die redelike moontlikheid dat die hele gebeure erg deur die
klaagster
oordryf is in aanmerking te neem na my mening
10
'n wesenlike mistasting.
Mnr Navsa het ook aangevoer dat die
aanranding plaasgevind het as gevolg van provokasie deur die klaagster en dat
die landdros fouteer
het deur dit nie in aanmerking te neem nie. Die landdros
het bevind dat die aanval nie beplan was nie en dat dit in die hitte van
die
oomblik plaasgevind het. Sy het egter geen bevinding gemaak aangaande wat die
appellant tot hierdie optrede beweeg het nie. Dit
is duidelik uit die klaagster
se getuienis dat die appellant in die loop van die gesprek kwaad geword het. Die
klaagster het ontken
dat sy die appellant se werk as "kafferwerk" bestempel het
of dat sy dit gekritiseer het of enigiets gesê of gedoen het wat
die
uitbarsting tot gevolg kon gehad het. Daar bestaan geen gronde om die afleiding
te regverdig dat die appellant uit blote boosaardigheid
opgetree het nie en hy
het waarskynlik tot die aanranding oorgegaan as gevolg van iets wat die
11
klaagster van hom gesê het. Die landdros moes by die oorweging van vonnis in die appellant se guns aanvaar het dat provokasie van een of ander aard deur die klaagster tot die aanranding aanleiding kon gegee het. Haar versuim in hierdie opsig stel 'n verdere mistasting daar.
In die omstandighede is hierdie Hof verplig om met die vonnis in te meng en om self opnuut oor ' n gepaste straf te besin. Hoewel die aanranding op 'n vrou gepleeg is en hoewel die appellant 'n vorige veroordeling van moord het, is hier faktore aanwesig wat na my mening 'n opgeskorte vonnis regverdig. Die vorige misdryf waaraan die appellant skuldig bevind is het ongeveer 19 jaar voor die onderhawige misdaad plaasgevind. Daar kan dus nie veel gewig aan geheg word nie. Die aanranding kan sekerlik nie as gering bestempel word nie en afgesien van die beserings wat die klaagster opgedoen het moes dit vir haar 'n skokkende
12
ondervinding gewees het. Hoe ernstig die aanranding werklik was is egter onbekend as gevolg van die Staat se versuim om die geneesheer as getuie te roep. Die feit dat die aanranding nie vooraf beplan is nie, op die ingewing van die oomblik en moontlik as gevolg van provokasie geskied het, is sterk versagtende faktore. Dit moet ook in aanmerking geneem word dat die appellant ten tye van die voorval reeds 50 jaar oud was en dat hy sy werk by die kompleks verloor het. In die lig van al die omstandighede is ek van mening dat 'n vonnis van 12 maande gevangenisstraf in geheel opgeskort, 'n gepaste vonnis sal wees.
Die appèl teen die vonnis slaag. Die vonnis deur die landdros opgelê word tersyde gestel en vervang met 'n vonnis van 12 maande gevangenisstraf wat in geheel opgeskort word vir 'n tydperk van vyf jaar op voorwaarde dat die appellant nie skuldig bevind word nie aan aanranding gepleeg gedurende die tydperk van
13
opskorting en waarvoor hy gevonnis word tot gevangenisstraf sonder die keuse van 'n boete.
A P VAN COLLER WAARNEMENDE APPéLREGTER
E M GROSSKOPF, AR )
STEM SAAM EKSTEEN, AR )
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1993/49.html