![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
Saaknommer 259/92
/al
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPéLAFDELING) In die saak van:
VUSUMZI
TSOTSOBE Eerste Appellant
PHINDILE SONTSONGO Tweede Appellant
PHUMSILE MAYANI Derde Appellant
KOLOKILE MAGANGULA Vierde Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM : VAN HEERDEN AR, KRIEGLER et HARMS WND.ARR
DATUM VAN
VERHOOR : 15 FEBRUARIE 1993
DATUM VAN UITSPRAAK : 4 MAART 1993
UITSPRAAK
KRIEGLER WND. AR/..
2
KRIEGLER WND. AR:
Die vier appellante is in die Oos-Kaapse Afdeling
skuldig bevind aan moord en ter dood veroordeel. Hulle kom nou ingevolge die
bepalings
van a. 316A(1) van die strafproseswet nr. 51 van 1977 in hoër
beroep, eerste appellant slegs teen die doodvonnis hom opgelê
en die ander
drie ook teen hul skuldigbevindings.
Dit was 'n sogenaamde tronkmoord: Die
oorledene en die vier appellante was op 29 Augustus 1990 selgenote in die
maksimum-seksie van
die St Alban-gevangenis, Port Elizabeth, toe die oorledene
kort voor sesuur die oggend in die selbadkamer met 'n mes doodgesteek
is. By die
verhoor sowat 'n jaar later het die Staat aangevoer dat al vier die appellante
wederregtelik en opsetlik meegedoen het
aan die doodslag van die oorledene. Die
verdedigingsaak was dat eerste appellant - en hy alleen - spontaan en in 'n
woedebui die
oorledene
3
toegetakel het met 'n mes wat hy van hom afgeneem
het.
Tweede appellant sou daartydens teenwoordig
gewees het, geen deel aan die
aanval gehad het nie
maar tewens vir eerste appellant weerhou het van
die
toediening van verdere steekwonde op die
oorledene. Volgens derde appellant
was hy wel
tydens die aanval deur eerste appellant op die
oorledene in die
badkamer teenwoordig maar bloot as
toeskouer. Vierde appellant se verweer was
dat hy
eers kort na voltooiing van die aanval, onskuldig
en onwetend, die
badkamer binnegegaan het. Die
verhoorhof het die appellante se weergawes
verwerp
en bevind dat al vier, in samespanning en aktief,
deelgeneem het
aan die moord. Sodanige bevinding
is in hierdie hof namens die
appellante
bevraagteken, wat eerste appellant betref slegs in
die mate wat
dit slaan op die toepaslikheid van die
doodvonnis. Die Staatsadvokaat,
daarenteen, het
die verhoorhof se feitebevindings en gevolglike
4
vonnisse ondersteun.
Die verhoorhof se slotsom is grootliks
op omstandigheidsgetuienis gefundeer. Die Staat het wel by die verhoor die
getuienis aangebied
van 'n persoon wat voorgegee het 'n ooggetuie tot die moord
te gewees het. Hy was egter so kennelik onbetroubaar dat die verhoorhof
hoegenaamd geen peil op sy getuienis getrek het nie. Advokaat Le Roux, wat in
beide howe namens die Staat opgetree het, het dan ook
in hierdie hof toegegee
dat die betrokke getuie se weergawe buite rekening gelaat moet word. Blykens die
oorkonde is die toegewing
tereg gemaak.
Die omstandigheidsgetuienis val in twee kategorieë. Ten eerste is daar
die breë agtergrond, soos blyk uit dit wat óf
gemene saak is
óf bo twyfel op die getuienis vasstaan. Ten tweede is daar getuienis van
die gebeure wat meer regstreeks met
die dodelike aanval in
verband
5
staan.
Die eerste breëre omstandigheid waarop gelet moet
word, is die fisiese milieu. Die maksimum-seksie maak deel uit van ' n grotere
gevangeniskompleks en is, soos die naam aandui, bedoel vir gevangenes met 'n
relatief hoë veiligheidsrisiko. In die betrokke
sel was daar destyds 43
langtermyngevangenes. Die destydse posisie was soos volg. Die slaapgedeelte van
die sel bestaan uit 'n langwerpige
vertrek, sowat 15 meter lank van wes na oos
en vyf meter wyd. Teen die oostemuur is daar 'n battery sluitkassies en in die
middel
van die westemuur is daar 'n soliede deur na 'n aanliggende badkamer.
Langs die noordemuur van die sel en badkamer loop daar ' n
gang waarvandaan daar
toegang tot die sel verkry word via ' n soliede deur en traliehek na die
badkamer. In laasgenoemde vertrek is daar 'n stort, urinaal, toiletbak en twee
wasbakke. Die
6
selbewoners slaap op slaapmatte langs mekaar met hul koppe teen die twee lang mure van die sel. Soggens vyfuur lui 'n opstaanklok en 'n uur later 'n aantreeklok; dan moet die gevangenes regstaan om in die gang aan te tree vir inspeksie, elk met sy gevangeniskaart in die hand. Dié moet volgens voorskrif vir identifikasiedoeleindes getoon word, hetsy op aanvraag van 'n gevangenisbeampte hetsy spontaan deur 'n gevangene wat 'n formele mededeling aan 'n beampte wil maak.
Afgesien van die fisiese milieu moet daar kennis geneem word van die gevangeniskultuur wat die betrokke selbewoners se daaglikse bestaan omgewe het. Meer besonderlik moet gelet word op die impak van tronkbendes. Soos weldra sal blyk, speel hierdie faktor 'n belangrike rol by die beoordeling van die getuienis, beide wat betref skuldigbevinding én vonnis. Die oorkonde bevat heelwat inligting dienaangaande, gesien uit 'n
7
verskeidenheid invalshoeke. Die eerste inligtingsbron is appellant 2. Hy is 'n intelligente, welsprekende en deurwinterde residivis. Ten tyde van die moord was hy 35 jaar oud, het hy twee agtereenvolgende verklarings tot gewoontemisdadiger op sy kerfstok gehad en was hy die adjunk-monitor in die betrokke sel. Belangriker nog is dat hy 'n betreklik senior rang in 'n bende genaamd die 26's beklee het. Hy was dan ook die senior lid van daardie bende in die betrokke sel. Alhoewel hy by tye in die getuiebank breedsprakig ontwykend was, is sy siening van die bendekultuur en -praktyke insiggewend. Dit is te meer die geval aangesien dit gesien kan word in samehang met die getuienis van die Hoof, Sielkundige Dienste in die Port Elizabethse Kommandement van die Departement van Korrektiewe Dienste, maj. Delport. Hy is 'n geregistreerde kliniese sielkundige met 10 jaar ondervinding in
8
die Departement en praktiseer ook deeltyds privaat. Hy het op versoek van die verdediging en met die oog op strafversagting 'n verslag van bykans 60 bladsye voorberei aan die hand van sy vakkundige kennis plus uitvoerige onderhoude met die vier appellante. Daar word later op laasgenoemde teruggekom. Wat tans van belang is, is die inleidende hoofstuk van sy verslag, waarin hy 'n teoretiese ontleding en beskrywing verstrek van die gevangenisgemeenskap as subkultuurgroep en van bendevorming en -gedrag. In die derde instansie het twee ervare gevangenisbeamptes uit hul praktiese ervaring insigte gegee oor die moontlike uitwerking van bende-lojaliteite en -bedrywighede op die onderhawige gebeure.
Die distillaat van die voormelde getuienis, vir sover dit hier ter sake is, kom op die volgende neer. Die gevangenisgemeenskap verskil radikaal van dié daarbuite. Die depersonaliserende gebrek
9
aan vryheid, goedere, dienste, outonomie, sekuriteit en heteroseksuele
verhoudings skep 'n subkultuur met norme, waardes en verwagtings
van sy eie.
Groepvorming bevorder onderlinge sekuriteit, status en voordele. Daarvandaan dan
die bestaan van tronkbendes dwarsoor
die land, veral onder manlike swart en
kleurling langtermyngevangenes. Die bendes ding mee om mag en uitbarstings van
georkestreerde
geweld kom meermale voor. Origens buit bendelede ander gevangenes
uit deur geweld of die dreigement daarvan. Bendes funksioneer para-militêr
met 'n hiërargiese gesagstruktuur, 'n streng dissiplinêre kode en
hegte groepslojaliteit. Terwyl lidmaatskap van 'n bende
enersyds beskerming en
gunstiger bestaansmoontlikhede bied, verg dit andersyds absolute onderhorigheid.
Vordering deur die range
word verdien deur die stipte uitvoering van opdragte
terwyl ongehoorsaamheid bestraf word met
10
sanksies, selfs die dood.
In die maksimum-seksie van die St
Alban-gevangenis het twee bendes die botoon gevoer, naamlik die 26's en die
28's. Negentien van
die 43 gevangenes in die betrokke sel was lede van die
26-bende. Van hulle was appellant 2 die senior lid terwyl appellante 1 en
4 die
rang beklee het van "soldaat", die laagste vlak van ingelyfde lede. Appellant 3
was 1id van geen tronkbende nie maar het buite
die tronk behoort aan 'n bende
wie se lede hulle binne die tronk by die 26's skaar. Die oorledene was op sy
beurt lid van die 28-bende.
Hoeveel van laasgenoemde bende daar in die sel was,
is nie bekend nie.
Daar word vervolgens gekyk na die omstandighede wat in nouer verband staan
tot die moord. Die verhaal begin enkele weke tevore toe
lede van die 28-bende in
' n ander sel van die maksimum-seksie 'n aanval op lede van die 26-bende
11
geloods het. Een van die slagoffers was appellant 1, wat so ernstig aangerand is
dat hy gehospitaliseer moes word. Na sy ontslag
uit die hospitaal is hy
oorgeplaas na die betrokke sel. In dieselfde tyd was daar drie ander nuwe
aankomelinge in die sel, almal
pas gevonnistes. Die een was die oorledene en die
ander twee was Bongani Billie en Zola Mahlati. Laasgenoemde twee, wat geen
bendeverbintenis
gehad nie, is as staatsgetuies geroep. Slaapplekke is aan hulle
toegewys in die noordwestehoek van die sel, Mahlati in die hoek,
dan die
oorledene en Billie langs hom. Die lede van die 26's het teen die suidemuur
geslaap, met appellant 2 in of naby die suidwestehoek.
Volgens Mahlati en Billie is hulle in die vroeë oggendure van die noodlottige dag deur appellante 2 en 4 onderskeidelik gelas om 'n tyd lank lêplekke om te ruil. Appellant 2 het dit ontken terwyl appellant 4 beweer het dat hy Billie
12
gaan roep het om by hom te kom sodomie pleeg. Dit is onnodig om uit te
maak of die verhoorhof se aanvaarding van Mahlati en Billie
se weergawe en die
verwerping van dié van appellante 2 en 4 geregverdig is. Al word aanvaar
dat daar 'n tydelike omruilery
was, is daar geen inligting oor wat daartydens
sou gebeur het waarvan betroubare afleidings gemaak kan word nie.
Wat die latere gebeure betref, is daar geen ooggetuienis ter weerlegging van die verdedigingsweergawe van die toediening van die dodelike steekwohde nie. Ook is daar aansienlike geskille oor die regstreeks omringende gebeure. Nietemin is daar 'n aantal onbetwiste omstandighede wat aangestip moet word voordat die betwiste getuienis oor die kritieke fase ontleed en geëvalueer word:
(a) Oorledene, reeds geklee en oënskynlik ongedeerd, gaan tussen die
twee geluie badkamer
13 toe.
(b) Daar word hy, voor die lui van die aantreeklok, met 'n mes doodgesteek. (c) Hy is 16 keer in die linkerborskas gesteek, 14 houe gekonsentreer bokant die tepel, een nader aan die linkerarmholte en die laaste laer af by die onderste rib; die hart, pulmonêre slagaar, linkerlong en -nier is getref. (d) Appellante 1, 2 en 3 was ten tyde van die toediening van die steekwonde in die badkamer. (e) Die oorledene se lyk is op sy beddegoed deur appellante 1 en 2 uit die badkamer verwyder en, oordek met 'n kombers, in Mahlati se slaapplek in die noordwestehoek van die sel neergelê.
(f) Onmiddellik ná die oopsluit van die sel oorhandig appellant 2 spontaan die moordwapen en sy tronkkaartjie aan sers. Ferndale. (g) Kort daarna word appellante 3 en 4 se tronkkaartjies aan Ferndale oorhandig. (Appellant
14 1 se kaartjie was sedert die
aanranding op hom soek.)
(h) Nog voor enige ondersoek gedoen is, sonder
Ferndale die vier appellante van hul selgenote af, waarna hulle as verdagtes in
afsonderlike
enkelselle opgesluit word.
Vervolgens dan die betwiste getuienis. Ten aansien daarvan berus die Staatsaak op die getuienis van Billie, Mahlati en Ferndale. Volgens Billie is hy 'n rukkie ná die oorledene badkamer toe. Daar wag hy sy beurt by die wasbak af. Die oorledene verlaat die wasbak en gaan na die toilet terwyl die getuie die wasbak gebruik. Terwyl hy nog besig is om te was, beveel appellant 3 hom om die badkamer te verlaat. Hy gehoorsaam haastig en met die uitgaanslag ontmoet hy appellant 4 wat ingaan. Hy gaan sit op sy beddegoed en hoor deur die toe deur van die badkamer ' n geworstel en gedempte uitroep daarbinne. Kort daarna maak
15
appellant 3 die deur oop en loer uit. 'n Rukkie
later kom
appellante 3 en 4 uit die badkamer en
gaan sit op hulle beddens. Hulle word
gevolg deur
appellant 2 en toe 1, wat na die sluitkaste aan die
oostekant
van die sel stap. Appellante 3 en 4
sluit by hulle aan en die vier voer daar
'n
gesprek. Daarop fluister appellant 1 iets in
Mahlati se oor en sleep
die oorledene se beddegoed
badkamer toe. Mahlati verskuif sy beddegoed na
die
oorledene se plek en appellante 1 en 2 dra die
oorledene op sy
beddegoed in na Mahlati se
slaapplek in die hoek. Daarna, terwyl appellante
1
en 2 op hul slaapplekke sit, hoor Billie iemand
hardop sê "Joe,
gaan haal af die lyfband van
daardie persoon se nek af" waarop appellant 2
sê
"Moenie vir hierdie plaasjapie stuur om dit te doen
nie, gaan
doen dit self." Daarop staan appellant 4
op, gaan na die oorledene, haal 'n
lyfband van sy
nek af, vou dit op en gaan sit daarmee op sy
16 slaapplek. Later stap appellant 2 op en af in die sel en, met sy tronkkaartjie in die hand, sê hy "'n Persoon moet aandag skenk aan sy tronkkaartjie en hy moet hom nie met ander mense se sake bemoei nie." Daarna, toe daar vir inspeksie aangetree word, sien Billie dat appellant 2 'n mes en tronkkaartjies aan Ferndale oorhandig. Ondanks deurtastende kruisondervraging deur die twee advokate namens die appellante hou Billie voet by stuk.
Mahlati het ook die oorledene sien badkamer toe gaan ná die opstaanklok maar terwyl hy nog besig was met bedopmaak sien hy mense uit die badkamer storm. Hy stel dit grafies:
"Van hulle was kaal bolyf, die ander was nakend en die ander was vol seep in hulle gesigte. Hulle was baie gewees en hulle het vinnig in die sel ingekom. Kort daarna het ek ' n arm gesien aan die deur vat en dit
17
toetrek." Hy vertel ook van 'n worsteling wat hy toe in die
badkamer gehoor het en meld, soos Billie, 'n gedempte skree. Hy beaam
ook
laasgenoemde se getuienis oor die volgorde waarin die vier appellante uit die
badkamer kom, dat appellante 3 en 4 eers op hulle
beddegoed gaan sit het en dat
hulle daarna by die sluitkaste by appellante 1 en 2 aansluit. In teenstelling
met Billie het Mahlati
dit egter dat nie slegs die vier appellante daar vergader
het nie maar ook ander mense. Ewenwel, hy bevestig dat appellant 2 ná
die
vergadering met hom kom praat het en sê dat dit ' n bevel was om sy
beddegoed uit die hoeklêplek na die oorledene
se plek langsaan te skuif.
Hy beaam dat appellant 2 betrokke was by die vervoer van die oordekte lyk op die
oorledene se beddegoed
na die lêplek in die hoek. Aangesien hy sy aandag
stip voor hom bepaal het, het hy nie gesien of appellant 2 hulp daarmee
18
gehad het nie. Mahlati beskryf ook die gesprek met betrekking tot die lyfband en
dat appellant 4 dit gaan afhaal het. Hy voeg egter
by dat, terwyl hy stap om ' n
"zol" by ' n selmaat te gaan opsteek, hy sien hoe appellant 2 die lyfband in
stukkies sny en aan appellant
4 oorhandig, wat daarmee na die badkamer gaan. Hy
beskryf dan ook hoe appellant 2 in die middel van die sel gaan staan en,
kaartjie
in die hand, sy selgenote toespreek. Mahlati se relaas van die woorde
('n jaar na die gebeure) klop grootliks met dié van
Billie. Volgens
Mahlati het die ander drie appellante op daardie stadium by die sluitkaste
gestaan. Kruisondervraging van Mahlati
was kursories en laat sy weergawe haas
onversteurd.
Die daaropvolgende getuienis slaan op 'n ander fase, naamlik die gebeure toe
die sel oopgesluit word. Mahlati getuig nie daaroor nie,
Billie en Ferndale
weerspreek mekaar in 'n mate en
19 laasgenoemde is daaroor bra onsamehangend.
Die appellante se weergawes dienaangaande is ook nie besonder duidelik en
konsekwent
nie. Bygevolg is die enigste betroubare bevinding aangaande daardie
fase van die gebeure dat al vier die appellante deur Ferndale
afgesonder is van
hul selgenote op 'n stadium toe hy slegs van die een of die ander of al die
appellante inligting aangaande die
identiteit van die betrokkenes by die moord
verneem gehad het.
Billie en Mahlati se geloofwaardigheid is natuurlik van kardinale belang. Aanvaarding van hul weergawe van die appellante se optrede voor, tydens en ná die aanval op die oorledene is sterk inkriminerend. Vanselfsprekend moet hul getuienis versigtig benader word. Hulle was immers gevonniste misdadigers; bowendien bestaan daar vir hulle die versoeking om deur valse inkriminasie van die appellante vir hulself die guns van die
20
gevangenisowerheid te werf. (Hulle is kort na die gebeure saam
na 'n ander gevangenis oorgeplaas en reeds voor die verhoor op parool
vrygelaat.) Daar is ook 'n aantal opsigte waarin hul weergawes, onderling asook
van dié van Ferndale, verskil. Desondanks
is daar meer as voldoende rede
om die verhoorhof se aanvaarding van die substansie van hul getuienis te
ondersteun. Daar is geen
suggestie van oordrywing of selfs bespiegeling in hul
getuienis te bespeur nie; inteendeel, die oorwegende indruk is een van saaklike
voordrag van 'n reeks gebeure wat onbevange waargeneem is. Daar is nie sprake
van partydigheid vanweë bendeverbondenheid by
hulle nie; ook nie van enige
toegeneëntheid tot die oorledene of vyandigheid jeens die appellante nie.
As nuwe aankomelinge
het hulle die betrokkenes beswaarlik geken. Dit is dan ook
betekenisvol dat geeneen van hulle enigiets regstreeks inkriminerend voordra
nie.
21 Daarby aansluitend is dit belangrik om te let op die mate van
ooreenstemming in hul onderskeie relase en die aard en wese van die
verskille.
Wat betref laasgenoemde moet in gedagte gehou word dat hulle bykans 'n jaar
ná die gebeure daaroor getuig het.
Billie se getuienis dat hy inderhaas
in opdrag van appellant 3 die badkamer verlaat het, vind steun in Mahlati se
beskrywing van
die hals-oor-kop ontruiming wat hy waargeneem het. Hulle is dit
eens dat daar 'n worsteling en gedempte uitroep van agter die toe
deur hoorbaar
was en dat die vier appellante agterna in 'n bepaalde volgorde uitgekom en na 'n
vergaderplek by die sluitkassies gegaan
het. (Hulle verskil wel daaroor of ander
gevangenes by die vergadering aangesluit het maar dit is van weinig belang.)
Daar is ook
'n merkwaardige mate van ooreenstemming tussen hul weergawes wat
betref die gesprek oor die lyfband en die verwydering daarvan deur
appellant 4
van die
22 oorledene se nek. Oor wat daarna van die lyfband geword het,
verskil hul weergawes maar dit is nie, soos die verdedigingsadvokaat
dit wou
hê, 'n aanduiding van onbetroubaarheid nie. Inteendeel, dit dui sterk
daarop dat iedereen van hulle 'n eerlike en selfstandige
weergawe verstrek van
wat hy gesien het. Billie se uitsig op appellant 2 soos hulle op hul onderskeie
beddens sit, sou deur die oop
badkamerdeur versper gewees het. Mahlati kon egter
die opsny van die lyfband waarneem toe hy dieper in die sel inbeweeg om sy zol
op te steek. Hul relase van hoe appellant 2 daarna met behulp van sy kaartjie
die selbewoners tot stilswye gemaan het, toon ook juis
die mate van
ooreenstemming én afwyking wat te wagte is waar twee ongekunsteldes 'n
jaar later gesproke woorde in die herinnering
moet roep.
Nie alleen dra iedereen se weergawe die onmiskenbare toon van waarheid nie maar die
23
wedersydse onderskraging is merkwaardig.
Die
waarskynlikhede dui ook sterk daarop dat appellant
2 wel die selbewoners se monde sou wou snoer,
ongeag of appellant 1 op eie
houtjie die misdaad
gepleeg het al dan nie. Die gevangeniskultuur en
bendesolidariteit sou hom daartoe noop, net soos
dit hom beweeg het om die lyk van die toneel
te verwyder en in die hoek te bêre. (Die
gevangenisowerhede en die polisie het inderdaad
eers etlike weke later inligting oor die pleging
van die misdaad van die ander selbewoners kon
inwin.) Die appellante se getuienis oor die
gebeure tot op die stadium toe daar aangetree moes
word, is nie alleen onoortuigend soos dit staan nie
maar is bowendien verdag vanweë die eenstemmigheid
van hul ontkenning van die twee Staatsgetuies se
weergawe. As byvoorbeeld aanvaar word dat
appellant 2 wel die selbewoners gewaarsku het om
die swye te bewaar, dan is die vier appellante se
24 ontkenning daarvan
alleen versoenbaar met afgesproke leuenagtigheid. Die afspraak, weer, getuig van
volgehoue samewerking tot in
die getuiebank. En daar kan weinig twyfel wees dat
die vermaning wel gerig is soos Billie en Mahlati vertel. Origens is daar geen
rede nie om ten aansien van die relatiewe deugde van die getuienis van die
Staatsgetuienis enersyds en die appellante andersyds te
verskil van die
verhoorhof, wat die geleentheid gehad het om hulle in die getuiebank waar te
neem. Die slotsom is dan dat die staat
se weergawe van wat in die sel gebeur het
die waarheid is en die appellante se ontkenning daarvan vals.
Word daar dan na die getuienis in geheel gekyk, sien die beeld soos volg daar uit. Appellant 1 loop met 'n wrok en dra nog die letsels van 'n bende-aanval deur die 28's op hom. Appellant 2 is die leier van 'n sterk kontingent
25
26's in die betrokke sel, appellante 1 en 4 is voetvolk van
daardie bende en appellant 3 is 'n geallieërde. Die oorledene, wat
tussen
twee ander nuwe aankomelinge in die sel slaap, het weliswaar nie aan die aanval
op appellant 1 deelgeneem nie, maar is 'n
lid van die 28's. Daardie bende is die
26's se sterkste mededinger in die betrokke gevangenis en het kort tevore 'n
ernstige aggressie
teen die 26-bende gepleeg. Vroeg die oggend van 29 Augustus
1990 en op 'n stadium toe die oorledene met sy broek afgetrek op die
toilet sit,
word die ander gevangenes verwilder en net die vier appellante bly met die
oorledene in die badkamer agter. Daar, agter
'n toe deur, word hy vinnig en
doeltreffend van die gras af gemaak. Die aard, aantal en ligging van die
steekwonde dui onteenseglik
op die opset om die dood daar en dan te laat intree.
Die hoogs gekonsentreerde 14 steekhoue bokant die tepel wil ook daarop dui
dat
26 die oorledene geen geleentheid tot weerstand of ontwyking gehad het
nie. Na volvoering van die teregstelling verlaat die vier appellante
die
badkamer twee-twee en voer eenkant 'n vertroulike gesprek met mekaar (en
moontlik 'n aantal ander). Appellant 2 gee daarop aan
Mahlati opdrag om sy
beddegoed te skuif sodat appellante 1 en 2 die lyk in die hoek kan opsy sit. Die
geheelindruk van al vier appellante
se optrede tot op daardie stadium is
dié van berekende en guasi-militêre gerigtheid.
Hul daaropvolgende optrede verskerp sodanige indruk. 'n Bevel word gegee vir
die verwydering van die lyfband van die oorledene se
nek maar word deur
appellant 2, die bendeleier in die sel, vervang. Daarop gaan appellant 4, wat
stellig die eerste opdrag gegee
het en deur appellant 2 aangesê is om die
taak self te verrig, en verwyder die lyfband. Appellant 2 vernietig die band,
appellant
4 raak van die stukkies ontslae en eersgenoemde
27 maan die ander
selbewoners tot stilswye.
Toe die sel oopgesluit word, is daar steeds
betekenisvolle eendragtigheid by die appellante. Of dit appellant 2 is wat hul
name aan
Ferndale genoem het dan wel of appellante 1, 3 en 4 self na vore getree
het, is nie belangrik nie. Wat wel belangrik is, is dat Ferndale
die appellante
van hul selgenote onderskei sonder enige inligting van die ander gevangenes.
Volgens appellant 2 het hy homself slegs
as waarnemer uitgeken en die name van
appellant 3 en ene Whitey genoem as sou hulle agterna in die badkamer gewees
het. Dit is '
n tasbare onwaarheid. Dit is ondenkbaar dat Ferndale bloot op
sterkte van so 'n mededeling vir appellant 3 sou laat opsluit as 'n
verdagte en
boonop vir Whitey sou laat links lê. Bowendien erken appellant 3 dat hy
ten tyde van die pleging van die misdaad
in die badkamer teenwoordig was. In
ieder geval is daar op geeneen van die vier appellante se
28
weergawe enige verduideliking van hoe Ferndale vir appellant 4 uitgesonder het nie. Op geeneen van hulle weergawes is hy hoegenaamd van die onskuldige selbewoners te onderskei nie. Appellante het dit immers dat hy, in gemeen met die res van die selbewoners, eers ná die pleging van die moord in die badkamer gekom het. Die afleiding is dus onafwendbaar dat al vier die appellante konsekwent solidêr opgetree het vanaf die stadium toe die buitestaanders uit die sel verjaag is totdat hulle by die inspeksie self na vore tree of deur hul leier uitgewys is.
Daaruit volg dit as noodwendige afleiding dat hulle afgespreek het dat die
oorledene op die bepaalde tyd, plek en wyse om die lewe
gebring sou word. Of
iedereen van hulle daadwerklik aan die doodslag deelgeneem het, is onbekend. Die
konsentrasie en aantal steekwonde
asook die spoed en relatiewe stilte waarmee
die doodslag voltrek
29 is, regverdig wel die afleiding (wat die verhoorhof
gemaak het) dat meer as een persoon die oorledene aangeval het. Ek meen egter
nie dat dit 'n noodwendige afleiding is nie. Die volgorde van die steekwonde is
onbekend asook die snelheid waarmee die dood of bewusteloosheid
op enigeen
daarvan sou volg. Dit is dus redelikerwys moontlik dat die eerste steekhou deur
'n enkele aanvaller die oorledene magteloos
blootgestel het aan die toediening
van die daaropvolgende houe.
Sodanige slotsom is egter met betrekking tot die skuldigbevinding van iedere appellant ontersake. Al vier het vooraf ooreengekom dat die oorledene daar en dan deur die een of ander van hulle doodgesteek sou word terwyl die ander bystaan. Die ooreengekome plan het noodwendig behels dat die oorledene in die badkamer geïsoleer, vasgekeer en doodgesteek word. Hulle was dus elkeen 'n mededader ongeag wie die dodelike houe
30
geplant het. Geeneen van die appellante se appél teen
sy skuldigbevinding kan dus gehandhaaf word nie.
Dit is vervolgens hierdie
hof se plig om met betrekking tot iedereen van die vier appellante opnuut en vir
sigself uit te maak of
die doodvonnis vir sy deelname aan hierdie moord die
enigste gepaste vonnis is. Dit verg dat die strafverswarende en -versagtende
faktore in aanmerking geneem word in samehang met die algemene oogmerke van
straftoemeting. Slegs strafverswarende faktore wat bo
redelike twyfel bewys is,
kom in aanmerking terwyl enige strafversagtende faktor waarvoor daar 'n
feitebasis bestaan en wat nie buite
redelike twyfel uitgeskakel is nie in
aanmerking geneem word. Ondanks die appellante se gesamentlike optrede en hul
ononderskeibare
skuld gaan dit steeds om vier individue. Bygevolg moet iedere
individuele geval
31 betrag word, weliswaar teen die agtergrond van dit wat
gemeenskaplik is.
Ten eerste dan die gemeenskaplike strafverswarende faktore. Dié is duidelik en gewigtig. Dit was 'n beplande moord, inderwaarheid 'n berekende teregstelling waar die oorledene uitgesoek, afgesonder en koelbloedig om die lewe gebring is. Kennelik was die motief bendewraak waarby die emosies van die plegers en selfs die persoonlike identiteit van die slagoffer geen rol speel nie. Die oorledene is die ewigheid ingestuur bloot omdat hy 'n lid van die 28-bende was. Die operasie is ook gekenmerk deur brutale selfversekerdheid. Die appellante het klaarblyklik geglo dat geeneen dit sou waag om hul by die pleging van die moord teen te gaan of selfs om hul weergawe van onbesonne optrede deur appellant 1 teen te spreek nie. Dit is ook duidelik dat hulle geen waarde aan 'n mens se lewe heg nie.
32
Die appellante se bende-optrede is egter
nie
eenduidig strafverswarend nie. Die getuienis van
maj. Delport, sers.
Ferndale en die bevelvoerder
van die maksimum-seksie dui daarop dat
die
oorledene se doodvonnis waarskynlik op 'n hoër vlak
in die
26-bende gevel en aan die appellante
deurgegee is vir uitvoering. Net soos
die
oorledene was hulle blote pionne in die magstryd
tussen die bendes.
Sonder om hoegenaamd die
appellante se optrede te vergoeilik, kan
nie
weggeredeneer word nie dat die groepsdruk op hul
gemoedere, onder
bedreiging van dwingende sanksies,
hul morele laakbaarheid in 'n mate
verminder.
Hulle bestaanswêreld van bendegeweld en
absolute
onderhorigheid hét betekenisvolle beperkings
geplaas op
hul vermoë tot onafhanklike
besluitneming.
Geeneen van die appellante was dan ook waarskynlik van agtergrond of inbors bestand teen
33
sodanige groepsdruk nie. Al vier kom uit 'n milieu van stoflike en morele deprimering. Appellante 1 en 4 is volslae analfabete terwyl appellant 3 funksioneel ongeletterd is. Appellant 2 het wel standard agt geslaag maar, soos sy mede-appellante, beskik hy oor geen beroepsvaardighede nie. Al vier het droewige misdaadloopbane wat terugstrek tot hul kinderjare. Appellant 1 was sestien toe hy sy eerste skuldigbevinding op die hals haal en sy lewe sedertdien het is gekenmerk deur herhaalde botsings met die gereg: in die tagtigerjare is hy agt keer skuldig bevind aan oneerlikheidsmisdade, waaronder twee roofaanklagte. Die jongste daarvan (in Mei 1989) is bestraf met 'n vonnis van agt jaar gevangenisstraf waarvan twee jaar voorwaardelik opgeskort is. Toe hy die moord pleeg, was hy op ouderdom 26 jaar 'n geharde misdadiger wat reeds verskeie male tronkstraf opgelê is en etlike jare in die gevangenis deurgebring het. Hy het nóg vrou
34
nóg kind; hy is verstandelik effens vertraag;
sy
persoonlikheid is ontoereikend, onvolwasse en
beïnvloedbaar en hy
het 'n geskiedenis van drank-
en daggamisbruik. Bowendien is hy in
die
gevangenis 'n lid van 'n geweldadige bende en het
hy deur sy deelname
aan die onderhawige misdaad
getoon dat hy nie skroom om 'n koelbloedige
moord
te pleeg nie. Om in sy geval van hervorming te
praat, kom bra
idealisties voor. 'n Mens moet
egter in aanmerking neem dat die aanval op hom
deur
die 28's 'n wrok by hom gelaat het wat hom stellig
inskikliker gestem
het om die moordopdrag uit te
voer.
By appellant 2 is daar geen sprake van ' n persoonlike wrok nie en werklik geen vooruitsig op hervorming nie. Hy beskik oor normale intelligensie, het bo-gemiddelde skoolopleiding geniet en het 'n sterk persoonlikheid. Sy misdaadloopbaan bewys egter dat hy sedert sy
35
kinderjare sy talente misdadig aangewend het. Op
ouderdom
15 jaar is hy weens huisbraak jeugdige
lyfstraf opgelê en sedertdien is hy met eentonige
reëlmaat tronkstraf opgelê vir dieselfde soort
misdaad - totdat
hy in November 1986 en weer in
Maart 1987 ingevolge a. 286 van Wet 51 van
1977 tot
gewoontemisdadiger verklaar is. Hy was ten tyde
van die pleging van die onderhawige misdaad op die
ouderdom van 35 jaar bestem om tot sy oudag in
gevangenskap deur te bring. Hy het geen
betekenisvolle verbintenisse buite die tronk nie en
het volwaardig opgegaan in die bendebestaan van die
gevangenissubkultuur. Sy lidmaatskap van die
26's dateer sedert 1979 en hy het in hierdie geval
as senior lid 'n leidende rol in die uitwissing van
'n bendeslagoffer gespeel. Aan hom is daar weinig
salf te smeer. Die vraag kan ook tereg met
betrekking tot hom gevra word of hy nie, self s
binne die gevangenis, so 'n gevaar is dat alleen
36
die doodvonnis aangewese is nie. Dit is egter opvallend dat hy met sy
jarelange misdaadloopbaan geen veroordeling vir 'n geweldsmisdaad
het
nie.
Appellant 3 se persoonlike beeld is ietwat gunstiger, al is dit dan
slegs by vergelyking. Ten tyde van die moord was hy net 20 jaar
oud, maar ook
sy misdaadloopbaan strek terug tot die sewentigerjare. Sedertdien is hy
agt maal skuldig bevind aan oneerlikheidsmisdade en een maal
(in 1988) aan
aanranding met die opset om ernstig te beseer. Hy het ook intussen gepromoveer
van diefstal simpliciter tot huisbraak en dien ten tyde van die gebeure
vonnisse van altesaam sewe jaar en nege maande uit. Intellektueel, emosioneel en
maatskaplik
funksioneer hy op 'n subnormale vlak en ook hy het geen werklike
bande met enigeen buite die gevangenis nie. Alhoewel die vooruitsig
maar duister
is, kan appellant 3, op sy betreklik jeugdige ouderdom, tog nie as
onhervormbaar
37
afgeskryf word nie. Dit blyk ook dat sy rol by die pleging van
die moord betreklik ondergeskik was. Oënskynlik het hy, 'n geaffilieerde
bendelid, gehelp om die badkamer te ontruim en bygestaan om bystand te verleen
indien dit nodig sou wees.
Alhoewel appellant 4 sowat vyf jaar ouer is en ook
'n aansienlike lys vorige veroordelings het, kan ook hy nie as heeltemal
onhervormbaar
beskou word nie. Hy het 11 vorige veroordelings vir
oneerlikheidsmisdade wat begin in 1976 (toe hy ongeveer 14 jaar oud was) en wat
kulmineer in ' n vonnis van sowat ses-en-'n-half jaar wat hy ten tyde van die
pleging van die moord aan die uitdien was. Soos appellant
2 het hy, opvallend,
geen veroordeling vir 'n misdaad waarvan geweld teen die persoon van 'n ander 'n
element was nie. Sy intellektuele
en persoonlikheidsprofiel is weer soortgelyk
aan dié van appellant 1: Hy grens aan verstandelike vertraagdheid, is
emosioneel
38
afhanklik en toon ernstige anti-sosiale neigings. Of skoon hy ' n vaste vriendin het wat hom soms besoek, is ook hy feitlik opgeneem in die gevangenis-subkultuur met sy eiesoortige normestelsel. Hy het byvoorbeeld aan maj. Delport te kenne gegee dat hy 'n aktiewe seksuele verhouding met ' n mede-gevangene het en hy is natuurlik 'n lid van die 26's, in wie se opdrag hy aktief meegewerk het aan die onderhawige bendemoord.
Die kernvraag by iedereen vem die appellante is dan of die doodvonnis vir hom
vanweë sy deelname aan hierdie moord die enigste
gepaste straf sou wees. In
die geval van appellante 3 en 4 is die antwoord betreklik eenvoudig. Hul
beperkte intelligensie en afhanklike
persoonlikhede het hulle vatbaar gestem vir
beïnvloeding en hulle het waarskynlik bloot ondersteuningsrolle vervul by
die pleging
van die misdaad. Appellant 3 is bowendien
39
nog jonk. In beide hulle gevalle sou lang
termyne
gevangenisstraf voldoen aan die vereistes van
straftoemeting. Die
posisie van appellant 1 is ook
relatief eenvoudig. Hy het wel as beul
opgetree
maar dit is waarskynlik dat daardie rol vir hom
gebiedend
voorgeskryf is deur sy bende se
gesaghebbers. By sy uitvoering van die bevel
was
daar ook geen blyke van die wreedheid of
verdorwenheid waarmee
tronkbendemoorde dikwels
gepaard gaan nie. Sy uiters beperkte
intelligensie
en gebrekkige persoonlikheid plus die feit dat juis
hy kort
tevore die slagoffer van bendegeweld was,
het hom 'n geskikte kandidaat
gemaak vir benoeming
deur sy meerderes. Dat hy die opdrag uitgevoer
het,
is strafregtelik en moreel verwerplik maar, in
die omstandighede, tog in 'n
mate begryplik.
Bygevolg meen ek dat ook in sy geval die uiterste
tol nie
gebiedend aangewese is nie. Sy
strafwaardigheid is egter betekenisvol
hoër as dié
40
van appellante 3 en 4 en moet ooreenstemmend swaarder gestraf
word.
Wat appellant 2 betref, is die alleentoepaslikheid van die doodvonnis
waarlik problematies. In sy geval is daar feitlik geen persoonlike
faktore wat
as strafversagtend aangewend kan word nie. Hy het lank reeds verstar as 'n
geharde en onomkeerbare misdadiger. Hy is
intelligent en speel 'n leiersrol in
die bendemilieu. By die volvoering van die onderhawige bendemisdaad het hy dan
ook as gesagvoerder
opgetree. Maar selfs in sy geval kan die dwingelandy van die
bendekultuur nie heeltemal buite rekening gelaat word nie. Die
teregstellingsbesluit
is heel moontlik nie eers met appellant 2 se instemming
geneem nie maar bloot van bo aan hom deurgegee vir uitvoering. Dit is egter
duidelik dat hy die daadwerklike leiding geneem en die uitvoering van die opdrag
gedirigeer het. In
41
sy geval tree die openbare aanspraak dat bendemisdaad ondubbelsinnig afgekeur en deur die strafreg teengewerk word sterk na vore. Nietemin meen ek, met 'n mate van huiwering, dat ook appellant 2 dermate in die strakke bendestruktuur vasgevang was dat sy rol by die pleging van die moord nie net deur die oplegging van die doodstraf na behore bestraf kan word nie. Dit is wel 'n grensgeval waaroor ingeligte regdenkendes kan verskil maar na my oordeel is dit nie so 'n uiterste geval nie. Appellant 2 is nie 'n geweldenaar nie; hy het geen persoonlike belang of selfbegunstigende motief gehad nie; hy het bloot as funksionaris in die hiërargie van sy bende en as vasgevangene in die web van die bende-subkultuur opgetree. Die slotsom waartoe dit lei is dat lewenslange gevangenisstraf vir appellant 2 se deelname aan die onderhawige misdaad 'n toereikende sanksie sal wees.
42
Bygevolg word soos volg gelas:
1. Appellante 2, 3 en 4 se appèlle teen hul
skuldigbevindings word afgewys.
2. Al vier die appellante se appèlle teen die
doodvonnisse word gehandhaaf.
3. Sodanige vonnisse word tersyde gestel en deur
die volgende vervang:
Appellant 1 : 25 jaar gevangenisstraf Appellant 2 : Lewenslange gevangenisstraf Appellant 3 : 18 jaar gevangenisstraf Appellant 4 : 20 jaar gevangenisstraf
J.C. KRIEGLER Wnd. Appélregter
VAN HEERDEN AR ]
] 5TEM SAAM
HARMS Wnd. AR ]
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1993/15.html