![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
LL Saak No 37/1992
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPéLAFDELING
Insake die appél van:
MBUYISELI
MJIKWA Appellant
teen
DIE STAAT Respondent
CORAM: VAN HEERDEN AR, HOWIE EN KRIEGLER
WndARR
VERHOORDATUM: 19 FEBRUARIE 1993
LEWERINGSDATUM: 4
MAART 1993
UITSPRAAK
VAN HEERDEN AR:
2 Op 10 Maart 1990 is ene
José, 'n verkeers-beampte, van sy rewolwer beroof. Dit het geskied in Kwa
Nobuhle, 'n swart woonbuurt
naby Uitenhage. Hy is aanvanklik gekonfronteer deur
twee swart mans wat geëis het dat hy sy vuurwapen aan hulle moes
oor-handig.
Een van hulle het 'n vuurwapen - of iets wat soos een gelyk het - op
hom gerig. José het sy rug op hulle gedraai en is toe
plat geslaan. Sy
rewolwer is van hom weggegryp waarna hy vier persone sien weghardloop het.
Op 14 April 1990 het wyle konstabel Ciliza ("die eerste oorledene") omstreeks
21.00 na 'n shebeen in Kwa Nobuhle gegaan. 'n Ruk later
het twee skote in die
nabyheid van die shebeen geknal. Nog later het ander polisiebeamptes die lyk van
die eerste oorledene op die
stoep van die shebeen aangetref. Sy 9 mm pistool
("die 9 mm pistool") was vermis. Hy was deur twee koeels getref, een
waarvan
3 op sy bors 'n uitgangswond gelaat het. Dit was dan ook die oorsaak
van sy dood. Ten minste een van die koeëls was gevuur uit
José se
rewolwer ("die rewolwer").
Op 17 April 1990 het ene De Booi 'n vrag-motor in
Kwa Nobuhle bestuur. Wyle konstabel Joseph ("die tweede oorledene") was 'n
passasier
daarin. Hy was gewapen met 'n haelgeweer. Terwyl die voertuig
stilstaande was, het 'n swart man met 'n vuurwapen in sy hand by die
deur aan
die bestuurder se kant te voorskyn gekom. Dié persoon het vir De Booi op
'n kru wyse aangesê om hom uit die
voete te maak, wat hy toe ook gedoen
het. Twee skote het afgegaan. Beide het die tweede oorledene getref, een in die
nek en een in
die kop. Later is twee patroondoppies op die toneel aangetref. 'n
Koeëlpunt is ook in die vragmotor gevind. Ballistiese toetse
het aangetoon
dat die twee skote gevuur is uit die 9 mm pistool.
4 Bogenoemde haelgeweer
het uit die vragmotor verdwyn en is op 19 April 1990 gevind by ' n woning wat in
Kwa Nobuhle in aanbou was.
Dit ly geen twyfel nie dat dit deur die tweede
oorledene se aanvaller of aanvallers uit die vragmotor verwyder was.
Op 20
April 1990 was wyle konstabel Andrews ("die derde oorledene") voor 'n
polisiekantoor in die distrik van Uitenhage. Terwyl hy
en ene Myburgh sit en
gesels het, het vier swart mans verbygeloop. Die derde oorledene het na die
groep geloop omdat hy een of meer
van hulle wou visenteer. Ten minste drie skote
is toe deur een van die groep op die derde oorledene gevuur. Hy is getref in die
bors,
maag en linkerdy. Twee van die koeëlpunte is gevind. Hulle was uit
die rewolwer gevuur.
Vir huidige doeleindes word die verloop van die makabere geweldsuitoefening
op 29 April 1990 in
5 'n kamer van 'n huis in Kwa Nobuhle voltooi. Die
betrokke oggend is die appellant in daardie kamer deur konstabel Kotze
aangetref.
In 'n bedkassie het Kotze die rewolwer, die 9 mm pistool en 'n band
met 16 patrone gevind. In die magasyn en kamer van die 9 mm pistool
was 'n
verdere 9 patrone. Op die vloer van die kamer was 'n drasak van die appellant.
Daarin en daarlangs was klere en ander persoonlike
besittings. In die sak was
ook ' n beursie wat op sy beurt 'n 9 mm patroon bevat het.
Voortspruitende uit bostaande het die appellant en twee mede-beskuldigdes in
1991 op 'n aantal aanklagte in die Suid-Oos Kaapse Afdeling
tereggestaan. Hulle
is aangekla van berowing van José se rewolwer (aanklag 1); moord op die
eerste oorledene (aanklag 2);
berowing van sy 9 mm pistool (aanklag 3); moord op
die tweede oorledene (aanklag 4); berowing van sy haelgeweer (aanklag 5); moord
6 op die derde oorledene (aanklag 6); onwettige besit van o a die rewolwer
en die 9 mm pistool (aanklag 7), en die onwettige besit
van o a elf 9 mm patrone
en 19 rewolwer patrone (aanklag 8). Tydens die verhoor het die
mede-beskuldigdes, wat op borg vrygelaat
was, verdwyn en uiteindelik het dus
slegs die appellant tereggestaan. Nadat hy op al clie aanklagte, behalwe aanklag
6, skuldig bevind
is, is hy op aanklagte 2 en 4 ter dood veroordeel. Op die
ander aanklagte is hy gevonnis tot 'n totaal van 22 jaar gevangenisstraf.
Met
verlof verleen deur die verhoorregter in soverre dit nodig was, is die
onderhawige appél gerig teen al die skuldigbevindings
asook teen die
doodvonnisse.
Afgesien van bogenoemde skakel tussen die appellant en die twee vuurwapens,
het slegs die getuienis van kaptein Du Plessis die appellant
met die moorde (en
in twee gevalle die gepaardgaande berowings) verbind. Du Plessis getuig naamlik
dat
7 die appellant op 30 April 1990 die tonele waar die drie moorde gepleeg
is aan hom uitgewys het. Sy getuienis is sonder beswaar van
die appellant se
advokaat aangebied. Hierna het die respondent getrag om 'n bekentenis wat die
appellant aan 'n polisie-offisier
gemaak het, in te handig. Die appellant het
die toelaatbaarheid van die bekentenis betwis en 'n tussenverhoor het gevolg.
Daarna
het die verhoorhof bevind dat die respondent nie bewys het dat die
bekentenis vrywilliglik gemaak was nie. Die hof het naamlik gekonkludeer
dat dit
redelik moontlik waar was dat die appellant, soos hy getuig het, met 'n tou om
sy voete oor en onder die reëling van
' n brug rondgeswaai en ook in die
water gedompel was ten einde 'n bekentenis uit hom te dwing.
Op 'n stadium nadat bedoelde uitspraak gelewer is, het die advokate vir die
partye bewus geword van die beslissing van hierdie hof
in S v
8
Sheehama 1991 (2) SA 860 (A). Tydens sy finale betoog het die appellant
se advokaat in die verhoor-hof toe aangevoer dat die respondent nie
bewys het
dat die aanwysings vrywilliglik geskied het nie. Dit synde so, is voorts betoog,
was die aanwysings vanweë Sheehama ontoelaatbaar.
Die verhoorhof
het hierdie betoog verwerp. In eerste instansie is bevind dat die aanwysings nie
deel van 'n ontoelaatbare bekentenis
was nie. Tweedens, en in die
veronderstelling dat hierdie bevinding verkeerd was, is gekonkludeer dat die
vrywilligheid van 'n aanwysing
"op eie meriete" beoordeel moet word; d w s
onafhanklik van die al of nie vrywilligheid van die bekentenis. Omdat daar in Du
Plessis
(en sy tolk) se getuienis geen aanduiding was dat dle appellant tydens
die aanwysings in vrees of onder dwang opgetree het nie, is
vervolgens bevind
dat getuienis daaromtrent wel toelaatbaar was.
9 (Die appellant het nie weer
na die tussenverhoor getuig nie.)
Die verhoorhof het ook bevind dat die
appellant die besitter was van die rewolwer en 9 mm pistool asook die ammunisie
wat in die bedkassie,
en die patroon wat in die beursie, gevind is. In die lig
hiervan en van die aanwysings, is geoordeel dat die appellant teenwoordig
was
tydens die pleging van die misdrywe waarop aanklagte 1, 2, 3, 4, 5 en 6
betrekking het. Wat die eerste vyf klagtes betref, is
op grond van dieselfde
oorwegings, versterk deur die appellant se versuim om na die tussenverhoor te
getuig of enige getuie op te
roep, besluit dat die appellant op die beste vir
hom ' n lid was van ' n groep wat, afgesien van die moord op die derde
oor-ledene,
telkens met 'n gemeenskaplike doel opgetree het, naamlik om
José van die rewolwer te beroof en om die eerste twee oorledenes
te dood
en van hul vuur-
10 wapens te beroof. Vandaar die skuldigbevindings op die
eerste vyf klagtes. Ek verwys later na die onskuldigbevinding op aanklag
6.
In hierdie hof het die appellant se advokaat in eerste instansie betoog
dat die getuienis van Du Plessis (en sy tolk) oor die aanwysings
ontoe-laatbaar
was, en ek meen dat hy gelyk gegee moet word. In Sheehama is beslis dat
selfs met inagneming van die bepalings van art 218(2) van die Strafproses-wet 51
van 1977 'n buitegeregtelike erkenning
by wyse van onder andere 'n aanwysing
ontoelaatbaar is indien die aanwyser nie vrywilliglik opgetree het nie. En dit
is so ongeag
of die aanwysing toevallig deel gevorm het van 'n ontoelaatbare
bekentenis (op p 881F). Dit spreek egter vanself dat indien 'n aanwysing
wel 'n
deel uitgemaak het van sodanige bekentenis, of in 'n noue verband daarmee
gestaan het, die aanwysing as sulks beswaarlik vrywilliglik
11
kon geskied het.
In die verbygaan meld ek dat dit tereg gemene saak was
dat die uitsondering waarna in Sheehama op p 877H verwys is nie in
casu toepassing vind nie.
Die appellant is die oggend van 29 April
1991 gearresteer. Volgens sy weergawe is hy in die loop van die dag geneem na
die brug wat
hierbo vermeld is. Vanweë wat daar met hom gebeur het, het hy
dieselfde dag omstreeks 23.00 'n onvrywillige bekentenis afgelê.
Soos
reeds vermeld, het die verhoorhof daardie weergawe as redelik moontlik waar
aanvaar. Vanaf om en by 8 vm die volgende oggend
het die appellant die
aanwysings gemaak. Gevolglik het slegs nege uur tussen die aflê van die
bekentenis en die aanvang van
die maak van die aanwysings verloop.
Dit is waarskynlik dat die appellant gevra is om plekke aan te wys na
aanleiding van die inhoud
12 van sy bekentenis. Dit is ewe waarskynlik dat
die beweegrede vir die aflê van die bekentenis deurgewerk het by die maak
van
die aanwysings. Anders gestel, dit is nouliks denkbaar dat die
onvrywilligheid waarmee die bekentenis afgelê is binne enkele
ure in die
niet vervaag het. Die samehang tussen die bekentenis en die aanwysings,
betreffende beide toepaslikheid en tydstip, was
net eenvoudig te groot om met so
'n moontlikheid gerym te word.
Dit kan aanvaar word dat Du Plessis en sy tolk
niks gedoen of gesê het om die appellant op enige wyse te beïnvloed
nie.
Die vraag is egter of dreigemente wat die vorige dag gemaak is, meegebring
het dat die appellant nie vrywilliglik plekke aange-wys
het. En selfs met
inagneming van die feit dat die appellant in die tussenverhoor getuig het dat hy
aangesê was na welke plekke
hy Du Plessis moes neem, en nie spesif iek
gesê het hy deur die vorige dag se
13 gebeure beïnvloed was nie,
blyk dit na my oordeel nie buite redelike twyfel dat hy ongedwonge opgetree het
nie.
In sy betoogshoofde het die respondent se advokaat aangevoer dat die
getuienis van die appel-lant in die tussenverhoor buite rekening
gelaat moet
word by 'n beoordeling van die "meriete" van die saak, en bepaaldelik die al of
nie vrywilligheid van die aanwysings.
Voor ons het hy nie met hierdie argument
volhard nie. En tereg so. Al wat ek hoef te sê, is dat die kwessie van die
toelaatbaarheid
van 'n aanwysing net so min as dié van die
toelaatbaar-heid van 'n bekentenis op die meriete van 'n saak betrekking het.
Getuienis
wat tydens 'n tussen-verhoor gegee is, kan dus in aanmerking geneem
word by beslegting van die vraag of 'n bekentenis of buitegeregtelike
erkenning
vrywilliglik gemaak was.
My slotsom dat die getuienis aangaande die
14 aanwysings ontoelaatbaar was, bring egter nie mee dat die appellant verkeerdelik skuldig bevind is nie. Ek stem saam met die verhoorhof dat die appellant wel in besit van die rewolwer en 9 mm pistool gevind is. Mej Tini getuig dat sy en haar twee broers in die betrokke huis gewoon het. Vroegoggend van Saterdag, 28 April 1990, was sy alleen tuis omdat haar broers vir die naweek uithuisig was. Die appellant en sy mede-beskuldigdes het toe by die huis opgedaag. Omstreeks 17.00 is sy na 'n ander plek waar sy oornag het. By haar vertrek was die beskuldigdes nog in haar huis. Sondagoggend het sy teruggekeer. Slegs die appellant was toe in die huis, maar een van die mede-beskuldigdes het later opgedaag. Kort hierna is die huis deur die polisie omsingel.
Volgens mej Tini was die kamer waarin Kotze die appellant aangetref het haar
slaapkamer. Sy sê ook dat toe sy die Saterdagoggend
wakker geword
het
15 sy geen vuurwapens in die huis gesien het nie. Ten slotte moet vermeld
word dat die mede-beskuldigde wat teruggekeer het, hom in
'n ander kamer
tuisgemaak het.
In die lig van bostaande is die enigste redelike afleiding
dat die appellant in besit van die twee vuurwapens en die ammunisie was.
Dit was
hy wat hom in mej Tini se slaapkamer tuisgemaak het. Dit was slegs hy wat daarin
was toe Kotzé die kamer betree het.
In die bedkassie was die twee
vuurwapens en ammunisie wat nie voorheen daarin was nie. Sy sak, klere en
persoonlike besittings was
in die kamer. In die sak was sy beursie wat 'n 9 mm
patroon bevat het. En ten slotte het hy nie in die getuiebank gegaan om 'n
verontskuldigende
verduideliking van bostaande te gee nie.
Die vraag is nou welke afleidings ten opsigte van die eerste vyf aanklagte
uit sy bewese
16 besit van bogenoemde artikels gemaak kan word. Desbetreffend
moet die volgende geaksentueer word:
1) Op 10 Maart 1991 is José van
die
rewolwer beroof.
2) Op 14 April 1991 word die eerste
oorledene
dodelik getref deur koeëls afgevuur uit die
rewolwer. Hy word ook van
die 9 mm pistool beroof.
3) Op 17 April 1991 sterf die tweede
oorledene
vanweë die afvuur van skote uit die 9 mm
pistool. Sy haelgeweer word
buitgemaak.
4) Op 20 April 1991 word die derde
oorledene noodlottig
verwond deurdat die geweldenaar
met die rewolwer op hom skiet.
5) Op 29
April 1991 word die appellant
in besit van beide die rewolwer en die 9 mm
pistool
gevind.
Wat dadelik opval, is dat die aanvalle op José en
die eerste twee oorledenes gerig was op
17 verkryging van hul vuurwapens.
Hierteenoor is die derde oorledene geskiet om te verhinder dat hy die destydse
besitter van die
rewolwer visenteer. Vanweë die samehang tussen die
onderskeie misdrywe is dit nouliks denkbaar dat die appellant nie daarby
betrokke was nie. ' n Mens kan wel vra: hoe anders sou hy in besit gewees het
van twee vuurwapens wat op verskillende geleenthede,
maar binne 'n kort
tyds-bestek, noodlottig aangewend is; die rewolwer op 14 en 20 April en die 9 mm
pistool op 17 April 1991. Dit
was ook slegs agt dae na die aanval op die derde
oorledene dat die appellant met die vuurwapens en die ammunisie by mej Tini se
huis
opgedaag het. Dit is natuurlik begriplik moontlik dat die appellant na die
laaste moord die rewolwer en die 9 mm pistool kon aangekoop
het, of dat
dié aan hom toevertrou kon gewees het. Die afleiding dat hy by die
voorvalle betrokke was, is egter so sterk dat
hy so 'n
18
moontlikheid onder eed moes bevestig het. Hy het versuim om sulks te doen en
dit kan ook teen hom in aanmerking geneem word.
Bostaande oorwegings geld tot
'n groot mate ook vir die eerste aanklag, al het die berowing van José
nagenoeg 50 dae voor 29
April 1991 plaasgevind. Die motief vir die aanval op
José was immers die-selfde as dié vir die noodlottige verwondings
van die eerste twee oorledenes. En indien dit die appellant se weergawe was dat
hy die rewolwer eers na die roof op 10 Maart 1990
bekom het, kon weer eens met
reg verwag word dat hy sodanige getuienis sou gee.
Die verhoorhof kon nie
bevind dat die appellant die sneller getrek het toe die drie oorledenes
doodgeskiet is nie. Daarom is hy op
aanklagte 1 tot 5 slegs op die grondslag van
gemeen-skaplike groepsoptrede skuldig bevind. By ontstente-nis van 'n
verontskuldigende
verduideliking is daar
19
na my mening egter veel te sê vir die afleiding dat die appellant
tydens die verskillende voorvalle die betrokke vuurwapens
hanteer het. Dit mag
dus wees dat die appellant verkeerdelik op die sesde aanklag onskuldig bevind is
omdat daar na die oordeel van
die verhoorhof nie 'n groepsoptrede was nie. Dit
bloot terloops.
Vir doeleindes van hierdie appél is dit egter nie van
enige belang of die appellant self die sneller getrek het nie. Op sy
beste vir
die appel-lant was hy 'n lid van 'n groep wat afgespreek het om José te
beroof en om die eerste en tweede oorledenes
dood te skiet ten einde hul
vuurwapens te buit. Op enige van die twee grondslae is sy skuld regtens en
moreel dieselfde.
Oor die doodvonnisse hoef nie veel gesê te word nie.
Die enigste noemenswaardige versagtende faktor is dat die appellant tydens
die
pleging van
20 die misdrywe slegs 20 jaar oud was. Verswarende faktore is
daar in oorvloed. Ek meld slegs die volgende. Twee onskuldige persone
wat op die
ter-saaklike tydstippe niemand enige leed aangedoen het nie, is koelbloedig
doodgeskiet om hul wapens te buit. Dan het
die moord op die eerste oorledene nie
gedien om die appellant tot besinning te ruk nie. Dit is nie verbasend indien op
sy vorige
veroor-delings gelet word nie. In Junie 1988 is die appel-lant skuldig
bevind op twee aanklagte van poging tot moord met 'n vuurwapen,
asook aan
onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie. Hy is gevonnis tot 'n effektiewe
totaal van 12 jaar gevangenisstraf. Op
8 September 1988 is hy weer eens skuldig
bevind aan poging tot moord met 'n vuurwapen en gevonnis tot 'n verdere
effektiewe vyf jaar
gevangenisstraf. Waar-skynlik was hierdie oortreding gepleeg
voor Junie 1988. Die appellant het na die laaste vonnis-
21
oplegging uit die gevangenis ontsnap en is in Februarie 1991 daarvoor tot
nege maande gevangenis-straf gevonnis. Die onderhawige moorde
is dus ge-pleeg
terwyl die appellant 'n voortvlugtende was.
Daar is gevolglik nie die
geringste twyfel dat die appellant nie skroom om deur die gebruik van 'n
vuurwapen persone te vermoor of
om te poog om dit te doen nie. Dit bring vir hom
klaarblyklik geen wroeging mee nie; inteendeel kry mens die indruk dat hy
gevoelloos
staan teenoor die gevolge van sy ge-welddadige aanwending van
dodelike wapens.
Dit is nie uitgeslote nie dat die ondergaan van 'n lang
termyn gevangenisstraf 'n heilsame uit-werking op die appellant se drifte
mag
hê. Hierdie is egter 'n geval waarin gemeenskapsbelange en -beskouings so
sterk op die voorgrond tree dat die doodvonnis
op beide moordklagtes na my
mening die enigste gepaste- straf is.
22 Die appél word afgewys.
H J O VAN HEERDEN AR
HOWIE WndAR
STEM SAAM KRIEGLER WndAR
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1993/12.html