![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
LL Saak No 361/1990
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
APPèLAFDELING
In die saak tussen:
JAMES MORRIS Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: HEFER, F H GROSSKOPF ARR et
KRIEGLER WN AR
VERHOORDATUM: 14 MEI
1991
LEWERINGSDATUM: 23 MEI 1991
UITSPRAAK KRIEGLER WN AR:
2.
Appellant het in die Pretoriase landdroshof tereggestaan op twee verkeersaanklagte. Aanklag 1 was dat hy, in stryd met die bepalings van art 140(2) van Ordonnansie 21 van 1966 (T), op 27 November 1988 'n motorvoertuig op 'n openbare pad in Pretoria bestuur het met 'n bloedalkoholkonsentrasie van 0,19% . Aanklag 2 was dat hy op dieselfde tyd en plek dieselfde voertuig in stryd met die bepalings van art 138(1) van gemelde Ordonnansie roekeloos of nalatig bestuur het. Hy pleit skuldig op beide aanklagte, in die geval van aanklag 2 aan roekelose bestuur. Dáarop bevestig sy prokureur dat die pleite ooreenstem met sy opdrag en lees twee verklarings voor wat namens appellant voorberei en deur hom en sy prokureur onderteken is. Die eerste verklaring, ingedien as bewysstuk "A", voldoen aan die vereistes van art 112(2) van die Strafproseswet 51 van 1977 ten aansien ván aanklag 1. Die tweede verklaring, ingedien as bewysstuk "B" en wat heet te slaan op die tweede aanklag, is egter ontoereikend. Dit lui so:
3.
"Ek erken verder dat ek op die datum, tyd en plek my motorvoertuig Reg. no KRK219T roekeloos bestuur het.
Ek het besef ek tree wederregtelik op en pleeg 'n misdryf. Daar was geen botsing gewees nie."
Appellant word nietemin op sterkte van
die twee
verklarings skuldig bevind aan beide aanklagte met
die
opmerking:
"Die hof het geluister na die verklaring en die hof het ook geleentheid gehad om hierdie verklarings te lees en die hof is tevrede dat u die elemente erken en oortuig is dat u bedoel om skuldig te pleit."
Daarop
bewys die Staat 'n indrukwekkende lys vorige
veroordelings teen appellant.
Dit begin met twee
diefstalklagtes in 1958 gevolg deur vier verdere
dief-
stalklagtes gedurende die vroeë sestigerjare. In 1962,
1981 en 1982 was daar ook vier skuldigbevindings weens
roekelose of
nalatige bestuur. Toe volg daar in
November 1984 en in Maart 1987 veroordelings vir
oortreding van art 140(2)
van Ordonnansie 21 van 1966
(T), d w s dieselfde oortreding waaraan hy in aanklag 1
4.
van die onderhawige geval skuldig gepleit het. Ten
aansien van beide vorige veroordelings was daar termyne
gevangenisstraf (drie maande en ses maande
onderskeidelik) vir vyf jaar
opgeskort wat vánweë die
skuldigbevinding aan die huidige aanklag 1 in werking
gestel kan word.
Appellant se prokureur, wat blykens die
oorkonde sy klient se belange deeglik behartig het,
meld daarop dat
appellant gebuk gaan onder besondere
huislike en sosiale probleme en
bowendien 'n
drankprobleem het. In die loop van 'n aansoek dat 'n
proefbeampteverslag met die oog op vonnisoplegging
verkry word sê die prokureur:
"Dit gaan vir my dit makliker maak om die hof toe te spreek en dit sal 'n volledige prentjie aan die hof voorlê van presies wat die sosiale omstandighede van die beskuldigde is. As ek u toespreek op die meriete van die spesifieke insident sal die hof ook 'n duidelike aanduiding kry van waarom 'n proefbeampteverslag in die saak nodig was."
Die
landdros voldoen aan die versoek om 'n proefbeampte-
5. verslag en die saak
word vir dié doel uitgestel. By die hervatting lei die
verdedigingsprokureur die getuienis van die proefbeampte
aan die hand van 'n
verslag (bewysstuk "C") wat sy opgestel gehad het. Daaruit blyk dit dat
appellant, 'n kleurlingman gebore op
21 Junie 1941, reeds sewe jaar 'n goeie
betrekking as dieselwerktuigkundige beklee en 'n munisipale huurhuis bewoon waar
hy sonder
die hulp van sy vervreemde eggenote vier jong kinders versorg. Dit
blyk ook dat appellant lank reeds 'n drankprobleem het, by geleentheid
reeds sy
werk daardeur verloor het en veral oor naweke met mansvriende in sy woonbuurt
drank misbruik. Die proefbeampte se verslag
sluit af met 'n aanbeveling dat daar
weer eens 'n opgeskorte vonnis van gevangenisstraf opgelê word maar dat
dit, anders as
in die verlede, onderworpe gestel word aan 'n voorwaarde "dat hy
hom sal onderwerp aan die behandelingsprogram soos deur SANRA uiteengesit
en
verder dat hy die Alkoholveiligheidskool van die Volksraad sal bywoon."
6.
Etlike indringende vrae deur die landdros aan die
proefbeampte dui daarop dat hy bra skepties staan
teenoor die vooruitsigte op rehabilitasie gesien appel-
lant se gevestigde lewenspatroon en sy verontagsaming
van die twee vorige
opgeskorte vonnisse.
Dit blyk uit die oorkonde dat daar na
afsluiting van die proefbeampte se getuienis wedersydse
betoog ten aansien
van vonnis was:
"Mnr Joubert spreek hof toe met betrekking van vonnis.
Aanklaer betoog ten opsigte van vonnis. Repliek deur mnr Joubert."
Daarop volg 'n breedvoerige
vonnismotivering wat uitloop
op 'n vonnis van 12 maande gevangenisstraf op
iedereen
van die twee aanklagte en permanente intrekking van
appellant se
bestuurderslisensie. Die uitspraak getuig
origens van 'n ewewigtige oorweging
van al die
tersaaklike faktore. Ter beklemtoning van die erns van
die oortredings en
die belange van die gemeenskap word
aangehaal uit verskeie gerapporteerde
hofbeslissings (S
7.
v Lampbrecht 1970 (3) SA 141 (T); S v Lanqeveldt 1970
(3) SA 438 (C); S v Kent 1981 (3) SA 23 (A) en 'n
ongerapporteerde
beslissing in die Transvaalse
Provinsiale Afdeling (Antonie Petrus Myburg
v S, Appèl
no A1909/1988).) Appellant se persoonlike
omstandig-
hede en die proefbeampte se siening word in behandeling
geneem
en dan word soos volg gekonkludeer:
"As die hof wil reg laat geskied teenoor die gemeenskap, dan sal dit vir die hof geen doel dien om vir u weer 'n kans te gee nie. U het in die laaste drie, vier jaar by twee geleenthede 'n kans gehad om jou te rehabiliteer. Soos wat sy edele Kriegler, R., sê het hierdie hof ook nie 'n probleem daarmee as mense wil drink nie, dit is sy saak, as hy wil drink kan hy drink, maar as hy drink moet hy wegbly van 'n kar af. Dit is waaroor dit vir hierdie hof gaan. U wou nie luister nie. U het twee kanse gehad. Die hof sien met eerlikheid, ten spyte van u persoonlike omstandighede en u gesinssame-stelling nie sy weg oop om vir u weer 'n kans te gee nie. U het hier gaan bestuur terwyl die konsentrasie alkohol in u bloed meer is as wat voorgeskryf is. U het ook op 'n roekelose wyse gaan bestuur deur verskeie verkeersligte te verontagsaam; vir die polisie weg te jaag, stopstrate te verontagsaam in daardie toestand, Die hof kan nie anders as om dit eintlik in 'n
8.
verswarende lig te sien nie."
Daar word toe na die Transvaalse Provinsiale Afdeling geappelleer teen die vonnisse. 'n Viertal gronde word in die kennisgewing van appèl genoem ter ondersteuning van 'n submissie ten gunste van periodieke gevangenisstraf gekoppel aan die behandeling wat die proefbeampte voorgestel het, of 'n gemeenskapsdiens-vonnis. Toe die appèl teen vonnis voor die provinsiale afdeling dien is die skuldigbevinding aan aanklag 2 egter ook in behandeling geneem uit hoofde van die algemene hersieningsbevoegdheid wat by art 304(4) van Wet 51 van 1977 verleen word. Daar word bevind dat bewysstuk "B" (appellant se verklaring met betrekking tot aanklag 2) mank gegaan het aan die nodige feitebasis op grond waarvan die verhoorhof sigself ingevolge art 112(2) van bedoelde Wet van appellant se skuld op aanklag 2 kon oortuig het. Bygevolg word sodanige skuldigbevinding tersyde gestel. Vervolgens word soos volg gelas:
9.
"Aangesien dit uit die oorkonde blyk dat die verhoorlanddros reeds kennis gedra het van sekere feite wat waarskynlik nie tydens die verrigtinge aan hom oorgedra is nie, sou dit onwenslik wees om die aangeleentheid terug te verwys vir verhoor de novo na dieselfde landdros. Dit word gevolglik gelas dat die aangeleentheid terugverwys word vir verhoor na 'n ander landdros."
(Die feite waarvan die landdros kennis
gedra het is dié
wat blyk uit die voorlaaste sin in die
hierbo
aangehaalde passasie.) Die appèl teen die vonnis op
aanklag
1 word toe afgewys maar die intrekking van
appellant se bestuurderslisensie
word tersyde gestel.
Daarop is by die hof a quo aansoek gedoen om na
hierdie
hof te appelleer en wel op die volgende gronde:
"(a) Die Hof het fouteer deur die skuldigbevinding en vonnis ten opsigte van aanklag 1 te be-kragtig en die skuldigbevinding en vonnis ten opsigte van aanklag 2 tersyde te stel en vir verhoor de novo te verwys. Sodanige skeiding van aanklagte is instryd met die beginsel soos neergelê in R v LUBBE, 1925 (TPD) 219 en die gees van Artikel 82 van Wet 51 van 1977.
10.
2. Indien die persoonlike omstandighede van die Applikant, die belange van die gemeenskap en die aard van die misdryf in behoorlike perspektief beoordeel word, veroorsaak die vonnis van 12 maande gevahgenisstraf ten opsigte van aanklag 1 'n gevoel van skok en vergryp."
In die loop van sy motivering van die afwysing van die
aansoek verwys die hof a quo na die landdros se
bovermelde opmerkings aangaande appellant se
bestuurswyse en gaan dan soos volg voort:
"Wat van wesenlike belang is egter is dat dit geensins op die oorkonde verskyn dat daar inderdaad sodanige getuienis aan die landdros voorgelê is nie en dit het nêrens uit die oorkonde geblyk waar die verhoorlanddros aan hierdie getuienis gekom het nie.
As gevolg van hierdie onreëlmatigheid het die hof met appèl die skuldigbevinding en vonnis ten opsigte van die tweede aanklag tersyde gestel, ..."
Op 'n latere stadium verwys die geleerde regter
weer na
die "onreëlmatigheid" maar kom tot die slotsom dat dit
nie
van so 'n aard was dat 'n regskending plaasgevind het
nie. Appellant se
beroep op die beslissing in R v
Lubbe, supra, word verwerp en
die aansoek om verlof tot
11.
verdere appèl word afgewys. Sodanige verlof is egter daarna as gevolg
van 'n petisie aan sy Edele die Hoofregter verleen.
In hierdie hof is opnuut
namens appellant aangevoer dat die oorkonde getuig van die voormelde
"onreëlmatigheid" en ook dat die
tersydestelling van die skuldigbevinding
op aanklag 2 uit hoofde van die benadering in R v Lubbe, supra,
tersydestelling van die ander skuldigbevinding noop met 'n gepaardgaande bevel
dat beide aanklagte de novo voor 'n ander landdros verhoor word. In die
alternatief is aangevoer dat daar met die vonnis op aanklag 1 ingemeng moet
word, hetsy
vanweë die beweerde onreëlmatigheid, hetsy vanweë 'n
gebrek aan behoorlike verpersoonliking hetsy weens oorbeklemtoning
van die erns
van die misdaad, as gevolg waarvan periodieke gevangenisstraf uit die oog
verloor is.
By nadere ondersoek blyk die betoog as sou die verhoorhof 'n
onreëlmatigheid begaan het deur van
12.
buitegeregtelike inligting kennis te neem, ongegrond te wees. Ofskoon dit wel
so is dat appellant se verklaring met betrekking tot
aanklag 2 wesenlik
gebrekkig en die tersydestelling van bedoelde aanklag deur die hof a quo
aangewese was, kan nie saamgestem word dat die verhoorlanddros die waargenome
onreël-matigheid begaan het nie. Appellant se
prokureur het, soos blyk uit
die bostaande aanhaling uit sy betoog ter ondersteuning van die aansoek om die
verkryging van 'n proefbeampteverslag,
aangedui dat hy die landdros sou
"toespreek op die meriete van die spesifieke insident". Hy hét dan ook na
afloop van die
getuienis betoog met betrekking tot vonnis gelewer en gerepliseer
op die aanklaer se betoog dienaangaande. Ooreenkomstig gevestigde
en sinvolle
gebruik is sodanige betoë nie opgeneem of getranskribeer nie. Gevolglik kan
daar nie met sekerheid uit die oorkonde
bepaal word of die gewraakte inligting
nie by monde van die een of die ander - of selfs albei - die
regsverteenwoordigers
13. onder die landdros se aandag gebring is nie. Dis
egter hoogs waarskynlik dat dit aldus geskied het. Die wyse waarop appellant
die
voertuig ten tyde van die pleging van die misdrywe bestuur het, was immers van
wesenlike belang met betrekking tot vonnis. Dit
was by die eerste aanklag ter
sake en dis haas ondenkbaar dat die landdros oor die vonnis op aanklag 2 sou
besin en op so 'n betreklik
swaar straf sou besluit het bloot op grond van die
niksseggende gegewens in bewysstuk "B". Dit kom dan ook nie daarop aan wie van
die regsverteen-woordigers die inligting voorgedra het nie: Dit het kennelik
geskied óf met die teenparty se instemming óf
soos deur
laasgenoemde gekwalifiseer. Dit is dan ook betekenisvol dat die beweerde
onreëlmatigheid in geeneen van die twee kennisgewings
van appèl
geopper is nie. Gesien die bekwaámheid van die prokureur se optrede by
die verhoor en die ywer waarmee appellant
se belange tot hiertoe behartig is. is
dit ondenkbaar dat die landdros die gewraakte gegewens op onbehoorlike
14. wyse te hore gekom het - en dit sonder stamp of stoot van die kant van
appellant se prokureur.
In ieder geval kan daar bepaald nie gesê word
dat die pleging van die beweerde onreelmatigheid uit die oorkonde as sodanig
blyk
nie. Bygevolg sou appellant, indien hy hom daarop wou of wil beroep, die
tersaaklike bewerings onder eed en by wyse van 'n hersieningsaansoek
moes
voorlê. (Kyk S v Ruiter 1962 (1) SA 161 (0) en S v Mothae
1965 (2) SA 128 (0).) Die landdros en die betrokke aanklaer sou natuurlik dan
geregtig wees om daarop te reageer. Soos sake tans
gesteld is, word die
verhoorlanddros 'n growwe onreëlmatigheid toegedig sonder dat hy enige
geleentheid tot inspraak gehad het.
Die voorgaande gevolgtrekking beteken
nood-wendig dat die hof a quo nie verplig was om te gelas dat 'n ander
regterlike beampte by die voortsetting van die verrigtinge sou moes voorsit nie.
Ook was
dit nie nodig om 'n verhoor de novo te gelas nie. Dit wil
15.
eerder voorkom dat die hof a quo nie op die bepalings van art 312 van Wet
51 van 1977 attent gemaak is nie. Daarluidens sou die gepaste bevel met
betrekking tot aanklag
2 tersydestelling van die skuldigbevinding en vonnis en
terugverwysing na die verhoorhof vir voort-setting van die verrigtinge ingevolge
die voorbehoud by art 112(2) van Wet 51 van 1977 gewees het. Daar is egter geen
teenappèl teen die betrokke bevel van die
hof a quo nie en die punt moet
daar gelaat word.
Die tweede grondslag waarop daar namens appellant ten
gunste van tersydestelling van die skuldigbevinding op aanklag 1 betoog is,
staan ook nie vas nie. Daar is naamlik aangevoer dat tersydestelling van die
skuldigbevinding en vonnis op die tweede aanklag gepaard
met handhawing van die
skuldigbevinding en vonnis op die eerste, strydig is met die "beginsel van ons
regspleging ... dat sake nie
stuksgewys afgehandel moet word nie." By die eerste
oogopslag reeds is die proposisie onhoudbaar. Dit beteken immers
16.
dat tersydestelling op appèl van een van meerdere skuldigbevindings tersydestelling van die ander noodsaak - en dit ongeag die meriete van die ander skuldigbevindings of selfs of hulle hoegenaamd in hoër beroep geneem is. Dit blyk dan ook dat die gesag waarop appellant se advokaat vir die kontensie wil
steun, ontoepaslik is. R v Lubbe, supra, en S v
Jantjies
1982 (4) SA 790 (C) het gegaan om verskillende verhore ten aansien van diverse
aanklagte wat eintlik deel van een reeks misdadige
handelinge uitgemaak het.
Vanwee die gevolglike akkumulasie van vonnisse het die hof van tweede instansie
verligting van vonnis toegestaan.
Uiteraard verskil bedoelde gevalle hemelsbreed
van die onderhawige. In die volgende beslissing waarop appellant se advokaat hom
beroep,
Paweni and Another v Acting Attorney General 1985 (3) SA 720
(ZSC), bespreek Gubbay AR die "well established and salutory practice ... that
in general the prosecutor should join
in one indictment all charges he
17.
intends to prefer against an accused which arise out of the same alleged course
of conduct" en stip die redes vir die praktyk
aan. Artikel 82 van die
Strafproseswet 51 van 1977 is dan ook in ooreenstemming met sodanige praktyk. Om
egter daarvandaan die sprong
te wil maak na die kontensie wat appellant se
advokaat voorhou, is logies onhoudbaar. In die onderhawige geval het die
aanklaer juis
aanvanklik in ooreenstemming met die praktyk die twee feitelik
gekoppelde misdade in een en dieselfde klagstaat beliggaam. Die latere
tersydestel-ling van die tweede daarvan vanwee 'n tekortkoming in die prosedure
kan nie, agterna en met terugwerkende krag boonop,
die aanvanklik behoorlik
geformuleerde klagstaat besmet nie.
Daar is ewemin grond vir die submissie
dat ten minste die vonnis op die eerste aanklag tersyde géstel moet word
opdat daar
nie onbillike akkumulasie van vonnisse moet wees hie. Die hof wat met
betrekking tot die aanklag van roekelose bestuur vonnis sou
moet
18.
vel, sou in die uitoefening van 'n regterlike strafdiskresie kennis moes neem
van die reeds gevelde vonnis op die ander aanklag wat
uit dieselfde handelinge
voortgespruit het.
Ten laaste moet dan gehandel word met die betoog dat die
verhoorhof ten onregte appellant se persoonlike omstandighede geringgeskat
en
die erns van die misdaad oorbeklemtoon het. Geeneen van die twee pote waarop die
betoog trag te staan, is van enige substgnsie
nie. Die verhoorlanddros het by
monde van die proefbeampte volledige inligting aangaande appellant se
persoonlike omstandighede ingewin
en, soos duidelik blyk uit die uitspraak met
betrekking tot vonnis, wel deeglik daarmee rekening gehou. Die landdros se debat
met
die proefbeampte aangaande haar aanbeveling getuig ook van ihsig in en
begrip vir die prpbleemgeval waarmee hy te doen gehad het.
Dit was dan juis teen
die agtergrond van sy omvattende kennis van die appellant as mens wat hy besin
het oor
19. appellant se herhaalde pleging van dieselfde tipe
gemeenskapskadelike misdaad. Daar kan met nóg die verhoorlanddros se
werkwyse nog sy slotsom fout gevind word.
Bygevolg word die appèl afgewys.
J.C. KRIEGLER WN AR
HEFER AR
STEM SAAM F
GROSSKOPF AR
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1991/58.html