![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPÊLAFDELING)
SAAKNOMMER: 250/90
In die appel van
ZOLILE FENI APPELLANT
en
DIE STAAT RESPONDENT
Coram: NESTADT, NIENABER ARR, PREISS WnAR.
Aangehoor: 26 Februarie 1991 Gelewer: 5 Maart 1991
2 UITSPRAAK
PREISS WnAR:
Die appellant, 'n arbeider van die plaas Verrekyker in die
distrik
Wolseley, is op 17 November 1989 in die Kaapse
Provinsiale Afdeling deur
LATEGAN R en twee assessore op twee
aanklagte van moord skuldig bevind. Die
slagoffer op die
eerste aanklag was ene David Sicelo Valashiya (David) en
op
die tweede aanklag ene Elliot Mafenuka (Elliot). Geen
versagtende
omstandighede is bevind nie en gevolglik is die
appellant op beide aanklagte
die doodstraf opgelê. Verlof
tot appèl is ten opsigte van sowel
die skuldigbevindings as
die vonnisse deur die verhoorregter toegestaan.
.../3
3
Die twee oorledenes was mede werkers van die appellant op die betrokke plaas. Ten tye van die gebeure het al drie van hulle 'n werkershuis op die plaas bewoon.
Na my mening is dit onnodig om ten aansien van die skuldigbevindings op die detail van die gebeure in te gaan. Die getuienis wat deur die Staat aangebied is was oorweldigend. Dit het bestaan uit 'n beskrywing deur ooggetuies Karel Williams en Saul Johnson van die aanvanklike aanval op David binne sowel as buite die werkershuis; en deur Lena Manies en Anna Andreas van die verdere gebeure later die aand toe 'n verdere aanranding op David gepleeg is. Ten aansien van die beweerde moord op Elliot was daar nie soseer ooggetuies nie en het die verhoorhof hoofsaaklik op erkennings staatgemaak wat die appellant aan die plaasbestuurder, Mnr van der Merwe, sou
.../4
4 gemaak het, asook op 'n bekentenis voor 'n landdros van Tulbagh. Die appellant het gepoog om sy bekentenis te omseil deur te beweer dat hy nie Afrikaans magtig was nie en dat die dokument wat sonder die bemiddeling van 'n tolk voltooi is nie sy werklike relaas weergegee het nie. Na my mening het die verhoorhof hierdie poging tot omseiling tereg verwerp.
Die appellant se eie getuienis was geheel en al ontwykend, onbetroubaar en onaanvaarbaar. Dit staan in skrille kontras met die getuienis van elkeen van die staatsgetuies. Om die weergawe van die appellant te kon aanvaar, sou dit nodig gewees het om te bevind dat al die staatsgetuies opsetlik met 'n vals relaas vorendag gekom het, insluitende die plaasbestuurder en die landdros. Daarbenewens is die getuienis van die appellant tereg deur die verhoorhof as "'n lopende voorbeeld van improvisering" bestempel. Dit was niks minder as 'n mengelmoes
.../5
5 van ongegronde ontkennings, 'n flou poging om noodweer te opper en 'n reeks onbevredigende weersprekings nie.
Om op te som bestaan daar by my nie die geringste twyfel dat die appellant vir die dood van altwee van die oorledenes verantwoordelik was nie, dat hy die nodige opset gevorm het om hulle te vermoor en dat hy van die wederregtelikheid van sy optrede bewus was. Ten aansien van beide skuldigbevindings is ek die mening toegedaan dat die hof a quo se beslissing korrek is, en dat die appellant op hierdie deel van die appel nie kan slaag nie.
Ten aansien van die vonnisse is daar egter ander oorwegings, veral in die lig van die wesenlike verandering wat ten opsigte van doodvonnisse in die Strafregwysigingswet 107 van 1990 vervat is. Sedert sy inwerkingtreding is hierdie wet in 'n
.../6
6 reeks beslissings deur hierdie Hof vertolk. Ek is nie van voorneme om die besprekings in hierdie uitspraak te herhaal nie. Vir die doeleindes van hierdie appèl ag ek dit voldoende om slegs enkele opmerkings te maak.
Dié wet is van toepassing op sake soos die huidige. Daarbenewens verkry hierdie hof die bevoegdheid om uitgebreide kriteria ten aansien van straf toe te pas en, in besonder, om strafversagtende en strafverswarende faktore teen mekaar op te weeg ten einde te kan bepaal of die doodvonnis die enigste gepaste vonnis is, al dan nie. Dit strek heelwat verder as die magte waaroor die verhoorhof vroeër beskik het om slegs versagtende omstandighede te oorweeg.
Om die relevante strafverswarende en strafversagtende faktore uiteen te sit word in die huidige appèl bemoeilik omdat mens
.../7
7 met twee afsonderlike aanklagte van moord, elk met sy eie omstandighede, te doen het. Faktore wat ten aansien van die een relevant is, geld nie noodwendig vir die ander nie. Die volgende verswarende omstandighede geld vir beide skuldigbevindings: .
(a) Die aanrandings op die oorledenes was wreedaardig
en gevoelloos. David
sowel as Elliot is met 'n
ysterstaaf aangeval en hul skedels is deur die toediening van massiewe geweld verbrysel.
(b) Die appellant het 'n aansienlike rekord van vorige
voordelings wat met
geweld in verband staan. Gedurende
1984 is hy op vier aanklagte van gewone
aanranding
skuldig bevind. In 1987 is hy skuldig bevind aan
aanranding met
die opset om ernstig te beseer. In
.../8
8 1987, en omtrent veertien maande voordat hy hierdie moorde gepleeg het, is hy weer eens aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind. Gevangenisstraf van 9 maande is hom opgelê wat vir vier jaar opgeskort is. Hierdie moorde is binne die opskortingstydperk gepleeg.
(c) Hoegenaamd geen berou is deur die appellant getoon
nie. Deurgaans het hy gepoog om 'n leuenagtige verweer te opper.
In die geval van die moord op David is daar die volgende verswarende faktore:
(a) Die aanrandings het op twee afsonderlike tydstippe plaasgevind. Alhoewel die verhoorhof bevind het
.../9
9 dat daar ongeveer 2 tot 2 1/2 uur tussen die oorspronklike en die uiteindelike aanrandings moes verloop het, is daar na my mening onvoldoende bewys hiervan. Die getuienis oor die tydsverloop was vaag en slegs op skattings gegrond. Aan die ander kant kan die submissie deur die appellant se advokaat dat die twee gebeure feitlik gêlyktydig plaasgevind het, ook nie opgaan nie. Wat wel redelik moontlik is, is dat die tweede aanranding so kort op die eerste gevolg het dat enige provokasie wat denkbaar by die eerste aanval 'n rol gespeel het, by die tweede steeds 'n faktor sou wees, al was dit ook in 'n mindere mate.
(b) Die aanval op David het uit die bloute ontstaan in die sin dat dit nie 'n onmiddellike reaksie op enige
.../10
10 provokasie was nie. Met ander woorde, as daar wel provokasie was (waarmee later gehandel word), was dit nie die onmiddellike oorsaak van die appellant se optrede nie. Die appellant was te alle tye die aggressor gewees.
In die geval van die moord op Elliot was daar die volgende verswarende faktore:
(a) In teenstelling met David wat, ondanks sy dronkenskap, 'n mate van weerstand kon gebied het, was Elliot 'n skraalgeboude ouerige man. Hy het slegs 55kg geweeg en die mate van sy alkohol inname was sodanig dat hy, in die woorde van die verhoorhof, "slihgerdronk" moes gewees het. Hy kon geen wesenlike bedreiging vir die appellant gebied het nie.
.../11
11
(b) Indien die appellant 'n grief teenoor David gekoester het (waaroor later meer), is dit duidelik dat die appellant en Elliot op goeie voet verkeer het. Geen bestaande dispuut kon as regverdiging vir die aanranding op hom deur die appellant ge-opper word nie.
Ek wend my nou tot die strafversagtende faktore. Hulle is soos volg:
(a) Daar is geen aanduiding, soos die advokaat vir die
Staat tereg toegegee het, dat die appellant 'n berekende, voorafbeplande aanranding op David gepleeg het nie. Alles dui daarop dat die appellant se gevoelens skielik opgevlam het want David "vat hom vir 'n vrou". Sy aanranding op David is 'n toonbeeld van onbeheerste
.../12
12 woede. Van insig was hy skynbaar geheel en al beroof. Hy jaag vir Karel Williams en Saul Johnson weg omdat, soos hy gesê het, hy nie ooggetuies wil hê nie. Dit is 'n vreemde uitlating aangesien Karel en Saul immers reeds ooggetuies was.
(b) Dit is verder insiggewend dat die appellant David
om mee te begin geklap het. Dit was eers op 'n later stadium in die loop van 'n stoeiery dat die ysterstaaf gebruik is. Op hierdie stadium het die appellant self 'n hoofbesering opgedoen toe David hom met 'n
ligte byltjie gekap het. Hierdie besering was glad-nie ernstig van aard nie maar was dit, vanuit sy oogpunt, 'n verdere rede vir die appellant se onbeheerste aanval op David.
.../13
13 (c) Dit is hoogs waarskynlik dat die moord op Elliot gevolg het terwyl die appellant steeds in hierdie bui van woede verkeer het. Dit kan geredelik bevind word dat hierdie irrasionele gedrag op die ingewing van die oomblik ontketen is en tot by die aanval op Elliot, die tweede slagoffer, voortgeduur het.
Op 'n oorweging van bogemelde faktore is ek van mening dat die doodstraf nie die enigste gepaste straf is nie, veral deurdat die aanrandings op David sowel as op Elliot nie met voorbedagte rade geskied het nie. Die verswarende faktore noop my egter tot die gevolgtrekking dat 'n lang tydperk van gevangenisstraf opgelê behoort te word. Die moord op Elliot was ernstiger as die moord op David omdat daar nie enige grief teenoor hom bestaan het nie en omdat Elliot 'n weerlose ouerige man was.
.../14
14 Wat die termyn van die gevangenisstraf aan betref is daar twee aanverwante oorwegings. Eerstens moet die hof in gedagte hou dat twee afsonderlike moorde gepleeg is en dat 'n enkel saamgestelde vonnis van gevangenisstraf dus nie verkieslik nie. Daarenteen is die twee moorde kort na mekaar gepleeg is en as gevolg van dieselfde deurlopende gemoedstoestand. Dit sou dus onregverdig wees om twee swaar vonnisse bloot bymekaar te tel. Dit is myns insiens die soort situasie waar gelas kan word dat 'n aansienlike gedeelte van die tweede vonnis met die eerste vonnis van gevangenisstraf moet saamloop.
Die volgende bevele word gemaak:
1. Die appel teen die skuldigbevindings word van die hand gewys.
.../15
15 2. Die appel teen die vonnisse word gehandhaaf. Die
doodvonnisse word tersyde gestel en met die volgende vervang:
(a) Op aanklag 1 (die moord op David) word die appellant tot twaalf (12) jaar gevangenisstraf gevonnis; (b) Op aanklag 2 (die moord op Elliot) word die appellant tot vyftien (15) jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan tien (10) jaar met die vonnis op aanklag 1 sal saamloop.
Die effektiewe termyn van gevangenisstraf is gevolglik sewentien (17) jaar.
.../16
16
H.J PREISS
Waarnemende Appèlregter
NESTADT AR )
)
) STEM SAAM NIENABER AR )
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1991/5.html