SAFLII [Home] [Databases] [WorldLII] [Search] [Feedback]

South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1991 >> [1991] ZASCA 27

[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]


S v Maroga (268/90) [1991] ZASCA 27 (26 March 1991)

PDF of original document.PDF of original document

.RTF of original document


EB Saaknommer: 268/90

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPÉLAFDELING)

In die saak tussen:

MARCUS MOREME MAROGA Appellant
en
DIE STAAT Respondent

Coram: JOUBERT, STEYN et EKSTEEN, ARR Verhoor: 28 Februarie 1991 Gelewer: 26 Maart 1991

UITSPRAAK

1

STEYN, AR:

Appellant het as beskuldigde 9 met nege medebeskuldigdes voor van Dijkhorst, R en twee assessore op 4 September 1989 tereggestaan in die Transvaalse Oostelike en Suid-oostelike Rondgaande Plaaslike Afdeling op nege aanklagte wat almal verband gehou het met gebeure op 19 Februarie 1986 in die kapteinswyk bekend as Ga-Maroga in die Oos-Transvaalse distrik van Praktiseer. Daar was vier aanklagte van moord (nrs 1, 4, 5 en 8), drie van brandstigting (nrs 2, 6 en 7) en twee van kwaadwillige saakbeskadiging (nrs 3 en 9).

Die vermoordes was Lukas Maroga ("Lukas") Lazarus Maroga, Johannes Tjie en Samuel Maroga (onderskeidelik klagtes 1 , 4, 5 en 8). Samuel Maroga was die kaptein van vermelde wyk. Die aanklagte van brandstigting het verband

2
gehou met die afbrand van die woonhuise van Lukas en Lazarus Maroga en Johannes Tjie. Die aanklagte van kwaadwillige saakbeskadiging het verband gehou met die verbranding van Lukas en Samuel Maroga se motorvoertuie. Al die beskuldigdes was aanvanklik pro deo verdedig deur mnr Lewies en almal het op al die aanklagte onskuldig gepleit en "enige aandadigheid aan enige van die ten laste gelegde misdade" ontken. Appellant se verweer was 'n alibi. Beskuldigdes 3, 4, 5, 8 en 10 is onskuldig bevind op al die aanklagte. Appellant is slegs op aanklag 1 skuldig bevind. Beskuldigdes 1 , 2; 6 en 7 is skuldig bevind op aanklag 8 . (die moord op kaptein Samuel Maroga) en beskuldigde 6 is ook op aanklag 4 skuldig bevind (die moord op Lazarus Maroga). Daarbenewens is beskuldigdes 1; 6 en 7 ook op sekere van die ander aanklagte skuldig bevind. Die verhoorhof het bevind dat daar in die gevalle van beskuldigdes 1, 6 en 7 versagtende omstandighede was teh aansien van die
3 moordaanklagte waarop hulle skuldig bevind was, maar dat daar in appellant se geval geen sulke omstandighede was nie. Appellant is ter dood veroordeel en beskuldigdes 1, 6 en 7 is elk gevonnis tot 17 jaar gevangenisstraf op aanklag 8. Beskuldigde 6 is daarbenewens gevonnis tot 'n verdere 17 jaar gevangenisstraf op aanklag 4; waarvan 12 jaar saamloop met sy vonnis op aanklag 8. Appellant is deur van Dijkhorst, R verlof verleen om te appelleer teen (i) sy skuldigbevinding en (ii) die bevinding dat daar geen versagtende omstandighede in sy geval was nie (en derhalwe ook teen die doodvonnis).

Die pleging van voormelde misdade was nie deur die beskuldigdes ontkeh nie. (Soos reeds genoem, het hulle slegs ontken dat hulle enigsins daarby betrokke was). Al die misdade is gepleeg gedurende die laat nag en vroeg oggend op Donderdag 19 Februarie 1986. Die verloop van
4 sake en die verhoorhof se benadering tot die getuienis is inleidend soos volg opgesom en uiteengesit in die uitspraak op die meriete:

"'n Groot groep persone, meestal jeugdiges, het in volgorde hierdie aanvalle en dade gepleeg. Daar is begin by die huis van Lukas Maroga in Driekop in die baie vroeë oggendure toe dit nog donker was en daarna het die groep, waarskynlik dieselfde groep, by Lazarus Maroga die dade gepleeg toe dit al lig was. Net daarna, maaf byna gelyktydig, het die moord op Johannes Tjie gekom en toe dit verby was het die moord op kaptein Samuel Maroga en die verbranding van sy voertuig plaasgevind.
h Onderskeid wat nie uit die oog verloor moet word nie is dat toe die eerste moord gepleeg is, dié op Lukas Maroga, dit nog donker was, maar dat toe die volgende drie moorde gepleeg is, dit lig genoeg was om duidelik te sien. Hier moet ook verder opgemerk word dat kaptein Samuel Maroga volgens dié getuienis voor ons 'n ongewilde kaptein was; Daar is vefskiliende pogings aangewend om op 'n wettige wyse hom afgesit te kry en daar is taamlik bfeedvoerig getuienis voor ons gelewer

5

waarom hy ongewild was
Ons hou in gedagte dat hierdie 'n ontstellende reeks gebeurtenisse was; dat daar 'n voortdurende beweging was en dat die getuies uiteraard verskrik was. Daar moet dus teenstrydighede in hulle getuienis verwag word. Maar juis dié feite hou ook 'n gevaar in van foutiewe identifikasie. Dus moet 'n hof waaksaam wees. Daarby is daar altyd die gevaar by twee faksies wat in 'n stryd gewikkel is dat onskuldiges agterna ingesleep word of dat feite meer verdoemend voorgestel word bloot omdat die beskuldigde in die ander kamp is. Ook dié moontlikheid moet voor oë gehou word.
Ons hou in gedagte die jongste appélhofgesag van S v Sefatsa and Others 1988 1 SA 868 (A); S v Mgedezi and others 1989 1 SA 687 (A); en S v Jama and others 1989 3 SA 427 (A) oor gemeenskaplike opset by groepsgeweld.
Namens die staat is betoog dat omdat die misdade op vier plekke deur dieselfde groep gepleeg is, en dit wat tyd en plek betref in noue verband met mekaar staan, waar 'n beskuldigde se deelname aan een misdaad duidelik bewys is, dit volg dat hy as deel van die groep ook aan die ander skuldig is. Ons verwerp die betoog. Dit is logies onhoudbaar omdat 'n groep se samestelling

6

nie staties is nie. Daar kom voortdurend geweldplegers by en die wat genoeg gehad het of elders besigheid het verlaat die groep. Daar moet by elke misdaad bepaal word of 'n besondere beskuldigde deel was van die groep op daardie tydstip.
Ons behandel die gebeure kronologies, dit wil
sê eers aanklagte 1, 2 en 3 wat betrekking het op
Lukas Maroga se moord
Ter aanvang moet gesê word dat die beskuldigdes almal onskuldig gepleit het en betrokkenheid by die gebeure ontken het. Dit is gemeensaak dat die oorledenes oorlede is as gevolg van die aanval deur die bende. Die lykskouingsverslae het die oorsaak van dood aangegee as verbranding, waarskynlik omdat die lyke so onherkenbaar verkool is dat niks verder vasgestel kon word nie. Die moontlikheid bestaan dat die dood van die oorledenes alreeds ingetree het voordat die liggame verbrand is, hetsy as gevolg van 'n aanval met 'n byl in geval van Lukas of met klippe of ander voorwerpe in die geval van die ander.

Wanneer betrokkenheid bepaal word sal die moontlikhede in gedagte gehou word.

Die verdediging het die oorsaak van dood soos

7 in die verslae van die nadoodse ondersoeke uiteengesit, erken. Die verdediging betwis nie wesenlik die weergawe van die staatsgetuies oor dié gebeure in die algemeen nie. Wat wel sterk betwis word is dat die beskuldigdes daarby betrokke is." (Aanklag 2 is een van brandstigting en het betrekking op die afbrand van Lukas se woonhuis; aanklag 3 is een van kwaadwillige saakbeskadiging en het betrekking op die uitbrand van sy motorvoertuig).

Die voorval by Lukas se woning het so verloop. Gedurende die laat nag was hy, sy vrou Rebecca en hul dogters, die 15 jarige Angelina en die jongere Tembi, aan die slaap in hul onderskeie kamers. Ongeveer 03h30 is Rebecca gewek deur "die geraas van voetstappe" buitekant. Sy het Lukas wakker gemaak. Hy het opgestaan en by hul

8
kamervenster uitgeloer. Sy het by ander vensters gaan uitloer en baie mense buite gesien. Sy het by Lukas in die sitkamer gaan aansluit. Daar was 'n geklop aan die sitkamerdeur en 'n stem wat sy nie herken het nie, het gesê "maak oop, as jy nie oopmaak nie sal ek aan die brand steek." Lukas het die rede vir dié optrede gevra. Die antwoord was "ons wil die kaptein hê, dit is Maroga". Lukas het geantwoord dat die kaptein nie daar was nie. Rebecca het die twee dogters gaan wakker maak en met hulle deur die sitkamerdeur na buite gevlug, gevolg deur Lukas. Rebecca het voorts soos volg getuig. Sy het voor die huis gaan staan. Terwyl Lukas nog besig was om by die deur uit te kom het appellant hom voor die bors gegryp en verder na buite getrek. Sy het appellant goed geken. Hy en Lukas was neefs. (Hul vaders was broers). Ene Myros Maroga (wat nie een van die beskuldigdes was nie) het toe vir Lukas 'n harde hou met 'n kierie op sy kop geslaan. Appellant en
9 ander van dié wat daar saamgedrom het, het Lukas toe van die stoep af na sy motorvoertuig getrek. Die voertuig het gestaan in 'n gang aan die linkerkant van die woonhuis (soos van voor af gesien). Die gang was tussen die huis en hul motorhuis. Ongeveer 40 meter agter hul woonhuis was 'n gebou waarin 'n kroeg en kafee was. Dié gebou ("die kroeg") het elektriese ligte aan die buitekant gehad wat nagdeur gebrand het. Daardie ligte het tydens die voorval gebrand en het in voormelde gang afgeskyn. Rebecca en haar twee kinders het Lukas en sy meesleurders gevolg. Sy was net in
'n onderrok geklee en die kinders het deurgaans weerskante daaraan vasgeklou. Sy het op die hoek van die huis by die bek van die gang gaan staan. Dit is waar hul motorvoertuig gestaan het, slegs 'n paar meter van haar af. Daar was ook
'n volmaan wat op 'n hoek van ongeveer 45° bo die westelike horison gehang het, en ook die area aan die voorkant van die huis belig het. Die toneel was goed belig en sy kon

10
duidelik sien wat voor haar aan die gebeur was. Die skare het saambeweeg na die motorvoertuig, waar appellant steeds vir Lukas vasgehou het. Ene Makgoweng Paile (besk nr 5), wat sy ook geken het, het daar 'n byl aan appellant gegee met dié woorde "vat so hierdie byl en kap hom hiermee, want hy is jou broer". Beskuldigde 5 het na Lukas verwys. Lukas het geskree dat hulle nie vir hom moet doodmaak nie en het bygevoeg dat as hy 'n misdryf gepleeg het, moes hulle hom daarvoor laat betaal. Myros Maroga, wat nog steeds ook daar was, het toe gesê "maar julle mors tyd met hierdie hond", verwysende na Lukas. Daarop het appellant vir Lukas met die byl gekap, maar weens die samedromming kon Rebecca nie sien waar die hou hom getref het nie. Sy en haar kinders het net daarna, in die nag, oor die berge na haar ouerhuis gevlug. Twee dae later het sy teruggekeer en gevind dat hul woning en motorvoertuig uitgebrand was. Lukas se verkoolde lyk is die volgende dag deur die polisie

11

gevind by die regter voorkant van die huis. Angelina het ook namens die staat getuig en het in hoofsaak die weergawe van haar moeder gestaaf. Daar was egter sekere verskille in hul weergawes, bv aangaande die ligging van en getal ligte by die kroeg. Angelina het ook nie opgemerk of daar maanskyn was nie. Rebecca het haarself daarbenewens in sekere opsigte weerspreek, bv deur aanvanklik te getuig dat die kroegligte aan die binnekant van die gebou gebrand het, en later dat hulle aan die buitekant was.

Speurder adjudant-offisier Thomas Lebopo van die Lebowa polisie te Mecklenburg, was ook 'n staatsgetuie. Hy ken die betrokke area goed. Volgens hom was die kroeg destyds aan die buitekant baie helder verlig en het die ligte die gemelde gang ook goed belig. Dit was trouens gemene saak tydens die verhoor dat die kroeg op die nag van 18-19 Februarie 1986 aan die buitekant belig was. Slegs die

12

aantal, plasing en sterkte van die ligte was in geskil. Rebecca se getuienis aangaande die volmaan was nie betwis nie.

Appellant het getuig op die meriete. Hy het beweer dat hy op 19 Februarie 1986 in diens was by die Winterveld Chrome Mine. (Dié myn is op Steelpoort). Sy woonplek was 27-30 km van die myn af. Hy het op daardie stadium die eerste dagskof by die myn gewerk. Dié skof was van 06h00 tot 13h30. Die tweede dagskof was van 14h00 tot 22h00. Hy was om ongeveer 04h00 deur sy broer Josef in dié se motorvoertuig opgelaai en werk toe geneem, waar hy om ± 05h05 aangekom het. Na voltooiing van sy skof is hy terug huis toe. Appellant het 'n teenwoordigheidsrooster, bewysstuk Z, ingehandig, wat aantoon dat hy inderdaad op 19 Februarie 1986 'n dagskof gewerk het. Dit toon egter nie watter van die twee dagskofte hy gewerk het nie. Maar aan
13 Rebecca en Angelina was dit tydens kruisondervraging gestel dat appellant op 18-19 Februarie 1986 nagskof gewerk het (dié skof was van 21h00 tot 05h00) en derhalwe nie teenwoordig was (of kon gewees het) tydens die moordaanslag op Lukas nie. Hulle het egter voet by stuk gehou dat hy daaraan deelgeneem het soos voormeld.

By die hervatting van die saak op die oggend van 19 September het rnnr Lewies hom onttrek as appellant se advokaat "weens 'n geskil oor die instruksies wat hy van appellant gekry het". 'n Beampte van die myn waar appellant gewerk het, het op versoek van die staat daardie oggend by die hof ópgedaag en appellant het hom daar opgemerk voordat die dag se verrigtinge begin het. Na 'n verdaging van die saak is appellant se verdere verdediging deur mej Jordaan waargeneem.
14 Rebecca en Angelina is toe herroep en dit is deur haar aan hulle gestel dat daar 'n misverstand tussen appellant en mnr Lewies was as gevolg waarvan die stelling aan hulle gemaak was dat hy "nagdiens gewerk het" terwyl hy in der waarheid "dagdiens gewerk het".

Appellant se broer Josef het ook getuig. Hy het beweer dat hy appellant altyd werk toe vervoer het en dat hulle so vroeg soggens vertrek het soos deur appellant beweer is. Hy kon datums egter glad nie onthou nie en het nie eens geweet dat dit 1989 was toe hy getuig het nie. Daarbenewens kon hy geen aanvaarbare verduideliking gee waarom hulle so vroeg vertrek het om só 'n kort ent pad te ry nie.

Beskuldigde 5, Henry Paile, het ook getuig en het ewenseens ontken dat hy teenwoordig was by die moord op
15 Lukas. Hy het beweer dat hy daardie nag aan diens was by 'n myn, Tobatsi Ferro Chrome, van 23h00 op 18 Februarie tot 07h00 die volgende oggend. Hy het 'n diensrooster ingehandig ên ook twee getuies geroep om sy bewering te staaf.

Die hof het die weergawes van Rebecca en Angelina aanvaar wat appellant betref. Die hof het bevind dat beskuldigde 5 "'n baie swak getuie was op wie geensins peil getrek kan word nie", en dat die diensrooster om verskeie redes onoortuigend was. Beskuldigde 5 is nietemin onskuldig bevind weens die aard en gehalte van die ander stawende getuienis en die feit dat hy net vlugtig voor Rebecca en Angelina verskyn het. Dit het gesamentlik 'n
twyfel by die hof laat onstaan oor die betroubaarheid van hulle uitkenning van hom. Daar was egter geen sodanige twyfel oor hul uitkenning van appellant nie. Hy was baie

16
goed aan albei bekend, hy was vlak voor hulle vir 'n veel
langer tyd as beskuldigde 5 en het in 'n goed beligte area
vir Lukas beetgehad en met 'n byl te lyf gegaan. Die

weergawes van appellant en Josef is o a in die volgende

terme verwerp:

"[Appellant] het vrae ontwyk veral toe hy gevra is oor die teenstrydige opdragte oor nag- en dagdiens, en kon geen verduideliking gee waarom hy juis op 19 September 1989, toe hy sy werkgewer sien, weer eens sy veklaring met sy advokaat moes deurgaan nie. Ons bevind dat beskuldigde 9 'n
leuenagtige getuie is.
Beskuldigde 9 het ter stawing van sy weergawe sy broer Joseph Maroga geroep. Dié het getuig dat hy beskuldigde 9 elke dag om 04h00 opgelaai het by sy skoonouers se huis te Maandagshoek en hom afgelaai het te T.C.L. by sy werk om 05h05. Dit geld ook die 19 Februarie 1986. Ons het die volgende kommentaar op Joseph Maroga.
Hierdie getuie het sy getuienis met veel gebare en beweging gelewer en ons nie beïndruk nie. Sy weergawe dat hy om 03h00 opstaan om beskuldigde 9 om 04h00 op te laai een tot twee

17

kilometer weg en dan mense aflaai vir hulle 06h00 skof en self om 07h00 begin en dit alles om ongeveer 16 kilometer af te lê wat seker binne 30 na 45 minute gedoen kan word is geheel ongeloofwaardig. Dit is 'n deursigtige poging om die oplaaityd van beskuldigde 9, indien hy hom ooit opgelaai het, sover in die nag in te skuif as moontlik ten einde beskuldigde 9 'n alibi te verskaf wat die dood van Lukas Maroga betref. Hy sê dat beskuldigde 9 van 1985 tot 1987 deur hom opgelaai is. Ook sê hy dat beskuldigde 9 in 1986 met verlof gegaan het, maar hy weet nie eers dat vanjaar 1989 is nie. Dit is 'n getuie wat nie sal skroom om te lieg ter wille van sy broer nie. Dat dit die geval is, is duidelik uit die feit dat beskuldigde 9 se saak aanvanklik was dat hy nagskof gewerk het. Dit klop glad nie met hierdie weergawe nie. Dit is duidelik dat toe beskulidgde 9 sy werkgewer se amptenaar gesien het en hy sy alibi verander het, hy die getuie verkry het om vir hom in die bresse te tree.
Teenoor die staatsaak staan daar dus 'n vals alibi."

18

Die hof het voorts bevind dat die toneel genoegsaam belig was vir Rebecca en Angelina om appellant betroubaar te kon uitken.

Daar is na my oordeel geen genoegsame rede om met die voormelde bevindings van die verhoorhof in te meng nie. Dit is derhalwe bo redelike twyfel bewys dat appellant Lukas te lyf gegaan het met die direkte opset om hom te vermoor. Die appèl teen sy skuldigbevinding moet gevolglik misluk.

Wat die vonnis betref, geld wesenlik ander oorwegings nou as die wat van toepassing was tydens die verhoor. Die benadering is nou nie meer of daar versagtende omstandighede teenwoordig was nie maar of die doodstraf die enigste gepaste vonnis is. Daarvoor is 'n oorweging van strafversagtende en strafverswarende faktore nodig. Daar is nou ook geen bewyslas meer op 'n beskuldigde soos voorheen

19

die geval met versagtende omstandighede was nie. Faktore ter strafversagting behels ook 'n wyer begrip as versagtende omstandighede. Die gepastheid van die doodstraf aan appellant opgelê moet gevolglik nou op die nuwe grondslag bepaal word.

Op 19 Februarie 1986 was appellant 28 jaar en 11 maande oud. Geen vorige veroordelings is teen hom bewys nie. Hy het 'n vaste betrekking gehad. Dié faktore is almal strafversagtend en gevolglik nou van wesenlike belang. By die ondersoek na versagtende omstandighede was hulle egter irrelevant. Die aard van die misdaad en die wyse waarop dit gepleeg was, is baie ernstig en weersinwekkend, en appellant het 'n leidende rol daarin gespeel. Dit is faktore wat sterk strafverswarend is en verg gedugte bestraffing. Maar dit is duidelik dat die moord op Lukas gekoppel was aan die gegriefdheid jeens die kaptein wat op

20
19 Februarie 1986 tot uitbarsting gekom het. Die uitroep dat die skare by Lukas na die kaptein gesoek het, is sprekende bewys daarvan. Die gepeupel het klaarblyklik vir Lukas beskou as 'n aanhanger van die kaptein. Die feit dat dit moontlik 'n verkeerde indruk was, doen nie afbreuk aan die effek daarvan op die gemoedere van sy stamgenote nie. Daardie uitbarsting is voorafgegaan deur 'n lang tydperk van steeds verskerpende wrewel wat in stamgeledere teen die kaptein aan die opbou was. Dit is hoogs waarskynlik (in weerwil van appellant se ontkenning daaromtrent), dat hy as lid van die stam daardeur beïnvloed en uiteindelik meegesleur was, al het hy nie aktief aan die stampolitiek deelgeneem nie. Die verloop van en rede vir daardie wrewel is soos volg geskets in die uitspraak aangaande versagtende omstandighede:

"Die eerste feit wat duidelik na vore staan is dat kaptein Samuel Maroga uiters ongewild was

21

by 'n aansienlike deel van sy stam. Of die ongewildheid geheel en al aan homself te wyte was is nie ter sake nie. Klaarblyklik was hy tot groot mate outeur van sy eie ongeluk. Sy ongewildheid was so groot dat hy op 5 November 1983 aangerand is deur lede van sy stam en dat sy huis op 29 Desember 1985 aan die brand gesteek is. Dit het aanleiding gegee tot strafsake wat die ongewildheid verder aangewakker het. Klagtes teen hom was dat die begrafnisverenigings deur hom by homself gesentraliseer is sodat hy die fondse kon beheer en dié wat nie daarmee akkoord gegaan het nie moes 'n bees of R200 betaal in elke sterfgeval. Dit was is stryd met die stamgebruike. Hy het gelde gevorder vir sy inhuldiging en die funksie is nie gehou nie. Hy het geld gevorder vir 'n skool wat nie gebou is nie, grafstene vir sy ouers wat nie opgerig is nie en 'n kantoor wat nie gebou is nie. Ook het hy geld ingevorder vir bogadi van 'n vrou en toe met sy bestaande vrou getrou. Hy het ouderdomspensioene en ongeskiktheidspensioene vir sy eie doeleindes geneem en het kwitansies uitgereik vir die helfte van bedrae wat ontvang is. Vir sy toestemming vir 'n bewysboek en vir bywoning van die stamskool is geld gevorder

22

teenstrydig met die stamgebruike. Die stam was ontevrede dat hy sy bestaande vrou en moeder van sy vyf kinders tot die kapteinskap wou verhef het. Hy het geld gevorder vir die bou van 'n dam en dit is nie gebou nie. Hy het die waterkraan laat afsluit wat betref sy teëstanders.
Hierdie klagtes haal ons hoofsaaklik uit die getuienis van die beskuldigdes en hul getuies oor wie se betroubaarheid ons reeds kommentaar gelewer het. 'n Groot deel daarvan is egter waarskynlik waar.

'n Groep waaronder van die beskuldigdes het 'n

prokureur gespreek nadat dit in die Legotla besluit is om die kaptein af te sit. Verskeie regslui is geraadpleeg en die saak was by die kommissaris en by die hoofminister maar het op niks uitgeloop nie. Dit het aanleiding gegee tot groot frustrasie."

Dié faktor van deurlopende en verskerpende frustrasie is deur die verhoorhof gevind om 'n versagtende omstandigheid

23

te wees ten aansien van die moorde op Lazarus Maroga (aanklag 4) en op die kaptein, Samuel Maroga (aanklag 8). In appellant se geval kom die verdere belangrike faktor by dat hy tot moorddadige geweld teen Lukas aangehits was deur die persoon wat die byl aan hom oorhandig het en deur Myros Maroga. Die omstandighede waaronder appellant die moord gepleeg het, is gevolglik na my mening ook sterk strafversagtend.

By die opweeg van alle tersaaklike faktore is die doodvonnis nie die enigste gepaste bestraffing van appellant nie. Dit kan gevolglik nie bly staan nie. Die aangewese vonnis is na my mening 'n lang tydperk van gevangenisstraf. Appellant se strafwaardigheid verskil nie wesenlik van dié van sy medebeskuldigdes wat ook aan moord skuldig bevind was soos hierbo uiteengesit, nie. 'n Vonnis van 17 jaar gevangenisstraf is gevolglik na my mening die gepaste

24

vonnis.

Bygevolg word die volgende bevele gemaak
1 Die appèl teen appellant se skuldigbevinding aan moord word van die hand gewys.
2 Die appèl teen die doodvonnis slaag.
3 Die doodvonnis word ter syde gestel en word vervang met 'n vonnis van 17 jaar gevangenisstraf.

APPÊLREGTER

JOUBERT AR)
stem saam EKSTEEN, AR)


SAFLII: | Terms of Use | Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1991/27.html