SAFLII [Home] [Databases] [WorldLII] [Search] [Feedback]

South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1991 >> [1991] ZASCA 13

[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]


S v Phala (39/90) [1991] ZASCA 13 (15 March 1991)

PDF of original document.PDF of original document

.RTF of original document


Saak nommer 39/90

E du P IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(APPÉLAFDELING)

In die saak tussen:
KNOX PHALA Appellant

en

DIE STAAT Respondent

Coram: NESTADT, KUMLEBEN et F H GROSSKOPF ARR

Verhoordatum: Lewerinqsdatum:

14 Maart 1991. 15 Maart 1991.

2

UITSPRAAK F H GROSSKOPF AR:
Die appellant het skuldig gepleit op 'n aanklag van roof. Hy is daarna in die streekhof van Suid-Transvaal aan roof skuldig bevind en tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan drie jaar gevangenisstraf vir 'n tydperk van vyf jaar voorwaardelik opgeskort is. Die appellant se appèl teen sy vonnis is deur die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling van die hand gewys, maar verlof is deur daardie hof aan die appellant verleen om na hierdie hof teen sy vonnis te appelleer.
Die appellant het saam met vyf ander persone aan 'n roof by 'n winkel in Roodepoort deelgeneém. Alhoewel die appellánt nie persoonlik kennis gedra het van die bedrag wat by die roof betrokke was nie, was hy bereid om te erken dat dit ongeveer R7 000 in kontant bedra het. Die appellant het die betrokke dag met vriende na Dobsonville gegaan. Daar het hy ongeveer dertig minute voor die pleging van die misdaad

3

vir die eerste maal van die beplande roof verneem. Toe hy hoor dat hulle geld gaan roof en dat die buit onder hulle almal verdeel sou word, het hy ingewillig om aan die roof deel te neem. Die appellant het reeds op daardie stadium gesien dat een van die groep, ene Lucky, 'n vuurwapen by hom het.
Die appellant was klaarblyklik nie een van die leiers van die groep van ses nie. Hy is voor die tyd aangesê om by die deur van die winkel stelling in te neem waar hy as wag moes optree. Hy was nie gewapen gewees nie. By die winkel aangekom, het hy by die deur gaan staan terwyl Lucky en nog twee ander die winkel met wapens binnegestap het. Twee van die groep het vuurwapens op die winkeliers gerig, terwyl die derde lid van die groep 'n mes by hom gehad het. Die appellant het gesien dat een van die winkeliers geld aan Lucky oorhandig, en dat die winkeliers daarna na 'n kantoor geneem word. Op daardie stadium het die appellant homself bedink, en het hy hom vrywilliglik aan die roof onttrek en

4

van die perseel weggehardloop. Die appellant het na die spoorwegstasie gehardloop, en nie na een van die twee motors wat buite die winkel gewag het om die rowers en hulle buit van die toneel te verwyder nie. Dit is 'n aanduiding dat hy glad nie verder by die roof betrokke wou wees nie. Hy is egter deur lede van die publiek gevang. In die proses het hy 'n oop hoofbesering opgedoen en 'n deel van 'n vinger verloor. Na sy arrestasie was die appellant die polisie behulpsaam by die opsporing van sekere lede van die groep van ses. Die appellant het uit die aard van die saak nooit in enige buit gedeel nie.

Die appellant het deelgeneem aan roof waarby 'n

bende betrokke was en waar daar van vuurwápens gebruik gemaak is. Dit is uit die aard van die saak 'n ernstige misdaad, soos die landdros ook tereg opgemerk het. Na my mening het die landdros egter nie voldoende gewig geheg aan die beperkte rol wat die appellant self by die pleging van die misdaad gespeel het nie. Die appellant het kort voor die roof vir

5

die eerste maal gehoor dat so iets beplan word. Volgens die beskikbare getuienis het die appellant nie self enige bydra gemaak tot die beplanning of voorbereiding van die misdaad nie. Hy het slegs vir 'n kort tydjie aan die uitvoering van die misdaad deelgeneem. Van die vier rowers wat die perseel betree het, was die appellant die enigste een wat ongewapen was. Sy rol was om wag te staan, wat opsigselfstaande nie
'n onbelangrike taak was nie, maar dit het meegebring dat hy nie regstreeks aan die roof met die gevaarlike wapens deelgeneem het nie.
Toe hy sien hoe die roof voor hom gepleeg word, het die appellant volgens sy getuienis "geskrik" omdat hy nog nooit vantevore by so 'n optrede betrokke was nie. Die gedagte het toe by hom posgevat dat hy homself aan die gebeure moet onttrek. Die landdros se interpretasie van hierdie getuienis is dat die appellant bang geword het en weggehardloop het. Die appellant se getuienis is nie betwis nie, en kom na my mening eerder daarop neer dat toe hy die

6

realiteit van die gebeure waarneem, hy homself bedink het, en dat hy hom toe vrywilliglik aan die misdadige optrede onttrek het. Hy het dit gedoen op 'n stadium toe alles nog volgens plan vir die rowers verloop het, en sonder dat daar enige aanduiding was dat hulle betrap sou word. Die landdros het opgemerk dat hy hierdie aspek "nie heeltemal buite rekening laat nie". Dit blyk trouens dat dit veral hierdie aspek was wat die landdros daartoe beweeg het om 'n gedeelte van die vonnis op te skort, maar dit was nadat hy die appellant in die eerste plek 'n swaar vonnis van tien jaar gevangenisstraf opgelê het. Na my oordeel moes die landdros veel meer gewig aan hierdie aspek van die saak verleen het, en wel op die stadium toe hy oorweeg het watter vonnis om in die eerste plek, en voor opskorting, op te lê.
Die vrywillige terugtrede van die appellant toon dat hy self tot ander insigte gekom het en dat hervorming en afskrikking van die appellant dus nie werklik ter sake kan wees by die oorweging van 'n gepaste vonnis nie. Die landdros

7

het egter bevind dat nie slegs ander voornemende rowers nie, maar ook die appellant self afgeskrik moet word.
Die vrywillige terugtrede van die appellant, die samewerking wat hy daarna aan die polisie verleen het en sy pleit van skuldig dui, myns insiens, alles daarop dat die appellant inderdaad opregte berou oor sy deelname aan die misdaad gehad het. Die landdros het blykbaar slegs die appellant se pleit van skuldig oorweeg toe hy die vraag na die appellant se moontlike berou beoordeel het. Dit blyk verder dat die landdros baie skepties gestaan het teenoor die appellant se bewering dat hy uit berou skuldig gepleit het. Volgens die landdros was die getuienis teen die appellant moontlik so oorweldigend dat hy in ieder geval geen ander keuse gehad het as om skuldig te pleit nie. Die appellant se pleit van skuldig was myns insiens egter 'n logiese opvolging van sy vrywillige terugtrede en sy hulpverlening aan die polisie. Dit wil dus voorkom asof die landdros die kwessie van berou, as strafversagtende faktor, uiteindelik

8

heeltemal buite rekening gelaat het. Na my oordeel was dit
'n mistasting aan die kant van die landdros.

Die landdros het melding gemaak van die appellant se persoonlike omstandighede. Na my mening is daar van daardie omstandighede wat as versagtende faktore in aanmerking geneem moet word. Dit blyk dat die appellant standerd 10 op skool geslaag het en dat hy vroeër as toesighouer teen 'n goeie salaris by 'n myn gewerk het. Hy het hierdie werk as gevolg van 'n vermindering van personeel verloor. Ondanks alle pogings kon hy nie daarin slaag om ander werk te bekom nie. Hy was dus op 26 jarige ouderdom werkloos as gevolg van faktore buite sy beheer. Alles dui daarop dat hy andersins 'n nuttige lid van die samelewing was. 'n Belangrike faktor wat die landdros wel in die appellant se guns in aanmerking geneem het, is die feit dat hy 'n eerste oortreder was.

Na my oordeel het die landdros nie die kumulatiewe effek van al die versagtende faktore behoorlik in ag geneem

9

by die oplegging van vonnis nie. Sy versuim om dit te doen,

word myns insiens ook weerspieël in die vonnis van tien jaar

gevangenisstraf wat hy opgelê het. Die verteenwoordiger van

die staat het toegegee dat 'n vermindering van die vonnis

geregverdig is. Sonder om die erns van die misdaad en die

belange van die gemeenskap uit die oog te verloor, is ek van

oordeel dat die vonnis wat opgelê is in al die omstandighede

ontstellend onvanpas is, en dat die termyn van

gevangenisstraf aansienlik verminder moet word.

Die appèl teen die vonnis slaag gevolglik. Die

vonnis wat die landdros opgelê het, word tersyde gestel en

met die volgende vonnis vervang:

"Vyf (5) jaar gevangenisstraf wáarvan drie (3) jaar gevangenisstraf vir drie (3) jaar opgeskort word op voorwaarde dat die beskuldigde nie weer skuldig bevind word aan roof of diefstal gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie."

F H GROSSKOPF AR.

NESTADT AR

KUMLEBEN AR Stem saam.


SAFLII: | Terms of Use | Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1991/13.html