![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
Saak nommer 39/90
E du P IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPÉLAFDELING)
In die saak tussen:
KNOX PHALA Appellant
en
DIE STAAT Respondent
Coram: NESTADT, KUMLEBEN et F H GROSSKOPF ARR
Verhoordatum: Lewerinqsdatum:
14 Maart 1991. 15 Maart 1991.
2
UITSPRAAK F H GROSSKOPF AR:
Die appellant het skuldig gepleit op 'n
aanklag van roof. Hy is daarna in die streekhof van Suid-Transvaal aan roof
skuldig bevind
en tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan drie jaar
gevangenisstraf vir 'n tydperk van vyf jaar voorwaardelik opgeskort
is. Die
appellant se appèl teen sy vonnis is deur die Witwatersrandse Plaaslike
Afdeling van die hand gewys, maar verlof is
deur daardie hof aan die appellant
verleen om na hierdie hof teen sy vonnis te appelleer.
Die appellant het saam
met vyf ander persone aan 'n roof by 'n winkel in Roodepoort deelgeneém.
Alhoewel die appellánt
nie persoonlik kennis gedra het van die bedrag wat
by die roof betrokke was nie, was hy bereid om te erken dat dit ongeveer R7 000
in kontant bedra het. Die appellant het die betrokke dag met vriende na
Dobsonville gegaan. Daar het hy ongeveer dertig minute voor
die pleging van die
misdaad
3
vir die eerste maal van die beplande roof verneem. Toe hy hoor dat hulle geld
gaan roof en dat die buit onder hulle almal verdeel
sou word, het hy ingewillig
om aan die roof deel te neem. Die appellant het reeds op daardie stadium gesien
dat een van die groep,
ene Lucky, 'n vuurwapen by hom het.
Die appellant was
klaarblyklik nie een van die leiers van die groep van ses nie. Hy is voor die
tyd aangesê om by die deur van
die winkel stelling in te neem waar hy as
wag moes optree. Hy was nie gewapen gewees nie. By die winkel aangekom, het hy
by die deur
gaan staan terwyl Lucky en nog twee ander die winkel met wapens
binnegestap het. Twee van die groep het vuurwapens op die winkeliers
gerig,
terwyl die derde lid van die groep 'n mes by hom gehad het. Die appellant het
gesien dat een van die winkeliers geld aan Lucky
oorhandig, en dat die
winkeliers daarna na 'n kantoor geneem word. Op daardie stadium het die
appellant homself bedink, en het hy
hom vrywilliglik aan die roof onttrek en
4
van die perseel weggehardloop. Die appellant het na die spoorwegstasie gehardloop, en nie na een van die twee motors wat buite die winkel gewag het om die rowers en hulle buit van die toneel te verwyder nie. Dit is 'n aanduiding dat hy glad nie verder by die roof betrokke wou wees nie. Hy is egter deur lede van die publiek gevang. In die proses het hy 'n oop hoofbesering opgedoen en 'n deel van 'n vinger verloor. Na sy arrestasie was die appellant die polisie behulpsaam by die opsporing van sekere lede van die groep van ses. Die appellant het uit die aard van die saak nooit in enige buit gedeel nie.
Die appellant het deelgeneem aan roof waarby 'n
bende betrokke was en waar daar van vuurwápens gebruik gemaak is. Dit is uit die aard van die saak 'n ernstige misdaad, soos die landdros ook tereg opgemerk het. Na my mening het die landdros egter nie voldoende gewig geheg aan die beperkte rol wat die appellant self by die pleging van die misdaad gespeel het nie. Die appellant het kort voor die roof vir
5
die eerste maal gehoor dat so iets beplan word. Volgens die beskikbare
getuienis het die appellant nie self enige bydra gemaak tot
die beplanning of
voorbereiding van die misdaad nie. Hy het slegs vir 'n kort tydjie aan die
uitvoering van die misdaad deelgeneem.
Van die vier rowers wat die perseel
betree het, was die appellant die enigste een wat ongewapen was. Sy rol was om
wag te staan,
wat opsigselfstaande nie
'n onbelangrike taak was nie, maar
dit het meegebring dat hy nie regstreeks aan die roof met die gevaarlike wapens
deelgeneem het
nie.
Toe hy sien hoe die roof voor hom gepleeg word, het die
appellant volgens sy getuienis "geskrik" omdat hy nog nooit vantevore by so
'n
optrede betrokke was nie. Die gedagte het toe by hom posgevat dat hy homself aan
die gebeure moet onttrek. Die landdros se interpretasie
van hierdie getuienis is
dat die appellant bang geword het en weggehardloop het. Die appellant se
getuienis is nie betwis nie, en
kom na my mening eerder daarop neer dat toe hy
die
6
realiteit van die gebeure waarneem, hy homself bedink het, en dat hy hom toe
vrywilliglik aan die misdadige optrede onttrek het. Hy
het dit gedoen op 'n
stadium toe alles nog volgens plan vir die rowers verloop het, en sonder dat
daar enige aanduiding was dat hulle
betrap sou word. Die landdros het opgemerk
dat hy hierdie aspek "nie heeltemal buite rekening laat nie". Dit blyk trouens
dat dit
veral hierdie aspek was wat die landdros daartoe beweeg het om 'n
gedeelte van die vonnis op te skort, maar dit was nadat hy die
appellant in die
eerste plek 'n swaar vonnis van tien jaar gevangenisstraf opgelê het. Na
my oordeel moes die landdros veel
meer gewig aan hierdie aspek van die saak
verleen het, en wel op die stadium toe hy oorweeg het watter vonnis om in die
eerste plek,
en voor opskorting, op te lê.
Die vrywillige terugtrede
van die appellant toon dat hy self tot ander insigte gekom het en dat hervorming
en afskrikking van die
appellant dus nie werklik ter sake kan wees by die
oorweging van 'n gepaste vonnis nie. Die landdros
7
het egter bevind dat nie slegs ander voornemende rowers nie, maar ook die
appellant self afgeskrik moet word.
Die vrywillige terugtrede van die
appellant, die samewerking wat hy daarna aan die polisie verleen het en sy pleit
van skuldig dui,
myns insiens, alles daarop dat die appellant inderdaad opregte
berou oor sy deelname aan die misdaad gehad het. Die landdros het
blykbaar slegs
die appellant se pleit van skuldig oorweeg toe hy die vraag na die appellant se
moontlike berou beoordeel het. Dit
blyk verder dat die landdros baie skepties
gestaan het teenoor die appellant se bewering dat hy uit berou skuldig gepleit
het. Volgens
die landdros was die getuienis teen die appellant moontlik so
oorweldigend dat hy in ieder geval geen ander keuse gehad het as om
skuldig te
pleit nie. Die appellant se pleit van skuldig was myns insiens egter 'n logiese
opvolging van sy vrywillige terugtrede
en sy hulpverlening aan die polisie. Dit
wil dus voorkom asof die landdros die kwessie van berou, as strafversagtende
faktor, uiteindelik
8
heeltemal buite rekening gelaat het. Na my oordeel was dit
'n mistasting
aan die kant van die landdros.
Die landdros het melding gemaak van die appellant se persoonlike omstandighede. Na my mening is daar van daardie omstandighede wat as versagtende faktore in aanmerking geneem moet word. Dit blyk dat die appellant standerd 10 op skool geslaag het en dat hy vroeër as toesighouer teen 'n goeie salaris by 'n myn gewerk het. Hy het hierdie werk as gevolg van 'n vermindering van personeel verloor. Ondanks alle pogings kon hy nie daarin slaag om ander werk te bekom nie. Hy was dus op 26 jarige ouderdom werkloos as gevolg van faktore buite sy beheer. Alles dui daarop dat hy andersins 'n nuttige lid van die samelewing was. 'n Belangrike faktor wat die landdros wel in die appellant se guns in aanmerking geneem het, is die feit dat hy 'n eerste oortreder was.
Na my oordeel het die landdros nie die kumulatiewe effek van al die versagtende faktore behoorlik in ag geneem
9
by die oplegging van vonnis nie. Sy versuim om dit te doen,
word myns insiens ook weerspieël in die vonnis van tien jaar
gevangenisstraf wat hy opgelê het. Die verteenwoordiger van
die staat het toegegee dat 'n vermindering van die vonnis
geregverdig is. Sonder om die erns van die misdaad en die
belange van die gemeenskap uit die oog te verloor, is ek van
oordeel dat die vonnis wat opgelê is in al die omstandighede
ontstellend onvanpas is, en dat die termyn van
gevangenisstraf aansienlik verminder moet word.
Die appèl teen die vonnis slaag gevolglik. Die
vonnis wat die landdros opgelê het, word tersyde gestel en
met die volgende vonnis vervang:
"Vyf (5) jaar gevangenisstraf wáarvan drie (3) jaar gevangenisstraf vir drie (3) jaar opgeskort word op voorwaarde dat die beskuldigde nie weer skuldig bevind word aan roof of diefstal gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie."
F H GROSSKOPF AR.
NESTADT AR
KUMLEBEN AR Stem saam.
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1991/13.html