South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1990 >> [1990] ZASCA 91

| Noteup | LawCite

S v Ngeno (2438/88) [1990] ZASCA 91 (14 September 1990)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

CG SAAKNOMMER: 2438/88

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak van:
EDMOND NGENO Appellant
en
DIE STAAT Respondent

CORAM: E M GROSSKOPF AR, FRIEDMAN et NIENABER WARR AANGEHOOR: 7 SEPTEMBER 1990
GELEWER: 14 SEPTEMBER 1990

UITSPRAAK NIENABER WAR

2

Die appellant voel hom beswaard dat hy in die

Streekhof te Germiston daaraan skuldig bevind is dat hy 'nh sekere BMW 528i-model motorvoertuig enersyds gesteel, en andersyds(in stryd met die tersaaklike bepalings van die Ordonnansie op Padverkeer, Ordonnansie 21 van 1966 (T)) sonder die voorgeskrewe lisensie bestuur het. Op die eerste klag is hy tot 5 jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan een jaar voorwaardelik opgeskort is; op die tweede klag is hy bloot gewaarsku. Sy aanvanklike appèl na die Transvaalse Provinsiale Afdeling teen sowel sy skuldigbevindings as sy vonnis het misluk maar verlof om teen die skuldigbevindings alleen te appelleer, is nietemin toegestaan. Vandaar die huidige appel.
Die voertuig, 'n groen-kleurige BMW, is op 20 Mei 1988 vanuit 'n openbare parkeerterrein te Eastgate-winkelsentrum, Bedford View, gesteel. Direkte getuienis dat die appellant by die diefstal betrokke was, het ontbreek. Wat daar wel was, was die getuienis dat hy

3

twee dae later, op 22 Mei 1988, 'n insittende in die voertuig was toe dit deur die polisie agtervolg en tot stilstand gedwing is. Die appellant is daar en dan gearresteer. Volgens hom was hy bloot 'n passasier in die voertuig en was ene Raymond Penduka in werklikheid die bestuurder. Volgens die getuienis wat namens die Staat aangebied is, was dit egter die appellant wat die motor bestuur het en het sy passasier, wie hy ookal was, daarin geslaag om te ontsnap. Die verhoorhof glo die staatsgetuies, insluitende Raymond Penduka, wat die appellant se aantygings heftig ontken het dat hy die voertuig ooit besit of op die betrokke dag bestuur het.
Die kernvraag is of die verhoorhof in dié opsig fouteer het.
Twee polisiebeamptes, adjudant-offisier Coetzee en konstabel Theledi, het getuig dat hulle die betrokke middag met patrolliewerk op die M1-noord snelweg besig was toe die betrokke motorvoertuig by hulle verby ry. Op

4

dié stadium het hulle nie daarop gelet wie die bestuurder was nie. Hulle het trouens geen onraad gewaar nie en hul poging om die voertuig te onderskep, was bloot roetine omdat so baie BMW-voertuie gesteel word. In plaas van stilhou, het die voertuig egter skielik versnel en dit het tot 'n dolle jaagtog gelei. Die bestuurder van die groen-kleurige BMW het uiteindelik beheer oor die voertuig verloor wat teen 'n reling gebots en 'n ent verder aan die oorkant van die pad skuins tot stilstand gekom het. Die polisievoertuig het direk agter die BMW aan sy bestuurderskant stilgehou. Volgens albei polisiebeamptes het die appellant aan die bestuurderskant (d.w.s. aan die regterkant van die voertuig) uitgespring en begin weghardloop. Coetzee wat die polisiehond hanteer het, het hom te voet agterna gesit. Volgens hom was dit gebruik dat hy in so 'n geval die bestuurder agtervolg terwyl Theledi enige passasiers probeer aankeer. Dit is wat, volgens albei van hulle, dan ook

5

gebeur het. Die appellant het volgens Coetzee amper in hom vasgehardloop toe hy uit die voertuig spring en begin vlug. Omdat daar verkeer was, kon hy die hond nie loslaat nie. Die beskuldigde was egter deurentyd in sig. Met behulp van 'n lid van die publiek (wat nie geroep is om te getuig nie) is die appellant uiteindelik 'n 200 meter of wat van die voertuig af aangekeer. Terselfdertyd het konstabel Theledi die passasier agtervolg wat, soos reeds gesê, daarin geslaag het om weg te kom. Volgens Coetzee het die appellant tydens sy arrestasie aan hulle verduidelik dat hy 'n geleentheid gesoek het en deur die bestuurder opgelaai is; op dié stadium het hy nog nie die naam van Raymond Penduka aan hulle vermeld nie.
By nadere ondersoek het dit geblyk dat die voertuig van vals nommerplate voorsien was, dat daar aan die derde party-skyfie verander is en dat die motorsleutel opvallend 'n duplikaat was.

6

Tydens die botsing met die muur is die motor erg beskadig.
Daarteenoor het die appellant getuig dat hy die dag van die diefstal (Vrydag 20 Mei 1988) tot 16h20 die middag by sy werkplek te Benrose op sy pos was. Hoe ver Benrose van die Eastgate- winkelsentrum is, blyk nie uit die getuienis nie. Hy ontken dat hy die betrokke dag ooit by die Eastgate-winkelsentrum aangedoen het. Wat die 22ste Mei betref, was sy getuienis dat sy kind die oggend siek geword het, dat hy Raymond Penduka, 'n goeie kennis van hom wat 'n motorvoertuig besit het, gevra het om hulle dokter toe te neem en dat Penduka ingewillig het en om dit te doen en daarna vir hom, sy vrou en sy kind in die groen BMW na die dokter vervoer het. Agterna - so het hy getuig - het Penduka hom versoek om saam te ry toe laasgenoemde iets by sy werkplek in die stad wou gaan haal. Op pad terug is hulle deur die polisiemanne agtervolg en het die motor, soos die polisie getuig het,

7

teen die padreling gebots. Hy het aan die linkerkant van die voertuig en nie aan die bestuurderskant nie, uitgeklim, steeds duiselig vanweë die botsing, en is 'n kwessie van 'n paar meter van die voertuig deur die polisie in hegtenis geneem. Penduka het gevlug.
Penduka is deur die Staat as getuie geroep. Hy het die appellant se weergawe geheel en al ontken. Volgens hom was hy die middag in die bioskoop in die geselskap van sy vrou, en het hy die appellant die dag glad nie eens teëgekom nie. Sy eggenote ondersteun hom, ofskoon sy nie kon onthou watter films hulle die dag besigtig het nie.
Die verhoorhof is aldus met twee botsende en onversoenbare weergawes gekonfronteer. Die moontlikheid van misverstand kan mens geredelik verontagsaam: minstens een van die weergawes moes doelbewus vals wees. In so 'n geval moet die teenstrydige weergawes aan die hand van die hof se evaluering van die getuienis en van

8

die waarskynlikhede teen mekaar opgeweeg word. Bestaan daar ten besluite 'n redelike moontlikheid dat die beskuldigde se verontskuldigende weergawe waar kan wees, is die saak teen hom nie bewys nie. Hoe sterker die waarskynlikhede na die een kant, hoe minder ruimte is daar vir twyfel na die ander.
Die kritiek wat tydens betoog namens die appellant teen die getuienis van die twee polisiegetuies geopper is, berus op onbenullighede en regverdig nie 'n verwerping van die verhoorhof se oordeel dat hulle betroubare getuies was nie. Maar ook die appellant self is deur die verhoorhof beskou as iemand wie se "getuienis op grond van die inhoud daarvan en die wyse waarop hy getuig het ook nie ernstig gekritiseer" kan word nie. Wat Penduka betref was hy volgens die appellant die bestuurder van die voertuig. As dit so is, was Penduka na alle waarskynlikheid óf betrokke óf bewus van die diefstal en het hy rede gehad om homself ten koste van

9

die appellant te probeer verontskuldig. So ook sou sy eggenote rede gehad het om sy ontkenning te beaam. Hul getuienis moet derhalwe in die lig van daardie moontlikheid beoordeel word en dit het die verhoorhof dan ook gedoen. Selfs op daardie grondslag meen die verhoorhof dat hul getuienis, op een moontlike weerspreking na, nie gekritiseer kan word nie. (Die weerspreking handel oor Mev Penduka se onsekerheid oor watter films vertoon is.)
Die wyse waarop die onderskeie getuies getuig het, was opsigself genome dus nie beslissend nie: die twee polisiegetuies het beter getuig as die Penduka's, maar nog hul getuienis, nog dié van die appellant, was sonder meer verwerplik. Dit is wel so dat belangrike aspekte van die appellant se latere getuienis nooit aan staatgetuies gestel is nie (soos, byvoorbeeld, dat hy 'n
kwessie van 'n paar meter van die voertuig af in hegtenis geneem is, dat hy Penduka se naam onmiddellik aan die

10

polisie genoem het, en dat hy nooit sou gesê het dat hy 'n
geleentheid gesoek het nie), maar die appellant is nie met dié afwykings gekonfronteer toe hy getuig het nie, sodat hy nie op grond daarvan alleen tot leuenaar verdoem kan word nie.
Die waarskynlikhede word dus van deurslaggewende belang.
Albei polisiemanne was daarvan oortuig dat die appellant aan die bestuurderskant en nie aan die linkerkant van die voertuig nie, uitgeklim het. Daaroor kon hulle hul nie misgis het nie. Dit beteken dat albei van hulle op die appellant se weergawe, doelbewus leuens vertel het. Maar waarom sou hulle dit nodig gevind het om dit te doen? Een moontlike verklaring sou denkbaar kon wees: dat die werklike bestuurder toe reeds ontsnap het en dat hulle, in hul frustrasie vanweë sy ontsnapping en in hul ywer om ten alle koste iemand aan die man te bring, die appellant valslik beskuldig het dat hy die

11

bestuurder was. So 'n moontlikheid is egter nooit aan die polisiegetuies gestel nie. Feit is dat hulle die appellant onmiddellik by sy arrestasie daarvan beskuldig het dat hy die een was wat die voertuig bestuur het. Dit erken die beskuldigde self. Juis daarom, sê hy, het hy verduidelik dat hy nie oor 'n bestuurderslisensie beskik het nie. Dit beteken dan dat die twee polisiegetuies op die impuls van die oomblik 'n komplot gesmee het om die appellant valslik te beskuldig dat hy die bestuurder van die voertuig was en dat Coetzee ter ondersteuning van dié komplot 'n omvangryke relaas uitgedink het waarvolgens die appellant 200 meter verder deur 'n lid van die publiek voorgekeer sou gewees het. Mens mag wel vra waarom die twee polisiegetuies die appellant daar en dan daarvan sou beskuldig het dat hy die bestuurder was terwyl hulle voor hul siel geweet het dat dit nie die geval was nie. Waarom sou hulle die appellant onnodiglik antagoniseer as hy hul enigste leidraad was om die werklike bestuurder en

12

dus die vermeende dief van die voertuig op te spoor? Meer nog, waarom sou hulle, nadat die werklike bestuurder (volgens die appellant) wel opgespoor is, volhard met hul vals beskuldiging dat dit die appellant en nie Penduka was wat aan die bestuurderskant van die voertuig uitgespring het? As Penduka die bestuurder was, moes hulle hom tog gesien en herken het. Myns insiens is dit inherent onwaarskynlik dat twee polisiebeamptes daarna sou streef om die werklike misdadiger te verontskuldig en 'n geheel en al onskuldige persoon vir sy misdaad aan die pen te laat ry. Die hele hipotese is na my mening so onwaarskynlik dat dit as 'n lewensvatbare moontlikheid verwerp moet word. En as dit so is, dui dit daarop:

1. dat die appellant, op die waarskynlikhede, wel die voertuig bestuur het;
2. dat hy, onmiddellik nadat die voertuig tot stilstand gekom het, uitgespring en probeer weghardloop het, iets wat mens in elk geval nie

13

sou verwag het van iemand wie se teenwoordigheid in die voertuig totaal onskuldig was nie - wat op sy beurt weer daarop dui dat hy nie so onkundig en onskuldig was as wat hy probeer voorgee het nie.

Mens sou ook verwag het dat as die twee polisiegetuies werklik daarop uit was om die appellant valslik te inkrimineer hulle nie sou toegegee het dat die appellant, onmiddellik by sy arrestasie, probeer ontken het dat hy die bestuurder van die voertuig was nie.
Alles in ag genome dui die waarskynlikhede dus onteenseglik daarop dat die appellant se weergawe nie redelik moontlik waar kon wees nie, en dat hy inderdaad die bestuurder van die voertuig was.
Gesien die feite dat die voertuig pas twee dae vantevore gesteel is en van vals nommerplate voorsien was, dat daar aan die derde party-skyfie gepeuter is, dat

'n sleutel gebruik is wat duidelik 'n duplikaat was, en dat

14

die appellant van die polisie probeer wegjaag en later probeer weghardloop het, en, les bes, dat die appellant geen aanvaarbare verduideliking kon verstrek wat op onskuld dui nie en trouens vals getuienis gelewer het, is die afleiding onvermydelik dat hy op die een of ander wyse wel by die diefstal van die voertuig betrokke was.
En wat die tweede klag betref, as dit eenmaal bevind is dat die appellant die voertuig bestuur het, moes hy noodwendig skuldig bevind word, aangesien hy erken het dat hy nie oor 'n lisensie beskik het nie.
Na my mening het die verhoorhof dus nie fouteer deur die appellant skuldig te bevind nie.

Die appèl misluk.

P M NIENABER WAR STEM SAAM:

E M GROSSKOPF AR) FRIEDMAN WAR)