South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1990 >> [1990] ZASCA 15

| Noteup | LawCite

S v Kraqa en 'n Ander (350/89) [1990] ZASCA 15 (16 March 1990)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

Saak Nr 350/89 IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING) In die saak tussen:
MZOXOLO GOODMAN KRAQA Eerste Appellant
ABEDNEGO MANDLA Tweede Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: E M GROSSKOPF,AR, FRIEDMAK et GOLDSTONE Wr. ARR VERHOOR: 16 Februarie 1990 GELEWER: 16 Maart 1990

UITSPRAAK E M GROSSKOPF, AR

Daniel Jaxa was 'n vragmotorbestuurder in diens van 'n vervoerbesigheid van Germiston bekend as G G Transport. Op Dinsdag 6 Oktober 1987 teen ongeveer 6.30 n m het Jaxa Germiston verlaat met 'n vrag aluminium bestem vir Kaapstad. Hy was

2

vergesel van 'n mede-werknemer Petrus Msimango. Die vrag se gewig was 7 193 kg en die waarde was tussen R50 000 en R60 000. Jaxa was ook in besit van R500 wat sy werkgewer vir hom gegee het vir brandstof langs pad.
Op Donderdag 8 Oktober het ene Petrus Mokoena, ook 'n vragmotorbestuuder, 'n pap wiel gekry op die nasionale pad tussen Vredefort en Kroonstad. Hy het stilgehou en toevallig twee lyke 'n entjie weg in die landerye langs die pad gesien. Dit was die lyke van Jaxa en Msimango. Die polisie is dadelik ontbied. Sers van Huyssteen is na die toneel. Hy het bloedspatsels in die pad, op die gruisgedeelte langs die pad en aan 'n boomtak wat blykbaar langs die pad gelê het, aangetref. Ontleding van die bloedkolle op die pad het aangetoon dat dit van dieselfde bloedgroep was as dié van Jaxa. Aan die Oostekant van die pad het van Huyssteen 'n 7.65 mm patroondoppie opgetel. Die twee lyke was ongeveer 80 meter van die grensdraad langs die pad. Sleepmerke is opgemerk binne die padreserwe. Die broeksakke van albei oorledenes was omgedop.

3

Die lykskouing van die twee oorledenes is op 9 Oktober waargeneem deur Dr F M Peters. Msimango is gedood deur 'n koeelwond deur sy kop wat onmiddellike dood sou veroorsaak het. Die wond is van naby toegedien bo die linkeroog. Benewens hierdie noodlottige wond het Msimango blykbaar skaafwonde aan sy polse en kniee gehad. Toe van Huysteen die lyk gevind het was die hande agter die rug vasgebind met 'n lyfband en dit was moontlik die rede vir die skaafmerke aan die polse. Die skaafwonde aan die knieë kon natuurlik op verskeie maniere ontstaan het. Onder kruisverhoor het Dr Peters toegegee dat sommige van die "skaafwonde" moontlik nadoods kon ontstaan het.

Jaxa is ook aan 'n skietwond dood. In sy geval was dit 'n skoot deur die bors wat deur albei longe en die afdalende aorta gegaan het. Die koeëlpunt is in Jaxa se liggaam gevind. Hierdie wond is ook van naby toegedien. Ook in sy geval was daar skaafwonde, en volgens Dr Peters was daar 'n tou om sy een pols gebind. Van Huyssteen het egter getuig dat, toe die lyk gevind was, daar 'n tou om die middellyf was, en nie om die pols

4

nie.
Die vragmotor waarin die twee oorledenes gery het, was reeds vroeg die oggend van Woensdag 7 Oktober naby die New Canada spoorwegstasie in die omgewing van Roodepoort deur 'n groenteverkoper gesien. Die vragmotor was leeg en een van die vensters was stukkend. Laat die middag het die groenteverkoper dit by die verkeerspolisie aangemeld en mnr. Govender, die eienaar van G G Transport, het dit dieselfde dag in ontvangs geneem.
Die twee appellante is saam met twee ander beskuldigdes in die Oranje-Vrystaatse Rondgaande Plaaslike Afdeling aangek-la van roof (met verswarende omstandighede) van die vragmotor en sy vrag, asook van moord op die twee oorledenes. Die hof a quo (Hattingh R en assessore) het die twee appellante (beskuldigdes 1 en 2 in die hof a quo) skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede soos aangekla. Daarbenewens is appellant no 1 skuldig bevind aan die moord op Msimango en appellant no 2 aan die moord op Jaxa. Die ander twee beskuldigdes is slegs aan roof

5

met verswarende omstandighede skuldig bevind. Geen versagtende omstandighede is bevind met betrekking tot die moordklagtes nie, en die twee appellante is op hierdie klagtes ter dood veroordeel. Op die roofklag is lang termyne van gevangenisstraf opgelê. Met verlof van die verhoorregter kom die twee appellante nou in hoër beroep teen hul skuldigbevindinge op die roofklag en teen elk se skuldigbevinding en vonnis weens moord.

Dit is duidelik dat die roof van die vragmotor en vrag, en die moord op die oorledenes, inderdaad plaasgevind het. Die enigste vraag in hierdie appèl is of die Staat bewys het dat die twee appellante vir hierdie misdade aanspreeklik is. Albei van hulle het ontken (soos ook hul mede-beskuldigdes) dat hulle enigiets met die saak te doen gehad het. Ek behandel dus eers die Staatsgetuienis wat hulle met die misdade verbind.

Eerstens was daar die getuienis van mnr. V Booyens. Mnr Booyens is die eienaar van 'n besigheid bekend as Progress Metals wat skrootmetale koop en verkoop. Hy het getuig dat beskuldigde 3 gedurende Junie 1987 by hom gekom het en navraag

6

gedoen het oor die pryse wat hy sou betaal vir verskillende skrootmetale, insluitende aluminium. Mnr Booyens het hom pryse gegee.
Op Dinsdag 6 Oktober 1987 gedurende die oggend het beskuldigde 3 weer by sy perseel opgedaag, hierdie keer vergesel van die eerste appellant. Hulle het in 'n grys Cressida motor gery. No 3 het vir Booyens gesê dat hulle by 'n aluminium fabriek werk waar hulle afvalstukke bymekaar maak, en hy het gevra hoeveel Booyens hulle daarvoor sou betaal. Booyens het 'n prys van R1,60 per kilo gekwoteer. Hulle het gesê hulle sou dit slegs na-ure kon bring, en Booyens het hulle sy huisadres gegee.
Vroeg die volgende oggend, tussen 2 en 2.30 v m, is Booyens wakker gemaak deur sy voordeurklokkie. Hy het opgestaan en die eerste appellant saam met beskuldigde 3 by die voordeur gevind. Beskuldigde 3 het gesê dat hy 'n trok met aluminium het, en dat hy daardie tyd van die nag gekom het omdat hy toe eers vervoer gekry het. Booyens het gou aangetrek, en toe hy buite

7

kom vind hy dat sy besoekers besig was om die vragmotor in sy perseel in te trek. Dit was egter te groot vir die hek, en 'n hekpaal is omgestamp. Booyens sien toe ook die tweede appellant en beskuldigde 4. Die Cressida, waarmee nos 1 en 3 vroeer die dag by hom gekom het, was ook daar. Booyens getuig dat hy nie die sleutels vir sy werkperseel by sy huis gehad het nie, en toe voorgestel het dat sy vier besoekers die res van die nag daar deurbring en dat hulle die volgende oggend die vrag by sy werkplek gaan aflaai., Beskuldigde 3 het egter gesê dat hulle nie die vragmotor kon los nie, want hulle het dit geleen en moes dit vroegoggend weer terug hê. Booyens het hulle toe gelei na 'n plasie wat aan hom behoort, en die aluminium is daar afgelaai. Beskuldigde 3 het hom 'n papiertjie gegee waarop daar "elf ton" geskryf was. Die afspraak was dat Booyens die aluminium die volgende dag sou verkoop en dat hulle dan hul geld kon kry. Almal het toe vertrek: die vier beskuldigdes met die Cressida en die vragmotor, en Booyens met sy eie motor.

Daardie selfde namiddag, tussen 5.30 en 6, het al vier

8

beskuldigdes by Booyens se huis opgedaag. Hy het vir hulle gesê dat daar 'n probleem met die gewig was, en dat dit slegs ongeveer vyf-en-'n-half ton beloop het. Hierdie syfer is aan Booyens verskaf deur die persoon aan wie hy op sy beurt die aluminium verkoop het. Die beskuldigdes het hierdie gewig aanvaar. Booyens het aan no 3 R2 000 gegee, wat die vier beskuldigdes daar tussen hulle verdeel het. Booyens het verduidelik dat dit nie die volle koopsom was nie en dat hulle die volgende dag moes terugkom vir die balans. Die totale bedrag verskuldig vir die vyf-en-'n-half ton was R9 200,00.

Die volgende dag (Donderdag 8 Oktober) ongeveer 10 nm het no 1 en 3 gekom om die geld te haal. Booyens het aan hulle R7 000 in R10 note gegee. Daar het dus toe nog R200 kortgeskiet. Booyens het hulle gevra om dit die volgende dag te kom haal. Ongeveer 5.30 n m op 9 Oktober het die eerste appellant hierdie geld kom haal. Beskuldigde 3 het in die Cressida bly sit want hy het siek gevoel. Booyens het hom daar gaan groet.

9

'n Paar weke later het Booyens gehoor dat die polisie navraag doen oor 'n vrag aluminium. Hy het die polisie gaan vertel wat gebeur het. Op 17 Oktober is hy na die kantore van die Brixtonse Moord- en Roofeenheid. By sy aankoms het hy die Cressida waarin die beskuldigdes na hom gekom het, daar sien staan. Hy is op na die kantore toe waar hy adjudant offisier Piater, die ondersoekbeampte, ontmoet het. Na 'n rukkie het hy
'n uitkenningsparade bygewoon waar hy die eerste drie beskuldigdes uitgeken het. Hy het ook 'n vierde persoon uitgeken, maar dit was nie beskuldigde 4 nie, hoewel no 4 wel op die parade teenwoordig was.

'n Mens sou naïef moet wees om Booyens se getuienis op gesigswaarde te aanvaar. Vier swart arbeiders kom in die middel van die nag om 'n vrag aluminium aan hom te verkoop. Die aluminium,volgens mnr Govender, was glad nie afvalstukke nie, maar was in 'n vorm waarin dit deur vervaardigers van vensters, toonbanke, ens. gebruik kon word. Selfs volgens Booyens se berekening, waarby ek later kom, was dit vir hom soveel werd as

10

R9 200. Toevallig het hy nie sy besigheid se sluitels by hom
nie, en hy laat die aluminium op 'n plasie weg van sy werkplek
aflaai. Onder kruisverhoor was hy baie onbevredigend oor watter
rekords hy van hierdie transaksie gehou het. Luitenant van Zyl,
wat behulpsaam was met die ondersoek van die saak, het spesifiek
by Booyens en by die persoon aan wie hy die aluminium sou verkoop
het, gesoek na inskrywihgs of dokumentasie wat die transaksie kon

staaf. Hy kon niks vind nie. In antwoord op 'n vraag van die
Hof het Booyens dan ook uiteindelik toegegee dat die geld wat hy
vir die aluminium ontvang het, "warm geld" was. Klaarblyklik
was die transaksie nie so onskuldig as wat hy wou voorgee niê.

Die hof a quo het die volgende bevindinge oor Booyens

se getuienis gemaak:

"Booyens se uitkenning van die beskuldigdes as synde die persone wat by hom besoek afgelê het en met wie hy onderhandelinge aangeknoop het wat uiteindelik gekulmineer het in die aankoop van die aluminium, asook die uitkenning van beskuldigdes 1,2 en 3 word aanvaar. Alhoewel Booyens huiwerig in die getuiebank voorgekom het toe hy ondervra is met betrekking tot die regmatigheid van die transaksie ten aansien van die aluminium, is die getuienis oor sy uitkenning van die

11

beskuldigdes aanvaarbaar. Hierdie hof aanvaar egter nie elke besondere feit wat hy verkondig het met betrekking tot die regmatigheid van die transaksie nie, maar is hierdie bevinding nie sodanig so dat dit die getuienis van hom wat die beskuldigdes met die misdaad verbind ongedaan maak nie."

En

"Die verdediging het beklemtoon dat Booyens as 'n enkelgetuie beskou moet word. Na deeglike oorweging van die betoë wat aan die hof voorgelê is en inaggenome die versigtigheidsreël wat relevant is by die beoordeling van 'n enkele getuie, herhaal ek weer eens dat die getuie Booyens se getuienis aanvaar word met die voorbehoud dat daar wel 'n vraagteken bestaan agter die getuienis ten aansien van die regmatigheid van die transaksie. In elke ander opsig was Booyens 'n bevredigende getuie en was die wyse waarop hy sy getuienis afgelê het heel aanvaarbaar."

Dit is nie vir my duidelik hoekom Booyens as 'n

enkelgetuie beskou is nie. Weliswaar was hy die enigste persoon
wat getuig het oor die transaksie tussen hom en die beskuldigdes,

maar dit was by verre na nie die enigste getuienis wat die

beskuldigdes se betrokkenheid by die misdaad bewys het nie, soos

ek later sal aandui. Om in so 'n geval van 'n versigtigheidsreel

te praat, het myns insiens nie veel betekenis nie. Die feit is

12

dat alle getuienis in strafsake met omsigtigheid behandel moet word. Die verhoorhof moet altyd bedag wees op die moontlikheid dat getuienis onwaar of onakkuraat mag wees en gebrek aan stawing (of gebrek aan betroubare stawing) is in hierdie verband altyd 'n faktor wat in ag geneem moet word. Alles hang egter van die omstandighede af.
Deur wat ek hierbo gesê het wil ek nie te kenne gee dat Booyens se getuienis te streng beoordeel was nie. Die teendeel is eerder waar. Uit sy eie getuienis blyk dit myns insiens dat hy die heler in hierdie transaksie was. Hy was dus 'n persoon wat, soos SCHREINER AR opgemerk het in die klassieke saak van R v. Ncanana 1948(4) SA 399 (A) op 405, goed toegerus was deur sy kennis van die misdaad om die hof te mislei oor wat presies gebeur het, en veral oor wie die persone is van wie hy die gesteelde goedere ontvang het. Daarbenewens was hy 'n onoortuigende getuie. Ek het reeds gewys op sy deursigtige pogings om hierdie transaksie onskuldig te laat voorkom. Ander aspekte was myns insiens ewe agterdogwekkend. Dit is moeilik om

13

te verstaan hoekom Booyens die beskuldigdes in paaiemente betaal
het vir die aluminium. Sy getuienis oor hoekom hy hulle nie die
volle bedrag op 7 Oktober betaal het nie, lui soos volg:

"Hoekom moet hulle more eers weer terugkom vir die res

van die geld? — Want ek wou nie al die geld vir hulle
daar gee nie.

Hoekom nie? -- Want ek was nie baie seker van die gewig

nie. Ek wou gehad het hulle moes terugkom. Ek wou
weer met hulle gesels het.
Hoekom? -- Oor besigheid.
Wat se besigheid? -- Oor skrootmetaal.
Maar u sit met die hele R10 000,00 in u sak en u gee
hulle net R2 000,00 terwyl hulle R9 000,00 moet kry,
R9 200,00. -- Dit is reg ja. Ek het van die geld

gebruik ook om te koop in my besigheid.

O u het van die geld al gebruik. U het nie meer die

volle bedrag gehad nie? -- Nee ek het nie al R10 00,00.
Hoeveel het u nog oorgehad? -- Seker omtrent R7 500,00.

Wat se besigheid wou u met hulle gesels het? Kan u

meer miskien meer breedvoerig daar, daar net

verduidelik? Hoekom wil u hê hulle moet nou weer

terugkom? -- Want dit is ...(tussenbei).

MNR. CLAASEN: Ek vra om verskoning. My vraag was net

u moet net vir my meer inligting oor hoekom u wil hê

hulle moet nou terugkom. Dit is nie vir my mooi

duidelik nie. -- Dit is die eerste keer, dit is die

eerste keer wat ek met hulle besigheid doen. Ek sou

graag weer met hulle besigheid wou doen."

Hierdie getuienis is onaanvaarbaar. Die beskuldigdes

sou skaars gretiger word om met Booyens besigheid te doen omdat

14

hy hulle laat wag vir hulle geld. En, gesien die aard van die transaksie, kan ek nie gio dat Booyens onnodige kontak met die beskuldigdes wou hê nie. Dit is moeilik om die atleiding te vermy dat Booyens minstens sommige van die beskuldigdes se besoeke versin het ten einde meer oortuigingskrag aan sy uitkenning van die beskuldigdes te verleen. Daar is in hierdie verband ook geen stawing in eerste appellant se werkskaart van die week eindigende 8 Oktober dat hy op 6 Oktober gedurende die dag by Booyens kon gewees het nie. Dan is daar Booyens se getuienis oor die berekening van die R9 200 wat hy aan die beskuldigdes sou betaal het, en van die R10 000 wat hy daarvoor ontvang het van die persoon aan wie hy die aluminium sou verkoop het. Sy syfers in hierdie verband klop eenvoudig nie. En sy aanvanklike getuienis dat hy net drie persone op die uitkenningsparade uitgewys het, was ook onwaar.

Daar is nog ander mindere punte van kritiek op Booyens se getuienis, maar ek hoef nie daarop in te gaan nie. Opsommend kan gesê word dat Booyens se uitkenning van die twee appellante

15

en beskuldigde 3 nie aanvaar kan word sonder ander bevredigende
getuienis wat op hulle aandadigheid dui nie.

Die belangrikste getuienis wat die appellante met die

misdaad verbind is dié van bekentenisse. Volgens die
Staatsgetuies het die eerste appellant die volgende bekentenis
voor 'n vrederegter, Luitenant van Wyk, gemaak:

"Op Dinsdag, laaste week (1987-10-06). Dit was so 10 uur - 11 uur in die aand. Dit was ek, Abednego, Mbulelo en David. Ons het met my kar, 'n silver-grey Toyota Cressida geloop. David het my kar bestuur. Vroeer dieselfde dag het David, Abednego en Mbulelo by my huis gekom in Natalspruit. Mbulelo het gesê hulle het die inligting van 'n trok wat aluminium vervoer en hulle wou die aluminium gaan vat by daardie trok. Mbulelo het gesê daai trok sal van Johannesburg af vertrek om ongeveer 6 nm., maar dat ons moet voorloop om die trok by Vereeniging voor te keer. Ons het ongeveer ten past five van my huis af geloop. Dieselfde dag toe hulle by my huis gekom het, het Mbulelo vir my gevra of ek nie iemand ken by wie ek 'n vuurwapen kan leen nie. Ek het toe 'n klein vuurwapen by Michael Sithole wie ek ken geleen. Abednego het ook 'n vuurwapen by hom gehad. Sy vuurwapen was 'n bietjie groter as die een wat ek gehad het.

Ons het die trok by Vereeniging gewag, maar die trok het nie gestop nie. Ons het toe die trok agtervolg. Die trok het ons weggery. Toe ons kry die trok staan langs die pad anderkant Frankfort aan die kant van Bloemfontein.

16

As ons daar kom die bestuurder en sy bemanning was uit by die trok. Ons het by die trok gegaan, ek en Abednego het die vuurwapens by ons hande gehad. Die bestuurder en sy bemanning het weggehardloop van die trok. Toe Abednego het die bestuurder geskiet met sy vuurwapen. Ek het die bemanning gejaag. Ek het een skoot op hom geskiet en hy het geval. Mbulelo was agter my toe die man val en hy het na die man gegaan. Ek het gehoor dat David die trok gestart het, toe hardloop ek na die trok om die Cressida se sleutels by David te gaan kry.
Ek het toe na die Cressida gegaan en die kar gestart. Mbulelo het by my in die kar kom ry en David en Abednego het by die trok gery. Ons was voor met die Cressida en die trok het agter ons gevolg.Ek het nie die bestuurder en die bemanning weer gesien nie. Die trok het ons verby by Parys en ons het hulle gevolg tot in Mayfair by 'n sekere huis waar David afgeklim het en met 'n blanke man uitgekom. Die blanke man het gesê ons moet hom volg. Hy het met sy eie kar gery. David het weer met die trok gery en ek met die Cressida. Ons het die blanke man gevolg tot by Pretoria by die plase waar die blanke man gesê het ons moet alles aflaai by die trok.
Die blanke man het gesê ons moet more terugkom vir die geld. Hy het gesê hy wil eers die aluminium by die scale sit en dan sal hy ons soos by die scale betaal. Dan ons het geloop. David het weer met die trok gery. Ons het die trok iewers by Soweto gelos en ons het toe almal in my Cressida na Natalspruit gery waar ek vir hulle afgelaai het en huis toe gegaan het. David-hulle het weer op Woensdag gekom en ons het weer na Mayfair gery na die witman. Die blanke man het ons R2 000,00 (Tweeduisend) gegee. Dan hy sê hy is nog nie klaar om die aluminium te weeg nie.

17

Ek het vergeet om te sê dat nadat ek vir David-hulle
die vorige aand afgelaai het, het ek die vuurwapen
teruggevat na Michael Sithole. Hy het gesê hy soek
R100,00 vir die leen yan die vuurwapen. Ek het hom
gebetaal.
Donderdag (1987-10-08) ons het weer by die witman se
huis in Mayfair gegaan toe kon ons hom nie kry nie.
Ons is toe gevang op Donderdag by die aand.
Ons het elkeen R500,00 van die geld gekry.
Dit is al wat ek wil praat."
Die tweede appellant, so word beweer, het die volgende

bekentenis voor 'n vrederegter, luitenant Smith, gemaak.

"Ongeveer twee weke gelede het Golomani na my huis in

Natalspruit.gekom en gesê dat daar 'n trok is wat gelaai

is met aluminium wat Kaapstad toe gaan. Hy het gesê

dat ons die trok moet keer en die aluminium moet roof.
Ek het gesê dat ons nie vuurwapens en messe het om die

trok te roof nie.

Golomani het toe vir my 'n vuurwapen gegee. Laasweek
ek dink dit was Woensdag (87/10/07) het ek en my neef
Goodman, David en Mbulelo met Goodman se kar, 'n
Cressida gery.
Ons het die trok met aluminium ingewag by Alberton en

gevolg tot anderkant Parys.

Die trok het op die Kroonstad-pad gestop om die seile

vas te maak. Ons het agter die trok gestop,
uitgespring en na die bestuurder van die trok

gehardloop.

Die swart bestuurder het weggehardloop. Ek het geskree

dat hy moet stop. Ek het die bestuurder een skoot

geskiet. Hy het geval. Ek het hom daar gelos, hy het

nog gelewe. Hy het gesê ons mag hom nie doodmaak nie.

18

Die passasier in die trok was deur my neef Goodman uit die trok getrek en doodgeskiet. David het die trok bestuur en Goodman het sy eie kar bestuur. Ons het na Mayfair, Johannesburg gery en die aluminium aan 'n
witman by 'n scrapyard verkoop. Hy het gesê dat ons die geld die volgende dag moet kom haal. Ons het saam met die witman gery met die snelweg na Pretoria. Naby Halfweghuis op 'n plaas het ons die aluminium afgelaai. Die witman het met 'n wit Datsun 1400 bakkie gery. Ons het die trok toe in Soweto gaan los.
Die witman bly in Mayfair, maar die scrapyard is in Alexandra. Die witman wat die aluminium gekoop het, het ons R2 000,00 betaal. Hy moes die ander geld later betaal. Ons was arresteer voordat ons die ander geld gekry het. Ek het R500,00 gekry. Elkeen het R500,00 gekry. Ons het vir die witman gesê dat ons die trok geroof het. . Golomani was nie saam nie. Hy het net vir ons inligting gegee hoe die trok sou ry."

Die appellante het beweer dat hulle gedurende ondervraging gemartel was en dat hierdie verklarings inderdaad deur die polisie opgestel is. Hierdie geskilpunte is gedurende 'n verhoor-binne-'n-verhoor besleg. Die getuienis was kortliks soos volg. Geriefshalwe bespreek ek eers die appellante se getuienis aangesien dit hulle was wat die positiewe bewerings van marteling gemaak het, hoewel die bewyslas natuurlik op die Staat gerus het.

Die eerste appellant het getuig dat hy vroeg die

19

Donderdagoggend 15 Oktober 1987 in hegtenis geneem is. Hy is na die kantoor van die Brixtonse Moord- en Roofafdeling geneem. Op Vrydag 16 Oktober omtrent 12 nm. is hy van die selle gehaal. Hy is geneem na 'n kantoor waar die aanwesige polisiebeamptes hom beveel het om te sê wat hy gedoen het in verband met die mense wat in Kroonstad doodgemaak is. Die eerste appellant het gesê dat hy niks daarvan weet nie, en nie vir die polisie enigiets wou sê nie, maar dat hy voor 'n landdros sou praat. Hy is toe gedwing om sy klere uit te trek, en hy is geslaan. Hy is aan 'n stoel vasgebind en gemartel deur die toediening van elektriese skokke. Hy is toe weer aangesê om te verduidelik wat gebeur het. Die polisie het egter aan hom voorgesê wat dan volgens hulle sou gebeur het, en, om verdere marteling te vermy, het die appellant alles erken wat hulle gesê het. Hy het egter self die naam Michael Sithole, wat in die verklaring voorkom, genoem, omdat hy geweet het dat hierdie persoon 'n vuurwapen gehad het. Hierna is hy teruggeneem na die selle toe.

Saterdagoggend is hy weer na dieselfde kantoor geneem.

20

Die polisiebeamptes het hom uitgevra omtrent die geld wat die beskuldigdes vir die aluminium gekry het. Hy wou niks erken nie, en is weer in die stoel geplaas en geskok. Daarna het die polisiemanne, soos die vorige dag, vir hom voorgesê wat volgens hulle die ware feite van die saak was, en hy het weer alles erken. Hy is toe weer teruggeneem na die selle. Daarvandaan is hy na die uitkenningsparade geneem. Na die uitkenningsparade het van Zyl gesê dat die appellant moet gaan om dokumente te teken. Hy is toe na luitenant. van Wyk se kantoor geneem, waar van Wyk en 'n tolk vir hom gestamp en geslaan het en verplig het om 'n
dokument te teken. Dit was vermoedelik die bekentenis. Die dokument is nooit eers aan hom voorgelees nie. Daarna is hy na die selle teruggeneem.

Die tweede appellant se getuienis het basies dieselfde patroon gevolg. Volgens hom is hy omtrent twaalfuur die Vrydag uit die selle geneem na 'n kantoor wat ooreenstem met die beskrywing wat no 1 gegee het. Daar is hy gemartel totdat hy ingestem het met bewerings wat die polisie gemaak het. In sy

21

geval sê hy verder dat die vuurwapen, bew. 12, in die kantoor was, en dat die polisie-beamptes beweer het dat hy dit gebruik het vir die moord. Nadat hy alles erken het is hy na die selle teruggeneem. Die volgende oggend voor die uitkenningsparade is hy weer na die kantoor geneem, waar dieselfde prosedure deurgegaan is. Hierdie keer was die vuurwapen egter nie daar nie. Daarna is die uitkenningsparade gehou. Na die uitkenningsparade is hy na Mondeor polisiekantoor geneem saam met beskuldigde 4. Op pad soontoe het luitenant van Zyl aan hom gesê dat as hy ontken wat aan hom voorgelees gaan word by Mondeor, hy weer geskok sou word. By Mondeor is no 2 na luitenant Smith se kantoor geneem. Luitenant Smith het reeds die voltooide bekentenis in sy besit gehad. Dit is aan die appellant voorgelees en getolk, en hy is aangesê om dit te teken. Hy kan nie skryf nie, en het toe sy vingerafdruk daarop geplaas. Daarna is hy teruggeneem na Brixton.

Namens die Staat is daar in die verhoor-binne-'n-verhoor al die persone as getuies geroep wat betrokke was by die

22

ondervraging van die appellante en die aflê van die bekentenisse, en hulle het deurgaans ontken dat daar enige dwang op die appellante toegepas was. Daarbenewens het die betrokke vrederegters en hul tolke getuig dat die bekentenisse op 'n behoorlike wyse afgeneem is.
Die hof het na die verhoor-binne-h-verhoor die Staat se weergawe bo redelike twyfel aanvaar en die bekentenisse as getuienis toegelaat.
Op appèl het mnr Claasen, wat namens die appellante verskyn het, toegegee dat die appellante se getuienis dat die bekentenisse reeds uitgeskryf was toe hulle by die vrederegters gekom het, onwaar was. Desnieteenstaande het hy betoog dat daar 'n redelike twyfel moet wees oor die vraag of die bekentenisse vrywillig was. Hy het gewys op sekere teenstrydighede tussen die getuienis van speurder sersant Letloenyane en diê van ander beamptes. Eersgenoemde het egter van die begin af getuig dat sy herinnering van die gebeure nie baie goed was nie, en myns insiens beteken die weersprekinge nie veel nie. Oor die

23

wesentlike aspekte van die Staatsaak stem hy saam met die ander
getuies. Een moontlike uitsondering bestaan miskien met
betrekking tot die vuurwapen, bew. 12. Aanvanklik het hierdie
getuie gesê die vuurwapen was die Vrydag aanwesig toe die tweede
appellant ondervra was. Terselfdertyd getuig hy dat hy saam was

toe die tweede appellant die betrokke wapen later die aand vir
die polisie by Natalspruit gaan uitwys het. Toe hy op hierdie

teenstrydigheid gewys word in kruisverhoor, verloop die getuienis

soos volg:

"Nou wil ek jou op 'n teenstrydigheid net wys om in billikheid 'n verklaring daarvoor te probeer gee.. Wanneer was hierdie wapen aan beskuldigde 2 gewys by die ondervraging? -- Ek kan nie onthou nie. Sien hy ontken daardie uitwysing van Saterdagaand en nou sê u vir ons by sy ondervraging tienuur al was daardie wapen al daar gewees, nege-uur. -- Toe hy die wapen uithaal was ek teenwoordig en dit was net na nege-uur die aand.

Nou hoe kon u hom gehad het voor die tyd met die ondervraging? -- Soos ek alreeds gesê ek kan nie meer alles onthou nie.

HOF: Maar was die wapen nou daar gewees toe nommer 2 ondervra is, ja of nee? -- Ek kan nie onthou nie."

Geen gewig kan myns insiens aan die getuienis omtrent

24

die aanwesigheid van die vuurwapen geheg wdrd nie.
Dan het mnr Claasen probeer aantoon dat die ondervraging van die beskuldigdes nie ná die uitkenningsparade kon plaasgevind het, soos deur die polisiegetuies beweer word nie, maar dat dit voor die tyd moes gebeur het, soos die beskuldigdes getuig het. Ter aanvang moet ek sê dat dit onwaarskynlik klink dat die polisieamptenare hieroor sou gelieg het. Of dit voor of ná die uitkenningsparade geskied het lyk nie juis belangrik nie - trouens dit lyk eerder onwaarskynlik dat, as die polisie die beskuldigdes wou martel, hulle dit sou doen onmiddellik voor die beskuldigdes se verskyning by 'n uitkenningsparade, waar enige beserings, letsels, ens., aan 'n hele aantal persone blootgestel sou word. Maar in elk geval berus hierdie argument op 'n ontleding van die tyd wat in beslag geneem sou word deur alles wat, volgens die Staatsgetuies, ná die uitkenningsparade plaasgevind het. Hierdie tydperke berus grotendeels op herinnerings en skattings, en waar tye aangeteken was kan 'n mens nie aanvaar dat die betrokke persone se horlosles

25

noodwendig almal tot die sekonde akkuraat was nie. Met die nodige toegewings vir klein onakkuraathede in bogemelde opsigte was daar wel voldoende tyd vir al die gebeure waaroor die Staatsgetuies getuig het.
Daar was ook ander kleinere punte van kritiek op die Staatsgetuies. Ek het hulle almal versigtig oorweeg, maar myns insiens is daar geen rede om af te wyk van die hof se bevindings oor die Staatsgetuies se geloofwaardigheid nie.
Ten opsigte van die appellante se getuienis het die hof a quo verskillende punte van kritiek geopper. Ten eerste wys die hof daarop dat dit moeilik aanvaar kan word dat die inligting in die bekentenisse van die polisie sou gekom het, gesien die inhoud en trant van die verklarings. Soos reeds gemeld, word hierdie punt van kritiek deur die appellante se advokaat toegegee, altans tot die mate dat aanvaar word dat die verklarings nie uitgeskryf was voordat die appellante by die vrederegters was nie. Dan wys die hof a quo op die afwesigheid van stawing vir die beskuldigdes se beweerde beserings, die identiese patroon wat die vier

26

beskuldigdes se getuienis gevorm het (wat gedui het op samespanning); en die onwaarskynlikheid dat die marteling op die Saterdag herhaal sou word as die beskuldigdes reeds op Vrydag alles geredelik toegegee het. Hoewel daar dus verskillende redes vir die verwerping van die getuienis van die beskuldigdes (insluitende die appellante) was, meen ek dis billik om te sê dat die vernaamste rede die onaanvaarbaarheid was van hul getuienis dat die polisie aan hulle voorgesê het wat gebeur het, en, wat daarmee gepaard gaan, hul getuienis dat die bekentenisse mero motu deur die polisie uitgeskryf was. Die hof was geregtig om hierdie faktore in ag te neem. Sien S. v. Lebone 1965(2) SA 837 (A) op bl. 842 A-C; S. v. Talane 1986(3) SA 196 (A) op bl. 205 E tot 206 C; en S. v. de Vries 1989(1) SA 228 (A) op bl. 230 H. Die appellante word dus deur die getuienis van Booyens en hul eie bekentenisse met die misdaad verbind. In die gevai van die tweede appellant is daar verdere getuienis wat sy aandadigheid toon. Volgens polisiegetuienis is die tweede appellant saam met beskuldigde no 4 in 'n huis in die plakkerskamp

27

Natalspruit gearresteer om 1.30 vm. op 16 Oktober 1987. Die huis is deursoek, maar niks is gevind nie. Daardie selfde aand omtrent 10.30 nm. is die tweede appellant teruggeneem na die huis. In 'n laai het die tweede appellant die 7,65 mm pistool bew. 12 te voorskyn gehaal. Forensiese toetse het aangetoon dat hierdie die pistool was waaruit die doppie gekom het wat op die toneel van die misdaad gevind was.
Voordat ek tot 'n oorweging van die appellante se getuienis oorgaan, is daar 'n paar verdere faktore in die Staat se guns wat genoem moet word. Dit is duidelik dat die twee appellante deur Booyens by die uitkenningsparade uitgewys is. En, volgens die Staat, het die appellante bekentenisse afgelê, en het die tweede appellant die vuurwapen bew. 12 aan die polisie oorhandig. Daar word nie beweer dat Booyens die beskuldigdes op enige ander manier leer ken het as deur die transaksie waaroor hy getuig het nie. As daardie transaksie nie plaasgevind het nie, soos die appellante getuig, was daar geen manier waarop Booyens kon geweet het dat dit die beskuldigdes was wat van die

28

oortredings verdink word nie, tensy, natuurlik, daar bewuste samespanning tussen hom en die polisie was. Dieselfde geld vir Booyens se beskrywing en uitkenning van die grys Cressida voertuig wat, volgens hom, deur die verkopers van die aluminium gebruik was. Inderdaad stem dit ooreen met no 1 se voertuig. Dit lyk minstens onwaarskynlik dat die polisie met Booyens sou saamspan om so 'n totaal gefabriseerde weergawe, met selfs 'n bedrieglike uitkenningsparade, aan die hof voor te lê.
En dan, ten slotte, is daar 'n verdere punt wat minder gewig dra maar ook nie geïgnoreer kan word nie. Die vier beskuldigdes was almal aan mekaar verwant. Die persoon Golomani, na wie in die tweede appellant se verklaring verwys word, was vroeër die derde beskuldigde se swaer, en het ten tyde van die misdaad vir Mnr Govender gewerk as 'n vragmotorbestuurder. Hy sou inderdaad vir die beskuldigdes kon inlig omtrent die vertrek van 'n vrag aluminium na Kaapstad, hoewel hy in getuienis, nadat hy deur die Hof geroep was, ontken het dat hy dit gedoen het. Daarbenewens het no 3 en, volgens Golomani, sommige van die ander

29

beskuldigdes ook, vir Jaxa, die oorlede bestuurder van die
vragmotor, geken. Dit was dus moontlik vir die beskuldigdes om
kennis omtrent die rit te bekom en vroegtydig met Mnr Booyens
reëlings te tref vir die verkoop van die vrag aluminium.

Dit bring my by die twee appellante se getuienis. Die

appellante ontken enige verbintenis met die misdaad, en beweer
dat hulle op die betrokke aand tuis was. Eerste appellant word
gestaaf deur sy vrou Vivian. Daarbenewens het die tweede
appellant ontken dat hy die vuurwapen bew 12 aan die polisie
uitgewys het. Die hof a quo het die volgende bevinding oor die
beskuldigdes se getuienis gemaak:

"Die eenparige bevinding waartoe hierdie hof geraak het is dat die beskuldigdes en hulle getuies se weergawes nie geloofwaardig is nie en dat hulle blote ipse dixit weinig oortuigingskrag verleen ter onderskraging van die alibi-verweer. Elkeen van die beskuldigdes het onindrukwekkend in die getuiebank vertoon en laat ek op hierdie oomblik buite rekening die bevinding waartoe hierdie hof reeds gekom het met betrekking tot die geloofwaardigheid van die beskuldigdes toe hulle getuig het in die verhoor binne 'n verhoor.

Daar is ook geen oortuigingskrag in hulle weergawes van wat hulle die betrokke aand toe die misdade gepleeg is gedoen het nie. Dit berus hoofsaaklik op vae

30

bespiegelings en spekulasie en word dit as vals verwerp."

Geen oortuigende rede is aan ons voorgelê om van hierdie gevolgtrekking te verskil nie.
Uit die voorgaande blyk dit dat die hof myns insiens geregtig was om die Staatsgetuienis wat die appellante met die misdaad verbind, te aanvaar, en die appellante se getuienis te verwerp. Dit volg dus dat die appèl teen die skuldigbevindinge van die hand gewys moet word.
Dit bring my dan by die appèl teen die bevinding dat daar geen versagtende omstandighede was nie. Ter aanvang het Mnr Claasen betoog dat die bewyslas om die afwesigheid van versagtende omstandighede te bewys, op die Staat behoort te berus in 'n geval soos die huidige, waar die beskuldigdes op 'n alibi staatmaak. De lege ferenda mag daar baie te sê wees vir hierdie standpunt, maar geen steun word daarvoor gevind in ons huidige regspraak nie. Sien S. v. Theron 1984(2) SA 868 (A) en S. v. Mc Bride 1988(4) SA 10 (A) op bl 20 B. Daar is dus myns insiens

31

geen rede om af te wyk van die hof a quo se bevinding dat die
bewyslas op die appellante gerus het nie.

Die hof a quo het 'n deeglike uitspraak gelewer oor die

kwessie van versagtende omstandighede en daar was, afgesien van
die kwessie van bewyslas, wat ek reeds genoem het, nie betoog dat
die verhoorhof enige mistasting of onreelmatigheid begaan het
nie. Hierdie hof kan dus slegs in beperkte omstandighede ingryp
wat as volg gestel is in S. v. Mc Bride, supra, op bl 19 A-C:

"... the decision as to the existence or otherwise of extenuating circumstances is, in the first instance, essentially one for the trial Court; and in the absence of any misdirection or irregularity this Court will not interfere on appeal with the trial Court's finding as to the non-existence of extenuating circumstances unless that finding is one to which no reasonable Court could have come. This Court cannot substitute its view on the question of extenuating circumstances merely because it disagrees with the view of the trial Court. Nor, in the absence of good grounds for interference with the finding of the trial Court, does this Court express any view as to whether the trial Court could or should have found extenuating circumstances."
In die onderhawige geval is die moorde gepleeg deur

volwasse mans in die loop van 'n beplande rooftog. Daar kan myns

32

insiens skaars betoog word dat geen redelike hof tot die bevinding kan kom dat daar geen versagtende omstandighede was nie, en inderdaad is geen sodanige betoog aan ons voorgedra nie. Die appèl teen die bevinding dat daar geen versagtende omstandighede was nie, kan dus ook nie slaag nie.
Bygevolg word die appèlle teen die skuldigbevindinge en teen die bevinding dat daar geen versagtende omstandighede was nie, van die hand gewys.

E M GROSSKOPF, AR

FRIEDMAN,Wr. AR Stem GOLDSTONE, Wr. AR saam