SAFLII [Home] [Databases] [WorldLII] [Search] [Feedback]

South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1989 >> [1989] ZASCA 77

[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]


S v Matsho (499/1988) [1989] ZASCA 77 (1 June 1989)

PDF of original document.PDF of original document

.RTF of original document


LL Saak No 499/1988

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APèLAFDELING

In die saak tussen:

STRIKE MATSHO Appellant
en
DIE STAAT Respondent

CORAM: BOTHA, E.M. GROSSKOPF ARR et

NICHOLAS Wn AR
VERHOORDATUM: 15 MEI 1989
LEWERINGSDATUM: 1 JUNIE 1989

UITSPRAAK

BOTHA AR:-

2.

Die appellant het in die Rondgaande Hof op Springs voor DE KLERK R en twee assessore tereggestaan op twee aanklagte van moord, een aanklag van roof met verswarende omstandighede, 'n aanklag van onwettige besit van 'n vuurwapen en 'n aanklag van onwettige besit van ammunisie. Hy is op al die aanklagte skuldig bevind. Ten aansien van die skuldigbevindings aan moord (aanklagte 1 en 2) het die Verhoorhof bevind dat daar geen versagtende omstandighede aanwesig was nie en gevolglik is op elkeen van dié aanklagte die appellant die doodvonnis opgelê. Vir die roof (aanklag 3) is die appellant gevonnis tot 18 jaar gevangenisstraf. Vir die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie (aanklagte 4 en 5), wat saam geneem is vir die doeleindes van vonnis, is die appellant gevonnis tot 3 jaar gevangenisstraf.

Die Verhoorregter het aan die appellant verlof toegestaan om na hierdie Hof te appelleer teen die bevinding aangaande die afwesigheid van versagtende
3. omstandighede en die doodvonnisse opgelê op aanklagte 1 en 2. Verlof is ook toegestaan, op bloot tegniese gronde, met betrekking tot die vonnis opgelê op die saamgenome aanklagte 4 en 5.
Die feite waarop die twee skuldigbevindings aan moord berus het, kan kortliks saamgevat word soos volg. Op 11 September 1987 het die appellant saam met ene Mahlazi in 'n huurmotor ingeklim. Die voertuig is in die getuienis genoem 'n "kombi"; ek sal aldus daarna verwys. Daar was ander passassiers in die kombi. Een van hulle was ene Mankanye. Hy was 'n man wat betrokke was by die insameling van geld wat verwed is in die dobbelspel bekend as "fahfee". Op die betrokke dag was hy juis in besit van 'n sak geld wat hy ingesamel het. Die appellant en Mahlazi het dit geweet. Die doel waarmee hulle in die kombi geklim het, was om Mankanye van die geld te beroof. Hulle het die roof vooraf beplan. Mankanye het op die agterste sitplek van die kombi gesit. Terwyl die

4.

kombi voortgery het, het die appellant die bestuurder
daarvan gevra om stil te hou, aangesien hy wou afklim.
Nadat die kombi tot stilstand gekom het, is die

skuifdeur daarvan oopgemaak en die appellant en Mahlazi
het uitgeklim. Op daardie stadium was daar 11 mense
wat in die kombi bly sit het. Die appellant het
buite die deur van die kombi gestaan, ongeveer 'n halwe
meter van die naaste mense in die voertuig. Die
appellant het 'n groot rewolwer op die mense in die
kombi gerig en een skoot afgevuur. Twee van die

insittendes is getref: die afgevuurde koeël het deur
die boonste deel van die liggaam van die eerste persoon
getrek en die tweede persoon in die kop getref.
Altwee die persone het gesterf. Nadat die skoot

afgevuur is, het die appellant geëis dat die geld (van
Mankanye) aan hom oorhandig word. Dit is gedoen.
Die appellant het die bestuurder beveel om weg te ry,
wat hy gedoen het. Later het die appellant en Mahlazi

die gebuite geld, wat net meer as R1 000 was, onder
5. mekaar verdeel.
In die Hof a quo is daar op twee omstandig-hede gesteun as versagtend. Die eerste is dat die appellant verklaar het dat hy werkloos was en dat hy geld wou bekom om klere vir sy kind te koop en om homself te onderhou. Die tweede is dat die Verhoorhof se skuldigbevindings berus het op die opsetvorm dolus eventualis aan die kant van die appellant. Die Verhoorhof het bevind dat geeneen van hierdie omstan-dighede as versagtend aangemerk kan word nie.
In die betoog voor hierdie Hof is daar gepoog namens die appellant om aan te toon dat die Verhoorhof in sy benadering tot die vraag na versagtende omstan-dighede misgetas het, in verskeie opsigte.
Daar is betoog dat die appellant se werkloos-heid, armoede en gebrek aan lewensmiddele wel 'n versag-tende omstandigheid daargestel het. Die betoog berus egter op veronderstellings wat nie gestaaf word deur die appellant se eie getuienis nie. Die appellant het

6.

nie beweer dat hy in armoede verkeer het, of dat hy in
'n toestand van nood verkeer het in verband met die
voorsiening van kos of klere om sy kind en homself aan
te lewe te hou nie. Die Verhoorregter het in sy uit-

spraak oor versagtende omstandighede tereg opgemerk dat
werkloosheid sonder meer nie die morele laakbaarheid
van 'n moord kan verminder nie. Hier was daar geen
mistasting nie.

Daar is betoog dat die Verhoorhof die

uitwerking van die bevinding van dolus eventualis
verkeerd aangeslaan het, veral vanweë die appellant se
getuienis dat hy die rewolwer slegs vir die doeleindes
van afskrikking wou gebruik het, en dat hy dit heen en
weer geswaai het ten tyde van die afvuur van die skoot.
Met verwysing na die feite, soos hierbo kortliks

opgesom, was die Verhoorhof se benadering soos volg:

"Uit hierdie feite kan dit nie redelik moont-lik waar wees dat die beskuldigde nie die dood van iemand as 'n baie sterk moontlikheid

voorsien het nie Die risiko van iemand

se dood was baie groot gewees onder daardie
7.

omstandighede, feitlik 'n sekerheid. Wanneer hierdie amperse sekerheid gesien word teen die agtergrond van die feit dat die beskuld-igde deelgeneem het aan 'n rooftog wat vooraf beplan was, kom dit my voor asof daar nie gesê kan word dat daar versagtende omstandig-
hede in hierdie geval is nie Dit kom
my voor asof hier 'n doelbewuste en totale
minagting van die risiko van die dood van
iemand was "

Met hierdie beskouing van die feite van die geval kan
daar geen fout gevind word nie.

Daar is aangevoer dat die Verhoorhof ge-

fouteer het deur op grond van getuienis wat Mankanye in
dié verband afgelê het, te bevind dat die appellant en
Mahlazi 'n week voor die voorval, op 5 September 1987,
alreeds 'n rit in 'n kombi-huurmotor saam met Mankanye
af gelê het as voorbereiding vir, en deel van die
beplanning van, die gebeure op 11 September 1987.
Hierdie betoog het niks om die lyf nie. In die
uitspraakvop die skuldigbevindings het die Verhoorhof

bevind dat dit waarskynlik is dat die voorafgaande rit
wel plaasgevind het, en uit 'n bestudering van Mankanye

8.

se getuienis is my indruk dat sodanige bevinding as 'n
waarskynlikheid wel geregverdig was. Hoe dit ook al

sy, dit blyk uit die Verhoorregter se uitspraak oor
versagtende omstandighede dat die genoemde feit nie in
daardie stadium deur die Verhoorhof in berekening
gebring is nie. In 'n gedeelte van die uitspraak wat
die uittreksel daaruit wat ek hierbo aangehaal het,
voorafgegaan het, en ter inleiding daartoe, het die
Verhoorregter die volgende kwalifiserende woorde
gebruik:

" as daar nie eers gekyk word na enige

voorafgaande gebeurtenisse nie "

Die verwysing na

"'n rooftog wat vooraf beplan was",

in die hierbo-aangehaalde passasie, verwys dus slegs na
die beplanning op die dag van die voorval self. In
ieder geval kan dit, wat betref die trefkrag van h
bevinding van dolus eventualis in die samehang van
versagtende omstandighede, geen verskil maak of die

9.

rooftog 'n week vantevore of 'n paar uur vantevore beplan

is nie.

Daar is ook aangevoer dat die Verhoorhof nie

uiting gegee het aan die appellant se getuienis dat hy
die rewolwer van Mahlazi eers in die kombi ontvang het
nie. Hierdie punt het ook niks om die lyf nie.
Mankanye se getuienis was dat die appellant 'n bruin
papiersak in sy hand gehad het toe hy in die kombi
ingeklim het, en die vuurwapen was in daardie
papiersak. In ieder geval het die Verhoorhof by die
oorweging van versagtende omstandighede ten gunste van
die appellant die moontlikheid aanvaar dat Mahlazi eers
in die kombi die rewolwer aan die appellant oorhandig
het, want, met verwysing na die beplanning van die
rooftog, het die Verhoorregter in die uitspraak oor
versagtende omstandighede die volgende veronderstelling
uitgespreek:

"... selfs al was dit op daardie stadium
beplan gewees dat sy medepligtige die vuurwapen sou hanteer."

10.

Daar is verder betoog dat die dood van die tweede persoon op 'n ander grondslag beskou moet word as die dood van die eerste persoon wat getref is. Ek stem nie saam nie. Vanweë die volslae roekeloosheid waarmee die appellant op die klompie mense vlak voor hom geskiet het, kan dit geen verskil maak wie eerste of wie tweede getref is, of dat twee mense noodlottig verwond is nie.
Ten slotte is daar betoog dat die Verhoorhof nie die kumulatiewe effek van die appellant se werk-loosheid en dolus eventualis oorweeg het nie. Ek kan dit nie aanvaar nie. Die Verhoorregter het nie uitdruklik na die kumulatiewe effek van die twee omstandighede verwys nie, maar volgens die manier waarop die saak in die Hof a quo beredeneer is, en in ieder geval, is dit ondenkbaar dat die Verhoorhof so 'n aksiomatiese vereiste sou verontagsaam het.
Die appèl ten opsigte van aanklagte 1 en 2 is dus sonder verdienste en moet misluk.

11.

Wat betref die vonnis van 3 jaar gevangenis-straf op aanklagte 4 en 5, saam geneem, is dit in die betoë voor hierdie Hof aanvaar dat die vonnis verander behoort te word, omdat dit die maksimum-vonnis vir één van die oortredings oorskry. Daar is aan die hand ge-doen dat afsonderlike vonnisse op die twee aanklagte opgelê behoort te word, naamlik 18 maande gevangenis-straf op aanklag 4 en 6 maande op aanklag 5, beide om saam te loop met die vonnis op aanklag 3. Ek is bereid om hierdie voorstel te aanvaar.

Die bevel van die Hof is soos volg:
1 .Die appèl teen die bevinding dat
daar geen versagtende omstandighede
was ten opsigte van die skuldig-
bevindings aan moord op aanklagte 1
en 2 nie, en teen die doodvánnisse
wat op aanklagte 1 en 2 opgelê is,
word van die hand gewys.
2. Die vonnis van 3 jaar gevangenis-
12.
straf wat opgelê is op aanklagte 4
en 5 word gewysig om soos volg te

lui:

"Op aanklag 4 word 'n vonnis opgelê van 18 maande gevange-nisstraf, en op aanklag 5 word 'n vonnis opgelê van 6 maande gevangenisstraf, beide van welke vonnisse sal saamloop met die vonnis van 18 jaar gevangenisstraf wat opgelê is op aanklag 3."

A.S. BOTHA AR

E.M. GROSSKOPF AR

STEM SAAM NICHOLAS Wn AR


SAFLII: | Terms of Use | Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1989/77.html