SAFLII [Home] [Databases] [WorldLII] [Search] [Feedback]

South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1989 >> [1989] ZASCA 70

[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]


S v Mahara (543/88) [1989] ZASCA 70 (29 May 1989)

PDF of original document.PDF of original document

.RTF of original document


CG SAAKNOMMER: 543/88

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèL AFDELING)

In die saak tussen:
ALOUISE LEBOHANG MAHARA Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: HOEXTER, HEFER, et STEYN, ARR. VERHOOR: 18 MEI 1989 GELEWER: 29 MEI 1989

UITSPRAAK STEYN, AR.

2

Hierdie is 'n appèl met verlof van die verhoorhof teen die bevinding dat daar geen versagtende omstandighede was by die moord waaraan appellant skuldig bevind is nie en ook teen die daaropvolgende doodvonnis.
Appellant, 'n 32-jarige swartman, het as beskuldigde no 1 en Alfred Mesani, 'n 64-jarige swartman, het as beskuldigde no 2 tereggestaan in die rondgaande hof te Virginia voor Regter Hattingh en assessore. Daar was twee aanklagtes; die eerste van aanranding met die opset om ernstig te beseer en die tweede, van moord. Die eerste aanklag het betrekking net op appellant en het gelui dat hy op die aand van 7 Februarie 1987 op die plaas Mooibloem in die distrik van Theunissen vir Vincent Maklomekhulu (die oorledene) aangerand het met die opset om hom ernstig te beseer deur hom te klap, te skop en met 'n mes verskeie steekwonde toe te dien. Op die tweede aanklag, dié van moord, is albei beskuldigdes dit ten laste gelê dat hulle op die nag van 7 tot 8 Februarie

3

1987 op voormele plaas vir die oorledene vermoor het. Dit is bevind dat die oorledene keelaf gesny was.
Beskuldigde no 2 is onskuldig bevind en ontslaan. Appellant is op albei aanklagtes skuldig bevind. Dit is gevind dat daar geen versagtende omstandighede was nie en hy is gevolglik ter dood veroordeel op die moordklag.
Die beserings aan oorledene is beskryf deur Dr J J Venter, distriksgeneesheer van Theunissen, wat die lykskouing op 11 Februarie 1987 op die oorledene uitgevoer het. Dit is soos volg: Daar was twee steekwonde op die linker-skouerspier (deltoid), 'n diep steekwond van 4 cm diep op die linkerkant van die nek en vierdens 'n snywond 10 cm lank aan die regterkant van die nek wat o.a. die hoofslagaar, die slukderm en die asempyp deursny het. Die oorledene is dood as 'n gevolg van skok en bloeding. Hy het in werklikheid hom dood gebloei.

Die getuienis wat deur die hof aanvaar is, het
4

aangetoon dat op die aand van Saterdag, 7 Februarie, die oorledene gekuier het by die vader van appellant, ene Augustinus Mahara. Hulle het buitekant die huis gesit en gesels toe appellant ook daar opgedaag het. Hy het die oorledene aangespreek met die woorde "man, wat soek jy hier?" Die oorledene het geantwoord "Ek kuier by jou pa". Appellant het daarop vir die oorledene te lyf gegaan deur hom met die hand te slaan; of hy hom geklap het of met die vuis geslaan het, kon die vader nie mooi sien nie weens swak gesig en ook swak lig. Daarna het appellant die oorledene met 'n mes aangeval en hom minsténs twee keer gesteek. Die vader het toe vir hulle albei gesê om hulle uit die voete te maak en hy het gesien dat die beskuldigde die oorledene gepak het en weg gesleep het na die oorledene se huis. Wat daarna gebeur het, is te vinde in die getuienis van 'n swart ondérwyseres wat jare lank reeds skool gehou het op daardie plaas. Haar naam is Jemina Molete. Sy het soos

5

volg getuig. Die oorledene was 'n skaapwagter op die plaas en haar buurman. Ongeveer kwart voor 9 op die aand van Saterdag, 7 Februarie, het sy die oorledene na haar om hulp hoor roep. Sy het by haar huis uitgegaan en gevind dat appellant besig was om die oorledene met die vuis te slaan aan.die bokant van sy lyf. Die oorledene het geskree. Appellant het in die loop van die aanranding aan die oorledene gesê "ek gaan jou slaan, ek sal jou doodmaak". Jemina het tussenbeide getree en vir appellant gesê hy moet die oorledene laat staan, die oorledene is 'n ou man. Appellant het gehoor gegee. Die oorledene het gestap na sy huis en appellant het weggegaan in die rigting van sy huis. Hy het toe weer teruggekom, hy het daar gebuk, lig gemaak met 'n
vuurhoutjie en na iets gesoek. Jemina Molete sien toe bloed waar hy kort te vore die oorledene aangerand het. Dit was voor die oorledene se huis gewees. Toe hy so gesoek het in die vuurhoutj ielig het

6

appellant iets opgetel maar sy kon nie sien wat dit was nie. Daarna het hy geloop na die deur van die oorledene se huis. Dit was toe gewees. Hy het aan die deur gestamp met sy hande. Hy wou klaarblyklik die deur oopforseer. Die deur was egter gesluit gewees. Die oorledene was reeds binne in die die huis. Jemina het vir appellant gemaan en gesê hy moet die oorledene los want die oorledene het nou reeds weggehardloop. Appellant het toe geantwoord dat hy die oorledene wou doodmaak. Maar weens die vermaning het hy toe na sy huis gegaan. Daarna het Jemina in oorledene se huis ingegaan en hom gaan verpleeg.

Sy het gemerk dat hy beserings aan die linker skouer gehad het wat gebloei het, en daar was ook 'n

besering onder sy regter arm by sy ribbes wat vir haar sleg gelyk het. Sy het die wonde verbind met dele van oorledehe se hemp wat sy stukkend geskeur het om as verbande te gebruik. Sy het toe vir die oorledene gesê

7

om homself toe te maak en het uitgegaan.
Sy het toe gegaan na appellant se huis. Sy het hom na buite geroep. Hy het uitgekom en voor haar kom staan. Sy het hom gevra waaroor hy met die oorledene baklei het. Hy het toe vir haar gesê dat Vincent, dit is die oorledene, hom onderskat en ook gesê dat hy die potte oopgemaak het om kos te kry. (Wat daardeur bedoel was, was dat Vincent na appellant se huis gegaan het en die potte daar oopgemaak het en kos uitgehaal het.) Hy het net daardie twee redes gegee vir die aanranding op die oorledene. Terwyl sy nog met hom gepraat het, het die appellant egter gesê dat hy die oorledene nou gaan klaarmaak, hy gaan hom doodmaak, en toe omgedraai en geloop. Jemina het hom geroep en hy het teruggekom. Sy het hom klaarblyklik weer vermaan en hy het toe in sy ouerhuis ingegaan. Nadat appellant dit gedoen het, het sy terúggegaan na haar huis. Appellant was volgens haar nie onder die invloed van drank nie en sy het geen drank

8

aan hom geruik nie ten spyte van die feit dat hulle baie naby aan mekaar aangesig tot aangesig gestaan en praat het.
Blykbaar omdat sy ontsteld was deur die gebeure het Jemina nie daardie aand in haar huis geslaap nie. Sy het haar huis gesluit, na die plaasbewoner, 'n sekere Mnr van Rooyen, gegaan, die voorval aan hom gaan rapporteer nl. dat oorledene met 'n mes gesteek was, en toe op 'n naburige plaas gaan slaap.
Die volgende oggend om ongeveer 7 uur het sy teruggegaan na haar huis toe. Op pad moes sy by die oorledene se huis verby gaan.
Terwyl sy by oorledene se huis verby geloop het merk sy dat die deur van sy huis oopgebreek is. Dit is 'n houtdeur. Daar was twee ysterstawe in die deur ingedruk en die "eerste plank" van die deur was uit gewees.

Sy het toe omgedraai en weer by Mnr van Rooyen gaan rapporteer. Hulle twee is met sy motor na

9

Augustinus toe en Mnr van Rooyen het aan hom opdrag gegee om die oorledene te gaan roep. Hy het gegaan, by die huis ingegaan en Mnr van Rooyen geroep. Die oorledene was klaarblykiik gevind binne in die huis, en die polisie is toe ontbied.
Die polisiegetuienis is dat die oorledene op sy maag gelê het, nakend met sy klere langs hom en dat die hele kamer in 'n chaotiese toestand was. Daar was kaarblyklik 'n stoeiery of geveg binne in die die plek voordat die oorledene dood is.
Appellant het erken in sy getuienis dat hy wel vir die oorledene by sy vader se huis gesteek het met 'n mes. Sy weergawe was egter dat hy daar aangeval was deur die oorledene en dat hy slegs in noodweer opgetree het, dat hy toe van sy vader se huis reguit na sy huis is waar hy gaan kosmaak en slaap het en dat hy die volgende oggend vroeg weg is na 'n betrekking wat aan hom gebied

10

is op 'n ander plaas by name Stilte. Hy het Jemina Molete se getuienis ontken en het ontken dat hy enigiets weet van die wyse waarop die oorledene dood is.

Beskuldigde no 2 het egter met 'n heel ander storie na vore gekom.
Hy het getuig dat hy, nadat hy van diens af gekom het daardie Saterdag, na 'n naburige plaas gegaan het waar hy oudergewoonte saam met kennisse gesit en drink het. Hy het tot laatnag daar gebly en het so tussen 1 en 2 uur Sondagoggend huiswaarts teruggekeer. Op pad terug het hy vir die appellant raakgeloop wat in die teenoorgestelde rigting aangekom het. Appellant het daardie Saterdag glad nie gewerk nie. En dit was toe die eerste keer dat hy hom gesien het.
Appellant het omgedraai en toe saam met hom teruggeloop na die plaas waarop hulle albei woonagtig was. Op pad en terwyl hulle so geloop het, het appellant aan hom gesê dat hy gedurende die dag met die oorledene

11

baklei het en hom in die loop daarvan met 'n mes gesteek het en dat hulle daarna gekeer is.
Beskuldigde no 2 het toe gemeen, volgens hy van die appellant verstaan het, dat die moeilikheid nou op 'n einde was omdat iemand hulle gekeer het.
Op die plaas aangekom wou beskuldigde no 2 eers by die oorledene aangaan om te gaan sien hoe dit met hom gesteld is. Appellant het saamgeloop en aan die oorledene se deur geklop. Oorledene het van binne af gevra wie is dit en appellant het geantwoord dat dit hy is. Die oorledene het toe die deur oopgemaak. Beskuldigde no 2 is eerste die deur in gevolg deur appellant. Oorledene het nog sy klere aangehad. Hy het 'n broek en 'n hemp aangehad.

Toe hulle ingekom het, het die appellant aan die oorledene gesê "ek het nou gekom". Die oorledene het toe soos volg geantwoord:

"Ag mán, hierdie ding was ons voor gekeer in
12

die dag, gedurende die dag. Ek dog dit is klaar."

Appellant het egter met 'n harde, rasende stem vir
beskuldigde no 2 beveel om die oorledene te vang.
Beskuldigde no 2 het oor sy skouer teruggekyk na
appellant en gemerk dat hy 'n mes in sy hand gehad het.
Omdat hy bang was dat hy deur appellant gesteek sou word,
het hy toe vir die oorledene van agter aan albei arms
vasgegryp.
Appellant was steeds agter beskuldigde no 2. Hy het, soos beskuldigde no 2 dit stel, effens agter sy linker skouer te voorskyn gekom en die oorledene keelaf gesny. Die oorledene het inmekaar gesak. Beskuldigde no 2 het toe uitgehardloop en gevlug.
Die appellant en beskuldigde no 2 het daardie nag albei vertrek van die plaas af. Beskuldigde no 2 omdat hy bang was vir wat gebeur het. Hy het nog 'n buurvrou van hom gevra om na sy varke en hoenders om te

13

sien.
Appellant en beskuldigde no 2 het 'n end langs die pad geloop en toe gaan rus. Omdat beskuldigde no 2 nog nie geslaap het nie, het hy toe daar langs die pad aan die siaap geraak. Toe hy wakker word was appellant skoonveld.
In die loop van die saak het die Staat sonder beswaar aan die kant van die verdediging 'n sogenaamde "waarskuwingsverklaring" ingehandig as bewysstuk E.

In hierdie verklaring het appellant in hoofsaak

die strekking van sy getuienis herhaal. In die laaste
paragraaf, no 14, het hy egter die volgende gesê:

"Terwyl ek vas aan die slaap was, het ek wakker geword, ek was van plan om te loop, toe het swartman Mkhoma opgedaag en 'n rapport aan my gemaak dat hy oorledene doódgemaak het."

Dit was blykbaar beskuldigde no 2 waarna

appellant hier verwys het.

Die hof het die staatsgetuienis aanvaar,
16

vernaamlik dié van Jemina Molete, wat 'n baie goeie indruk op die hof gemaak het. Die getuienis van beskuldigde no 2 oor hoe die oorledene gedood is, is blykbaar ook deur die hof aanvaar. Maar weens die algehele aanvaarding van Jemina Molete se weergawe kon die hof nie beskuldigde no 2 se getuienis aanvaar het dat hy en appellant toegang tot oorledene se woning verkry het op die wyse deur hom beweer nie. Die deur van oorledene se woning is volgens Jemina oopgebreek, klaarblyklik met ysterstawe. Dit is algeheel onwaarskynlik dat dit kon gebeur het nadat die oorledene reeds vermoor was. Die deur word van binne met 'n grendel gesluit. Iemand wat sou uitgaan nadat die oorledene gedood was sou dit nie van buite kon gesluit het nie. Selfs indien so iemand die deur van binne sou gesluit het en dan deur 'n venster sou uitgegaan het (waarvan daar geen suggestie is nie), bly die vraag: wie dan later die deur sou wou oopbreek en waarom? Die aanduidings is sterk dat beskuldigde no 2

15

saamgedoen het met die oopbreek van die deur want twee yster draadpale is deur Jemina Molete by die deur gevind. Beskuldigde no 2 se bewering dat die deur nog heel was toe "ons ... dit agtergelaat (het)" is na my mening derhalwe heel onaanvaarbaar en so ook sy beskrywing van wat gebeur het toe hy en appellant by die oorledene se huis ingegaan het. Hy kon nie verklaar hoekom die lyk nakend gevind is nie. Volgens hom was die oorledene, soos reeds genoem, nog geklee toe hy keelaf gesny is. Dit is algeheel onwaarskynlik dat iemand hom daarna sou ontklee het en toe sy klere net so daar gelaat het. Die oorledene was klaarblyklik nakend toe hy vermoor is. Die feit dat daar bloed aan sekere van sy kledingstukke was is nie vreemd nie want daar was baie bloed waar die lyk gelê het en die klere het langs dit gelê. Beskuldigde no 2 se bewering dat hy geen bloed aan die oorledene opgemerk het nie is ewe onaanvaarbaar. Die bloed moes gespuit het toe die oorledene se hoof nekslagaar afgesny

16

is. Omdat die hof egter gevind het dat dit redelik moontlik is dat beskuldigde no 2 onder dwang opgetree het soos deur hom beweer is hy onskuldig bevind en ontslaan. Die vryspraak van beskuldigde no 2 dui daarop dat die sterrekonjunktuur uiters gunstig vir hom moes gewees het tydens die verhoor. Die getuienis van appellant is egter verwerp en hy is skuldig bevind soos reeds voorheen vermeld. Dit is bevind dat appellant inderdaad vir die oorledene met die direkte opset om te moor gedood het.
Appellant het nie ter versagting getuig nie, en geen ander getuienis daaroor voorgelê nie.
Augustinus Mahara, wat 'n staatsgêtuie was, het egter op die meriete getuig dat appellant om ongeveer 19h00 daardie aand onder die invloed van drank was toe hy by hom en oorledene opgedaag het. Die rede wat hy vir daardie mening gegee het is die volgende: "Hy was gedrink gewees, want sy gewoonte is as ek hom keer met iets en hy is gedrink, dan luister hy nie vir my nie."

17

Maar hy het ook getuig dat hy nie met appellant kon klaarkom nie en dat hulle elke dag baklei het omdat appellant "stout" is. Augustinus het voorts getuig dat appellant later die nag om ongeveer 04h00 weer by hom ingekom het en dat hy toe nog steeds onder die invloed van drank was want hy het hard gepraat soos 'n beskonkene.
Appellant het tydens sy getuienis op die meriete egter ontken dat hy daardie Saterdagaand en nag onder die invloed van drank was en het trouens gesê dat hy die hele dag niks te drinke gehad het nie. Beskuldigde no 2 het ook getuig dat appellant normaal was en gêen tekens van drank-inname getoon het toe hulle mekaar gedurende die nag langs die pad raakgeloop het nie. Hierby moet die reedsvermelde getuienis van Jemina Molete oor appellant se toestand vroeër die nag ook in aanmerking kom.

Appellant het voorts op die meriete getuig dat oorledene 'n soort van "Sotho Dokter" was wat oor

18

toorkragte beskik het. Hy het hom egter nie gevrees nie. Die moeilikheid tussen hom en die oorledene het ontstaan as gevolg vah 'n toormiddel wat oorledene aan hom gegee het teen betaling van R30,00 om hom met 'n dobbelspel te help. Dié middel was 'n kort stukkie hout. Dit was egter nie effektief nie. Appellant het R35,00 op die dobbelspel verloor. Toe hy dié Saterdagaand vir oorledene by sy vader aantref wou appellant hê dat hy die stokkie moes "regmaak". Oorledene wou meer geld hê om dit te doen. Appellant het geen geld meer gehad en kon dit nie doen nie. Toe slaan oorledene hom en hy het ter self-verdediging teruggeveg. Die grootste deel van hierdie "toor-verhaal" is deur die verhoorhof aanvaar, maar dié deel daarvan wat betrekking het op wat by die vader se huis gebeur het, slegs gedeeltelik. Daaroor het Hattingh, R., die volgende gesê in die uitspraak op die meriete:

"Die hof aanvaar wel op sy getuienis dat hy 'n
19

onderonsie met die oorledene gehad het by die huis van sy vader. Dit word egter nie aanvaar dat hy in noodweer opgetree het tydens daardie voorval nie, en word sy vader se getuienis in hierdie verband aanvaar."

(D.w.s. dat appellant toe die aanvaller was.) Die vader
se getuienis dat appellant om 04h00 daardie nag weer by
hom was, is egter nie aanvaar nie.
Die verhoorhof het bevind dat daar geen versagtende omstandighede was nie.
Ten gunste van appellant het die hof aanvaar dat hy wel daardie aand sterk drank ingehad het. (In die lig van die bovermelde getuienis was dit 'n baie tegemoetkomende houding.) Die hof het ook aanvaar dat appellant vroeër dié aand 'n woordewisseling met oorledene gehad het weens sy moontlike gegriefdheid oor die oneffektiewe toormiddel en die geldelike verlies wat hy daardeur gely het. Die hof het egter bevind dat geeneen van hierdie twee faktore, wat al was waarop namens appellant gesteun was, enige versagtende inwerking op sy

20

gemoed gehad het nie. Die hof het na my mening geensins met daardie bevindings enige fout begaan nie, en Mnr Heymans, wat die appél namens appellant beredeneer het, het dit toegegee. Die drank-aspek spreek vir sigself. Wat die beweerde gegriefdheid betref, noem appellant dit nie aan Jemina Molete nie toe sy hom pertinent gevra het waarom hy met die oorledene baklei het. Hy het reeds die oorledene vroeer die aand ernstig beseer. Geen verdere provokasie het daarna van oorledene se kant gekom nie maar appellant breek nogtans by hom in en vermoor hom op uiters wreedaardige wyse. Moreel gesproke was daar op die getuienis geen verskoning daarvoor nie. Appellant het nie kom sê dat enige oorblywende sterk gegriefdheid hom daartoe beweeg het nie, en die getuienis dui geensins daarop dat dit waarskynlik die geval was nie. Die appél word afgewys.

M T STEYN, AR. HOEXTER, AR.) HEFER, AR.)


SAFLII: | Terms of Use | Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1989/70.html