SAFLII [Home] [Databases] [WorldLII] [Search] [Feedback]

South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1989 >> [1989] ZASCA 57

[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]


S v Mohane and Another (88/1988) [1989] ZASCA 57 (22 May 1989)

PDF of original document.PDF of original document

.RTF of original document


LL Saak No 88/1988

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING

Insake die appèl van:

JOHNNY ABRAHAM MOHANE Eerste Appellant
en
ALMOND NOFEMELA Tweede Appellant

teen

DIE STAAT Respondent

CORAM: VAN HEERDEN, VIVIER et KUMLEBEN ARR
VERHOORDATUM: 3 MEI 1989 LEWERINGSDATUM: 22 MEI 1989

UITSPRAAK VAN HEERDEN AR:

2.

Omstreeks 4 nm op 11 September 1986 is wyle J.H. Lourens net buite sy plaashuis in die distrik van Brits vermoor. Hy is vyf steekwonde toegedien, drie waarvan hom in die nek getref het. Kort daarna is sy lyk aangetref en het dit toe ook geblyk dat die geweldenaar of geweldenaars kaste in die huis deursoek het. Laaie was oopgetrek en van die inhoud daarvan op die vloer gegooi. Niks is egter vermis nie.
Voortspruitende uit hierdie gebeurde het die appellante in die Transvaalse Provinsiale Afdeling tereggestaan op o a 'n aanklag van moord op die oorledene. Beide is op hierdie aanklag skuldig bevind en by ontstentenis aan 'n bevinding dat versagtende omstandighede aanwesig was, is hulle ter dood veroordeel. Met die nodige verlof is die onderhawige appèl slegs teen die skuldigbevindings gerig.

Gerieflikheidshalwe gee ek eers die weergawes van die beskuldigdes weer. Beide getuig dat hulle op die betrokke dag 'n lokval vir ene Lawrence wou stel.
3. Die tweede appellant was 'n polisieman en wou vir Lawrence betrap dat hy dagga verkoop. Omdat hy aan Lawrence bekend was, is gereël dat die eerste appellant dagga met 'n R2 noot sou koop waarna die tweede appellant vir Lawrence sou arresteer. Met dié doel voor oë het hulle vanaf Skeerpoort in die rigting van die huis van Klaas Bongomo geloop. Daardie huis was naby dié van die oorledene geleë en blykbaar het die tweede appellant vir die eerste appellant gesê, aldus, hul weergawes, dat hy Lawrence aldaar sou aantref.

Vanaf die tydstip dat hulle Klaas se huis genader het, verskil die appellante se getuienis hemelsbreed. Die eerste appellant sê dat hulle saam na Klaas se huis gegaan het, dat daar niemand was nie, en dat hulle toe na die oorledene se huis geloop het. Aldaar het die oorledene na hulle aangehardloop gekom en met die tweede appellant geraas. Die eerste appellant kon nie hoor wat hulle sê nie. Die oorledene en die tweede appellant het mekaar vasgegryp
4. en daar het bloed by eersgenoemde se sy uitgevloei. Die eerste appellant sien toe dat die tweede appellant
'n mes in sy hand het. Hy het die tweede appellant probeer keer waarop laasgenoemde hom op sy pols gesteek het. Hy het die tweede appellant gevra: "wat maak jy?". Die enigste reaksie was dat hy moes stilbly. Die eerste appellant het omgedraai om te vlug maar die tweede appellant het gesê dat hy moes terugkom. Die oorledene het toe reeds op die grond gelê en die tweede appellant het 'n vuurwapen by hom gehad. Hierna het die eerste appellant vir die tweede appellant probeer wys dat laasgenoemde hom verwond het, maar die reaksie was weer eens slegs dat hy moes stilbly. Die tweede appellant het toe 'n deur van die huis oopgeskop en vir die eerste appellant gesê dat hy moes ingaan. Dit het laasgenoemde gedoen,.gevolg deur die tweede appellant. In die huis het die eerste appellant se hand baie gebloei en het hy in pyn verkeer. Die tweede

appellant het 'n hangkas in die kamer geskop, klere wat

I
5. in die kas gehang het aan die brand gesteek en 'n kers wat in die kamer gebrand het op 'n bed gegooi. Hulle is toe daar weg.
Die tweede appellant ontken dat hy na Klaas se huis gegaan het. Hy sê dat hy by 'n plek langs 'n
rivier sit en wag het terwyl die eerste appellant na Klaas se huis gestap het. Na 20 minute het die eerste appellant teruggehardloop gekom uit die rigting van die oorledene se huis. Daar was bloed aan sy hand en hy het gesê dat dit deur 'n draad beseer was. Gevra hoekom hy so lank weg was, het hy gesê dat Lawrence nie by Klaas se huis was nie en dat hy toe gaan kyk het of hy mense kon vind by wie hy navraag na Lawrence kon doen. Hoewel die tweede appellant suspisieus was, het hy nie vir die eerste appellant verder uitgevra nie, Hulle het toe teruggekeer "huistoe". Later die middag het hy geparkeerde voertuie by die oorledene se huis opgemerk. Hy is na die huis waar hy die lyk van die oorledene gesien het. Hy het na die spore in die

i

omgewing van die lyk gekyk en homself vergewis dat dié nie spore van die eerste appellant was nie. Hy was toe tevrede dat die eerste appellant nie by die moord betrokke was nie en daarom het hy nie die eerste appellant se vroeere suspisieuse optrede aan die polisie gerapporteer nie.
Na sy inhegtenisneming het die tweede appellant aanvanklik ontken dat hy enigiets van die moord geweet het. Hy het egter later in 'n verklaring aan luit Viljoen van deuntjie verander. Hy het toe gesê dat hy "kak gemaak het voor die Here" en dat die Here hom sou straf. Daarna het hy vertel dat hy en die eerste appellant die betrokke middag op pad na Lawrence by die oorledene se huis verby geloop het. Die oorledene het opgestaan, geskreeu "julle bloody kaffers, wat soek julle op my plaas", en op hulle afgestorm. Die eerste appellant het 'n mes uitgehaal en die oorledene verskeie steekwonde toegedien. Die tweede appellant het die mes by die eerste appellant


7. afgeneem en in die proses vir laasgenoemde op sy linkerpols verwond. Hierna is die eerste appellant die huis in, gevolg deur die tweede appellant. In die huis het die eerste appellant goed aan die brand gesteek waarna hulle weggehardloop het. Gevolglik het hulle nooit by Lawrence uitgekom nie.
Toe Viljoen getuig het, is namens die tweede appellant die volgende aan hom gestel: Viljoen het voordat die verklaring gemaak is aan die tweede appellant gesê dat die eerste appellant hom impliseer en toe voorgestel dat die tweede appellant op sy beurt, die blaam op die eerste appellant moes plaas "sodat hy uit die ding kon uitkom". Viljoen het dit ontken en gesê dat hy 'n bandopname van sy gesprek met die eerste appellant gemaak het. Laasgenoémde se advokaat het toe om 'n verdaging gevra en later gesê dat hy instruksies verkry het om nie verdere vrae aangaande die gesprek aan Viljoen te stel nie.

Toe hy getuig het, het die tweede appellant
8.

nie gepoog om bogenoemde stelling te fundeer nie. Hy

het ook nie Viljoen se weergawe van die gesprek ontken nie. Maar, het hy gesê, wat hy aan Viljoen vertel het, was nie die waarheid nie. Sy verduideliking was soos volg: Viljoen het vir hom gesê dat hy die waarheid moes vertel. Hierna was hy in 'n kantoor waarin daar baie Swart polisiemanne was. Hulle het vir hom gesê dat die eerste appellant beweer dat hy die oorledene doodgemaak het, en het aan die hand gedoen dat hy op sy beurt die skuld op die eerste appellant moes plaas. Daarna het hy valslik vir Viljoen vertel dat hy teenwoordig was toe die eerste appellant die oorledene met 'n mes gesteek het.

Viljoen het ook getuig dat hy 'n verdere bandopname gemaak het van 'n gesprek tussen die appellante nadat hulle gearresteer was. Twee getuies het na die bandopname geluister en transkripsies daarvan gemaak. Ene Mbatha het eerste getuig en gesê dat die gesprek in Zulu gevoer was. Sy weergawe van h

9.

vertaalde snit van die gesprek lui soos volg (die
tweede appellant is aan die woord):

"Ai, weet jy wat meen ek? (onduidelik
baie saggies) Maar jy weet die ding
wat my worry, ek, ek het 'n mens doodgemaak."

Nadat Mbatha getuig het, het die hof gelas

dat die hoftolk ook 'n transkripsie van die gesprek moes
maak. Hy het die tweede appellant se woorde soos volg
vertaal:

"Ai! Jy weet wat, eich - maar die ding wat my worry is ek het 'n mens doodgemaak."

Die tweede appellant het nie ontken dat hy en die eerste appellant die gesprek gehad het of dat hy melding van die doodmaak van 'n mens gemaak het nie. Maar, het hy gesê, die aangehaalde gedeeltes van die transkripsies gee nie sy woorde getrou weer nie. Wat hy wel gesê het, was dat dit hom gepla het dat mense sê dat hy 'n persoon doodgemaak het.

Die verhoorhof het bevind dat albei appellante leuenagtige getuies was. Hul getuienis dat
10.
die tweede appellant 'n lokval vir Lawrence wou stel, is
verwerp, en so ook die tweede appellant se verduide-
liking waarom hy 'n valse verklaring aan Viljoen sou
gemaak het. Wat die transkripsies betref, is bevind
dat die aangehaalde gedeeltes daarvan stawing gebied.
het vir die eerste appellant se getuienis dat die
tweede appellant die primêre geweldenaar was. Die hof
se uiteindelike konklusie was dat die oorledene in die
loop van 'n voorgenome roof tog gedood is en dat die
eerste appellant beseer is omdat hy die oorledene
vasgehou het terwyl die tweede appellant hom met 'n mes
gesteek het. Gevolglik het hulle gesamentlik diê
oorledene se dood veroorsaak.
Hierdie bevindings is op appèl aangeveg maar daar steek weinig pit in die desbetreffende betoë. Die tweede appellant was verbonde aan die veiligheidstak van die Suid-Afrikaanse Polisie en was destyds met verlof. Dit was nie deel van sy pligte om daggahandelaars aan te keer of te probeer betrap nie en

11 .

dit is dus onaanneemlik dat hy skielik sou besluit het
om 'n lokval vir Lawrence te stel. (Die getuienis toon
bowendien aan dat Klaas geen kennis van 'n persoon met
die naam van Lawrence gehad het nie.) Die tweede
appellant het egter gepoog om die beweerde lokval met
sy pligte te verbind. Hy sê naamlik dat hy van sy
broer gehoor het dat sekere persone die betrokke dag
vir Lawrence vuurwapens sou wys wat nie in Suid-Afrika
bekombaar is nie. Die uiteindelike doel van die
lokval was dus om nadat Lawrence vir handeldryf in
dagga gearresteer was verdere ondersoek na die

vuurwapens te doen.

Betreffende hierdie verduideliking hoef slegs

op die volgende gewys te word. Op geen stadium voor
die verhoor, en spesifiek nie aan Viljoen nie, is enige
melding van vuurwapens gemaak nie. Vir hierdie
versuim kon die tweede appellant nie 'n aanneemlike
verduideliking verskaf nie. Tweedens is dit

onaanvaarbaar dat die tweede appellant terwyl hy met


12. verlof was die hulp van 'n privaat persoon sou inroep in verband met 'n ondersoek na wapens wat volgens sy aangevoerde inligting waarskynlik van terroristiese oorsprong was. 'n Mens sou juis verwag het dat hy die inligting onmiddellik aan sy bevelvoerder sou oorgedra het. Derdens is dit onaanvaarbaar dat hy by die rivier sou sit en wag het terwyl die eerste appellant na Klaas se huis geloop het. Volgens die tweede appellant was Lawrence nie by Klaas se huis woonagtig nie en hy moes dus voorsien het dat teen die tyd dat die eerste appellant na die rivier teruggekeer het, Lawrence homself reeds uit die voete kon gemaak het.
Wat betref die verklaring wat die tweede appellant aan Viljoen gemaak het, is daar geen fout te vind met die verhoorhof se verwerping van die tweede appellant se bogenoemde verduideliking nie. Daar is geen twyfel nie - trouens, die tweede appellant het dit erken - dat hy aan sy advokaat gesê het dat Viljoen hom oorreed het om die blaam op die eerste appellant te

13.

plaas. Eers nadat dit geblyk het dat 'n bandopname van
die gesprek gemaak is, het hy beweer dat die voorstel
van onbekende Swart polisiemane afkomstig was. Sy
enigste verduideliking vir hierdie frontverandering was
dat hy nie mooi kon onthou wat gebeur het nie.
Dit val in elk geval nie in te sien waarom, ten einde die eerste appellant te betrek, die tweede appellant homself op die toneel sou wou plaas nie. Die weergawe wat hy in die hof gegee het, sou immers ook die vinger na die eerste appellant laat wys het.
Betreffende die gesprek tussen die appellante waarvan 'n bandopname gemaak is, het die tweede appellant se advokaat tereg daarop gewys dat hy tydens die gesprek op 'n hele aantal geleenthede te kenne gegee het dat hy "fokol" geweet het en dat hy nie iets kon beken waarvan hy geen kennis gedra het nie. Hierdie gesprek moet egter vertolk word in die lig van die feit dat die tweede appellant teenoor Viljoen erken het dat hy wel teenwoordig was toe die oorledene gesteek is en
14. dat hy dit nie sou gedoen het indien hy inderdaad nie daar was nie. Hy het dus geweet wat gebeur het en die passasies waarop sy advokaat gesteun het, is gevolglik
slegs vereenselwigbaar met 'n verkondigde voorneme om 'n
verweer te opper dat hy niks van die voorval geweet het nie.
Ek kom dan by die uittreksel waaraan die verhoorhof gewig geheg het. Nou is dit waar dat volgens Mbatha die tweede appellant wel iets onhoorbaar sag gesê het alvorens hy erken het dat hy 'n mens doodgemaak het. Die hoftolk het egter getuig dat daar niks gesê was tussen "Ai! Jy weet wat, eich" en "maar die ding wat my worry is ek het 'n mens doodgemaak". Maar al het Mbatha dit reg gehad, is die transkripsies net nie te rym nie met die tweede appellant se weergawe van wat hy wel gesê het. Onthou sal word dat volgens hom hy gesê het: "Wat my pla, is dat hulle sê dat ek 'n

persoon doodgemaak het". Beide Mbatha en die hoftolk was dit egter eens dat direk nadat die tweede appellant
15. verwys het na dit wat hom gepla het, hy gesê het dat hy
'n mens doodgemaak het. Die bandopname was ongetwyfeld tot die beskikking van die tweede appellant en dit is dan ook insiggewend dat hy nooit aangevoer het dat dit by 'n terugspeel van die bandopname blyk dat hy tussen die sinsnedes "maar die ding wat my worry" en "ek het 'n
mens doodgemaak" nog iets onhoorbaars gesê het nie.

Hoewel die verhoorhof tereg bevind het dat die eerste appellant ongeloofwaardige verontskuldigende getuienis gegee het, hoef sy getuienis dat die tweede appellant die oorledene die steekwonde toegedien het nie summier verwerp te word nie. Dit moet beoordeel word in die lig van die feit dat die tweede appellant 'n
valse verduideliking gegee het waarom hy die betrokke

middag op of naby die oorledene se plaas was; dat hy

in die verhoorhof valslik ontken het dat hy teenwoordig

was toe die oorledene aangeval is, en dat sy meermaal

genoemde erkenning dat hy 'n mens doodgemaak het slegs

op die oorledene betrekking kon gehad het. Gevolglik

16.

is daar geen fout te vind nie met die verhoorhof se bevinding dat dit die tweede appellant was wat die oorledene die meswonde toegedien het. En aangesien die geweldenaar ongetwyfeld moes beoog het om die oorledene te dood, is die tweede appellant tereg op die moordklag skuldig bevind.
Ek kom by die appèl van die eerste appellant. In sy geval is daar verdere getuienis wat daarop dui dat hy na die oorledene se plaas gegaan het met die oogmerk om te steel. Ene Makosi getuig naamlik dat hy die oggend van die dag waarop die oorledene vermoor is verby 'n motorhawe op Skeerpoort gery het. Die eerste appellant, 'n vriend van hom, het hom gestop en gesê dat hy met hom wou praat. Hy het toe voorgestel dat "ons" geld moes gaan haal op die plaas van Lawrence. Makosi het onmiddellik gesnap dat die eerste appellant gedoel het op die plaas waarop die oorledene (Lourens) en sy broer gewoon het. Makosi het egter gesê dat hy 'n afspraak op Brits moes nakom.
17. Op daardie stadium het die tweede appellant naby die motor gestaan maar Makosi was nie seker of hy gehoor het wat die eerste appellant gesê het nie.
Die eerste appellant het dié weergawe betwis en ontken dat hy Makosi die betrokke oggend gesien het. Hy het hom wel 'n paar dae latër ontmoet en toe vertel van die "ongeluk" wat plaasgevind het, dat hy huis toe wou gaan en dat daar 'n persoon was (klaarblyklik die tweede appellant) wat hom gekeer het. Uit sy verdere getuienis is dit duidelik dat, volgens hom, hy vir Makosi vertel het dat die tweede appellant die oorledene met 'n mes gesteek het.

Die verhoorhof het bevind dat Makosi 'n indrukwekkende getuie was en het sy getuienis aanvaar.
Op appèl is hierdie bevinding aangevjeg omdat Makosi ook

getuig het dat hy die aand van die dag waarop hy met

die eerste appellant gepraat het, gearresteer is terwyl

dit eers ongeveer 'n week na die dood van die oorledene

gebeur het. Hierdie betoog is gegrond op die getuienis

18.

van adjudant-offisier Mentz dat hy vir Makosi op 22 September 1986 ontmoet het en Makosi se getuienis dat hy na sy arrestasie vir ongeveer twee dae aangehou was, terwyl die oorledene op 11 September vermoor is. Mentz het egter na Makosi getuig en die oënskynlike

teenstrydigheid wat uit sy getuienils en dié van Makosi

blyk, is dus nooit aan laasgenoemde gestel nie. Hoe dit ook al sy, Mentz se getuienis toon hoogstens aan dat Makosi in die war was aangaande die datum waarop hy gearresteer is. Indien dit die eerste appellant se saak was dat die gesprek waaroor Makosi getuig wel plaasgevind het, maar op 'n ander dag, sou die verwarring moontlik van betekenis gewees het, maar hy ontken nou juis dat daar ooit so 'n gesprek was. Makosi se getuienis word bowendien gestaaf deur die tweede appellant wat bevestig dat Makosi en die eerste appellant die betrokke oggend by die vulstasie op Skeerpoort met mekaar gepraat het. En dan erken die eerste appellant dat hy wel die oggend by die vulstasie
19. was - juis die plek waar volgens Makosi die gesprek plaasgevind het.
Ek het reeds genoem dat die binnekant van die huis van die oorledene na sy dood in 'n bra wanordelike toestand aangetref is. Laaie was uitgetrek en van die inhoud daarvan het verstrooid gelê. Die eerste appellant erken dat hy in die huis was en dit is ook duidelik dat hy daarin rondbeweeg het. Bloedspatsels wat slegs van sy beseerde hand afkomstig kon wees, is naamlik in verskeie kamers aangetref. Sy weergawe dat hy as't ware onder dwang van die tweede appellant opgetree het en dat hy nie gesien het dat laaie oopgetrek is nie, is so onwaarskynlik dat dit tereg deur die verhoorhof verwerp is. Om redes wat reeds genoem is, is die eerste appellant se getuienis dat daar beplan is om die betrokke dag 'n lokval vir Lawrence te stel ook geheel en al onaanvaarbaar. In die lig van Makosi se getuienis en bogenoemde oorwegings het die verhoorhof dus tereg bevind dat die
20. appellante na die oorledene se plaas gegaan het om te
steel of te roof.

Die eerste appellant se advokaat het egter

aan die hand gedoen dat nie bewys is dat hy voorsien
het dat die oorledene in die uitvoer van die

gemeenskaplike oogmerk kon sterf nie. Nou is dit

natuurlik onbekend presies wat die appellante in

gedagte gehad het toe hulle na die plaas vertrek het.

So bv weet 'n mens nie of hulle van meet af verwag het
dat hulle teenstand sou moes oorbrug ten einde hul
voorneme uit te voer nie. Die kardinale vraag is

egter wat die eerste appellant beoog of voorsien het
nadat hulle die oorledene buite die huis aangetref het.
Die eerste appellant se weergawe van die

aanval op die oorledene is uiters onbevredigend. Hy sê dat hoewel hy 'n steekbeweging gesien het, hy nie gemerk het dat die oorledene raakgesteek word nie. Tog weet 'n mens dat die oorledene vyf verskillende wonde toegedien is. Net so onbevredigend is sy

21.

getuienis oor die wond wat hy opgedoen het. Eers sê
hy dat hy gesien het hoe daar bloed by die oorledene se

sy uitkom en dat toe hy vir die tweede appellant
probeer keer het laasgenoemde hom op sy pols verwond
het. Later getuig hy egter dat na die aanvanklike
steekbeweging die tweede appellant en die oorledene op
die grond geval het en dat die tweede appellant toe oor
die oorledene gerol het. Hoe hy in hierdie kort
tydsbestek verwond is terwyl die tweede appellant se
aandag op die oorledene toegespits was, verduidelik hy
nie.

Die onaanvaarbaarheid van die eerste

appellant se weergawe dat die aanval op die oorledene vir hom as 'n verrassing gekom het, word onderstreep deur sy gedrag daarna. Hy is toe saam met die tweede appellant die huis in en die afleiding is onafwendbaar dat hulle gesamentlik die huis deursoek het. Veral verwerplik is sy getuienis dat hy nie na die gebeure vir die tweede appellant enige vrae gevra het nie

22.

vanweë die "manier" hoe die tweede appellant gelyk het.
Na my mening het die verhoorhof tereg bevind dat daar slegs. een verduideliking is vir die wond wat die tweede appellant opgedoen het, en dit is dat dit per ongeluk toegedien is terwyl die eerste appellant die oorledene vasgehou het of wou vashou sodat die tweede appellant met die mes sy teenstand kon neutraliseer. Op daardie stadium het die eerste appellant ongetwyfeld voorsien dat die oorledene kon sterf en het hy onverskillig teenoor die intrede van daardie gevolg gestaan. Trouens, daar is veel te sê vir die konklusie dat hy, netsoos die tweede appellant, toe beoog het om die' oorledene te dood. Ook die eerste appellant is gevolglik tereg skuldig bevind.

Die appèlle word afgewys.

H.J.O. VAN HEERDEN AR

VIVIER AR
STEM SAAM KUMLEBEN AR


SAFLII: | Terms of Use | Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1989/57.html