![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
Saak Nr 664/87
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING) In die saak tussen:
DAWID MWELASE
PHAKATI Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: E M
GROSSKOPF, VIVIER et EKSTEEN, ARR VERHOOR: 17 Maart 1989
GELEWER: 30 Maart 1989
UITSPRAAK E M GROSSKOPF, AR
Die appellant is in die landdroshof van
Roodepoort skuldig bevind aan motordiefstal en gevonnis tot vier jaar
gevangenisstraf. Na
'n onsusksesvolle appèl na die Transvaalse
Provinsiale Afdeling kom hy nou in höer beroep teen sy skuldigbevinding met
die verlof van hierdie hof.
2
Die getuienis was kortliks soos volg. Die klaer, Mnr. Breedt, het getuig dat
hy die betrokke voertuig, 'n rooi Cortina bakkie, op
18 Oktober 1986 om 10h15 in
'n parkeerterrein op Roodepoort geparkeer het. Toe hy om 13h00 teruggekeer het,
was die voertuig weg.
Op 20 Oktober 1986 het hy die motor gaan uitken by
Jabulane-polisiekantoor. Die motorradio se bandspeler en versterker, asook ander
items, was uit die motor verwyder, en dit was beskadig. Die herstelkoste was R2
500,00. Onder kruisverhoor is Mnr. Breedt gevra of
die motor dalk voorgekom het
asof dit in 'n heining vasgery het. Sy antwoord was: "Ja hy was baie beskadig
aan die linkerkant."
Die belangrikste staatsgetuie was konstabel S M Hartman.
Hy was destyds verbonde aan die radiobeheereenheid by Brixton. Sy getuienis
was
soos volg. Op 20 Oktober 1986 was hy en 'n kollega besig met patrolliedienste in
Dobsonville. Hy sien toe 'n voertuig (wat later
geblyk het die klaer s'n te
wees) bestuur deur 'n Swartman, wat die enigste insittende was, en wat hy
uitgeken het as die appellant.
Die appellant het die
3
patrollievoertuig opgemerk en weggejaag. Die polisieamptenare
het hom
gevolg. Die appellant het om 'n draai gejaag, beheer oor
die voertuig
verloor, en teen 'n heining gebots waar hy tot
stilstand gekom het. Konstabel
Hartman het so vyf treë agter
hom gestop. Die deur van die bakkie het
oopgespring. Die
appellant het uitgespríng en weggehardloop in die
rigting van die
polisievoertuig, waar konstabel Hartman hom gearresteer
het
ongeveer 10 treë van die bakkie af. Konstabel Hartman het
hom
nooit uit die oog verloor vandat hy hom die eerste keer gesien
het
nie.
In konstabel Hartman se kruisverhoor verskyn die
volgende passasie:
"Het beide die deure van die Cortina oopgegaan of nie?
-- Net die bestuurder se kant se deur het oopgegaan.
Waarheen hardloop die bestuurder toe? -- Hy het in my
rigting gehardloop en ek was agter sy voertuig gewees.
U sê die beskuldigde wat nou 'n oomblik gelede weggejaag
het kom in die rigting van u gehardloop? -- Dit is
korrek.
Die heining waarmee die voertuig gebots het wat se tipe
heining is dit? -- Dit was 'n ysterheining gewees.
Hoe hoog naastenby? -- Se 2 meter.
Is dit moontlik om oor die heining te spring, te klim?
4
-- Dit was moontlik, dit sal moontlik wees as jy tyd
het.
Vind u dit nie eienaardig dat 'n man wat so pas vir u
weggejaag het kom nou in u rigting gehardloop in plaas
van om 'n ander poging aan te wend om weg te kom van u
af nie? -- Daar was nie 'n ander uitweg vir hom gewees
nie want hy kon nie oor die heining kom nie.
Bedoel jy hy het probeer en kon nie oorkom nie? -- Dit
is korrek.
Het u dit gesien konstabel? — Dit is korrek."
Later in sy kruisverhoor het konstabel Hartman gesê dat hy "seker vergeet" het om in sy hoofgetuienis te meld dat die appellant probeer het om oor die heining te klim. Hierdie versuim aan sy kant is wel 'n punt van kritiek teen sy getuienis, maar is nie die belangrikste aspek van hierdie passasie nie. Wat van kernbelang in hierdie saak is, is konstabel Hartman se stelling: "Daar was nie 'n ander uitweg vir hom gewees nie, want hy kon nie oor die heining kom nie". Ek behandel die effek van hierdie passasie later nadat ek die res van die getuienis opgesom het.
Verder onder kruisverhoor het konstabel Hartman getuig oor die relatiewe posisies van die voertuie. Die bakkie, sê hy,
5
was dwars gedraai in die pad waar hy gebots het teen 'n hoek van ongeveer 45
grade, met sy regteragterkant reg voor die stuurwiel
van die
polisievoertuig,
Nadat konstabel Hartman getuig het, het die Staat sy saak
gesluit. Die ander polisiebeampte wat die nag teenwoordig was, is nie geroep
nie.
Die appellant het in sy eie verdediging getuig. Volgens hom het hy die
nag by 'n vriendin, ene Judith Ghaga, deurgebring. Vroeg die
oggend was hy op
pad huis toe te voet, toe die betrokke Cortina bakkie om die draai gekom het.
Die voertuig het amper in hom vasgery,
maar hy het uit sy pad gehardloop. Die
voertuig het toe teen die heining gebots, en twee persone, wat in die bakkie
was, het uitgespring
en weggehardloop. Die appellant het aangehou hardloop omdat
hy gedink het die insittendes van die voertuig was tsotsi's. Die polisie
het hom
voorgekeer en in hegtenis geneem. Die appellant is maar taamlik effens
gekruisvra. Sy weergawe dat hy die nag by Judith Ghaga
deurgebring het, is deur
haar bevestig. Volgens
6
haar was hy nie met 'n motorvoertuig by haar
nie.
Die landdros het bevind dat die klaer en konstabel Hartman hom
beïndruk het as goeie getuies. Die appellant se weergawe, daarenteen,
het
die hof glad nie beïndruk nie. Judith Ghaga, het die hof bevind, het met
net een doel na die hof gekom en dit was om die
appellant te beskerm. Weens sy
aanvaarding van die staatsgetuienis, en verwerping van dié namens die
verdediging, het hy die
appellant skuldig bevind.
Voor ons het Mej. Bruyns,
wat namens die appellant opgetree het, klem gelê op een eienaardige aspek
in die getuienis wat die
landdros blykbaar oor die hoof gesien het. Ek kan dit
soos volg weergee. Die klaer het getuig dat sy motor aan die linkerkant beskadig
was, en dus in alle waarskynlikheid met sy linkerkant teen die heining gebots
het. 'n Mens kan dan ook aanvaar dat die heining links
van die pad en rofweg
parallel met die pad was. As die appellant dan aan die bestuurderskant (wat in
alle waarskynlikheid die regterkant
was) van die bakkie uitgespring het, sou hy
nie vasgekeer gewees het, soos konstabel
7
Hartman te kenne gegee het nie. Hy sou dan feitlik die volle wydte van die
pad gehad het om in weg te hardloop.
Die appellant se weergawe, aan die ander
kant, pas in by hierdie stel feite. As hy langs die pad geloop het en moes
wegkom van 'n
voertuig wat op hom afpyl, moes hy aan die kant van die pad gewees
het waar die botsing plaasgevind het, d.w.s. die linkerkant. As
die botsing dan
agter hom plaasgevind het, sou hy wel in die posisie kon gewees het waar hy
vasgekeer was tussen die motor en die
draad, en slegs in een rigting kon
hardloop.
Die crux van hierdie argument is natuurlik dat die bakkie met sy
linkerkant teen die draad gebots het, en teenaan die draad aan die
linkerkant
tot stilstand gekom het. Dat sake inderdaad so verloop het is egter die indruk
wat die getuienis as geheel laat. Die enigste
getuienis oor watter kant van die
bakkie in die botsing betrokke was, is dié van die klaer wat ek hierbo
aangehaal het. Konstabel
Hartman het nie getuig waar in die pad die ongeluk
plaasgevind het nie. Sy getuienis oor hoe die voertuie ná die tyd gestaan
het mag moontlik 'n aanduiding
8
hieroor verskaf het, maar dit het grootliks bestaan uit demonstrasies wat nie
behoorlik beskrywe en op die oorkonde aangeteken is
nie. Hierdie getuienis is
dus nie baie duidelik nie, en weerspreek nie die klaer se getuienis nie. Hierdie
hof moet dus myns insiens
aanvaar, minstens as 'n redelike moontlikheid, dat die
bakkie wel met sy linkerkant teen die draad gebots het en teenaan die draad
tot
stilstand gekom het.
Die gevolg hiervan is dat daar 'n belangrike faktor is
wat die appellant se getuienis staaf en twyfel werp op dié van konstabel
Hartman. Hierdie element is nie deur die verhoorhof in ag geneem nie. Konstabel
Hartman was die enigste getuie wat die appellant
by hierdie misdaad impliseer -
sy mede-konstabel het nie getuig nie. Die redes waarom die verhoorhof nogtans
konstabel Hartman se
getuienis bo redelike twyfel verkies het bo dié van
die verdediging is op rekord en ek hoef hulle nie te herhaal nie. Al wat
ek hoef
te sê is dat hulle nie oorweldigend sterk is nie. As die verhoorhof bewus
was dat daar 'n belangrike element van stawing
vir die appellant se getuienis
was sou die
9
element van stawing vir die appellant se getuienis was sou die hof minstens
'n redelike twyfel moes gehad het oor die aanvaarding
van konstabel Hartman se
getuienis in voorkeur bo diê van die appellant. Dan sou daar
vanselfsprekend nie 'n skuldigbevinding
kon gewees het nie.
Weens die
voorgaande word die appèl gehandhaaf; en die appellant se
skuldigbevinding en vonnis tersyde gestel.
E M GROSSKOPF, AR
VIVIER,AR
EKSTEEN, AR Stem saam
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1989/35.html