SAFLII [Home] [Databases] [WorldLII] [Search] [Feedback]

South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1989 >> [1989] ZASCA 35

[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]


S v Phakati (664/87) [1989] ZASCA 35 (30 March 1989)

PDF of original document.PDF of original document

.RTF of original document


Saak Nr 664/87
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING) In die saak tussen:
DAWID MWELASE PHAKATI Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: E M GROSSKOPF, VIVIER et EKSTEEN, ARR VERHOOR: 17 Maart 1989

GELEWER: 30 Maart 1989

UITSPRAAK E M GROSSKOPF, AR
Die appellant is in die landdroshof van Roodepoort skuldig bevind aan motordiefstal en gevonnis tot vier jaar gevangenisstraf. Na 'n onsusksesvolle appèl na die Transvaalse Provinsiale Afdeling kom hy nou in höer beroep teen sy skuldigbevinding met die verlof van hierdie hof.

2

Die getuienis was kortliks soos volg. Die klaer, Mnr. Breedt, het getuig dat hy die betrokke voertuig, 'n rooi Cortina bakkie, op 18 Oktober 1986 om 10h15 in 'n parkeerterrein op Roodepoort geparkeer het. Toe hy om 13h00 teruggekeer het, was die voertuig weg. Op 20 Oktober 1986 het hy die motor gaan uitken by Jabulane-polisiekantoor. Die motorradio se bandspeler en versterker, asook ander items, was uit die motor verwyder, en dit was beskadig. Die herstelkoste was R2 500,00. Onder kruisverhoor is Mnr. Breedt gevra of die motor dalk voorgekom het asof dit in 'n heining vasgery het. Sy antwoord was: "Ja hy was baie beskadig aan die linkerkant."
Die belangrikste staatsgetuie was konstabel S M Hartman. Hy was destyds verbonde aan die radiobeheereenheid by Brixton. Sy getuienis was soos volg. Op 20 Oktober 1986 was hy en 'n kollega besig met patrolliedienste in Dobsonville. Hy sien toe 'n voertuig (wat later geblyk het die klaer s'n te wees) bestuur deur 'n Swartman, wat die enigste insittende was, en wat hy uitgeken het as die appellant. Die appellant het die

3

patrollievoertuig opgemerk en weggejaag. Die polisieamptenare
het hom gevolg. Die appellant het om 'n draai gejaag, beheer oor
die voertuig verloor, en teen 'n heining gebots waar hy tot
stilstand gekom het. Konstabel Hartman het so vyf treë agter
hom gestop. Die deur van die bakkie het oopgespring. Die
appellant het uitgespríng en weggehardloop in die rigting van die
polisievoertuig, waar konstabel Hartman hom gearresteer het
ongeveer 10 treë van die bakkie af. Konstabel Hartman het hom
nooit uit die oog verloor vandat hy hom die eerste keer gesien
het nie.

In konstabel Hartman se kruisverhoor verskyn die

volgende passasie:

"Het beide die deure van die Cortina oopgegaan of nie?
-- Net die bestuurder se kant se deur het oopgegaan.
Waarheen hardloop die bestuurder toe? -- Hy het in my
rigting gehardloop en ek was agter sy voertuig gewees.

U sê die beskuldigde wat nou 'n oomblik gelede weggejaag

het kom in die rigting van u gehardloop? -- Dit is
korrek.

Die heining waarmee die voertuig gebots het wat se tipe

heining is dit? -- Dit was 'n ysterheining gewees.
Hoe hoog naastenby? -- Se 2 meter.
Is dit moontlik om oor die heining te spring, te klim?

4

-- Dit was moontlik, dit sal moontlik wees as jy tyd
het.
Vind u dit nie eienaardig dat 'n man wat so pas vir u
weggejaag het kom nou in u rigting gehardloop in plaas
van om 'n ander poging aan te wend om weg te kom van u
af nie? -- Daar was nie 'n ander uitweg vir hom gewees
nie want hy kon nie oor die heining kom nie.
Bedoel jy hy het probeer en kon nie oorkom nie? -- Dit
is korrek.

Het u dit gesien konstabel? — Dit is korrek."

Later in sy kruisverhoor het konstabel Hartman gesê dat hy "seker vergeet" het om in sy hoofgetuienis te meld dat die appellant probeer het om oor die heining te klim. Hierdie versuim aan sy kant is wel 'n punt van kritiek teen sy getuienis, maar is nie die belangrikste aspek van hierdie passasie nie. Wat van kernbelang in hierdie saak is, is konstabel Hartman se stelling: "Daar was nie 'n ander uitweg vir hom gewees nie, want hy kon nie oor die heining kom nie". Ek behandel die effek van hierdie passasie later nadat ek die res van die getuienis opgesom het.

Verder onder kruisverhoor het konstabel Hartman getuig oor die relatiewe posisies van die voertuie. Die bakkie, sê hy,

5

was dwars gedraai in die pad waar hy gebots het teen 'n hoek van ongeveer 45 grade, met sy regteragterkant reg voor die stuurwiel van die polisievoertuig,
Nadat konstabel Hartman getuig het, het die Staat sy saak gesluit. Die ander polisiebeampte wat die nag teenwoordig was, is nie geroep nie.
Die appellant het in sy eie verdediging getuig. Volgens hom het hy die nag by 'n vriendin, ene Judith Ghaga, deurgebring. Vroeg die oggend was hy op pad huis toe te voet, toe die betrokke Cortina bakkie om die draai gekom het. Die voertuig het amper in hom vasgery, maar hy het uit sy pad gehardloop. Die voertuig het toe teen die heining gebots, en twee persone, wat in die bakkie was, het uitgespring en weggehardloop. Die appellant het aangehou hardloop omdat hy gedink het die insittendes van die voertuig was tsotsi's. Die polisie het hom voorgekeer en in hegtenis geneem. Die appellant is maar taamlik effens gekruisvra. Sy weergawe dat hy die nag by Judith Ghaga deurgebring het, is deur haar bevestig. Volgens
6
haar was hy nie met 'n motorvoertuig by haar nie.
Die landdros het bevind dat die klaer en konstabel Hartman hom beïndruk het as goeie getuies. Die appellant se weergawe, daarenteen, het die hof glad nie beïndruk nie. Judith Ghaga, het die hof bevind, het met net een doel na die hof gekom en dit was om die appellant te beskerm. Weens sy aanvaarding van die staatsgetuienis, en verwerping van dié namens die verdediging, het hy die appellant skuldig bevind.
Voor ons het Mej. Bruyns, wat namens die appellant opgetree het, klem gelê op een eienaardige aspek in die getuienis wat die landdros blykbaar oor die hoof gesien het. Ek kan dit soos volg weergee. Die klaer het getuig dat sy motor aan die linkerkant beskadig was, en dus in alle waarskynlikheid met sy linkerkant teen die heining gebots het. 'n Mens kan dan ook aanvaar dat die heining links van die pad en rofweg parallel met die pad was. As die appellant dan aan die bestuurderskant (wat in alle waarskynlikheid die regterkant was) van die bakkie uitgespring het, sou hy nie vasgekeer gewees het, soos konstabel

7

Hartman te kenne gegee het nie. Hy sou dan feitlik die volle wydte van die pad gehad het om in weg te hardloop.
Die appellant se weergawe, aan die ander kant, pas in by hierdie stel feite. As hy langs die pad geloop het en moes wegkom van 'n voertuig wat op hom afpyl, moes hy aan die kant van die pad gewees het waar die botsing plaasgevind het, d.w.s. die linkerkant. As die botsing dan agter hom plaasgevind het, sou hy wel in die posisie kon gewees het waar hy vasgekeer was tussen die motor en die draad, en slegs in een rigting kon hardloop.
Die crux van hierdie argument is natuurlik dat die bakkie met sy linkerkant teen die draad gebots het, en teenaan die draad aan die linkerkant tot stilstand gekom het. Dat sake inderdaad so verloop het is egter die indruk wat die getuienis as geheel laat. Die enigste getuienis oor watter kant van die bakkie in die botsing betrokke was, is dié van die klaer wat ek hierbo aangehaal het. Konstabel Hartman het nie getuig waar in die pad die ongeluk plaasgevind het nie. Sy getuienis oor hoe die voertuie ná die tyd gestaan het mag moontlik 'n aanduiding

8

hieroor verskaf het, maar dit het grootliks bestaan uit demonstrasies wat nie behoorlik beskrywe en op die oorkonde aangeteken is nie. Hierdie getuienis is dus nie baie duidelik nie, en weerspreek nie die klaer se getuienis nie. Hierdie hof moet dus myns insiens aanvaar, minstens as 'n redelike moontlikheid, dat die bakkie wel met sy linkerkant teen die draad gebots het en teenaan die draad tot stilstand gekom het.
Die gevolg hiervan is dat daar 'n belangrike faktor is wat die appellant se getuienis staaf en twyfel werp op dié van konstabel Hartman. Hierdie element is nie deur die verhoorhof in ag geneem nie. Konstabel Hartman was die enigste getuie wat die appellant by hierdie misdaad impliseer - sy mede-konstabel het nie getuig nie. Die redes waarom die verhoorhof nogtans konstabel Hartman se getuienis bo redelike twyfel verkies het bo dié van die verdediging is op rekord en ek hoef hulle nie te herhaal nie. Al wat ek hoef te sê is dat hulle nie oorweldigend sterk is nie. As die verhoorhof bewus was dat daar 'n belangrike element van stawing vir die appellant se getuienis was sou die

9

element van stawing vir die appellant se getuienis was sou die hof minstens 'n redelike twyfel moes gehad het oor die aanvaarding van konstabel Hartman se getuienis in voorkeur bo diê van die appellant. Dan sou daar vanselfsprekend nie 'n skuldigbevinding kon gewees het nie.
Weens die voorgaande word die appèl gehandhaaf; en die appellant se skuldigbevinding en vonnis tersyde gestel.

E M GROSSKOPF, AR

VIVIER,AR

EKSTEEN, AR Stem saam


SAFLII: | Terms of Use | Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1989/35.html