![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
Saak No 227/88
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN
SUID-AFRIKA
APPèLAFDELING
In die saak tussen:
FREDDIE DREYER Eerste
Appellant
HERMANUS MOSES Tweede Apellant
en
DIE
STAAT Respondent
Coram: VAN HEERDEN, KUMLEBEN et EKSTEEN, ARR
Verhoor: 14
Maart 1989
Gelewer: 23 Maart 1989
2
UITSPRAAK EKSTEEN, AR :
Die twee appellante is albei op dertien
verskillende aanklagte aangekla van 'n reeks misdade wat moord, poging tot
moord, roof, verkragting,
en huisbraak met die opset om te roof behels. Feitlik
al hierdie aanklagte spruit uit twee strooptogte wat op die nag van
Vrydag-Saterdag
6-7 Maart 1987, en Sondag 8 Maart 1987 op 'n kompleks
wooneenhede vir bejaardes te Hanover Park, Wynberg uitgevoer is. Die enigste
aanklag wat nie binne hierdie tydperk val nie, is die eerste aanklag wat oor
huisbraak met die opset om 'n aan die aanklaer onbekende
misdryf te pleeg, gaan.
Hierdie misdaad sou op Donderdag 5 Maart 1987 gepleeg gewees het.
Die hof a
quo het die eerste appellant op al der-tien aanklagte skuldig bevind. Op
albei die aanklagte van moord hom ten laste gelê, is hy
die doodstraf
opgelê, en op die orige elf aanklagte is hy tot 'n gesamentlike tydperk
van
3
60 jaar gevangenisstraf gevonnis. Die tweede appellant is op twaalf van die
dertien aanklagtes skuldig bevind. Hy is ook op albei
die moordklagte ter dood
veroordeel, en op die orige tien aanklagte 'n gesamentlike tydperk van 39 jaar
gevangenisstraf opgelê.
Die eerste appellant is deur die verhoorhof
verlof toegestaan om teen sy skuldigbevinding op al die aanklagtes, behalwe
aanklagte
5, 6 en 8 te appelleer, asook teen die "globale effek" van die
vonnisse hom opgelê. Die tweede appellant is verlof toegestaan
om teen al
sy skuldigbevindinge en vonnisse te appelleer. Dit is dan ook hierdie
appèl wat voor ons beredeneer is.
Soos blyk uit wat ek reeds
gesê het, is die inwoners van die huise vir bejaardes te Hanover Park op
die genoemde twee nagte
aan 'n skrikbewind onderwerp. Van hulle huise is op
gewelddadige wyse oopgebreek deur die vensters stukkend te slaan en die deure
oop te skop. Hulle besittings is geplunder en geroof. Twee van hulle is vermoor,
en een vrou
4
is verkrag. Ander is gewelddadig aangerand. Dat al hierdie
misdade gepleeg is, is op geen stadium tydens die verhoor bevraagteken
nie, en
die enigste geskilpunt was die identiteit van die misdadigers. Die feite waarop
die saak teen die appellante rus, is breedvoerig
deur die verhoorregter in sy
uitspraak uiteengesit, en ek is nie van voornemens om dié nou te herhaal
nie. Dit dien slegs
vermeld te word dat die getuienis van albei die appellante
in toto verwerp is deur die hof a quo, en die gegrondheid van
hierdie verwerping word nie voor ons in twyfel getrek nie. Die getuienis van die
staatsgetuies is wesenlik
aanvaar, en dit is op hierdie grondslag dat die skuld
van die appellante bepaal moet word.
Die eerste aanklag, waarop albei
appellante skuldig bevind is, gaan oor die inbraak by die huis van ene Arenze op
Donderdag 5 Maart
1987. Die enigste getuienis in dié verband was die van
Victoria Flink. Sy het destyds by Arenze in die huis gebly. Sy getuig
dat sy
vroeg die
5
Donderdagoggend wakker gemaak is deur 'n skop aan die deur. Toe sy opstaan sien sy twee mense in die kombuis. Sy was so deur die slaap dat sy nie eers kon sien of hulle ou mense was of nie. Met haar verskyning het hulle onmiddellik die wyk geneem. Daar is nie voldoende getuienis om die appellante met hierdie inbraak te verbind nie, en mnr. Van Vuuren, wat voor ons namens die Staat verskyn het, het toegegee dat hy
die skuldigbevinding nie kon ondersteun nie.
Die tweede en derde aanklagte handel oor 'n tweede inbraak by Arenze se huis
op Saterdag 7 Maart, en die moord op Arenze. Weer eens
is daar na my mening
onvoldoende getuienis te wees om enige van die appellante met hierdie misdade te
verbind. Daar is geen getuienis
om aan te dui
presies wanneer die inbraak sou
plaasgevind het nie. Die
huis van Arenze is ook ietwat verwyderd van die ander huise
wat aan die geweldadige strooptogte onderwerp is. Arenze is
vermoor in sy kamer aangetref, en daar is geen aanduiding dat
6
moes mnr. Van Vuuren toegee dat die getuienis nie voldoende was om die
bewyslas wat op die Staat gerus het, te kwyt nie.
Wat die orige aanklagte
betref, is ek van voornemens om in die eerste plek die saak teen die eerste
appellant te behandel, en daarna
dié van die tweede appellant.
Wat die
eerste appellant betref, meen ek dat die verhoorhof hom tereg skuldig bevind het
op al die orige aanklagte behalwe die elfde.
Die klaers in aanklagte 4, 5 en 6
woon almal in Ryburg Terrace, wat 'n reeks skakelhuise is. Hulle wonings is
almal, een na die ander,
in die vroeë ure van Saterdag 7 Maart oopgebreek.
Die klaagster in aanklag 7 is ook vroeg daardie oggend in die straat, net
langs
hierdie huise, van haar ringe beroof. Die rower wat haar beroof het, het ten
tyde van sy aanval op haar 'n horlosie, wat van
die klaers in die vierde aanklag
gesteel is, laat val. Hy was dus vermoedelik dieselfde persoon
wat die huis van die klaers in die vierde aanklag oopgebreek
7
en beroof het. Die klaers in die vyfde en sesde aanklagte het die eerste
appellant onteenseglik uitgeken as die persoon wat by hulle
huise ingebreek het
en hulle beroof het. Die getuienis dui ook, na my mening, bo redelike twyfel aan
dat hy ook die persoon was wat
by die huis van die klaers in die vierde aanklag
ingebreek het, en wat die klaagster in die sewende aanklag beroof
het.
Aanklagte 8 tot 13 gaan almal oor die gebeurde van die nag van Sondag 8
Maart 1987. Die klaagster in die agste aanklag het die eerste
appellant ook op
'n uitkenningsparade uitgeken as die persoon wat by haar huis ingebreek het en
haar beroof het, en daar bestaan
geen twyfel aan sy skuld op daardie aanklag
nie. Aanklagte nege tot dertien gaan oor die inbraak in die huise van Maggie
Jacobs en
Maria Barnes ondeskeidelik, die verkragting op Maria Barnes, haar
daaropvolgende moord, en 'n poging om Maggie Jacobs ook te vermoor.
In 'n bekentenis aan 'n landdros erken die eerste
8
appellant dat hy aandadig was aan die inbraak by die huis waarin die twee
vroue was, en aan die aanranding op die twee vroue. Hy beweer
daarin dat hy
vergesel was deur die tweede appellant, en hy sê dat dit die tweede
appellant was wat die een ou vrou "met 'n
yster of 'n stok" oor die kop geslaan
het terwyl hy (d.i. die eerste appellant) haar arms langs haar lyf vasgehou het.
Hierdie bekentenis
verwys klaarblyklik na die moord op Maria Barnes, en kom neer
op 'n erkenning dat hy by die huis in die tiende aanklag gemeld, ingebreek
het
met die opset om die mense in die huis te beroof. Die afleiding dat hy ook die
persoon was wat dieselfde nag by die aangrensende
huis van Maggie Jacobs
ingebreek het met die opset om te steel, en die goed soos in die negende aanklag
uiteengesit gesteel het,
is onvermydelik.
Die eerste appellant se bekentenis
is natuurlik nie as getuienis teen die tweede appellant ontvanklik nie, maar
selfs al sou die moord
op Maria Barnes plaasgevind het op die wyse soos deur die
eerste appellant beskryf, dan sou hy
9
nogtans ook skuldig daaraan gewees het.
Maggie Jacobs is in dieselfde
kamer as die lyk van Maria Barnes gevind. Sy was so ernstig aangerand dat sy
bewusteloos was. Sy is
per ambulans hospitaal toe geneem, en alhoewel sy later
ontslaan is, kon sy nooit weer praat nie. Sy is voor die verhoor oorlede.
Dit is
afdoende bewys dat die eerste appellant ook aandadig was aan die aanranding op
haar, en hy is tereg skuldig bevind aan 'n
poging tot moord op Maggie
Jacobs.
Die elfde aanklag beweer dat hy vir Maria Barnes verkrag het. Die
mediese getuienis dui daarop dat sy wel verkrag is voordat sy vermoor
is. Dit
was die Staat se saak dat die eerste appellant nie alleen was by die pleging
ván hierdie misdade nie, en al die getuienis
dui daarop dat hy deur 'n
ander persoon vergesel was. Hulle moes dus 'n
gemeenskaplike doel gehad het
om by die huise in te breek en die ou mense wat daar gewoon het te beroof. Soos
reeds gesê is,
het die eerste appellant in sy bekentenis toegegee dat
hy
10
aandadig was aan die aanranding op die twee vrouens. Hy erken egter nie dat
hy vir Maria Barnes verkrag het nie, en daar is ook geen
getuienis waaruit
afgelei kan word dat die verkragting van vroulike inwoners van die huise deel
uitgemaak het van die gemene opset
van die oortreders nie. Die verkragting kon
bes moontlik deur slegs een van die aanvallers gepleeg gewees het sonder enige
meedoen
van die ander, en sonder enige vorige afspraak daartoe. In sulke
omstandighede kan dit nie gesê word dat dit bo redelike twyfel
bewys is
dat die eerste appellant skuldig is aan die verkragting op Maria Barnes nie, en
moes hy onskuldig bevind gewees het op hierdie
aanklag.
Sover dit die tweede
appellant aangaan, kon geeneen van die klaers hom uitken nie. Sommige van die
klaers het wel getuig dat 'n tweede
persoon teenwoordig was toe die eerste
appellant hulle beroof het, maar nie een van hulle kon daardie persoon uitken
nie. Die tweede
beskuldigde se aandadigheid aan die ten laste gelegde misdade
berus dus
11
feitlik geheel en al op 'n bekentenis wat hy aan 'n landdros gemaak het. In
daardie bekentenis sê hy dat die eerste appellant
en ene "Donald" hom
probeer oorhaal het om die Vrydagaand saam met hulle te gaan om goed by die
"ouetehuis" te steel. Hy sê
dat hy aanvanklik saam met hulle gestap het,
maar dat toe hulle by die ouetehuis kom hy hom bedink het en omgedraai het. Hy
sê
dat hy toe gaan slaap het en dat hy niks verder met eerste appellant se
eskapades van daardie aand te doen gehad het nie. Daar is
dus niks in sy
bekentenis waarop hy skuldig bevind kon word aan enige van die oortredings wat
daardie nag gepleeg is nie, en hy moes,
na my mening, nie skuldig bevind gewees
het op
aanklagte 4, 5, 6, of 7 nie.
In sy bekentenis, egter, erken hy dat
hy die Son-dagaand wel vir eerste appellant na die ouetehuis vergesel het. Hy
beskryf hoedat
eerste appellant en Donald by 'n huis ingebreek het, en 'n radio
gesteel het. Van sy beskrywing van hierdie gebeurde, is dit duidelik
dat hy
slegs kon verwys
12
het na die gebeurde in die agste aanklag vervat. Hy sê dat hy geen deel
gehad het aan hierdie inbraak nie, maar dat hy weggekruip
het tussen sekere
plante in die omgewing,
Daarna, sê hy, is eerste appellant en Donald by
'n ander huis in. Weereens het hy hulle nie vergesel nie maar tussen die blomme
bly sit. Hierdie tweede huis moet, in die lig van al die getuienis, dié
van Maggie Jacobs wees, en die inbraak in daardie
huis moet dié wees
waarna in die negende aanklag verwys word.
Op die weergawe van die tweede
appellant, soos in sy bekentenis verhaal, het hy geen deel gehad aan hierdie
twee oortredings nie,
en het hy hom opsetlik daarvan weerhou. Daar is, m.i. dus,
onvoldoende getuienis om sy skuld op hierdie twee aanklagte bo redelike
twyfel
te bewys.
Nadat eerste appellant en Donald uit Maggie Jacobs se huis gekom
het, sê die tweede appellant voorts, het hulle hom kom soek
en hom
aangesê om saam met hulle te kom. Hy het geweier maar het aangebied om vir
hulle wag te hou, en op
13
die uitkyk te wees of die polisie kom. Hierdie aanbod het hulle aanvaar, en
'n sakkie goed in sy bewaring gelos. Daarna breek hulle
in by die huis van Maria
Barnes waar die misdade in aanklagte 10 tot 13 gepleeg is - dws die inbraak met
die opset om te roof waarby
verswarende omstandighede teenwoordig was, die
verkragting op Maria Barnes, die moord op haar, en die poging tot moord op
Maggie
Jacobs. Op sy eie bekentenis, dus, was die tweede appellant medepligtig
aan die inbraak in die huis van Maria Barnes. Dit is duidelik
dat die inbrekers
nie gewapen was nie, en daar is ook geen getuienis om aan te toon dat die tweede
appellant daarvan bewus kon gewees
het dat die inbraak met verswarende
omstandighede gepaard sou gaan nie.
Ewe-eens is daar geen getuienis dat hy
daarvan bewus was, of enigsins kon vermoed het, dat een of albei die inbrekers
van die vrouens
in die huis sou verkrag, of sou poog om hul te vermoor nie. Hy
kan gevolglik, op sy bekentenis, nie skuldig bevind gewees het op
aanklagte 11,
12
14
of 13 nie.
Uit die uitspraak van die verhoorregter blyk dit dat die hof a
quo nie slegs gesteun het op die bekentenis van die tweede appellant om
hom skuldig te bevind nie, maar, as ek die motivering reg begryp,
ook op die
feit dat die twee appellante sulke goeie vriende was; dat hulle saam in
dieselfde huis gewoon het; dat by die pleging
van sommige van die misdrywe meer
as een dader betrokke was; dat die tweede appellant volgens sy eie erkenning by
die pleging van
minstens een van die misdrywe betrokke was, en dat die modus
operandi van die dader(s) 'n merkwaardige patroon volg. Hieruit lei die hof
a quo af dat dit hoogs onwaarskynlik is dat die tweede appellant onkundig
sou gewees het van die voorneme van die eerste appellant om die
misdrywe te
pleeg en dat hy nie daaraan sou meegedoen het nie. Na my mening is hierdie
denkrigting om die volgende redes onaanvaarbaar.
1) Al sou die modus
operandi konstant gebly het, volg dit hoegenaamd nie dat twee persone, en
meer bepaald
15
dieselfde twee persone, al die misdade gepleeg het nie. Selfs al sou die
tweede appellant 'n medepligtige ten opsigte van sommige
daarvan gewees het, kon
dit ligtelik gebeur het dat die eerste appellant somtyds die enigste dader was
of van
'n ander handlanger gebruik gemaak het. Vanweë eerste appellant
se volgehoue betrokkenheid kan die aard van die pleging van die
misdade dus 'n
patroon gevolg het.
2) Die feit dat die appellante goed bevriend was en saam
gewoon het, is nie genoegsaam om 'n af leiding dat hulle gesamentlik een
of meer
van die misdade gepleeg het, te regverdig nie. Dit is trouens insiggewend dat
die tweede appellant in sy verklaring slegs
na die gebeurde op die Sondagaand
verwys. En selfs al sou daar goeie redes wees om te aanvaar dat hy by sommige
van die ander misdade
betrokke was, kan hulle nie geïdentifiseer word
nie.
Dit volg dus dat die afleiding wat die verhoorhof teen die tweede
appellant gemaak het nie geregverdig was nie. Samevattend is die
getuienis
onvoldoende om, behoudens klag
16
10, die skuld van die tweede appellante buite redelike twyfel te
bewys.
Opsommenderwys dus moes die eerste appellant m.i. skuldig bevind
gewees het op aanklagte 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 12 en 13, en die tweede
appellant
slegs op aanklag 10, maar sonder 'n bevinding dat verswarende omstandighede
teenwoordig was.
Daar is ook 'n appèl teen die globale effek van die
gevangenisstraf die eerste appellant opgelê. Wat tans ter sake is,
is
aanklagte 4-10 en 13 waarop die eerste appellant gesamentlik tot 41 jaar
gevangenisstraf gevonnisis. Die misdade waaraan hy hom
skuldig gemaak het is
onteenseglik wrede en weersinwekkende misdade wat 'n bedreiging ingehou het, nie
slegs vir die ongelukkige
slagoffers nie, maar ook vir die gemeenskap in die
algemeen. Die verhoorhof was dus sekerlik geroepe om swaar vonnisse vir elkeen
van die oortredings op te lê, en ek is van mening dat al hierdie vonnisse
ten volle gepas is. Die kumulatiewe uitwerking kom
17
my egter te swaar voor, en ek meen dat die verhoorregter van die vonnisse moes laat saamloop het. Die gesamentlike vonnis wat ek as regverdig beskou, verskil in son mate van die gesamentlike vonnis deur die verhoorregter opgelê, dat ek van mening is dat hierdie hof daarmee behoort in te meng deur sekere van die opgelegde vonnisse saam te laat loop. (Vergelyk S v Anderson 1964 (3) SA 494 (A).)
1. Ten opsigte van die eerste appellant -
(a) slaag die appèl teen die skuldigbevindinge en vonnisse op aanklagtes 1, 2, 3, en 11; (b) die appèl teen die skuldigbevindinge en von-nisse op die orige aanklagte word van die hand gewys maar dit word beveel dat die von-nisse op aanklagte 4, 5, en 6 saam sal loop, en dié op aanklagtes 7, 8, en 9 ook saam sal loop. Die gevolg hiervan sal wees dat die eerste appellant gesamentlik 25 jaar gevangenisstraf sal uitdien.
18
2. Ten opsigte van die tweede appellant -
(a) slaag die appèl teen die skuldigbevindinge en vonnisse op aanklagte 1 tot 9 en 11 tot 13; (b) die skuldigbevinding op aanklag 10 word ge-wysig na een van huisbraak met die opset om
te roof en daar word 'n vonnis van 5 jaar ge-vangenisstraf opgelê.
J.P.G. EKSTEEN, AR
VAN HEERDEN, AR )
KUMLEBEN, AR ) stem saam
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1989/24.html