SAFLII [Home] [Databases] [WorldLII] [Search] [Feedback]

South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1989 >> [1989] ZASCA 24

[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]


S v Dreyer and Another (227/88) [1989] ZASCA 24 (23 March 1989)

PDF of original document.PDF of original document

.RTF of original document


Saak No 227/88

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
APPèLAFDELING

In die saak tussen:
FREDDIE DREYER Eerste Appellant
HERMANUS MOSES Tweede Apellant
en
DIE STAAT Respondent

Coram: VAN HEERDEN, KUMLEBEN et EKSTEEN, ARR
Verhoor: 14 Maart 1989
Gelewer: 23 Maart 1989

2

UITSPRAAK EKSTEEN, AR :
Die twee appellante is albei op dertien verskillende aanklagte aangekla van 'n reeks misdade wat moord, poging tot moord, roof, verkragting, en huisbraak met die opset om te roof behels. Feitlik al hierdie aanklagte spruit uit twee strooptogte wat op die nag van Vrydag-Saterdag 6-7 Maart 1987, en Sondag 8 Maart 1987 op 'n kompleks wooneenhede vir bejaardes te Hanover Park, Wynberg uitgevoer is. Die enigste aanklag wat nie binne hierdie tydperk val nie, is die eerste aanklag wat oor huisbraak met die opset om 'n aan die aanklaer onbekende misdryf te pleeg, gaan. Hierdie misdaad sou op Donderdag 5 Maart 1987 gepleeg gewees het.
Die hof a quo het die eerste appellant op al der-tien aanklagte skuldig bevind. Op albei die aanklagte van moord hom ten laste gelê, is hy die doodstraf opgelê, en op die orige elf aanklagte is hy tot 'n gesamentlike tydperk van

3

60 jaar gevangenisstraf gevonnis. Die tweede appellant is op twaalf van die dertien aanklagtes skuldig bevind. Hy is ook op albei die moordklagte ter dood veroordeel, en op die orige tien aanklagte 'n gesamentlike tydperk van 39 jaar gevangenisstraf opgelê.
Die eerste appellant is deur die verhoorhof verlof toegestaan om teen sy skuldigbevinding op al die aanklagtes, behalwe aanklagte 5, 6 en 8 te appelleer, asook teen die "globale effek" van die vonnisse hom opgelê. Die tweede appellant is verlof toegestaan om teen al sy skuldigbevindinge en vonnisse te appelleer. Dit is dan ook hierdie appèl wat voor ons beredeneer is.
Soos blyk uit wat ek reeds gesê het, is die inwoners van die huise vir bejaardes te Hanover Park op die genoemde twee nagte aan 'n skrikbewind onderwerp. Van hulle huise is op gewelddadige wyse oopgebreek deur die vensters stukkend te slaan en die deure oop te skop. Hulle besittings is geplunder en geroof. Twee van hulle is vermoor, en een vrou

4

is verkrag. Ander is gewelddadig aangerand. Dat al hierdie misdade gepleeg is, is op geen stadium tydens die verhoor bevraagteken nie, en die enigste geskilpunt was die identiteit van die misdadigers. Die feite waarop die saak teen die appellante rus, is breedvoerig deur die verhoorregter in sy uitspraak uiteengesit, en ek is nie van voornemens om dié nou te herhaal nie. Dit dien slegs vermeld te word dat die getuienis van albei die appellante in toto verwerp is deur die hof a quo, en die gegrondheid van hierdie verwerping word nie voor ons in twyfel getrek nie. Die getuienis van die staatsgetuies is wesenlik aanvaar, en dit is op hierdie grondslag dat die skuld van die appellante bepaal moet word.
Die eerste aanklag, waarop albei appellante skuldig bevind is, gaan oor die inbraak by die huis van ene Arenze op Donderdag 5 Maart 1987. Die enigste getuienis in dié verband was die van Victoria Flink. Sy het destyds by Arenze in die huis gebly. Sy getuig dat sy vroeg die

5

Donderdagoggend wakker gemaak is deur 'n skop aan die deur. Toe sy opstaan sien sy twee mense in die kombuis. Sy was so deur die slaap dat sy nie eers kon sien of hulle ou mense was of nie. Met haar verskyning het hulle onmiddellik die wyk geneem. Daar is nie voldoende getuienis om die appellante met hierdie inbraak te verbind nie, en mnr. Van Vuuren, wat voor ons namens die Staat verskyn het, het toegegee dat hy

die skuldigbevinding nie kon ondersteun nie.

Die tweede en derde aanklagte handel oor 'n tweede inbraak by Arenze se huis op Saterdag 7 Maart, en die moord op Arenze. Weer eens is daar na my mening onvoldoende getuienis te wees om enige van die appellante met hierdie misdade te verbind. Daar is geen getuienis om aan te dui
presies wanneer die inbraak sou plaasgevind het nie. Die

huis van Arenze is ook ietwat verwyderd van die ander huise

wat aan die geweldadige strooptogte onderwerp is. Arenze is

vermoor in sy kamer aangetref, en daar is geen aanduiding dat


6

moes mnr. Van Vuuren toegee dat die getuienis nie voldoende was om die bewyslas wat op die Staat gerus het, te kwyt nie.
Wat die orige aanklagte betref, is ek van voornemens om in die eerste plek die saak teen die eerste appellant te behandel, en daarna dié van die tweede appellant.
Wat die eerste appellant betref, meen ek dat die verhoorhof hom tereg skuldig bevind het op al die orige aanklagte behalwe die elfde. Die klaers in aanklagte 4, 5 en 6 woon almal in Ryburg Terrace, wat 'n reeks skakelhuise is. Hulle wonings is almal, een na die ander, in die vroeë ure van Saterdag 7 Maart oopgebreek. Die klaagster in aanklag 7 is ook vroeg daardie oggend in die straat, net langs hierdie huise, van haar ringe beroof. Die rower wat haar beroof het, het ten tyde van sy aanval op haar 'n horlosie, wat van die klaers in die vierde aanklag gesteel is, laat val. Hy was dus vermoedelik dieselfde persoon

wat die huis van die klaers in die vierde aanklag oopgebreek

7

en beroof het. Die klaers in die vyfde en sesde aanklagte het die eerste appellant onteenseglik uitgeken as die persoon wat by hulle huise ingebreek het en hulle beroof het. Die getuienis dui ook, na my mening, bo redelike twyfel aan dat hy ook die persoon was wat by die huis van die klaers in die vierde aanklag ingebreek het, en wat die klaagster in die sewende aanklag beroof het.
Aanklagte 8 tot 13 gaan almal oor die gebeurde van die nag van Sondag 8 Maart 1987. Die klaagster in die agste aanklag het die eerste appellant ook op 'n uitkenningsparade uitgeken as die persoon wat by haar huis ingebreek het en haar beroof het, en daar bestaan geen twyfel aan sy skuld op daardie aanklag nie. Aanklagte nege tot dertien gaan oor die inbraak in die huise van Maggie Jacobs en Maria Barnes ondeskeidelik, die verkragting op Maria Barnes, haar daaropvolgende moord, en 'n poging om Maggie Jacobs ook te vermoor.

In 'n bekentenis aan 'n landdros erken die eerste
8

appellant dat hy aandadig was aan die inbraak by die huis waarin die twee vroue was, en aan die aanranding op die twee vroue. Hy beweer daarin dat hy vergesel was deur die tweede appellant, en hy sê dat dit die tweede appellant was wat die een ou vrou "met 'n yster of 'n stok" oor die kop geslaan het terwyl hy (d.i. die eerste appellant) haar arms langs haar lyf vasgehou het. Hierdie bekentenis verwys klaarblyklik na die moord op Maria Barnes, en kom neer op 'n erkenning dat hy by die huis in die tiende aanklag gemeld, ingebreek het met die opset om die mense in die huis te beroof. Die afleiding dat hy ook die persoon was wat dieselfde nag by die aangrensende huis van Maggie Jacobs ingebreek het met die opset om te steel, en die goed soos in die negende aanklag uiteengesit gesteel het, is onvermydelik.
Die eerste appellant se bekentenis is natuurlik nie as getuienis teen die tweede appellant ontvanklik nie, maar selfs al sou die moord op Maria Barnes plaasgevind het op die wyse soos deur die eerste appellant beskryf, dan sou hy

9

nogtans ook skuldig daaraan gewees het.
Maggie Jacobs is in dieselfde kamer as die lyk van Maria Barnes gevind. Sy was so ernstig aangerand dat sy bewusteloos was. Sy is per ambulans hospitaal toe geneem, en alhoewel sy later ontslaan is, kon sy nooit weer praat nie. Sy is voor die verhoor oorlede. Dit is afdoende bewys dat die eerste appellant ook aandadig was aan die aanranding op haar, en hy is tereg skuldig bevind aan 'n poging tot moord op Maggie Jacobs.
Die elfde aanklag beweer dat hy vir Maria Barnes verkrag het. Die mediese getuienis dui daarop dat sy wel verkrag is voordat sy vermoor is. Dit was die Staat se saak dat die eerste appellant nie alleen was by die pleging ván hierdie misdade nie, en al die getuienis dui daarop dat hy deur 'n ander persoon vergesel was. Hulle moes dus 'n
gemeenskaplike doel gehad het om by die huise in te breek en die ou mense wat daar gewoon het te beroof. Soos reeds gesê is, het die eerste appellant in sy bekentenis toegegee dat hy

10

aandadig was aan die aanranding op die twee vrouens. Hy erken egter nie dat hy vir Maria Barnes verkrag het nie, en daar is ook geen getuienis waaruit afgelei kan word dat die verkragting van vroulike inwoners van die huise deel uitgemaak het van die gemene opset van die oortreders nie. Die verkragting kon bes moontlik deur slegs een van die aanvallers gepleeg gewees het sonder enige meedoen van die ander, en sonder enige vorige afspraak daartoe. In sulke omstandighede kan dit nie gesê word dat dit bo redelike twyfel bewys is dat die eerste appellant skuldig is aan die verkragting op Maria Barnes nie, en moes hy onskuldig bevind gewees het op hierdie aanklag.
Sover dit die tweede appellant aangaan, kon geeneen van die klaers hom uitken nie. Sommige van die klaers het wel getuig dat 'n tweede persoon teenwoordig was toe die eerste appellant hulle beroof het, maar nie een van hulle kon daardie persoon uitken nie. Die tweede beskuldigde se aandadigheid aan die ten laste gelegde misdade berus dus

11

feitlik geheel en al op 'n bekentenis wat hy aan 'n landdros gemaak het. In daardie bekentenis sê hy dat die eerste appellant en ene "Donald" hom probeer oorhaal het om die Vrydagaand saam met hulle te gaan om goed by die "ouetehuis" te steel. Hy sê dat hy aanvanklik saam met hulle gestap het, maar dat toe hulle by die ouetehuis kom hy hom bedink het en omgedraai het. Hy sê dat hy toe gaan slaap het en dat hy niks verder met eerste appellant se eskapades van daardie aand te doen gehad het nie. Daar is dus niks in sy bekentenis waarop hy skuldig bevind kon word aan enige van die oortredings wat daardie nag gepleeg is nie, en hy moes, na my mening, nie skuldig bevind gewees het op
aanklagte 4, 5, 6, of 7 nie.
In sy bekentenis, egter, erken hy dat hy die Son-dagaand wel vir eerste appellant na die ouetehuis vergesel het. Hy beskryf hoedat eerste appellant en Donald by 'n huis ingebreek het, en 'n radio gesteel het. Van sy beskrywing van hierdie gebeurde, is dit duidelik dat hy slegs kon verwys

12

het na die gebeurde in die agste aanklag vervat. Hy sê dat hy geen deel gehad het aan hierdie inbraak nie, maar dat hy weggekruip het tussen sekere plante in die omgewing,
Daarna, sê hy, is eerste appellant en Donald by 'n ander huis in. Weereens het hy hulle nie vergesel nie maar tussen die blomme bly sit. Hierdie tweede huis moet, in die lig van al die getuienis, dié van Maggie Jacobs wees, en die inbraak in daardie huis moet dié wees waarna in die negende aanklag verwys word.
Op die weergawe van die tweede appellant, soos in sy bekentenis verhaal, het hy geen deel gehad aan hierdie twee oortredings nie, en het hy hom opsetlik daarvan weerhou. Daar is, m.i. dus, onvoldoende getuienis om sy skuld op hierdie twee aanklagte bo redelike twyfel te bewys.
Nadat eerste appellant en Donald uit Maggie Jacobs se huis gekom het, sê die tweede appellant voorts, het hulle hom kom soek en hom aangesê om saam met hulle te kom. Hy het geweier maar het aangebied om vir hulle wag te hou, en op

13

die uitkyk te wees of die polisie kom. Hierdie aanbod het hulle aanvaar, en 'n sakkie goed in sy bewaring gelos. Daarna breek hulle in by die huis van Maria Barnes waar die misdade in aanklagte 10 tot 13 gepleeg is - dws die inbraak met die opset om te roof waarby verswarende omstandighede teenwoordig was, die verkragting op Maria Barnes, die moord op haar, en die poging tot moord op Maggie Jacobs. Op sy eie bekentenis, dus, was die tweede appellant medepligtig aan die inbraak in die huis van Maria Barnes. Dit is duidelik dat die inbrekers nie gewapen was nie, en daar is ook geen getuienis om aan te toon dat die tweede appellant daarvan bewus kon gewees het dat die inbraak met verswarende omstandighede gepaard sou gaan nie.
Ewe-eens is daar geen getuienis dat hy daarvan bewus was, of enigsins kon vermoed het, dat een of albei die inbrekers van die vrouens in die huis sou verkrag, of sou poog om hul te vermoor nie. Hy kan gevolglik, op sy bekentenis, nie skuldig bevind gewees het op aanklagte 11, 12

14

of 13 nie.
Uit die uitspraak van die verhoorregter blyk dit dat die hof a quo nie slegs gesteun het op die bekentenis van die tweede appellant om hom skuldig te bevind nie, maar, as ek die motivering reg begryp, ook op die feit dat die twee appellante sulke goeie vriende was; dat hulle saam in dieselfde huis gewoon het; dat by die pleging van sommige van die misdrywe meer as een dader betrokke was; dat die tweede appellant volgens sy eie erkenning by die pleging van minstens een van die misdrywe betrokke was, en dat die modus operandi van die dader(s) 'n merkwaardige patroon volg. Hieruit lei die hof a quo af dat dit hoogs onwaarskynlik is dat die tweede appellant onkundig sou gewees het van die voorneme van die eerste appellant om die misdrywe te pleeg en dat hy nie daaraan sou meegedoen het nie. Na my mening is hierdie denkrigting om die volgende redes onaanvaarbaar.
1) Al sou die modus operandi konstant gebly het, volg dit hoegenaamd nie dat twee persone, en meer bepaald

15

dieselfde twee persone, al die misdade gepleeg het nie. Selfs al sou die tweede appellant 'n medepligtige ten opsigte van sommige daarvan gewees het, kon dit ligtelik gebeur het dat die eerste appellant somtyds die enigste dader was of van
'n ander handlanger gebruik gemaak het. Vanweë eerste appellant se volgehoue betrokkenheid kan die aard van die pleging van die misdade dus 'n patroon gevolg het.
2) Die feit dat die appellante goed bevriend was en saam gewoon het, is nie genoegsaam om 'n af leiding dat hulle gesamentlik een of meer van die misdade gepleeg het, te regverdig nie. Dit is trouens insiggewend dat die tweede appellant in sy verklaring slegs na die gebeurde op die Sondagaand verwys. En selfs al sou daar goeie redes wees om te aanvaar dat hy by sommige van die ander misdade betrokke was, kan hulle nie geïdentifiseer word nie.
Dit volg dus dat die afleiding wat die verhoorhof teen die tweede appellant gemaak het nie geregverdig was nie. Samevattend is die getuienis onvoldoende om, behoudens klag

16

10, die skuld van die tweede appellante buite redelike twyfel te bewys.
Opsommenderwys dus moes die eerste appellant m.i. skuldig bevind gewees het op aanklagte 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 12 en 13, en die tweede appellant slegs op aanklag 10, maar sonder 'n bevinding dat verswarende omstandighede teenwoordig was.
Daar is ook 'n appèl teen die globale effek van die gevangenisstraf die eerste appellant opgelê. Wat tans ter sake is, is aanklagte 4-10 en 13 waarop die eerste appellant gesamentlik tot 41 jaar gevangenisstraf gevonnisis. Die misdade waaraan hy hom skuldig gemaak het is onteenseglik wrede en weersinwekkende misdade wat 'n bedreiging ingehou het, nie slegs vir die ongelukkige slagoffers nie, maar ook vir die gemeenskap in die algemeen. Die verhoorhof was dus sekerlik geroepe om swaar vonnisse vir elkeen van die oortredings op te lê, en ek is van mening dat al hierdie vonnisse ten volle gepas is. Die kumulatiewe uitwerking kom

17

my egter te swaar voor, en ek meen dat die verhoorregter van die vonnisse moes laat saamloop het. Die gesamentlike vonnis wat ek as regverdig beskou, verskil in son mate van die gesamentlike vonnis deur die verhoorregter opgelê, dat ek van mening is dat hierdie hof daarmee behoort in te meng deur sekere van die opgelegde vonnisse saam te laat loop. (Vergelyk S v Anderson 1964 (3) SA 494 (A).)

1. Ten opsigte van die eerste appellant -

(a)slaag die appèl teen die skuldigbevindinge en vonnisse op aanklagtes 1, 2, 3, en 11;
(b)die appèl teen die skuldigbevindinge en von-nisse op die orige aanklagte word van die hand gewys maar dit word beveel dat die von-nisse op aanklagte 4, 5, en 6 saam sal loop, en dié op aanklagtes 7, 8, en 9 ook saam sal loop. Die gevolg hiervan sal wees dat die eerste appellant gesamentlik 25 jaar gevangenisstraf sal uitdien.

18

2. Ten opsigte van die tweede appellant -

(a)slaag die appèl teen die skuldigbevindinge en vonnisse op aanklagte 1 tot 9 en 11 tot 13;
(b)die skuldigbevinding op aanklag 10 word ge-wysig na een van huisbraak met die opset om

te roof en daar word 'n vonnis van 5 jaar ge-vangenisstraf opgelê.

J.P.G. EKSTEEN, AR

VAN HEERDEN, AR )

KUMLEBEN, AR ) stem saam


SAFLII: | Terms of Use | Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1989/24.html