![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
Saaknommer 565/87 - mp
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
PATRICK MTHETHWA Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: HOEXTER, SMALBERGER et KUMLEBEN, ARR
VERHOOR: 15 Augustus 1988 GELEWER: 24 Augustus 1988
UITSPRAAK
HOEXTER. AR
2
HOEXTER, AR
Dit is 'n strafappèl teen vonnis alleen. Op 6 Junie 1986 en in die Sentrale Gevangenis te Pretoria is die 35-jarige gevangene Elliot Seema op grusame wyse om die lewe gebring. Hy is geslaan en met die geskoende voet geskop tot hy sy bewussyn verloor het; en in sy bewustelose toestand het hy gebraak en deur asemhaling versmoor. Die oorledene se aanvallers was drie van sy selmaats in die gevangenis : die 30-jarige Johannes Rapau, die 32-jarige Stevens Raseemela en die 36-jarige appellant. Voor 'n hof bestaande uit waarnemende regter MYBURGH en twee assessore het voormelde drie persone gesamentlik op 'n aanklag van moord op die oorledene tereggestaan. Geriefshalwe verwys ek hierna na Rapau en Raseemela as "beskuldigde 1" en "beskuldigde 2" onderskeidelik.
Die drie beskuldigdes het hul eie verdediging
3
waargeneem. Elkeen het onskuldig gepleit en na afloop van die
staatsaak het elkeen self getuig. Die verhoorhof het eenparig aldrie
beskuldigdes aan moord met versagtende omstandighede skuldig bevind. Die
verhoorregter het beskuldigdes 1 en 2 tot agt jaar en sewe
jaar gevangenisstraf
onderskeidelik gevonnis. Nieteenstaande die bevinding van versagtende
omstandighede is die appellant die doodstraf
opgelê. Met verlof van die
verhoorregter kom die appellant teen sy doodvonnis in hoër beroep. Sy
appèl is deur
mnr Toweel beredeneer terwyl mnr van den Berg
(wat ook by die verhoor namens die Staat opgetree het) die respondent se betoog
behartig het.
Namens die appellant is betoog dat die verhoor-regter met
betrekking tot die aard en omvang van die appellant se vorige veroordelings
'n
mistasting begaan het as gevolg waarvan hy by straftoemeting sy diskresie
4
nie op 'n behoorlike wyse uitgeoefen het nie. Die feite waarop hierdie argument steun en wat ook gemene saak is, kan kortliks soos volg saamgevat word:-
(1) Ten tyde van sy verhoor het die appellant 'n lang lys vorige veroordelings gehad wat van Julie 1967 tot Februarie 1986 gestrek het. (2) Op 16 Desember 1984 is die appellant onvoorwaardelik deur die Gevangenisraad vrygelaat. (3) Daarna en op 26 Februarie 1986 is die appellant
weens poging tot moord (twee klagtes) asook oortreding van die Wet op Wapens en Ammunisie, 76 van 1969, (twee klagtes) veroordeel en altesaam effektief tot 13-en-'n-half jaar gevangenisstraf gevonnis.
(4) Op die appellant se vorm SAP 69(c) wat by sy skul-
digbevinding in die
Hof a quo deur die Staat voorgelê
is, is die gegewens in
paragrawe (2) en (3) hierbo
aangestip korrek aangeteken, dog weens 'n
drukfout
5
is die inskrywing met betrekking tot die appellant se onvoorwaardelike vrylating foutiewelik gedupliseer sodat dit nie alleen bokant die inskrywing met betrekking tot die vonnisse op 26 Februarie 1986 voorkom nie maar - na tydsorde verkeerd - ook on-middellik daarna. Na laasgenoemde inskrywing word hierna as "die verkeerde inskrywing" verwys. Bygevolg het die laaste drie inskrywings op die vorm SAP 69(c) uitgesien soos hieronder weergegee:-
SEE ORIGINAL JUDGEMENT PAGE
6 (5) By die verhoor is mnr van den Berg deur die verkeerde
inskrywing mislei. By hom het dit die indruk verwek
as sou die appellant ten tyde van die verhoor 'n
vonnis uitdien wat glad nie op sy vorm SAP 69(c)
voorkom nie. As gevolg van hierdie bona fide mis-
gissing het mnr van den Berg 'n stelling in dier
voege aan die verhoorhof gemaak, en aan die hand
daarvan is die appellant deur die verhoorregter
verder uitgevra. Ter toeligting haal ek uit die
oorkonde aan:-
"BESKULDIGDE 3 SE VORIGE VEROORDELINGS WORD
AAN HOM GESTEL:
MNR. VAN DEN BERG: Dit blyk dat hy eweeens tans
'n vonnis uitdien wat nie op sy SAP.69 voorkom nie.
HOF: Beskuldigde 3, watse vonnis dien jy tans uit?
BESKULDIGDE 3: 13 en 'n half jaar.
HOF: Waarvoor is dit?
BESKULDIGDE 3: Dit was poging tot moord.
HOF: Waar is jy verhoor daarvoor?
BESKULDIGDE 3: Dit is by Laudium.
HOF: Ja, maar by watter Hof is jy veroordeel?
BESKULDIGDE 3: Dit is by Streekhof, Pretoria.
HOF: Wanneer is jy gevonnis daarvoor?
BESKULDIGDE 3: Februarie 1986
7
MNR. VAN DEN BERG: Kan ek net miskien vir die Agbare
Hof meld dat
hy nie - dit kon nie net een klag gewees
het nie, want die streekhof is
gebonde aan tien
jaar.
HOF: Sê nou mooi vir ons, hierdie 13
en 'n half
jaar wat jy nou uitdien, is jy nou in die Streekhof
skuldig
bevind, en wat was die vonnis wat die Landdros
jou opgelê
het?
BESKULDIGDE 3: Dit is die Streekhof.
HOF: Ja, maar wat
was die vonnis wat hy jou opgelê
het?
BESKULDIGDE 3: Dit was
10 jaar eers, dit was twee
10 jaar gevangenisstraf, en hulle het toe gesê dat
agt jaar saamloop
met die eerste 10 jaar en 18 maande
en 12 maande en hulle het ook gesê
dat 12 maande
saamloop met die 18 maande gevangenisstraf.
HOF: Dan
maak dit 13 en 'n half. Nou wat het jy
nou in daardie saak
gedoen?
BESKULDIGDE 3: Hulle het my geroof.
HOF: Hulle het
jou nie geroof nie, want anderste
sal jy nie in die tronk sit
nie.
BESKULDIGDE 3: (Praat in die Swarttaal)
HOF: Nee, maar
hoor hier, hoor hier. Jy het nou
in die Streekhof verskyn, daar was 'n klagte
teen
jou, lyk vir my twee klagtes van roof, is dit reg?
BESKULDIGDE
3: Ek het saam met ander mense geloop,
ek was in die voertuig en ek was
onder die invloed
van drank. Toe hierdie mense hulle het nou 'n mis-
daad
gaan pleeg en ek was in die voertuig, die polisie
het daar my kom
arresteer.
HOF: Nee, maar die klagte waarop jy skuldig bevind
is,
was die klagte waarop jy skuldig bevind is roof?
BESKULDIGDE 3: Hulle
sê dit is roof, ja.
8
HOF: Ja, twee klagtes. Hoe oud is jy nou? BESKULDIGDE 3: Ek is nou 36 jaar oud."
(6) Onder die verkeerde inskrywing op
die vorm SAP 69(c)
het die verhoorregter in manuskrip die volgende aan-
tekening aangebring:-
"2 klagtes Roof 10 13 en 'n half poging tot moord
Feb. 86"
(7) In sy uitspraak by vonnisoplegging het die verhoorreg-
ter aan die hand van vorm SAP 69(c), en beginnende by
die heel eerste oortreding in 1967, die appellant se
strafrekord uitvoerig ontleed. Toe die verhoorregter
by die eerste (en korrekte) inskrywing m b t die appel-
lant se onvoorwaardelike vrylating gekom het, het die
verhoorregter hom soos volg uitgelaat:-
"Op 16 Desember 1984 is hy weer vrygelaat op parool. Nou moet jy mooi luister wat kom nou. Op 26 Februa-rie 1986 is hy gevonnis tot tien jaar gevangenisstraf op elk van twee klagtes waarvan agt jaar op die
9
tweede klagte saamloop met die vonnis op die eerste klagte. Dit was twee klagtes van poging tot moord waar 'n vuurwapen gebruik was. Hy was ook op daardie datum gevonnis vir die besit van 'n vuurwapen sonder 'n lisensie en gevonnis tot 18 maande. En ook 12 maande vir die besit van ammunisie. Op 16 Desember 1984 is hy vrygelaat op parool. Gedurende 1986 is hy skuldig bevind - jy het eers gesê, beskuldigde, die vonnis wat jy uitdien was vir poging tot roof of moord - is hy skuldig bevind op twee klagtes, jy het eers gesê roof en toe het jy dit verander - is hy skuldig bevind op twee klagtes van poging tot moord en hy is gevonnis op elkeen tot tien jaar gevangenisstraf en hy het tans nou nog van daardie vonnis wat hy moet uitdien 13 en 'n half jaar oor. Dit wil sê dit is nou al vier persone wat onder 'n dreigement van moord van jou gestaan het en op die oomblik het jy nou deelgeneem aan die huidige aanslag van moord waaraan jy skuldig bevind is, en jy het vir ons beskrywe hoe jy die man is wat op die end in 'n bui van woede die man so geskop het toe het toe hy gelê het op die grond en sy gesig vir hom ingeskop het."
Tot sover die onbetwiste feite. Die appellant
is die
doodstraf op 3 Augustus 1987 opgelê. Op 19 Oktober
1987 het die
verhoorregter verlof aan die appellant om teen
die opgelegde vonnis te
appelleer, toegestaan. Die gronde
waarop die aansoek om verlof om te
appelleer gesteun het,
10
het o a ingesluit die bewering dat as gevolg van 'n stelling
van die staatsadvokaat die verhoorregter hom wanvoorgelig
het ten opsigte van die appellant se vorige veroordelings
en bygevolg ten
onregte bevind het dat daar al vier persone
was wat onder 'n dreigement van
moord deur die appellant gestaan
het, terwyl dit in werklikheid slegs twee
persone was. Vervol-
gens is in gemelde gronde aangevoer dat uit hoofde
hiervan
die verhoorregter onderskei het tussen beskuldigde 1 en
die
appellant in weerwil van die feit dat albei eweveel
vorige
veroordelings het waarby geweld betrokke is.
Ofskoon die belese verhoorregter verlof om te appelleer
toegestaan het, het hy die bewerings vervat in die besondere
gronde vir die aansoek hierbo aangestip, verwerp. In die
loop van sy uitspraak waarby verlof om te appelleer toegestaan
is, verklaar die belese regter:-
"Daar is een aspek wat ek egter wil na verwys. In my uitspraak oor die vonnis het ek die volgende gesê op bladsy 323:-
11
'Dit wil sê, dit is nou al vier persone wat onder 'n dreigement van moord van jou gestaan het, en op die oomblik het jy nou deelgeneem aan die huidige aanslag van moord waaraan jy skuldig bevind is.' Hierdie vier aangeleenthede wat hier in my gedagte was, was die twee gevalle van poging tot moord. En die geval toe hy sommer nog 'n jong seun was waar hy die persoon (en die vonnis was gelewer 3 Augustus 1969) met 'n mes gesteek het. Dit staan hier so aangeteken:
Pretoria 3 Augustus 1969 Verwys na verbete-
ringskool. Strafbare manslag-mes. Die ander geval wat ek in gedagte gehad het, was op 2 November 1981. Hier staan dit so aangeteken: Rig van 'n vuurwapen - roof. R50 of 50 dae
gevangenisstraf. Vier jaar gevangenis-straf wat opgeskort is. Dit wil sê, dit is 'n geval van 'n roof wat gepleeg is met die rig van 'n vuurwapen. Dit is die gevalle wat ek in gedagte gehad het toe ek gepraat het van die vier. Ek het die vonnisse uiteengesit in my uitspraak en ek is glad nie wat die aanbetref, onder 'n wanindruk nie."
Met alle eerbied aan die verhoorregter doen bostaande verduide-
liking enigsins vreemd aan. In billikheid teenoor die verhoor-
12
regter moet in gedagte gehou word dat by die aansoek om verlof
om te appelleer dit vir hom nodig was om 'n insident in 'n verhoor-saak
wat meer
as 2 en 'n half maande tevore afgehandel is in herinnering te roep; en dat hy
dit moes doen sonder 'n oorkonde van die verhoorverrigtinge
as hulpmiddel om sy
geheue te verfris omtrent die verwikkelinge rondom die verkeerde inskrywing op
die vorm SAP 69(c).
Na my beskeie mening het die verhoorregter se
herin-neringsvermoë hom hier in die steek gelaat. Die aanneemlikheid van sy
rekonstruksie
moet beoordeel word met inagneming van die presiese wyse waarop
die verrigtinge ontplooi het, eerstens by voorlegging van die appellant
se vorm
SAP 69(c) en ten tweede by oplegging van vonnis. By nalees van die twee
passasies in die oorkonde wat hierop slaan en wat
reeds aangehaal is, bestaan na
my oordeel weinig twyfel dat die verhoorregter inderdaad tot die verkeerde
gevolgtrekking geraak het
dat die appellant die verwyt van vier ernstige
geweldsmisdade
13
dra, twee waarvan nie op sy vorm SAP 69(c) vermeld word nie. Die verhoorregter se verduideliking strook nie (a) met die feit nie dat die verkeerde stelling wat die staatsadvokaat gemaak het in die loop van die daaropvolgende ondervraging van die appellant deur die verhoorregter nie deur enige gepaste weersprekende stelling aan die kant van die verhoorregter reggestel is nie en (b) met die hele trant van die verhoorreg-ter se opmerking by oplegging van vonnis nie ná sy woorde-
"Nou moet jy mooi luister wat kom nou.."
en onmiddellik vóór sy verdere opmerking:
"Dit is nou al vier persone wat onder 'n dreige-ment van moord van jou gestaan het."
Voorts is die verduidelking moeilik te rym met die manuskrip-
inskrywing
wat die verhoorregter self onder die verkeerde
inskrywing op die vorm SAP 69(c) aangebring het.
Na my mening staan dit vas sowel dat die verhoor-
14
regter hom m b t die appellant se strafrekord
misgis het as
dat gemelde wanvoorligting by straftoemeting 'n wesenlike
rol
gespeel het. Bygevolg het die verhoorregter sy diskresie
op 'n
aanvegbare wyse uitgeoefen en moet die opgelegde vonnis
tersyde gestel
word.
Volgens die verhoorhof se waarnemings was beskuldige
1 'n frisgeboude persoon, beskuldigde 2
ietwat skraler, en
die appellant in vergelyking met sy mede-beskuldigdes
-
"'n baie tingerige, en volgens voorkoms patetiese persoontjie."
Uit die aangevoerde getuienis blyk dat
onder die beskuldigdes
dit beskuldigde 1 was wat die rol van leier vertolk
het.
Daarenteen gaan in die weegskaal dat by n vergelyking van
die vorige
veroordelings van beskuldigde 1 en die appellant
die geweldsmisdade wat die
appellant op sy kerfstok het aan-
sienlik meer ernstig as dié van beskuldigde 1 is. Die be-
skuldigdes het die oorledene met 'n gemeenskaplike oogmerk
15 aangerand,
Wat die laakbaarheid van hul meedoënlose aanval op die oorledene betref,
vind ek geen grondige rede om die deelname
en optrede van die appellant skerper
as dié van sy mede-beskuldigdes te veroordeel nie. Dit wil my voorkom dat
geregtigheid
sou geskied as in die geval van die appellant 'n termyn van tien
jaar gevangenisstraf opgelê word. Aangesien die appellant
tans 'n lang
termyn van gevangenisstraf uitdien, is dit egter gepas dat 'n gedeelte van die
vonnis in die onder-hawige geval gelyktydig
daarmee saamloop.
Die
appél slaag. Die opgelegde doodvonnis word tersyde gestel en word met 'n
vonnis van tien jaar gevangenis-straf vervang,
vier jaar waarvan gelyktydig
uitgedien sal word met die vonnisse wat die appellant gedurende Februarie 1986
weens skudígbevinding
aan poging tot moord opgelê is.
SMALBERGER, AR ) G G HOEXTER, AR
Stem saam KUMLEBEN, AR )
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1988/81.html