SAFLII [Home] [Databases] [WorldLII] [Search] [Feedback]

South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1988 >> [1988] ZASCA 42

[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]


S v Jantjies (313/86) [1988] ZASCA 42 (31 March 1988)

PDF of original document.PDF of original document

.RTF of original document


JAMES JANTJIES Appellant

en

DIE STAAT Respondent

Saaknommer 313/86 mp

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

APPeLAFDELING

In die saak tussen:

JAMES JANTJIES Appellant
en
DIE STAAT Respondent

CORAM: JANSEN, STEYN, ARR et KUMLEBEN, Wnd AR

VERHOOR: 4 Maart 1988 GELEWER: 31 Maart 1988

UITSPRAAK

STEYN, AR
2.
STEYN, AR,
Toe koning Dawld Uria die Hetiet na sy dood laat stuur het teen die Ammoniete om daardeur sy weduwee Batseba as vrou te kon vat het hy geswig voor twee van die oersondes van die mens, dié wat in die 7de en lOde gebooie verbied word. Die gevolge daarvan was tragies vir die drie van hulle. Die een het sy lewe verloor, die ander sy eer en die vrou haar kind gebore uit haar sondige samesyn met die koning. Dawid was 'n voortreflike mens wat gestruikel het in 'n slaggat van menslike swakheid. Dit is ook die geval met die appellant. Hy het ook op 'n ander man se vrou verlief geraak, met haar owerspel gepleeg, en haar probeer oorreed om haar man te verlaat en met hom te trou. Anders as die geval van koning Dawid het appellant egter nie daarin geslaag om sy minnares as vrou te vat nie maar was daar gelukkig geen lewensverlies in die moeilikheid wat op sy mislukte pogings gevolg het nie. Vier mense is

egter

3.

egter fisies daarby betrek en nie net een soos in Uria se geval nie.

Appellant het sy minnares, mev Frederika Sawyer, haar eggenoot, Edward Sawyer en die twee jongste Sawyer kinders, die 4 jaar oue Fiona en twee jaar oue Byron op Sondagaand 21 Oktober 1984 probeer vermoor deur hulle met sy motorkar in Reddylaan, Grassy Park in die Kaap, om te ry. Hulle is almal raakgery en ernstig beseer maar het die aanslag genadiglik oorleef.

Appellant het weens daardie voorval in die
Streekhof te Wynberg op 1 April 1985 tereggestaan op vier
aanklagtes van poging tot moord. Hy het onskuldig gepleit,
is deur 'n advokaat verdedig en het in eie verdediging getuig.
Sy verweer was 'n erkenning van die minneverhouding met
Frederika Sawyer maar 'n ontkenning dat hy die Sawyers probeer
vermoor het of doelbewus raakgery het. Hy het beweer dat
terwyl hy in Reddylaan gery het, die Sawyers onverwags met
die

4.

die twee jong kinders voor hom ingehardloop het. Appellant se weergawe van die omryvoorval is egter verwerp en hy is skuldig bevind op al vier aanklagtes. Na*»aanhoor van
breedvoerige getuienis ter versagting van vonnis, is die vier aanklagtes saamgeneem vir bestraffingsdoeleindes en is ses jaar gevangenisstraf aan appellant opgelê waarvan drie jaar voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is. Sy appel teen die skuldigbevinding en vonnis is deur die Kaapse Hooggeregshof op 13 Februarie 1986 van die hand gewys maar hy is toe verlof verleen om verder na hierdie Hof teen die vonnis te appelleer. Sy aansoek na die Hoofregter om verlof om ook verder teen sy skuldigbevinding te appelleer is op 30 Mei 1986 geweier.

Dit is slegs appellant se strafwaardigheid waaroor nou herbesin moet word. Die feite vir daardie doel ter sake is hoofsaaklik te vinde in die gronde vir die skuldigbevinding wat nou nie meer in geskil is nie, en

die
5. die persoonlike gegewens van die appellant. Ek vat hulle

kortliks soos volg saam:

Appellant is gebore op 1 April 1933 te Beaufort-Wes. Hy was een van tien kinders, waarvan hy die oudste seun was. Drie susters was ouer as hy. Sy ouers was eenvoudige landelike mense wat vir hulle kinders 'n stabiele en vaste familielewe gegee het. Appellant het geen formele opvoeding geniet nie maar het op eie inisiatief na Kaapstad verhuis en daar deur bywoning van nagskole 'n geletterdheids= vlak gelykstaande aan standerd 3 bereik. Hy het met verloop van tyd deur ywerige werkstoewyding uiteindelik homself so opgehef dat hy die eienaar van h goeie gehalte en goedtoege= ruste woonhuis geword het en in 1973 h eie besigheid in die vorm van h ry-skool bekom het waarin hy mense onderrig en voorberei vir die verkryging van lisensies as motorbe= stuurders. Op 21 Oktober 1984 was appellant 51 jaar oud, was hy reeds vir 35 jaar getroud en was hy die vader van

een

6.

een kind, 'n dogter van 30 wat 'n fabriekswerkster is. Appellant wou haar verder laat leer nadat sy skool verlaat het, maar sy wou nie. Dit was vir hom 'n groot teleurstelling. Sy het 'n hegte verhouding met haar moeder, soms ter uit= sluiting van appellant. Sy vrou is h naïwe kind van die Groot Karoo, feitlik onaangeraak deur die stadslewe en hunker terug na haar kinderjare op Beaufort-Wes. Dit is duidelik dat appellant as persoon weens sy volgehoue self-opheffing ver meer ontwikkel het as sy vrou, dat sy belangstellings verbreed het terwyl hare feitlik bly stilstaan het en dat hy met verloop van tyd al minder bevrediging uit hul huwelik geput het. Tekenend van die gevoel van vervreemding en frustasie wat sy vrou se houding by hom gewek het is die volgende opmerkings oor haar wat appellant o a aan mev Edith Vries, 'n geregistreerde maatskaplike praktisyn, gemaak het: "Sy is baie stil en besig met haar eie gedagtes en eie dinge; sy het haar eie manier van
enigiets doen, jy kan haar niks leer en (haar) nie

verander

7. verander nie."

Só 'n toestand skep 'n geil teelaarde vir die aanknoop van 'n buite-egtelike liefdesverhouding; en terwyl appellant daarin verkeer het, verskyn Frederika Sawyer in ongeveer 1978 op die toneel. Sy het by hom kom leer hoe om 'n motorkar te bestuur. Terwyl sy appellant se leerling was het daar egter nog nie 'n liefdesverhouding tussen hulle ontstaan nie. Dit het eers ongeveer 9 maande tot 'n jaar later, gedurende 1979, gebeur na verdere kontak tussen hulle twee. Sy het hom in sy besigheid kom help. Op daardie stadium het sy reeds drie kinders by haar man, Edward, gehad, 'n dogter, Livia, en twee seuns. Hulle was toe onderskeidelik 13, 11 en 5 jaar oud. Die verhouding tussen appellant en Frederika het met verloop van tyd hegter geword. Haar huwelik was ook aan die taan. Sy het by appellant gekla dat haar man nie meer in haar belangstel nie, dat hy niks meer met haar te doen wou hê nie en gesê het dat sy seksueel yskoud

is

8.

is en 'n "ysberg" is. Hulle het klaarblyklik vertroosting by mekaar gesoek en gekry.

Mettertyd het 'n warm liefdesverhcmding tussen hulle ontstaan. Dit het appellant groot bevrediging en genot verskaf. Mev Vries het 'n reeks onderhoude met hom gevoer om haar voor te berei om getuienis ter versagting van vonnis namens hom te lewer. Sy het 'n verslag, bew C, opgestel, ook vir doeleindes van vonnis en het namens hom getuig. Tydens lewering van daardie getuienis na appellant se skuldigbe= vinding het sy haar verslag ingehandig en die inhoud daarvan bevestig. Daarin het sy die liefdesverhouding só beskryf (klaarblyklik op grond van inligting deur appellant aan haar verskaf):

"The relationship between the accused and

Mrs Sawyer developed into a sexual relationship.

The accused always made the advances. He

describes Mrs Sawyer as a very satisfactory

andexciting loyer, being totally different

to his wife."
Appellant en Frederika het hulle verhouding dig

gehou ........
9. gehou en gereeld uitgewyk na Somerset-Wes waar hulle onbekend was en waar hulle hand om die lyf kon loop.

Tydens die bestaan van hul liefdesverhouding is mev Sawyer se jongste twee kinders, Fiona en Byron, gebore. Alhoewel hulle geboortes onder die naam van Sawyer geregistreer is en mnr Sawyer hulle as sy eie kinders behandel en onderhou het, was appellant oortuig dat hy hulle verwek het en het hy hulle as sy kinders beskou, hulle telkens besoek en dikwels geskenke gegee. Tydens die voorval op 21 Oktober 1984 was mev Sawyer weereens swanger en appellant was oortuig dat hy ook daarvoor verantwoordelik was. Weens die voorval het sy egter 'n miskraam gehad.

Mnr Sawyer was aanvanklik onbewus van die verhouding maar appellant se vrou het snuf in die neus gekry, mev Sawyer haar huis verbied en geweier om met haar oor die telefoon te praat. Die verliefdes se minnedrif is egter nie deur mev Jantjies se misnoeë getemper nie. Mev Sawyer

het
10. het met elk van die voormelde drie swangerskappe by appellant aangedring om haar van haar huislike omstandighede te "red". Hy het aanvanklik daarmee gesloer, maar met haar laaste swangerskap het hulle uiteindelik tot die besluit gekom dat elkeen sou skei en dat hulle dan met mekaar sou trou. Met dié doel voor oë het appellant 'n huis op Genadedal gehuur en haar en die twee jongste kinders soontoe geneem in September 1984. Vandaar het sy Kaap toe gekom om regshulp vir doeleindes van h egskeiding te reël. Teen hierdie tyd het mnr Sawyer egter besef dat hy daadwerklik sou moes ingryp om hul huwelik te red. Hy het haar toe oorreed om hul huweliksprobleme met die Hoëpriester van hul kerk te gaan bespreek. Daar het sy gebieg oor haar verhouding met appellant en het hulle besluit om hul huwelikslewe te hervat. Hierdie besluit het haar egter emosioneel so uitgemergel dat sy vir vier dae in 'n verpleeginrigting behandel moes word. Daarna het mnr Sawyer haar vir h wyle na Genadendal terug geneem maar

op

11.

op 6 Oktober weer gaan haal en huistoe gebring. Hulle het toe hul saamwoon hervat.

Appellant wou egter nie van haar afsien nie. Hy het sy verhouding met haar gerasionaliseer en had geen skuldgevoel daaroor nie. Hy het haar gedurig bly lastig val en het nie gehoor gegee aan mnr Sawyer se versoek om
nie meer in hul huwelik in te meng nie. Hy het 'n oorlas van homself gemaak deur die Sawyers gedurig te verpes met telefoonoproepe, 'n heen en weer ryery voor hul huis verby en 'n herhaaldelik oorloerdery oor hul tuinmuur. Snags het hy ook hul vertrekkende besoekers getreiter deur agter hulle aan te ry met die hoofligte van sy motor op helder gestel. Die Sawyers was erg onthuts deur appellant se optrede maar het dit nietemin vreedsaam verduur.

Op Saterdag 20 Oktober het sake egter 'n onheil= spellende wending geneem. Op daardie dag was die Sawyers op pad huis toe na 'n besoek aan Edward se broer. Appellant het hulle voorgelê en "stamper teen stamper" agter hulle

aangery

12.

aangery tot by hul huis. Toe mnr Sawyer die motorhek gaan oopmaak het appellant ook uit sy motor geklim en mev Sawyer, wat nog in die motor gesit het, soos volg gaan aanspreek:

"Wat dink jy, wat doen jy dan nou? Wanneer kom jy huis toe? Wat is jou plan?"

Mnr Sawyer gaan toe na appellant, sê aan hom:

"Kyk, mnr Jantjies, ons wil niks meer met jou te doen hê nie."

vat hom aan sy arm en stoot hom weg. Dit het appellant

klaarblyklik intens vererg; hy het geantwoord:

"Dit is die laaste keer wat jy jou hande op my sal sit. Ek sal sien wat ek met jou sal doen."

Toe het appellant by die hek uitgegaan en in sy motor vertrek. Op die Sondagoggend, 21 Oktober, het appellant die Sawyer gesin weer lastig geval met sy gedurige heen en weer ryery voor hul huis.

Die Sawyers is gereelde kerkgangers en Sondagmiddag het die egpaar saam met Livia en die twee kleintjies kerk

toe

13.

toe gegaan. Hul kerk is ook in Reddylaan gelee, skuins oorkant die straat van hul tuiste wat geleë is op die hoek van Reddy- en Crowielane. Kort na 18h00 het die kerk uitgekom en Livia is vooruit in die geselskap van 'n vriend. Sy is met 'n ompad huis toe. Haar óuers het na haar met die twee kindertjies 'n korter roete huis toe gevolg. Mev Sawyer het Fiona aan die hand gehad en haar man het Byron op sy arm gedra. Op pad huis toe het Livia appellant sien sit in sy silwer-grys Golf motorkar aan die oorkant van die straat soos sy geloop het. Hy was geparkeer drie erwe weg van die Sawyers se huis. Hy was alleen in die motor. Toe die Sawyers hul woning nader het hulle aan die oorkant van die straat geloop en moes dit kruis om hul erf te bereik. Edward Sawyer het ook appellant in sy voertuig gewaar voordat hulle die straat begin oorsteek het. Die motor was geparkeer aan appellant se linkerkant van die straat, aan dieselfde kant as die Sawyers se huis maar aan die anderkant daarvan en omtrent 80 m van Edward af.

Terwyl die Sawyers besig was om die straat oor

te

14.

te steek het appellant skielik met 'n geweldige vaart weggetrek en op hulle afgepeíl. Hulle het vinniger geloop om betyds oor die straat te kom en het daarin geslaag om die sypaadjie te bereik by hul voorhek. Appellant het egter na links uit die straat na hulle toe uit geswaai en hulle teen 'n hoë spoed met soveel krag reg van voor getref dat die vier van hulle 15 m ver bo-oor die hoekmure van.die erf geslinger is tot in Crowielaan. Die verste hoekmuur (dié langs Crowielaan) is 5 vt hoog. Waar hulle geval het het hulle bly lê, en is hulle deur mede-kerkgangers en bure te hulp gesnel.

Appellant het sy motorkar by die straataansluiting tot stilstand gebring, uitgeklim en na die beseerdes gaan kyk, maar hulle nie gehelp versorg nie. Hy was klaarblyklik ongevoelig oor hul lot en sonder berou vir wat hy aan hulle gedoen het. 'n Mede-kerkganger van die Sawyers, Emanuel Brooks, het aan appellant, wat met gevoude arms na die

beseerdes

15.

beseerdes gestaan en kyk het, gevra waarom hy "hulle so gestamp het". Appellant se antwoord was dat dit hul eie
skuld is. Hy het lankal vir die vrou gesê sy moet haar man los en dat hy, appellant, 'n huis vir haar het maar "sy wil nie", en dat dit sy kinders is wat "hier rondloop." Dit is waarom hy dit gedoen het. Hy het later bygevoeg hy "sal hulle vrekgery het." Ten aanhore van ander helpers en omstaanders het appellant met dieselfde soort van houding, gesê "as ek dit nie op dié manier gedoen het nie sou ek hulle tog maar vrek geskiet het", en "dit is my vrou daai en sy vat my kinders ook weg; ek het mooi gepraat met hulle maar hulle wil nie luister nie."

Die aanwesiges was verontwaardig deur appellant se gedrag en van hulle het hom aangesê om in sy motorkar te gaan sit. Hy het dit gedoen maar is daarna te lyf gegaan deur een van hulle toe appellant hom tydens 'n woordewisseling gevloek het. Toe konstabel Meyer van die

Suid-Afrikaanse

16.

Suid-Afrikaanse Polisie by die toneel opdaag was die ambulans reeds daar en was die beseerdes al daarin gelaai. Appellant was steeds by sy motor en was volgens konstabel Meyer "very cool and calm" en het hy geen besorgdheid oor die beseerdes getoon nie. Appellant het aan Meyer verduidelik dat 'n stuk yster onder sy sitplek hom gehinder het terwyl hy bestuur het. Dit het onder sy sitplek uitgegly en toe hy buk om dit terug te stoot het die ongeluk gebeur. Meyer het wel 'n stuk yster in die motor gevind maar dit was onder die passassierssitplek langs dié van die bestuurder en sou nie vir appellant kon gehinder het nie. Appellant se voertuig was aan die voorkant omtrent in die middel beskadig. Meyer het nie gesê deur wie die polisie ontbied is nie. Appellant het getuig dat hy dit gedoen het. Van die staatsgetuies het gesê dat hy pas na die voorval in sy motor vertrek het en na 'n kort rukkie weer teruggekeer het. Die landdros het melding gemaak van appellant se bewering in dié verband maar nie laat blyk of hy dit aanvaar het of

nie

17. nie. Vir doeleindes van hierdie uitspraak sal ek aanvaar dat appellant wel die polisie ontbied het soos deur hom beweer.

Die feit dat hy dit gedoen het is onder die omstandighede egter geen ondubbelsinnige aanduiding van berou nie. Appellant se optrede na die voorval was nie konsekwent nie. Op die toneel het hy aan die omstanders te kenne gegee dat hy die Sawyers opsetlik omgery het en dat hy goeie rede gehad het om dit te doen. Maar daarna het hy homself deurgaans probeer beskerm deur valslik te beweer dat dit 'n blote ongeluk was. In die verhoor het hy selfs sover gegaan om die skuld op die Sawyers to probeer pak deur valslik te beweer dat hulle onverwags voor hom ingehardloop het en sodoende deur hom getref is in weerwil daarvan dat hy hulle probeer vermy het deur na links weg te swaai.

Die feit dat appellant die polisie gaan ontbied het is waarskynlik deel van sy poging om homself aldus te beskerm. Daardie waarskynlikheid is versterk deur die

verontskuldigende

17(a)

verontskuldigende verduideliking wat hy op die toneel aan konst Meyer gegee het.

Die geweld deur appellant teen sy slagoffers gebesig was van 'n besonder ernstige graad. Ek deel LATEGAN, R se siening dat dit "net h wonderwerk (is) dat die mense inderdaad nie gesterf het nie". Edward Sawyer is deur die geweld van die raakry katswink geslaan en het eers in die hospitaal weer bygekom. Hy is tot 'n ernstige, en sy vrou tot 'n tragiese mate beseer. Edward se regterhand is gesny van die binnekant van die duim oor die kneukels tot by die pinkie en ten tyde van die verhoor was die gebruik van daardie hand nog nie ten volle herwin nie. Sy linker skouer was uit die potjie geruk en een van die bene van die linkerarm gekraak. Aan die agterkant van sy linkerkuit en aan albei knieë het hy oop wonde gehad. Hy het ook oop wonde aan die kop en gesig gehad wat met hegsteke toegewerk

moes

18.

moes word en sigbare littekens gelaat het. Sy beseerde hand is geopereer. Frederika het skedelbreuk opgedoen; een van haar linker oogspiere is beseer; met daardie oog sien sy nou dubbel en moet 'n regstellende bril dra. Haar bekkenbeen het gebreek en lê nou skeef na links. As gevolg daarvan loop sy mank. Haar nek was ernstig verwring; 'n tandvleis senuwee in een van haar kakebene is beseer; en sy het oop wonde aan haar gesig, hande, bene en regtervoet opgedoen wat duidelik sigbare littekens gelaat het. Sy het haar sintuie van smaak en reuk verloor en ten tyde van die verhoor nog nie herwin nie. Sy was ses maande swanger en het, soos reeds gemeld, die kind verloor. Wonderbaarlik is die twee kindertjies minder ernstig beseer. Fiona was slegs "vol seerplekkies op die kop" maar Byron het 'n lang sny aan sy kop gehad. Mev Sawyer en Fiona het ook aan skok gely en was ten tyde van die verhoor nog gespanne.

Appellant se vergryp teen die Sawyers was sonderling en amper dodelik. Só sterk was sy beheptheid

met

19.

met en versmagting na Frederika egter dat dit hom nie tot besinning gebring het nie. Anders as koning Dawid, wat na sy vergryp teen Uria hom met die komponering van sy boetelied (psalm 51) veróotmoedig het, was appellant daarna weer op haar spoor en het hy hulle by Stilbaai, waar hulle in Desember 1984 vir die kersvakansie gaan uitkamp het, so lastig geval dat mnr Sawyer genoop was om by die polisie om hulp te gaan aanklop.

Ek het die verloop van die verhouding waarin appellant en Frederika. Sawyer met sulke kwade gevolge verstrengel geraak het breedvoeriglik uiteengesit omdat dit so duidelik toon dat appellant se vergryp 'n klassieke voorbeeld van die gevoelsmisdaad (crime passionel) is. Sy geval is dié van 'n voortreflike mens wat homself al hoe meer te buite gegaan het omdat hy vasgevang was in die greep van die menslike geslagsdrang en die gemoedsteenstellings gebore uit die dwarsboming daarvan. Sy gevoel vir Frederika was uiteindelik op 21 Oktober 1984 klaarblyklik dié van

Catullus

20.

Catullus teenoor sy minnares, wat gevoelvol deur T J Haarhof

só in Afrikaans weergegee is:

"Ek haat haar,

Ek bemin haar.
Hoe kan dit gebeur?
Ek weet nie,
maar ek voel dit,
dit folter en verskeur."

En toe probeer hy haar doodmaak deur haar om te ry. Maar daarna is hy weer agter haar aan.

Dit is h innig menslike tragedie waarin appellant en die Sawyers hul uiteindelik bevind het en sy strafwaardigheid moet bepaal word met insigryke begrip vir die oerkwesbaarhede van die mens.

Behalwe in die geval van verpligte vonnisse is straftoemeting 'n waarde-oordeel wat 'n gebalanseerde benadering verg. Vir so 'n benadering moet die bekende straftriade van die misdadiger, sy misdaad en die gemeen= skapsbelang behoorlik oorweeg en toegepas word.

By die huidige herbesinning oor appellant se

strafwaardigheid

21.

strafwaardigheid moet in ag geneem word dat hierdie Hof slegs 'n beperkte bevoegdheid het om in te meng met die vonnis deur 'n verhoorhof opgelê.

Appellant is weliswaar 'n voortreflike mens en so 'n persoon behoort in die gemeenskapsbelang waar moontlik uit die tronk gehou te word. Maar die begrip "waar moontlik" beteken hier waar die vereistes van geregtigheid dit toelaat. Daar is baie gevalle waar die menslike voortreflikhede van 'n oortreder hom nie van tronkstraf kon red nie. Wat in die geval van diskresionêre vonnisse in meeste gevalle by daardie klas oortreder die deurslag na die een of ander kant toe gee is die aard van die misdaad, die rede daarvoor en die wyse waarop dit gepleeg is. Die mate van inbreuk op die betrokke gemeehskapsbelange word ook grootliks daardeur bepaal.

Poging tot moord is uiteraard 'n ernstige misdaad en een waarvoor gevangenisstraf in meeste gevalle opgelê word. Kyk bv na S v Human 1979 (3) SA 331 (OK) 337 C. In die onderhawige geval is appellant se optrede

klaarblyklik

22.
klaarblyklik toe te skryf aan intense gegriefdheid veroorsaak deur die dwarsboming van sy drang na Frederika. Maar dit was nogtans 'n berekende en goed beplande aanslag op haar en haar man en twee kinders se lewens. Dit is na my oordeel : ook duidelik dat hy werklik bedoel het om hulle dood te maak. Daarvan getuig sy keuse van moordwapen, sy wyse van aanwending daarvan en sy houding en uitlatiags kort na die voorval. Dit het hom blykbaar nie geskeel dat hy onskuldiges ook probeer doodmaak het nie. Sulke optrede verg gedugte bestraffing. Maar appellant is basies 'n goeie,voorbeeldige mens. En alhoewel sy misdaad weersin= wekkend is het hy tot die pleging daarvan oorgegaan omdat hy geswig het voor die aanslag van sy emosies. Dit is ook onwaarskynlik dat hy weer so 'n misdaad sal pleeg.

Die-ïanddros hetal die voormelde oorwegings asook die breedvoerige getuienis van mev Vries waarin sy appellant se persoonlike omstandighede in detail behandel

het

23.

het, behoorlik in ag geneem en tot die slotsom gekom dat
'n tydperk van onopgeskorte gevangenisstraf die enigste

gepaste vonnis was. Daarmee is geen fout te vinde nie.
Hy het besluit dat 'n termyn van ses jaar deur die omstandig= hede van die geval geverg word, maar het die helfte daarvan voorwaardelik opgeskort. Daardeur het hy oordeelkundige genade.aan appellant betoon. LATEGAN, R kon op appèl geen fout met die opgelegde vonnis vind nie en MARAIS, R het met hom saamgestem. Ek deel hulle siening. Na my oordeel is appellant behoorlik na verdienste bestraf. Daar kan derhalwe nie gevolg gegee word aan mnr Webster se versoek namens respondent dat die vonnis verswaar word nie.

Die appèl word afgewys.

M T STEYN, AR

JANSEN, AR) Stem saam KUMLEBEN, Wnd AR )


SAFLII: | Terms of Use | Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1988/42.html