![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
LL Saak No 487/1987
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING
Insake die appèl van
PETER GEORGE GUROVIPH" Appellant
en
STANDARD GENERAL VERSEKERINGSMAATSKAPPY
BEPERK Respondent
CORAM: VAN HEERDEN, HEFER et VIVIER ARR
VERHOORDATUM: 8 NOVEMBER 1988
LEWERINGSDATUM: 17 NOVEMBER 1988
UITSPRAAK VAN HEERDEN AR:
2. Vroegaand van 16 September 1983 het
die appellant sy motorfiets op 'n teerpad tussen Pretoria en Brits bestuur. Hy
het weswaarts
gery. Terselfdertyd was 'n Mazda voertuig bestuur deur mev Erwee
("die bestuurderes") vanuit die weste in aantog. Kort nadat die
appellant 'n
draai van die pad in 'n noordwestelike rigting begin volg het, het die
motorfiets en die Mazda met mekaar gebots. Ten
gevolge daarvan het die appellant
ernstige liggaamlike beserings opgedoen.
Voortspruitende uit hierdie gebeure het die appellant in die Transvaalse
Provinsiale Afdeling 'n aksie vir skadevergoeding ingestel
teen die respondent,
die bevoegde versekeraar van die Mazda ingevolge die bepalings van Wet 56 van
1972. Die partye het later by
ooreenkoms die omvang van die appellant se skade
bepaal, en by die aanvang van die verhoor was daar slegs twee geskilpunte. Hulle
was of die botsing
3. veroorsaak is deur nalatigheid van die bestuurderes en,
indien wel, of die appellant bydraend nalatig was. Nadat getuienis gelei
is, was
die hof a quo egter geroepe om slegs een vraag te besleg, naamlik, of die
botsing op die suidekant (d i die appellant se korrekte kant) dan wel
op die
noordekant van die pad plaasgevind het. Die hof het bevind-dat die appellant nie
bewys het dat die botsingspunt aan die suidekant
was nie en het gevolglik
absolusie van die instansie met koste beveel. Verlof is egter aan die appellant
verleen om na hierdie hof
te appelleer. Daaroor later meer.
Die appellant se getuienis kan soos volg saamgevat word. Oor 'n aansienlike
afstand voor die betrokke draai ry hy teen 'n spoed van
100-120 kilometer per
uur. Dit is reeds donker en sy hooflig is aan. So 'n 10-15 meter voor hom ry sy
vriend, Coetzee, op 'n tweede
motorfiets. Beide hy en Coetzee ry ongeveer 1,2
meter links (d w s suid) van die wit middellyn van
4. die pad. Hy handhaaf
dieselfde afstand vanaf die middellyn toe hy die draai ingaan en gewaar word van
die ligte van 'n aankomende
voertuig. Hy sien hoe Coetzee verby dié
voertuig (die Mazda) ry en 'n gedeelte van h sekonde later vind die botsing
plaas.
Die appellant sê hy is oortuig dat sy
motorfiets nie na noord oor die middellyn beweeg het
nie. Aan die ander kant het hy nooit opgemerk dat
die Mazda suidwaarts oor
daardie lyn gery het nie.
Trouens, sê hy, sy laaste indruk van die baan
van die
Mazda was dat daardie voertuig aan die noordekant van
die middellyn was. Dit blyk ten beste uit die
volgende uittreksel uit sy
genotuleerde getuienis:
"And you were convinced that the car, as you saw it, was on its correct side of the road? -- Correct.
And you have no doubt about that? -- No doubt.
And you never had any doubt about that? -- No.
5.
And even now you do not have any doubt about that? — No."
At no stage did you see that car coming across the white line to its incorrect side?
— No."
By wyse van afleiding het die appellant probeer verduidelik hoe die botsing op die suidekant van die pad kon plaasgevind het. Hy postuleer naamlik dat net nadat die Mazda by Coetzee verby is, en onmiddellik voor die botsing, die regterkant daarvan oor die middellyn beweeg het.
Coetzee getuig ook dat hy ongeveer 10-15 meter voor die appellant gery het.
Hy het in die middel van die suidelike baan van die pad
gery met die appellant
reg agter hom "in sy spoor". Toe hy die draai ingaan, het hy bewus geword van
die aankoms van die Mazda. Hierdie
voertuig was op sy korrekte kant van die pad
en het "heeltemal normaal" aangekom. Toe hy by die Mazda verby is, was dit nie
'n kwessie
dat hul mekaar rakelings gemis het nie. Hy was dan ook
6. geensins
bekommerd dat die Mazda en die appellant sou bots nie. Hy het nie die botsing
waargeneem nie maar het kort daarna agtergekom
dat die appellant hom nie meer
gevolg het nie. Hy het toe teruggedraai na die plek waar die botsing plaasgevind
het.
Die bestuurderes ontken dat Coetzee pas voor die botsing by die Mazda verby
is. Sy het wel verby 'n ander motorfiets - vermoedelik
Coetzee s'n - gery maar
dit het ongeveer h kilometer wes van die betrokke draai geskied. Sy getuig
voorts dat sy teen 'n spoed van
om en by 80 kilometer per uur gery het en dat sy
toe skielik gewaar geword het van die lig van 'n aankomende rytuig. Die Mazda
was
op haar korrekte kant van die pad en die aankomende lig was feitlik reg voor
haar. Sy voel toe net dat iets die Mazda "slaan". Daarna
het die Mazda getol.
Haar indruk was dat die linker voorwiel van die teer af gery het want sy het
gevoel "die kar maak snaaks". Nadat
die Mazda tot stilstand
7. gekom het, het
sy by die linker voordeur uitgeklim en toe het sy met haar hande en knieë
op die grond (vermoedelik die gruisskouer
van die pad) te lande gekom.
Haar eggenoot, Erwee, was 'n passasier in die voertuig. Hy staaf die bestuurderes dat sy op haar korrekte kant van die pad was toe die aankomende lig op die Mazda afgepyl het. Die verhoorhof het egter bevind dat hoewel Erwee 'n eerlike getuie was, hy "vol twyfel oor alles" was. Soos dit my voorkom, het die hof daarom nie op sy getuienis peil getrek nie. Derhalwe laat ek dit ook buite rekening.
Sersant Prinsloo het na die botsing op die toneel opgedaag. Op grond van sy waarnemings en afmetings wat hy gemaak het, het hy later 'n plan opgestel. Die botsingspunt, soos op die plan aangetoon, is op die noordelike baan van die pad. Volgens Prinsloo is hierdie punt deur Erwee aan hom
8.
uitgewys. Hy het egter self waargeneem dat daar op die betrokke plek glasstukke, oliekolle en skuurmerke was. In die suidelike baan was daar geen reele aanduidings dat 'n botsing aldaar plaasgevind het nie.
Prinsloo het die Mazda op die gruisskouer aan die noordekant van die pad aangetref. Die neus daarvan het weswaarts gewys. Hy het dus op sy plan aangetoon dat dit die posisie was waarin die Mazda na die botsing tot stilstand gekom het. Dit blyk egter uit die getuienis van persone wat kort na die botsing op die toneel was dat die Mazda met sy neus ooswaarts op die geteerde noordelike baan gestaan het. Coetzee verduidelik dat die Mazda later, maar klaarblyklik voor Prinsloo se aankoms, met 'n boog weggestoot is sodat dit met die neus weswaarts op die skouer van die pad tot stilstand gekom het. Coetzee betwis ook dat die botsing plaasgevind het op die plek wat deur Prinsloo as die botsingspunt aangedui is.
9.
Daar was wel oliekolle en merke op die noordelike baan, sê hy, maar dié was onder die voorkant van die Mazda waar dit net na die botsing gestaan het.
Foto's van die Mazda en die appellant se motorfiets dui aan dat die voorkant van laasgenoemde waarskynlik die Mazda se voorkant in die omgewing van die regter hooflamp getref het. Daaruit kan egter nie afgelei word of die motorfiets die Mazda reg van voor dan wel met 'n hoek getref het nie. Die foto's is ook nie van enige hulp by beantwoording van die vraag of die botsing op die suidelike dan wel die noordelike baan plaasgevind het nie.
Met uitsondering van Erwee het die verhoorhof nie spesifieke geloofwaardigheidsbevindinge aangaande die getuies gemaak nie. Absolusie is egter beveel omdat dit as onwaarskynlik beskou is dat in die breukdeel van 'n sekonde vandat Coetzee by die Mazda verby is totdat die botsing plaasgevind het, die
10.
voertuig oor die middellyn beweeg het maar tog na die botsing op die noordelike baan tot stilstand gekom het. Die appellant se advokaat het in 'n aantal opsigte die bestuurderes se getuienis gekritiseer. Hy het aangevoer dat haar getuienis nie betroubaar is nie en dat geen waarde geheg kan word nie aan haar ontkenning dat die Mazda ten tyde van die botsing aan haar verkeerde kant van die pad was. Hy het veral gesteun op haar weergawe dat sy nie die lig van die aankomende motorfiets gesien het voordat dit vlak voor die Mazda was nie. Ek vind dit onnodig om hierdie betoog te ontleed en veronderstel ten gunste van die appellant dat bogenoemde ontkenning buite rekening gelaat moet word. Dit is egter nodig om te meld dat, afgesien van antwoorde wat sy verstrek het aangaande die vraag of sy die Mazda na links laat swenk het, en waarop ek hieronder terugkom, daar niks in die bestuurderes se getuienis is nie wat kan lei tot 'n positiewe bevinding dat die botsing op die suidelike
11.
baan plaasgevind het.
Soos reeds genoem, het die appellant die afleiding gemaak dat die Mazda net
nadat dit by Coetzee verby is oor die middellyn beweeg
het. Sy advokaat moes
toegee dat hierdie afleiding nie deur die getuienis gefundeer word nie. 'n
Deskundige, wat deur die appellant
as getuie geroep is, het naamlik getuig dat
inaggenome die massas van die rytuie en die spoed waarteen elk beweeg het, die
Mazda
na die botsing nagenoeg in dieselfde rigting as net voorheen sou bly
voortbeweeg het. Indien die Mazda onmiddellik voor die botsing
vanaf die
noordelike baan in h suidoostelike rigting oor die middellyn beweeg het, sou dit
dus na die botsing geheel of gedeeltelik
op die suidelike baan tot stilstand
gekom het. Dit was egter by die verhoor gemene saak dat in sy stilstaande
posisie na die botsing
al vier wiele van die Mazda noord van die middellyn
was.
12. Die appellant se advokaat was derhalwe genoop om met 'n teorie
vorendag te kom waarvoor daar nie direkte steun in die getuienis
is nie.
Daarvolgens het die Mazda eers oor die middellyn beweeg. Toe die bestuurderes
bewus word van die lig van die aankomende motorfiets
van die appellant het sy na
links geswenk. Die botsing het egter plaasgevind alvorens die Mazda weer ten
volle op haar korrekte kant
van die pad was. Na die botsing het die Mazda nog
steeds in 'n noordoostelike rigting bly beweeg en dit verklaar waarom dit op die
noordelike baan van die pad tot stilstand gekom het.
Dit is betoog dat gedeeltelike steun vir hierdie teorie te vind is in die bestuurderes se getuienis dat sy kort voor die botsing die Mazda se stuurwiel na links gepluk het. Die voertuig moes dus, so is aangevoer, ten tyde van die botsing min of meer noordoos beweeg het. Indien die Mazda toe op
13.
die noordelike baan was, sou dit gevolglik daarna geheel of gedeeltelik noord van daardie baan tot stilstand gekom het. Inderdaad het die Mazda egter ongeveer in die middel van die noordelike baan - wat 3,15 meter breed is - gestop. Dit bewys, is ten slotte betoog, dat die Mazda - of die regterkant daarvan - suid van die middellyn was voordat die bestuurderes dit na links laat swenk het.
In eerste instansie dien opgemerk te word dat die teorie gegrond is op 'n
selektiewe aanname van 'n stukkie getuienis van die bestuurderes.
Aan die een
kant is aangevoer dat haar getuienis onbetroubaar is, en aan die ander kant dat
'n deel daarvan, wat deur geen ander
getuienis gestaaf word nie, aanvaar moet
word. Tweedens is dit vir my glad nie duidelik dat die bestuurderes volgens haar
weergawe
wel daarin geslaag het om kort voor die botsing die Mazda van koers te
laat verander nie. Haar getuienis in hierdie verband
14. is alles behalwe
helder. Op 'n stadium sê sy weliswaar dat sy definitief die voertuig na
links laat draai het, maar ander
passasies in haar getuienis skep die indruk dat
sy 'n afleiding maak uit die feit, volgens haar, dat die linker voorwiel van die
Mazda van die teer af was toe dit tot stilstand gekom het. 'n Mens weet egter
dat dit nie die geval was nie.
Dit is bowendien hoogs twyfelagtig of die bestuurderes op haar weergawe
voldoende geleentheid gehad het om die Mazda van koers te
laat verander. Sy het
die aankomende lig van die appellant se motorfiets opgemerk toe dit ongeveer 10
meter vanaf die Mazda was.
Vanaf daardie tydstip totdat die rytuie gebots het,
sou volgens die deskundige getuienis slegs 18 van 'n sekonde verloop het en dit
is dus haas onmoontlik dat die bestuurderes in hierdie kort tydsbestek
uitvoering sou kon gee aan 'n voorneme om die Mazda na links
te laat
swenk.
15. 'n Verdere oorweging kom ter sprake. Indien die Mazda wel ten tyde
van die botsing in 'n noordoostelike rigting beweeg het, sou
dit skaars nagenoeg
parallel met die middellyn van die pad gestop het. Coetzee getuig egter dat na
die botsing die Mazda "met die
neus effens links geswaai" gestaan het, terwyl 'n
ander getuie, ene mev Coetzee, sê dat dit "in die middel van" die
noordelike
baan was. In hierdie verband dien gemeld te word dat indien die
motorfiets die Mazda skuins getref het - d w s, vanuit 'n suidoostelike
rigting
- die voertuig volgens die deskundige getuie wel ietwat links gedeflekteer sou
gewees het.
Die grootste struikelblok in die weg van bogenoemde teorie is egter die
getuienis van die appellant en Coetzee. Soos hierbo geblyk
het, getuig beide dat
die twee motorfietse kort voor die botsing 10-15 meter van mekaar af was. Die
appellant se
16. advokaat het tereg toegegee dat indien dit die geval was die
botsing nie op die geteoretiseerde wyse kon plaasgevind het nie.
Hy het egter
betoog dat die appellant nie aan sy skatting van bedoelde afstand gebonde gehou
moet word nie. My eerste probleem betreffende
hierdie betoog is dat dit nie gaan
om 'n blote skatting wat ex post facto van h posisie op 'n kritieke
oomblik gemaak is nie. Beide getuies sê naamlik dat daar oor 'n geruime
afstand voor die botsingspunt
konsekwent h gaping van 10-15 meter tussen die
twee motorfietse was. Maar al word aanvaar dat die gaping soveel as 50 meter was
-
wat volgens die appellant se advokaat die maksimum afstand tussen die
motorfietse was - is dit vir my steeds onwaarskynlik dat die
botsing op die
aangevoerde wyse kon plaasgevind het. In hierdie veronderstelling sou ,9 van 'n
sekonde verloop het vandat die Mazda
by Coetzee verby is totdat dit die
botsingspunt bereik het. In minder as h sekonde sou die Mazda oor die middellyn
moes
17. beweeg het, die bestuurderes moes besef dat dit gebeur het, en sy
moes gereageer het deur die voertuig na links te laat swenk
voordat die rytuie
gebots het. Selfs indien h blitssnelle reaksievermoë aan haar toegeskryf
word, is dit na my mening onaanvaarbaar
dat dit alles binne 'n sekonde kon
geskied het.
h Verdere probleem is dit: Indien die Mazda wel soos voornoemd sou beweeg
het, sou 'n mens verwag het dat die appellant bewus moes
gewees het dat dit oor
die middellyn gery het nadat dit by Coetzee verby is. Voordat die Mazda geswenk
het, moes dit immers nader
aan die suidelike rand van die pad gewees het as ten
tyde van die botsing. Op 'n stadium kort voor die botsing sou die regter
voorkant
van die Mazda dus verder suid van die middellyn gewees het as wat die
appellant se motorfiets was. Daaruit volg dat die regter voorlig
van die
voertuig links (suid) van die baan van die motorf iets moes gewees het. Daar
is
18. geen rede aan die hand gedoen waarom die appellant dit nie sou
opgemerk het nie. Tog getuig hy dat hy op geen stadium bewus was
dat die Mazda
die middellyn oorgesteek het nie. Trouens, sy laaste gewaarwording voor die
botsing was dat die Mazda aan sy korrekte
kant van die pad was.
Samevattend is die posisie soos volg: Daar is geen direkte getuienis dat die Mazda nadat dit by Coetzee verby is tot op die suidelike baan beweeg het nie. Inteendeel spreek die appellant se getuienis teen so 'n moontlikheid. Hierbenewens is daar geen reële getuienis wat daarop dui dat die botsingspunt op die genoemde baan was nie. Die glasstukke en merke waaroor Prinsloo getuig, is trouens op die noordelike baan gevind. Ten slotte is dit heel onwaarskynlik dat in die kort tydsbestek vandat die Mazda by Coetzee verby is totdat dit met die appellant se motorfiets gebots het die voertuig eers oor die middellyn beweeg
19.
het en daarna weer begin teruggeswenk het. Gevolglik is daar geen fout te vind met die bevinding waartoe die verhoorhof gekom het nie.
Ten slotte is enkele opmerkings aangewese oor die uitspraak van die hof a quo ten opsigte van die aansoek om verlof om te appelleer. Daarvolgens is verlof tot appèl na hierdie hof toegestaan maar is glad nie oorweeg of die appèl nie deur 'n volle hof van die Transvaalse Provinsiale Afdeling aangehoor moes word nie. Dit kom dus voor dat die verhoorhof nie aandagtig aan die bepalings van art 20 (2) (a) van Wet 59 van 1959 was nie. Daardie hof moes nie enige regsvraag oorweeg nie, en ook nie ingewikkelde feitlike geskille ontrafel nie. Gevolglik was dit 'n duidelike geval waarin die appèl nie die aandag van hierdie hof geverg het nie.
20. Die appèl word met koste afgewys.
H.J.O. VAN HEERDEN AR
HEFER AR
STEM SAAM
VIVIER AR
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1988/141.html