SAFLII [Home] [Databases] [WorldLII] [Search] [Feedback]

South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1986 >> [1986] ZASCA 29

[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]


S v Maenetja (386/85) [1986] ZASCA 29 (24 March 1986)

PDF of original document.PDF of original document

.RTF of original document


Saaknommer: 386/85

WHN

MATOME FREDDY MAENETJA Appellant

en

DIE STAAT Respondent

JOUBERT, AR

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(APPÉLAFDELING)

In die saak tussen:

MATOME FREDDY MAENETJA Appellant

en

DIE STAAT Respondent

Coram: JOUBERT, VILJOEN et JACOBS ARR.
Datum van Verhoor: 14 Maart 1986
Datum van Uitspraak: 24 Maart 1986

U_I_I_S_P_R_A_A_K

JOUBERT, AR :

/Op

2

Op 22 Januarie 1985 is die appellant as
beskuldigde 1 saam met agt ander beskuldigdes in die
Noordelike Rondgang Plaaslike Afdeling te Tzaneen voor
VAN DYK R en twee assessore aangekla op twee klagtes
van moord. Klagte 1 is dat hulle op 5 Februarie 1984
in die distrik Naphuno die oorledene Chemist Rakgoale
vermoor het. Klagte 2 is dat hulle op dieselfde datum
en plek die oorledene Solomon Shai vermoor het. Die
appellant is op beide klagtes skuldig bevind aan moord
sonder versagtende omstandighede en gevolglik twee dood=
vonnisse opgelê. Met verlof ingevolge art 316(8)(c)(ii)
van die Strafproseswet 51 van 1977 kom die appellant na
hierdie Hof in hoër beroep teen sy twee doodvonnisse.

/Uit

3

Uit die aanvaarde getuienis en bevindings
van die verhoorhof blyk kortliks die volgende aangaánde
die tersaaklike agtergrond en omstandighede wat op die
pleging van die twee moorde betrekking het. Al die
beskuldigdes sowel as die twee oorledenes was lede van
die Mogoboya-stam in die distrik Naphuno. Op 28
Januarie 1984 het die weerlig twee vroue onder 'n boom
getref. Die een vrou is gedood terwyl die ander vrou
beseer is sodat sy verstandelik aangetas is. Hierdie
vroue is susters van die appellant. Die plek waar
die weerlig neergeslaan het, is omtrent 500 meter vanaf
beskuldigde nr 2 ('n indoena) se huis. Laasgenoemde
het beweer dat die weerlig eintlik vir hom bedoel was

/maar

4

maar hy was gelukkig afwesig toe dit geslaan het. Die
gerugte het onder die stam versprei dat die twee oorledenes
wat welbekend as towenaars was vir die weerlig verantwoorde=
lik was. Die stam het geld ingesamel en die twee oor=
ledenes is toe na vroue toordokters geneem wat hulle
as towenaars verantwoordelik vir die weerlig uitgewys
het. Die oorledenes was nie daarmee tevrede nie. Geld
is weereens deur die stam ingesamel en die oorledenes is
na ander vroue toordokters geneem. By hierdie geleent=
heid is die oorledene Chemist Rakgoale as 'n towenaar
uitgewys. 'n Lid van die geselskap het 'n bandopnemer
saamgebring om daarmee op te neem wat die toordokters sê.
Toe hy 'n battery in die bandopnemer sit, het 'n lamp

/wat

5

wat daar gestaan het se lig geskiet en die bandopnemer
kon nie speel nie. Een van die toordokters het aange=
voer dat die oorledene Chemist Rakgoale se weerlig het
weer geslaan en was daarvoor verantwoordelik. Die
ander oorledene Solomon Shai is ook as 'n towenaar uitgewys.
Hulle koppe is geskeer as teken dat hulle uitgewys is as
die towenaars wat vir die weerlig verantwoordelik was.
Die groep persone met die twee oorledenes het op Sondag=
oggend 5 Februarie 1984 teruggekeer. Die appellant het
deel van die groep persone uitgemaak. Lede van die
stam het by 'n wilde-vyeboom vergader waar hulle geraas en
geskree het. Die twee oorledenes is na die wilde vye-
boom gebring. Van die omstanders het daarop aangedring

/dat

6

dat die oorledenes gedood moes word. Die appellant het

'n tou aan 'n tak vasgemaak en toe die oorledene Chemist

Rakgoale op 'n hopie klippe laat staan en die punt van die

tou om sy nek vasgemaak. Hy het die hopie klippe weg=
geskop en na 'n halfuur is Chemist Rakgoale dood. Dieselfdë
prosedure het die appellant met die ander oorledene Solomon
Shai gevolg. Terwyl laasgenoemde nog aan sy nek gehang
het, het die appellant na die polisiestasie gery en die
voorvalle aangemeld. Die distriksgeneesheer dr Eksteen
het op 10 Februarie 1984 lykskouings op die twee oorledenes
uitgevoer en in albei gevalle vasgestel dat die oorsaak
van dood „hang aan die nek " was. Die verhoorhof het
bevind dat die appellant as belhamel by die ophang van die

oorledenes opgetree het.

/Ek
7

Ek sal straks handel met die getuienis wat
die appellant t.o.v. versagtende omstandighede afgelê

het. Die verhoorhof het eenparig bevind dat die appellant
nie daarin geslaag het om op 'n oorwig van waarskynlikhede
die aanwesigheid van versagtende omstandighede te bewys
nie. Die verhoorregter het die appellant se geloof

in die toorkuns soos volg behandel :

"Beskuldigde 1 se getuienis is dat hy standerd
vier op skool gemaak het; dat hy vir 'n baie
lang tyd tussen Blankes gewerk het; dat hy,
wat die oorledenes betref, hulle vir baie jare
geken het; geen probleme met hulle gehad het;
dat hy die betrokke dag uit weerwraak opgetree
het omdat hulle sy suster doodgemaak het -
daarvan kan afgelei word dat hy dus tot 'n mate
in die toorkuns of die bonatuurlike geglo het.

/sy

8

Sy geloof was egter sodanig dat hy glad nie
bang was vir die twee oorledenes nie. Hy
was nie beïnvloed deur wat die stam sou gesê
het nie, want hy het nie gehoor wat daar gesê
word voordat hy besluit het om hulle dood te
maak nie en gedurende sy getuienis voor hierdie
Hof het hy gesê dat wat hy gedoen het hy goed
geweet het verkeerd was.

Dit is volgens ons eenparige mening 'n aanduiding

dat die bietjie geloof wat hy in die toorkuns

gehad het glad nie voldoen aan die vereistes

wat neergelê word deur ons howe nie. Dit was

sekerlik nie opreg of eg nie. Sy optrede was

nie daarop gerig om 'n gevaar vir hom, ander

lewendes of vir die stam af te weer nie."
(Ek onderstreep).
Die verhoorhof het hier ernstig misgetas deur
te bevind dat die appellant 'n „bietjie geloof" in die
toorkuns gehad het en dat dit bowendien „nie opreg of eg
(was) nie". Die appellant het in kruisondervraging
getuig dat hy nie 'n Christen is nie. (Band 2 bl 128).

/Die
Die verhoorhof het self geregtelike kennis daarvan geneem
dat in die gebied waar die Mogoboya-stam woon die meeste
van die Swartmense aan toordokters glo (Band 1 bl 67).
Die appellant het soos volg getuig (Band 5 bl 415-416) :

„Kan jy vir ons beskryf toe die twee susters
van jou nou deur die weerlig getref is, kan
jy vir ons sê hoe het jy daaroor gevoel?
- - - My hart was baie seer gewees daaroor.
En die rede hoekom jy na die toordokters
toe is, is vir wat? - - - Ja om te gaan
uitvind wie is die oorsaak van daardie weerlig.

Hoe het jy op die idee gekom dat die weerlig
deur iemand veroorsaak is? - - - Ja want ek
het daarvan geweet dat die weerlig sal nie
'n persoon doodslaan nie, slegs die boom.

Tensy wat? Die weerlig sal net 'n boom raak=
slaan, tensy wat? - - - Die rede hoekom wou
ek gaan uitvind by die toordokter is dat ek
glo vas aan toorkuns.

/Wat
10

Wat doen toorkuns? - - - 'n Persoon toor.

En wat doen hy as hy toor? - - - Hy toor mooi.

HOF: Wat bekommer jy jou dan as hy mooi toor?

- - - Hy kan vir jou met die weerlig slaan,

Hy kan ook vir jou vergif deur kruie in jou

kos te gooi.

MNR. DE JAGER: Ek sien en wou jy nou gaan
vasstel wie die twee vrouens met die weerlig

geslaan het? - - - Ja.

Nou ken jy die twee oorledenes al lank dat
hulle daar naby jou in die stam bly? - - - Van
kleins af het ek daar beide oorledenes leer ken.

Wat doen hulle daar in die stam? - - - Hulle toor.

Hoe het jy dit daar vasgestel? - - - Toe ek groot
geword het daarso, ek het toe daarvan geweet, dat
hulle word, mense sê dat daardie mense toor,
hulle is towenaars, van kleins af."

Dit is duidelik uit die appellant se getuienis dat hy van
kleins af in die stam groot geword het met die wete dat
die twee oorledenes towenaars was. Die appellant self
glo in die toorkuns en dit was die rede waarom hy

/saam
11

saam met die twee oorledenes na die toordokters was
om uit te vind of die twee oorledenes die oorsaak van die
weerlig was wat sy suster gedood het. Dit was duidelik
dat die appellant subjektief in die toorkuns geglo het
en dat sy geloof daarin opreg en eg was soos blyk uit sy
besoek met die twee oorledenes by die toordokters. Hy
het opreg en eg geglo dat laasgenoemdes kon vasstel of
die twee oorledenes die oorsaak van die weerlig was al dan
nie. Weliswaar het die appellant erken dat hy nie
bang vir die twee oorledenes was nie en dat hy wraak
teenoor hulle wou neem omdat hulle as towenaars die oor=
saak van die weerlig was wat sy suster gedood het.

/Dat

11 (a)

Dat sy geloof in die toorkuns 'n emosie van wraak teen
die twee towenaars ontketen het, toon juis aan dat
hy eg en opreg aan die toorkuns geglo het. Daar is
talle gevalle in ons regspraak waar wraak wat geneem
is onder omstandighede van 'n heftige gemoedsbeweging
gebore uit 'n egte geloof van verontregting as 'n
versagtende omstandigheid beskou is.

/Aangesien

12

Aangesien die verhoorhof ernstig misgetas
het oor die appellant se subjektiewe geloof in die toor=
kuns, moet hierdie Hof opnuut die vraag of daar ver=
sagtende omstandighede was al dan nie oorweeg. Daar is
die verdere oorweging dat die aanwesige stamlede geraas
en geskree het dat die twee oorledenes gedood moes word.
Dit is wel 'n faktor wat kumulatief in ag geneem kan word
by die appellant se subjektiewe geloof in die toorkuns
om versagtende omstandighede daar te stel.

Al die inligting omtrent die appellant is
voor hierdie Hof wat bevoeg is om self vonnis op te lê
sonder om dit vir vonnisoplegging na die verhoorhof
terug te stuur. In die lig van die besondere

/omstandighede

13
omstandighede is dit nie 'n geval vir oorweging of die
doodvonnisse diskresionêr opgelê moet word nie. Ek
mag daarop wys dat die verhoorhof in die geval van
sommige van die ander beskuldigdes bevind het dat hulle
geloof in die toorkuns eg was en dat dit as 'n versagtende
omstandigheid beskou is sodat hulle slegs gevangenisstraf
opgelê is.

Die appellant is in 1961 gebore. Hy het
geen vorige veroordelings nie. Hy het tot in standerd

4 skoolopleiding ontvang. Hy leef saam met 'n vrou

by wie hy twee kinders het. Hy het egter 'n leidende rol
gespeel by die ophang van die twee oorledenes al het
dit nie gepaard gegaan met voorafbeplanning nie.

/Daarby

14

Daarby is die toorkuns 'n verderflike euwel in enige be=
skaafde samelewing wat bestry en ontmoedig moet word veral -
na my mening - deur opvoeding en verspreiding van die
Christelike geloof. Alles in ag geneem, is ek van
oordeel dat die appellant op klagtes 1 en 2 elk 15 jaar
gevangenisstraf opgelê word wat samelopend sal wees.

Die resultaat is dan dat die appèl teen
die bevinding van geen versagtende omstandighede t.o.v.
die twee aanklagte van moord in klagtes 1 en 2 slaag.
Die volgende bevele vervang die bevele van die
verhoorhof:

/1. Die
15
1.Die appellant is skuldig aan moord met versagtende
omstandighede op klagte 1 en word 15 jaar gevange=
nisstraf opgelê.
2.Die appellant is skuldig aan moord met versagtende
omstandighede op klagte 2 en word 15 jaar gevange=
nisstraf opgelê wat samelopend is met die 15 jaar
gevangenisstraf t.o.v. klagte 1.

C. P. JOUBERT AR.

VILJOEN AR )

JACOBS AR ) Stem saam.


SAFLII: | Terms of Use | Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1986/29.html