![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
RAINBOW DIAMONDS (EDMS) BEPERK 1ste Appellant
B STRUCK 2de
Appellant
KAMMAGAS MYNBOU (EDMS) BEPERK 3de Appellant
R C
VERSLUIS (EDMS) BEPERK 4de Appellant
vs
SUID-AFRIKAANSE NASIONALE LEWENS=
ASSURANSIEMAATSKAPPY
Respondent
m.p. 372/82
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
RAINBOW DIAMONDS (EDMS) BEPERK 1ste Appellant
B STRUCK . 2de Appellant
KAMMAGAS MYNBOU (EDMS) BEPERK 3de Appellant
R C VERSLUIS (EDMS) BEPERK 4de Appellant
en
SUID-AFRIKAANSE
NASIONALE
LEWENSASSURANSIEMAATSKAPPY Respondent
CORAM: RABIE, HR, JANSEN, CORBETT et JOUBERT, ARR GALGUT, Wnd AR
VERHOOR: 19 Maart 1984
GELEWER: 30 Maart 1984
UITSPRAAK
GALGUT, Wnd AR
Mankor
2.
Mankor Beleggings Beperk (Mankor) was gedurende
Februarie 1971 die houer
van aandele in 'n maatskappy Bontekoe Mynbou Ondernemings (Edms) Beperk
(Bontekoe). Die aandele is afsonderlik
aan elk van die appellante verkoop.
Bontekoe is 'n ontginningsmaatskappy wat 'n konsessie verkry het om diamante in
'n Kleurlinggebied
te ontgin. Dit was 'n bepaling van die koopooreenkoms dat
elke koper ten opsigte van elke aandeel benewens die koopprys, 'n bedrag
aan
Mankor sou betaal gelykstaande aan een tweehonderd en vyftigduisendste van vyf
persent van die bruto verkoopswaarde van alle
diamante bokant tagtig duisend
karaat wat deur Bontekoe uit die konsessie gehaal sou word na 14 September 1970.
Hierdie bedrag
waarna
3. waarna ek sal verwys as 'n tantieme, sou betaalbaar wees
sodra die betrokke diamante verkoop word. Die rede vir
hierdie voorwaardelike verpligting was dat die beraamde
produksie van die konsessie 80 000 karaat sou wees, dat die
koopprys van die aandele bereken was op die basis van
hierdie beraming en
dat Mankor 'n tantieme verlang het
indien die beraming te laag sou wees. Die produksie van
diamante het in
Junie 1975 80 000 karaat te bowe gegaan.
Die respondent, Suid-Afrikaanse Nasionale Lewensassuransiemaatskappy (Sanlam)
en sy genomineerdes het al die aandele in Mankor verkry.
Mankor het dus
'n
volfiliaal van Sanlam geword en daar is besluit om Mankor se bates aan
Sanlam oor te dra en Mankor te ontbind.
Op
4. Op 8 Desember 1971 is Mankor se bates aan Sanlam verkoop.
Op 9 Junie 1972 is Mankor by wyse van 'n spesiale besluit
vrywillig
gelikwideer. Die enigste bates wat in die
likwidasie-rekeninge voorkom, is kontantbedrae en likiede
eise. Die rede
hiervoor is dat alle ander bates, of so
is daar aanvaar, reeds voor likwidasie aan Sanlam verkoop
was. Die
bogemelde vorderingsregte teen die verweerders,
wat destyds nog bloot
voorwaardelike regte was, is
heeltemal oor die hoof gesien by die verkoop van
die
bates aan Sanlam sowel as by die likwidasie van Mankor.
Volgens Mankor se likwidasierekeninge was daar 'n groot oorskot van bates oor laste. Hierdie oorskot is oorgedra aan die aandeelhouers, dit wil sê
aan ........
5. aan Sanlam en sy genomineerdes. In Maart 1974 is Mankor
finaal ontbind ingevolge art 174(1) van die Maatskappywet,
no 46 van 1926.
Soos reeds gemeld het die produksie van diamante in Junie 1975 80 000 karaat te bowe gegaan. Hierdie feit het tot Sanlam se kennis gekom en die ver= weerders is aangesê om die tantieme, wat aan Mankor verskuldig sou gewees het indien Mankor nie ontbind was nie, te betaal. Aansienlike korrespondensie het gevolg. Gedurende die briefwisseling, eintlik meer as twee jaar na die ontbinding, het Sanlam tot die besef gekom dat Mankor se vorderingsregte teen die verweerders nooit aan Sanlam of enigiemand anders oorgedra is nie. Normaalweg
sou
6. sou die manier om hierdie probleem op te los gewees het
om 'n hofaansoek te rig om die ontbinding van Mankor nietig
te laat verklaar. Hierdie prosedure kon egter nie
gevolg word nie. Die rede was dat so 'n aansoek ingevolge
art 191 van die vorige Maatskappywet van 1926 slegs
binne twee jaar na ontbinding van die Maatskappy gedoen
kon word. (Luidens
art 420 van die nuwe Maatskappywet 61
van 1973 is daar geen sodanige
beperking nie.) Die metode
wat toe gevolg was om Mankor se vorderingsregte
aan
Sanlam te laat toekom was om by die Staat aansoek te doen
om die regte
(wat, so is daar gemeen, as bona vacantia
die Staat toegeval het) aan
Sanlam te sedeer. Op
17 April 1980 is 'n skriftelike sessie aangegaan wat as
volg lui:
"SESSIE
7.
"SESSIE VAN REGTE TOT UITGESTELDE VERGOEDING Aangesien
(a) Mankor Beleggings Beperk (Mankor) gedurende
Februarie 1971 die
volgende aantal aandele
in Bonte Koe Mynbou Ondernemings (Edms)
Beperk
(Bonte Koe) onderskeidelik aan
Rainbow Diamond (Edms) Beperk
(Rainbow),
Kommagas (Edms) Beperk (Kommagas),
R C Versluis (Edms) Beperk (R C Versluis) en mnr B Struck verkoop het teen 'n bepaalde koopsom nl.
aan Rainbow 9 705 aandele
aan Kommagas 8 507 aandele
aan R C Versluis 24 707 aandele
aan B Struck 4 856 aandele
47 775 aandele
(b) dit 'n bepaling van die genoemde Ooreenkoms
was dat, benewens die
bogenoemde koopsom
elkeen van die kopers aan Mankor 'n bepaalde
gedeelte
van die bruto verkoopswaarde van
alle diamante bokant 80 000 karaat
wat
Bonte Koe vanaf 14 September 1970 uit
bepaalde konsessies sou haal
(hierna
genoem die vorderingsreg) aan Mankor moet
betaal;
(c) Mankor
8.
(c) Mankor op 4 Maart 1974 finaal gelikwideer en later ontbind is toe sy enigste aandeelhouers, die Suid-Afrikaanse Nasionale Lewensassuransiemaatskappy (Sanlam) en 'n nominee van Sanlam was; (d) die genoemde vorderingsreg vanwee 'n oorsig
nie in die genoemde likwidasie aan die aandeelhouers oorgedra was nie;
(e) die genoemde vorderingsreg vanweë die feite
in die voorafgaande
paragraaf genoem,
bona vacantia aan die Staat toegeval het;
(f) die diamante wat Bonte Koe uit die gemelde konsessies gehaal het vanaf ongeveer die laaste kwartaal van 1974 die 80 000 karaat kerf oorskry het; (g) die Staat die vorderingsreg wat aan hom toegeval het in die omstandighede nie vir homself wil opeis nie;
nou derhalwe
(1)
sedeer ek, die ondergetekende, Egmont Gioberti Kemp in my hoedanigheid as Hoofdirekteur Finansiële Beheer en behoorlik daartoe gemagtig
namens
9.
namens die Staat die genoemde vorderingsreg, behoudens klousule 2, aan Sanlam.
(2)
Sonder om afbreuk te doen aan die algemene strekking van die voorafgaande, sluit die genoemde sessie die volgende in:
(i) die regte teen die Kopers soos genoem in paragraaf (a) van die aanhef op betaling soos uiteengesit in paragraaf (b) van die aanhef sowel as (ii) die eise vir die bedrae waarvoor die genoemde kopers reeds kragtens die Ooreenkoms genoem in paragraaf (b) van die aanhef, aanspreeklik geword het en wat nog nie aan Mankor betaal is nie."
Die appellante erken dat, indien Mankor nog
bestaan het, hulle teenoor
Mankor onderskeidelik aan=
spreeklik sou gewees het in die volgende
bedrae:
Eerste Appellant R 9 732,69
Tweede Appellant 4 869,85
Derde Appellant 8 574,44
Vierde Appellant 24 902,79
Sanlam
10. Sanlam het, as sessionaris, die nakoming deur
die verweerdes van hul ooreenkoms met Mankor en in besonder
betaling van
die agterstallige bedrae geeis. Die geleerde
Regter a quo het in sy
uitspraak die bovermelde bedrae
met aanvullende regshulp aan Sanlam toegeken.
Die appel
is teen hierdie beslissing.
Ek ag dit gerade om hier te meld dat die
Tesourie kennis ontvang het van
Sanlam se hofgeding teen
appellante. 'n Brief onderteken deur die sekretaris
van die
Tesourie is ten tyde van die verhoor by die Hof a
quo
ingehandig. Die relevante paragrawe lui:
"INSAKE SANLAM NASIONALE LEWENSASSURANSIE=
MAATSKAPPY BEPERK v RAINBOW
DIAMONDS (EDMS)
BEPERK EN ANDERE
Hiermee bevestig ek dat die Staat en in besonder die Departement van Finansies van
die
11.
die Republiek van Suid-Afrika kennis dra van bogenoemde aksie (saak nr 1 4670/80) wat op 1 Junie 1982 in die Hooggeregshof, Kaapstad verhoor word.
Aangesien die Staat nie aanspraak op die betrokke bates wil maak nie, het dit geen belang om as 'n party tot die geding gevoeg te word nie en berus hy by enige beslissing wat die Hof in die saak mag gee."
Soos uiteengesit in par. 1 van die sessie is mnr Kemp die Hoofdirekteur Finansiële Beheer in die Departement van Finansies (die Tesourie). Hy het in die Hof a quo getuig dat die Tesourie gemiddeld met nagenoeg ses aansoeke per jaar te doen het waar die howe gevra word dat 'n ontbindende maatskappy weer teruggeplaas word op die register van maatskappye omdat daar sekere bates van die maatskappy ontdek is; dat die beleid en die
gebruik
12.
gebruik is dat die Staat hom nie verryk ten
koste van
enige regmatige eiser wat sy eis kan bewys nie; dat Sanlam se
aansoek dat die regte wat voorheen aan Mankor behoort het,gesedeer moet
word aan
Sanlam voor 'n junior amptehaar gekom het; dat die Adjunk-Staatsprokureur gevra
is of Sanlam 'n regmatige aanspraak het
en of die sessie beantwoord aan die
beleid en gebruik van die Staat en of die Staat se regte by wyse van 'n sessie
oorgedra kan word;
dat die antwoord bevestigend was; dat aangesien hierdie
aansoek afwyk van die normale, die saak aan hom, Kemp, voorgelê is;
dat
aangesien die Tesourie net betrokke was by die beleidsaspek en gesien die
Adjunk-Staatsprokureur se bevestigende antwoord hy
in sy voormelde
hoedanigheid
namens
13. namens die Tesourie die sessie aanvaar en onderteken
het. In antwoord op 'n vraag het hy gesê dat hy,
dit wil sê
die Tesourie, kragtens art 31(1)(i) van die
Skatkis en Ouditwet 66 van 1975,
(die Wet) aldus opgetree
het.
Die betoog wat in hierdie Hof deur mnr Nel namens die appellante gelewer is kan onder twee hoofde tuisgebring word nl.:
A. Die Staat het nie eiendomsreg op die vorderingsreg
teen die appellante
verkry nie en derhalwe het dit
nie oordraagbare regte verkry nie.
B. Indien aanvaar word dat die Staat wel eiendomsreg
op die vorderingsreg
verkry het, het dit sonder
die
14. die nodige gesag die betrokke regte oorgedra.
Aangaande betoog A - Die verkryging van eiendomsreg en oordraagbare regte
Die submissie namens appellante is dat, by
die ontbinding van 'n
maatskappy, slegs 'n vorderingsreg
die Staat toeval en nie ipso facto
eiendomsreg nie;
derhalwe is al wat aan die Staat toegeval het
'n
vorderingsreg op 'n vorderingsreg.
Die reël dat bona vacantia die Staat toeval kom in die Romeinse Reg voor ten opsigte van intestate vererwing in gevalle waar daar geen intestate erfgename bestaan nie. Kyk Van Oven Leerboek van Romeinsch Privaatrecht 3de druk bl 530; Thomas - Text Book of Roman
Law
15. Law bl 525. Thomas - op cit - bl 178 sê ook die
volgende:
" in the early imperial period there
appeared the rule that treasure, like other ownerless property (bona vacantia), went to the imperial treasury, the fisc."
Kyk ook Ex Parte Spangenberg 24 SC 288 op 289; Est. Baker
and Others v Est. Baker and Others 25 SC 234 op 242.
Volgens die Engelse reg het bates na die "Crown" oorgegaan by ontbreking van enige intestate erfgenaam. Kyk In re Sir Thomas Spencer Wells. Swinburne-Hanham v Howard 1933 Ch D 29. Hierdie saak het voor die "Court of Appeal" gedien. Die relevante passasie is te vinde op bls 43 - 44 (LORD HANWORTH M R ). Op bl 50 sê LAWRENCE LJ die volgende:
"The
16.
"The right of the Crown to succeed to the personal estate vested in a company at the time of its dissolution does not in my opinion differ in substance from the right of the Crown to succeed to the personal estate of a person dying intestate without next of kin. In both cases the title of the Crown arises because the property has no other owner; such property must not, of course, be confused with property the owner of which is unknown."
In die Engelse reg geld die koninklike prerogatief waar maatskappye ontbind is. Kyk art 296 van die Companies Act 1929 en art 354 van die Companies Act 1948. Art 354 lui as volg (die onderstreping is myne):
"Where a company is dissolved, all property and rights whatsoever vested in or held on trust for the company immediately before its
dissolution shall, subject to and
without prejudice to any order which may at any time be made by the court under the last
foregoing
17.
foregoing sections, be deemed to be
bona vacantia and shall accordingly belong
to the Crown and shall vest and
may be dealt with in the same manner as other
bona vacantia
accruing to the Crown "
(Die omstandighede waaronder die hof die ontbinding van
'n maatskappy
nietig kan verklaar word uiteengesit in die
"last foregoing sections.")
Ons Maatskappywet 61 van 1973 bevat nie 'n bepaling soortgelyk aan die Engelse art 354 nie.
Dit is gerieflik om op hierdie stadium iets te sê oor die oorgang in ons reg van bona vacantia by die ontbinding van 'n maatskappy.
In Ex Parte Sprawson (In re Hebron Diamond
Syndicate
Limited) 1914 TPA 458 op bl 461 het BRISTOWE, R
die volgende
gesê:
"The
18.
"The general rule is that as soon as a corporation ceases to exist, all its movable property goes as bona vacantia to the Crown. It seems to me, therefore, that the Crown is entitled to this fund. The only distinction between this and other movable property is that it is a right of action, as distinguished from actual chattels; but I do not think that makes any difference. Therefore I think the property has passed as bona vacantia to the Crown. That renders it necessary to approach the Crown and ascertain whether they lay any claim to the property."
Sprawson se saak was 'n aansoek om die terugplasing van 'n
reeds
ontbinde maatskappy se naam op die register van
maatskappye, en die
hervestiging van sy reg tot gelde
in die voogdyfonds. Die hof het beslis dat kennisgewing
van die aansoek aan die Tesourie gegee moes word. By
'n later verhoor van
die saak is die aansoek toegestaan
nadat
19. nadat die Sekretaris van Finansies verslag gedoen het
dat die Tesourie geen beswaar teen die toestaan van die
bevel het nie.
In Ex Parte The Government 1914 TPA 596 is weer eens beslis dat die bates van 'n ontbinde maatskappy as bona vacantia die Staat toekom. Die hof het daar te doen gehad met 'n plaas wat geregistreer was op die naam van 'n Engelse maatskappy wat sewe jaar vantevore ontbind was. Op bl 597 sê MASON J die volgende:
"Now this right to bona vacantia seems to me substantially a prerogative of the Crown. I think it is quite likely that that prerogative must be determined in accordance with the law of England. If so, there can, so far as I can judge, be no question that the Government is entitled to the order for which it asks. It is true that the land being
situate
20.
situate in the Transvaal, the rights of
individuals to the land would have
to be
determined by Transvaal law. But there
apparently being no
individual, even under
Transvaal law, who is entitled to the land,
it
becomes bona vacantia. Therefore the
prerogative of the Crown, even if
governed
by the law of England, seems to me to apply.
Under Roman-Dutch
law, so far as I can judge,
the same principles with reference to
bona
vacantia, and the right of the Fisc,
or the Crown, also apply. The
general case
which undoubtedly is dealt with is that of
intestacy, where
there are no heirs. In
that case the bona vacantia undoubtedly
go
to the Crown. There is a definite decision
on this point in the Cape
courts - Ex Parte
Spangaberg (17 CTR 380). There is also
the
case of Becker & Others v Estate of Becker
(25 SC 234),
which deals with the matter still
more fully. These certainly are cases
of
intestacy. So far as I can judge from the
Civil authorities, the
doctrine of bona
vacantia applies to all 'derelict' property,
and
some of the instances given
show
21.
show the general application of
the principle, namely, that the Crown is apparently entitled to property to which no one else can establish a title or is likely to be able to establish a title."
(Die bovermelde saak van Becker word verkeerd aangehaal en
moes
Baker and Others v Estate Baker gelees het). Hierdie
beslissings is
sedertdien konsekwent in ons howe gevolg.
Die prosedure neergelê in Sprawson se saak word steeds gevolg waar daar bates betrokke is by aansoeke om die nietigverklaring van maatskappye se ontbinding (art 191 van die Maarskappywet van 1926 en art 420 van die Maatskappywet van 1973 (nr 61 van 1973) asook by aansoeke om die terugplasing van die name van maatskappye op die register (art 199(7) van die 1926 Wet en art 73(6)
van
22.
van die 1973.Wet). Kyk byvoorbeeld In re Jacobsons Ltd
1927 TPA 857; Ex Parte Liquidation Lime Products (Pty) Ltd,
1942 KPA 402; Ex Parte Minister of Irrigation, 1948(2)
SA 779 (K);
Ex Parte Pillay & Sons Ltd, 1951(1) SA 229 (T);
Norton District
Tobacco Warehouse (Pty) Ltd v Skea,
1963(1) SA 856 (FSC); Ex Parte
Marchini, 1964(1) SA 147 (T)
en Ex Parte Minister of Lands,
1964(3) SA 469 (T).
In Ex Parte Minister of Irrigation, sup cit, is die reël bevestig ten opsigte van sekere eiendom en uitkeerwerke wat aan 'n ontbinde besproeiingsraad behoort
het
23
het sowel as sekere saaklike regte van toegang wat
daaraan verbonde was.
Ter ondersteuning van sy bogemelde betoog het appellante verwys na twee beslissings, nl. Ex Parte Montrose Exploration Co Ltd 1918 TPA 179 en Ex Parte Minister of Irrigation,sup cit.
In die Montrose-saak word daar op bl 182 die indruk geskep dat die Staat slegs eienaar van die bona vacantia (in daardie geval grond) kan word as dit 'n hofbevel te dien effekte verkry. In daardie saak is die aanspraak van die Staat beskou as soortgelyk aan die
belang
24.
belang van 'n koper wat die eiendom gekoop het voordat
die
eienaar-maatskappy ontbind is. Daardie benadering is myns insiens prinsipieel
verkeerd. In die eerste plek word eiendomsreg nie
oorgedra deur hofbevele nie;
hofbevele kan hoogstens verklaar wie die eienaar is; 'n hof kan 'n bepaalde
persoon gelas om eiendomsregte
oor te dra. Tweedens indien die
Montrose-beslissing korrek is dan was daar sedert die ontbinding van die
maatskappy geen eienaar van die betrokke grond nie tot tyd en wyl
iemand 'n
hofbevel verkry het. Dit is 'n onhoudbare
gevolgtrekking.
In
25. In Ex Parte Minister of Irrigation het die
Staat 'n verklarende bevel verkry dat dit die eienaar van
sekere onroerende eiendom met uitkeerwerke is. Die saak is
geen gesag vir
die advokaat se submissie nie.
Gesien die dicta in die bogemelde beslissings en gesien wat hierbo uiteengesit is, is ek van mening dat die Staat, by die ontbinding van Mankor, die eienaar geword het van die vorderingsregte. Dit volg dat betoog A nie kan slaag nie.
Aangaande betoog B - Die vorderingsregte is sonder die nodige gesag oorgedra
Mnr Kemp se magtiging om namens die Tesourie
op
26.
op te tree is nie aangeveg nie. Wat wel aangeveg is, is
die Tesourie se magtiging om namens die Staat op te tree.
Mnr Kemp en die sekretaris van die Tesourie self het te kenne gegee dat die Staat geen aanspraak op die vorderingsreg het nie. Mnr Kemp het gesê dat hy kragtens art 31(1)(i) van die Wet opgetree het.
Artikel 31(1)(a) lui:
"(1) Behoudens die bepalings van hierdie
Wet en enige ander wet. het die Tesourie die bevoegdheid om
(a) leiding te gee in en beheer uit te
oefen oor die finansiële administrasie en voorrade-administrasie in die Staatsdiens ten einde die sistematiese en ordelike bestuur daarvan te bewerkstellig en doeltreffendheid en besuiniging by die aanwending van Staatsgeld en van ander Staatsgoed te bevorder."
Ter
27. Ter aanvulling van hierdie algemene bevoegdheid, word daar
sekere spesiale bevoegdhede verleen in art 31(1). Onder
meer is daar die bevoegdhede om -
"(i) goedkeuring te verleen vir die skikking
van 'n eis deur of teen die Staat of vir
die afstanddoening van 'n eis deur die
Staat;
(r) goedkeuring te verleen vir die vervreemding of verhuring van of die ander beskikking oor roerende Staatsgoed."
Dit bring my by die gronde waarop die Tesourie se magtiging om die sessie aan te gaan deur die partye onderskeidelik ondersteun of aangeveg word.
Namens die appellante is betoog dat die
funksies wat aldus aan die Tesourie verleen word, bloot
toesighoudend
28. toesighoudend van aard is; dat die Tesourie
goedkeuring
mag verleen vir die skikking of afstanddoening van 'n eis
deur 'n ander
staatsdepartement, maar nie self 'n eis mag
skik of daarvan afstand doen nie;
dat die Tesourie nie
self mag beskik oor roerende Staatsgoed nie, hoewel
dit
goedkeuring mag verleen dat ander departemente dit doen;
dat die
Tesourie se funksie ingevolge art 31(1) bloot dié
van 'n waghond is
oor die dade van ander departemente; dat
die bewoording van arts 31(1)(i) en
(r) nie die
afstanddoening of oordrag van regte deur die Tesourie
magtig
nie.
Daar is verder betoog dat die magte ingevolge art 31(1) uitgeoefen moet word "behoudens die bepalings
van
29.
van enige Met"; dat ingevolge art 98 van die
Grondwet 32 van 1961 alle "inkomste" na staatsinkomste=
fonds moet gaan en alle uitbetalings ooreenkomstig 'n
Wet moet geskied;
dat vervreemding van roerende bates van
die Staat ingevolge art 4 van die Wet
op die
Staatstenderraad nr 86 van 1968 moet geskied.
'n Verdere betoog namens appellante is dat ingevolge art 31(1) die Tesourie 'n diskresie moet uitoefen en dat 'n diskresie nie ingevolge 'n voorafbepaalde beleid aan bande gelê mag word nie.
Namens Sanlam is betoog dat die verskillende
wetsbepalinge benader moet word met die vooropstelling dat
die
gemeenregtelike prerogatiewe reg om oor bona vacantia
te
30. te beskik, bly voortbestaan behalwe insoverre dit duidelik
deur wetgewing ingekort mag wees en nie met die
vooropstelling dat
sodanige beskikkingsreg deur wetgewing
geskep moet word nie (sien Union
Government v Tonkin
1918 AA 533 op 541); dat indien statutêre magtiging vir
die sessie
gevind moet word, dit te vinde is in art 31(1);
dat Kemp se eie opinie
waaronder hy opgetree het, irrelevant
is; dat die enigste vraag net is of die Tesourie die
bevoegdheid gehad het
om afstand te doen van die
vorderingsregte en dit te bewerkstellig deur die
sessie.
Die geleerde Regter a quo het bevind dat betoog B nie kan slaag nie en die volgende gesê:
"In soverre art 31 dus van die Tesourie 'n waghond maak, moet hy soms noodwendig ook
oor
31.
oor homself waghond speel."
"Die sessie val binne die kategorie van transaksies wat die Tesourie bevoegd is om goed te keur ingevolge art 31(1) van die Skatkis- en Ouditwet. Soos reeds gemeld, is geen wetsbepaling aan my uitgewys waarkragtens 'n ander Staatsinstansie die primêre bevoegdheid het om 'n sessie van hierdie aard aan te gaan nie, en ek kon geen vind nie. Gesien die Tesourie se tradisionele betrok= kenheid met bona vacantia van hierdie aard, sou dit my verbaas as so 'n wetsbepaling bestaan. Na my mening moet die Tesourie se bevoegdheid om transaksies goed te keur ook die bevoegdheid insluit om sodanige transaksies aan te gaan waar dit nie binne 'n ander instansie se bevoegdheid val nie."
Soos later sal blyk is ek ook van mening dat betoog B nie kan slaag nie, maar op ander gronde. Op hierdie stadium wil ek net meld dat niks in hierdie
uitspraak
32.
uitspraak beskou moet word as 'n aanduiding dat ek dit
eens is met, of verskil van die bovermelde dicta van die geleerde Regter a quo nie.
Dit blyk uit mnr Kemp se getuienis dat toe hy Sanlam se versoek oorweeg het en daarna die sessie onderteken het dat hy ingevolge die Tesourie se beleid en kragtens art 31(1)(i) opgetree het. In Sanlam se verdere besonderhede van eis is dit ook gestel dat die Tesourie ingevolge art 31(1)(i) opgetree het. Al wat nodig is om te sê,is dat die korrekte verwysing na 'n betrokke magtigende bepaling nie 'n vereiste vir die geldigheid van 'n magsuitoefening is nie. Die feit dat Kemp se mening verkeerd is,kan die bestaan of omvang van die
bevoegdhede
33. bevoegdhede nie raak nie. Kyk STEYN, Die Uitleg van Wette
vyfde uitgawe bl 206 nota 5 en die gewysdes daar aangehaal.
Die submissie dat die Tesourie nie 'n behoorlike diskresie
uitgeoefen het nie, kan nie slaag nie. Dit is vanself=
sprekend dat die beleid self die gevolg is van 'n
vorige uitoefening van
'n diskresie. In alle geval,
Kemp het die saak deeglik oorweeg en sy besluit
geneem
nadat regsadvies ingewin is.
Ek het al die bovermelde betoë oorweeg maar om die redes wat volg vind ek dit onnodig om hulle te bespreek.
Die lang lys van sake wat vroeër gesiteer is bewys dat die beginsel dat ontbinde maatskappye se
eiendom
34. eiendom die Staat toeval sonder teenspraak sedert
Ex Parte Sprawson, sup cit, aanvaar is. Hierdie prerogatief
is nie deur enige wetgewing afgeskaf nie. Sedert die
Sprawson-saak is dit gevestigde bestaande praktyk dat in
alle aansoeke, ingevolge art 191 van die Maatskappywet 36
van 1926 en art 420 van die nuwe Maatskappywet 61 van 1973,
om die tersydestelling van die ontbinding van 'n
maatskappy, kennis van
die aansoek aan die Departement
van Finansies gegee word waar die betrokke
bates van die
ontbinde maatskappy bestaan uit 'n vorderingsreg of
geld.
Kyk Henochsberg on the Companies Act, 3de uitgawe, bl 734
en
die gewysdes daar aangehaal; kyk ook Joubert, Lawsa,
Vol 4 par 501
nota 18 en die gewysdes daar aangehaal.
Die
35. Die beleid dat die Staat hom nie verryk ten koste van
iemand wat belang het in die herregistrasie van die maatskappy
nie, is bestaande praktyk. Uit die gewysdes blyk
dit dat dit nog steeds die gebruik is dat die Tesourie
(die fiscus) die reg uitoefen om te besluit of die Staat
aanspraak sal maak op die geld of vorderingsreg by die
ontbinding van 'n
maatskappy.
Die Sprawson-saak is die fondament waarop die latere sake berus. Die praktyk en prosedure bestaan reeds vir sewentig jaar. Dit is in die algemeen aanvaar en toegepas. Mens moet aanvaar dat alle Staatsdepartemente en die wetgewende gesag te alle tye daarvan bewus was. Geen stappe is oor die tydperk van sewentig jaar gedoen
om
36.
om dit te verander nie. Hierdie Hof sou derhalwe
duidelike bewys van 'n foutiewe benadering vereis vóór dit dié praktyk en prosedure omverwerp.
Indien Mankor steeds bestaan het sou hy die eienaar gewees het van die vorderingsregte. Hierdie regte sou vanself aan Sanlam oorgegaan het. By Mankor se ontbinding het die regte die Staat toegeval as bona vacantia. Die Tesourie is die departement wat namens die Staat die bevoegdheid gehad het om te besluit dat die Staat nie aanspraak op die regte sal maak nie. Normaalweg sou 'n hof die ontbinding van Mankor tersyde gestel het en vanweë sy beleid sou die Tesourie nie aanspraak gemaak het nie op die regte wat aan Mankor sou
teruggeval
37. teruggeval het en dus oorgegaan het op Sanlam. . Die
beleid en gebruik is dat die Staat hom nie verryk ten
koste van enige regmatige aanspraakmaker nie. Sanlam
was die enigste
regmatige aanspraakmaker. Die sessie
was. die praktiese manier om die regte
aan Sanlam oor
te dra. Deur die ondertekening van die sessie het
die
Tesourie die regte aan die regmatige aanspraakmaker
oorgedra. Hierdie
handeling verskil nie in beginsel
of in praktiese gevolg van wat sy
roetine-optrede sou
gewees het indien 'n aansoek om herregistrasie van
Mankor
ingevolge die Maatskappywet plaasgevind het nie. Ek
is dus van mening dat die Tesourie die bevoegdheid gehad
het om die sessie
aan te gaan. Dit volg dat betoog
B nie kan slaag nie.
Om
38.
Om op te som, die Staat het by die
ontbinding van Mankor eienaar geword van die vorderings-regte. Die Tesourie het die bevoegdheid gehad om namens die Staat van sy regte afstand te doen ten gunste van die regmatige aanspraakmaker, Sanlam. Om dit te bewerkstellig is die sessie aangegaan.
Die appèl kan dus nie slaag nie en word afgewys met koste,insluitendedie koste van twee advokate.
0. GALGUT, Wnd AR
RABIE, HR ) JANSEN, AR ) CORBETT, AR ) Stem saam
JOUBERT, AR )
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1984/41.html