SAFLII [Home] [Databases] [WorldLII] [Search] [Feedback]

South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1984 >> [1984] ZASCA 17

[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]


President Versekeringsmaatskappy Bpk. v Hefer Another (275/82) [1984] ZASCA 17 (22 March 1984)

PDF of original document.PDF of original document

.RTF of original document


Saak Nr. 275/82.

PRESIDENT VERSEKERINGSMAATSKAPPY BEPERK

- en -
JAN FREDERICK HEFER

GROSSKOPF Wnd. AR.

Saak Nr. 275/82.

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAPDELING)

In die saak tussen

PRESIDENT VERSEKERINGSMAATSKAPPY BEPERK Appellant en

JAN FREDERICK HEFER Eerste Respondent

en

ADELAIDE HEFER Tweede Respondent

Coram: KOTZè, JOUBERT ARR et GROSSKOPF Wnd AR. Verhoor: 1 Maart 1984. Gelewer: 22 MAART 1984.

2. UITSPRAAK. GROSSKOPF Wnd. AR.
Hierdie appèl spruit uit 'n botsing tussen 'n motorvoertuig bestuur deur die tweede respondent, mev. A. Hefer, en een bestuur deur mnr. A.J. Nolte. Nolte se voertuig was by die appellant verseker ingevolge die Wet op Verpligte Motorvoertuigversekering, no. 56 van 1972. Mev. Hefer en haar man (eerste respondent) het in die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling vergoeding geëis vir skade gely vanweë liggaamlike beserings wat mev. Hefer en hul minder= jarige dogter, Adele,in die botsing opgedoen het.

Die hof a quo (ERASMUS R) het, op versoek

van /

3. van die partye, ingegaan bloot op die omvang

van die appellant se aanspreeklikheid (indien enige)

sonder om die kwantum van die gelede skade te bepaal. Die hof het bevind dat Nolte vyf-en-sewentig persent nalatig was teenoor vyf-en-twintig persent van mev. Hefer.
Na hierdie bevinding het die partye die kwantum van die Hefers se skade geskik, en is 'n hofbevel uitgereik waarkragtens uitspraak teen die appellant gegee is vir vyf-en-sewentig persent van die ooreengekome bedrae. Die appellant kom nou in hoër beroep teen hierdie bevel.

Die feite kan soos volg opgesom word.

Op /

4.
Op Saterdagoggend 10 Julie 1976 tussen 11 vm. en 12 uur, het Nolte, wat destyds ongeveer 23 jaar oud was, in 'n geel Ford bakkie vanaf Ficksburg gery met die pad wat na Fouriesburg voer. Sy jonger suster was saam met hom in die bakkie, en hulle was op pad terug huis-toe na hul ouers se plaas. Dit was 'n helder dag en die uitsig was goed. Nolte het teen nagenoeg 90 kilometer per uur gery.
Dieselfde oggend het mev. Hefer vanaf Rosendal na Ficksburg vertrek. Sy het 'n wit Peugeot 404 motor bestuur. Voor langs haar het haar getroude dogter, mev. van Jaarsveld, gesit,

en /

5. en op die agterste bank was twee ander dogters asook haar twee kleinseuns. Drie kilometer van Rosendal sluit die pad met 'n T-aansluiting aan by die hoofpad tussen Ficksburg en Fouriesburg waarop Nolte gery het.
Die Ficksburg-Fouriesburg-pad, wat rofweg van oos na wes loop, is breër by die aansluiting as elders sodat drie bane daarop aangedui word in plaas van die gewone twee. Die Rosendal-pad sluit vanaf die noorde aan, en daar is 'n duidelike stopteken en-streep om aan te dui dat verkeer vanaf Rosendal voor die aansluiting tot stilstand moet kom. Mev. Hefer was bewus daarvan dat sy moes stop

aangesien / ....

6. aangesien sy dikwels die pad gery het. Ongeveer 30 tot 40 meter voor die T-aansluiting is daar 'n draai na links in die Rosendal-pad. Toe mev. Hefer hierdie draai genader het, was haar snelheid ongeveer 30 na 40 kilometers per uur. Terwyl sy om die draai gery het, het sy spoed verminder deur eers haar voet van die versneller te neem, en toe vanaf vierde rat te verstel na derde rat. Haar beskrywing van wat gebeur het toe sy die kruising nader, soos dit in haar kruisverhoor voorkom, lui soos volg :-

"MNR TRENGOVE: Toe u reeds by die draai gery het teen 30, 40 kilometer per uur en toe het u na 'n laer rat afgeskakel

en /

7.

en u het algaande al stadiger gery
soos wat u die stopstraat genader het,
is dit korrek? Dit is reg.

En mevrou, net voor u toe - u het die
rempedaal getrap toe u, sê u, omtrent
drie meter van die stopstreep af was.
Is dit knrrek? Ek het ja.

Nou voor u nou die rempedaal trap, kan u vir ons sê hoe vinnig u gery het of hoe stadig u gery het op daardie stadium?

Dit was baie stadig gewees want ek het
gegaan om te stop by daardie stopstraat.
U het die rempedaal so laat getrap omdat u teen so 'n stadige spoed beweeg het en dit daarom nie nodig was om hom
vroeër te trap nie, is dit korrek?
Dit is korrek, ja.
U is 'n baie versigtige bestuurderes, is
dit korrek? Ek is, ja.
En daardie dag het u daardie stopstraat
op 'n baie versigtige manier genader, is
dit korrek? Dit is so.
En totdat u die rempedaal getrap het, het u gedoen soos wat u net altyd op u versigtige manier gedoen het, om by 'n

stopstraat / ...

8.

stopstraat te stop, is dit korrek?
Ja, ek het.
Daar was niks buitengewoon nie, u het op u gewone versigtige manier gery en die eerste buitengewone ding wat gebeur het, was daar drie meter voor die
stopstreep. Ja, toe die kar nie
wou stop nie.
Mevrou, as u sê u het die rempedaal
getrap drie meter voor die stopstreep,
ons moet aanvaar dat dit net 'n rowwe
skatting is? Dit is so.
Al wat u eintlik kan sê is u was
amper by die stopstreep, is dit korrek?
Dit is reg.

Nou toe u die rempedaal trap, toe sê

u het hy vir 'n oomblik gevat.

Dis reg, ja.

U het gesê dit was of die kar wou gaan

staan. Die kar het net stadiger gery
en toe dadelik in sy momentum weer aange= gaan."
Die rede waarom die Peugeot "dadelik in sy

momentum weer aangegaan" het, was dat sy remme op

daardie / .....

9.

daardie kritieke oomblik gefaal het. Die Peugeot

het gevolglik nie by die stopstreep gestop nie.

Aanvanklik het mev. Hefer gedink sy sou dwars oor

die pad ry na geploegde lande aan die suidekant van

die Ficksburg-Fouriesburg-pad. Haar snelheid was

egter so laag (sy het dit geskat op 10 tot 15
kilometer per uur) dat sy gou besef het dat sy
regs sou kon draai en haar reis voortsit na
Ficksburg. In die spanning van die oomblik het sy
egter nie Nolte se aankomende bakkie gesien nie.

Nolte, volgens sy getuienis, het gesien dat

mev. Hefer na die kruispad aangery kom, maar het

aanvaar dat sy sou stop, soos sy trouens ook van plan was om te doen. Toe sy by die kruising kom, sien

hy /
10. hy egter dat sy aanhou ry. Hy het sy motor na regs geswenk om haar te probeer vermy, maar mev. Hefer het voortbeweeg en 'n botsing het gevolg. Ek sal later terugkeer na die getuienis oor die punt waar die twee voertuie gebots het.
Die basis waarop die hof a quo bevind het dat die botsing tot 'n groot mate aan Nolte se nalatigheid te wyte was, word soos volg in die uitspraak opgesom :-

"By oorweging van al die getuienis het ek tot die gevolgtrekking gekom dat die eiseres geskrik het toe die remme van haar motorkar onverwags gefaal het en dat Nolte nie behoorlik opgelet het na aankomende verkeer

links / ....

11.

links op die Rosendalpad nie. Toe hy nog ver genoeg was van die T-aansluiting ... om 'n botsing te vermy deur links te ry, reguit te ry of selfs remme te trap, het hy so geskrik toe hy skielik die motorkar in sy baan sien, dat hy on= oordeelkundig en onbehendig regs voor die motorkar ingery het."

Die kern van hierdie bevinding is dat Nolte, deur nie behoorlik uitsig te hou nie, te laat besef het dat mev. Hefer nie by die stopstreep sou stop nie. Om te beoordeel of hierdie beslissing korrek is, is dit belangrik om te bepaal wanneer Nolte behoort te besef het dat mev. Hefer nie sou stop nie. Soos blyk uit die getuienis hierbo kon dit nie gewees het voordat haar remme gefaal het nie,

want /
12. want tot op daardie stadium het mev. Hefer opgetree soos 'n persoon wat voornemens was om die stopteken te gehoorsaam. Hoe ver die twee voer= tuie van mekaar was op die tydstip toe haar remme gefaal het, is onmoontlik om te bepaal aan die hand van direkte getuienis. Mev. Hefer het nooit die bakkie gesien voor die oomblik van die botsing nie. Mev. van Jaarsveldt het getuig dat, toe hulle die kruising binnegaan, die bakkie by 'n punt 328 meters van die kruising af was. Gedurende argument is toegegee dat hierdie skatting klaarblyklik verkeerd was. Nolte het aanvanklik getuig dat die Peugeot vlak voor hom die kruising inbeweeg het.

Gedurende /
13. Gedurende kruisverhoor is hy aangemoedig om skattings van afstande te gee. Sy getuienis in hierdie verband was egter so onoortuigend dat dit nie deur die verhoorhof aanvaar is nie. Dit is vir my duidelik uit die oorkonde dat die krisis wat ontstaan het toe die Peugeot se remme gefaal het en mev. Hefer onverwags die kruising binnegegaan het, al die getuies tot so 'n mate onverhoeds gevang het sodat nie een van hulle se skattings van afstande enigsins betroubaar is nie.
Die enigste manier waarop 'n mens myns insiens kan probeer bepaal of Nolte die botsing kon vermy het, is deur vas te stel min of meer waar die punt

van /

14.

van botsing was en daarvan afleidings te probeer maak. Sers. Harbron, wat die

polisie-ondersoek na die botsing waargeneem het,

het afmetings gedoen en 'n plan van die toneel

opgestel. Volgens hierdie plan was die Ficksburg-

Fouriesburg-pad 10,5 m. breed by die kruising.
Die stopstreep was 'n verdere 2,8 m. noord van die
noordelike rand van die Ficksburg-Fouriesburg-pad.
Die drie bane waaruit die pad bestaan het se
breedtes was, volgens 'n latere meting, onderskeidelik
3,4 m., 3,5 m en 3,6 m. van noord na suid.
Gerieflikheidshalwe sal ek na hierdie bane in
dieselfde volgorde verwys as die eerste, tweede en
derde bane onderskeidelik. Die punt van botsing

was /

15.
was, volgens sers. Harbron, 10 cm. noord van die derde baan, d.w.s. feitlik op die streep tussen die tweede en die derde baan. Hierdie punt is deur Nolte aan sers. Harbron uitgewys. Daar was ook kluite by daardie punt, en swart tolmerke op die pad wat gevoer het in 'n suid-oostelike rigting, in lyn met die posisie waar die twee voertuie albei tot stilstand gekom het.
As 'n mens veronderstel dat die punt van botsing akkuraat deur sers. Harbron bepaal is, sou dit beteken dat mev. Hefer 9,6 m. suid van die stopstreep was toe die botsing plaasgevind het. Mev. Hefer het egter getuig dat sy reeds in die

derde / ....

16.

derde baan was voordat die botsing plaasgevind het,

hoewel sy later in kruisverhoor minder seker

hieromtrent voorgekom het. Sers. Harbron het

egter ook toegegee dat die punt van botsing nie
met volkome akkuraatheid bepaal kon word nie en dat

dit binne 'n area van ongeveer 2 meter kon wees van die punt wat hy aangedui het. As 'n mens ten gunste

van mev. Hefer veronderstel dat sy soveel as 12 m.
vanaf die stopstreep was toe die botsing plaasgevind
het, sou Nolte,wat, soos reeds gemeld, teen ongeveer
90 kilometer per uur gery het, ten meeste 'n paar
sekondes gehad het om te reageer nadat sy die stop=
streep oorgesteek het.

Dit is teen die bogemelde agtergrond dat

'n mens moet bepaal of Nolte nalatig opgetree het, en,

indien /

17. indien wel, tot watter mate. Die verhoorhof het Nolte
dit verkwalik, eerstens, dat hy nie mev. Hefer se Peugeot behoorlik onder oog gehou het terwyl die Peugeot die stopteken genader het nie. Dit is nie vir my nodig om 'n mening oor die geldigheid van hierdie kritiek uit te spreek nie, want al het Nolte in hierdie opsig gefouteer, sou dit geen verskil aan die uitslag van die saak maak nie. As hy mev. Hefer versigtig dopgehou het, sou hy gesien het dat sy blykbaar van plan was om by die stopstreep te stop, en sou hy geen besondere voorsorgmaatreëls hoef te getref het nie.

Dan het die verhoorhof bevind dat Nolte

se /
18. se versuim om 'n behoorlike uitsig te hou daartoe gelei het dat hy onoordeelkundig opgetree het toe mev. Hefer die stopstreep verbygesteek het. Die implisiete bevinding dat Nolte op daardie stadium nog steeds versuim het om 'n behoorlike uitsig te hou, is gegrond op leemtes in sy getuienis oor die gebeure op daardie kritieke oomblik. Weer eens sal ek veronderstel dat die kritiek op Nolte se getuienis geregverdig is, hoewel my eie indruk is dat Nolte probeer het om die waarheid te praat oor 'n insident wat vyf jaar vantevore skielik en onverwags plaas= gevind het. Hoe dit ook al sy, die verhoorhof se bevinding behels nie alleen dat Nolte onvoldoende

oplettendheid / ....

19. oplettendheid aan die dag gelê het nie, maar ook dat hy anders behoort op te getree het as wat hy het. Die vraag is dan: watter stappe behoort hy be gedoen het in die situasie waarin hy hom bevind het? In hierdie verband moet ek weer eens beklemtoon dat Nolte geregtig was om te aanvaar dat die Peugeot by die stopstreep tot stilstand sou kom. Toe dit nie gebeur nie, sou Nolte redelikerwyse kon veronderstel het dat die Peugeot waarskynlik maar net effens verby die stopstreep gery het en nog steeds sou stop, hoewel 'n entjie verder. Hy het geen rede gehad om te vermoed dat mev. Hefer die stopteken heeltemal sou ignoreer of dat die Peugeot se remme gefaal het nie, en selfs al

sou /
20. sou hy aan laasgenoemde moontlikheid gedink het, sou hy waarskynlik geweet het dat die motor 'n onafhanklike handrem het. Teen die pas waarteen die Peugeot gery het, sou mev. Hefer dit betyds met behulp van die handrem tot stilstand kon bring. Onder hierdie omstandighede sou dit Nolte se natuurlike en verstaanbare reaksie gewees het om na regs te swenk ten einde mev. Hefer 'n geleentheid te gee om haar motor tot stilstand te bring. Dit was inder= daad wat hy gedoen het.
Die verhoorhof het verder bevind dat Nolte ook sy remme moes getrap het. Wat hierdie bevinding betref, is dit eerstens onseker of dit Nolte sou

gebaat /
21. gebaat het om rem te trap. Daar was geen getuienis oor die afstand waarbinne Nolte se voertuig tot stilstand gebring kon word nie en dit lyk onwaar= skynlik dat hy sou kon gestop het voordat hy die kruising binnegegaan het. As hy nie anders kon as om die kruising binne te gaan nie, sou hy moeilik kon oordeel of dit beter sou wees om stadig te ry as om vinnig te ry. Selfs in terugblik is dit moeilik om te sê wat die regte besluit was - dit is minstens ewe moontlik dat Nolte die botsing sou kon vermy het deur vinnig te versnel en deur die kruising te jaag voor die neus van mev. Hefer se voertuig verby, as dat hy dit kon vermy het deur snelheid te

verminder / ...

22.

verminder, en haar 'n kans te gee om uit sy pad

te kom. Hoe dit ook al sy, Nolte sou nie kon

weet wat die beste uitweg was nie want hy kon nie voor=
sien hoe mev. Hefer sou optree nadat sy die stoplyn
oorgesteek het nie.
Maar dit is in elk geval onseker of Nolte inderdaad versuim het om rem te trap. In getuienis by die verhoor het hy gesê dat hy nie kon onthou of hy gerem het nie. In sy verklaring aan die polisie op 12 Julie 1976, twee dae na die botsing, het hy gesê dat hy wel rem getrap het,netr voor die botsing.
Om op te som, die duidelike en klaarblyklike oorsaak van die botsing was dat die Peugeot se

remme /
23. remme gefaal het en die voertuig derhalwe die kruising binnegegaan het. Nolte het geen rede gehad om dit te verwag voordat dit inderdaad gebeur het nie, en hy kon nie voorspel wat mev. Hefer sou doen nadat dit gebeur het nie. Teen hierdie agtergrond is daar na my mening nie bewys dat Nolte se optrede onvanpas was onder die omstan= dighede nie. Dit volg dus dat die verhoorhof myns insiens gefouteer het deur te bevind dat die botsing ten dele aan Nolte se nalatigheid te wyte was.
Ten slotte is daar een verdere aspek waarmee ek moet handel. In die oorkonde van die saak verskyn daar 'n aantal aanhangsels tot die respondente se nadere

besonderhede / ..

24.
besonderhede (aanhangsels A tot en met D) wat betrekking het bloot op die kwantum van die respondente se skade. Hierdie aanhangsels beslaan 30 bladsye. Soos reeds gemeld, was die kwantum van skade nie op appèl in geskil nie. Die partye se advokate het toegegee dat hierdie aanhangsels gevolglik nie in die oorkonde opgeneem behoort te gewees het nie en dat die respondente, indien onsuksesvol, geen koste ten opsigte daarvan behoort te dra nie.
Bygevolg word die appèl gehandhaaf met koste, met dien verstande dat die appellant nie geregtig is op enige koste voortspruitende uit die invoeging in

die /
25. die oorkonde van aanhangsels A tot en met D tot die respondente (eisers in die hof a quo) se nadere besonderhede nie. Die bevel van die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling word ter syde gestel en vervang met 'n bevel van absolusie van die instansie met koste.

E.M. GROSSKOPP Wnd. AR.

KOTZé AR )
Stem saam. JOUBERT AR)


SAFLII: | Terms of Use | Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1984/17.html