South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley >> 2012 >> [2012] ZANCHC 39

| Noteup | LawCite

S v Danster, S v Seiso, S v Phantswa, S v Moses, S v Motlhodiemang (B1001/11, B2544/11, B2545/11, B2548/11, B2549/11) [2012] ZANCHC 39 (29 June 2012)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

Rapporteerbaar: Ja / Nee

Sirkuleer onder Regters: Ja / Nee

Sirkuleer onder Landdroste: Ja / Nee

Sirkuleer onder Streeklanddroste: Ja / Nee


IN DIE Hoë HOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Hoë Hof, Kimberley)


Datum gelewer: 29/06/2012


In die saak tussen:


Die Staat


en

J Danster ................................................................................Saakno: B1001/11

K Seiso ....................................................................................Saakno: B2544/11

N Phantshwa ..........................................................................Saakno: B2545/11

H Moses .................................................................................Saakno: B2548/11

T Motlhodiemang ...................................................................Saakno: B2549/11



Coram: Olivier R et Van Niekerk WnR

UITSPRAAK


Olivier R:


  1. Die bogemelde sake is voorgelê vir outomatiese hersiening. In antwoord op my navraag ten aansien van, ondermeer, die inhoud van die aanklagte waarop die betrokke beskuldigdes skuldig bevind is, het die landdros toegegee dat die aanklagte nie die beskuldigdes genoegsaam ingelig het van die beweringe teen hulle nie en dat die verrigtinge dus nie ooreenkomstig die reg was nie. Ek het ook ‘n uiters volledige en behulpsame regsmening ontvang van adv J J Cloete van die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolgings, waarvoor ek hom dank verskuldig is. Sy gevolgtrekking ten aansien van die inhoud van die aanklagte klop met die landdros se toegewing.


  1. In al vyf die gevalle het die beskuldigdes tereggestaan op aanklagte van bedrog, en in die alternatief daartoe aanklagte van die oortreding van artikel 21 (2) van die Wet op Maatskaplike Bystand1. In die Motlhodiemang geval was daar ‘n tweede alternatiewe aanklag van die oortreding van artikel 12 (2) van die 1992 Wet op Maatskaplike Bystand2. In al die gevalle het die beskuldigde skuldig gepleit op die alternatiewe aanklagte en is hulle dienooreenkomstig skuldig bevind op sterkte van verklarings ingevolge artikel 112 (2) van die Strafproseswet3.


  1. Artikel 21 (2) van die 2004 Wet op Maatskaplike Bystand lui soos volg:


Indien enige persoon maatskaplike bystand ontvang in die wete dat hy of sy nie daarop geregtig is nie of nie geregtig is op die volle bedrag wat hy of sy ontvang nie en hy of sy versuim om die Agentskap daarvan in kennis te stel, is hy of sy aan ‘n misdryf skuldig.”


  1. Artikel 12 (2) van die 1992 Wet het die volgende bepaal:


Indien ‘n persoon enige maatskaplike bystand ontvang terwyl hy of sy weet dat hy of sy nie daarop geregtig is nie, is hy of sy aan ‘n misdryf skuldig.


  1. Die wese van beide hierdie oortredings is duidelik dat die aangeklaagde maatskaplike bystand moes ontvang het wetende dat hy of sy nie daarop geregtig is nie, en in die geval van die bepaling in die 2004 Wet is dit ‘n verdere vereiste dat daar ‘n versuim moes gewees het om die betrokke agentskap in kennis te stel.


  1. In elk van hierdie gevalle het die betrokke beskuldigde aanvanklik suksesvol aansoek gedoen om die maatskaplike bystand, op ‘n stadium toe hy of sy dus klaarblyklik daarop geregtig sou gewees het. Dit is in elk van die betrokke aanklagte die beskuldigde ten laste gelê dat hy of sy gedurende 'n bepaalde latere termyn/e nie meer geregtig was op die ontvangs van die maatskaplike bystand, in die bedrag wat hy of sy wel ontvang het, nie.


  1. Wat die 2004 Wet betref, word die kriteria waarvolgens bereken moet word of ‘n persoon geregtig is op die ontvangs van maatskaplike bystand, en indien wel in watter bedrag, gevind in die regulasies wat in terme van die betrokke Wet uitgevaardig is, en in die verskillende aanhangsels daarin na verwys. Die aard van die maatskaplike bystand waaroor dit gaan, sal bepaal watter regulasies en aanhangsels van toepassing sal wees in ‘n bepaalde geval. Hier het die beskuldigdes byvoorbeeld onderskeidelik ‘n ongeskiktheidstoelaag en kindertoelaes ontvang en sou verskillende regulasies, aanhangsels en kriteria dus van geval tot geval van toepassing gewees het.


  1. In die afwesigheid van ‘n verwysing na die korrekte en toepaslike regulasies, aanhangsels en kriteria sou die aanklagte nie die beskuldigdes behoorlik ingelig het van wat presies die saak en die beweringe van die Staat se kant teen hulle was nie.


  1. Nie in een van hierdie gevalle bevat die alternatiewe aanklagte voldoende en/of korrekte beweringe in hierdie verband nie:


    1. In die Danster, Seiso en Moses gevalle is daar in die aanklag verwys na “Regulasie 23 (1) van die Regulasies soos gepromulgeer in die Staatskennisgewing (sic) R417 gepubliseer in die Staatskoerant 18771 van 31 Maart 1998, soos gewysig deur Staatskennisgewing (sic) R898 gepubliseer in die Staatskoerant 31356 van 22 Augustus 2008.


Goewermentskennisgewing 417 bevat nie ‘n Regulasie 23 (1) nie. Goewermentskennisgewing 898 bevat wel ‘n regulasie 23, maar dit handel met die omskepping van toelaes, en nie met dit waaroor dit hier gegaan het nie.


    1. In die Phantshwa en Motlhodiemang gevalle is daar net ‘n verwysing na die regulasies in die algemeen, sonder om te beweer watter spesifieke regulasies, aanhangsels en kriteria in daardie gevalle volgens die Staat van toepassing sou gewees het gedurende die periode wat me Phantshwa en me Motlhodiemang na bewering bystand ontvang het waarop hulle nie geregtig was nie.


  1. Was dit ‘n geval dat die verwysing na artikel 21 (2) of artikel 12 (2) van die onderskeie Wette weggelaat is, sou geargumenteer kon word dat die bewoording van die aanklagte, wat die bewoording van daardie bepalings gevolg het, die beskuldigdes voldoende ingelig het van daardie bepaalde beweringe, en van die elemente soos vervat in daardie artikels, wanneer dit in isolasie gelees sou word4.


  1. Hier is egter weggelaat die verwysing na die regulasies en aanhangsels waarin bepaal is wie op maatskaplike bystand geregtig sou wees en in watter bedrae, en geeneen van die betrokke aanklagte het beweringe bevat dat die betrokke beskuldigde op die basis van bepaalde kriteria nie geregtig was op maatskaplike bystand gedurende die betrokke periode nie.


  1. Die bewering dat ‘n betrokke beskuldigde maatskaplike bystand ontvang het waarop hy/sy nie geregtig was nie, sou glad nie verduidelik waarom die Staat beweer dat die betrokke beskuldigde5 tydens die betrokke periode nie meer op maatskaplike bystand geregtig was nie. Anders gestel, die blote bewering dat ‘n beskuldigde tydens ‘n bepaalde periode nie op maatskaplike bystand geregtig was nie, sonder enige verwysing na die kriteria wat so ‘n beskuldigde sou diskwalifiseer, sou nie duidelik gemaak het wat presies die beskuldigdes ten laste gelê is nie.


  1. Dit is ‘n fundamentele reg van elke beskuldigde persoon “om van die aanklag verwittig te word in voldoende besonderhede om daarop te antwoord6.


  1. Veral wanneer gelet word op die tegniese aard en relatiewe ingewikkeldheid van die kriteria vir die bepaling van of ‘n persoon op maatskaplike bystand geregtig is en, indien wel, in watter bedrag7, is dit na my oordeel duidelik dat die onderhawige aanklagte nie die beskuldigdes voldoende besonderhede gebied het nie.


  1. Reeds op hierdie basis al behoort die skuldigbevindings dus in elk van hierdie gevalle tersyde gestel te word. Die feit dat hulle skuldig gepleit het, beteken nie dat die slordige wyse waarop hierdie aanklagte bewoord is, hulle nie benadeel het nie8.


  1. Die beskuldigdes se pleite van skuldig, en hulle verklarings ingevolge artikel 112 (2) van die Strafproseswet, moet in elk geval ook van nader beskou word.


  1. Hulle was almal onverteenwoordig. Dit blyk dat in elk van hulle se gevalle daar gebruik gemaak is van ‘n roneo vorm vir die doeleindes van die verklaring. Die ontbrekende gedeeltes in die vorms is almal in dieselfde handskrif voltooi en dus duidelik nie deur die beskuldigdes nie.


  1. In elk van daardie vorms is daar ‘n paragraaf wat slaan op ‘n bedrag (en duidelik ‘n perk) wat oorskry sou gewees het deur die betrokke beskuldigdes se jaarlikse salarisse gedurende die relevante periode. In elke geval is daar dan in die oop spasie wat in die betrokke paragraaf gelaat is vir die toepaslike bedrag en perk, ‘n bedrag ingevul deur dieselfde persoon. Die betrokke bedrag, en ook die res van die roneo vorm, bevat egter geen verwysing na waar daardie bedrag voorgeskryf is as ‘n perk wat sou geld ten aansien van die bepaalde tipe bystand en die bepaalde beskuldigde gedurende die bepaalde periode nie.


  1. Wanneer selfs bloot vlugtig gekyk word na die voorskrifte9 wat bepaal, in die geval van die 2004 Wet, wat die inkomste-perk in ‘n bepaalde geval sou wees, is dit duidelik dat, selfs met inagneming van die inhoud van die roneo vorms, die beskuldigdes nie behoorlik ingelig kon gewees het van wat die Staat se saak was met betrekking tot waarom hulle nie langer gekwalifiseer het om die bepaalde tipe toelaag te ontvang in die betrokke periodes nie.


  1. Regulasies 3 en 6 handel onderskeidelik met wie, in die algemeen, geregtig sou wees om, onder andere, ‘n ongeskiktheidstoelaag en ‘n kindertoelaag te ontvang.


  1. In die geval van ‘n kindertoelaag, moet regulasie 6 dan nog saamgelees word met aanhangsel B. Paragraaf 1 van laasgemelde aanhangsel lui dat die Minister by wyse van ‘n kennisgewing in die Staatskoerant die bedrag van ‘n kindertoelaag van tyd tot tyd sal voorskryf. Hier is geen verwysing na regulasie 6, aanhangsel B of na die Staatskoerant met die bedrag in die gevalle waar dit gaan oor kindertoelaes nie.


  1. Paragraaf 2 van die betrokke aanhangsel bevat ‘n relatief ingewikkelde formule om te bepaal of iemand aan die finansiële maatstaf voldoen om geregtig te wees op ‘n kindertoelaag. Die formule kan egter nie toegepas word sonder die bedrag van die kindertoelaag wat op daardie stadium volgens die Minister se kennisgewing van toepassing sou gewees het nie.


  1. Regulasie 18, gelees met aanhangsels A, B, C en D, bevat die finansiële kriteria vir die bepaling van of ‘n persoon geregtig sou wees op enige van die vier verskillende tipes maatskaplike bystand of –toelaes. Aanhangsel A bevat dan weer bepalings en formules baie soortgelyk aan dié in aanhangsel B. Ook hier beteken die afwesigheid van die maksimum bedrag van die toelaag wat volgens die Minister se kennisgewing gedurende die toepaslike periode sou gegeld het, dat die formule om te bereken of die persoon geregtig is op, byvoorbeeld, die ongeskiktheidstoelaag nie toegepas sou kon word nie.


  1. Die alternatiewe aanklag teen Danster, wat ‘n ongeskiktheidstoelaag ontvang het, bevat geen verwysing na hierdie regulasie, na aanhangsel A of na die maksimum aangekondigde bedrag van die toelaag nie.


  1. Die onverteenwoordigde beskuldigdes kon op die oog af nie sonder hierdie inligting ‘n ingeligte erkenning gemaak het ten aansien van die bedrag of perk ingevul in die roneo vorm nie. Die landdros het ook nie gebruik gemaak van die voorbehoudsbepaling tot artikel 112 (2) van die Strafproseswet deur vrae te stel in ‘n poging om hierdie aspekte op te klaar nie. Dit beklemtoon maar net weer die gevare verbonde aan die gebruik van sulke vorms, veral waar ‘n beskuldigde onverteenwoordig is en die voorsittende beampte nie deur ondervraging vasstel of die beskuldigde werklik ‘n ingeligte erkenning maak nie10.


  1. In die lig daarvan dat die betrokke aanklagte in elk geval na my oordeel totaal gebrekkig en nietig was, sou die vraag sekerlik kon wees of die landdros in die omstandighede enigsins geregtig sou gewees het om verdere vrae te vra, veral waar sodanige vrae die effek sou gehad het dat dit antwoorde sou ontlok het wat sou geslaan het op iets wat glad nie eers in die aanklag beweer is nie.


  1. In die lig van die feit dat die aanklagte in elk geval fataal gebrekkig en nietig was, meen ek egter in elk geval nie dat hierdie gevalle sou wees waarmee gehandel moes word in terme van artikel 312 (1) van die Strafproseswet nie. Die terugverwysing na die landdros vir die behoorlike nakoming van artikel 112 (2) van die Strafproseswet sal futiel wees waar die aanklagte in elk geval nietig is11.


  1. Ek meen dat die skuldigbevindings bloot tersyde gestel behoort te word op die basis dat die aanklagte gebrekkig was, soos bedoel in artikel 324 (b), gelees met artikel 313, van die Strafproseswet. Dit sal tot gevolg hê dat dit die Staat sou vrystaan om die beskuldigdes weer te vervolg, maar dat die verrigtinge dan voor ‘n ander voorsittende beampte sal dien.


  1. Mnr Cloete het in sy regsmening volledig verwys na hoe die bewoording van die aanklagte moes gelui het en ek vertrou dat die nodige leiding in hierdie verband aan die aanklaer (en moontlik sommer ook aan alle ander aanklaers in hierdie Afdeling) gegee sal word.


  1. Ek maak bygevolg die volgende bevel hierin:


Alle skuldigbevindings en vonnisse in Kimberley Landdroshof saaknommers B1001/11, B2544/11, B2545/11, B2548/11 en B2549/11 word tersyde gestel.









_____________________

C J OLIVIER

REGTER

NOORD-KAAPSE AFDELING


Ek stem saam.





______________________

J G VAN NIEKERK

WAARNEMENDE REGTER

NOORD-KAAPSE AFDELING


113 van 2004

259 van 1992

351 van 1977

4R v Kharibe 1958 (1) SA 191 (T)

5wat voorheen wel op maatskaplike bystand geregtig was

6Artikel 35 (3) (a) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 108 van 1996; S v Legoa 2003 (1) SACR 13 (SCA) para [20]

7waarna ek sal terugkeer

8Vergelyk S v Tshali 2007 (2) SACR 23 (C)

9In die regulasies uitgevaardig in Goewermentskennisgewing R898 in Staatskoerant nommer 31356 van 22 Augustus 2008

10S v Sellars and Six Others Cases 1991 (1) SACR 491 (N)

11vergelyk S v Zimba & another [2007] JOL 17369 (T); S v Fumo [2005] JOL 13422 (T) para [6]