South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley >> 2010 >> [2010] ZANCHC 41

| Noteup | LawCite

S v Matthys (K/S 55/2005) [2010] ZANCHC 41 (10 September 2010)

Download original files

PDF format

RTF format


Rapporteerbaar: Ja / Nee

Sirkuleer onder Regters: Ja / Nee

Sirkuleer onder Landdroste: Ja / Nee

Sirkuleer onder Streeklanddroste: Ja / Nee


IN DIE Hoë HOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Hoë Hof, Kimberley)


Saak No: K/S 55/2005

Saak Aangehoor: 30/08/2010

Datum gelewer: 10/09/2010

In die saak tussen:



Klaas Matthys .............................................................Appellant


en



Die Staat .......................................................................Respondent


Coram: Majiedt WnRP et Olivier R et Pakati WnR


UITSPRAAK


Olivier R:


  1. Die appellant en sy mede-beskuldigde, mnr Lionel Williams, is in die Rondgaande Hof te Calvinia skuldig bevind op ‘n aanklag van moord en is elk gevonnis tot 18 jaar gevangenisstraf.


  1. Die appellant kom nou met verlof van die verhoorhof in hoër beroep teen sy vonnis. Daar is namens die appellant aangevoer dat die erns van die misdaad en die belange van die gemeenskap oorbeklemtoon is, dat sy persoonlike omstandighede onderbe-klemtoon is, dat die vonnis van 18 jaar gevangenisstraf skokkend onvanpas is en dat, inteendeel, die verhoorhof wesenlike en dwingende omstandighede moes bevind het en hom tot minder as die voorgeskrewe minimum van 15 jaar gevangenisstraf moes gevonnis het.


  1. Dit is geyk dat ‘n Hof van appèl slegs met ‘n vonnis sal inmeng waar dit die gevolg was van ‘n wesenlike mistasting of skokkend onvanpas is.


  1. Daar is nie in die betoogshoofde namens die appellant enige gronde uitgestippel vir die submissie dat die erns van die misdaad oorbeklemtoon is nie.


  1. Die appellant en sy mede-beskuldigde het die oorledene by sy ouerhuis genader. Hulle het hom buite die huis begin aanval met messe. Toe hy hardloop om in die huis te kom en op ‘n stadium gly en val, het hulle hom gejaag en genadeloos voortgegaan met hulle gesamentlike aanval. Die oorledene se stiefvader het hom die huis binnegetrek, maar die appellant was so vasberade dat hy agterna is en die oorledene daar in die huis weer ‘n dodelike wond op sy bors toegedien het. Dit alles het gebeur ten aanskoue van die oorledene se moeder, en ten spyte van haar pleitdooi om nie die oorledene te dood nie.


  1. Dat dit ‘n absolute lafhartige aanval was, blyk nie net uit die voorgaande nie, maar ook uit die feit dat die oorledene in die proses ondermeer meermale in sy rug, en dus van agteraf, gesteek is.


  1. Dat dit ook ‘n besonder wrede aanval was, blyk veral uit die aantal steekwonde, naamlik nie minder nie as sewe. Vyf van hulle was in die rug en twee in die bors. Die verhoorhof het na my oordeel tereg die afleiding gemaak dat die moord gepleeg is met die direkte opset om te dood.


  1. Op die getuienis was die afleiding dat die appellant en sy mede-beskuldigde die aanval uit weerwraak geloods het, na my oordeel eweneens beslis geregverdig. Dit is duidelik dat hulle die oorledene gaan aanval het weens voorvalle wat vroeër die dag plaasgevind het.


  1. Dit was die saak van die appellant en sy mede-beskuldigde dat die oorledene vroeër die betrokke dag ‘n vriend van hulle aangerand het en dat daar later ‘n voorval plaasgevind het waartydens ‘n ander persoon die appellant met ‘n graaf aangerand het en die oorledene sy mede-beskuldigde met kookwater in die gesig gegooi het. Hulle moes toe by die hospitaal behandeling ontvang en dit is toe hulle daarvan af gekom het, wat die onderhawige voorval plaasgevind het.


  1. Ek kan nie saamstem met die submissie dat die vroeëre gebeure “’n mate van provokasie” daargestel het nie. Op die appellant se eie getuienis moes die voorval met die graaf en die kookwater in die loop van die middag gebeur het, en het hulle toe eers na 20:00 die aand by die ouerhuis van die oorledene opgedaag. Dit het oorgenoeg tyd gelaat vir besinning en maak dit duidelik dat die aanval op die oorledene nie ‘n impulsiewe reaksie was nie.


  1. Dit is ook nie namens die appellant toegelig hoe die gemeenskapsbelang oorbeklemtoon sou gewees het nie en ek kan ook geen gronde vir so ‘n gevolgtrekking vind nie.


  1. Ek meen ook nie dat die appellant se persoonlike omstandighede onderbeklemtoon is nie en daar is na my oordeel niks daarin wat ‘n bevinding van wesenlike en dwingende omstandighede sou kon regverdig het nie. Inteendeel, die appellant het al vorige veroordelings van oproerige gedrag en die besit van ‘n gevaarlike wapen gehad.


  1. Selfs al sou die afwesigheid van tekens van berou ook as ‘n faktor weggedink word, was daar op die getuienis meer as genoeg regverdiging daarvoor om nie alleen geen wesenlike en dwingende omstandighede te bevind wat ‘n afwyking sou regverdig van die voorgeskrewe minimum van 15 jaar gevangenisstraf nie, maar ook om die appellant te vonnis tot 18 jaar gevangenisstraf.


  1. Ek vind dié vonnis in die omstandighede hoegenaamd nie skokkend nie en sou dus die volgende bevel hierin maak:


Die appèl word afgewys en die vonnis van 18 jaar gevangenisstraf word bekragtig.





_____________________

C J OLIVIER

REGTER

NOORD-KAAPSE AFDELING




Ek stem saam en dit word so gelas.





_____________________________

S A MAJIEDT

WAARNEMENDE REGTER-PRESIDENT

NOORD-KAAPSE AFDELING



PAKATI AJ:



1. The attack on the deceased was pre-meditated. The evidence establishes clearly that the two accused conspired to avenge the assault that the deceased carried out earlier during the day on their friend. In my view there can be no revenge without planning. The pre-meditation, the planning and the direct intention to murder brings appellant’s conduct squarely within the purview of murder as listed in part 1 of schedule II which ordains life imprisonment. See S v Malgas 2001 (1) SACR 469 (SCA) at para 25 wherein the following appears:


Courts are required to approach the imposition of sentence conscious that the Legislature has ordained life imprisonment (or the particular prescribed period of imprisonment) as the sentence that should ordinarily and in the absence of weighty justification be imposed for the listed crimes in the specified circumstances. Unless there are, and can be seen to be, truly convincing reasons for a different response, the crimes in question are therefore required to elicit a severe, standardised and consistent response from the courts. The specified sentences are not to be departed from lightly and for flimsy reasons. Speculative hypotheses favourable to the offender, undue sympathy, aversion to imprisoning first offenders, personal doubts as to the efficacy of the policy underlying the legislation, and marginal differences in personal circumstances or degrees of participation between co-offenders are to be excluded…..”


2. Having regard also to the appellant’s previous convictions referred to by Olivier J in para 12 the appellant should have been sentenced to life imprisonment as there are no substantial and compelling circumstances. With respect, Lacock J was lenient and should not have given leave to appeal. I agree that the appeal must fail.






______________________

B M PAKATI

ACTING JUDGE

NORTHERN CAPE DIVISION



Nms Appellant: Adv P J Cloete

Namens: Regshulpsentrum, KIMBERLEY


Nms Respondent: Adv D P Olivier

Namens: Direkteur van Openbare Vervolgings