South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley >> 2010 >> [2010] ZANCHC 26

| Noteup | LawCite

Mokgele v S (CA & R 43/2010) [2010] ZANCHC 26 (25 June 2010)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share


Rapporteerbaar: Ja / Nee

Sirkuleer onder Regters: Ja / Nee

Sirkuleer onder Landdroste: Ja / Nee

Sirkuleer onder Streeklanddroste: Ja / Nee


IN DIE Hoë HOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Hoë hof, Kimberley)


Saak No: CA&R 43/2010

Saak Aangehoor: 24/06/2010

Datum gelewer: 25/06/2010

In die saak tussen:



Mosala Mokgele Appellant


en


Die Staat Respondent


UITSPRAAK


Olivier R:


  1. Die appellant en drie mede-beskuldigdes word van roof met verswarende omstandighede beskuldig. Die Staat se saak gaan skynbaar wees dat hulle met behulp van vuurwapens en messe, geklee in oorpakke en met sogenaamde balaklawas oor hulle gesigte, emmers vol diamantdraende ghries geroof het by ‘n myn. Die waarde van die eiendom word geskat op R150 000,00, maar dit is alles teruggevind toe die appellant en die ander drie persone gearresteer is.


  1. Al vier die persone het aansoek gedoen om borgtog, maar in al vier van hulle se gevalle is borgtog geweier. Borgtog is intussen op appèl toegestaan aan die persoon wat as beskuldigde 3 aansoek gedoen het om borgtog. Ek keer later hierna terug.


  1. Die appellant het by die aansoek om borgtog as beskuldigde 2 verskyn en het toe in hoër beroep gekom teen die weiering van borgtog aan hom.


  1. Omdat die misdaad waarvan die appellant beskuldig word, een is soos bedoel in Bylae 6 tot die Strafproseswet1, het die appellant die bewyslas gedra om op ‘n oorwig van waarskynlikhede te bewys “dat daar buitengewone omstandighede bestaan wat sy ... vrylating in die belang van geregtigheid veroorloof2.


  1. Een van die faktore wat normaalweg mag meebring dat die vrylating van ‘n beskuldigde nie in belang van geregtigheid sal wees nie is, is “die waarskynlikheid is dat die beskuldigde, indien hy ... op borgtog vrygelaat word, sal poog om sy ... verhoor te ontduik3. Hierdie faktor hou ten nouste verband met die hele doel van die aanhouding van ‘n verhoorafwagtende persoon, naamlik ... to make him stand trial and be truly punished for his crimes if convicted4.


  1. By die oorweging van hierdie faktor, en in die algemeen van die vraag of die appellant wel buitengewone omstandighede aangetoon het, sal die sterkte van die Staat se saak teen die appellant ook belangrik wees5. Inteendeel, mnr Nel het namens die appellant aan die hand gedoen dat dit in hierdie geval deurslaggewend sou wees.


  1. Selfs al sou daar egter uiteindelik blyk ‘n “waarskynlikheid” te bestaan (‘n blote risiko of moontlikheid sou onvoldoende wees6) dat ‘n beskuldigde mag poog om sy of haar verhoort te ontduik, sou dit nog nie noodwendig moes lei tot die weiering van borgtog nie. Die Hof moet dan eers die belange-opweging doen wat voorgeskryf is deur die wetgewer, naamlik “deur die belang van geregtigheid op te weeg teen die beskuldigde se reg op sy of haar persoonlike vryheid en in besonder die nadeel wat hy of sy waarskynlik sal ly indien hy of sy in bewaring gehou word ...7.


  1. Hier moet dan nie alleen die faktore uiteengesit onder subartikel (9) van artikel 60 in ag geneem word nie, maar ook die grondwetlike reg om “behoudens redelike voorwaardes uit aanhouding vrygelaat te word indien die belang van geregtigheid dit toelaat8.


  1. Dieselfde sou natuurlik geld ten aansien van enige van die ander faktore of waarskynlikhede gelys onder artikel 60 (4) van die Strafproseswet.


  1. Daar bestaan geen numerus clausus van “buitengewone omstandighede” soos bedoel in artikel 60 (11)(a) van die Strafproseswet nie9. Namens die appellant is aan die hand gedoen dat die appellant wel buitengewone omstandighede aangetoon het en dat dit sou blyk “Wanneer die getuienis in geheel beoordeel word en veral die sterkte van die saak teen die appellant”.


  1. Die landdros het onder andere bevind dat daar ‘n waarskynlikheid bestaan dat die appellant sy verhoor mag ontduik. Dit het die landdros, vreemd genoeg, gedoen sonder enige verwysing na die sterkte van die Staat se saak teen die appellant. Vir doeleindes van die appèl, en ook in die lig van die voormelde submissie wat namens die appellant gemaak is, is egter wel daaraan oorweging verleen.


  1. Die getuienis was dat die appellant by die huis van beskuldigde 1 aangetref is waar hy onder wasgoed weggekruip het. Meer hieroor later.


  1. Beskuldigde 4 is buite die betrokke huis aangetref. Daar was van die gesteelde diamantdraende ghries op beskuldigde 4 se klere, en hy is aan sy stewels en oorpak deur ‘n ooggetuie, naamlik die sekuriteitsbeampte wat betrokke was in die roof, uitgeken as een van die rowers. Beskuldigde 1 was ook daar en was besig om van die diamantdraende ghries af te kook, waarskynlik om diamante daaruit te herwin. Hy is deur die ooggetuie aan sy bou herken. Beskuldigde 3 is gevind waar hy agter ‘n deur van die betrokke huis weggekruip het. Die getuienis was dat hy ook deur die ooggetuie uitgeken is aan sy oorpakbroek.


  1. In die huis is, soos reeds gemeld, die emmers diamantdraende ghries gevind. Wat ook daar gevind is, is oorpakke met sulke ghries daarop, en twee swart balaklawas.


  1. Die polisie is na ‘n ruk weer die huis binne om na vuurwapens te soek, en dit is toe wat hulle die appellant gevind het waar hy onder ‘n klomp wasgoed weggekruip het.


  1. Die ondersoekbeampte se getuienis was verder dat die ooggetuie die appellant ook uitgeken het as een van die rowers. Daar was nie getuienis van hoe presies hy die appellant uitgeken het nie, maar daardie getuienis is ook nooit in kruisverhoor namens die appellant aangeval nie.


  1. Daar was van die kant van die appellant geen verduideliking onder eed vir hierdie omstandighede waaronder hy gevind en gearresteer is enkele ure na die roof nie.


  1. Wat wel gebeur het, is dat beskuldigde 4 geroep is om te getuig namens, onder andere, die appellant. Dit blyk dat hy ‘n bekentenis afgelê het waarin hy sy betrokkenheid by die roof erken het. In sy getuienis (en blykbaar ook in sy bekentenis) het hy gesê dat nie een van sy mede-beskuldigdes teenwoordig was toe die misdaad gepleeg is nie.


  1. Hierdie getuienis is, vreemd genoeg, glad nie deur die aanklaer aangeval in kruisverhoor nie; dit ten spyte daarvan dat dit direk teenstrydig was met die ondersoekbeampte se getuienis oor die uitkenning van die beskuldigdes as persone wat by die roof betrokke was.


  1. Beskuldigde 4 is egter ook, byvoorbeeld, nooit namens die appellant of enige van sy ander mede-beskuldigdes gevra om dan te openbaar wie die ander rowers was of hoe dit dan gebeur het dat die drie onskuldige mans by dieselfde huis as beskuldigde 4, en onder dieselfde inkriminerende omstandighede, aangetref is nie.


  1. Na my oordeel was hierdie getuienis van beskuldigde 4, gedagtig aan die bewyslas wat op die appellant gerus het en ten spyte van die aanklaer se vreemde versuim, van onvoldoende waarde om die onbetwiste getuienis van die ondersoekbeampte rakende die sterkte van die Staat se saak, ongedaan te maak.


  1. Ek meen dat daar, vir die doeleindes van ‘n aansoek om borgtog, voldoende getuienis was om minstens ‘n prima facie saak teen die appellant aan te toon. Dit is al wat op die stadium van ‘n borgaansoek nodig is10.


  1. Mnr Nel moes dan ook toegee dat, sou die appellant by sy verhoor versuim om op dié getuienis te antwoord (soos wat hy tydens sy borgaansoek versuim het om daarmee te handel), dié prima facie getuienis heel moontlik sal lei tot sy skuldigbevinding.


  1. Die feit dat die appellant ‘n vorige veroordeling het van roof, en wel een waarvoor hy in 1997 ‘n termyn van 14 jaar gevangenisstraf opgelê is en wat dus ‘n duidelik ernstige vorige veroordeling is, gaan logieserwys verswarend inwerk wat vonnis betref, indien die appellant op die onderhawige aanklag skuldig bevind sou word. Dit sou na my oordeel ook ‘n relevante oorweging wees by oorweging van die vraag of daar ‘n waarskynlikheid is dat die appellant sy verhoor sal probeer ontduik11.


  1. Wat verder uiters relevant is wat dié aspek betref, is die feit dat die appellant nie net ten tye van sy eerste arrestasie gevind is waar hy die polisie duidelik probeer ontglip het nie, maar dat hy ook by die tweede geleentheid toe die polisie hom gaan soek het12, weer gevind is waar hy onder ‘n bed weggekruip het. Hy was dus duidelik weer besig om die polisie te probeer ontglip. Daar was geen verduideliking onder eed van sy kant vir sy optrede ten tye van enige van dié twee geleenthede nie.


  1. Dan is daar ook nog die getuienis dat, nadat die appellant aanvanklik so vrygelaat is, die polisie by meerdere geleenthede na die appellant gaan soek het by die woonadres wat hy verstrek het, en telkens dan die betrokke huis gesluit gevind het. Bure het egter bevestig dat dit sy huis was.


  1. Die huis waar die appellant uiteindelik gearresteer is, is in dieselfde straat, en mense in die omgewing het blykbaar beweer dat hy soms daar bly. Daar was egter nie van sy kant enige verduideliking vir waarom die polisie hom nooit kon vind by die adres wat hy opgegee het nie en dit, inteendeel, telkens toegesluit aangetref is, of (en, indien wel, waarom) hy toe later by die ander huis gaan bly het en waarom hy, as hy dan ook “soms” daar gewoon het, nie daardie adres ook aan die polisie verstrek het toe hy die eerste keer gearresteer is nie.


  1. Die bewering in die appellant se beëdigde verklaring dat sy familie saam met hom woon by die betrokke adres, rym ook nie met die feit dat die polisie later die huis by daardie adres toegesluit aangetref het nie.


  1. Ek is dus nie oortuig13 dat die bevinding dat daar ‘n waarskynlikheid bestaan dat die appellant sal poog om sy verhoor te ontduik, verkeerd is nie.


  1. Mnr Nel se argument was dat die feit dat die appellant by die tweede geleentheid gearresteer is in dieselfde dorp waar hy nog altyd gewoon het en waar hy bekend was en, soos wat mnr Nel dit gestel het, maklik in die hande gekry is, aanduidend daarvan is dat hy nie daarin sal slaag om die polisie te ontduik nie. Dit sou egter nie afbreuk doen aan die waarskynlikheid dat hy minstens mag “poog” om sy verhoor te ontduik nie14 en dit kan nooit in belang van regspleging wees om so iemand dan maar vry te laat bloot omrede hy of sy waarskynlik darem weer opgespoor sal word nie. Die appellant se tweede arrestasie was in elk geval baie kort ná sy vrylating en daar kan nie gesê word dat hy nooit van plan was om die dorp te verlaat nie.


  1. Namens die appellant is aan die hand gedoen dat die landdros nie, toe die gemelde waarskynlikheid bevind is, die proses voorgeskryf in subartikel (9) van artikel 60 van die Strafproseswet gevolg het nie, met ander woorde dat die landdros nie toe die belang van geregtigheid, soos gesien in die lig van dié risiko, gaan opweeg het teen die nadeel wat voortgesette aanhouding vir die appellant sou inhou nie. Die feit dat die landdros nou nie uitdruklik na dié bepalings verwys het nie, beteken nie noodwendig dat hulle nie toegepas is nie.


  1. Die landdros het wel verwys na die inligting vervat in die beëdigde verklaring van, onder andere, die appellant. Daarin was sy omstandighede veronderstel om volledig uiteengesit te wees. Dit is dus deur die landdros in ag geneem toe uiteindelik bevind is dat die appellant hom nie van sy bewyslas gekwyt het om aan te toon dat daar geen buitengewone omstandighede bestaan het wat sy vrylating in die belang van geregtigheid veroorloof het nie.


  1. Kyk ‘n mens na die appellant se persoonlike omstandighede, het hy hom na my oordeel inderdaad nie van sy bewyslas gekwyt nie. Daar kan nie na my mening gesê word dat daar enige inligting oor hom voor die landdros geplaas is wat, nieteenstaande die waarskynlikheid dat hy sou poog om sy verhoor te ontduik, sy vrylating in die belang van geregtigheid sou veroorloof nie. Mnr Nel moes dan ook toegee dat daar niks in die appellant se persoonlike omstandighede opsigself is wat as buitengewoon aangemerk sou kon word nie.


  1. Die appellant het wel verklaar dat hy alleen verantwoordelik is vir sy twee kinders, maar het nie verduidelik waarom hulle moeder, by wie hulle volgens hom woon, nie ‘n bydrae lewer of kan lewer nie. Dit is in elk geval onduidelik hoe hy met ‘n inkomste van so min as R500,00 per maand nie net vir homself sou kon sorg nie, maar ook nog ‘n noemenswaardige bydrae tot die kinders se versorging sou kon lewer.


  1. Die appellant het verder destyds verklaar dat hy sy kinders wou voorberei vir die skool vir die volgende week. Wat dit ookal mag beteken het, daardie oorweging het lankal weggeval.


  1. Die feit dat die appellant nie ‘n paspoort het of besigheid of familie buite die landsgrense het nie, beteken nie dat hy nie sal poog om sy verhoor te ontduik nie. Dit kan hoogstens beteken dat hy moontlik darem nie heeltemal landuit sal vlug nie.


  1. Die appellant het na my oordeel nie van sy kant enige getuienis aangebied dat die moontlikheid dat hy sy verhoor mag probeer ontduik, ontkom kan word met behulp van bepaalde voorwaardes nie.


  1. Die ondersoekbeampte se getuienis dat rapportering by ‘n polisiestasie nie sal help om te verseker dat die appellant sy verhoor staan nie, en wel omdat hy reeds by twee geleenthede gepoog het om sy arrestasie te vermy, is geensins in kruisverhoor ontsenu nie.


  1. Daar was ook geen getuienis oor waarom die appellant slegs R1 000,00 borgtog sou kon bekostig nie, of oor waarom so ‘n relatief klein bedrag borg in die appellant se bepaalde geval tog sou help dat hy sy verhoor wel staan nie.


  1. Die feit dat daar op appèl aan beskuldigde 3 borgtog verleen is, kan geensins die appellant se saak bevorder nie. Beskuldigde 3 se omstandighede het totaal en al van dié van die appellant verskil. Hy het geen vorige veroordelings gehad nie, het van meet af met die polisie saamgewerk en daar was nie ten aansien van die adres wat hy verstrek het probleme soos in die appellant se geval nie.


  1. In die lig van die voorgaande ag ek dit onnodig om te oorweeg of die landdros korrek was in die bevindinge dat die appellant waarskynlik weer misdaad mag pleeg en mag inmeng met ‘n staatsgetuie. Selfs al sou daardie bevindinge verkeerd wees, meen ek dat die appellant in elk geval nie buitengewone omstandighede aangetoon het wat sy vrylating in die belang van geregtigheid sou veroorloof nie.


  1. Ek is dus nie oortuig dat die landdros fouteer het deur borgtog aan die appellant te weier nie en gevolglik word die volgende bevel hierin gemaak:


Die appèl teen die weiering van borgtog word van die hand gewys.





____________________

C J OLIVIER

REGTER

NOORD-KAAPSE

PROVINSIALE AFDELING





Nms Appellant: Adv I J Nel

In opdrag van: A Potgieter, KIMBERLEY


Nms Respondent: Adv W Bagananeng

Namens: Direkteur van Openbare Vervolgings, KIMBERLEY


1 51 van 1977

2 Artikel 60 (11)(a) van die Strafproseswet

3 Artikel 60 (4)(b) van die Strafproseswet

4 S v Vanqa 2002 (1) SACR 371 (T) para [16]

5 S v Kock 2003 (2) SACR (SCA); S v Maja and Others 1998 (2) SACR 677 (SEC)

6 Prokureur-Generaal, Vrystaat v Ramakhosi 1997 (1) SACR 127 (O) op 155b-c; S v Swanepoel 1999 (1) SACR 311 (O) op 313d-e

7 Artikel 50 (9) van die Strafproseswet

8 Artikel 35 (1)(f) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 108 van 1996

9 S v Hartslief 2002 (1) SACR 7 (T) op 13b

10 S v Van Wyk 2005 (1) SACR 41 (SCA) op 44i-45b

11 S v Nichas and Another 1977 (1) SA 257 (C) op 263H; S v Groesbeek en ‘n Ander 1969 (4) SA 455 (O) op 459-460.

12 nadat hy en die ander beskuldigdes blykbaar aanvanklik by hulle eerste verskyning vrygelaat is op grond daarvan dat daar op daardie stadium onvoldoende getuienis, was om hulle te verbind met die misdaad

13 Artikel 65 (4) van die Strafproseswet

14 Artikel 60 (4)(b) van die Strafproseswet.