South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley >> 2010 >> [2010] ZANCHC 14

| Noteup | LawCite

Minister van Veiligheid en Sekuriteit v Van Rooyen en Anders (580/2010) [2010] ZANCHC 14 (7 May 2010)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share


Rapporteerbaar: Ja / Nee

Sirkuleer onder Regters: Ja / Nee

Sirkuleer onder Landdroste: Ja / Nee

Sirkuleer onder Streeklanddroste: Ja / Nee


IN DIE Hoë HOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Hoë Hof, Kimberley)


Saak No: 580/2010

Saak Aangehoor: 16/04/2010

Datum gelewer: 07/05/2010

In die saak tussen:



Minister van Veiligheid & Sekuriteit Applikant


en


Willem van Rooyen 1ste Respondent

Hendrik Klaaste 2de Respondent

Die Balju: Die Aar 3de Respondent

Die Landdros: Prieska 4de Respondent


Coram: Olivier R


UITSPRAAK


Olivier R:


  1. Die eerste en tweede respondente, onderskeidelik mnr Willem van Rooyen en mnr Hendrik Klaaste, het in die Landdroshof te Prieska aksies ingestel (onderskeidelik onder saaknommers 499/2007 en 500/2007) waarin hulle skadevergoeding gevorder het van die applikant, die Minister van Veiligheid en Sekuriteit (en twee polisiebeamptes in diens van die applikant) vir die verhaal van skadevergoeding op grond van onregmatige arrestasie en aanhouding.


  1. Op 7 Oktober 2008 is daar vonnis verleen ten gunste van die tweede respondent in saaknommer 500/2007 en op òf 25 Junie 2009 òf 6 Augustus 20091 is vonnis ook in saak 499/2007 verleen ten gunste van die eerste respondent.


  1. Mnr Rich, die deponent vir die eerste en tweede respondente en die prokureur wat te alle tersaaklike tye hiertoe (tydens hulle aksies en ook in die onderhawige aangeleentheid) die eerste en tweede respondente verteenwoordig het, het in sy beëdigde verklaring uitvoerig uiteengesit watter stappe hy toe geneem het om betaling te verkry van die vonnis in die tweede respondent se saak. Die verteenwoordiger van die staatsprokureur se kantoor wat tot op daardie stadium gemoeid was met die betrokke saak, me Barnes, het intussen tragies gesterf. Dit sou dit vir die kantoor van die staatsprokureur ontmoontlik maak om kommentaar te lewer op die bewering dat me Barnes tydens herhaalde gesprekke belowe het dat betaling van daardie vonnis binnekort sou geskied; wat natuurlik sou indruis teen enige bedoeling om te appelleer.


  1. Dit gaan egter verder. Mnr Rich het ook etlike skrywes gerig aan me Barnes by die kantoor van die staatsprokureur, waarvan die strekking telkens duidelik was dat betaling van die vonnis ten gunste van die tweede respondent onverwyld moes geskied. Volgens mnr Rich is daar nooit op dié skrywes gereageer nie. Daar is ook nie nou hierop enige reaksie van die kant van die staatsprokureur se kantoor nie, en moet ek aanvaar dat die staatsprokureur maklik kon nagegaan het of sulke skrywes deel van daardie kantoor se rekords uitmaak.


  1. Mnr Rich se beweringe in hierdie verband staan dus vas. Dit blyk dat mnr Rich toe eindelik “uit moedeloosheid” ‘n skrywe gerig het aan die Hoof van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se regsdienste in hierdie provinsie, en dit was eers toe dat mnr Rich op 15 September 2009 ingelig is van enige sprake van ‘n appèl in die tweede respondent se saak.


  1. Wat die verloop van die eerste respondent se saak betref, is die applikant se beweringe vaag en onduidelik, maar blyk dit dat dit, en veral dan ook die hantering deur die Staatsprokureur daarvan, maar net so onbevredigend was as in die geval van die tweede respondent se saak.


  1. Dit blyk naamlik dat mnr Rich gekontak is deur ‘n verteenwoordiger van die staatsprokureur se kantoor in verband met ‘n uitstel van daardie verhoor. Mnr Rich sê dat dit ʼn manspersoon was en dat daar toe ʼn ooreenkoms bereik is dat die applikant die meriete sou toegee en dat, sou ʼn ooreenkoms nie ook ten aansien van die quantum bereik word nie, dit dan op die verhoordatum bereg sou word.


  1. Die applikant se antwoord hierop is, om dit sagkens te stel, vreemd. Dit blyk dat die betrokke manspersoon mnr K G Matlakala was. Die deponent vir die applikant verklaar dan dat mnr Matlakala vir mnr Rich gebel het oor ʼn uitstel omdat hulle gewag het vir instruksies van die applikant en omdat van die getuies nie beskikbaar was nie. Alhoewel elders ontken is dat daar ʼn ooreenkoms bereik is soos deur mnr Rich beweer, is daar op ʼn vroeër stadium die stelling gemaak dat “Vir soverre Matlakala ʼn ooreenkoms soos beweer bereik het was dit teenstrydig met sy instruksies van die Applikant”. Dit alles word dan bloot deur mnr Matlakala bevestig in ʼn kort stawende beëdigde verklaring.


  1. ʼn Mens sou egter graag vir mnr Matlakala wou gevra het presies wat dit was wat hy bevestig het, want dit blyk asof die deponent vir die applikant tog ruimte gelaat het daarvoor dat mnr Matlakala ongemagtigd so ʼn ooreenkoms mag aangegaan het.


  1. Verder is dit onduidelik hoe mnr Matlakala in staat sou gewees het om met mnr Rich oor ʼn uitstel te praat, op die basis dat hy gewag het op instruksies van die applikant, as hy dan wel instruksies (teenstrydig met ʼn ooreenkoms soos beweer) gehad het, soos beweer deur die deponent vir die applikant.


  1. Dit is egter dan nog nie waar die vreemde optrede van die staatsprokureur in daardie saak eindig nie. Dit blyk uit die getikte oorkonde van die verrigtinge op die verhoordatum dat die landdros op rekord geplaas het dat, toe die verteenwoordiger vir die staatsprokureur nie vir mnr Rich kon oorreed om toe te stem tot ʼn uitstel nie, hy sommer direk met die landdros daaroor geskakel het. Dit is natuurlik ongehoord en totaal onprofessioneel en dit is, om die minste te sê, onbegryplik dat die landdros toe nogal saamgewerk het en self gepoog het om mnr Rich telefonies te oorreed tot ʼn uitstel.


  1. Nadat mnr Rich steeds nie bereid was om tot ʼn uitstel toe te stem nie, het ʼn plaaslike prokureur, me Immelman, toe op die verhoordatum opgedaag en in opdrag van die staatsprokureur namens die applikant aansoek gedoen om uitstel.


  1. Die landdros het op rekord geplaas dat me Immelman “niks ontvang (het) en het geen instruksies nie”.


  1. Die landdros het toe, steeds blykens die oorkonde, vir me Immelman gesê om met die staatsprokureur te kontak en hulle “mee te deel dat mnr Rich bereid is om toe te stem tot uitstel indien hulle meriete aanvaar dan kan daar oor kwantum onderhandel word”. Dit is verstommend, en eweneens skokkend, dat die landdros, wat haarself juis net daarna in die posisie bevind het dat sy ʼn bestrede aansoek om uitstel moes beslis, vooraf so betrokke kon geraak het in onderhandelinge tussen die partye.


  1. Hoe dit ookal sy, die uitstel is uiteindelik geweier, waarop me Immelman gevra het om verskoon te word, aangesien sy nie opdrag gehad het in die verhoor self nie. Vonnis is dus toe op ʼn verstekbasis ten gunste van die eerste respondent verleen.


  1. Op 19 Augustus 2009 het die eerste respondent in saak 499/2007 ʼn lasbrief verkry vir die beslaglegging op die applikant se roerende goedere ter bevrediging van sy vonnis. Hierdie lasbrief het later blykbaar weens tydsverloop verval, en is op 24 Maart 2010 heruitgereik.


  1. Voor die heruitreiking van hierdie lasbrief het die eerste en tweede respondente in hulle onderskeie sake egter kennis gegee dat, indien die vonnisskulde nie binne 14 dae betaal sou word nie, ʼn lasbrief vir eksekusie teen die roerende goed van die applikant uitgereik sou word. In die kennisgewings is te kenne gegee dat die eerste en tweede respondente handel op sterkte van die “voorskrifte” uiteengesit in die saak van Nyathi v MEC for Department of Health, Gauteng and Another2, waarin beslis is dat die bepalings van artikel 3 van die Wet op Staatsaanspreeklikheid3 ongrondwetlik is, maar daardie bevel toe tydelik opgeskort is om geleentheid te bied dat die probleem deur wetgewing reggestel word.


  1. Die “voorskrifte” waarna in die betrokke kennisgewings van die eerste en tweede respondente verwys is, is eintlik nie vervat in die gemelde beslissing nie, maar wel in die latere beslissing van die Konstitusionele Hof in Minister for Justice and Constitutional Development v Nyathi and Others4. In laasgemelde beslissing is daar, toe die periode van opskorting verleng is, op 31 Augustus 2009 ʼn bevel gemaak waarin die partye genooi is om skriftelike submissies te maak te aansien van voorgestelde voorskrifte wat tydens die periode van opskorting dit vir vonnisskuldeisers moontlik sou maak om tog eksekusie te hef teen die roerende goed van staatsliggame.


  1. Na ontvangs van die submissies is daar toe, op 9 Oktober 2009 en dus lank voor die onderhawige kennisgewings uitgereik is en hierdie aansoek aanhanging gemaak is, ʼn finale bevel gemaak ten aansien van die voorskrifte wat sou geld waar vonnisskuldeisers tydens die periode van opskorting sulke eksekusiestappe sou wou neem.


  1. Op 30 Maart 2010 het die Balju op sterkte van die gemelde heruitgereikte lasbrief in saak 499/2007 beslag gelê op drie motorvoertuie van die applikant, maar dit nie op daardie stadium verwyder nie.


  1. Dit blyk dat daar ook op ʼn stadium in saak 500/2007 ʼn lasbrief uitgereik was, maar dat daardie lasbrief eweneens weens tydverloop verval het. Dit is gemenesaak dat daar te alle tersaaklike tye vir doeleindes van die onderhawige aansoek, en meer spesifiek toe die betrokke aansoek aanhangig gemaak is, geen bestaande lasbrief in die tweede respondent se saak, 500/2007, was nie.


  1. Op 3 en 4 Desember 2009 het die applikant in beide sake 499/2007 en 500/2007 appèl aangeteken.


  1. Nog op 4 Desember 2009 het die Klerk van die Landdroshof toe ʼn skrywe gerig aan die kantoor van die Staatsprokureur, Kimberley, waarin daar ten aansien van die eerste respondent se saak (499/2007) en appèl soos volg berig is:


1. In terme van Reël 51(1) is daar nie toestemming vir kondonasie verkry nie en is redes foutiewelik aan hulle voorsien deur die klerk van die hof.


2. Alvorens aansoek om appèl versend kan word, moet aan die bepalings van Reël 51(1) voldoen word.


  1. In reaksie hierop het die applikant toe in beide die sake ʼn sogenaamde aansoeke om kondonasie afgelewer, waarin aansoek gedoen is om “kondonasie vir die nie-nakoming van Landdroshofreël 51(1)” en om voorsien te word van die skriftelike vonnis in elke saak, met opgaaf van die feite wat bevind is bewese te wees en die redes vir die vonnisse.5


  1. Dit is onduidelik of daar op daardie stadium behoorlik kennis van die betrokke aansoeke gegee is aan die regsverteenwoordiger van die eerste en tweede respondente, en nie een van die afskrifte van die twee aansoeke aangeheg by die applikant se funderende eedsverklaring, bevat bewys daarvan nie.


  1. Nie een van die aansoeke bevat ook ʼn verhoordatum nie6, en daar is nêrens in die stukke ʼn aanduiding dat enige daarvan ooit ter rolle geplaas is vir verhoor nie.


  1. Die enigste aanduiding van enige stappe wat die applikant toe verder mag gedoen het in hierdie verband, is ʼn skrywe wat eers op 29 Maart 2010 deur die staatsprokureur gerig is aan die landdros. Daarin is die landdros versoek om die aansoeke om kondonasie te beslis en om redes te verstrek, en is gedreig dat daar andersins ’n mandamus verkry sou word om haar te verplig om so te doen.


  1. Dit is gemenesaak dat beide die appèlle nie alleen hopeloos laat aangeteken is nie, maar ook dat beide verval het weens die feit dat geen stappe geneem is om hulle voort te sit nie.


  1. Op 30 Maart 2010, en vermoedelik in reaksie op die gemelde beslagleggings, het ʼn verteenwoordiger van die kantoor van die staatsprokureur te Kimberley, wat te alle tersaaklike tye hiertoe die applikant verteenwoordig het (dit wil sê eweneens in die gemelde aksies en in die onderhawige aansoek), ʼn skrywe oorhandig aan mnr Rich. Die strekking van die betrokke skrywe was breedweg dat die applikant se appèlle in die betrokke sake verval het, dat die applikant wou aansoek doen om die herinstelling daarvan en dat intussen “we request you to suspend all steps to execute on the warrants against our client until finalization of the applications and appeals”.


  1. Hiertoe was mnr Rich nie bereid om toe te stem nie en hy het op 1 April 2010 mondeling en skriftelik kennis gegee dat daar voortgegaan sou word met eksekusiestappe en dat, wat meer is, die voertuie op 7 April 2010 verwyder sou word en dat die verkoping in eksekusie daarvan op 8 April 2010 geadverteer sou word.


  1. Dit is teen hierdie agtergrond wat die applikant toe die onderhawige aansoek op ʼn dringende basis geloods het. Die staatsprokureur se onprofessionele optrede het egter selfs in die bring van die aansoek nog voortgeduur.


  1. Eers is die eerste en tweede respondente se advokaat, mnr van Niekerk SC, op 6 April 2010 meegedeel dat die aansoek om 15:00 daardie middag gebring sou word en is daar aan hom bloot ʼn ongetekende verklaring, sonder aanhangsels, voorsien. Toe mnr van Niekerk en die eerste en tweede respondente se plaaslike prokureur, mnr Coetzee, by die Hof opgedaag het, was daar egter nog geen aansoek geloods nie.


  1. Pogings deur mnr Coetzee om telefonies kontak te maak met mnr Tshitshi van die staatsprokureur se kantoor was onsuksesvol en hy het nie gereageer op die boodskappe wat gelaat is om mnr Coetzee te skakel nie.


  1. Toe die saak die volgende oggend om 09:00 uiteindelik voor die Hof gedien het, was die regsverteenwoordigers van die eerste en tweede respondente in besit van ʼn tweede stel aansoekstukke wat intussen voorsien is, maar wat weereens onvolledig was deurdat verskeie bladsye en aanhangsels ontbreek het.


  1. Die saak is toe by ooreenkoms uitgestel tot op die verhoordatum van 16 April 2010, en die kwessie van die verspilde koste is voorbehou vir latere beregting.


  1. Die deponent vir die applikant het in sy funderende eedsverklaring beweer dat die applikant, vir die bring van hierdie aansoek, steun op die voorskrifte vervat in die Konstitusionele Hof se bevel van 31 Augustus 2009. Soos reeds gemeld, het daardie bevel egter slegs voorgestelde voorskrifte bevat. Dit blyk dan ook duidelik uit paragraaf 2 van daardie bevel, waarvan ʼn afskrif namens die applikant self by die funderende eedsverklaring aangeheg is.


  1. Een van die wesenlike verskille tussen die voorgestelde voorskrifte en die finale voorskrifte van 9 Oktober 2009 is dat, anders as die voorgestelde voorskrifte, die finale voorskrifte vereis dat daar ná beslaglegging ʼn periode van 30 dae verloop voordat sulke goedere verwyder en dan later verkoop mag word. Die voorlopige voorskrifte het slegs vereis dat die 30 dae periode verstryk voor die beslaglegging van die goedere.


  1. Dit beteken dat daar geen regsbasis was vir mnr Rich se dreigement dat die onderhawige voertuie op 7 April 2010 verwyder sou word nie, want op daardie stadium sou die 30 dae periode sedert die beslaglegging daarop nog nie naastenby verstryk het nie.


  1. Dit is egter juis op daardie dreigement wat die applikant sy saak vir dringendheid gebaseer het, en dat aangevoer is dat die applikant die voertuie benodig vir die uitvoering van die polisie se pligte.


  1. Die verteenwoordiger van die staatsprokureur teenoor wie die dreigement van verwydering gemaak is, mnr Tshitshi, is egter ook ʼn prokureur en regsgeleerde, wat veronderstel was om homself van die finale voorskrifte in die latere beslissing van die Konstitusionele Hof te vergewis voordat die aansoek op so ʼn dringende basis geloods is.


  1. Die feit is egter dat daar ʼn dreigende verwydering van die voertuie was en of mnr Rich anders sou opgetree het as hy van die bestaan van die finale voorskrifte, en van die gemelde verskil, bewus was, maak nie hieraan ʼn verskil nie.


  1. Dit is baie duidelik dat mnr Tshitshi ook nie homself op enige stadium vergewis het van die finale bevel wat gemaak is ten aansien van die prosedure van die beslaglegging op sulke goedere nie. Hiervan aanduidend is die feit dat hy duidelik aanvaar het dat mnr Rich regstegnies geregtig sou wees om die voertuie reeds op daardie stadium te laat verwyder, en ook die feit dat die applikant se hele aansoek geskoei is op, en verwys na, die voorgestelde voorskrifte, en nie die finale voorskrifte nie.


  1. Mnr van Niekerk het namens die eerste en tweede respondente geargumenteer dat die polisie, in die lig van die finale Nyathi-voorskrifte, kon gewag het dat die balju kom om die voertuie te verwyder en hom dan kon ingelig het dat hy nie geregtig was om so te doen voor die verstryking van 30 dae ná beslaglegging nie. Volgens mnr van Niekerk sou enige aansoek voor daardie stadium om die verwydering te verhoed, voortydig wees.


  1. Ek dink nie daar is enige meriete in hierdie argument nie. Selfs al sou die afwesigheid van ʼn regsbasis vir mnr Rich se dreigement vir die oomblik weggedink word, sou daar tog nooit van ʼn party verwag kon word om maar te wag vir die dreigende skending en dan self ʼn regsargument te voer met die balju om dit te probeer afweer nie.


  1. Mnr van Niekerk se argument dat die applikant, as die voertuie dan steeds verwyder sou word, ʼn mandement van spolie-aansoek sou kon bring, neem ook nie die saak verder nie. Daar kan nooit van ʼn eienaar wat alle rede het om ʼn besitversteuring te verwag (op ʼn bepaalde datum nogal) verwag word om maar net tot dan stil te sit en niks te doen om dit af te weer nie, bloot omdat die mandement van spolie darem later beskikbaar sal wees.


  1. Alles inaggenome, maar met behoud van wat volg, meen ek dat die billike posisie ten aansien van die koste van die uitstel sou wees dat elke party sy eie koste daarvan sal dra.


  1. Wat betref die vraag of die tweede respondent ook sy eie koste in hierdie verband moet dra, is dit so dat, weens die feit dat daar nie by die loods van hierdie aansoek enige lasbrief in saak 500/2007 bestaan het nie, geen deel van die regshulp in die kennisgewing van mosie streng gesproke op die tweede respondent se saak slaan nie.


  1. Die regshulp wat versoek is, het nie verder gegaan en ook, byvoorbeeld, versoek dat daar in beide sake geen verdere eksekusiestappe geneem word nie.


  1. Die feit dat vroeër namens beide die eerste en tweede respondente gedreig mag gewees het om eksekusiestappe te neem, en later om die voertuie te verwyder, en wel op grond van albei van hulle se vonnisse, doen geen afbreuk hieraan nie. Die feit bly dat, toe die tweede respondent ook dringend Hof toe gesleep is, geen lasbrief (soos in paragraaf 3.1.1 van die kennisgewing van mosie na verwys) in sy saak bestaan het nie, en dat die bates vermeld in paragrawe 3.1.2 en 3.1.3 van die kennisgewing van mosie op beslag gelê is uit hoofde van die eerste respondent se lasbrief, en nie dié van die tweede respondent nie.


  1. Dit was, vir die doeleindes van dié regshulp, totaal onnodig om die tweede respondent voor die Hof te hê. Dieselfde geld vir die ander regshulp wat aanvanklik in die kennisgewing van mosie gevra is.


  1. Ek meen dus dat die tweede respondent tog op hierdie basis geregtig is op sy verspilde koste.


  1. Wat betref die gebeure van 6 April 2010, lyk dit nie of daar op daardie datum enige aansoek voor die Hof gedien het ten aansien waarvan opsigself ʼn kostebevel gemaak sou kon word nie, en daar is geen aanduiding in die bevel van 7 April 2010, wat by ooreenkoms gemaak is, dat enige koste van ʼn futiele verskyning op 6 April 2010 ook voorbehou is vir latere beregting nie. Hierdie aspek kan moontlik by taksasie namens die tweede respondent verder geneem word.


  1. Ek meen ook nie dat daar enige basis is waarop die tweede respondent uiteindelik enige deel van hierdie koste behoort te dra nie en om hierdie rede, en ook in die lig van wat volg, sal dié kostebevel op die skaal van prokureur en kliënt wees.


  1. Die volgende regshulp verder hiertoe tersaaklik is in die kennisgewing van mosie versoek:


3. Dat die Respondente opgeroep word om .... redes, indien enige, aan te voer waarom die volgende bevel nie finaal gemaak moet word nie:-


    1. Hangende die afhandeling van die aansoek om herinstelling van die appèlle en die afhandeling van die appèlle Prieska saaknommers 499/2007 en 500/2007:-


      1. word die uitvoering van die lasbriewe deur die Eerste en Tweede Respondent uitgeneem in Prieska saaknommer 499/2007 en 500/2007 opgeskort;


      1. word die beslaglegging op die bates van die Suid-Afrikaanse Polisiediens uit hoofde van die lasbriewe op die volgende bates, naamlik Toyota Corolla sedanvoertuig met registrasienommer BRY 605 B en Nissan Tiida motorvoertuig met registrasienommer BWP 071 NC en Nissan Tiida motorvoertuig met registrasienommer BZN 956 NC opgehef.


      1. Word die Applikant toegelaat om bogemelde bates ongestoord en onbelemmerd te gebruik.


  1. Dat die Vierde Respondent gelas word om redes soos bedoel in Landdroshofreël 51(1) en 51(2) te verskaf aan die Applikant in Prieska saaknommers 499/2007 en 500/2007 binne 10 ..... dae ná datum van hierdie bevel.


  1. Dat die Applikant gelas word om die aansoek vir herinstelling van die appèl gebring moet word (sic) binne 10 ... dae nadat die redes van die landdros, Prieska, verkry is soos hierbo uiteengesit.


  1. Dat bedes 3.1, 3.1.1, 3.1.2 en 3.1.3 hierbo geld as tussentydse interdik met onmiddellike effek.


  1. Dat die Eerste en Tweede Respondente gelas word om die koste van hierdie aansoek te betaal.


  1. Die balju te De Aar, wat vir die beslaglegging van die voertuie verantwoordelik was, en die landdros te Prieska, wat die betrokke vonnisse toegestaan het, is deur die applikant as onderskeidelik die derde en vierde respondente gesiteer.


  1. Nie een van die derde of vierde respondente het die aansoek opponeer nie. Die vierde respondent het egter, sedert die aansoek gebring is, die gewaande nie-nakoming van Landdroshofreël 51(1) gekondoneer en antwoorde verskaf op die applikant se versoeke om skriftelike uitsprake en redes.


  1. Hoe die vierde respondent tot hierdie beslissing kon gekom het, is totaal duister. Die aansoek is, soos reeds gemeld, nooit ter rolle geplaas vir verhoor nie en die voorgeskrewe gelde7 was ten tye van die liassering van die repliserende eedsverklaring nog nie betaal nie.


  1. Die feit is egter dat die advokaat vir die applikant, mnr Botha (bygestaan deur me van Niekerk), by die aanhoor van die aansoek aangedui het dat ʼn bevel soos in paragraaf 4 van die kennisgewing van mosie nie langer verlang is nie.


  1. In die antwoordende eedsverklaring is aangedui dat daar in limine namens die eerste en tweede respondente geargumenteer sou word dat die applikant hierdie aansoeke in die Landdroshof te Prieska moes gebring het. Hierdie beswaar sou gebaseer wees op die Nyathi-voorskrifte, waarvolgens ʼn aansoek vir die opskorting van eksekusiestappe gebring sou kon word in die Hof wat die betrokke vonnis verleen het.


  1. Mnr van Niekerk het egter in argument toegegee dat, vir soverre die applikant se aansoek een sou wees vir ʼn interdik hangende die beregting van ʼn aansoek om die herinstelling van die appèlle8, hierdie Hof wel daaroor sou kon beslis.


  1. Dit is dan ook inderdaad die aard van die regshulp wat verlang word. Na my oordeel is die hele prosedure neergelê deur die Konstitusionele Hof in die Nyathi-voorskrifte bedoel vir gevalle waar daar geen sprake van appèlle is nie. Dit is dan ook waarom vereis word dat daar gesertifiseer moet word dat daar geen hangende appel-, hersienings- of tersydestellingsverigtinge is nie.


  1. Dit was na my oordeel duidelik nooit die bedoeling gewees om hierdie Hof se jurisdiksie in gevalle soos die onderhawige uit te sluit nie. In die lig van mnr van Niekerk se toegewing hoef egter niks verder hieroor gesê te word nie.


  1. In betoogshoofde namens die applikant is aangedui dat daar nie langer ʼn bevel nisi verlang word nie. ʼn Bevel wat die verlangde regshulp sou verleen hangende die afhandeling van ʼn aansoek om herinstelling van die appèlle, en nie net hangende ʼn keerdatum nie, sou in wese ʼn finale bevel wees9.


  1. Dit sou beteken dat die applikant sou moes aantoon:


(a) a clear right;

(b) an injury actual committed or reasonably apprehended or an actually or threatened invasion of that right; and

(c) the absence of similar protection by any other ordinary or suitable legal remedy.”10


  1. Selfs al sou die effek van die verlangde regshulp egter bloot interim gewees het, sou ek steeds tot dieselfde slotsom gekom het.


  1. Die reg wat die applikant op hierdie stadium sou moes aantoon, is die reg om aansoek te doen om die herinstel van die twee appèlle en, vanselfsprekend, ook ʼn redelike vooruitsig op sukses daarmee, welke reg dan deur die beslaglegging op en verwydering van die voertuie gefrustreer sou kon word (aangesien dit die hele doel van so ʼn aansoek om herinstelling sou verydel).


  1. Die applikant se eerste struikelblok hiermee sou na my oordeel wees die feit dat beide appèlle laat aangeteken is en dat daar geen aansoek is om kondonasie daarvan nie, en ook geen so ʼn aansoek in die vooruitsig gestel is by wyse van ʼn bewering nie. Dit is haas ondenkbaar dat ʼn Hof bereid sou wees om die herinstelling van ʼn appèl te gelas wat in die eerste plek nie eers geldiglik en reëlmatig aangeteken is nie, en ten aansien van welke versuim ook nie eers kondonasie versoek word nie.


  1. Daar word, inteendeel, in hierdie aansoek nie opsigself gehandel met wat die applikant se redes vir die laat-aantekening van die appèlle sou wees nie.


  1. Luidens Uniforme Hofreël 50 (4) word ʼn appèl voortgesit deur skriftelik, en met kennisgewing aan alle partye, by die griffier aansoek te doen om ʼn verhoordatum en dan ook bepaalde adresse aan die griffier te voorsien. Wanneer dit gedoen is, word die appèl geag behoorlik “voortgesit” te wees.11


  1. Die saak wat in die funderende eedsverklaring namens die applikant uitgemaak is, is dat die applikant deur die landdros se versuim om skriftelike vonnisse en redes te verskaf, verhinder is om die appèl voort te sit.


  1. Dit kan natuurlik nie korrek wees nie, en dit moes mnr Botha ook uiteindelik in betoog toegee. Daar is geen aanduiding hoegenaamd in hetsy die Landdroshofreëls of die Uniforme Hofreëls dat die bestaan van ʼn skriftelike vonnis en redes ʼn voorvereiste vir die voortsetting van ʼn appèl sou wees nie. Die enigste voorvereiste is die aanteken van die appèl, want dit is binne ʼn voorgeskrewe periode daarna wat daardie appèl dan voortgesit moet word.12 In die onderhawige geval is die appèlle, soos reeds gemeld, reeds vroeg in Desember 2009 aangeteken.


  1. Die applikant was duidelik in staat om kennisgewings van appèl te formuleer, en om appèl aan te teken, sonder die hulp van ʼn skriftelike vonnis en redes (minstens dan wat saak 499/2007 betref). Die bestaan van ʼn skriftelike vonnis en redes, en die besit daarvan deur ʼn party, is dan ook nie ʼn voorvereiste vir die aanteken van ʼn appèl deur daardie party nie.13


  1. Selfs al sou die applikant dan later skriftelik vonnisse en redes wou versoek het 14, sou dit onnodig gewees het om die voortsetting van die appèlle daarvoor te vertraag. Al wat nodig was vir die voortsetting van die appèlle, was net die eenvoudige stappe hierbo na verwys, en dit kon die applikant maklik en tydig geneem het.


  1. Mnr Botha het verder geargumenteer dat die bepalings van Uniforme Hofreël 50(7), en die feit dat die landdros nie die applikant tydig van die oorkondes van die twee sake voorsien het nie, dit vir die applikant onmoontlik gemaak het om die appèlle voort te sit.


  1. Geen so ʼn saak is ooit namens die applikant uitgemaak in die stukke nie, en die eerste en tweede respondente is dus nooit die geleentheid gebied om daarop te antwoord nie.


  1. Daar is ook geen aanduiding in die hofreëls dat daar op die landdros so ʼn verpligting gerus het nie.


  1. Die feit dat subreël (7) vereis dat daar, gelyktydig met die indiening van die aansoek om ʼn verhoordatum, twee afskrifte van die oorkonde by die griffier ingedien word, beteken ook nie dat die versuim om so te doen, die geldigheid van die aansoek om ʼn verhoordatum sou raak nie. Daar is geen so ʼn aanduiding in die bepalings van subreël (7), of in die bepalings van Uniforme Hofreël 50 as ʼn geheel, nie.


  1. Subreël (4)(c) bepaal ook heel eenvoudig dat die blote aansoek om ʼn verhoordatum15 die voortsetting daar sal stel, en nie ʼn aansoek met ʼn gelyktydige indiening van die oorkonde nie.


  1. Die enigste gevolg van die versuim om ʼn oorkonde in te dien, sou wees dat die griffier moontlik mag weier om ʼn verhoordatum toe te ken.


  1. Die landdros se skrywe van 4 Desember 2009 het in elk geval ook net op die eerste respondent se saak betrekking gehad en kon dus op geen denkbare wyse die applikant verhoed het om die appèl in die tweede respondent se saak voort te sit nie.


  1. Selfs al sou ook geargumenteer kon word dat redes16 of oorkondes noodsaaklik was vir die voortsetting van die appèlle, sou die applikant na my oordeel steeds nie slaag in ʼn aansoek om herinstelling van die appèlle nie, want die applikant sou in elk geval op sy eie weergawe, en selfs op so ʼn basis, nie ʼn behoorlike verduideliking hê vir die versuim om die appèlle tydig in te stel nie.


  1. In hierdie verband moet gekyk word na wat die applikant dan gedoen het om sodanige redes en oorkondes te verkry.


  1. Dit is so dat dit die applikant se saak is dat, in reaksie op die vreemde skrywe van die landdros, aansoeke geliasseer is om kondonasie vir die nie-nakoming van ʼn Landdroshofreël 51(1) en om die verskaffing van skriftelike vonnisse en uitsprake. Die betrokke kennisgewings aangeheg by die funderende eedsverklaring het, soos reeds gemeld, geen verhoordatums bevat nie. Daar is geen aanduiding dat die applikant darem dan probeer het om dit behoorlik ter rolle te plaas nie.


  1. Die applikant moes besef het dat, omdat die appèlle reeds vroeg in Desember 2009 aangeteken is, die tyd vir die voortsetting van die appèlle besig was om uit te loop, en as die applikant dan foutiewelik onder die indruk verkeer het dat die vonnisse en redes noodsaaklik was daarvoor, moes die applikant minstens darem gepoog het om dit betyds te bekom.


  1. Dit het die applikant egter nie gedoen nie. Die aansoeke om kondonasie is gedateer 11 Desember 2009. Die afskrifte aangeheg by die funderende eedsverklaring bevat geen aanduiding van of, en indien wel wanneer, dit by die Klerk van die Hof geliasseer is nie.


  1. Selfs al sou egter aanvaar word dat dit op 11 Desember 2009 geliasseer is, en dat die applikant op die een of ander wyse geregtig was op ʼn beslissing daarin al was daar nooit ʼn verhoordatum nie, het die applikant op sy eie weergawe toe terug-gesit, tot lank nadat die appèlle reeds verval het, en eers op 29 Maart 2010 weer gepoog om die vonnisse en redes te verkry, deur die landdros met ʼn mandamus te dreig. Dit ook eers nadat ʼn verteenwoordiger van die applikant reeds op 3 Maart 2010 pertinent daarop gewys is dat die appèlle verval het.


  1. Die applikant het ook nooit die voorgeskrewe gelde vir die verkryging van redes betaal nie.


  1. Daar is geen aanduiding dat die applikant ooit die landdros, of selfs die klerk van die Landdroshof, gevra het om in enige van die twee appèlle ʼn oorkonde te voorsien nie; ook nie eers in die sogenaamde aansoeke om kondonasie nie.


  1. Daar was tot op die datum van hierdie aansoek steeds geen aansoek om herinstelling van die appèlle17 aanhangig gemaak nie.


  1. Op die basis van dit hierbo behandel alleen al, sou ʼn aansoek om herinstelling van die appèlle na my oordeel gedoem wees tot mislukking.


  1. Ek handel dus net baie kortliks met die submissie wat namens die applikant gemaak is dat die landdros se versuim om mondelinge getuienis oor quantum aan te hoor, ʼn fatale onreëlmatigheid was.


  1. In hierdie verband gaan ek my ook, in die omstandighede, hoofsaaklik beperk tot die eerste respondent se saak, want dit is op sterkte van die lasbrief in sy saak wat daar op die betrokke voertuie beslag gelê is.


  1. Toe me Immelman onttrek het, was die applikant as verweerder in daardie saak onverteenwoordig. Dit het daardie verrigtinge omskep in verstekverrigtinge18, en in sulke verrigtinge is die landdros geregtig om getuienis oor quantum by wyse van beëdigde verklaring te ontvang19, soos wat hier dan ook gebeur het.


  1. Mnr Botha se steun op Bens v Modubela20 was ook misplaas. Daardie beslissing het betrekking op die proses in die Hooggeregshof, en nie dié in die Landdroshof nie, en is in elk geval nie gesag daarvoor dat in gevalle soos die onderhawige getuienis oor quantum nooit by wyse van beëdigde verklaring ontvang kan word nie.


  1. Wat die tweede respondent se saak betref, volstaan ek daarby om op te merk dat mnr Rich se beweringe dat me Barnes te alle tye aangedui het dat die quantum nie in geskil was nie en dat sy, wat meer is, toegestem het dat die tweede respondent getuienis oor quantum by wyse van beëdigde verklaring voor die landdros plaas, op geen wyse weerlê is nie.


  1. Ek ag dit onnodig om my in besonderhede uit te spreek oor die applikant se vooruitsigte om te slaag met ʼn appèl teen die quantum van die twee vonnisse opsigself.


  1. Die sake waarop mnr Botha in hierdie verband gesteun het, was in elk geval grootliks onderskeibaar. In die geval van Minister of Safety and Security v Tyulu21 is die eiser maar vir ongeveer 15 minute aangehou, en wel in ʼn polisievoertuig (en nie in die selle nie).


  1. In Minister of Safety and Security v Seymour22 is daar inderdaad op 30 Mei 2006 ʼn bedrag van R90 000,00 toegeken aan ʼn persoon wat vyf dae in hegtenis was. Die betrokke eiser het slegs een van daardie dae in ʼn polisiesel deurgebring, en die res in ʼn private hospitaal onder mediese behandeling. Die toekenning is ook ʼn geruime tyd voor die onderhawige vonnisse (en veral dan dié van die eerste respondent) gemaak.


  1. In teenstelling hiermee het die eerste en tweede respondente, blykens die besonderhede van vordering in hulle sake, ongeveer 36 ure in die polisieselle deurgebring.


  1. Die applikant se versuim om ʼn saak uit te maak van ʼn duidelike (of selfs prima facie) reg wat aangetas is of staan gefrustreer te word, maak dit onnodig om (selfs al sou die aansoek steeds beskou word as een vir blote interim regshulp) die kwessie van die oorwig van gerief te oorweeg.23


  1. Ek volstaan dus daarmee om op te merk dat die applikant in elk geval in hierdie verband grootliks gesteun het op hoorsê getuienis in die vorm van ʼn onbeëdigde skrywe wat aangeheg is by die funderende eedsverklaring. Daar is nie gepoog (selfs eers in repliek) om ʼn saak daarvoor uit te maak dat dit nie moontlik was om van die outeur van die skrywe ʼn beëdigde verklaring te verkry nie of dat die deponent waarlik glo dat die inhoud van die skrywe waar is, en om dan op dié basis te versoek dat die getuienis toegelaat word nie.24


  1. Die applikant het ook versuim om in repliek te handel met die eerste en tweede respondente se bewering dat die betrokke voertuie nie hoofsaaklik vir dienslewering gebruik word nie.


  1. Die risiko dat die applikant, indien die eerste en tweede respondente nou die vonnisskulde verkry deur eksekusie en daar dan op appèl ʼn verlaagde skadetoekenning mag wees, geld mag verloor, sou in elk geval opgeweeg moes word teen die eerste en tweede respondente se posisie, wat op alle aanduidings behoeftige persone is, en hulle reg op finaliteit in hierdie lang uitgerekte sage.


  1. Hierdie reg sou nie bevredig kon word deur die feit dat die applikant ter elfder ure, en nadat hierdie aansoek reeds op 7 April 2010 uitgestel was, die bedrae van die vonnisskulde in trust inbetaal het by hulle prokureur nie. Dit plaas nog steeds geen gedeelte daarvan in hulle hande nie; dit terwyl die applikant nou toegee dat hulle wel op skadevergoeding in die een of ander bedrag geregtig is.


  1. Dit volg dus dat die aansoek nie kan slaag nie.


  1. Dit is nie vir doeleindes van hierdie aansoek nodig om te beslis of die eerste en tweede respondente voldoen het aan die finale Nyathi-voorskrifte (en meer spesifiek dan dié ten aansien van betekening van die vonnisse) nie en of, indien nie, die eerste respondent se lasbrief in elk geval ʼn geldige lasbrief is nie.


  1. Ek dink nie daar kan enige twyfel wees dat die koste die uitslag sal volg nie.


  1. In sy antwoordende beëdigde verklaring het mnr Rich aan die hand gedoen dat die koste op die skaal van prokureur en kliënt toegeken moet word. Ek meen dat daar, in die lig van die geskiedenis van hierdie aangeleentheid, en veral dan die wyse waarop die staatsprokureur opgetree het, geen twyfel hieroor kan wees nie.


  1. Dit is geyk dat partye in gepaste gevalle aanspreeklik gehou sal word vir die optrede van hul regsverteenwoordigers.25


  1. Mnr Botha het gepoog om die Saloojee-beslissing te onderskei op die basis van die opmerking daarin26 dat die prokureur immers die verteenwoordiger is wat die litigant self verkies het om te gebruik, en het verwys na die stelling van die deponent in die gemelde aansoeke om kondonasie dat die applikant verplig is om van die dienste van die staatsprokureur gebruik te maak, en mnr Botha het geargumenteer dat dus nie in hierdie geval gesê kan word dat die staatsprokureur die applikant se keuse van regsverteenwoordiger was nie.


  1. Ek gaan my nie uitlaat oor die vraag of die applikant verplig was om van die dienste van die staatsprokureur gebruik te maak nie.


  1. Ek meen egter in elk geval nie dat mnr Botha se argument korrek kan wees, of dat die passasie in die Saloojee-saak dui op so ʼn voorvereiste ook in ‘n geval soos die onderhawige, nie. So ʼn benadering sou die absurde gevolg hê dat die staatsprokureur, wat net soos enige ander prokureur ʼn beampte van die Hof is, maar roekeloos kan omgaan met die hofproses, tot die nadeel van ander partye, wat dan telkens maar self die gevolge daarvan moet dra.


  1. In betoog het mnr van Niekerk egter ʼn stappie verder gegaan en aan die hand gedoen dat die kantoor van die staatsprokureur sodanige bestraffende koste de bonis propriis behoort te betaal.


  1. Alhoewel dit onbevredigend mag wees dat die belastingbetaler tog maar uiteindelik dié koste gaan dra indien die applikant as staatsorgaan gelas word om dit te betaal, is die feit dat daar geen vooraf kennis gegee is van ʼn voorneme om so ʼn kostebevel te vra nie.


  1. Die kantoor van die staatsprokureur het dus nooit die geleentheid gehad om daarop te reageer nie en ek meen dat dit nie in die eerste en tweede respondente se belang sou wees om die beregting van die kostes te vertraag vir hierdie doeleindes nie. Die verdere probleem is dat die staatsprokureur moontlik sou sukkel om die beweringe rondom me Barnes te hanteer.


  1. In die omstandighede word die volgende bevele dus hierin gemaak:


  1. Die applikant sal die tweede respondent se koste van die uitstel op 7 April 2010 betaal op die skaal van prokureur en kliënt, en origens sal elke party sy eie koste van daardie uitstel dra.


  1. Die aansoek word afgewys met koste, op die skaal soos tussen prokureur en kliënt.








______________________

C J OLIVIER

REGTER

NOORD-KAAPSE AFDELING



Nms Applikant: Adv C Botha bygestaan deur Adv L van Niekerk

Namens: Die Staatsprokureur


Nms Respondent: Adv J G van Niekerk, SC

In opdrag van: Coetzee Prokureurs


1 Oorkonde: bl 68; bl 70

2 2008 (5) SA 94 (CC)

3 20 van 1957

4 saaknommer CCT 53/09, [2009] ZACC 29

5 Waarom so ‘n aansoek ook ten aansien van saak 500/2007 gedoen is, is onduidelik.

6 Sien Landdroshofreël 55(1)

7 Landdroshofreël 51(1)

8 en, indien suksesvol, die afhandeling van die appélle.

9 JR 209 Investements (Pty) Ltd and Another v Pine Villa Country Estate (Pty) Ltd; Pine Villa Country Estate (Pty) Ltd v JR 209 Investments (Pty) Ltd and Another 2009 (4) SA 302 (SCA) [25]

10 Interdicts and Related Orders, Meyer, bl 59

11 Uniforme Hofreël 50(4)(c)

12 Uniforme Hofreël 50(1)

13 Regering van die Republiek van Bophuthatswana v Van Zyl 1981 (1) SA 484 (NC) 487; Steynberg v Labuschagne and Another [1998] 3 All SA 384 (O) 389d-f

14 Landdroshofreël 51(8)

15 en die verskaffing van die vereiste adresse natuurlik.

16 of skriftelike vonnisse.

17 of, natuurlik, vir die kondonasie van die laat-aanteken van die appélle.

18 Burgerlike Prosesreg in die Landdroshowe, vol 1, bl 622-623; Jones & Buckle The Civil Practice of the Magistrates’ Courts in South-Africa, vol II, Erasmus en Van Loggerenberg, 9de uitgawe, 32-3

19 Ibid, 12-11

20 Ongerapporteerde uitspraak in hierdie afdeling op 29 Februarie 2008 onder saaknommer 479/06

23 Stern and Ruskin NO v Appleson 1951 (3) SA 800 (WLD) 813A

24Southern Pride Foods v Mohidien 1982 (3) SA 1068 (C) 1072 C

25 Saloojee and Another, NNO v Minister of Community Development 1965 (2) SA 135 (A) 141C-E; Tshivhase Royal Council and Another v Thsivhase and Another; Thsivhase and Another v Thsivhase and Another 1992 (2) SA 852 (A) 859E-F

26 op 414C