South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley >> 2008 >> [2008] ZANCHC 9

| Noteup | LawCite

Langeberg Stene BK v Pick-A-Brick and Others (754/04) [2008] ZANCHC 9 (15 February 2008)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)



Saaknommer: 754/04

Datum Verhoor: 2005/11/22;

2005/11/23; 2005/11/24; 2008-02-04; 2008-02-05

Datum Gelewer: 2008-02-15


In die saak van:


LANGEBERG STENE BK EISER



versus



PICK-A-BRICK 1STE VERWEERDER

FJ KOEN 2DE VERWEERDER

HJ KRAUZE 3DE VERWEERDER

SURE FOCUS THIRTY SIX CC 4DE VERWEERDER

(Registrasie Nr: CK 2001/040957/23)


Coram: MAJIEDT R


UITSPRAAK



MAJIEDT R:

1. Die Eiser vorder betaling van die bedrag van R206 454.74, rente teen die statutêr voorgeskrewe koers, sowel as gedingskoste.

2. Slegs Derde Verweerder (“Krauze”) staan die aangevraagde regshulp teen in die onderhawige verrigtinge. Daar is alreeds verstekvonnis geneem teen Tweede Verweerder (“Koen”) in die bedrag van R158 694.88. Gedurende die verloop van die verhoor het dit geblyk uit die getuienis dat Koen intussen gesekwestreer is.

3. Namens die Eiser het Mnr. Knoetze aansoek gedoen vir wysiging van die eisbedrag na dieselfde bedrag waarvoor verstekvonnis teen Koen geneem is soos hierbo vermeld, naamlik R158 694.88. Daar was geen beswaar vanaf die kant vanaf Krauze, hierin verteenwoordig deur Mnr. Zietsman nie, en is dit gevolglik toegestaan.

4. Ek maak nou alreeds melding daarvan dat die partye, verteenwoordig deur hulle prokureurs, by die voorverhoorkonferensie ingevolge Hofreël 37 ooreengekom het dat dit nie nodig is om die geskilpunte ten aansien van die meriete en die kwantum van die Eiser se eis te skei ingevolge Hofreël 33(4) nie. Só ‘n aansoek is eers op ‘n laat stadium in die verhoor gebring deur Mnr. Knoetze toe hy alreeds ver gevorder was met die getuienis van die eerste getuie vir die Eiser, Mnr. DF Malan (jnr) (“Malan (jnr).”). Teen daardie stadium is ‘n groot hoeveelheid getuienis alreeds aangebied deur Malan (jnr) aangaande aspekte wat slaan op die kwantum van die Eiser se eis. Ek het dié aansoek afgewys vanweë doelmatigheidsredes, juis gegewe die feit dat daar alreeds soveel getuienis aangehoor is oor kwantum tot op daardie stadium. Hierdie is ‘n ongelukkige situasie, want dit het, soos ek aanstons sal aantoon, erge komplikasies meegebring vir die Eiser in die aanbied van sy saak.

5. Daar is baie min geskil oor die feite in hierdie saak tot op ‘n sekere punt van die gebeure en ek som derhalwe die feite wat wel gemene saak is, bondig as volg op:

5.1 Die Eiser vervaardig bakstene op ‘n perseel buite Olifantshoek. Die alleenlid van die Eiser is Mnr. DF Malan (senior) (“Malan (senior)). Malan (jnr), na wie ek alreeds verwys het en wat die eerste getuie vir die Eiser was, is Malan (snr) se seun en het dienste verrig as bestuurder van die stenefabriek. Die Eiser het ook ‘n depot gehad te Upington wat as Pick-a-Brick handel gedryf het tot op ‘n stadium toe dit gesluit moes word, klaarblyklik vanweë swak bestuur deur die werknemers daar by die depot.

5.2 Koen en Krauze het belang gestel om vir hulle eie rekening dié depot weer te bedryf as ‘n afsetpunt vir bakstene voorsien deur die Eiser vanaf sy Olifantshoek fabriek (alhoewel daar voortdurend in die verrigtinge en in die pleitstukke sprake was daarvan dat daar ook ‘n ooreenkoms was vir die lewering van “aanverwante boumateriaal”, gaan hierdie saak uitsluitlik oor die verkoop en lewering van bakstene deur die Eiser). Koen is ‘n sakeman van Kakamas wat volgens die getuienis handel gedryf het as Kakamas Boerderybenodigdhede (‘n tipe koöperasie) en veral ook sement verkoop het. Krauze is ‘n sakeman van Olifantshoek en was klaarblyklik bevriend met die twee Malans voor die verhouding versuur het met die geskil in die onderhawige saak. Krauze besit, volgens die getuienis, ondermeer ‘n vulstasie te Olifantshoek en bedryf ook ‘n vervoeronderneming onder die handelsnaam Krauzer Vervoer.

5.3 Aanvanklike gesprekke tussen die twee Malans aan die een kant en Koen en Krauze aan die ander kant het gedurende Februarie 2002 op ‘n informele vlak plaasgevind waartydens dié twee verweerders die moontlikheid eksploreer het om handel te dryf onder die naam Pick-a-Brick by die depot te Upington wat hulle van die Eiser sou huur vir die verkoop van bakstene. Dié voorstel het in beginsel die Malans geval en is daar in beginsel ‘n besluit geneem dat só ‘n transaksie aangegaan kon word. Daar was op dié stadium geen duidelike besonderhede op ooreengekom nie, aangaande byvoorbeeld in watter tipe entiteit die twee verweerders die besigheid sou bedryf, die pryse van die stene en aanverwante kostes en dies meer. Dit sou klaarblyklik op ‘n latere stadium verder bespreek en ooreengekom word.

5.4 Al die partye in die onderhawige verrigtinge was dit eens dat die aanvanklike gedagte was dat Koen en Krauze eers die besigheid sou bedryf in hul persoonlike hoedanighede en, soos alreeds aangedui is, was daar nog nie klarigheid oor die entiteit waarin hulle dit sou bedryf nie. Ek maak in besonder melding hiervan, want dit is een van die kardinale geskilpunte hierin.

5.5 Lewering van bakstene vanaf die Eiser se fabriek te Olifantshoek na die depot te Upington het ‘n aanvang begin neem op 5 Maart 2002 en het voortgeduur tot min of meer 11 Mei 2002. Lewering is gestaak vanweë geskille wat daar ontstaan het, eerstens oor betalings wat nie gemaak is nie en tweedens oor die feit dat Koen bepaalde lewerings en heffings op die rekening in geskil geplaas het.

5.6 Alhoewel dit in die vooruitsig gestel was deur die partye tydens hulle aanvanklike informele samesprekings dat hulle mondelinge ooreenkomste later beliggaam sou word in skriftelike ooreenkomste wat opgestel sou word deur Mnr. Rudi Oosthuizen (‘n prokureur te Olifantshoek), het dit nooit gematerialiseer nie, vanweë die dispuut wat daar toe ontstaan het tussen die Malans namens die Eiser aan die een kant en Koen en Krauze aan die ander kant.

6. Die primêre geskilpunte hierin is die volgende:

6.1 Met wie die Eiser gekontrakteer het en wie gevolglik aanspreeklik is vir betaling van die uitstaande bedrae ten aansien van bakstene wat deur die Eiser gelewer is en nie betaal is nie; en

6.2 Of die Eiser die kwantum van sy eisbedrag bewys het.

7. Krauze het pertinent bovermelde geskilpunte uiteengesit in sy verweerskrif en het geverg dat die Eiser dit moet bewys. By die voorverhoorkonferensie het die partye, heeltemal tereg, ooreengekom dat die Eiser die bewyslas ten aansien van die voormelde geskilpunte dra en ook die las sal hê om te begin om getuienis af te lê. Ten einde hierdie bewyslas te kwyt het die Eiser die getuienis aangebied van die twee Malans asook Oosthuizen. Krauze het ook mondelinge getuienis afgelê in sy eie saak.

8. n Hele aantal dokumente wat van besondere belang in hierdie saak is, is ingehandig en ek sal mettertyd daarna verwys. Al die dokumente is ingehandig deur die onderskeie partye op die basis dat dit nie nodig sal wees om die egtheid daarvan te bewys of die oorspronklikes daarvan voor te lê nie, maar op die verdere belangrike basis dat die inhoud van die onderskeie dokumente nie erken word nie. Soos ek aanstons sal aandui is hierdie ook ‘n belangrike aspek wanneer dit kom by die bepaling van die vraag of die Eiser hom van sy bewyslas gekwyt het.

9. Die Eiser se saak, bondig opgesom, is dat hy vanaf die aanvang en deurgaans tot aan die einde gekontrakteer het met Koen en Krauze in hulle persoonlike hoedanighede. Krauze, aan die ander kant , het getuienis gelewer dat hy op ‘n stadium die Eiser se repudiasie van die ooreenkoms aanvaar het en toe teruggetree het uit die ooreenkoms. Krauze voer aan dat Koen óf persoonlik óf as alleenlid van die Vierde Verweerder Beslote Korporasie aanspreeklik gehou moet word vir die uitstaande bedrag verskuldig aan die Eiser.

10. Die voormelde geskilpunt tussen die partye, naamlik met wie die Eiser gekontrakteer het, kan slegs bereg word deur te beslis op die waarskynlikhede watter van die twee botsende weergawes voor die Hof meer aanvaarbaar en geloofwaardig is. Ek ontleed vervolgens kortliks die getuienis ter beregting van dié bepaalde geskilpunt.

11. Die twee Malans se getuienis is in breë trekke dieselfde, naamlik dat die informele gesprekke tussen die partye plaasgevind het onder ‘n afdak by die steenfabriek buite Olifantshoek gedurende Februarie 2002, waarna hulle almal na die Olifantshoek Hotel is om te gaan eet en verder te onderhandel. Hulle albei getuig dat tydens dié gesprek by die hotel, daar toe op bepaalde kontraksterme ooreengekom is te wete prys, kortings onder sekere omstandighede, vervoer- en laaikoste asook die huur van die depot te Upington en afslag vir uitgawes aangewend vir die opknapping daarvan deur die Verweerders. Volgens die Malans is daar toe ooreengekom tussen die partye dat hulle so spoedig moontlik daarna dié kontraksterme sal laat beliggaam in ‘n skriftelike ooreenkoms deur Oosthuizen en dat die partye dan, wanneer dit vir hulle geleë sal wees, Oosthuizen se kantore sal besoek ten einde die skriftelike ooreenkoms te onderteken. Die twee Malans het dit beklemtoon dat, wat hulle aanbetref, Koen en Krauze in hulle persoonlike hoedanighede sou besigheid doen en was daar nooit sprake van ‘n ander regsentiteit wat hulle sou gebruik nie.

12. Krauze se weergawe verskil heelwat van dié van die Malans. Hy bevestig die aanvanklike samesprekings en verduidelik dat dit Koen was wat eintlik daarin belang gestel het om die bakstene te verkoop daar te Upington. Sy eie betrokkenheid sou daarin geleë wees dat hy die vervoer van die bakstene sou behartig. Volgens hom was die aanvanklike informele gesprek met die Malans bloot ‘n beginsel gesprek en is daar slegs beginselbesluite geneem. Daar was niks gepraat oor pryse, vervoer, huur en dies meer nie. Volgens Krauze het hy ‘n afspraak met Oosthuizen bekom die volgende dag ná die informele samesprekings en is al vier van hulle na Oosthuizen vir konsultasies. By dié konsultasie die daaropvolgende dag is daar gepraat oor kortings wat bepaal is op tien persent vir betaling binne 30 dae na lewering van die staat. Die huur van die perseel te Upington is bespreek, asook die opknapping daarvan en is daar gepraat oor ‘n moontlike beslote korporasie of vennootskap waarin die besigheid bedryf sou word deur hom en Koen. Volgens Krauze het Koen by hierdie konsultasie in die teenwoordigheid van die twee Malans aan Oosthuizen vermeld dat hy ‘n beslote korporasie het wat beskikbaar gestel kan word en dat hy sou toesien na die formalisering van dié bepaalde aspek. Krauze het getuig dat na die konsultasie hulle vier, d.w.s. die twee Malans, Koen en Krauze by die hotel gaan eet het. Volgens hom is daar instruksies aan Oosthuizen gegee dat dié solank moes begin met die opstel van ‘n voorlopige ooreenkoms waarna hulle in kennis gestel sou word as dit voltooi is. By die hotel is daar oor ete verder gepraat en almal was baie positief oor die voorgenome transaksie. Krauze het getuig dat hy duidelik onthou dat Malan (snr) gesê het dat geen stene gelewer sou word tensy alle skriftelike ooreenkomste en ander formele vereistes in plek is nie. Hy was tevrede daarmee en het dit so aanvaar. Koen het daarna Kakamas toe vertrek. Volgens Krauze het hy die volgende oggend in sy kantoor ‘n kredietaansoek en borgstelling wat in een vorm beliggaam is aangetref, komende van die Eiser. Hy het Malan (jnr) gebel en was onstoke oor dié vorms aangesien hy (Krauze) nooit self sulke vereistes gestel het aan die Malans wanneer hy met hulle vantevore besigheid gedoen het nie, bv. die vervoer van steenkool in groot hoeveelhede. Malan (jnr) het aan hom aangedui dat die rede daarvoor is dat sy pa (Malan (snr)) daarop aandring. Krauze het aangevoer dat hy aan Malan (jnr) gesê het as dít die geval is hy hom onttrek van die voorgenome besigheid en nie sy weg oopsien om daarmee voort te gaan nie. Hy het ook sy onttrekking oorgedra aan Oosthuizen en aan Koen.

13. Die kardinale geskilpunt is dus: het Krauze inderdaad, soos wat hy beweer, op ‘n stadium onttrek van die mondelinge ooreenkoms wat daar gesluit was tussen die partye en, indien wel, wanneer het sodanige onttrekking plaasgevind? Daarmee saam gaan die vraag of Krauze vir enige van die uitstaande bedrae aanspreeklik is teenoor die Eiser.

14. Die twee Malans het redelik goed gevaar in hul getuienislewering, die pa heelwat beter as sy seun. Laasgenoemde het maar bra klei getrap oor aspekte waaroor hy onseker was en was dit veral vir hom moeilik om die kloutjie by die oor te bring wat sekere van die dokumentasie wat handel oor die kwantum van die eisbedrag aanbetref. In die algemeen gesproke egter, is hulle getuienis aanvaarbaar, mits dit strook met die algemene waarskynlikhede soos dit veral blyk uit die dokumentasie voor my waarna ek later sal verwys.

15. Krauze was ook nie ‘n swak getuie nie en was tot ‘n groot mate selfversekerd in sy getuienisaflegging. Daar is enkele aspekte waar sy getuienis minder bevredigend is, maar is sy getuienis ook aanvaarbaar waar dit eweneens strook met die algemene waarskynlikhede soos dit blyk uit die dokumente voor my.

16.1 Na my mening is Oosthuizen die deurslaggewende getuie ten aansien van hierdie bepaalde geskilpunt. Sy getuienis het tot ‘n mate opspraak verwek, deurdat dit op ‘n laat stadium geblyk het dat sy kantoorlêer hoogs tersaaklike dokumentasie bevat wat nie blootgelê is nie. Die verhoor is by geleentheid vir ‘n lang tydperk uitgestel op die koste van die Eiser, juis vanweë hierdie versuim. Krauze is derhalwe tot ‘n mate verras deur hierdie getuienis wat toe later na vore gekom het en soos wat ek nou sal aandui, van deurslaggewende belang blyk te wees. Hoe dit ookal sy, die inhoud van Oosthuizen se kantoorlêer ten aansien van die transaksie tussen die Malans en Koen en Krauze is blootgelê en ingehandig as Bewysstuk E bevattende 28 items. Ek moet daarop wys dat daar ‘n ander lêer bestaan in Oosthuizen se kantoor wat handel oor die litigasie in hierdie saak waarvan slegs nie-gepriviligeerde gedeeltes blootgelê is en waarvan sommige voor die Hof is as bewysstukke.

16.2 Oosthuizen het getuig dat Koen en Krauze by twee geleenthede aanwesig was by sy kantoor vir konsultasies aangaande die onderhawige transaksie. By die eerste geleentheid, te wete 20 Maart 2002, was die twee Malans ook aanwesig. Hy het by albei geleenthede breedvoerige notas op sy lêer gehou, dié notas is in oorspronklik handgeskrewe vorm en in getikte vorm voor die Hof geplaas as deel van Bew E. Hierdie notas, synde gelyktydige boekstawing van die gesprekke en instruksies, is primêr die rede waarom ek Oosthuizen se getuienis so hoog aanslaan en as deurslaggewend beskou. By die tweede konsultasie wat op 26 Maart 2002 plaasgevind het, was dit slegs Koen en Krauze wat aanwesig was. Oosthuizen was heeltemal oortuig daarvan dat die datums, soos aangeteken in sy kantoorlêer, wel korrek is en dat hy nie daarmee ‘n fout begaan nie. Dit is ondermeer aan hom gesuggereer deur Mnr. Zietsman namens Krauze dat die eerste konsultasie se datum nie 20 Maart 2002 nie, maar moontlik 20 Februarie 2002 behoort te wees, maar Oosthuizen het dit heftig ontken.

17. By die eerste konsultasie op 20 Maart 2002 waar al vier die persone aanwesig was soos voormeld, is die volgende pertinente aspekte bespreek volgens Oosthuizen en soos wat blyk uit sy notas:

17.1 Hy het eerstens aangeteken dat daar ‘n huurkontrak opgestel moet word waar die verhuurder Malan (snr) sou wees (in sy hoedanigheid as alleenlid van die die Eiser beslote korporasie) en Koen en Krauze sou die huurders wees. Hy het daar ook ‘n nota gemaak dat addresse nog bekom moet word. Die erfnommer en adres van die perseel te Upington is wel aangeteken.

17.2 Daar is verder ‘n aantekening gemaak dat die huurgeld R3500 per maand sou beloop vooruitbetaalbaar, met eskalasie van 10 persent per jaar en dat vir die eerste ses maande ‘n bedrag van R500 per maand op dié huurbedrag verminder kon word ten aansien van verbeterings wat by die perseel aangebring sou word deur Koen en Krauze.

17.3 Die huurtermyn is aangeteken en daar is ook aantekeninge gemaak aangaande die dienstegelde en belastings betaalbaar.

17.4 n Verdere aantekening handel oor die onderverhuur van ‘n gedeelte van die perseel en dat ‘n voorwaarde gestel is dat slegs bakstene gelewer deur die Eiser verkoop sal word vanaf die bepaalde perseel.

18. Wat opval van dié bepaalde aangekening op 20 Maart 2002, is dat Oosthuizen geen aantekeninge hoegenaamd gemaak het aangaande die voorwaardes en terme wat sou handel met die ooreenkoms ten aansien van die voorsiening van bakstene deur die Eiser aan Koen en Krauze nie. Hierdie aspek val vir my ietwat vreemd op, veral omdat Oosthuizen in sy mondelinge getuienis aangedui het dat sy opdrag in breë trekke was dat hy ‘n huurkontrak moes opstel ten aansien van die perseel te Upington en ook ‘n steenvoorsieningsooreenkoms.

19. Oosthuizen het getuig dat by die tweede besoek van 25 Maart 2002 beide Koen en Krauze aanwesig was (‘n feit wat deur Krauze ontken word, deurdat hy getuig het dat hy nie daar aanwesig was en dat slegs Koen by hierdie konsultasie teenwoordig was). Toe dié bepaalde twee verweerders by hom opgedaag het vir die konsultasie op 25 Maart 2002 het hy alreeds konsepooreenkomste opgestel ten aansien van die huurkontrak asook ‘n eerste konsep van die steenvoorsieningsooreenkoms. Na aanleiding van dié tweede konsultasie is sekere veranderinge aangebring op die konsephuurooreenkoms en is ‘n tweede konsep opgestel wat betref die steenvoorsieningsooreenkoms.

20. Vanweë die belangrikheid daarvan haal ek nou volledig die notas aan wat Oosthuizen op sy lêer aangebring het ten aansien van hierdie konsultasie van 25 Maart 2002:

20.1 “Johan & Frikkie Koen 25/3/02


BK Sure Focus Thirty Six CC
Nel & Vennote Upington
Kobus Nel
+ BK Dormant
+ Johan sal lid word – Kobus Nel


Samewerkings ooreenkoms – gewoon


Frikkie sal Bestuur & Besigheid hanteer

Bemarking

Advertensie


Johan verantwoordelik vir vervoer

Trokke nog nie onttrek nie

BK Betaal per vrag km 30 dae na staat


Boumateriaal.”



Oosthuizen het verduidelik dat hy hierdie aantekeninge gemaak het omrede hy instruksies van dié twee verweerders gekry het dat hulle sake wil bedryf in ‘n beslote korporasie, te wete Sure Focus BK, wat ‘n dormante beslote korporasie was. Hy was ook meegedeel dat die rekenmeesters Nel en Vennote te Upington die nodige sou doen om te reël dat Krauze ook ‘n lid van die beslote korporasie word (op dié stadium was Koen die alleenlid). Hy het ook opdrag ontvang om ‘n gewone samewerkingsooreenkoms tussen Koen en Krauze op te stel en is daar aan hom meegedeel dat Koen die besigheid sou bestuur en die bemarking en advertering daarvan sou behartig. Krauze sou op sy beurt weer verantwoordelik wees vir die vervoer.

20.2 Op die tweede bladsy van sy notas is van belang die feit dat hy beopdrag om die huurkontrak op te stel ten aansien van die depot te Upington en ook die vervoerkontrak tussen Sure Focus Bk en Krauze se voervoeronderneming. Van belang is dat daar ‘n nota staan in dié verband as volg:

Kontrak


BK en Johan – Henmar Trust IT1794/99”



Daar staan ook inskrywings ten aansien van die vervoertarief, betaaltermyn en die feit dat Krauze nie sou kon onttrek of weier om vervoer te lewer anders as soos in die ooreenkoms bepaal nie.


20.3 Bladsy 3 van die notas vervat verdere aantekeninge ten aansien van die huurooreenkoms wat gaan oor die perseel te Upington en is nie vir huidige doeleindes van belang nie. Wat wel van belang is is dat op bladsy 4 van die kantoorlêer se notas daar aan die onderkant die volgende verskyn:

Borgakte tgv (ten gunste van) Langeberg
Borgakte tgv Krauzer Vervoer.”

21. Oosthuizen het die mening uitgespreek dat die kontrakspartye na die eerste besoek aan hom op 20 Maart 2002, Langeberg Stene Bk aan die een kant en Koen en Krauze in hulle persoonlike hoedanighede aan die ander kant was wat betref die steenvoorsieningsooreenkoms. Met die huurooreenkoms was dit weer Malan (snr) aan die een kant en Koen en Krauze aan die ander kant. Hy het die eerste keer verneem van Sure Focus Bk op 25 Maart 2002 tydens die tweede konsultasie waartydens Koen en Krauze by hom aangedoen het.

22. Oosthuizen het ook getuig aangaande sekere dokumente wat in die bundel vervat is. Ek sal later daarna verwys. Van belang is die feit dat hy getuig het dat hy op die notas wat hy gemaak het tydens die eerste konsultasie op 20 Maart 2002 later in ‘n blokkie die volgende inskrywing agterna aangebring het:

Aankope
Borg en aansoek”

Hy het verduidelik dat hy hierdie nota agterna aangebring het nadat Malan (snr) hom by sy kantoor besoek het en beswaar gehad het teen die feit dat daar nou in ‘n beslote korporasie besigheid gedoen sou word met die Eiser. Volgens Malan (snr) se mededeling was hy onder die indruk dat die ooreenkoms met Koen en Krauze in hulle persoonlike hoedanighede sou wees en aangesien dit nou verander het, het hy (Malan (snr)) vereis dat die kredietaansoek en borgstelling deur Koen en Krauze onderteken moes word. Volgens Oosthuizen het hierdie gesprek plaasgevind vóór 24 Mei 2002, welke die datum is waarop Oosthuizen skrywes uitgestuur het aan al die partye en het die konsepooreenkomste daarby aangeheg vir hul ondertekening.

23. n Verdere belangrike aspek van Oosthuizen se getuienis is dat hy heftig ontken het dat Krauze ooit aan hom meegedeel het dat hy onttrek van die transaksie, omrede hy beswaard was dat daar van hom vereis was om ‘n kredietaansoek en borgstelling in te vul en te onderteken. Hy het ook getuig dat Krauze nooit aanspreeklikheid vir betaling van die uitstaande rekenings ontken het nie. Toe dit onder kruisondervraging aan hom gestel is dat hy sy datums verkeerd het en ook dat Krauze nie teenwoordig was tydens die tweede konsultasie van 25 Maart 2002 nie, het hy dit heftig ontken en gesteun op sy kantoornotas en die datums daarop aangebring. Oosthuizen het toegegee dat hy alreeds vanaf 25 Maart 2002 geweet het dat die kontraksparty nou Sure Focus Bk is en nie Koen en Krauze in hul persoonlike hoedanighede nie. Hy het verduidelik dat die dagvaarding in sy huidige vorm uitgereik is met alternatiewe eise teen Pick-a-Brick as vennootskap en Koen en Krauze in hul persoonlike hoedanighede as alternatief en as verdere alternatief met Sure Focus Bk as die Vierde Verweerder, omrede die Eiser by monde van Malan (snr) die houding ingeneem het dat hulle nooit besigheid gedoen het met Sure Focus Bk nie. Oosthuizen het ook ontken dat hy ooit, soos wat Krauze getuig het, laasgenoemde gebel het en gevra het om as bemiddellaar op te tree in die geskil oor die betaling van rekeninge wat ontstaan het tussen Koen en die Malans.

24. Waar daar feitegeskille is tussen die weergawes van Oosthuizen aan die een kant en Krauze aan die ander kant, aanvaar ek sonder huiwering dié van Oosthuizen, veral omrede hy tydens sy konsultasies met die partye gelyktydige notas aangebring het van die gesprekke met hulle. Daarom bevind ek dan ook dat die datums van die konsultasies inderdaad 20 Maart 2002 en 25 Maart 2002 was, soos wat Oosthuizen getuig het. Ek meen dat Krauze se getuienis in dié verband verwerp moet word. Ek bevind ook dat Krauze inderdaad aanwesig was tydens die konsultasie van 25 Maart 2002. Tydens daardie konsultasie het hy ondermeer instruksie gegee dat die Henmar Trust gebruik word as kontraksparty vir die vervoerooreenkoms tussen hom en Sure Focus Bk.

25. Die voormelde bevindinge het belangrike implikasies – eerstens beteken dit dat Krauze deel was van die transaksie as kontraksparty in sy persoonlike hoedanigheid, ten minste tot en met 25 Maart 2002. In die tweede plek beteken dit dat die entiteit by name Sure Focus Bk eers aan Oosthuizen bekend geword het teen die vroegste op 25 Maart 2002. Hy sou sodanige inligting derhalwe eers daarna kon oordra aan die Malans.

26. Mnr. Knoetze het aangevoer dat daar etlike redes is waarom die Eiser se weergawe, naamlik dat Krauze nooit teruggetree het uit die ooreenkoms nie, op die waarskynlikhede aanvaar behoort te word, te wete:

26.1 Daar geen rede sou wees hoekom Oosthuizen ‘n leuen sou vertel oor die feit dat hy nooit deur Krauze meegedeel is dat dié terugtree nie.

26.2 Dat dit aanvaar moet word dat, volgens Oosthuizen se notas van 25 Maart 2002, Krauze wel die konsultasie bygewoon het en sekere instruksies gegee het en dat Oosthuizen daarna toe onder andere ‘n samewerkings- en vervoerooreenkoms sou opstel met Krauze se trust (Henmar Trust) daarby ingesluit as ‘n kontraksparty. Dit is gevolglik onwaarskynlik dat Krauze alreeds by dié stadium onttrek het.

26.3 Die feit dat Oosthuizen op 24 Mei 2002 ‘n brief sou aflewer by Krauze se besigheidsperseel waarby die vier konsep-ooreenkomste aangeheg is indien Krauze wel alreeds onttrek het en dit aldus oorgedra het aan Oosthuizen.

26.4 n Verdere aspek is die feit dat op dieselfde datum, te wete 24 Mei 2002, die skrywe afgestuur is aan die Eiser met aanhegting van die huur- en steenvoorsieningsooreenkomste se konsepte vir ondertekening en waarvolgens Krauze steeds figureer as kontraksparty.

26.5 Die feit dat Oosthuizen twee keer rekenings uitgestuur het aan Krauze, te wete op 17 Junie 2002 en 14 Augustus 2002 en ook volgens ‘n joernaalinskrywing ‘n debiet deurgevoer het teen een van die krediete wat Krauze gehad het in een van sy ander sake waarmee Oosthuizen besig wes.

27. Ek is egter die mening toegedaan en bevind inderdaad so dat die waarskynlikhede eerder Krauze se weergawe steun, naamlik dat hy op ‘n stadium teruggetree het uit die ooreenkoms (weliswaar glad nie so vroeg as wat hy probeer voorhou het in sy getuienis nie) en dat die Eiser inderdaad gekontrakteer het met die Vierde Verweerder. Na my mening het die Eiser nie daarin geslaag om op ‘n oorwig van waarskynlikhede te bewys dat Krauze nooit teruggetree het uit die ooreenkoms nie en dat hy deurgaans tot by die laaste aflewering aanspreeklik gehou behoort te word vir die uitstaande bedrae geld aan die Eiser nie. Ek maak hierdie bevinding aan die hand van Oosthuizen se getuienis wat ek verkies bo dié van Krauze. My redes vir dié bevinding ten aansien van Krauze se terugtrede is as volg:

27.1 Dit staan na my mening vas dat al die partye aanvanklik die transaksie aan die gang gesit het op dié basis dat Koen en Krauze in hulle persoonlike hoedanighede optree. Die Vierde Verweerder as entiteit waarmee sake gedoen sou word het eers op 25 Maart 2002 gestalte gevind tydens die konsultasie met Oosthuizen.

27.2 Dit is opmerklik dan dat, net daarna en wel op 4 April 2002, daar ‘n afleweringsnota is vanaf die Eiser waarop Sure Focus Bk se naam vir die eerste keer verskyn. Al die aflewerings voor dit het óf Krauze se naam óf Krauzer Vervoer se naam daarop gehad. Ná 4 April 2002 is al die afleweringsnotas in die naam van Pick-a-Brick en soms verskyn daaronder ook die name van Koen en Krauze. Die enigste uitsonderings is twee afleweringsnotas gedateer 16 Mei 2002 en 20 Mei 2002 waar óf Krauze se naam alleen óf sy naam saam met dié van Pick-a-Brick s’n op verskyn.

27.3 Dit is verder insiggewend dat die Eiser twee tjeks ontvang het ter gedeeltelike delging van die uitstaande rekening en wel vanaf die Vierde Verweerder. Hierdie betalings is naamlik gemaak, volgens die datums op die twee tjeks, op onderskeidelik 8 Mei 2002 en 4 Junie 2002. Dit is gemene saak dat die Eiser hierdie twee betalings aanvaar het, ongeag die feit dat dit afkomstig was vanaf die Vierde Verweerder. Malan (snr) se verduideliking hieraangaande was dat hy nie omgegee het wie hom betaal nie, solank hy net betaling ontvang het.

27.4 Van verdere belang is dat Oosthuizen op 17 Junie 2002 en weer op 14 Augustus 2002 rekeninge gestuur het aan Vierde Verweerder wat sy eie professionele fooie aanbetref. Toe hy nie betaling van die rekenings vanaf Vierde Verweerder gekry het nie, het hy toe ‘n krediet van Krauze vanaf ‘n ander lêer oorgeplaas en gedebiteer vir die helfte van die uitstaande bedrag. Dit is ten minste ‘n aanduiding dat in Oosthuizen se gemoed die Vierde Verweerder aanspreeklik was vir sy fooie.

27.5 Op 24 Mei 2002 het daar ‘n brief uitgegaan wat die konsepooreenkomste insluit vanaf Oosthuizen aan die Eiser en daarvolgens is dit duidelik dat Vierde Verweerder nou ‘n kontraksparty is.

27.6 Laastens is daar die vreemde verskynsel dat feitlik alle korrespondensie en telefoongesprekke ten aansien van betaling van die uitstaande rekening met Koen gevoer is. Daar is nooit geld gevorder vanaf Krauze nie, nieteenstaande die feit dat dit gemene saak is dat albei die Malans en Krauze op baie goeie vriendskaplike voet voorheen met mekaar verkeer het.

28. Alles inaggenome en vir die redes voormeld, bevind ek dus dat Krauze inderdaad teruggetree het uit die ooreenkoms en wel onmiddellik na 25 Maart 2002. Ek bevind verder dat op die waarskynlikhede sy redes vir sodanige terugtrede is soos wat hy verduidelik het, naamlik dat hy gebelgd gevoel het oor die feit dat daar van hom ‘n kredietaansoek en borgstelling vereis is deur die Malans, terwyl hulle nooit vantevore in die loop van baie jare só besigheid met mekaar gedoen het nie.

29. Ek bevind verder op ‘n oorwig van waarskynlikhede dat, alhoewel daar aanvanklik sake gedoen is deur die Eiser met Koen en Krauze in hul persoonlike hoedanighede, die ander kontraksparty ná 25 Maart 2002 inderdaad Vierde Verweerder was. Op daardie stadium was Koen alleenlid van Vierde Verweerder.

30.1 Die voormelde bevindinge beteken dat Krauze slegs aanspreeklik gehou kan word vir aflewerings wat plaasgevind het tot omstreeks 25 Maart 2002. Die rede daarvoor is natuurlik dat hy tot op daardie stadium in sy persoonlike hoedanigheid saam met Koen besigheid gedoen het met die Eiser.

30.2 Bundel A is ‘n stel dokumente wat deur die Eiser ingehandig is. Die eerste 28 bladsye is sogenaamde belastingfakture van die Eiser. Alhoewel daar aanvanklik toegegee is deur Malan (jnr) in sy getuienis dat daar rekenaardrukstukke is wat opgestel is op grond van hierdie belastingfakture en dié rekenaardrukstukke (wat na ‘n verbete soektog nie gevind kon word nie) eintlik ‘n beter brondokument daar sou stel, het Mnr. Knoetze tydens sy slotbetoog aangevoer dat dié toegewing verkeerd gemaak is. Hy het, soos wat hy nie anders kon nie, gesteun op dié belastingfakture (wat ook afleweringsnotas daarstel) vir sy betoog op kwantum.

31. Dit is gemene saak tussen die partye dat afleweringsnotas A2-A6 (vanaf 5 Maart 2002 – 21 Maart 2002) wel betaal is (ironies genoeg deur die Vierde Verweerder). Afleweringsnota A7 met nr 2550 gedateer 22 Maart 2002 vervat die inskrywing van “Krauzer Vervoer” en verwys na twaalfduisend pleisterstene. Daar is geen aanduiding van laai-, vervoerkoste en kortings nie en is die prys per duisend en die finale prys nie ingevul nie. Na my mening is hierdie die enigste afleweringsnota en faktuur waarvoor Krauze in sy persoonlike hoedanigheid moontlik aangespreek kan word. Hierna, soos ek aangedui het, en wel vanaf 4 April 2002, is die afleweringsnotas se inskrywings gemaak aan óf Vierde Verweerder óf Pick-a-Brick. Hierna het Krauze dan volgens my voormelde bevinding alreeds teruggetree uit die ooreenkoms. Dit bring my gevolglik by die vraag na kwantum.

32. Na afloop van die Eiser se saak het Mnr. Zietsman namens Krauze aansoek gedoen vir absolusie van die instansie omdat die Eiser nie kwantum bewys het nie. Ek het op daardie stadium die aansoek afgewys en die redes daarvoor voorbehou. Ek het dié beslissing van afwysing van die aansoek gemaak, omrede ek die mening toegedaan was dat daar wel tog getuienis was waarop ek ‘n bevinding kon maak namens Krauze en dat daar ‘n prima facie saak vir ten minste ‘n gedeelte van die kwantum uitgemaak was.

Sien in die algemeen: Schmidt, Bewysreg, 4de uitg te 91.

Aan die einde van die saak is die toets natuurlik anders, naamlik of die Eiser hom van sy bewyslas gekwyt het om op ‘n oorwig van waarskynlikhede die kwantum van sy eisbedrag te bewys. Dit is ook so, soos Mnr. Knoetze tydens sy slotbetoog voorgehou het, dat dit nie ‘n alles-of-niks beginsel is nie. As daar probleme is met die bewys van ‘n gedeelte van die fakture en/of afleweringsnotas, dan beteken dit nie dat die Eiser se eis in sy geheel afgewys moet word nie. Ek moet onmiddellik egter byvoeg dat die boekhouding in hierdie aangeleentheid skokkend swak was. Baie van die fakture is nie onderteken nie, op andere is daar geen pryse ingevul nie, nog ander het geen laai- en vervoerkostes wat ingevul is nie en daar is geen aanduiding van kortings nie. Die primêre probleme in die Eiser se saak wat kwantum aanbetref is die volgende:

a) Eerstens is die feit dat die fakture so onvolledig ingevul is soos ek so pas aangedui het.

b) Tweedens is die feit dat daar, volgens die ooreenkoms aanvanklik gesluit tussen die partye, ‘n korting van 10% sou wees mits betaling binne 30 dae vanaf lewering van staat sou plaasvind en sou dié bepaalde korting pro rata verminder namate die betaling later as 30 dae sou geskied. Daar was geen aanduiding van wanneer betalings vir watter fakture plaasgevind het nie, (behalwe vir Malan (jnr) se getuienis dat die betalings vanaf Vierde Verweerder aangewend is vir sekere bepaalde fakture) en hoe die kortings bereken behoort te word nie.

c) Verder is laai- en vervoerkostes saamgevoeg op die fakture sonder dat aangedui word wat gehef word vir welke item.

d) Belangriker egter is die probleem dat die Eiser na my mening nooit bewys het dat Koen en Krauze toegestem het tot hoeveel die laaikoste sou beloop nie en oor hoeveel die vervoerkoste wat distansie aanbetref sou wees nie. Na my mening is daar wel ooreengekom dat laaikoste gehef sou word en só ook vervoerkoste, maar is die bedrae daarvan of die metode van bepaling nooit gefinaliseer nie. Dit is uiteraard ‘n wesenlike probleem vir die Eiser in die bewys van sy saak wat kwantum aanbetref.

e) n Verdere wesenlike probleem wat dié aspek aanbetref, is die feit dat daar slegs getuienis gelei is deur Malan (jnr), wat tot ‘n mate bevestig is deur sy pa, dat pleisterstene teen R475 per duisend verkoop sou word. Daar is egter in totaal vier verskillende tipes stene verkoop en gelewer in hierdie saak. Daar is hoegenaamd geen getuienis aangebied oor wat die ooreenkoms was ten aansien van die prys van die ander tipes stene nie. In die Besonderhede van Vordering het die Eiser weliswaar gepleit dat stene teen die Eiser se normale pryse verkoop sou word. Daar is egter geen getuienis oor wat die normale pryse van die ander tipes stene sou wees nie. Mnr. Knoetze het aangevoer dat die Hof moet kyk na die fakture en dan moet bepaal wat die pryse is van die onderskeie tipes steen wat daarin aangedui word. Hy het verder aangevoer dat die feit dat Vierde Verweerder betalings gemaak het ten aansien van al vier tipes stene sonder om beswaar te maak teen die pryse en ook die feit dat Koen in korrespondensie nooit gekla het oor die steenpryse nie, aanduidend daarvan is dat die partye die kontrak deurgevoer het op die basis dat normale pryse, soos gehef op die fakture, van toepassing sou wees. Die probleem met dié submissie is natuurlik dat Krauze nie gebind kan word deur die optrede van Koen en Vierde Verweerder nie. Die probleem met die pryse wat die ander drie tipes bakstene aanbetref, is na my mening onoorkomelik vir die Eiser in die saak.

f) n Verdere probleem wat laaikoste aanbetref is dat daar twee verskillende pryse gehef sou word vir laai met die hand (die Eiser voer aan dit sou R44 per duisend stene wees) en vir laai met palette (volgens die Eiser sou dit R22 per duisend wees). Mnr. Knoetze het erg kleigetrap om getuienis aan te bied ten aansien van die billike en redelike koste van die palette en het later afstand daarvan gedoen.

33. Om saam te vat dus is my bevinding dat Krauze slegs aanspreeklik gehou kan word in sy persoonlike hoedanigheid vir die stene wat afgelewer is volgens die faktuur wat bewysstuk A7 voor die Hof is met nr 2550 gedateer 22 Maart 2002, ten aansien van twaalf duisend pleisterstene. Dié stene is normaalweg verkoop teen R475 per duisend, maar swyg die betrokke faktuur oor die prys en het dit geen aanduiding aangaande die laai en vervoerkoste nie. ‘n Verdere probleem wat ek het met faktuur A7 is dat daar geen aanduiding is of dié bakstene gelaai is met die hand of met palette nie.

34. Dit is dus vir my in die lig van dié probleme heeltemal onmoontlik om ‘n bevinding te maak aangaande die bedrag waarvoor Krauze aanspreeklik gehou moet word wat faktuur A7 aanbetref. In dié verband meen ek dat die Eiser se eis afgewys moet word omdat hy hom nie van sy bewyslas gekwyt het nie.

35.1 Ter samevatting dus is Krauze aanspreeklik in sy persoonlike hoedanigheid vir betaling van die faktuur A7, nr 2550 gedateer 22 Maart 2002. Die Eiser het egter nie daarin geslaag om te bewys hoeveel die bedrag van aanspreeklikheid behoort te wees nie.

35.2 Dit bring my by die kwessie van koste. Ek het die absolusie aansoek aan die einde van die Eiser se saak met koste afgewys. Aan die einde van die saak het die Eiser gedeeltelike sukses behaal in dié sin dat ek bevind het dat Krauze deel van die ooreenkoms was tot ten minste 25 Maart 2002 en dat hy aanspreeklik gehou behoort te word vir die afleweringsnota nr 2550 (A7) gedateer 22 Maart 2002. Die Eiser het egter ook misluk deurdat hy hom nie van sy bewyslas gekwyt het aangaande wat die bedrag van hierdie betrokke aflewering is nie. In al die omstandighede meen ek dat dit billik en redelik sal wees teenoor beide partye dat ek gelas dat elke party sy eie koste dra.

35.3 Die verspilde koste teweeggebring deur die uitstel van 6 November 2006 het oorgestaan vir beregting aan die einde van die saak. Ek het nagelaat om hierdie aspek te behandel tydens die slotbetoë en dit het die advokate ook ontgaan. Ek het gevolglik aanvullende betoogshoofde van die partye se regsverteenwoordigers aangevra en bekom. Die verhoor was voorheen op 24/11/2005 uitgestel op die Eiser se koste vir die blootlegging van Oosthuizen se kantoorlêer. ‘n Ongetekende blootleggingsverklaring is enkele dae later (1 Desember 2005) aan Krauze se prokureur gestuur. ‘n Dag of twee ná die voormelde uitstel het Krauze se prokureur ook die volledige lêer gekopieer by Eiser se prokureur se kantoor. Eers op 30 Oktober 2006 (dus slegs enkele dae voordat die verhoor weer ‘n aanvang moes neem op 6/11/2006), is ‘n verkeerde (getekende) blootleggingsverklaring beteken op Eiser se prokureur. Hierdie betekening van die verkeerde blootleggingsverklaring het onafwendbaar gelei tot die uitstel van die saak op 6 November 2006, wat geplaas was vir 4 dae (6-9 November 2006). Na my mening het beide prokureurs tot ‘n mate skuld aan dié verloop van sake. Krauze se prokureur het toé alreeds meer as ‘n jaar lank die afskrifte van Oosthuizen se kantoorlêer se inhoud sowel as die ongetekende (korrekte) blootleggingsverklaring in sy besit gehad. Hy kon hiermee die nodige voorbereidings en konsultasies begin doen. Die Eiser se prokureur het egter op sy beurt weer gefouteer om ‘n verkeerde blootleggingsverklaring te beteken en boonop nog so laat ook (enkele dae voor die verhoor). In die omstandighede meen ek dat ek geen kostebevel behoort te maak ten aansien van die verspilde koste teweeggebring deur die uitstel van 6/11/2006 nie.

36. Gevolglik reik ek die volgende bevel uit :

36.1 Die Eiser se eis teen Krauze word afgewys.

36.2 Elke party word gelas om sy eie gedingskoste te betaal welke insluit die verspilde koste teweeggebring deur die uitstel van 6 November 2006.






____________

SA MAJIEDT

REGTER



ADVOKATE NAMENS EISER : ADV B KNOETZE SC

IN OPDRAG VAN : ELLIOT MARIS WILMANS & HAY


ADVOKATE NAMENS VERWEERDER 3 : ADV P ZIETZMAN

IN OPDRAG VAN : VAN DE WALL & VENNOTE


DATUM VAN VERHOOR : 2005/11/22; 2005/11/23; 2005/11/24; 2008-02-04; 2008-02-05

DATUM VAN UITSPRAAK : 2008-02-15