South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley >> 2008 >> [2008] ZANCHC 71

| Noteup | LawCite

S v Witbooi (CA&R 63/2008) [2008] ZANCHC 71 (14 November 2008)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

Rapporteerbaar: Ja / Nee

Sirkuleer onder Regters: Ja / Nee

Sirkuleer onder Landdroste: Ja / Nee

Sirkuleer onder Streeklanddroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)


Saak No: CA&R 63/2008

Saak Aangehoor: 10/11/2008

Datum gelewer: 14/11/2008

In die saak tussen:



Ronnie Witbooi Appellant


en


Die Staat Respondent


Coram: Olivier R et Steyn WnR


UITSPRAAK


Olivier R:


  1. Die appellant is in die Streekhof skuldig bevind aan verkragting en gevonnis tot 15 jaar gevangenisstraf. Hy kom nou in hoër beroep teen die vonnis.


  1. Dit is gemenesaak dat die Streeklanddros ‘n mistasting begaan het deur, by die oorweging van vonnis, van die standpunt uit te gaan dat die toepaslike voorgeskrewe vonnis minstens 15 jaar gevangenisstraf was, terwyl dit in werklikheid ingevolge die bepalings van artikel 51(2)(b)(i), gelees met Deel III van Bylae 2, van die Strafregwysigingsweg, 105 van 1997, slegs 10 jaar gevangenisstraf was. Dit volg dus dat die opgelegde vonnis tersyde gestel sal moet word en dat ‘n nuwe vonnis in die plek daarvan opgelê sal moet word,


  1. Namens die appellant is aangevoer dat die voorgeskrewe vonnis van 10 jaar gevangenisstraf “onder die omstandighede skokkend swaar en onvanpas” sou wees, terwyl daar namens die respondent aangevoer is dat ‘n termyn van 15 jaar gevangenisstraf steeds ‘n gepaste vonnis sou wees.


  1. Die feitebasis waarop die appellant se skuldigbevinding berus, is baie kortliks dat hy die klaagster, sy eie suster, opgetel het waar sy op ‘n matras in ‘n dronkslaap gelê het buite hulle huis, haar die huis ingedra het, haar aangerand het en haar toe verkrag het.


  1. Daar is na my oordeel verskeie verswarende omstandighede rondom die misdaad wat die appellant gepleeg het. Dit is, in die eerste plek, na my oordeel beslis verswarend dat die slagoffer die appellant se eie jonger suster was, teenoor wie hy sekerlik in ‘n vertrouensverhouding gestaan het. Sy was boonop weerloos besope, tot so ‘n mate dat sy, soos reeds gemeld, in ‘n dronkslaap op ‘n matras gelê het.


  1. Die appellant het boonop die klaagster in die proses aangerand, onder andere deur haar te wurg, en het ‘n handdoek of stuk materiaal in haar mond gedruk om haar gille stil te kry.


  1. Selfs die tussenkoms van die appellant se vriend, mnr Dawid Goeieman, het hom nie oorreed om op te hou met sy aanval en om af te sien daarvan om die klaagster te verkrag nie. Inteendeel, toe mnr Goeieman die appellant aangespreek het oor wat hy besig was om te doen, het hy gedreig om hom aan te rand.


  1. Daar is wel ook faktore wat as versagtend aangemerk kan word. Die appellant het op 32-jarige ouderdom nog slegs een vorige veroordeling gehad, wat hoegenaamd nie verbandhoudend was nie en wat ook al reeds ongeveer 7 jaar oud was.


  1. Die appellant het, alhoewel hy slegs tot in standerd 3 op skool gevorder het, klaarblyklik ‘n bestendige werk as bouer gehad en het met sy inkomste ‘n bydrae gelewer tot die huishouding. Hy is ongetroud en het geen kinders nie.


  1. Die appellant het verder byna 10 maande verhoorafwagtend inhegtenis verkeer voordat hy gevonnis is.


  1. Laastens kan daar in ag geneem word dat die klaagster nie enige ernstige fisiese beserings opgedoen het nie. In die lig daarvan dat die bepalings van artikel 51(3)(aA)(ii) van die voormelde Wet eers op 31 Desember 2007, en dus ruim ná die pleging van die onderhawige misdaad en vonnisoplegging, in werking getree het, is dit nie nodig om te oorweeg of daardie bepalings sou verhoed het dat die afwesigheid van ook ernstige beserings versagtend in aanmerking geneem word nie.


  1. Ek is egter van oordeel dat, alles inaggenome, enige versagtende faktore wat daar mag wees tot sodanige mate deur die verswarende faktore geneutraliseer, of selfs oorskadu, word, dat daar nie in hierdie geval, as ‘n geheel beskou (sien S v Malgas 2001 (1) SACR 469 (SCA) op 482c-d), wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat ‘n afwyking van die voorgeskrewe minimum vonnis van 10 jaar gevangenisstraf sou regverdig nie. Anders gestel, ek meen dat ‘n vonnis van 10 jaar gevangenisstraf onder hierdie omstandighede hoegenaamd nie as onbillik aangemerk sou kon word nie.


  1. Ek meen egter nie dat ‘n vonnis van meer as 10 jaar gevangenisstraf in die omstandighede nodig of geroepe is nie, en 15 jaar gevangenisstraf sal na my oordeel buite verhouding swaar en onbillik teenoor die appellant wees.


  1. In die omstandighede word die volgende bevel dus hierin gemaak:


Die vonnis van 15 jaar gevangenisstraf word tersyde gestel en vervang met een van 10 jaar gevangenisstraf, welke gevangenisstraf teruggedateer word na 16 September 2003.





________________________

C J OLIVIER

REGTER

NOORD-KAAPSE AFDELING



Ek stem saam:




________________________

E J S STEYN

WAARNEMENDE REGTER

NOORD-KAAPSE AFDELING



Nms Appellant: Adv P J Cloete

Namens: Regshulpsentrum, KIMBERLEY


Nms Respondent: Adv Q H Hollander

Namens: Direkteur van Openbare Vervolgings, KIMBERLEY