South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley >> 2008 >> [2008] ZANCHC 68

| Noteup | LawCite

S v Kampi (53/2003) [2008] ZANCHC 68 (7 November 2008)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

Rapporteerbaar: Ja / Nee

Sirkuleer onder Regters: Ja / Nee

Sirkuleer onder Landdroste: Ja / Nee

Sirkuleer onder Streeklanddroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)


Saak No: 53/2003

Saak Aangehoor: 27/10/2008

Datum gelewer: 07/11/2008

In die saak tussen:



JAN KOLISIWE KAMPI Appellant


en


DIE STAAT Respondent


Coram: Bosielo WnRP et Olivier R et Steyn WnR


UITSPRAAK


Olivier R:


  1. Die appellant het in die Karoo Rondgaande Plaaslike Afdeling voor Lacock R tereggestaan op ‘n aanklag van moord, ten aansien waarvan die voorgeskrewe vonnis ingevolge die bepalings van artikel 51(2)(a)(i) (gelees met Deel II van Bylae 2) van die Strafregwysigingswet, 105 van 1997, gevangenisstraf vir ‘n tydperk van minstens 15 jaar was.


  1. Die appellant het op die aanklag skuldig gepleit en is op die basis van sy pleitverduideliking, die inhoud waarvan uiteraard deur die advokaat vir die vervolging aanvaar is, skuldig bevind. Hy is gevonnis tot 18 jaar gevangenisstraf.


  1. Die appellant kom nou met verlof van die Hof a quo in hoër beroep teen sy vonnis.


  1. Die submissies namens die appellant is basies:


    1. dat die erns van die misdryf en die belange van die gemeenskap ten koste van die appellant se persoonlike omstandighede oorbeklemtoon is;


    1. dat verkeerdelik bevind is dat die appellant in weerwraak opgetree het;


    1. dat die verhoorhof wesenlike en dwingende omstandighede moes bevind het wat ‘n mindere vonnis as die voorgeskrewe minimum sou regverdig; en


    1. dat die vonnis skokkend onvanpas is.


  1. Wat die kwessie van weerwraak betref, is namens die appellant aan die hand gedoen dat die appellant “betrek” is by ‘n argument wat plaasgevind het tussen die oorledene en die appellant se broer en dat die appellant toe in woede die oorledene aangeval het.


  1. Kyk ‘n mens egter na die appellant se pleitverduideliking, blyk die posisie glad nie so eenvoudig te wees nie. Daarin het hy, ondermeer, die volgende verklaar:


Ek was later baie kwaad en ek het weer onthou van die meswond wat die oorledene my die vorige jaar toegedoen het.


Ek het besluit, in my woede, dat ek die oorledene ook wou seermaak soos hy my seergemaak het. Ek het ‘n mes uitgehaal en die oorlede verskeie wonde toegedien, ...” .


  1. Hieruit blyk dit baie duidelik dat, alhoewel die appellant tot ‘n mate geprovokeer mag gewees het deur die argument waarby hy betrokke geraak het, hy inderdaad op sy eie weergawe berekend opgetree het in sy “besluit”, en dat daardie besluit geneem is as gevolg van die feit dat die oorledene hom by ‘n vorige geleentheid beseer het.


  1. Bloot hierdie feit alleen bring al na my oordeel mee dat die betrokke misdaad uiters ernstig van aard was. Die appellant was ook nie tevrede om die oorledene net een meswond toe te dien nie. Hy het hom inderdaad drie meswonde toegedien, een waarvan die borskas binnegedring het en die fatale wond was. Ek stem saam met die opmerking van Lacock R dat die appellant waarskynlik gelukkig was om weg te kom met ‘n bevinding dat die aanval geloods is met dolus eventualis en nie met direkte opset om te dood nie. Dit blyk uit die lykskouingsverslag dat een van die wonde in die oorledene se gesig was en dat die fatale wond in die middel aan die voorkant van die borskas geleë is. Dit is inderdaad moeilik om te aanvaar dat die appellant onder hierdie omstandighede nie kon bedoel het om die oorlede te dood nie.


  1. Dit is verder sonder twyfel verswarend dat die appellant dit goedgedink het om dié meedoënlose aanval op die oorledene te loods in die teenwoordigheid van die oorledene se vierjarige seuntjie. Dit het uit die getuienis van die moeder van die kind geblyk dat die gebeure inderdaad die kind psigies nadelig beïnvloed het.


  1. Verder verswarend is die feit dat, toe die oorledene se saamleefmaat (met wie hy vir nege jaar in ‘n vaste verhouding was) moes aanskou hoe die oorledene bebloed in haar rigting aankom, met die jong seuntjie agterna, die appellant toe nog boonop klippe opgetel het om haar mee te gooi.


  1. Ek meen verder dat die appellant ietwat gelukkig was dat daar in sy guns bevind is dat hy berou gehad het oor sy optrede, bloot omdat hy skuldig gepleit het. Dit is opmerklik dat die appellant se pleitverduideliking geen verklaring van berou bevat nie. Dit blyk ook uit die vonnis-uitspraak dat die bevinding van berou gegrond is bloot op die feit dat die appellant skuldig gepleit het, en nie op enige ander manifestasie van sodanige beweerde berou nie. In S v M 2007 (2) SACR 60 (W) is bevind dat die blote feit dat ‘n beskuldigde skuldig gepleit het ‘n “insufficiently demonstrable manifestation of genuine remorse” was en dat dit net soseer bloot ‘n aanduiding mag wees daarvan dat die beskuldigde besef het dat die getuienis teen hom of haar oorweldigend was en dat daar geen sin in sou wees om skuld te ontken nie (sien ondermeer paragraaf [76] van die betrokke verslag, asook S v Martin 1996 (2) SACR 378 (W) op 383 en S v Stanley 1996 (2) SACR 570 (A) op 576-577).


  1. Daar is werklik geen meriete in die submissie wat in die betoogshoofde namens die appellant gemaak is, dat die gedeelte van die vonnis-uitspraak waarin die appellant se persoonlike omstandighede behandel is korter is as die gedeelte van die uitspraak waarin daar gehandel is met die erns van die misdaad en die belange van die gemeenskap, aanduidend sou wees daarvan dat daar nie voldoende oorweging verleen is aan die appellant se persoonlike omstandighede nie.


  1. Na my oordeel is daar geen mistasting begaan by die oorweging van vonnis nie en, alhoewel dit inderdaad ‘n swaar vonnis is, beskou ek dit nie as skokkend onvanpas nie. Daar bestaan volgens my geen basis waarop ingemeng kan word met die wyse waarop die verhoorregter sy diskresie ten aansien van vonnis uitgeoefen het nie.


  1. Bygevolg word die volgende bevel gemaak:


Die appèl misluk en die opgelegde vonnis word bekragtig.



________________________

C J OLIVIER

REGTER

NOORD-KAAPSE AFDELING




Ek stem saam:





_________________________________

L O BOSIELO

WAARNEMENDE REGTER-PRESIDENT

NOORD-KAAPSE AFDELING




Ek stem saam:





________________________

E J S STEYN

WAARNEMENDE REGTER

NOORD-KAAPSE AFDELING




Nms Applikant: Adv D van Tonder

Regshulpraad, KIMBERLEY


Nms Respondente: Adv C G Jansen

Direkteur van Openbare Vervolgings, KIMBERLEY: