South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley >> 2008 >> [2008] ZANCHC 28

| Noteup | LawCite

S v Frey (104/07) [2008] ZANCHC 28 (4 January 2008)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)


Hooggeregshof Hersieningsnr: 104/07

Landdros Saaknr: 693/2007

Datum gelewer: 2008-01-04



In die hersieningsaak van:


DIE STAAT


versus


JAN FREY BESKULDIGDE


Coram: MAJIEDT R


UITSPRAAK OP HERSIENING



MAJIEDT R:

  1. Die beskuldigde was daarvan aangekla dat hy een sjokolade ter waarde van R6,49 gesteel het by Shoprite winkel te Kuruman.

  2. Alhoewel die beskuldigde aanvanklik skuldig gepleit het, was die Landdros nie tevrede dat hy al die wesenlike elemente van die misdryf van diefstal erken het nie, meer bepaald dié van opset, en het die Landdros tereg ‘n pleit van onskuldig ingevolge art 113 van die Strafproseswet, 51 van 1977, (“die Strafproseswet”) genotuleer en is daar die getuienis aangehoor van een getuie, die sekuriteitsbeampte wat op die bepaalde dag die pleging van die misdryf waargeneem het. Hierdie getuienis is glad nie in geskil geplaas nie en is die beskuldigde dan ook tereg skuldig bevind aan diefstal van ‘n sjokolade. Alhoewel die klagstaat vermeld dat die waarde daarvan R6,49 is, het die sekuriteitsbeampte getuig dat die waarde daarvan inderdaad R6,99 is. Hierdie geringe teenstrydigheid is van minder belang hierin; feit van die saak is dat die beskuldigde skuldig bevind is aan diefstal van ‘n sjokolade met ‘n baie lae waarde.

  3. Die Landdros het die beskuldigde gevonnis tot 12 maande gevangenisstraf en het hom ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit. My kollega, Williams R, het die onmiddellike vrylating van die beskuldigde gelas (tensy hy vir ander sake aangehou is of vonnis uitdien op ander sake) en het ook ‘n navraag op hiersiening aan die Landdros as volg gerig:

Die beskuldigde het slegs een vorige veroordeling vir ‘n oneerlikheidsmisdryf – diefstal, gepleeg 14 jaar gelede. Vir die laaste 8 jaar loop hy ‘n skoon paadjie. Is dit werklik in die omstandighede gepas om hom te vonnis tot 12 maande gevangenisstraf vir die diefstal van sjokolade ter waarde van R6,49 terwyl hy onder die invloed van drank was? Sien S v N 2007(2) SACR 298 (ECD). Ek het intussen gereël vir die onmiddellike vrylating van die beskuldigde.”

  1. Die beskuldigde is dan ook vrygelaat, ‘n bietjie meer as ‘n maand nadat hy die voormelde vonnis opgelê is deur die voorsittende Landdros.

  2. Die beskuldigde was 37 jaar oud tydens vonnisoplegging en was werkloos, alhoewel hy los werkies verrig het waaruit hy ‘n karige inkomste kon verdien. Hy is ongetroud en het geen kinders nie. Hy het slegs standerd 4 op skool behaal. Wat sy vorige veroordelings betref, het die beskuldigde slegs een tersaaklike vorige veroordeling vir ‘n oneerlikheidsmisdryf, te wete diefstal waarvoor hy op 5 Mei 1993 gevonnis is tot 30 maande gevangenisstraf waarvan 12 maande opgeskort is vir 5 jaar op bepaalde voorwaardes. Die beskuldigde se laaste vorige veroordeling was op 5 November 1999 vir die besit van dagga gepleeg op 27 Julie 1999 en daarvoor is hy gevonnis tot R1000.00 of 30 dae gevangenisstraf.

  3. Soos Williams R se navraag, hierbo aangehaal, tereg aandui, is die beskuldigde se laaste tersaaklike vorige veroordeling vir diefstal 14 jaar gelede gepleeg. Hy het ook, soos sy tereg aangedui het, vir die laaste 8 jaar ‘n skoon paadjie geloop. Ek kan nie anders as om hierdie vonnis as skokkend onvanpas en as ‘n skreiende onreg teenoor die beskuldigde aan te merk nie. Daar is geen manier hoe ‘n vonnis van 12 maande gevangenisstraf geregverdig kan word in die omstandighede van hierdie saak waar dit gaan oor diefstal van sjokolade ter waarde van R6,49 (of R6,99) nie.

  4. In die saak van S v N 2007(2) SACR 298 (E), waarna Williams R verwys het in die voormelde hersieningsnavraag, is ‘n 15-jarige seun skuldig bevind aan diefstal van ‘n brood ter waarde van R3,25 en gevonnis tot 8 maande gevangenisstraf. Op outomatiese hersiening ingevolge art 304(2)(a) van die Strafproseswet, het die Regters (Plasket R en Dambuza R) voortgegaan om die aangeleentheid af te handel sonder om eers die Landdros se redes te bekom, aangesien hulle van mening was dat die vonnis duidelik nie ooreenkomstig die Reg was nie en dat enige vertraging die beskuldigde sou benadeel. Hierdie is ‘n aanduiding daarvan dat die geleerde Regters, heeltemal tereg met respek, die houding ingeneem het dat die vonnis geheel en al onvanpas is. In daardie saak het Plasket R, wat die uitspraak geskryf het, verwys na S v Baartman 1997(1) SACR 304 (E) te 305 g-h waar Jones R die benadering tot vonnis in gevalle van diefstal van items van lae waarde as volg uiteengesit:

It all comes down to the basic principle that the punishment should fit the crime. Where the crime is petty theft, and the offender's previous record makes imprisonment rather than some alternative form of punishment imperative, the period must still be in proportion to the petty nature of the crime. There is a limit beyond which a sentence is no longer a proportionate or reasonable sentence. The upper limit is probably somewhere between four months' and six months' imprisonment. Anything above that should usually be reserved for offences which are not petty. In my view a sentence of nine months' imprisonment is a substantial sentence. In rare and exceptional circumstances it might be appropriate for a petty offence. This case is neither rare nor exceptional.”

  1. Die benadering gevolg deur Jones R in die Baartman saak supra en deur Plasket R in die saak van S v N supra, geld eweneens in die onderhawige geval. Ek het die indruk gekry dat die Landdros erg geïrriteerd was deur die beskuldigde se duidelike gebrek aan berou deurdat die beskuldigde tydens die verhoorverrigtinge en veral tydens vonnisoplegging gedurigdeur gelag het. Die Landdros meld dan ook hierdie aspek in sy redes vir vonnis in antwoord op Williams R se navraag. Hierdie geïrriteerdheid het gelei tot ‘n ongebalanseerde oorweging van vonnis wat vergestalt is in die skokkende vonnis van 12 maande direkte gevangenisstraf. Die Landdros het weliswaar tydens sy vonnisuitspraak verwys daarna dat die sjokolade ‘n geringe waarde het, ook na die feit dat die beskuldigde aanvanklik skuldig wou pleit, maar nie die opsetsvereiste erken het nie en verder ook na die feit dat die beskuldigde eintlik maar behandel kon word as ‘n eerste oortreder vir ‘n oneerlikheidsmisdryf, gegewe die feit dat die vorige oneerlikheidsmisdryf meer as 10 jaar gelede gepleeg is. Desnieteenstaande het die Landdros bloot lippediens bewys aan hierdie voormelde faktore, na my mening.

  2. Ek is dit heeltemal eens met Williams R wat die beskuldigde se vrylating soos voormeld gelas het. In hierdie saak meen ek dat ‘n gepaste vonnis een sal wees wat bloot voorsiening maak vir die tydperk wat die beskuldigde alreedes in die gevangenis deurgebring het alvorens hy vrygelaat is.

  3. Bygevolg word die beskuldigde se skuldigbevinding bekragtig, maar die opgelegde vonnis word tersyde gestel en vervang met die volgende:

Die beskuldigde word gevonnis tot een maand en twee weke gevangenisstraf, teruggedateer tot 18 September 2007.



_____________

SA MAJIEDT

REGTER