South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley >> 2008 >> [2008] ZANCHC 24

| Noteup | LawCite

Coetzee v Malan, Coetzee v Padongelukkefonds (394/04, 99/06) [2008] ZANCHC 24 (23 May 2008)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)



Saaknommers: 394/04 en 99/06

Datum Verhoor: 19 en 20 Mei 2008

Datum Gelewer: 2008-05-23


In die saak van: SAAKNOMMER 394/04


PETRUS JACOBUS COETZEE EISER

(namens PR HAYWARD)


versus



JOHAN WILHELM MALAN VERWEERDER


en SAAKNOMMER 99/06


PETRUS JACOBUS COETZEE EISER

(namens PR HAYWARD)


versus



DIE PADONGELUKKEFONDS VERWEERDER


Coram: LACOCK R


UITSPRAAK


LACOCK R:

  1. Die eiser in hierdie gekonsolideerde aksies is Petrus Jacobus Coetzee, ‘n advokaat van die Pretoria Balie in sy hoedanigheid as behoorlik aangestelde kurator ad litem van Paulus Rossouw Hayward (die beseerde). Die verweerder in saaknommer 394/04 is Mnr. Johan Wilhelm Malan (Malan), ‘n meerderjarige man werksaam te Kumba Resources, Kathu. Die verweerder in saaknommer 99/06 is die Padongelukkefonds, ‘n regspersoon soos bedoel in artikel 2(1) van die Padongelukkefonds Wet, Wet 56 van 1996.

    1. In die eerste aksie het die eiser skadevergoeding gevorder van Malan na aanleiding van beserings wat die beseerde opgedoen het in ‘n motorbotsing tussen ‘n Opel Astra voertuig bestuur deur Malan en waarin hy (die beseerde) ‘n passassier was, en ‘n dubbelsleepwa vragmotor bestuur deur ene Mnr. Dreyer (Dreyer).

Na aanleiding van die bewering van Malan in sy verweerskrif naamlik dat die tersaaklike botsing veroorsaak is deur die nalatigheid van Dreyer, die bestuurder van die vragmotor, het die eiser daarna onder saaknommer 99/06 aksie ingestel teen die verweerder in daardie saak.

Hierna en by ooreenkoms tussen die partye is aansoek gedoen en is gelas dat die aksies gekonsolideer word. Dit is gedoen omdat beide aksies gegrond was op dieselfde beweerde skuldoorsaak en omdat die omvang van die beweerde skade in beide aksies dieselfde beloop.

  1. Met die aanvang van die verhoor is ek deur die advokate vir die onderskeie partye versoek om ‘n skeiding van die geskilpunte te gelas en verder te gelas dat die verhoor op hierdie stadium slegs voortgesit word ten einde die geskilpunt aangaande aanspreeklikheid (die meriete) alleen te beslis. Ek het aan hierdie versoek voldoen. Wat vervolgens hierin beregting verg, is naamlik of die tersaaklike botsing veroorsaak is deur die nalatigheid van óf Malan óf Dreyer, en of dit veroorsaak is deur die gesamentlike nalatigheid van beide die gemelde bestuurders, en, indien wel, tot watter mate het die nalatigheid van elke sodanige bestuurder aanleiding gegee tot die botsing en die daaruitvoortspruitende skade wat die eiser mag bewys hy gely het.

  2. Vir doeleindes van sy vordering teen Malan steun die Eiser daarop dat Malan sy voertuig nalatiglik bestuur het in een of meer van die volgende opsigte:

    1. Dat hy oor beweeg het na die verkeerde kant van die pad op ‘n stadium toe dit gevaarlik en/of ongeleë was om so te doen;

    2. Deurdat hy versuim het om ‘n ongeluk met die trok te vermy toe hy dit kon en moes gedoen het deur die uitoefening van redelike sorg;

    3. Deurdat hy versuim het om ‘n behoorlike uitkyk te hou;

    4. Deurdat hy te vinnig gery het die heersende verkeersomstandighede inaggenome; en

    5. Deurdat hy versuim het om die regte van ander padgebruikers, meer spesifiek dié van die aankomende trok en van die beseerde as passassier, in ag te neem, alternatiewelik behoorlik in ag te neem.

In sy vordering teen die Padongelukkefonds steun die Eiser daarop dat beide die bestuurders van die voertuie nalatig was daarin dat hulle,

a) Versuim het om ‘n botsing te vermy in omstandighede waar hulle met die uitoefening van redelike sorg, vaardigheid en behendigheid dit kon en moes gedoen het;

b) Te vinnig gery het in die heersende padomstandighede;

c) Beide oor die middel van die pad beweeg het toe dit gevaarlik en/of ongeleë was om dit te doen;

d) Beide die draai in die pad “gesny” het, terwyl dit gevaarlik en ongeleë was om dit te doen;

e) Versuim het om ‘n behoorlike uitkyk te hou; en

f) Versuim het om die eerste en tweede versekerde voertuie behoorlik onder beheer te hou.

  1. Namens die eiser het slegs Dreyer, wat die bestuurder van die vragmotor ten tye van die botsing was, getuig. Sy getuienis kan kortliks as volg saamgevat word:

    1. Tussen 08h00 en 09h00 op 10 Mei 2001 het hy vanaf Grootfontein, Namibië, met die vragmotor met registrasie nommer N161M vertrek. Die vragmotor het bestaan uit ‘n meganiese perd en twee leunwaens. Die totale lengte van hierdie vragmotor met leunwaens was 22 meter, 4 meter hoog en ongeveer 2,5 meter breed. Hy was op pad vanaf Grootfontein na die Rand met ‘n vrag beeste.

    2. Nadat hy die aand op Upington arriveer het, het hy vanaf ongeveer 22h00 tot 24h00 vir 2 ure op Upington geslaap en het op 11 Mei 2001 weer vanaf Upington vertrek.

    3. Om ongeveer 03h30 in die vroeë oggendure van 11 Mei 2001, het hy hom op die teerpad tussen Kathu en Kuruman en ongeveer 10 km vanaf Kathu bevind. Die pad waarop hy die vragmotor bestuur het, het ‘n draai na sy regterkant gemaak, en terwyl hy in hierdie draai was, het hy die ligte van ‘n aankomende voertuig vanuit sy teenoorgestelde rigting sien aankom. Terwyl hy nog in hierdie draai was en in sy korrekte (linker) baan bestuur het, het hy gemerk dat die aankomende voertuig in sy verkeerde baan aankom teen ‘n hoë snelheid. Hierop het hy onmiddellik sy voertuig se remme gebruik, sy spoed afgebring en terselfdertyd die aankomende bestuurder met sy hoofligte gewaarsku dat hy in gevaar verkeer. Die aankomende voertuig het, soos Dreyer dit gestel het, aggressief na links, d.w.s. na sy korrekte baan, geswenk en het die aankomende voertuig aan sy (Dreyer) regterkant van die voertuig verby beweeg. Onmiddellik nadat hierdie voertuig by die voorkant van sy vragmotor verby beweeg het, het hy in sy regterspieël opgemerk dat hierdie voertuig die agterste sleepwa tref en het hy vonke aldaar sien spat.

    4. Hy het stadig vorentoe met sy voertuig gery en ‘n plek probeer vind waar hy kon omdraai. Terwyl hy aldus gery het het hy weer ligte in sy linkerspieël waargeneem wat in sy rigting geskyn het. Hy het omgedraai, teruggery na waar die botsing plaasgevind het, sy voertuig aan die linkerkant van die pad en op die skouer daarvan, parkeer en ondersoek ingestel.

    5. Hy het die aankomende voertuig, synde ‘n Opel Astra in die veld waargeneem en kon sien dat dit meerdere kere moes omgeslaan het. Hy het ook een van die passassiers, Mnr. Rooies Muller, aangetref in die veld, sowel as Malan en die beseerde. Laasgenoemde twee persone het duidelik ernstig seergekry.

    6. Hy het die polisie op sy selfoon geskakel en hulle ook versoek om te reël vir ‘n ambulans om die beseerde persone behulpsaam te wees.

    7. Terwyl hy op die toneel beweeg het, het hy gehoor dat Malan vir Muller sê dat laasgenoemde niks moes sê van hoe die ongeluk plaasgevind het nie.

    8. Die polisie en daarna die ambulans het aldaar opgedaag en is die beseerde persone van die toneel verwyder. Hyself het op die toneel vertoef tot ligdag, en was ook teenwoordig terwyl die polisie die nodige ondersoekwerk gedoen het.

    9. Laastens het hy getuig dat hy ‘n skuurmerk op die teerpad opgemerk het en wat hy aanvaar het aldaar gelaat is op die stadium toe die Opel Astra met sy sleepwa gebots het. Hierdie merk het gestrek vanaf ‘n punt ongeveer 70/80 cm vanaf die middellyn van die pad en in sy baan vir ‘n afstand van ongeveer 3-4 meter.

    10. Hy getuig dat sy voertuig nooit sy korrekte kant van die pad verlaat het nie en dat hy op geen stadium voor of tydens hierdie botsing oor die middellyn van die pad bestuur het nie.

  2. In kruisverhoor het hy ontken dat hy enige skuur of remmerke van die Opel Astra voertuig wat deur bande gelaat is, op die teerpad waargeneem het. Hy het ook ontken dat enige gedeelte van óf die meganiese perd óf enige van die sleepwaens ten tye van die botsing aan sy verkeerde kant van die pad was. Voorts het hy getuig dat daar niks was wat hy kon doen om die botsing te vermy nie, behalwe om die aankomende voertuig te waarsku soos wat hy gedoen het en om die spoed van sy vragmotor te verminder nie. Sou hy sy vragmotor na links swenk, sou dit tot gevolg gehad het dat hy die vragmotor met beeste kon omgooi.

  3. Hierna het Malan in sy eie verdediging getuig.

    1. Hy het getuig dat hyself, Muller en die beseerde gedurende die aand van 10 Mei 2001 vanaf Kathu, waar al drie van hulle werksaam en woonagtig was, na Kuruman vertrek het om ‘n vriend van hulle te besoek. Hy was deurentyd die bestuurder van sy Opel Astra voertuig met registrasienommer BFL435NC. Te Kuruman kon hulle nie die vriend opspoor nie, het daarna in die dorp rondgery en uiteindelik beland by ‘n eet- en kuierplek genaamd Pub and Grill. Hier het sy twee passassiers ‘n paar drankies gedrink maar hyself het slegs koeldrank gedrink.

Net na 03h00 is die drie van hulle weer met die Opel Astra terug na Kathu. Terwyl hy aldus bestuur het, het hy die ligte van ‘n groot vragmotor opgemerk wat besig was om deur ‘n draai te beweeg en wat vanaf die rigting van Kathu aangekom het. Hy het op daardie stadium in sy korrekte baan van die pad bestuur teen ‘n spoed van ongeveer 120 km/h.

    1. Hy getuig verder dat hy verby die voorkant van hierdie vragmotor gery het, en onmiddellik daarna skuurgeluide soos dié van metaal wat teen metaal skuur en ook die geskuur van bande gehoor, en daarna het hy eers weer in die veld waar hy gelê het, wakker geword.

    2. Voorts getuig hy dat hy ongeveer twee weke na die botsing saam met sy vader die toneel besoek het, en dat hy toe op die teerpad in die omgewing waar die botsing plaasgevind het, sleepmerke soos dié gelaat deur die bande van ‘n voertuig opgemerk het, en wat begin het in die linkerbaan waarin hy na bewering sy voertuig die betrokke aand bestuur het en vandaar skuins oor die pad beweeg tot waar dit die pad aan sy regterkant verlaat het.

    3. In kruisondervraging het dit duidelik geblyk dat Malan nie veel kan onthou van wat onmiddellik voor die plaasvind van die botsing gebeur het nie. Hy het ook toegegee dat daar niks was wat hom verhinder het om sy voertuig meer na links en selfs op die skouer van die pad te bestuur ten einde ‘n botsing te vermy nie. Hy kon geen rede aanvoer waarom hy nie aldus bestuur het nie. Hy het ook getuig dat hy op geen stadium die remme van sy voertuig aangeslaan het nie. Laastens het hy getuig dat, op die stadium toe hy verby die voorkant van die vragmotor gery het, was die vragmotor aan sy korrekte kant van die pad.

  1. Laastens het getuig Mnr. Johan (alias Rooies) Muller.

    1. Hy het in wese die getuienis van Malan ten aansien van die gebeure voor die plaasvind van die botsing, bevestig.

    2. Hy getuig voorts dat, terwyl hulle oppad terug was die nag na Kathu, het hy self links voor in die Opel Astra gesit, terwyl die beseerde gesit/lê het op die agterste sitplek van hierdie voertuig. Hy was half teruggedraai na die beseerde terwyl die twee van hulle vrolik geskerts het.

    3. Terwyl hy aldus met die beseerde gesels het, het hy uit die hoek van sy oog waargeneem dat hulle by ‘n vragmotor verby beweeg en onmiddellik daarna het hy ‘n slag beleef. Hierna het hy in die veld tot verhaal gekom.

    4. In kruisondervraging het hy getuig dat hy nie meen dat Malan óf besonder vinnig óf besonder stadig bestuur het nie. Hoewel hy getuig het dat Malan op sy korrekte kant van die pad bestuur het, het hy in kruisondervraging toegegee dat hy nie weet aan watter kant van die middellyn van die pad die botsing plaasgevind het nie.

    5. Hy ontken dat Malan aan hom sou gesê het op die toneel dat hy niks moes praat nie.

  2. Dreyer, en wat homself ‘n gesoute drywer noem, het op my ‘n besonder goeie indruk as getuie gelaat. Hy het duidelik ‘n goeie herinnering aan die omstandighede wat geheers het ten tye van hierdie botsing. Ek het die indruk gevorm dat hy die gebeure na die beste van sy vermoë weergegee het, en waar hy onseker was of getwyfel het, het hy onmiddellik toegegee dat hy óf nie kon onthou nie óf onseker was. Hy het my getref as ‘n eerlike persoon en daar is niks onwaarskynlik in sy getuienis nie.

Ek het vervolgens geen huiwering om die getuienis van Dreyer as eerlik en geloofwaardig te aanvaar nie.

  1. Daarenteen het Malan my hoegenaamd nie as getuie beïndruk nie.

    1. Hoewel hy aanvanklik in sy getuienis probeer voorgee het dat hy ‘n goeie herinnering het aan die gebeure onmiddellik voor die plaasvind van die botsing, het dit in kruisverhoor duidelik na vore gekom dat hy geen sodanige gebeure kon onthou nie. Dat hy waarskynlik nie enige onafhanklike geheue het van die gebeure onmiddellik voor die botsing nie, of dat hy bewustelik voorgee dat hy nie sodanige geheue het nie, word gestaaf uit ‘n verklaring wat hy kort na die voorval aan die polisie gedoen het. In hierdie verklaring het hy die volgende gesê:

Op 2001-05-11 om ongeveer 03.20 was ons onderweg vanaf Kuruman terug na Kathu toe. Ek onthou dat ons die “Ou Pos” naambordjie verbygegaan het en dat ek ‘n voertuig van voor af sien aankom het. Ek het die aankomende voertuig se ligte gesien. Al wat ek verder kan onthou is dat ek buite die voertuig wakker geword het. Dit is al wat ek het om te verklaar.”

    1. Ook in ‘n verklaring aan sy eie versekeraars afgelê op 18 Mei 2001 het hy die volgende verklaar ten aansien van die beskrywing van die ongeluk:

Het die pad verlaat aan die regterkant op die lang draai tussen Kathu en Kuruman. Weet nie eindelik (sic) wat presies gebeur het nie.”

    1. Wat ook ‘n vraagteken plaas oor die geloofwaardigheid van Malan is die feit dat hy in die laasvermelde eisvorm gerig aan sy versekeraars, verswyg het dat daar ‘n ander voertuig in die botsing betrokke was. Dit blyk uit hierdie verklaring dat hy teenoor sy versekeraars tekenne gegee het dat daar nie ‘n botsing plaasgevind het nie, maar dat hy bloot op die draai die pad aan die verkeerde kant verlaat het.

  1. Die getuienis van Mnr. Muller neem die saak nie na die een of die ander kant nie. Duidelik was Mnr. Muller ook nie in staat om ‘n verduideliking te verskaf van hoe en waar op die pad die botsing plaasgevind het nie.

  2. Mnr. Van Niekerk, namens Malan, het toegegee dat daar nie anders bevind kan word as dat Malan nalatig was nie en dat sy nalatigheid bygedra het tot die plaasvind van die botsing nie. Hy het egter betoog dat Dreyer ook nalatig was en dat ook sy nalatigheid bygedra het tot die botsing. Hy grond hierdie argument daarop dat dit onwaarskynlik is dat Dreyer nie, nadat hy die voertuig van Malan reg voor hom opgemerk het, sy vragmotor na links sou swenk nie. Indien dit sou gebeur, aldus Mnr. Van Niekerk, sou dit tot gevolg gehad het dat die sleepwa waarteen Malan gebots het, vir ‘n wyle na regs sou swenk, en dat Malan waarskynlik op daardie moment teen die sleepwa se sykant gebots het.

Hierdie argument kom my totaal onlogies voor en daar is in elk geval geen sweempie van getuienis dat Dreyer sy vragmotor na links probeer swenk het nie. Inteendeel, het Dreyer getuig dat, indien hy dit sou doen, dit katastrofiese gevolge kon inhou. Dit was ook nie vir hom nodig om aldus na links te swenk nie omdat hy gesien het dat die aankomende voertuig weer uit sy baan terug swenk na sy korrekte baan en het dit inderdaad by die voorkant van sy voertuig verby beweeg.

  1. Op waarskynlikhede is ek tevrede dat daar geen nalatigheid bevind kan word aan die kant van Dreyer nie. Na my oordeel het hy alles in sy vermoë gedoen wat hy in die omstandighede redelikerwys kon doen om hierdie botsing te vermy. Op die waarskynlikhede het hierdie botsing plaasgevind as gevolg van die uitsluitlike nalatigheid van Malan. Hy het sy voertuig op die stadium toe hy die tersaaklike draai binnegegaan het, op sy verkeerde kant van die pad bestuur en moes drasties na sy korrekte kant van die pad swenk om ‘n kop-aan-kop botsing met die vragmotor te vermy. Dit is waarskynlik dat, nadat hy na links geswenk het, hy sodanig beheer oor sy voertuig verloor het dat hy daarna teen die kant van die agterste sleepwa van die vragmotor gebots het.

In iedere geval, en selfs al sou bevind kon word dat Malan nie vanaf sy verkeerde kant van die pad oorgeswenk het na sy korrekte kant daarvan nie, is dit steeds onverklaarbaar waarom hy nie sy voertuig meer na links bestuur het om hierdie botsing te vermy nie. In die lig daarvan dat hierdie botsing plaasgevind het aan sy verkeerde kant van die pad, te wete in die omgewing waar Dreyer die sleepmerk op die pad opgemerk het, kan alleen een afleiding gemaak word, en dit is dat Malan sy voertuig oor die middellyn van die pad bestuur het wat veroorsaak het dat hy teen die sleepwa gebots het.

Dit is ook onverklaarbaar waarom Malan geensins die remme van sy voertuig aangeslaan het toe hy moes besef het dat hier ‘n botsing kon plaasvind nie. Ook in daardie opsig was hy ooglopend nalatig.

Die sleepmerke waarna Malan en Mnr. Muller in hul getuienis verwys het, neem die saak myns insiens ook nie verder nie, en verander ook nie aan die waarskynlikhede soos hierbo bevind nie. Eerstens is daar geen getuienis dat hierdie sleepmerke inderdaad deur die voertuig van Malan veroorsaak is nie. Tweedens ontstaan die vraag waarom, indien die sleepmerke begin het waar hierdie getuies beweer dit begin het, die polisiebeampte wat die toneel na die botsing bygewoon het en ‘n sketsplan van die toneel voorberei het, nie hierdie sleepmerke opgemerk en op die plan aangeteken het nie. Die sleepmerke wat wel deur die polisiebeampte op sy plan aangebring is, begin eers in die baan van die vragmotor en strek van daar tot waar die Opel Astra die teeroppervlak van die pad verlaat het.

  1. Uit hoofde van die voorgaande is ek tevrede dat die Eiser daarin geslaag het om te bewys dat die tersaaklike botsing veroorsaak was deur die uitsluitlike nalatigheid van Malan.

Wat koste aanbetref het Mnr. Ras, namens die Eiser, my versoek om, indien ek tot die voormelde bevinding sou kom, Malan te gelas om die koste van die Eiser sowel as dié van die Fonds in die tweede saak te betaal. In hierdie verband het hy gesteun op die uitspraak in Baptista v Stadsraad van Welkom, 1996(3) SA 509 (OPA). Mnr. Botha namens die Padongelukkefonds het hierdie versoek gesteun, en Mnr. Van Niekerk het nie ernstig tot die teendeel betoog nie. Ek meen dat die versoek van Mnre Ras en Botha gegrond is.

Mnr. Botha het ook versoek dat ek sal gelas dat die kwalifiserende koste van die deskundige, Mnr. Grobbelaar, ook takseerbaar en betaalbaar is. Ook hierteen het Mnr. Van Niekerk nie met veel erns beswaar gemaak nie, en meen ek dat die betrokke verweerder ook op die verhaal van hierdie koste geregtig is.

  1. Bygevolg word die volgende bevele hierin verleen:

    1. Die Eiser se eis in saaknommer 99/06 word van die hand gewys met koste; welke koste sal insluit die kwalifiserende koste van die deskundige, Mnr. Grobbelaar.

    2. In saaknommer 394/04 word die volgende gelas:

      1. Die Verweerder (JW Malan) is aanspreeklik teenoor die Eiser vir enige skade wat die Eiser mag bewys hy gely het uit hoofde van die skuldoorsaak soos in die Besonderhede van Vordering uiteengesit.

      2. Die Verweerder word gelas om die Eiser se koste te betaal.







____________

HJ LACOCK

REGTER



IN SAAKNOMMER 394/04


NAMENS EISER : ADV FA RAS

IN OPDRAG VAN : VAN DE WALL EN VENNOTE


NAMENS VERWEERDER : ADV JG VAN NIEKERK SC

IN OPDRAG VAN : DUNCAN & ROTHMAN


IN SAAKNOMMER 96/06


NAMENS EISER : ADV FA RAS

IN OPDRAG VAN : VAN DE WALL EN VENNOTE


NAMENS VERWEERDER : ADV CH BOTHA

IN OPDRAG VAN : DUNCAN & ROTHMAN