South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley >> 2008 >> [2008] ZANCHC 15

| Noteup | LawCite

Oosthuizen v Grobbelaar (544/2000) [2008] ZANCHC 15 (22 February 2008)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

Rapporteerbaar: Ja / Nee

Sirkuleer onder Regters: Ja / Nee

Sirkuleer onder Landdroste: Ja / Nee

Sirkuleer onder Streeklanddroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)


Saak No: 544/2000

Saak Aangehoor: 18/02/2008

Datum gelewer: 22/02/2008

In die saak tussen:



    1. CECELIA JOHANNA OOSTHUIZEN APPELLANT


en


    1. JACOBUS DAWID GROBBELAAR RESPONDENT

    2. Coram: Majiedt R et Olivier R et Mokgohloa WnR


UITSPRAAK OP APPèL


Olivier R:


  1. Die appellant was die eerste verweerder in ʼn aksie waarin, onder andere, die respondent ʼn bedrag van haar gevorder het op grond van ongeregverdigde verryking. Die appellant se spesiale pleit dat hierdie eis verjaar het, het misluk en die appellant kom nou met verlof van die Hof a quo in hoër beroep teen daardie bevel, asook die gepaardgaande kostebevel.


  1. In wese gaan dit hier daaroor dat die respondent vorderingsregte, wat hy teen die versekeraar Sanlam gehad het uit hoofde van bepaalde polisse, aan die appellant se eggenoot (“die oorledene”) gesedeer het uit hoofde van ʼn koopkontrak ingevolge waarvan die oorledene onroerende eiendom aan die respondent verkoop het. Die sessies het geskied deur middel van drie skriftelike sessie-ooreenkomste of -ondernemings.


  1. Dit was gemenesaak dat die koopkontrak ab initio nietig was weens nie-nakoming van ʼn bepaalde statutêre vereiste (daar is wel op ‘n later stadium kennis gegee van die “kansellasie” van die koopkontrak, maar in die lig van wat volg, is dit nie nou tersaaklik nie). By afsterwe van die oorledene is die polisse (of dan die vorderingsregte daarin) oorgedra aan die appellant as enigste erfgenaam.


  1. Die afkoopwaarde van die polisse is toe aan die appellant uitbetaal en dit is die bedrag wat die respondent van die appellant geëis het op die basis dat sy ongeregverdigd daarin verryk is ten koste van die respondent. Die respondent se saak was dat, in die lig van die nietigheid van die koopkontrak, die oorledene nie geregtig was op die sessie van die vorderingsregte nie.


  1. Die feitelike agtergrond tot die voorgaande was tot ʼn groot mate gemenesaak en het ondermeer geblyk uit ʼn gestelde saak wat voor die Hof a quo geplaas is. ʼn Volledige en kronologiese uiteensetting daarvan kom voor in die uitspraak van die verhoorhof.


  1. Waaroor die partye egter nie gemenesaak was nie, en ten aansien waarvan by ooreenkoms getuienis van die omringende omstandighede aangebied is, was die vraag of die bedoeling van die partye met die sessies was dat hulle in securitatem debiti sou geskied en of dit sogenaamde uit-en-uit sessies was.


  1. Die appellant het aansoek gedoen om kondonasie van verskeie prosedurele versuime rondom die appél. Mnr Danzfuss SC, wat namens die respondent verskyn het, het aangedui dat die aansoek nie teengestaan word nie en, ook in die lig daarvan dat die versuime nie dié van die appellant persoonlik was nie en onder meer veroorsaak is deur misverstande, en verder ook in die lig van wat volg, meen ek dat die aansoek om kondonasie moet slaag.


  1. Die regsposisie is baie duidelik dat ʼn sessie in securitatem debiti normaalweg nie die sedent ontdaan van die eienaarskap en die dominium in so ʼn gesedeerde vorderingsreg nie en dat, uit hoofde van sodanige dominium, die sedent ‘n “reversionary right” ten aansien van so ʼn vorderingsreg behou, dit wil sê die reg op die vorderingsreg sodra die skuld van die sedent teenoor die sessionaris gedelg is (sien Bank of Lisbon and South Africa Ltd v The Master and Others 1987 (1) SA 276 (AD) op 294, Incledon (Welkom) (Pty) Ltd v Qwaqwa DC Ltd [1990] ZASCA 85; 1990 (4) SA 798 (AD) op 804 en Louw v WP Koöperatief en Andere [1994] ZASCA 54; 1994 (3) SA 434 (AA) op 443).


  1. Alhoewel hierdie benadering al gekritiseer is, bly dit steeds die tans geldende regsposisie in hierdie verband (sien Leyds NO v Noord-Westelike Koöperatiewe Landboumaatskappy Bpk en Andere 1985 (2) SA 769 (A) op 780B-G en Marais en Andere NNO v Ruskin NO 1985 (4) SA 659 (A) op 669H-670B).


  1. Die verhoorhof het bevind dat die partye se bedoeling was dat die sessies bloot in securitatem debiti geskied het en dat die bedoeling nooit was om ook die eiendomsreg aan die oorledene oor te dra nie. Dit is geykte reg dat nie op appèl ligtelik ingemeng sal word met ʼn verhoorhof se feitebevindinge nie. Dit sal slegs geskied as die Hof van appèl oortuig is dat sò ʼn bevinding verkeerd was (sien Harlech-Jones Treasure Architects CC v University of Fort Hare 2002 (5) SA 32 (EDC) op 63E-G).


  1. Ek is hoegenaamd nie oortuig dat die Hof a quo se bevindinge in hierdie verband verkeerd was nie. Dit is so dat die sessie-dokumente die sessies beskryf het as “UIT EN UIT SESSIE VIR WAARDE ONTVANG”. Hierdie woorde het egter nie in die drie dokumente voorgekom toe die respondent dit onderteken het nie. Dit is later daarin aangebring op aandrang van die oorledene se regsverteenwoordiger.


  1. Die argument dat dit later ingeskryf is deur die respondent se makelaar en dat die respondent daarom daaraan gebonde is, neem nie die saak veel verder nie. Dit werp geen lig op wat die respondent se eie bedoeling was ten aansien van die vraag of die sessies in securitatem debiti moes wees aldan nie. Dit was nie in opdrag of op versoek van die respondent wat die makelaar die dokumente later so voltooi het nie. Dit is gedoen op aandrang van die oorledene se regsverteenwoordiger.


  1. Alhoewel sekere bepalings van die koopkontrak aanduidend was van ʼn bedoeling dat die sessies “uit-en-uit ... vir waarde ontvang” sou wees (en selfs uitdruklik so gelui het) het klousule 23 daarvan ewe uitdruklik gelui dat die sessie sou geskied “as sekuriteit vir die uitstaande balans verskuldig ten opsigte van die koopsom”.


  1. Die koopkontrak was dus na my oordeel dubbelsinnig en vatbaar vir meer as een vertolking en dit was op alle aanduidings juis om daardie rede wat die partye by die verhoor ooreengekom het dat getuienis oor die omringende omstandighede wel aangebied kon word (sien Coopers en Lybrand v Bryant [1995] ZASCA 64; 1995 (3) SA 761 (A) op 768A-E en Engelbrecht and Another NNO v Senwes Ltd 2007 (3) SA 29 (SCA), para [7]).


  1. By beoordeling van die aard van ʼn sessie is dit van belang om in gedagte te hou dat dit ʼn ooreenkoms is (en nie ʼn eensydige handeling nie) en dus is die bedoeling van die partye tot die sessie van deurslaggewende belang, eerder as die presiese bewoording of vorm daarvan (sien Louw v WP Koöperatief en Andere, supra, op 443A). Selfs al sou ʼn sessie absoluut of uit-en-uit in voorkoms wees, “that does not suffice to take the dominium out of the cedent ‘if it was clear that the parties did not intend it to pass’” (sien Bank of Lisbon and South Africa Ltd v The Master and Others, supra, op 294D).


  1. Die getuienis van die omringende omstandighede, en meer spesifiek dan dié van die respondent en van die appellant se eie prokureur, en korrespondensie wat gewissel is, dui na my oordeel oorweldigend op ʼn bedoeling dat die sessies in securitatem debiti sou wees en, van meer belang en hoe ookal daarna verwys mag gewees het in die sessie-dokumente en in die koopkontrak, dat die bedoeling was dat die respondent dominium sou behou.


  1. Inteendeel, dit is meermale deur juis die appellant se prokureur in korrespondensie duidelik en uitdruklik gestel dat die skuld “verseker” word deur die sessies en dat die gesedeerde vorderingsregte “as sekuriteit” gehou sou word. Hierdie voorwaarde en basis is destyds so aanvaar deur die respondent, wat dan ook in lyn is met sy getuienis dat hy te alle tye die sessies bedoel en beskou het as in securitatem debiti.


  1. Ander duidelike aanduidings dat die bedoeling nooit was dat die respondent sy dominium in die polisse sou verloor nie, is die feit dat ooreengekom is dat die oorledene nie die vorderingsregte verder sou kon sedeer nie en dat enige bedrag wat die polisse meer sou oplewer as die koopsom, die respondent sou toekom (sien National Bank of South Africa Ltd v Cohen’s Trustee 1911 AA 235 op 250).


  1. Selfs al sou daar ook geargumenteer kon word dat daar op die getuienis steeds twyfel hieroor bestaan het, moet dit in gedagte gehou word dat die bewyslas op die appellant was om te bewys, op ʼn oorwig van waarskynlikhede, dat die gemeenskaplike bedoeling met die sessies nie was dat dit in securitatem debiti sou geskied nie en dat die dominium in die polisse en vorderingsregte nie in die respondent sou bly nie (sien Gericke v Sack 1978 (1) SA 821 (A) en ABSA Bank Ltd v Erasmus 2007 (2) SA 545 (C) op 547F), en hierin het die appellant beslis nie geslaag nie.


  1. Mnr De la Harpe het namens die appellant geargumenteer dat ‘n sessie kan geskied met die gelyktydige bedoeling dat dit uit-en-uit vir waarde (of dan absoluut) moet wees en dat dit moet dien ter versekering van skuld.


  1. Alhoewel ek persoonlik dit moeilik vind om die gedagte van ‘n absolute sessie (vir waarde reeds ontvang) te versoen met ‘n sessie vir sekuriteit (ter versekering van ‘n toekomstige verpligting), is dit na my oordeel onnodig om hieroor te beslis. Die kernvraag sou, soos reeds gemeld, bly of die onderhawige partye bedoel het dat die respondent sy eiendomsreg in die polisse sou verloor, al is dit dan ook net vir die duur van die sessies. Soos reeds aangedui, is ek van mening dat die antwoord op hierdie vraag ontkennend moet wees.


  1. Indien die sessies dan in securitatem debiti geskied het en die bedoeling nooit was dat die respondent sy dominium en sy voorwaardelike reg op die gesedeerde vorderingsregte prysgee nie, sou die vraag wees of die laasgemelde reg verjaar het binne die drie jaar periode na verwys in artikel 11 (d) van die Verjaringswet, 68 van 1969 (in welke geval dit nie gesê sou kon word dat die appellant ten koste van die respondent verryk is toe Sanlam aan haar uitbetaal het nie), want die respondent se eis is ruim buite hierdie periode ingestel.


  1. In hierdie verband het mnr Danzfuss gesteun op die passasie op 294E in die beslissing Bank of Lisbon and South Africa Ltd v The Master and Others, supra, waar Galgut Wn AR (soos hy toe was) verwys het na die beslissing van National Bank of South Africa Ltd v Cohen’s Trustee, supra, waar opgemerk is dat geen terugsessie eers nodig was nie en dat die sedent bloot, by vereffening van die skuld aan die sessionaris, sy endossement van sessie op die polis kon kanselleer.


  1. Mnr Danzfuss se argument was dat die vorderingsregte teen Sanlam (wat op 8 Augustus 1991 na die oorledene oorgegaan het ingevolge die gemelde sessie-dokumente) onmiddellik by ondertekening van die nietige koopkontrak (op 14 Augustus 1991) outomaties en ipso iure weer teruggeval het na die respondent en dat daar dus nooit sprake kon gewees het van die verjaring van die reg om weer die houer te word van daardie vorderingsregte nie.


  1. Dit is egter so dat daar in die latere beslissing van Incledon (Welkom) (Pty) Ltd v Qwaqwa DC Ltd, supra, op 804J weer uitdruklik verwys is daarna dat die “reversionary interest .... entitled the owner (cedent) to claim the re-cession of the rights upon payment of the indebtness”.


  1. Alhoewel die Hoogste Hof van Appél in die saak van Engelbrecht and Another NNO v Senwes Ltd, supra, nie nodig gehad het om pertinent te beslis oor hierdie vraag nie, is daar nie, in reaksie op die eis om ʼn declarator dat die sedent geregtig was op terugesessie van ʼn polis, die standpunt ingeneem dat ʼn terugsessie in elk geval nie nodig was nie.


  1. Daar is ook geen teken in enige van die sessie-ooreenkomste in hierdie geval dat die bedoeling was dat die vorderingsregte uit hoofde van die polisse op ‘n sekere stadium na die respondent sou terugval nie.


  1. Selfs al sou dit geargumenteer kon word implisiet of stilswyend die partye se bedoeling te gewees het dat, by vereffening van die koopsom (vanuit ʼn ander bron van fondse as die polisse self), die terugsessie as’t ware outomaties moes gebeur het of eensydiglik deur die respondent bewerkstellig kon word (sien The Law of Cession, Scott, 2de uitgawe, bl 55), is dit nie wat hier gebeur het nie, is dit nie deel van die respondent se saak soos gepleit nie en is hierdie geval duidelik te onderskei van ʼn geval soos die National Bank-saak. Hier het die respondent se aanspraak op die vorderingsregte ontstaan vanweë die nietigheid van die koopkontrak, en nie weens die vereffening van die koopsom of die vooraf ooreengekome nakoming van ‘n versekerde verpligting nie.


  1. In Aussenkehr Farms (Pty) Ltd v Trio Transport CC 2002 (4) SA 483 (SCA) het die Hof duidelik die standpunt ingeneem dat die sessie van regte slegs beëindig kan word by ooreenkoms tussen die betrokke partye, alhoewel daar geen beperking is op die vorm wat so ʼn ooreenkoms kan aanneem nie. Dit kan uitdruklik wees of deur gedrag of stilswyend (sien paragraaf [20] van die verslag).


  1. In die onderhawige geval was daar geen uitdruklike ooreenkoms met betrekking tot hoe en wanneer die respondent weer geregtig sou wees op die gesedeerde vorderingsregte nie. Alhoewel daar seker bespiegel sou kon word oor ʼn moontlike stilswyende ooreenkoms met betrekking tot die posisie indien die koopsom betaal sou word uit ʼn ander bron as die polisse, is dit nie relevant nie, want dit is nie wat gebeur het nie.


  1. Die respondent was nie hier op hierdie grond geregtig om sy vorderingsregte terug te kry nie, maar wel weens die nietigheid van die koopkontrak; iets wat geeneen van die partye tog op daardie stadium kon voorsien het nie. Alhoewel daar uiteenlopende gesag mag wees oor die vraag of gesedeerde vorderingsregte ipso iure en van regsweë terugval na ‘n sedent by delging van die versekerde verpligting (sien LAWSA, vol 2, deel 2, 2de uitgawe, para 56) is dit dus nie hier tersaaklik nie, want die respondent het op heeltemal ‘n ander basis geregtig geraak daarop dat sy vorderingsregte teen Sanlam na hom teruggaan.


  1. Dit het na my mening hier gegaan daarom dat die respondent, die oomblik toe die nietigheid van die koopkontrakte ingetree of bestaan het, die reg gehad het op restitusie van dit wat hy reeds presteer het; in hierdie geval sy vorderingsregte wat deur die sessies in die hande van die oorledene oorgegaan het. Dié reg op restitusie moet onderskei word van die ”reversionary right” wat ter sprake sou gewees het waar die versekerde skuld vereffen is.


  1. Alhoewel daar uiteenlopende menings mag wees oor die vraag of ‘n geldige causa ‘n voorvereiste is vir ‘n geldige sessie, bestaan daar oënskynlike eenstemmigheid daaroor dat, waar die causa ongeldig of nietig sou blyk te wees, die reeds gesedeerde regte aan die sedent teruggesedeer sal moet word (sien The Law of Cession, supra, bladsye 79-85 en LAWSA, supra, paragrawe 28 en 57).


  1. Dit moet onthou word dat dit nie die sessies self was wat nietig was nie, in welke geval moontlik geargumenteer sou kon word dat die vorderingsregte nooit in die eerste plek oorgegaan het na die oorledene nie.


  1. Ek is dus van oordeel dat, by gebreke aan samewerking van die kant van die oorledene of sy boedel, die respondent ʼn aksie sou moes ingestel het om die gesedeerde vorderingsregte terug te kry, en wel op grond van sy reg op restitusie weens die nietigheid van die koopkontrak en dus die verdwyning van die hele substratum van die sessies.


  1. Mnr Danzfuss het, in die alternatief tot die voorgaande, geargumenteer dat, selfs al sou die gesedeerde vorderingsregte nie van regsweë teruggeval het na die respondent nie, die dominium wat die respondent deurgaans behou het nie net bestaan het uit die “reversionary interest” in die gesedeerde vorderingsregte nie, maar ook uit die reg dat alles wat die gesedeerde vorderingsregte meer sou oplewer as die versekerde skuld, die sedent sou toekom en dat, omdat die versekerde skuld in hierdie geval weens die nietigheid van die koopkontrak nul was, die respondent as eienaar van die polisse uit hoofde van dié verdere “kompetensie bevoegdheid” geregtig was op die volle eisbedrag as synde die “surplus”.


  1. Hierdie argument het na my oordeel geen meriete nie. Dit sou beteken dat ‘n sedent, uit hoofde van dié komponent van sy of haar dominium, die totale bedrag van die skuldenaar (in hierdie geval dan Sanlam) sou kon eis terwyl die sessionaris sit met die gesedeerde vorderingsregte ten aansien van presies dieselfde bedrag. Dit sou tog totaal ondenkbaar wees.


  1. Dit is ook ‘n drogargument om te sê dat die koopsom of hoofskuld weens die nietigheid nul was. Weens die nietigheid was daar geen geldige of afdwingbare koopkontrak nie, ab initio, was daar dus regtens geen sprake van enige koopsom van enige aard of omvang nie en kon daar dus nooit sprake van ‘n “surplus” gewees het nie.


  1. In elk geval het die respondent ook nie sy saak so gepleit nie. Op die pleitstukke is die respondent se saak juis uitdruklik gebaseer op die vorderingsregte teen Sanlam wat onverskuldiglik oorgegaan het na die oorledene.


  1. Bowendien meen ek dat die reg op so ‘n surplus voorveronderstel dat die sessionaris die gesedeerde vorderingsreg gerealiseer of uitgeoefen het, want slegs dan sou daar tog van enige surplus sprake kon wees.


  1. Daar is ook geen meriete nie in die argument wat blykbaar by die verhoor gevoer is namens die respondent, naamlik dat die oorledene ook nie deur verkrygende verjaring eienaar kon geword het van die polisse nie, omdat ʼn periode van 30 jaar nog nie verstryk het nie. Dit gaan nie hier om die eienaarskap van die polisse of om verkrygende verjaring nie, maar wel om die reg op die vorderingsregte ingevolge daarvan teen die versekeraar en die uitwissende verjaring van daardie reg.


  1. Om dieselfde rede verskil ek met respek van die verhoorhof se bevinding dat, indien die respondent sy eiendomsreg behou het, “is artikel a 1 van die Wet (Verjaringswet, 68 van 1969) van toepassing, wat beteken dat die eis eers na 30 jaar verjaar”.


  1. Buitendien het artikel 1 van die betrokke Verjaringswet te make met verkrygende verjaring van sake, en nie met die uitwissende verjaring van skulde nie. Daar word wel in artikel 11(a) van die Verjaringswet ook in die konteks van uitwissende verjaring van skulde ʼn termyn van 30 jaar neergelê, maar dit is opmerklik dat dit net ten aansien van bepaalde tipes skuld geld, waarvan die terugsessie van gesedeerde regte nie deel uitmaak nie.


  1. Ek verskil ook van die Hof a quo se bevinding dat die respondent “ingevolge die rei vindicatio sy eiendom kon terugeis by die boedel van die oorledene”. Die respondent het nooit sy eiendomsreg van die polisse verloor nie en het dus nooit nodig gehad om dit terug te eis nie. Bowendien is die rei vindicatio ʼn aksie vir die lewering van stoflike sake, en nie onliggaamlike goed soos vorderingsregte nie (sien Silberberg and Schoeman’s The Law of Property, 5de uitgawe, Badenhorst et al, bl 243).


  1. Die vraag wat na my oordeel oorweeg moet word, is of die verpligting om die respondent se vorderingsregte aan hom terug te sedeer, hetsy weens die nietigheid van die kontrak of die gewaande kansellasie daarvan, ʼn skuld is soos bedoel in artikel 11 (d) van die Verjaringswet.


  1. Namens die appellant is verwys na gesag waar vorderingsregte, en in die besonder ook vorderingsregte ingevolge polisse, beskou is as skuld vir hierdie doeleindes. Die gesedeerde regte in die onderhawige geval was wel vorderingsregte teen die versekeraar, maar ek is van oordeel dat die respondent se reg op terugsessie van daardie regte nie as dieselfde tipe vorderingsreg beskou kan word nie.


  1. Die respondent se reg op die terugsessie van sy vorderingsregte weens die nietigheid van die koopkontrak was meer in die aard van ʼn reg om restitusie. In artikel 3 (2) van die 1943 Verjaringswet (18 van 1943) is voorsiening gemaak daarvoor dat die verjaringstydperk van ʼn eis om restitutio in integrum drie jaar sou wees (sien Prescription in South African Law, Saner, bladsy 3-7).


  1. In die 1969 Verjaringswet, en dus die Wet wat hier van toepassing is, is weggedoen met die benadering wat in die 1943 Verjaringswet gevolg is, naamlik om te bepaal op watter aksies en skuldoorsake die verskillende verjaringstermyne van toepassing sou wees, en is oorbeweeg na ʼn benadering waar verskillende verjaringstermyne ten aansien van verskillende tipes skulde bepaal is (sien The Law of Contract in South Africa, Christie, 5de uitgawe, bladsy 485).


  1. In subartikels (a), (b) en (c) van artikel 11 is die verskillende verjaringstermyne voorgeskryf ten aansien van spesifieke tipes skulde (nie een waarvan die onderhawige skuld, naamlik die verpligting om te restitueer, sou insluit nie), en in subartikel (d) is dan bepaal dat, behalwe waar ʼn Wet ander sou bepaal, die verjaringstermyn drie jaar sou wees ten aansien van “enige ander skuld”.


  1. Die vraag is dus of die oorledene se plig om die vorderingsregte terug te sedeer weens die nietigheid van die koopkontrak ʼn “skuld” was soos bedoel in artikel 11 (d) van die Verjaringswet en ek is van oordeel dat die antwoord hierop bevestigend behoort te wees.


  1. Daar kan geen rede wees waarom die Wetgewer dit in die 1943 Verjaringswet aan verjaring onderworpe sou wou stel, maar nie in die huidige Verjaringswet nie (sien The Law of Contract in South Africa, supra, op 483-484).


  1. Dit is dan ook geyk dat die begrip “skuld” in artikel 11 van die 1969 Wet ʼn wye uitleg gegee moet word en selfs die verpligting tot restitusie van eiendom sou dek (sien Evins v Shield Insurance Co Ltd 1979 (3) SA 1136 (W) op 1141F-G).


  1. As daar eenmaal aanvaar word dat die plig tot restitusie van die respondent se vorderingsregte ʼn skuld was soos bedoel in artikel 11 van die 1969 Wet (soos wat ek dan ook doen), kan nie enige van subartikels (a), (b) of (c) van artikel 11 daarop van toepassing wees nie, wat noodwendig sou beteken dat dit onder subartikel (d) resorteer en dat die toepaslike verjaringstermyn drie jaar was.


  1. Die vraag wanneer die respondent kennis gedra het “van die feite waaruit die skuld ontstaan” het (artikel 12(3) van die Verjaringswet), hoef nie oorweeg te word nie. Mnr Danzfuss het tydens die verhoor reeds dit duidelik gestel dat die appellant nie nodig gehad het om dit te bewys nie en dat dit nie die respondent se saak was dat die skuld op enige ander datum as die datum van ondertekening van die koopkontrak opeisbaar geraak het nie.


  1. Daar moet dus aanvaar word dat die skuld waarom dit hier gaan, naamlik die oorledene en sy boedel se verpligting om die vorderingsregte terug te sedeer aan die respondent, opeisbaar geraak het op die datum waarop die koopkontrak onderteken is en nietigheid ingetree het.


  1. In elk geval moes die respondent op die laatste by “kansellasie” van die koopkontrak (op grond van die wanbetaling van premies op die polisse) geweet het dat die vorderingsregte aan hom teruggesedeer moes word en sou verjaring op die laatste vanaf daardie datum begin loop het (sien Drennan Maud & Partners v Pennington Town Board [1998] ZASCA 29; 1998 (3) SA 200 (SCA) op 212F-213C); nog steeds ruim meer as drie jaar voor die instel van die aksie.


  1. Na my oordeel is die respondent se aanspraak op die vorderingsregte dus uitgewis deur verjaring en kon enige mate waartoe die appellant verryk mag wees nie ten koste van hom gewees het nie.


  1. Die posisie mag totaal anders gewees het ten aansien van die premies wat die respondent op die polisse betaal het. Daaroor laat ek my egter nie uit nie, want dit is en was nie die respondent se saak nie.


  1. Ek is dus van oordeel dat die appèl behoort te slaag, en daar is geen rede waarom die koste van die appèl (wat sal insluit die koste van die aansoek om verlof tot appèl) nie die uitslag daarvan behoort te volg nie.


  1. In die lig daarvan dat dit sal beteken dat elk van die partye gedeeltelik suksesvol was, sal die kostebevel ook verander moet word. Ek meen dat dit billik sal wees indien elk van die partye die koste dra van die onsuksesvolle opponering van die spesiale pleite van verjaring teen die onderskeie eise.


  1. Die appellant moet self die koste van sy aansoek om kondonasie dra en ten aansien daarvan maak ek dus geen bevel nie.


  1. Bygevolg sou ek die volgende bevele hierin maak:


  1. Die appellant se aansoek om kondonasie word toegestaan.

  2. Die appèl slaag en die verhoorhof se bevel word gewysig om soos volg te lees:

1.) Die eerste verweerder se spesiale pleit van verjaring teen die eiser se eerste eis slaag met koste.

2.) Die eiser se spesiale pleit van verjaring teen die eerste en tweede verweerder se teeneis slaag met koste.”

  1. Die respondent word gelas om die koste van die appèl (wat sal insluit die koste van die aansoek om verlof tot appèl) te betaal.









________________________

C J OLIVIER

REGTER

NOORD-KAAPSE AFDELING




EK STEM SAAM EN DIT WORD SO GELAS:






________________________

S A MAJIEDT

REGTER

NOORD-KAAPSE AFDELING



EK STEM SAAM:






________________________

F E MOKGOHLOA

WAARNEMENDE REGTER

NOORD-KAAPSE AFDELING




Nms Appellant: Adv S P Le R de la Harp

In opdrag van: van de Wall & Vennote


Nms Respondente: Adv F W A Danzfuss, SC

In opdrag van: Engelsman Magabane Ing