South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley >> 2008 >> [2008] ZANCHC 13

| Noteup | LawCite

S v Blom (CA&R 118/07) [2008] ZANCHC 13 (7 March 2008)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)



Saakno: CA&R 118/07

Datum verhoor: 2008-03-03

Datum gelewer: 2008-03-07


In die appél van:


JAKOB BLOM APPELLANT


versus


DIE STAAT RESPONDENT


Coram: MAJIEDT R et OLIVIER R



UITSPRAAK



MAJIEDT R:

  1. Die appellant is so lank gelede as 11 Februarie 2000 in die plaaslike streekhof skuldig bevind op ‘n aanklag van verkragting en gevonnis tot 15 jaar gevangenisstraf. Hy kom nou met verlof van die verhoorhof in hoër beroep teen die voormelde opgelegde vonnis. Kondonasie is ook verleen deur die verhoorhof vir die appellant se laat liassering van sy aansoek om verlof om te appelleer.

  2. Die appellant is daaraan skuldig bevind dat hy die klaagster,wat 14 jaar oud was ten tyde van die voorval,verkrag het en ook aangerand het met ‘n hokkiestok. Dié verkragting het gedurende die grootste gedeelte van die bepaalde nag plaasgevind. Die appellant en die klaagster was betrokke in ‘n liefdesverhouding, maar het die getuienis bo redelike twyfel bewys dat die gemeenskap tussen hulle die betrokke aand van die voorval sonder die klaagster se toestemming plaasgevind het. Verder verswarend is die feit dat die appellant sy broer of vriend (dit was nie duidelik op die getuienis wat die korrekte situasie ten aansien hiervan was nie) versoek het om die klaagster ook te verkrag, wat dié toe gedoen het.

  3. Die appellant het redelik gunstige persoonlike omstandighede gehad tydens vonnisoplegging en het die verhoorhof behoorlik aandag en oorweging daaraan geskenk tydens vonnisoorweging. Die appellant was naamlik 22 jaar oud ten tyde van die voorval, ‘n eerste oortreder, hy het een kind gehad en het by sy sieklike ouers gewoon. Die appellant was werkloos en het peuselwerk gedoen waarmee hy R40 per dag verdien het.

  4. Namens die appellant het Mnr. Van Tonder voor ons betoog dat die opgelegde vonnis skokkend onvanpas is en inmenging op appél regverdig. Hy het ook aan die hand gedoen dat die streeklanddros die appellant se persoonlike omstandighede onderbeklemtoon het en die erns van die misdryf en die gemeenskap se belange oorbeklemtoon het.

  5. Ek stem nie saam met die voormelde submissies nie. Die vonnis is weliswaar baie swaar. Verder moet in ag geneem word dat dit opgelê is voor die inwerkingtreding van die verpligte minimum vonnisse soos vervat in artikels 51 en 52 van die Strafregwysigingswet, 105 van 1997. Sou daardie wet se bepalings van toepassing wees, het die appellant blootgestaan aan ‘n minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf op ten minste drie gronde naamlik:

    1. Die feit dat hierdie ‘n gesamentlike verkragting was, d.w.s. dat die klaagster deur meer as een persoon verkrag is;

    2. Die feit dat die klaagster onder 16 jaar oud was ten tyde van die voorval; en

    3. Die feit dat die appellant die klaagster ook ernstig aangerand het met ‘n hokkiestok tydens die verkragting.

  6. Die bepalings van die voormelde Wet moet egter vir doeleindes van oorweging van die vraag of die opgelegde vonnis inderdaad skokkend onvanpas is, soos wat Mnr. Van Tonder betoog het, buite rekening gelaat word. Die aangeleentheid moet benader word op die basis dat die verhoorhof se normale diskresie ten aansien van ‘n gepaste vonnis van toepassing is. Die streeklanddros het verwys na die geykte beginsels en riglyne wat geld by die oorweging van die oplegging van vonnis en het dit na my mening ook korrek toegepas. Daar was versigtige oorweging geskenk aan al die tersaaklike faktore. Daar kan na my mening ook geen gekibbel wees oor die streeklanddros se beskrywing van die misdryf as “barbaars en afskuwelik” nie. Dié verwysing het hy gemaak na aanleiding daarvan dat die appellant, soos alreeds aangedui is hierbo, sy vriend of broer aangemoedig het om sonder die klaagster se toestemming met haar gemeenskap te hou en dat die appellant boonop toe nog die klaagster aangerand het ook.

  7. n Verdere verswarende faktor wat verseker ook in ag geneem behoort te word, is die feit dat die klaagster as’t ware dwarsdeur die nag teen haar sin aangehou is deur die appellant. Die klaagster het geskree en haar teëgesit en toe was sy aangerand. Haar ouma en oupa het die kamer probeer binnekom, maar die deur was toegesluit. Hierdie is verdere verswarende faktore wat korrek in aanmerking geneem was tydens vonnisoplegging.

  8. Vonnis is by uitstek ‘n aangeleentheid in die diskresie van die verhoorhof en kan daar op appél slegs ingemeng word met ‘n opgelegde vonnis as die vonnisoplegger nie daardie diskresie regterlik en behoorlik uitgeoefen het nie. Verder kan daar slegs op appél ingemeng word by ‘n wesenlike mistasting of by ‘n vonnis wat skokkend onvanpas is.

Sien in die algemeen in die verband:
S v Giannoulis 1975(4) SA 867 (A) te 868 E-G.
In
S v Malgas 2001(1) SACR 469 (SCA) te 478 d-g (par. 12) het Marais AR dit as volg gestel:

A court exercising appellate jurisdiction cannot, in the absence of material misdirection by the trial court, approach the question of sentence as if it were the trial court and then substitute the sentence arrived at by it simply because it prefers it. To do so would be to usurp the sentencing discretion of the trial court…….. However, even in the absence of material misdirection, an appellate court may yet be justified in interfering with the sentence imposed by the trial court. It may do so when the disparity between the sentence of the trial court and the sentence which the appellate Court would have imposed had it been the trial court is so marked that it can properly be described as 'shocking', 'startling' or 'disturbingly inappropriate'.

  1. Die gewysdes aangehaal deur Mnr. Van Tonder in sy betoogshoofde ter ondersteuning van sy betoog is onderskeidbaar op die feite.

    1. In S v R 1996(2) SASV 341 (T) het dit gegaan oor ‘n enkel verkragting deur ‘n 19-jarige beskuldigde van ‘n 14-jarige maagd. Daar was geen bykomende verkragters betrokke nie en was die klaagster ook nie aangehou teen haar sin, soos wat hier die geval is nie.

    2. In S v Gqamana 2001(2) SACR 28 (C) was daar ook slegs een verkragter wat die klaagster meermale verkrag het. Die klaagster was ook nie aangehou nie.

    3. In S v A en ‘n ander 1994(1) SASV 602 (A) was die klaagster 19 jaar oud. Sy was ook nie aangehou nie en slegs dreigemente van geweld was teenoor haar geuiter.

Gevolglik ondersteun hierdie beslissings nie die appellant se saak op appél nie.

  1. In al die omstandighede is ek die mening toegedaan dat, alhoewel die vonnis weliswaar baie swaar is (en kan ek byvoeg dat ek self nie in die omstandighede dié bepaalde vonnis sou opgelê het nie), dit nie as skokkend onvanpas aangemerk kan word nie. Die toets is nie welke vonnis ek sou opgelê het nie, want dan sou dit op ‘n aanmatiging van die verhoorhof se vonnis diskresie neerkom. Die toets is eerder of die vonnis skokkend onvanpas is, soos hierbo uiteengesit in die Malgas beslissing. Ek meen nie dat daar regtens, met toepassing van die voormelde riglyne, voldoende gronde is om met die vonnis in te meng nie en behoort die appél gevolglik afgewys te word.

  2. Ek reik die volgende bevel uit:

Die appél word afgewys en die skuldigbevinding en vonnis word bekragtig.

_____________

SA MAJIEDT

REGTER


Ek stem saam:



_____________

CJ OLIVIER

REGTER



NAMENS APPELLANT : ADV A VAN TONDER

IN OPDRAG VAN : REGSHULPRAAD


NAMENS RESPONDENT : ADV T BIRCH

IN OPDRAG VAN : DIE STAAT


DATUM VAN VERHOOR : 3 MAART 2008

DATUM VAN UITSPRAAK : 7 MAART 2008