South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley >> 2006 >> [2006] ZANCHC 18

| Noteup | LawCite

Coetzee and Another v Keyser and Another (105/06) [2006] ZANCHC 18 (17 March 2006)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja /Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja /Nee

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(NOORD-KAAPSE AFDELING)

KIMBERLEY

SAAK NO.: 105/06

DATUM AANGEHOOR: 03--03-2006

DATUM VAN UITSPRAAK:17-03-2006



In die saak tussen:


HENRI COETZEE 1ste APLIKANT

BOUVARIA EIENDOMME BK 2de APPLIKANT

en


CHRISTIAN RUDOLF KEYSER 1ste RESPONDENT

DIE VOORSITTER VAN DIE DRANKRAAD, 2de RESPONDENT

NOORD-KAAP PROVINSIE



CORAM: C.C WILLIAMS R:

U I T S P R A A K


WILLIAMS R:


1. Hierdie is die verlengde keerdatum van ‘n bevel nisi verleen op 1 Februarie 2006 in die volgende terme;

3.1 Hangende die finale afhandeling van die aansoek gebring te word deur die applikante vir die tersydestelling van die bevel uitgereik deur hierdie agbare Hof op 9 Desember 2005 onder saaknommer 1472/05:

3.1.1 word die eerste respondent verbied om ‘n kroeg te bedryf te Queensweg 74, Hilcrest, Kimberley;

3.1.2 word die eerste respondent verbied om drank aan lede van die publiek wat nie inwonende gaste van die gastehuis @The Keyser’s Guesthouse is nie, te verkoop;”


Die applikante nader dus die hof vir die bekragtiging van die tussentydse regshulp soos hierbo aangestip hangende die finale afhandeling van ‘n aansoek om tersydestelling van die bevel onder saaknommer 1472/05 wat as volg bepaal:

1. That the decision by the respondent to amend the conditions to applicants’ special licence (accommodation) under no NCP 012383 (hereinafter referred to as “the licence”) and issued on 27 May 2005 be reviewed and rescinded;

2. That is be declared that the conditions to the licence are as per annexure “A” hereto;

3. That each party pays its own cost.”


(Die applikant in saaknommer 1472/05 is die eerste respondent in die huidige aansoek en die respondent daarin is die tweede respondent huidiglik)


3. Die eerste respondent bedryf n gastehuis, @The Keyser’s Guesthouse, in Queensweg geleë in die woonbuurt Hillcrest te Kimberley sedert ongeveer Mei 2005. Eerste applikant se woonhuis is geleë skuins oorkant die gastehuis en die tweede applikant is die ontwikkelaar van eiendomme reg langsaan die gastehuis.


4. Die geskil tussen die applikant en die eerste respondent gaan oor die feit dat die eerste respondent ‘n voltydse restaurant en kroeg vir die gebruik van die algemene publiek bedryf vanaf die gastehuis. Die applikante beweer dat hierdie bedrywighede ‘n oortreding is van die soneringsvoorwaardes van die eiendom wat op 5 Julie 2004 hersoneer is na “algemeen residensieel (beperk tot ‘n gastehuis”) en ook teenstrydig is met die voorwaardes gekoppel aan ‘n dranklisensie (aanhangsel “LC8”) uitgereik aan die eerste respondent op 27 Mei 2005 waarvan een van die voorwaardes is:

9.Accommodation establishment

Liquor may only be sold to the guest of the accommodation establishment and not to anybody else.”


5. Die eerste respondent het egter in saak no 1472/05 beweer dat die voorwaarde in paragraaf 4 hierbo nie oorspronklik vervat was in die dranklisensie uitgereik deur die Voorsitter van die Drankraad op 27 Mei 2005 nie en dat die voorwaardes eensydiglik op 29 September 2005 deur die Drankraad verander is na dit bovermeld. Die uiteinde van die aansoek deur eerste respondent gebring was dat hy en ene mnr C Maponya, in sy hoedanigheid as Voorsitter van die Drankraad op 7 Desember 2005 ‘n skikkingsooreenkoms onderteken het dat die voorwaardes vervat in aanhangsel “LC 12” op die dranklisensie van die eerste respondent van toepassing is. Aanhangsel “LC12” maak geen melding van die voorwaarde hierbo vervat in aanhangsel “LC8” nie. Die hofbevel verleen op 9 Desember 2005 reflekteer gedeeltelik die skikking bereik tussen die eerste respondent en die voorsitter van die drankraad.


6. Die huidige aansoek is deur die applikante gebring na hulle bewus geword het van die hofbevel verleen op 9 Desember 2005.


7. Die vereistes vir die toestaan van ‘n tussentydse interdik is die volgende.

a) ’n Prima facie reg;

b) ’n Redelike vooruitsig op onherstelbare skade;

c) Dat die balans van gerief ten gunste van die applikante is en;

d) Dat daar geen alternatiewe remedie is nie.


8. Mnr. Van Niekerk SC wat saam met mnr. Botha vir die applikant optree, voer aan dat die prima facie reg van die applikante, behalwe die reg tot privaatheid en regverdige administratiewe optrede, bestaan in die kanse van sukses wat die applikante het in die voorgenome aansoek om tersydestelling en dat die huidige aansoek om ‘n tussentydse interdik in hierdie lig oorweeg moet word. Sien Ladychin Investments v South African National Roads Agency 2001(3) SA 344(NPD) te 357.


9. In dié verband voer die applikante vier redes aan waarom die hofbevel onder saakno. 1472/05 tersyde gestel behoort te word:

9.1 Dat Maponya nie bevoegd was om as vooorsitter van die Noord-Kaapse Drankraad ‘n skikkingsooreenkoms aan te gaan met die eerste respondent nie:

Dit staan vermeld te word dat die Noord-Kaapse Drankraad aldus die applikante, reeds voor 7 Desember 2005, toe die skikkingsooreenkoms deur Maponya onderteken is, ontbind is en daar nog geen nuwe Drankraad vir die provinsie ingestel is nie. Maponya self was die voorsitter van die eertydse Drankraad totdat hy op 15 September 2005 of ten laaste 27 September 2005 tesame met al die lede van die Drankraad onthef is van sy posisie, en kon hy dus nie op 7 Desember 2005 as voorsitter of namens die voorsitter van die Drankraad enige ooreenkomste aangaan nie. Die applikante het ‘n brief vanaf die LUR vir Finansies aan Maponya, gedateer 27 September 2005, waarin hy van sy pligte onthef word, aangeheg tot hul stukke as aanhangsel “LC24”.


9.2 Dat daar wesenlik nie-voeging was in saakno. 1472/05 deurdat die eerste applikant sowel as die Suid-Afrikaanse Polisiediens, welke partye ‘n wesenlike en direkte belang in die aansoek gehad het, nie as respondente gevoeg is nie ten spyte daarvan dat die eerste respondent deeglik bewus was van sodanige belang deurdat:

9.2.1 Die eerste applikant as buurman van die gastehuis nie genoeë was daarmee dat ‘n restaurant en kroeg vir die algemene publiek vanaf die gastehuis bedryf word nie en het vanaf die Drankraad ‘n afskrif van die voorwaardes van toepassing op die betrokke dranklisensie bekom (aanhangsel “LC8”) en het reeds op 19 Augustus 2005 vir die eerste respondent daarmee gekonfronteer.

9.2.2 Hy ook op 27 Augustus 2005 ‘n klag van rusverstoring by die SAPD teen die eerste respondent gelê het.

9.2.3 Op 9 September 2005 het die eerste applikant ‘n hofbevel in die Landdroshof, Kimberley verkry in terme van artikel 126 van die Drankwet.

9.2.4 Op 23 September 2005 het die eerste respondent die voormelde bevel sonder kennis aan of betekening op die eerste applikant laat tersyde stel.

9.2.5 Op 26 September 2005 het die tweede respondent ‘n skrywe gerig aan die Areakommissaris van die SAPD waarin die voorwaardes van die eerste respondent se dranklisensie bevestig is en wat as volg lees:

1. I acknowledge receipt of your letter dated 26 September 2005, with Annexure.

2. According to the record of the Liquor Board, mr. C Keyser holds a special license (on-consumption) accommodation issued under reference number NCP 102383 dated 27-05-2005.

3. annexure B of your letter constitutes conditions under which the license was issued and in terms of which the license holder should operate. The conditions do not grant the license holder the authority to operate as a PUB.

4. The license holder is entitled to serve liquor to the guests of the accommodation premises/guests house and not ordinary members of the public.”

9.2.6 Lede van die SAPD sowel as die eerste applikant teenwoordig was by die kantoor van die tweede respondent op 29 September 2005, waar samesprekings gereël is deur die tweede respondent. Slegs die eerste respondent en twee lede van die SAPD was egter toegelaat om deel te neem aan die vergadering met die tweede respondent.

9.2.7 Die SAPD sitting het op die Drankraad, waar dit insette lewer en ook diens verrig in die toepassing en afdwinging van lisensievoorwaardes.


Die eerste applikant voer derhalwe aan dat dit noodsaaklik was vir die eerste respondent om die eerste applikant en die SAPD te voeg as respondente in aansoek no. 1472/05 en by gebrek daaraan behoort die bevel tersyde gestel te word.


9.3 Deurdat die eerste respondent die Hof mislei het in aansoek no. 1472/05:

9.3.1 Die betoë deur die applikante hier voorgehou is dat die eerste respondent nie net geswyg het oor die status van Maponya of die Drankraad op 7 Desember 2005 toe die skikking bereik is nie, óf die belang wat eerste applikant en die SAPD by die verlening van die bevel het nie, maar ook die Hof mislei het deur voor te gee dat die voorwaarde in aanhangsel “LC8”, dat hy nie drank mag verkoop aan enige persoon behalwe gaste in die gastehuis nie, nie deel gevorm het van die lisensie waarvoor hy aansoek gedoen het en wat aan hom uitgereik is nie. Eerste respondent het versuim om sy aansoek om die dranklisensie by die aansoekstukke aan te heg waaruit dit wel duidelik blyk dat hy aan die Drankraad voorgehou het dat hy van voornemens is om slegs aan gaste van die gastehuis en spesifiek by etes in die eetkamer van die gastehuis drank te bedien.


9.4 Dat daar geen wysiging van die voorwaardes deur tweede respondent plaasgevind het op 29 September 2005 nie:

9.4.1 Die applikante voer hierdie rede aan vir die tersyde stelling van die bevel na aanleiding van die feit dat die eerste applikant reeds op 19 Augustus 2005 ‘n afskrif ontvang het van aanhangsel “LC8” vanaf die tweede respondent as synde die voorwaardes van toepassing op die eerste respondent se dranklisensie.

9.4.2 Die sekretaris van die Drankraaad ene mnr. Norman ook al op 23 September 2005 aan Inspekteur Jacobs van die SAPD ‘n afskrif oorhandig het van aanhangsel “LC8”.

9.4.3 Die tweede respondent op 26 September 2005 bevestig het aan die SAPD dat aanhangsel “LC8” die toepaslike lisensievoorwaarde vervat soos uitgereik op 27 Mei 2005. (Sien paragraaf 9.2.5 hierbo).


10. Die eerste respondent ontken nie direk die bewerings gemaak deur die applikante nie. Die houding wat wel ingeneem word is dat al die gebeure wat voor 9 Desember 2005 plaasgevind het ontersaaklik is in hierdie aansoek. Mnr Van Rhyn SC, wat namens die eerste respondent verskyn, voer aan dat twee beginsels van hofbevele hier van toepassing is:

1) dat ‘n hofbevel soos ‘n kontrak uitgelê moet word en;

2) dat howe nie hofbevele maak wat hulle weet verkeerd is nie.

Hierdie “beginsels” moet na my mening eerder as uitgangspunte gesien word. Dit is so dat die bevel gemaak onder saakno. 1472/05 ondersteun word deur die betrokke aansoekstukke. Die bewerings gemaak deur die applikante is egter nie dat die Hof ‘n bevel wat teenstrydig is met die stukke verleen het nie, maar dat die Hof mislei was deur wesenlike inligting te weerhou en deurdat die eerste respondent die belange van derde partye misken het. Om hierdie redes is die aanloop tot die verlening van die bevel op 9 Desember 2005 belangrik.

11. Mnr. Van Rhyn betoog voorts dat die eerste respondent ontken dat Maponya ultra vires opgetree het deurdat hy geen magtiging gehad het om namens die Drankraad op te tree nie. Die argument is dat die Drankraad en Maponya nou estop word om te beweer dat Mapanya onbevoegd was aangesien die eerste respondent deur hom mislei is en sekere regte gegee is.


12. Hierdie argument kan egter nie staan nie. In die eerste plek kan ‘n verweer soos estoppel nie teen derde partye soos die applikante gehou word nie. Tweedens, vir ‘n suksesvolle verweer van estoppel moet die eerste respondent kan bewys dat hy mislei is en dat hy as gevolg daarvan tot sy nadeel gehandel het.


13. In hierdie verband en in teenstelling met die betoog voorgehou deur mnr. Van Rhyn, aanvaar die eerste respondent, in sy opponerende eedsverklaring, dat Maponya op 7 Desember 2005, toe die skikking onderteken is, nie meer voorsitter van die Drankraad was nie, hy is egter baie ontwykend oor wanneer (vóór of ná 7 Desember 2005) dit tot sy aandag gekom het. Eerste respondent noem nie eers dat hy tot sy nadeel opgetree het as gevolg van enige wanvoorstelling deur Mapanya nie, inteendeel word die teenoorgestelde eerder geimpliseer. Die relevante gedeelte van die opponerende eedsverklaring lui as volg:

5.6.1 Dit het ook tot my kennis gekom dat die voorsitter van die drankraad met effek vanaf 15 September 2005 van sy plig onthef is as voorsitter van die drankraad soos gesuggereer deur die eerste applikant in paragraaf 85 van sy stawende beëdigde verklaring en aanvaar dat die gerug korrek is.

5.6.2 Indien hy wel aldus van sy pos as voorsitter van die drankraad onthef is, en as lid van die drankraad ontslaan is, sou die wysiging van die spesiale voorwaardes ongeldig wees en is die voorwaardes soos anvanklik opgelê van toepassing en is ek geadviseer dat die bevel wat nou ter syde gestel staan te word in ieder geval korrek is, in die lig daarvan dat Maponya geen bevoegdheid gehad het om die voorwaardes te wysig of aan te vul nie. Die nodige regsargumente wat dit betref sal tydens die vehoor van die anaosek voor begemelde Agbare Hof geplaas word.”


Die feite van die huidige saak kan glad nie gelyk gestel word aan die saak van National and Overseas Distributors v Potato Board 1958(2) SA 473(AD) waarop mnr. Van Rhyn steun nie.


14. Twee punte in limine is deur die eerste respondent geopper wat ek vervolgens hanteer. Eerstens een van wanvoeging of nie-voeging deurdat die Drankraad of ‘n ander persoon in sy of haar verteenwoordigende hoedanigheid as tweede respondent siteer moes word in hierdie aansoek en tweedens, dat die applikante nie al hul remedies uitgeoefen het nie.


15. Die argument dat die Drankraad, Noord-Kaap die party is wat siteer moes wees as tweede respondent is in sy mondelinge betoog nie verder geneem deur mnr. Van Rhyn nie. Die applikante beweer dat die Drankraad reeds teen 27 September 2005 ontbind is en dit dus nie moontlik is om dit te voeg as respondent nie. Hierdie is na my mening in ieder geval nie ‘n verweer wat sou kon slaag nie. Sien Safcor Forwarding (Pty) Ltd v National Transport Commission 1982(3) SA 654(AD).


16. Mnr. Van Rhyn argumenteer wel dat die Lid van die Uitvoerende Raad aan wie die Drankraad verantwoording doen soos blyk uit artikels 6, 6A, en 7(1)(a) van die die Drankwet no 27 van 1989 (“Die Drankwet”) siteer moes word as ‘n respondent en indien daar nie sodanige LUR is nie, moes die Premier van die Provinsie siteer word om die belange van die Drankraad en die provinsie te behartig en beskerm. Mnr. Van Rhyn het egter versuim om aan te toon watter belang die LUR of die Premier het by hierdie aansoek om ‘n tussentydse interdik gemik spesifiek teen die eerste respondent. Dit mag wees dat hierdie partye ‘n belang het by die voorgenome aansoek om tersyde stelling van die hofbevel gegee op 9 Desember 2005, maar op hierdie stadium het geen ander partye na my mening enige belang in hierdie aansoek nie en kan hierdie punt nie slaag nie.


17. Die tweede punt geopper is dat die applikante nie geregtig is op ‘n tussentydse interdik nie aangesien hulle nie al hul remedies in terme van die Drankwet uitgeoefen het nie. In die verband verwys die eerste respondent na die bepalings van artikels 11, 126 en 128 van die Drankwet.


Artikel 11 hanteer die omstandighede waaronder die Voorsitter van die Drankraad vergaderings belê vir die oorweging van sekere aangeleenthede onder andere klagtes ten opsigte van ‘n gelisensieerde perseel en besware teen ‘n lisensie.


Artikel 126 het betrekking op ‘n Landdrohof bevel wat verkry mag word teen die houer van ‘n dranklisensie in sekere omstandigehde.


Artikel 128 maak voorsiening daarvoor dat die Minister na oorleg met die Voorsitter van die Drankraad sekere stappe kan neem teen ‘n lisensiehouer indien hy met inligting onder eed oortuig is dat die verkoop van drank op ‘n spesifieke perseel aanleiding gee tot omstandighede wat die opskorting of intrekking van die lisensie regverdig.


18. Mnr. Van Rhyn betoog voorts dat indien hierdie remedies in terme van die die Drankwet deur die applikante uitgeput is dan is eers die bepalings van die Promotions of Administrative Justice Act 3 of 2000 (“PAJA”) op hierdie aangeleenthid van toepassing alvorens die applikant hierdie Hof kan nader.


19. Dit dien gemeld te word dat al die remedies in terme van die Drankwet reeds deur die applikant gedurende Augustus tot Oktober 2005 uitgeoefen is tot min of geen effek. Na die hofbevel verleen is op 9 Desember 2005 is die remedies in terme van artikels 11 en 128 van die Drankwet in elk geval nie meer haalbaar nie omdat die Drankraad ontbind is en daar nie meer ‘n Voorsitter is nie. Die betoog dat die remedies in terme van die Drankwet eers uitgeput moes word na 9 Desember 2005 is in elk geval kortsigtig – geeneen van hierdie remedies kan die hofbevel ongedaan maak nie en die applikante sou in elk geval nog moes aansoek doen vir die tersyde stelling van die bevel.


20. Wat PAJA aanbetref, voer mnr. Van Rhyn aan dat die besluit en aangaan van die skikking op 7 Desember 2005 ‘n administratiewe handeling is soos bedoel in die spesifieke wetgewing en moes die applikant dus die bepalings van PAJA toegepas het.


21. Administratiewe handeling word ondr PAJA as volg beskryf in artikel 1 daarvan:

““Administrative action” means any decision taker, or any failure to take a decision, by –

a) An organ of state, when –

i) Exercising a power in terms of the constitution or a provincial constitution; or

ii) Exercising a public power of performing a public function in terms of any legislation; or

b) a natural or juristic person, other than an organ of state, when exercising a public power or performing a public function in terms of an empowering provision which adversely affects the rights of any person and which has a direct, external legal effect, but does not include . . . “


22. Volgens mnr. Van Rhyn val die voorsitter van die Drankraad se besluit om ‘n skikking aan te gaan met eerste respondent ten opsigte van ‘n dranklisensie uitgereik in terme van die Drankwet vierkantig onder hofie a) van die definisie van “administrative action” van PAJA. Hierdie argument mag wel meriete hê. Ek hoef my gelukkig nie hieroor uit te spreek nie aangesien dit nie die skikkingsooreenkoms aangegaan tussen die Voorsitter van die Drankraad en die eerste respondent wat hier ter sprake is nie, maar wel die hofbevel verkry. Die skikkingsakte is nie ‘n hofbevel gemaak nie. Alhoewel sekere van die klousules in die skikkingsakte vervat is in die hofbevel, verwys die hofbevel nie eers na die skikkingsakte nie.


23. Die aansoek om tersydestelling beoog deur die applikante, is gemik teen die hofbevel en nie die besluit van die Drankraad of sy Voorsitter nie en is die bepalings van PAJA na my mening nie van toepassing nie. Hierdie punt in limine moet dus ook faal.


24. In die Ladychin saak na verwys supra sit Nicholson R die beginsels ten opsigte van tussentydse regshulp uiteen as volg te 353E-354C;

The principles established by the cases where an interim interdict is sought where there are conflicts of fact are as follows:

1. The requirements for a final interdict are well established and require the applicant to show:

(a) A clear right;

(b) a well-grounded apprehension of irreparable injury;

(c) the absence of any other ordinary remedy.

If an applicant can prove the above requirements he will also, obviously, be entitled to an interim interdict.

2. Where the applicant cannot show a clear right then he has to show a right which, though prima facie established, is open some doubt. In that event the applicant will have to show that the balance of convenience favours him. The test for the grant of relief involves a consideration of the prospects of success and the balance of convenience - the stronger the prospects of success, the less need for such balance to favour the applicant; the weaker the prospects of success the greater the need for the balance of convenience to favour him. By balance of convenience is meant the prejudice to the applicant if the interdict be refused, weighed against the prejudice to the respondent if it be granted.

3. Even if there are material conflicts of fact the Courts will still grant interim relief. The proper approach is to take the facts as set out by the applicant, together with any facts set out by the respondent, which the applicant cannot dispute, and to consider whether, having regard to the inherent probabilities, the applicant should on those facts obtain final relief at a trial.

4. The facts set up in contradiction by the respondent should then be considered. If serious doubt is thrown on the case of the applicant he should not succeed in obtaining temporary relief, for his right, prima facie established, may only be open to 'some doubt'.

5. If there is mere contradiction, or unconvincing explanation,

the matter should be left to trial and the right be protected

in the mean time, subject of course to the respective

prejudice in the grant or refusal of interim relief.

6. Although the grant of a temporary interdict interferes with a right which is apparently possessed by the respondent, the position of the respondent is protected because, although the applicant sets up a case which prima facie establishes that the respondent has not the right apparently exercised by him, the test whether or not temporary relief is to be granted is the harm which will be done.

7. And in a proper case it might well be that no relief would be granted to the applicant except on conditions which would compensate the respondent for interference with his right, should the applicant fail to show at the trial that he was entitled to interfere.”


25. Met die toepassing van hierdie beginsels ten opsigte van die huidige aansoek is ek van mening dat die applikante wel ‘n prima facie saak uitgemaak het van ‘n sterk vooruitsig van sukses in die aansoek om tersydestelling van die bevel gemaak op 9 Desember 2005.


26. Wat die oorwig van gerief betref is dit dan ook so dat hoe gunstiger die applikante se kanse op sukses is, hoe geringer is die vereiste dat die oorwig van gerief met die toestaan van die tussentydse regshulp die applikante moet begunstig. Dit is te verstane dat die eerste respondent geldelike verliese sal ly indien hy nie drank aan die publiek mag verkoop nie. Die verkoop van drank aan die publiek vanaf die gastehuis is egter nie die eerste respondent se enigste inkomste nie, hy bedryf steeds die gastehuis en mag steeds drank aan gaste verkoop. Hy het boonop ook die opsie om enige skade te verhaal vanaf die applikante sou dit later blyk dat hy daarvan ontneem is om ‘n wettige besigheid te bedryf.


27. Aan die anderkant het die applikante, spesifiek die eerste applikant, ‘n saak uitgemaak dat hulle rus en privaatheid versteur word met tye wanneer die publiek die kroeg by die gastehuis besoek, regte wat nie maklik gekwantifiseer kan word nie. Die tweede applikant, ‘n eiendomsmakelaar, beweer ook dat ‘n voornemende koper nie meer belang gestel het in ‘n eiendom toe hy agtergekom het dat ‘n kroeg in die area bedryf word nie.


28. In hierdie omstandighede is die oorwig van gerief met die verlening van die regshulp na my mening ook ten gunste van die applikante en moet die applikante slaag in hierdie aansoek.


29. Ek is dus van oordeel dat die bevel nisi bekragtig behoort te word. Ek is egter van mening dat ter bespoediging van die finalisering van hierdie aangeleentheid applikant gelas moet word om die aansoek om ter syde stelling binne 14 dae na lewering van hierdie bevel in te stel.


30. Wat die kostes van hierdie aansoek betref betoog mnr. Van Niekerk dat die koste van ‘n tweede advokaat vir die applikante (mnr. Botha) ook ingesluit word. Ter regverdiging hiervan voer mnr. Van Niekerk aan dat die saak nie eenvoudig is nie en dus die dienste van ‘n senior advokaat regverdig. Die feit dat die saak van groot belang is vir die applikante dan ook ‘n tweede advokaat regverdig. Mnr. Van Rhyn voer egter aan dat die saak nie gekompliseerd is nie en dit nie ‘n tweede advokaat regverdig nie.


31. Na my mening is die blote feit dat beide kante deur senior advokate verteenwoordig is, alreeds aanduidend daarvan dat hierdie saak nie so eenvoudig of ongekompliseerd is nie. Dit is ook so dat die aard van die aansoek en die gevolge daarvan van groot belang is vir die applikante. Die vraag wat gevra moet word is of dit ‘n “wise and reasonable precaution” was vir die applikante om twee advokate aan te stel (sien Newman v Prinsloo and Another 1974(4) SA 408 (WLD) ) of anders gestel was dit “extravagant or over-cautious” ? (Sien Brown v The Administrator Natal 1966(3) SA 505(D).


32. Ek is nie van mening dat die applikante in die omstandighede van hierdie saak onnodiglik die dienste van twee advokate gebruik nie.

Die volgende bevele word gemaak


a) Die bevel nisi word bekragtig.

b) Die applikante word gelas om die aansoek om tersydestelling van die hofbevel in saaknommer 1472/05 te liasseer binne 14 dat van hierdie bevel.

c) Die eerste respondent word gelas om die koste van hierdie aansoek te betaal wat insluit die koste van twee advokate.







________________________

C.C WILLIAMS

REGTER




Nms. Applikante : Adv. Van Niekerk SC, Adv C Botha

i.o.v. Duncan & Rothman

Nms. 1ste Respondent: Adv. Vhan Rhyn SC

i.o.v Haarhoffs