South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley >> 2005 >> [2005] ZANCHC 25

| Noteup | LawCite

Horm v Swart and Others (549/2001) [2005] ZANCHC 25 (20 May 2005)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

VERSLAGWAARDIG JA/NEE

SIRKULEER ONDER REGTERS JA/NEE

SIRKULEER ONDER LANDDROSTE JA/NEE

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(NOORD-KAAPSE AFDELING)

KIMBERLEY

SAAK NO.: 549/2001

DATUM: 20/05 /2005


In die saak tussen:


CORNELIUS JOHANNES GERHARDUS HORN EISER


teen


PIETER JACOBUS SWART 1ste VERWEERDER

NEL & VENNOTE 2de VERWEERDER

JC (KOBUS) NEL 3de VERWEERDER


CORAM: C.C WILLIAMS :

U I T S P R A A K


WILLIAMS R:


Eiser en eerste verweerder het op 28 Desember 1999 ‘n skriftelike koopooreenkoms aangegaan waarvolgens eiser die eerste verweerder se eenhonderd persent ledebelang in ‘n beslote korporasie, Action Packers Upington BK (“Action Packers”) gekoop het. Eiser beweer dat in die weke wat die koopooreenkoms voorafgegaan het eerste verweerder, tweede verweerder (‘n geoktroieerde rekenmeestersfirma) verteenwoordig deur die derde verweerder (‘n geoktroieerde rekenmeester) en derde verweerder gesamentlik en/of afsonderlik sekere voorstellings aan hom gemaak het te wete:

6.1 Dat Action Packers BK ten tyde van die aangaan van die gemelde ooreenkoms en vir die hele tydperk wat Action Packers BK besigheid gedoen het as Action Packers BK solvent was;

6.2 Dat Action Packers BK se besigheid wat hy bedryf het, ten minste R2 400 000,00 (Twee miljoen vier honderd duisend rand) werd was;

6.3 Dat die finansiële state van Action Packers BK op datum opgestel en korrek was;

6.4 Dat Action Packers BK ‘n minimum van R40 000,00 (veertig duisend rand) nettto wins per maand maak en dat indien die bestuur verbeter, die bedrag sal verhoog na ten minste R100 000,00 (eenhonderd duisend rand) per maand.”


Eiser beweer voorts dat hy hierdie voorstellings geglo het en dat dit daartoe aanleiding gegee het dat hy die koopooreenkoms met eerste verweerder aangegaan het.


Daar word verder deur eiser beweer dat die gemelde voorstellings vals en bedrieglik was deurdat;

13.1 Action Packers BK ten tyde van die aangaan van die gemelde ooreenkoms en daarvoor, inderdaad insolvent was;

13.2 Action Packers BK se besigheid vanweë die feit dat dit insolvent was, nie enige waarde gehad het nie;

13.3 Action Packers BK se finansiële state nie op datum opgestel en korrek was nie;

13.4 Action Packers BK nie ‘n minimum van R40 000,00 (veertig duisend rand) netto wins per maand gemaak het nie maar inderdaad ‘n verlies gemaak het;

13.5 Daar geen moontlikheid bestaan het dat Action Packers BK deur verbeterde bestuur ‘n wins kon gemaak het nie.”


Eiser vorder nou hiermee teen die eerste verweerder ‘n bevel ingevolge waarvan dit bevind word dat die eiser geregtig was om die ooreenkoms met eerste verweerder te kanselleer en die betaling van ‘n bedrag van R1260 204,10, synde die gelde te wees wat die eiser reeds aan eerste verweerder betaal het. In die alternatief vorder die eiser teen al die verweerders gesamentlik en afsonderlik die betaling van die bedrag van R1 260 204,10, die bedrag waarin hy beweer hy skade gely het na Action Packers nie sy skuld kon betaal nie en gelikwideer was.


Op sy beurt het die eerste verweerder ‘n teeneis ingestel teen die eiser vir die betaling van die uitstaande balans van die koopprys op grond daarvan dat die eiser kontrakbreuk gepleeg het deur onder andere nie sy verpligtinge in terme van die ooreenkoms na te kom nie, deurdat daar aansoek gedoen is vir die likwidasie van Action Packers, deurdat Action Packers alle besigheid gestaak het en deurdat die eiser die ooreenkoms tussen die partye repudieer het.


Aan die einde van die eiser se saak is daar namens die drie verweerders aansoek gedoen om absolusie van die instansie.


Die eiser se getuienis is kortliks as volg: Gedurende Augustus 1999 het eerste Verweerder hom gevra om uit te help by Action Packers omdat eerste verweerder dit nie alleen kon hanteer nie. Action Packers bedryf besigheid as ‘n verspreidingsagent vir verskeie produkte wat aan winkels voorsien word. Op daardie stadium het eerste verweerder probleme ondervind met personeel wat steel en vragte wat nie betyds uitgegaan het nie. Eerste verweerder sou ook voorgestel het dat eiser by Action Packers werk vir ‘n klompie maande en dan besluit of hy die besigheid wou koop. In hierdie tyd het die eerste verweerder aan die derde verweerder genoem in die teenwoordigheid van eiser, dat eiser belangstel om die besigheid te koop. Derde verweerder was die rekenkundige beampte van eiser, eerste verweerder sowel as Action Packers.


Eiser het toe ook van tyd tot tyd vir derde verweerder geraadpleeg oor Action Packers se finansies aangesien hy self geen agtergond kennis gehad het nie. Met die verloop van tyd, dit blyk teen die einde van September begin Oktober 1999 te wees, het die eerste verweerder en eiser die koopprys bespreek. Eerste Verweerder sou aan eiser meedeel dat derde verweerder reken die besigheid is R1.2 miljoen werd en dat die geboue waardeer is vir R1.2 miljoen. Eerste verweerder het die koopprys vasgestel op R1.6 miljoen. Die koopprys is saamgestel uit die oorneem of aflos van sekere skuld van Action Packers soos die uitstaande verbande oor die vaste eiendom, oortrokke bankrekening en die aflosbedrae van kredietooreenkomste. Die balans van R981 588,28 moes deur eiser betaal word deur die betaling van R300 00,00 in drie maandelikse paaiemente van R100 000,00 die restant betaalbaar in maandelikse paaiemente vanaf 1 April 2000 tot 1 Oktober 2004.


Eerste verweerder het aan eiser meegedeel dat hy Action Packers se finansiële besonderhede vir die voorafgaande vier maande vanaf derde verweerder kon kry en die leêrs van die besigheid sou hy van Linda Hanekom, die boekhouer kon kry.


Hierdie leêrs het die eiser gekry by Hanekom met die doel om dit na ‘n vriend van hom, ene Opperman, te neem om ‘n kontantvloeistaat op te stel. Eerste verweerder het egter nie toegelaat dat die leêrs aan buite partye gewys word nie en het dit teruggeneem.


Eiser het ook die koopprys en notas wat hy gemaak het van die onderhandeling met eiser bespreek met derde verweerder. Derde verweerder sou aan eiser meedeel dat hy verbaas is dat eerste verweerder die besigheid verkoop vir R1.6 miljoen aangesien dit R2.4 miljoen werd is. Op hierdie geleentheid het die derde verweerder dan ook vir eiser meegedeel dat dit ‘n goeie besigheid is wat R40 000,00 wins maak per maand maar met goeie bestuur en inisiatief kon die wins tot R100 000,00 per maand beloop. Hy het die eiser egter geen finansiële state of rekords van Action Packers gegee of gewys nie.


Derde verweerder het op ‘n geleentheid nà hierdie gesprek vir die eiser gevra of hy (derde verweerder) ‘n koopkontrak kon laat opstel. Hierdie kontrak sou opgestel word deur ene Poen Berg, ‘n prokureur van Upington. Die kontrak (die konsepkontrak) is toe opgestel en die drie partye, eiser, eerste en derde verweerders het bymekaar gekom om dit te bespreek. Die konsepkontrak het egter nie vir eiser of eerste verweerder geval nie. Vanaf eiser se kant was die ongelukkigheid dat die betaling van die R300 000,00 in hierdie konsepkontrak ‘n eenmalige betaling sou wees in plaas van drie paaiemente van R100 000,00. Hierdie konsepkontrak is deur beide eiser en eerste verweerder verwerp. Eiser se getuienis is dat derde verweerder hom na hierdie geleentheid aangespreek het omdat hy die transaksie deur sy vingers sou laat glip, of woorde tot daardie effek. Op ‘n ander geleentheid het derde verweerder ook aan eiser meegedeel dat eerste verweerder hom geld sou leen om sy verpligtinge in terme van die kontrak na te kom en dat hy nie nodig het om finansiering daarvoor elders te soek nie.


Eerste verweerder het toe ‘n nuwe kontrak laat opstel deur ‘n prokureur Mnr. Viljoen, welke kontrak dan ook die een is wat onderteken is deur die partye. Eiser se getuienis in hierdie verband is dat hy voor ondertekening van die kontrak dit eers geneem het na sy prokureur ene Mnr. Moller om dit na te gaan. Nadat Moller sekere veranderings aan die kontrak laat maak het, het die eiser dit op dieselfde dag, 23 Desember 1999, onderteken in die teenwoordigheid van Moller en Viljoen. Eerste verweerder het die kontrak op 28 Desember 1999 onderteken.


Volgens eiser het hy slegs vir Moller, die oggend toe hy die kontrak vir hom geneem het, vertel van die probleem wat hy gehad het met die konsepkontrak se eenmalige betaling van die R300 000,00, en het hy dit aan Moller gelaat om toe te sien dat die kontrak regtens opgestel is. Met die ondertekening van die kontrak later die dag het Moller hom ingelig dat die probleem uitgesorteer is en dat hy die kontrak kon onderteken. Eiser het toe sonder om die kontrak te lees, dit onderteken.


Hy getuig dat hy nie deur òf Moller òf Viljoen gewys is op die inhoud van die kontrak nie.


Hoe dit ookal sy, die eiser het betalings begin maak in terme van die ooreenkoms en ook finansiering verkry vir die skulde en verbande wat hy moes aflos in terme van die ooreenkoms. Teen ongeveer April/Mei 2000, toe die besigheid nie winste realiseer het soos voorsien nie, het eiser vir derde verweerder versoek om finansiële state op te stel, wat ook gebruik sou word vir voorlegging aan die bank om beter fasiliteite te bekom. Hierdie finansiële state wat derde verweerder opgestel het vir Oktober 1999 tot Februarie 2000 het ‘n wins aangetoon van ongeveer R45 000,00 per maand vir daardie periode. Die eiser se getuienis is dat hy verbaas was om dit te hoor aangesien dit nie sy indruk was nie en hy ook geen winste gesien het nie.


Volgens die eiser het die besigheid van Action Packers gebukkend gegaan onder verskeie probleme, finaniseël en andersins. So byvoorbeeld het ‘n verskaffer van die pordukte wat Action Packers versprei het, aangedring op betaling van hul skuld, wat die eiser beweer voor sy intrede in die besigheid gemaak is en wat hy op derde verweerder se advies betaal het, alhoewel hy later die spesifieke rekening verloor het. Action Packers se oortrokke fasiliteit by ABSA is ook deur die bank verklein, wat verdere stremming op die besigheid geplaas het.


Teen Februarie 2001 het eiser op advies van sy prokureurs die besigheid gestaak en Action Packers gelikwideer omdat dit nie wins gemaak het nie. Verdere betalings aan eerste verweerder in terme van die kontrak is ook op hierdie stadium gestaak. Op 7 Mei 2001 het eiser se prokureur op daardie stadium ‘n Mnr. De Jager, die eerste verweerder skriftelik kennis gegee van kansellasie van die ooreenkoms en betaling geëis van die bedrag van R1260 204,10, synde die bedrag reeds betaal aan eerste verweerder of namens hom betaal ter nakoming van eiser se verpligtinge ingevolge die ooreenkoms.


Namens die eerste verweerder is daar betoog dat daar geen getuienis deur die eiser aangebied is dat eerste verweerder persoonlik enige valse voorstellings aan die eiser gemaak het soos beweer word in die pleitstukke nie. Hierbenewens betoog Mnr. Van Staden wat namens die eerste verweerder optree is daar ook geen getuienis dat tweede en derde verweerders die agente van eerste verweerder was nie. So ook dat die eiser gebonde is tot die ooreenkoms (hy is bygestaan deur ‘n prokureur met die ondertekening daarvan) en klousule 16 daarvan bepaal dat:

16.1 Die koper erken dat hy insae gehad het in die finansiële state en rekords van die Beslote Korporasie, insluitende alle kontrakte, afbetalings, kredietooreenkomste, voertuig finansiering en versekering.

16.2 Die koper erken dat geen waarborge ten opsigte van die winsgewendheid van die Beslote Korporasie of oorname van kontrakte deur die verkoper aan hom gemaak is nie.”


Verder word daar betoog is daar getuienis dat Action Packers wel ‘n wins gemaak het van ongeveer R45 000,00 per maand vir die vyf maande vanaf Oktober 1999, reeds die tydperk waarin die voorstellings na bewering gemaak is. Dit behoef genoem te word dat hierdie finansiële state opgestel is sonder om die posisie voor Oktober 1999 in ag te neem en stel dit dus nie ‘n volledige prentjie daar nie. Die partye is dit in elk geval eens dat die besigheid geen waarde gehad het op die tydstip toe die ooreenkoms aangagaan is nie.


Verder word betoog dat daar ook geen getuienis dat enige van die verweerders sou voorstel dat Action Packers solvent was of dat die finansiële state van Action Packers op datum en korrek was nie. ‘n Verdere rede wat deur mnr. Van Staden aangevoer word waarom absolusie gelas moet word is dat die eiser nie sy skade bewys het nie. Na kruisondervraging en dokumentasie voor die hof gelê blyk dit asof eiser slegs R138 000,00 persoonlik betaal het ten opsigte van die koopprys en die balans van sy eis met Action Packers tjeks betaal is. Eiser het ook ‘n dividend van R37 000,00 gekry uit die likwidasie van Action Packers en blyk dit asof die likwidasie proses nie afgehandel is nie en die moontlikheid van verder dividende nog bestaan..


Mnr. Green wat names die tweede en derde verweerders optree vereenselwig met die betoeë namens die eerste verweerder. Bykomend daartoe voer hy aan dat dit hoogs onwaarskynlik is dat ‘n professionele persoon soos die derde verweerder die voorstelling sou maak dat die besigheid R40 000,00 wins maak per maand wanneer die finansiële state van Action Packers wat op daardie stadium beskikbaar was en deur derde verweerder opgestel is, nie so ‘n wins toon nie. Derde verweerder het as rekenmeester opgetree vir eiser, eerste verweerde en action Packers en sou hy dus geen voordeel daaruit kry om so ‘n voorstelling te maak nie.


n Verdere punt deur Mnr. Green gemaak is dat alhowewel die eiser getuig dat die voorstellings deur die verweerders aan hom gemaak is al vanaf die middel van Oktober 1999, word daar in eiser se Nadere Besonderhede vir Verhoordoeleindes gemeld dat die voorstellings gemaak is in die tydperk ongeveer drie weke voor die ooreenkoms onderteken is. Op die eiser se weergawe in die hof was derde verweerder nie betrokke by die gebeure vir die periode drie weke voor die ooreenkoms nie en sou hy dus nie die voorstellings aan eiser kon maak in hierdie tydperk soos beweer in die pleitstukke nie. Indien die derde verweerder dus enige voorstellings gemaak het soos beweer deur eiser is dit nie die voorstellings wat gelei het tot die ooreenkoms nie.


Namens die verweerders is daar ook betoog dat die eiser se getuienis so onwaarskynlik en deurspek is met teenstrydighede dat hierdie ‘n geval is waar geloofwaardigheid in aanmerking gebring kan word by die bepaling van die aansoek om absolusie.


Die toets by ‘n aansoek om absolusie word deur Harms AR in Gordon Lloyd Page & Associates v Rivera and Another 2001(1) SA 88 as die volgende gestel te 88E-I.

[2] The test for absolution to be applied by a trial court at the end of a plaintiff's case was formulated in Claude Neon Lights (SA) Ltd v Daniel 1976 (4) SA 403 (A) at 409G - H in these terms:
'. . . (W)hen absolution from the instance is sought at the close of plaintiff's case, the test to be applied is not whether the evidence led by plaintiff establishes what would finally be required to be established, but whether there is evidence upon which a Court, applying its mind reasonably to such evidence, could or might (not should, nor ought to) find for the plaintiff. (Gascoyne v Paul and Hunter 1917 TPD 170 at 173; Ruto Flour Mills (Pty) Ltd v Adelson (2) 1958 (4) SA 307 (T).)'
This implies that a plaintiff has to make out a prima facie case - in the sense that there is evidence relating to all the elements of the claim - to survive absolution because without such evidence no court could find for the plaintiff (Marine & Trade Insurance Co Ltd v Van der Schyff 1972 (1) SA 26 (A) at 37G - 38A; Schmidt Bewysreg 4th ed at 91 - 2). As far as inferences from the evidence are concerned, the inference relied upon by the plaintiff must be a reasonable one, not the only reasonable one (Schmidt at 93). The test has from time to time been formulated in different terms, especially it has been said that the court must consider whether there is 'evidence upon which a reasonable man might find for the plaintiff' (Gascoyne (loc cit)) - a test which had its origin in jury trials when the 'reasonable man' was a reasonable member of the jury (Ruto Flour Mills). Such a formulation tends to cloud the issue. The court ought not to be concerned with what someone else might think; it should rather be concerned with its own judgment and not that of another 'reasonable' person or court. Having said this, absolution at the end of a plaintiff's case, in the ordinary course of events, will nevertheless be granted sparingly but when the occasion arises.”


Hierdie is ‘n tipiese geval waar absolusie nie geredelik toegestaan word na afhandeling van die eiser se saak nie. In die eerste plek is daar meerdere verweerders wat in die alternatief aangespreek word en in die tweede plek het die eerste verweerder ‘n teeneis ingestel. Dit is weliswaar nie ‘n geval waar die verweerders direk vinger wys na mekaar oor wie verantwoordelik is vir die eiser se skade nie, maar dit is nie die einde van dié probleem nie. Eiser se getuienis is dat derde verweerder as agent van eerste verweerder opgetree het met die transaksie. Dit word natuurlik deur die eerste verweerder ontken, maar vir doeleindes van hierdie aansoek moet ek aanvaar “in the absence of very special considerations, such as, eg., evidence inherently unacceptable” dat die eiser se getuienis waar is. Sien Atlantic Continental Assurance Co. of SA v Vermaak 1973(2) SA 525(E) te 527 C-D.

Ek is nie van mening dat die eiser se getuienis inherent onaanvaarbaar is nie, en kan sy geloofwaardigheid al dan nie, ook nie op hierdie stadium ‘n rol speel nie. As daar dan aanvaar word op hierdie stadium dat die eiser se bewering dat derde verweerder as agent van eerste verweerder opgetree het so staan, is die eerste verweerder se argument dat hy persoonlik op eiser se getuienis geen voorstellings gemaak het nie maar van min waarde.


Die verhouding tussen eerste verweerder aan die een kant en tweede en derde verweerder aan die ander kant kan ook gesien word as uitsluitlik binne hulle eie kennis en is die opmerking van Beadle CJ in Supreme Service Station v Fox and Goodridge (Pvt) Ltd 1971(4) SA 90 (RA) te 93 F van toepassing waar hy sê “If the defence is something peculiarly within the knowledge of a defendant, and the plaintiff has made out some case to answer, the plaintiff should not lightly be deprived of his remedy without first hearing what the defendant has to say. A defendant who might be afraid to go into the box should not be permitted to shelter behind the procedure of absolution from the instance.”


Op die feite voor my is die rol wat die derde verweerder gespeel het sentraal tot die aangeleentheid. Dit slaan nie net op die alternatiewe eis teen die verweerders nie, maar gaan ook tot die kern van die hoofeis teen die eerste verweerder.


Op die eiser se getuienis oor derde verweerder se rol in die transaksie meen ek nie dat dit in belang van geregtigheid is dat absolusie toegestaan word ten gunste van enige van die verweerders nie.


Die argument deur die verweerders geopper dat die aansoek van absolusie moet slaag bloot op die feit dat die eiser nie sy skade voldoende bewys het nie is na my mening nie deurslaggewend nie, veral wat die hoofeis wat kontraktueel van aard is betref. Dat daar wel gedeeltelik prestreer is in terme van die kontrak is nie in dispuut nie, soos blyk vanuit die eerste verweerder se teeneis self. Indien daar aan die einde van die saak bevind word dat die ooreenkoms geldiglik gekanselleer is deur die eiser, meen ek nie dat dit onmoontlik is om sy skade in die verband te bereken nie.


Die posisie ten opsigte van die alternatiewe eis teen die verweerders, is natuurlik verskillend deurdat dit ‘n deliktuele eis is met ‘n ander maatstaf van skadebepaling, vermoënskade, as ‘n kontraktuele eis. Nogtans gesien in die lig daarvan dat ek nie van mening is dat óf die een óf die ander verweerder kwytgeskeld behoort te word vir redes soos reeds hierbo genoem meen ek nie hierdie oorweging kan ten gunste van tweede en derde verweerders in ag geneem word nie.


Die volgende bevel word gemaak:


a) Die aansoek deur eerste verweerder word van die hand gewys, Eerste verweerder word gelas om die koste veroorsaak deur die aansoek te betaal.


b) Die aansoek deur tweede en derde verweerders word van die hand gewys. Tweede en derde verweerders word gelas om die koste veroorsaak deur die aansoek te betaal gesamentlik en afsonderlik, indien die een betaal die ander kwytgeskeld te wees.





_________________________

C.C WILLIAMS

REGTER







Nms. Eiser : Adv. Botha

Nms 1 ste Verweerder: Adv. Van Staden

Nms 2de Verweerder: Adv. Green




Datum van verhoor: 26/30-07/2004

Datum van uitspraak: 20-05-2005