South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley >> 2002 >> [2002] ZANCHC 12

| Noteup | LawCite

S v Visagie (CA & R 142/01) [2002] ZANCHC 12 (3 May 2002)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

Verslagwaardig: Ja / Nee

Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee

Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)



Saakno: CA & R 142/01


Datum verhoor: 2002-04-29

Datum gelewer: 2002-05-03



In die appél van:


MARIA HELENA VISAGIE APPELLANT


versus


DIE STAAT RESPONDENT


Coram: MAJIEDT R et LACOCK R


UITSPRAAK OP APPéL



MAJIEDT R:

  1. Die Appellant kom in hoër beroep teen die vonnis wat haar opgelê is in die Streekhof nadat sy skuldig bevind is aan diefstal en vervalsing, welke skuldigbevinding gevolg het op ‘n pleit van skuldig op dié betrokke aanklagte.


  1. Die Appellant is ten aansien van die diefstal gevonnis tot 6 jaar gevangenisstraf en ten aansien van die vervalsing tot 1 jaar gevangenisstraf. Daar is ingevolge die bepalings vervat in art 280 van die Strafproseswet (Wet 51 van 1977, “die Wet”) gelas dat die vonnisse samelopend uitgedien moet word.


  1. Die feite van hierdie aangeleentheid soos dit blyk ex facie die Appellant se skriftelike pleitverduideliking ingevolge art 112(2) van die Wet, welke feitebasis aanvaar is deur die Staat is as volg:


    1. Die Appellant was ‘n werknemer van Absa Bank te Upington waar sy in beheer was van ‘n subtak as ‘n tellerkontroleur. Sy was sedert 1984 in diens van die bank.

    2. In haar posisie as tellerkontroleur by die subtak soos voormeld, was sy ook in beheer van die gelde wat in die kluis by die subtak gehou is. Sy het gedurende Maart 1996 begin om geld uit die kluis te steel en het daarmee volgehou tot ongeveer Februarie 2001. Haar modus operandi was kortliks as volg:- Sy was bewus daarvan dat die hooftak se personeellede die geldnote in die kluis nagegaan het, maar nie die muntstukke nie. Die rede vir dié nalate was dat dit baie tyd in beslag sou neem en verder ook dat die personeellede wat daarmee getaak was by die hooftak, haar vertrou het. Sy het dan die syfers ten aansien van die geldmunte vermeerder, die syfers ten aansien van die geldnote dienooreenkomstig verminder en die oorskot in geldnote aan haarself toegeëien. Sy het in totaal minstens R400 000.00 op hierdie wyse van haar werkgewer gesteel (die werklike bedrag kon nie bepaal word nie).

    3. Gedurende Februarie 2001 toe dit begin duidelik word dat haar werkgewer onraad vermoed en dat haar jarelange dieftige optrede aan die kaak gestel sou word, het sy die misdryf in aanklag 2, te wete vervalsing, gepleeg deurdat sy ‘n sogenaamde “general ledger deposit slip” ten bedrae van R700 000.00 uitgemaak het, terwyl dit inderdaad in die bedrag van R300 000.00 moes wees. Hierdie “general ledger deposit slip” is uitgemaak op grond van ‘n aanvraag deur Eerste Nasionale Bank, Upington vanaf Absa Bank Upington vir die bedrag van R300 000.00.


  1. Die Appellant het in haar pleitverduideliking aangevoer dat sy die diefstal gepleeg het aangesien haar eggenoot vanweë wisselvallige werksomstandighede ernstige finansiële probleme ondervind het. Ten einde dié probleme te ondervang het sy die gelde wat so gesteel was vanaf haar werkgewer aangewend om tekorte op haar en haar man se maandelikse begroting wat sy behartig het, aan te vul.


  1. Namens die Appellant is daar ter strafversagting die getuienis aangebied van Dr Irma Labuschagne, ‘n forensiese kriminoloog en Me GM Eksteen, ‘n senior maatskaplike werkster verbonde aan die Departement Korrektiewe Dienste. Beide hierdie getuies het aan die hof a quo voorgehou dat die Appellant ‘n geskikte kandidaat vir ‘n vonnis van korrektiewe toesig is. Ek sal aanstons in meer besonderhede handel met hulle getuienis en aanbevelings.


  1. Namens die Appellant het Mnr Olivier voor ons aangevoer dat die vonnis skokkend onvanpas is. Hy steun nie op enige mistasting wat die landdros sou begaan het tydens vonnisoplegging nie. In wese kom sy betoog namens die Appellant daarop neer dat die landdros die strafverswarende omstandighede oorbeklemtoon en die Appellant se persoonlike omstandighede onderbeklemtoon het met die gevolg dat die effektiewe vonnis van ses jaar gevangenisstraf, wat na sy submissie skokkend onvanpas is, opgelê is. Hy het aan ons voorgehou dat ‘n vonnis ingevolge art 276(1)(i) van die Wet alternatiewelik ‘n vonnis van gevangenisstraf met ‘n heelwat korter termyn meer vanpas sou wees in die omstandighede.

Mnr Roach wat namens die Staat optree, het versoek dat ons die opgelegde vonnis bekragtig.


  1. Die landdros het ‘n baie volledige en weldeurdagte uitspraak op vonnis gelewer. Hy het die tersaaklike faktore by vonnisoplegging deeglik voor oë gehou en het breedvoerig gehandel met die getuienis wat ter strafversagting aangebied is. Wat laasgenoemde aanbetref, het die landdros na my mening, heeltemal tereg tot die slotsom gekom dat die getuienis en aanbevelings van Dr Labuschagne en veral van Me Eksteen, heeltemal eensydiglik ten gunste van die Appellant aangebied is en dat onvoldoende (en in die geval van Me Eksteen, geen) oorweging geskenk is aan die erns van die misdrywe en die wyse waarop dit gepleeg is nie. Veral Dr Labuschagne se aanvanklike mening in haar verslag, naamlik dat die Appellant nie uit blote hebsug gesteel het nie, maar eerder uit “nood”, is in ‘n ander perspektief geplaas nadat sy daaroor deeglik deur die Aanklaer gekruisondervra is. Me Eksteen se getuienis en aanbeveling het tot ‘n groot mate hul trefkrag verloor toe dit aan haar uitgewys is tydens kruisondervraging dat sy hoegenaamd geen inligting ingewin het oor die aard en die erns van die misdrywe asook die Appellant se modus operandi daaraangaande nie. Ek meen verder dat die landdros heeltemal tereg die houding ingeneem het dat die Appellant se versuim om self te getuig ter strafversagting vir die landdros in ‘n moeilike posisie geplaas het wanneer dit kom by die oorweging van haar eintlike beweegrede vir die pleging van die misdrywe, veral die diefstal. Alhoewel Meneer Olivier aanvanklik die landdros daaroor gekritiseer het in sy betoogshoofde, het hy voor ons heeltemal geredelik toegegee dat die hof a quo in ‘n gunstiger posisie sou gewees het by vonnisoplegging indien die Appellant die hof in haar vertroue geneem het deur self te getuig oor waarom sy die misdrywe gepleeg het. Sy het weliswaar aan Dr Labuschagne redes daarvoor verstrek, welke redes ooreenstem met dié voorgehou in haar pleitverduideliking waarna ek alreeds verwys het, maar is dit te betwyfel of daar inderdaad ook nie ‘n mate van hebsug betrokke was by die pleging van die misdrywe nie.


  1. Die volgende strafversagtende faktore is aan te merk ten gunste van die Appellant en het die landdros dit ook aldus deeglik inaggeneem:


    1. Sy is ‘n eerste oortreder;

    2. Sy het skuldig gepleit, met klaarblyklik opregte berou oor die voorval en het vanuit die staanspoor haar volle samewerking aan haar werkgewer gegee, deur skriftelik te verduidelik hoe sy te werk gegaan het om die diefstal te pleeg;

    3. Sy het haar werk verloor a.g.v. die voorval en het ‘n bedrag van R97 268.66 terug betaal aan die bank, synde haar pensioengeld;

    4. Sy het ‘n baie bestendige werksrekord gehad en was volgens alle aanduidings ‘n voortreflike werknemer wat ondermeer buitegewone merietetoekennings vir haar werk ontvang het.


  1. Daar was ‘n aanbod gemaak ter terugbetaling van die verlies wat die bank gely het, welke aanbod nie aanvaar is nie omdat dit nie prakties haalbaar is nie.


  1. Die strafverswarende faktore wat die landdros inaggeneem het is die volgende:


    1. Die Appellant het op sluwe en fyn beplande wyse van haar werkgewer gesteel terwyl sy in ‘n besondere vertrouensposisie was;

    2. Sy het die diefstal oor ‘n lang tydperk, tewete bykans vyf jaar gepleeg;

    3. Die Appellant het haar optredes probeer verbloem deur die volgende:

  • Sy het dokumentasie vernietig wat verband hou met die bedrae geld wat gesteel was, met die gevolg dat nòg die bank nòg die hof a quo uiteindelik in staat was om die volle bedrag wat gesteel was te kwantifiseer en is dit aan die hof a quo voorgehou dat die minimum bedrag wat sò gesteel is, R400 000.00 beloop;

  • Sy het, wanneer sy op verlof gegaan het vir ‘n aantal dae, die spesiale sleutel van die kluis saamgeneem ten einde andere toegang tot die kluis te weerhou ingeval haar diefstalle ontdek sou word;

  • Op ‘n stadium toe dit vir haar duidelik geword het dat haar jarelange diefstal ontbloot sou word, het sy, in ‘n poging om die diefstal te verdoesel, die misdryf in aanklag 2 (vervalsing) gepleeg.

    1. Die Appellant het die misdrywe gepleeg om haar lewensstandaard te handhaaf ten alle koste en was daar ‘n aansienlike mate van gierigheid betrokke.

    2. Die Appellant het nooit ‘n poging aangewend om haar werkgewer, die bank, te nader en in haar vertroue te neem en te poog om met die bank se hulp haar gesin se ernstige finansiële probleme te probeer ondervang nie.


  1. ‘n Verdere faktor wat ter sake is by die oorweging op appél van die gepastheid van die opgelegde vonnis is die feit dat die Appellant nie in staat is om die balans van die bedrag wat die bank skade gely het, ongeveer R303 000.00, terug te kan betaal nie.


  1. Die beperkte bevoegdhede van ‘n Hof van Appél by vonnis is nou reeds geyk. Verder is die toets nie of die Hof van Appél ‘n ligter of ‘n swaarder vonnis as die opgelegde vonnis sou oplê nie, maar of die vonnis skokkend onvanpas is al dan nie;

Sien: S v Shapiro 1994(1) SASV 112(A) per Nicolas WN.AR te 119 j:


It may well be that this Court would have imposed on the accused a heavier sentence than that imposed by the trial Judge. But even if that be assumed to be the fact, that would not in itself justify interference with the sentence.”


Die vraag of ‘n vonnis wat opgelê is skokkend onvanpas is, is nie so maklik om te antwoord in die praktyk nie. Sien in hierdie verband die opmerkings van Marais AR in S v Sadler 2000(1) SASV 331 (HHA) te 334 h:


The traditional formulation of the approach to appeals against sentence on the ground of extensive severity or excessive lenience where there has been no misdirection on the part of the court which imposed the sentence is easy enough to state. It is less easy to apply”.


  1. Dit is onteenseglik so dat elke saak op sy eie meriete en besondere feite beoordeel moet word wanneer dit kom by die oplegging van vonnis. Dit is egter opmerklik dat ons howe, afhangende van die omstandighede van ‘n bepaalde saak, in die algemeen die pleging van sogenaamde “witboordjiemisdade” in ‘n baie ernstige lig beskou. Hierdie benadering word vergestalt in die uitspraak van Marais AR in S v Sadler, supra, te 335 g – 336 c.

Beide Mnre Olivier en Roach het verskeie ander gewysdes voorgehou ten aansien van vonnis. Ek ag dit nie nodig om volledig daarna te verwys en daarmee te handel nie. Ek volstaan daarmee dat ook in hierdie Afdeling, die neiging is om sogenaamde “witboordjiemisdade” in ‘n ernstige lig te beskou en om direkte gevangenisstraf aan skuldiges op te lê. Ek verwys vervolgens kortliks na enkele van hierdie aangeleenthede:


a) In S v Lötter, ‘n ongerapporteerde uitspraak (Noord-Kaap, saaknommer KS 64/90) van Basson R gelewer op 14/11/1990 welke uitspraak gehandhaaf is deur die Volbank van hierdie Afdeling, is ‘n 44-jarige werknemer van ‘n bouvereniging wat ‘n bedrag van ongeveer R467 000.00 oor ‘n tydperk van 8 dae van haar werkgewer gesteel het, gevonnis tot ses jaar gevangenisstraf. In daardie saak het die beskuldigde ‘n bedrag van R184 00.00 terugbetaal aan haar werkgewer en ‘n balans van ongeveer R283 000.00 was toe steeds uitstaande. Alhoewel ‘n aanbod gemaak is om R5 000.00 per maand terug te betaal, kon die beskuldigde geen verdere betalings maak nie.

  1. In S v Muller 1991(2) SASV 417(NK) het ‘n Volbank van hierdie afdeling ‘n vonnis van vyf jaar gevangenisstraf of appél bekragtig nadat ‘n prokureur homself skuldig gemaak het aan diefstal van trustgelde in ‘n bedrag van R301 000.00 oor ‘n tydperk van twee jaar.

  2. In die saak van S van Rooyen ‘n ongerapporteerde uitspraak (Noord-Kaap, saaknommer KS 57/94) het Malherbe R die beskuldigde, ‘n eerste oortreder, ‘n vonnis van twaalf jaar gevangenisstraf opgelê vir bedrog. Die bedrog is gepleeg deur ‘n skema aan te wend om insetbelasting bedrieglik van die Ontvanger van Inkomste te eis. ‘n Bedrag van R25.2 miljoen was betrokke met ‘n uiteindelike verlies aan die Staat van meer as R2.2 miljoen. Die beskuldigde se deel van die buit was R3.3 miljoen, waarvan die grootste gedeelte teruggevorder is deur die Staat. ‘n Volbank van hierdie Afdeling het ‘n appél teen vonnis van die hand gewys.

  3. Voortspruitend uit dieselfde voorval as die voorafgaande saak is dié van S v Coetzee en andere. In ‘n ongerapporteerde uitspraak (Noord-Kaap, saaknommer KS 33/94) het Van der Walt R beskuldigde 5 in daardie saak gevonnis tot 8 jaar gevangenisstraf. Die betrokke beskuldigde, De Hart, was ook ‘n eerste oortreder en was, soos Van Rooyen, ‘n werknemer in die kantoor van die Ontvanger van Inkomste en het hulle twee, veral Van Rooyen, sentraal gefigureer in die BTW-bedrog.

  4. In S v Van Niekerk 1993(1) SASV 482 (NK) het die betrokke beskuldigde bedrog van ongeveer R3 miljoen gepleeg deur fiktiewe transaksies aan te gaan met ‘n koöperasie. Die bedrog is oor ‘n periode van meer as twee jaar gepleeg en net die beskuldigde is deur die betrokke bedrog bevoordeel. Die beskuldigde, ‘n eerste oortreder, is gevonnis tot agt jaar gevangenisstraf.


    1. Dit is van groot belang dat geregshowe konsekwent moet optree met die oplegging van vonnis vir soortgelyke misdrywe. Konsekwentheid van strawwe kan uiteraard nie verhef word tot ‘n absolute beginsel nie; Sien:

Krugel & Terblanche: Praktiese Vonnisoplegging, bl 106 par. (d);

S v Giannoulus 1975(4) SA 867 A.

Gedagtig aan die voormelde caveat, is ek die mening toegedaan dat die landdros se benadering korrek was dat die misdrywe waaraan die Appellant skuldig bevind is, direkte gevangenisstraf verg. Dit is weliswaar so, soos Mnr Olivier betoog het dat, wanneer die vonnis in die onderhawige geval vergelyk word met dié opgelê op appél in S v Sadler, supra, die Appellant se vonnis op die oog af voorkom as té swaar. Ek is egter nie daarvan oortuig dat die vonnis skokkend onvanpas is nie.


    1. Die appél word derhalwe van die hand gewys en die Appellant se skuldigbevinding en vonnis word bekragtig.






___________

SA MAJIEDT

REGTER


Ek stem saam:





__________

HJ LACOCK

REGTER


NAMENS APPELLANT: ADV CJ OLIVIER

NAMENS RESPONDENT: MNR LJ ROACH


DATUM VAN VERHOOR: 29 APRIL 2002

DATUM VAN UITSPRAAK: 3 MEI 2002