SAFLII [Home] [Databases] [WorldLII] [Search] [Feedback]

South Africa: Land Claims Court

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Land Claims Court >> 2006 >> [2006] ZALCC 11

[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]


Van der Colf v Van Rooyen and Others (LCC122R/06) [2006] ZALCC 11 (17 November 2006)

PDF of original document.PDF of original document

.RTF of original document


IN DIE GRONDEISEHOF VAN SUID-AFRIKA



In Kamers Landdroshof Saaknommer : 2738/05

Voor Gildenhuys R Grondeisehof Saaknommer : LCC122R/06



Beslis op 17 November 2006



In die saak tussen:


JOHAN VAN DER COLF Applikant


en


JAN VAN ROOYEN Eerste Respondent

MEV VAN ROOYEN Tweede Respondent

MNR JAN VAN ROOYEN

(namens minderjarige okkupeerders) Derde Respondent





UITSPRAAK





GILDENHUYS R:


  1. Hierdie saak kom voor my op outomatiese hersiening ingevolge artikel 19(3) van die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg,Wet 62 van 1997 (“ESTA”).

  1. Die applikant beweer hy is die geregistreerde eienaar van persele 41 en 42, Kanoneiland, Upington (“die plaas”). Die eerste respondent is op 6 Augustus 1950 gebore. Hy werk sedert 1969 op die plaas, en is ‘n “okkupeerder” soos omskryf in ESTA. Die ander respondente is lede van sy familie. Op 10 September 2003 het die eerste respondent vanweë swak gesondheid en fisiese ongeskiktheid bedank.

  1. Die applikant beweer dat hy die respondente se verblyfreg op 25 November 2004 in terme van artikel 8 van ESTA beëindig het. Daarna het hy die stappe geneem wat deur ESTA voorgeskryf word, ten einde die respondente van die plaas af te kry.

  1. Kragtens kennisgewing van mosie gedateer 30 Augustus 2006 het die applikant aansoek vir die respondente se uitsetting gedoen. Die respondente het die saak verdedig. Hulle was deurentyd deur ‘n prokureur, Mnr Zunaid Julie, verteenwoordig.

  1. Die eerste respondent het in sy eedsverlaring die verweer geopper dat sy verblyfreg kragtens artikel 8(4) van ESTA nie beëindig mag word nie omdat hy vir meer as 10 jaar op die plaas gewoon het en hy vanweë swak gesondheid en ongeskiktheid bedank het. Artikel 8(4) lees soos volg :

  1. Die verblyfreg van ‘n okkupeerder wat vir 10 jaar op die betrokke grond of enige ander grond wat aan die eienaar behoort, gewoon het en -

  2. (a) die ouderdom van 60 jaar bereik het; of

  3. (b) ‘n werknemer of voormalige werknemer van die eienaar of persoon in beheer is en as gevolg van swak gesondheid, besering of ongeskiktheid nie in staat is om arbeid aan die eienaar of persoon in beheer te verskaf nie,

  4. kan nie beëindig word nie tensy sodanige okkupeerder ‘n verbreking soos beoog in artikel 10(1)(a), (b) of (c) begaan het : Met dien verstande dat vir doeleindes van hierdie subartikel die blote versuim of weiering om arbeid te verskaf nie sodanige verbreking uitmaak nie.

  1. Mnr Julie het die artikel 8(4) verweer voor die Landdros geargumenteer, dog hy was nie suksesvol nie. Op 10 Augustus 2006 het die Landdros die volgende bevel gemaak.

  1. Die respondente word bevel om perseel 41 en 42 Kanoneiland te verlaat voor of op 10 Oktober 2006.

  2. Indien Respondente nalaat om perseel 41 en 42 Kanoneiland te verlaat voor of op 10 Oktober 2006 word die Balju (Upington) gemagtig en bevel om die uitsetting te voltrek op 24 Oktober 2006 of daarna.

  3. Geen bevel met betrekking tot koste word gemaak nie.

  4. Bogenoemde bevel word opgeskort hangende die hersiening daarvan deur die Grond Eise Hof.”

  1. Nadat ek die saak vir outomatiese hersiening ontvang het, het ek ‘n aantal vrae aan die Landdros gerig. Een daarvan was of artikel 8(4) van ESTA nie ‘n uitsettingsbevel in die weg staan nie. Hy het moeite gedoen met die beantwoording van my vrae, waarvoor ek hom dank verskuldig is. Ek is tevrede met al sy antwoorde behalwe die antwoord met betrekking tot artikel 8(4). Ek handel vervolgens daarmee.

  1. Die Landdros motiveer sy beslissing soos volg :

  1. Die hof is bewus van die bepalings van Art. 8(4) Wet 62/97, maar wys die Hof u respekvol op die bepalings van Art. 10(1)(d) en Art. 10(2). Art. 8(4) verwys nie na (d) nie (maar kan na my mening ook nie (d) uitsluit nie). Art. 10(1)(d) bepaal . . . ‘n Bevel kan verleen word vir die uitsetting van iemand wat op 4.2.97 ‘n okkupeerder was indien (d) die okkupeerder i)’n werknemer is of was wie se verblyfreg uitsluitlik uit sodanige diens voortspruit en (my onderstreping) (ii) vrywillig bedank het in omstandighede wat nie op konstruktiewe ontslag ingevolge die wet op arbeidsverhoudinge neerkom nie.

  2. Art. 10(2) Behoudens die bepalings van subartikel (3) indien geen van die omstandighede in subartikel (1) bedoel van toepassing is nie, kan ‘n hof ‘n bevel vir uitsetting verleen slegs (my onderstreping) indien die hof oortuig is dat geskikte alternatiewe akkommodasie vir die betrokke okkupeerder beskikbaar is.

  3. Beide hierdie aangehaalde artikels magtig uitsetting.”

  1. Artikels 10(1) en (2) lees soos volg :

  1. (1) ‘n Bevel kan verleen word vir die uitsetting van iemand wat op 4 Februarie 1997 ‘n okkupeerder was indien –

  2. (a) die okkupeerder ‘n verbreking van artikel 6(3) begaan het en die hof oortuig is dat die oortreding wesenlik is en dat die okkupeerder dit nie herstel het nie;

  3. (b) die eienaar of persoon in beheer voldoen het aan die bepalings van enige ooreenkoms in verband met die okkupeerder se reg van verblyf op die grond en sy of haar pligte van regsweë nagekom het, terwyl die okkupeerder ‘n wesenlike en billike bepaling van ‘n ooreenkoms verbreek het, alhoewel hy of sy redelikerwys in staat was om daaraan te voldoen, en nie die gebrek herstel het nie ondanks die feit dat skriftelike kennis van een kalendermaand aan hom of haar gegee is om dit te doen;

  4. (c) die okkupeerder so ‘n wesenlike verbreking vAn die verhouding tussen hom of haar en die eienaar of persoon in beheer gepleeg het, dat dit nie prakties moontlik is om dit, hetsy die geheel of op ‘n wyse wat redelikerwys die verhouding kan herstel, te herstel nie, of

  5. (d) die okkupeerder –

  6. (i) ‘n werknemer is of was wie se verblyfreg uitsluitlik uit sodanige diens voortspruit; en

  1. vrywilliglik bedank het in omstandighede wat nie op konstruktiewe ontslag ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge neerkom nie.

  1. (2) Behoudens die bepalings van subartikel (3), indien geen van die omstandighede in subartikel (1) bedoel van toepassing is nie, kan ‘n hof ‘n bevel vir die uitsetting verleen slegs indien die hof oortuig is dat geskikte alternatiewe akkommodasie vir die betrokke okkupeerder beskikbaar is.”

  1. Ek kan, met respek, nie met die Landdros se benadering saamstem nie. Artikel 8(4) verbied die beëindiging van die respondente se verblyfreg behalwe in die geval van ‘n verbreking soos bedoel in artikel 10(1)(a), (b) of (c) van ESTA.

  1. Artikel 9(2) van ESTA lees soos volg :

  1. (2) ’n Hof kan ‘n bevel vir die uitsetting van ‘n okkupeerder verleen indien –

  2. (a) die okkupeerder se verblyfreg ingevolge artikel 8 beëindig is;

  3. (b) die okkupeerder nie die grond ontruim het nie bine die tydperk van kennisgewing wat deur die eienaar of persoon in beheer gegee is;

  4. (c) daar aan die voorwaardes vir ‘n uitsettingsbevel ingevolge artikel 10 of 11 voldoen is; en

  5. (d) die eienaar of persoon in beheer, na die beëindiging van die verblyfreg –

  6. (i) die okkupeerder;

  7. (ii) die munisipaliteit in wie se jurisdiksiegebied die betrokke grond geleë is; en

  8. (iii) die hoof van die betrokke provinsiale kantoor van die Departement van Grondsake, ter inligting,

  9. minstens twee kalendermaande kennis gegee het van die voorneme om ‘n uitsettingsbevel te verkry …”

  1. Die kansellasie van ‘n okkupeerder se verblyfreg ingevolge artikel 8 [soos vereis kragtens artikel 9(2)(a)] staan los van en is addisioneel tot voldoening aan die bepalings van artikel 10 of 11 [soos vereis kragtens artikel 9(2)(c)]. Die een is nie ‘n alternatief van die ander nie. Indien ‘n okkupeerder se verblyfreg vanweë artikel 8(4) nie gekanselleer kan word nie, kan die voorskrif van artikel 9(2)(a) nie nagekom word nie. Die woord “en” aan die einde van subartikel (c) bevestig dat daar aan al die subartikels van artikel 9(2) voldoen moet word voordat ‘n uitsettingsbevel verleen kan word. As dit anders was, hoe sal ‘n werknemer ooit op grond van swak gesondheid kan bedank sonder om daardeur sy reg op voorgesette verblyf ingevolge artikel 8(4) prys te gee? Die wetgewer het myns insiens bedoel dat ‘n werknemer wat vanweë swak gesondheid moet bedank, op die plaas mag aanbly.

  1. Dieselfde benadering geld ten opsigte van die Landdros se siening dat ‘n uitsettingsbevel siening ingevolge artikel 10(2) verleen kan word indien geskikte alternatiewe akkommodasie vir die respondente beskikbaar is. Afgesien van die onhoudbaarheid van so ‘n standpunt, is dit ook nie bewys dat die akkommodasie wat na bewering vir die respondente beskikbaar is, wel “geskikte” alternatiewe akkommodasie is nie. Die begrip “geskikte alternatiewe akkommodasie” word soos volg in ESTA omskryf:

  1. alternatiewe akkommodasie wat veilig en in die algemeen nie minder gunstig as die okkuperders se vorige posisie is nie, met inagneming van die woonakkommodasie en grond vir landbougebruik wat voor uitsetting aan hulle beskikbaar was, en geskik is met inagneming van –

  2. (a) die redelike behoeftes van al die okkupeerders in die betrokke huishouding vir woonakkommodasie, grond vir landbougebruik en dienste;

  3. (b) hulle gesamentlike verdienstelikheidsvermoëns; en

  4. (c) die behoefte om naby werksgeleenthede of ander ekonomiese aktiwiteite te woon indien hulle beoog om ekonomies aktief te wees;”

  1. Die tweede en derde respondente se reg om op die plaas te woon spruit uit die eerste respondent se verbyfreg. Hulle is nie “okkupeerders” in eie reg nie. Indien die eerste respondent op die plaas mag bly woon, kan hulle dit ook doen.

  1. Dit volg dat die Landdros se bevel van 10 Augustus 2006 nie kan bly staan nie. Dit word hierby in sy geheel ter syde gestel.

  1. __________________________

  2. REGTER A GILDENHUYS

  3. GRONDEISEHOF


Vir die applikant:

Mnr C Wessels van Lange Carr & Wessels Ing, Upington



Vir die respondente :

Mnr Z Julie van Lawyers for Human Rights, Upington


SAFLII: | Terms of Use | Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZALCC/2006/11.html