SAFLII [Home] [Databases] [WorldLII] [Search] [Feedback]

South Africa: Labour Appeal Court

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Labour Appeal Court >> 1997 >> [1997] ZALAC 1

[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]


Nissan SA (Edms) Beperk v Gous en 'n Ander (JA107/97) [1997] ZALAC 1 (1 January 1997)

.RTF of original document


IN DIE ARBEIDSAPP?LHOF VAN SUID AFRIKA
GEHOU TE JOHANNESBURG
Saak nommer: JA 107/97

In die saak tussen:
NISSAN SA (EDMS) BEPERK                                                        Appellant
en
HT GOUS                                                                          Eerste Respondent
PA VAN ZWEEL                                                                    Tweede Respondent
  UITSPRAAK
 
[1]      Hierdie is ‘n app?l teen die toestaan van ’n kondonasie-aansoek in die nywerheidshof. Dit dien in hierdie hof uit hoofde van die oorgangsbepalings vervat in artikel 22 van skedule 7 van die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995 (“die nuwe Wet”). Daarvolgens moet die aangeleentheid beoordeel word op grond van die bepalings van die vorige Wet op Arbeidsverhoudinge 28 van 1956 (“die ou Wet”). Dit op sigself is nie ongewoon nie. Wat wel ongewoon (en ontstellend) is, is dat die geskil waaruit die app?l voortspruit sy beslag vind in die ontslag uit diens van die twee respondente in Maart 1993, welke ontslag op interne app?l bevestig is in Junie 1993. Dit is nou vyf jaar later en daar sou redelikerwys verwag kon word dat finaliteit oor die werklike geskil, naamlik of die respondente onbillik ontslaan is al dan nie, nou op hande is. Dit is egter nie die geval nie. Die aansoek ingevolge artikel 46(9) van die ou Wet wat in die onderhawige geval voor die nywerheidshof gedien het, was die derde poging van die respondente om die substantiewe geskil oor hul ontslag vir beregting voor die nywerheidshof te bring. Die nywerheidshof het bevind dat die respondente se laat verwysing van die geskil na die hof gekondoneer behoort te word. Daarteen kom die appellant (“Nissan”) nou in hoër beroep. Die uitslag van die app?l sal bepaal of die werklike geskil uiteindelik na vyf jaar aangehoor sal word of nie.

[2]      Die verduideliking vir hierdie onbevredigende toestand van sake is redelik ingewikkeld en daarin l? ’n gevaar verskuil. Die betreklik ingewikkelde verloop van sake mag daartoe lei dat die onderliggende rede vir die klaarblyklike mislukking van ’n gewone en spoedige beregting van die aangeleentheid misgekyk word. Daardie rede is, na my oordeel, die nalate (doelbewus of andersins) om die oogmerke van die versoeningsmeganismes in die ou Wet na behore in gedagte te hou.

[3]      Voordat die nywerheidshof die bevoegheid kry om ’n geskil, verwys na die hof ingevolge artikel 46 (9) van die ou Wet, te bereg, moet die geskil eers voor ’n versoeningsraad of, waar toepaslik, ’n nywerheidsraad dien (artikel 35(1), 35(3) en 27A van die ou Wet). Daarsonder ontbreek die nywerheidshof aan jurisdiksie ( Pinetown Town Council v President Industrial Court and others 1984 (3) SA 173 (N) te 179H-I). Die oogmerk hiervan behoort duidelik te wees: in arbeidsaangeleenthede word versoening as metode om geskille op te los hoog aangeslaan. Versoening, en pogings daartoe, is nie blote vormvereistes nie. Indien suksesvol dien dit die doel om geskille in die arbeidsveld betreklik vreedsaam op te los. Bereik dit nie daardie doel nie, het dit minstens die voordeel dat, teoreties altans, die partye beregting deur die nywerheidshof slegs as laaste uitweg gebruik.

[4]      Die vraag is nou tot welke mate die oogmerke van die statut?re versoeningsvereistes in die ou Wet in hierdie aangeleentheid verwesenlik is. Ten einde hierdie vraag behoorlik te oorweeg, moet dit egter ook in behoorlike perpektief geplaas word. Dit is tans nie in geskil dat Nissan vir doeleindes van die ou Wet die respondente se werkgewer was tydens hul afdanking nie. Op 30 November 1992 het Truckmakers (Edms) Beperk (“Truckmakers”) ’n ooreenkoms aangegaan met Nissan ingevolge waarvan Nissan Truckmakers se verpligtinge as werkgewer van, onder andere, die respondente oorgeneem het. Hierdie wesenlike feit is eers op 15 September 1997 deur Nissan se regsverteenwoordiger in die nywerheidshof erken.

[5]      Na hul afdanking in die middel van 1993 het die respondente aansoek gedoen vir die instelling van ’n versoeningsraad ingevolge die ou Wet. In hierdie aansoek, gedateer 12 Julie 1993 en ontvang deur die departement van Mannekrag op 22 Julie 1993, is die respondent se werkgewer aangedui as “Nissan Suid-Afrika (Edms) Beperk (Truckmakers Eiendoms Beperk)”. Slegs een fisiese adres, telefoonnommer en faksnommer is daarvoor aangegee. ’n Versoeningsraad is op 29 Julie 1993 aangestel. Geen verteenwoordiger van ?f Truckmakers ?f Nissan het by die versoeningsraadvergadering opgedaag nie.

[6]      Dieselfde dag as wat die versoeningsraad aangestel is, naamlik 22 Julie 1993, het die respondente ’n aansoek ingevolge artikel 43 van die ou Wet in die Nywerheidshof van stapel gestuur vir die instandhouding van hul diens hangende afhandeling van hul substantiewe aansoek by die hof ingevolge artikel 46 (9) van die ou Wet. Die enigste teenparty in die artikel 43 aansoek was Truckmakers. Hierdie aansoek is op 14 Desember 1993 van die hand gewys op grond van Truckmakers se beswaar dat die geskil na die toepaslike nywerheidsraad ingevolge artikel 27A van die ou Wet verwys moes gewees het en nie na ’n versoeningsraad ingevolge artikel 35 (3) nie. Geen melding is gemaak daarvan dat Nissan ingevolge die 1992 ooreenkoms die respondente se werkgewer was nie.

[7]      Intussen, op 17 November 1993, het die respondente voortgegaan met die instel van die beoogde artikel 46(9) verrigtinge, di? keer met Truckmakers en Automakers (Edms) Beprk (“Automakers”) as die teenpartye. Vir dieselfde rede as in die onsuksesvolle artikel 43 verrigtinge, naamlik die beweerde verkeerde verwysing na die versoeningsraad in plaas van die nywerheidsraad, het die respondente hierdie verrigtinge teen Truckmakers en Automakers (“die eerste aansoek”) teruggetrek op 4 Januarie 1994.

[8]      Hierna het die respondente hul geskil na die Motor Nywerheidsraad vir Suid-Afrika vir versoening verwys. Geen versoening het daarop gevolg nie. Respondente het toe weer atikel 46(9) verrigtinge ingestel in die Nywerheidshof (“die tweede aansoek”). In antwoord op ’n aansoek om voeging van Nissan en Automakers tot die tweede aansoek het Nissan aangevoer dat daar nie ’n behoorlike verwysing van die geskil ingevolge artikel 27A van die ou Wet na die toepaslike nywerheidsraad plaasgevind het nie. Op daardie stadium was daar ’n poging tussen die regsverteenwoordigers om die geskil te skik met die gevolg dat die voegingsaansoek teen Nissan en Automakers op 21 Oktober 1994 teruggetrek is.

[9]      Die tweede aansoek het verdere teenspoed opgetel van die oorblywende teenparty, Truckmakers. Laasgenoemde het geslaag om die verwysing na die nywerheidsraad vir versoening in die Hooggeregshof ter syde te stel op hersiening. Dit was effektiewelik die einde van die tweede aansoek.

[10]     As gevolg van die hersiening en tersydestelling van die verwysing na die nywerheidsraad vir versoening, was die respondente genoodsaak om aansoek te doen vir kondonasie by die direkteur-generaal van die department ingevolge artikel 27A van die ou Wet vir ’n nuwe verwysing na die toepaslike nywerheidsraad. Hierdie aansoek is toegestaan, maar weereens is die geskil nie by die nywerheidsraad bygel? nie. Van verdere belang is dat die sekretaris van die nywerheidsraad op 22 September 1995 op navraag te kenne gegee het dat die nywerheidsraad jurisdiksie het ten opsigte van beide Truckmakers en Nissan. Na die mislukking van versoening by die nywerheidsraad het die respondente in Junie 1996 verdere artikel 46(9) verrigtinge (“die derde aansoek”) teen Truckmakers, Nissan en Automakers aanhangig gemaak in die nywerheidshof. Die onderhawige app?l spruit voort uit aangeleenthede wat saamhang met hierdie derde aansoek.

[11]     Respondente het in hul saakuiteensetting beweer dat Automakers die houermaatskappy van Truckmakers en Nissan was; dat Nissan en Truckmakers ’n gemeenskaplike indentiteit en belang gehad het; dat Truckmakers tans’ ’ n “dormante” maatskappy was; en dat hulle al drie die respondente se werknemers ingevolge die ou Wet was. Op 14 Oktober 1996 het Truckmakers hierop geantwoord deur te beweer dat hulle die respondente se enigste werkgewer was. Daar is voorts erken dat die statut?re verwysing na die toepaslike nywerheidsraad gedoen is, maar die beweerde prosedurele en substantiewe onbillikheid in die respondente se diensbeëindiging is ontken.

[12]     Nissan en Automakers daarenteen het eers ’n jaar na indiening van respondente se saakuiteensetting daarop gereageer, naamlik op 28 Augustus 1997. Hulle het nie op die meriete van die respondente se eis gepleit nie, maar bloot ‘n beswaar in limine geopper. Wat Nissan betref was die kern daarvan dat Nissan nie onder die jurisdiksie van die nywerheidsraad geval het nie; dat daar ook geen verwysing na ’n versoeningsraad was nie; en dat die nywerheidshof derhalwe geen jurisdiksie gehad het om die saak aan te hoor nie. Die ironie hiervan is treffend: dit is presies die teenoorgestelde van Nissan se beswaar tot voeging as ’n party in die tweede aansoek ( sien paragraaf [8] hierbo). In daardie aansoek is ges? die geskil moes vir versoening na die toepaslike nywerheidsraad gegaan het. Hier word beweer dit moes nie gebeur het nie - die verwysing moes na die versoeningsraad gegaan het! Hoe dit ook al sy, by die aanhoor van die in limine beswaar het respondente se regsverteenwoordiger die punt ten opsigte van die foutiewe verwysing na die nywerheidsraad blykbaar aanvaar, maar betoog dat die oorspronklike aansoek en aanstelling van ’n versoeningsraad in Julie 1993 ’n behoorlike verwysing vir doeleindes van die nywerheidshof se jurisdiksie was. Di? betoog is tereg verwerp en die respondente is daarna geleentheid gegun om behoorlik aansoek te doen vir kondonasie vir die laat verwysing van die geskil vanaf die versoeningsraad na die nywerheidshof. Die aansoek is toegestaan en daarteen word nou ge-appelleer.

[13]     Die respondente se verduideliking vir die laat verwysing was dat die agtergrond tot die kondonasie aansoek, soos in wese hierbo uiteengesit, aanduidend was van die verstaanbare verwarring by die respondente, nie alleen ten opsigte van watter statut?re versoeningstruktuur die korrekte een was om by aan te klop nie, maar ook ten opsigte van wie hul werklike werkgewer was vir doeleindes van die toepassing van die ou Wet. Beide in die hof a quo en op app?l is hierdie verduideliking as onvoldoende afgekraak deur Nissan se regsverteenwoordiger. Volgens die betoog is daar geen voldoende verduideliking waarom Nissan nie aanvanklik as ’n party tot die eerste aansoek gevoeg is nie; waarom die gepoogde voeging van Nissan eers in die tweede aansoek gedoen en toe teruggetrek is nie; en waarom Nissan eers in die derde aansoek as ’n party betrek is nie. Voorts is aan die hand gedoen dat die werklike rede om Nissan by die derde aansoek te betrek, die misplaaste opvatting van die respondente is dat Truckmakers dormant is, en moontlik nie kan voldoen aan ’n hofbevel nie. Laastens is ook aangevoer dat die respondente nie redelike vooruitsigte op sukses in die hoofsaak aangetoon het nie.

[14]     Die vereistes vir ’n suksesvolle kondonasie aansoek, naamlik ’n behoorlike verduideliking vir die versuim wat kondonasie noodsaak, asook redelike vooruitsigte op sukses in die hoofsaak, is natuurlik van wesenlike belang om te bepaal of kondonasie in ’n bepaalde geval toegestaan moet word al dan nie. Hierdie vereistes is in onlangse uitsprake van hierdie Hof weer eens sterk beklemtoon (Glansbeek v JDG Trading (Pty)Ltd [1998] 3 BLLR 223 (LAC); Sennet & Wessels (Pietersburg) BK v Prins JA 72/97 (LAC) para. 18; Classiclean (Pty) Ltd v CWIU and Others JA 60/97 (LAC) para. 5; Joering & Sons (Pty) Ltd t/a Joerings Pharmacy and Others v Coetzee 14/97 (LAC) para. 22; Allround Tooling (Pty) Ltd v NUMSA DA 2/97 (LAC) para. 10.).

[15]     Dit is dus nodig om die kritiek teen die aanvaarbaarheid van die respondente se verduideliking met erns te bejeën. Wat egter ook in gedagte gehou moet word is Nissan se eie optrede en aandeel in die vertraging van die afhandeling van die eintlike meriete van die saak. Al hierdie faktore moet dan beoordeel word met behoorlike inagneming van die oogmerke van die bepalings van die ou Wet, soos uiteegesit in paragrawe [3] en [4] hierbo.

[16]     Die aanvanklike aansoek vir die aanstelling van ’n versoeningsraad deur die respondente in Julie 1993 het Truckmakers en Nissan as een en dieselfde entiteit beskryf. Dit verduidelik waarskynlik waarom Nissan nie in eie naam by die eerste aansoek en gepaardgaande artikel 43 verrigtinge betrek is nie. Die eerste aansoek het skipbreuk gely op grond van ’n skynbare foutiewe verwysing na die einste versoeningsraad wat Nissan nou beweer jurisdiksie gehad het in die geskil tussen Nissan en die respondente. Daar is wel gepoog om Nissan te betrek by die tweede aansoek, maar dit is laat vaar in ‘n poging om die aangeleentheid te skik. Op daardie stadium het Nissan nog glad nie openbaar dat hulle die respondente se werkgewer sedert November 1992 was nie. Inteendeel, in hul opposisie tot die voegingsaansoek steun hulle op die punt dat hulle nie behoorlik voor die toepaslike nywerheidsraad (nie versoeningsraad nie) gebring is nie. Afstanddoening kan slegs geskied waar ’n party bewustelik afstand doen van ’n reg. Die terugtrekking van die voegingsaansoek in die omstandighede so pas beskryf val beslis nie binne daardie kategorie nie. Die tweede aansoek het gefaal as gevolg van ’n defektiewe verwysing na die toepaslike nywerheidsraad. Daarna doen die respondente besondere moeite om ook Nissan voor die toepaslike nywerheidsraad te bring, maar hul loon daarvoor is dat Nissan toe omspring en beweer hulle val nie onder die nywerheidsraad se bevoegheid nie. Op eg Kafka-agtige wyse voer Nissan nou aan dat die geskil na ’n versoeningsraad verwys moes gewees het - iets wat wel in Junie 1993 gedoen is (waar Nissan nie die moeite gedoen het om op te daag by die versoeningsraadvergadering nie). Om sake te vererger, erken Nissan eers in September 1997 dat hulle die respondente se werkgewer is - iets wat vir meer as vier jaar nie ge-openbaar is nie.

[17]     Wat feitelik uit hierdie relaas blyk, is dat die geskil wat uit die respondente se diensbeëindiging voortspruit, by minstens drie geleenthede voor verskillende statut?re versoeningsmeganismes gedien het, maar nie daar geskik kon word nie. Nissan se langdurige en teenstrydige aandrang op die nakoming van die statut?re versoeningsvereistes was altyd gerig op vorm en nie substansie nie - n?rens blyk dit dat Nissan begerig was of is om die geskil te skik of te versoen nie. Om gehoor te gee aan hierdie holle aandrang op nakoming van vormvereistes, ten koste van die behoorlike beregting van die wese en meriete van respondente se eis, kan nie gedoog word nie.

[18]     Daar kan geen sprake wees van benadeling vir Nissan hierin nie. Dieselfde persoon wat die aansoeke namens Truckmakers hanteer het, doen dit ook namens Nissan. As daar enige benadeling is, moet Nissan self verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Die 1992 ooreenkoms bevat ’n bepaling dat die werknemers van Truckmasters toestem dat Nissan nou hul werkgewer word. N?g Truckmakers n?g Nissan het die respondente ingelig dat Nissan nou hul werkgewer is. Dit kon maklik gedoen gewees het by die ontstaan van die geskil. In plaas daarvan het Nissan en Truckmakers (en nie die respondente, soos betoog is namens Nissan nie) ’n kat-en-muis speletjie begin wat nou al vir langer as vyf jaar duur. Dit is moeilik om enige rasionele rede daarvoor te bespeur.   

[19]     Die vereiste van redelike vooruitsigte op sukses kan kortliks afgehandel word. As die respondente slaag om getuienis aan te bied wat hul beweringe van prosedurele en substantiewe onbillikheid in paragraph 25 en 26 van hul saakuitsetting staaf, kan hul eis teen Nissan (wat nou erken het dat hy hul werkgewer was) slaag. Op hierdie stadium is daar nie genoegsame gronde om te betwyfel dat sodanige getuienis wel aangebied sal word nie.

[20]     Gevolglik word die app?l van die hand gewys met koste.



JC FRONEMAN ARP

Ek stem saam


JF MYBURGH RP.

Ek stem saam


C NICHOLSON AR.

Verhoor datum:   29 Junie 1998.
Uitspraak datum:        

VERSKYNINGS

Appellant:       .....in opdrag van: Pienaar, Swart & Nkadimeng.
Respondent:      .....in opdrag van: Sampson Okes & Higgins.

Hierdie uitspraak is verkrygbaar op die Internet by website: http//www.law.wits.co.za./labourcrt


SAFLII: | Terms of Use | Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZALAC/1997/1.html