South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >> 2015 >> [2015] ZAGPPHC 173

| Noteup | LawCite

Van Der Schyff and Another v Minister van Polisie and Others (22899/2012,23000/2012) [2015] ZAGPPHC 173 (4 March 2015)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOë HOF VAN SUID-AFRIKA

(GAUTENG AFDELING, PRETORIA)

Saakno: 22899/2012

23000/2012

Not reportable

Not of interest to other judges

Date: 4 March 2015

In die saak tussen:

J F VAN DER SCHYFF........................................................................................................Eerste Eiser

G BOTHA...........................................................................................................................Tweede Eiser

en

DIE MINISTER VAN POLISIE................................................................................Eerste Verweerder

KONSTABEL MADUNA.........................................................................................Tweede Verweerder

DIREKTEUR VAN OPENBARE VERVOLGINGS................................................Derde Verweerder

UITSPRAAK

D S FOURIE, R:

[1] Hierdie uitspraak word in Afrikaans gelewer aangesien die hele verhoor in Afrikaans gevoer is.  Daar is aanvanklik twee veskillende aksies wat uit dieselfde voorval ontstaan het teen die verweerders ingestel. By die aanvang van die verhoor en op versoek van die partye is daar ingevolge Reël 11 ‘n konsolidasie van aksies gelas waarna die verrigtinge as een verhoor voortgesit is.

[2] Die partye het ook by ooreenkoms ‘n dokument voorberei (bewysstuk “A”) waarin die geskilpunte en die feite wat gemeensaak is, uiteengesit word.  Beide eisers het daarna hul vorderings teen die tweede en derde verweerders teruggetrek asook eis nommer 2 (kwaadwillige vervolging) teen die eerste verweerder laat vaar.  Daarop het eerste verweerder sy spesiale pleit (van nie-voldoening aan die statutêre voorskrifte) ook laat vaar. Dit laat beide eisers met ‘n vordering vir betaling van skadevergoeding vir beweerde onregmatige arrestasie en aanhouding.

[3] Die partye is dit eens dat die relevante tydperk van aanhouding vir beide eisers ongeveer 4 dae was. Daar is verder ooreengekom dat beide vorderings slegs vir die betaling van algemene skadevergoeding is en dat geen spesiale skade gevorder word nie.  Daar het gevolglik slegs twee geskilpunte oorgebly, naamlik die vraag of die arrestasie en aanhouding van beide eisers onregmatig was en indien wel, wat die skadevergoedingsbedrag vir elke eiser behoort te wees.

GETUIENIS VIR DIE EISERS:

EERSTE EISER

[4] Mnr Van der Schyff het getuig dat hy 60 jaar oud is en as ‘n sakeman vir homself werk.  Op Donderdag 7 April 2011 was hy by sy huis, besig om aandete te geniet.  Teen ongeveer 20h30 het hy sirenes gehoor en toe hy uitgaan sien hy polisievoertuie met blou ligte asook ongeveer agt polisiebeamptes voor sy huis.  Hy was op daardie stadium ‘n lid van die plaaslike gemeenskapsforum wat hulle pligte in samewerking met die polisie uitgevoer het.

[5] Hy is in kennis gestel dat die polisie ‘n verklaring van hom verlang met betrekking tot ‘n aanranding wat die vorige Saterdagaand glo plaasgevind het.  Hy is toe versoek om die polisiebeamptes vir die doel na die polisiestasie te vergesel.  By die polisiestasie is hy na ‘n konferensiekamer geneem waar hy meegedeel is dat hy nou nêrens heen sal gaan nie, aangesien die man wat aangerand was, oorlede is.  Geen lasbrief vir sy arres en aanhouding is aan hom getoon nie.

[6] Hy is nie toegelaat om terug te gaan huis toe nie.  Hy het toe die voorsitter van die gemeenskapsforum geskakel om hom van die gebeure in te lig.  Hy is in die polisieselle tot Maandag 11 April 2011 aangehou.  Daarna is hy vir die eerste keer voor ‘n hof gebring wat sy verdere aanhouding gelas het.  Hy is daarna vir ongeveer 32 dae in die Pretoria Sentraalgevangenis aangehou waarna die klag van moord teen hom teruggetrek en hy vrygelaat is.

[7] Gedurende die tyd wat hy in die polisieselle aangehou was moes hy aanvanklik een sel met ongeveer 8 mense gedeel het.  Hy moes op ‘n dun matras, bekend as ‘n selmat, op die grond slaap en was bang aangesien hy nie veilig gevoel het nie.  Sy kos het hoofsaaklik uit pap in die oggend en vier snye brood vir middag en aandete bestaan.  Na ongeveer 2 dae is hy op eie versoek na ‘n enkelsel oorgeplaas.  Die toiletgeriewe was glad nie aanvaarbaar nie en die stort was vuil.  Hy het wel besoeke van sy vrou en dogter ontvang.  Dit het hom ontstel toe sy dogter uit skok tydens die eerste besoek vir hom gelag het.

[8] In kruisverhoor het hy beweer dat hy onder valse voorwendsels van ‘n verklaring wat hy moes aflê na die polisiestasie geneem is.  Hy het ook genoem dat sy familie wat kos gebring het, nie toegelaat was om dit vir hom te gee nie.  Hy het bygevoeg dat gedurende die tyd wat hy ‘n sel met ander mense moes deel hy min geslaap het, aangesien hy bang was wanneer dit donker geword het.

TWEEDE EISER

[9] Mnr Botha is ‘n 34-jarige dieselwerktuigkundige.  Hy het getuig dat gedurende die vroeë oggendure van Saterdag 30 April 2011 het hy ‘n “gehamer” teen sy huis se voordeur gehoor.  Toe hy oopmaak was daar ongeveer 12 polisielede wat hulle vuurwapens op hom gerig het.  Hulle het nie gesê waarom hulle dit doen nie.  Slegs hy en sy vrou was tuis.  Hy is daar geboei en by die voordeur uitgestoot terwyl iemand gesê het  “hardloop ons wil jou skiet”.  Terwyl hy na ‘n vangwa geneem is, het sy buurman nader gekom en gevra of hy kan help.  Die polisie het toe vir hom gesê:  “Gaan terug of ons arresteer jou ook”.

[10] Hy is toe in ‘n vangwa geplaas waarna hulle ook na ander lede van die gemeenskapsforum se huise gery het.  Die tweede eiser was op daardie stadium ook ‘n lid van die gemeenskapsforum.  Tydens sy arrestasie by die huis is daar wel beweer dat die polisie ‘n lasbrief het, maar hy het dit nooit gesien nie.  Hulle het toe by ‘n motorhawe stilgehou.  Sy skoonouers het daar aangekom en vir die polisie gevra waarom hulle hom gearresteer het.  Volgens hom het hulle toe gesê:  “Dis niks van julle besigheid nie, staan terug anders arresteer ons jou ook.”  Hulle is toe van daar af na die polisiestasie toe.

[11] By die polisiestasie is hy in ‘n sel saam met ongeveer 8 tot 10 ander mense geplaas.  Dit was ongeveer 1:15 die oggend.  Daar is vir hom gesê dat hy ‘n medepligtige in ‘n moordsaak is.  Nog steeds het hy geen lasbrief gesien nie.  Hy moes op ‘n dun matras sonder ‘n kombers slaap.  Hy kon egter nie slaap nie aangesien hy vir sy lewe gevrees het.

[12] Sy kos in die oggend het uit mieliepap en swart tee bestaan.  Later is hy ook brood gegee, maar dit was oud en het soos “toast” gelyk.  Sy vrou het hom besoek maar sy is nie toegelaat om kos vir hom te gee nie.  Op Sondagmiddag 1 Mei 2011 is hy ingevolge ‘n dringende hofbevel vrygelaat hangende die finalisering van ‘n uitkenningsparade wat op 3 Mei 2011 sou plaasvind.  Tydens die uitkenningsparade is hy “uitgewys” waarna hy toe weer gearresteer en in die polisieselle aangehou is.  Volgens hom het die toilette sleg geruik en is hy later van ‘n skoonmaakmiddel voorsien om dit te ontsmet.  Tydens besoeke moes hy agter ‘n glasvenster sit.

[13] Woensdagoggend is hy voor ‘n hof gebring waarna die saak vir ‘n verdere 7 dae uitgestel is.  Daar is gelas dat hy in aanhouding moes bly.  Na verstryking van hierdie tydperk is hy meegedeel dat die saak teen hom teruggetrek is.  Volgens hom het hierdie voorval bygedra tot die verbrokkeling van sy huwelik.  Tydens kruisverhoor het hy toegegee dat daar verskeie ander redes vir die verbrokkeling van sy huwelik bestaan het.  Hy het ook verduidelik dat sy prokureur voor sy arrestasie versoek was dat hy ‘n uitkenningsparade moes bywoon. 

SAAK VIR DIE EERSTE VERWEERDER:

[14] Na sluiting van die eisers se saak is die eerste verweerder se saak gesluit sonder om enige getuies te roep.  Daar is ook op geen stadium verwys na of gesteun op die bestaan van ‘n lasbrief vir die arres en aanhouding van die eisers nie.

AANSPREEKLIKHEID VAN DIE EERSTE VERWEERDER:

[15] Volgens die getuienis van beide eisers moet ek aflei dat hulle sonder ‘n lasbrief gearresteer en aangehou is.  Geen weersprekende getuienis deur die eerste verweerder is voorgelê nie.  Ek moet derhalwe tot die gevolgtrekking kom dat beide arrestasies en aanhoudings sonder ‘n lasbrief uitgevoer is.  In die lig hiervan het daar ‘n bewyslas op die eerste verweerder gerus om die regmatigheid van die arrestasies en aanhoudings te bewys.  Hierdie beginsel is soos volg in Minister of Law and Order & Others v Hurley & Another 1986 (3) SA 568 (A) op 589E-F verduidelik:

"An arrest constitutes an interference with the liberty of the individual concerned, and it therefore seems to be fair and just to require that the person who arrested or caused the arrest of another person should bear the onus of proving that his action was justified in law.”

[16] Ingevolge die bepalings van artikel 40(1) van die Strafproseswet 51 van 1977 kan ‘n vredesbeampte onder sekere omstandighede iemand sonder ‘n lasbrief in hegtenis neem.  Die gronde soos daarin vermeld is egter nie outomaties op elke arrestasie van toepassing nie.  Daar moet getuienis aangebied word wat ‘n Hof op ‘n oorwig van waarskynlikhede sal oortuig dat die arrestasie en aanhouding regmatig was.

[17] Die eerste verweerder het geen sodanige getuienis aangebied nie en derhalwe ook nie daarin geslaag om die bewyslas te kwyt nie.  Ek bevind gevolglik dat die arrestasie en aanhouding vir die tydperk van 4 dae in beide gevalle onregmatig was.  Soos reeds hierbo genoem, hierdie is ‘n tydperk wat tussen die partye ooreengekom is, klaarblyklik omdat die eisers se verdere aanhouding daarna ingevolge ‘n hofbevel geskied het.

OMVANG VAN SKADEVERGOEDING:

[18] As vertrekpunt het die eisers se advokaat na sekere faktore verwys wat in aggeneem moet word by die oorweging van skadevergoeding.  Hy het na Law of Damages, 2de Uitgawe, Visser et al, p 472 verwys waar die geleerde skrywers die volgende samevatting gee:

"In deprivation of liberty the amount of satisfaction is calculated by the Court ex aequo et bono.  Factors which can play a role are the circumstances under which the deprivation of liberty took place;  the presence or absence of improper motive or ‘malice’ on the part of the defendant;  the harsh conduct of the defendants;  the duration and nature (e.g. solitary confinement) of the deprivation of liberty;  the status, standing, age and health of the plaintiff; the extent of the publicity given to the deprivation of liberty; the presence or absence of an apology or satisfactory explanation of the events by the defendant;  awards in previous comparable cases;  the fact that in addition to physical freedom, other personality interests such as honour and good name have been infringed;  the high value of the right to physical liberty;  the effects of inflation;  and the fact that the actio iniuriarum also has a punitive function.”

[19] Dit is ook belangrik om die doel van enige toekenning wat gemaak moet word, asook hoe dit bepaal moet word, in die regte perspektief te plaas.  Bosielo WAR (soos hy toe was) het dit soos volg in Minister of Safety and Security v Tyulu 2009 (5) SA 85 (HHA) op  93 (par 26) verwoord:

"In the assessment of damages for unlawful arrest and detention, it is important to bear in mind that the primary purpose is not to enrich the aggrieved party but to offer him or her some much-needed solatium for his or her injured feelings.  It is therefore crucial that serious attempts be made to ensure that the damages awarded are commensurate with the injury inflicted.  However, our courts should be astute to ensure that the awards they make for such infractions reflect the importance of the right to personal liberty and the seriousness with which any arbitrary deprivation of personal liberty is viewed in our law.  I readily concede that it is impossible to determine an award of damages for this kind of injuria with any kind of mathematical accuracy.  Although it is always helpful to have regard to awards made in previous cases to serve as a guide, such an approach if slavishly followed can prove to be treacherous.  The correct approach is to have regard to all the facts of the particular case and to determine the quantum of damages on such facts. ...”

[20] Met inagneming van hierdie dictum en voordat ek die feite en omstandighede van die eisers se saak oorweeg, is dit wenslik om kortliks ook na sommige beslissings wat die partye se advokate aan my voorgehou het,  te verwys:  In Louw v Minister of Safety and Security 2006 (2) SASV 178 (T) was die eisers vir ‘n tydperk van 20 ure onregmatig aangehou.  ‘n Bedrag van R75 000.00 is aan beide van hulle gedurende Augustus 2004 toegeken.  Volgens Koch, The Quantum Yearbook 2014, pp 2 en 3, was die monetêre waarde van so ‘n toekenning R134 000.00 gedurende 2014.  In Olivier v Minister of Safety and Security 2009 (3) SA 434 (WPA) was die eiser, ‘n superintendent in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, vir ‘n tydperk van 5 tot 6 ure onregmatig aangehou.  Skadevergoeding in die bedrag van R50 000.00 is gedurende Februarie 2008 aan hom toegeken.  Volgens Koch, supra, was die monetêre waarde van hierdie toekenning R69 000.00 gedurende 2014.

[21] In Rudolph v Minister of Safety and Security 2009 (5) SA 94 (HHA) was die eiser vanaf 17h00 op die Vrydag tot 12h00 die volgende Dinsdag onder vernederende omstandighede onregmatig aangehou.  ‘n Bedrag van R100 000.00 is gedurende Maart 2009 deur die Hoogste Hof van Appèl toegeken.  Volgens Koch, supra, was hierdie toekenning se monetêre waarde R129 000.00 gedurende 2014.  In Masisi v Minister of Safety and Security 2011 (2) SASV 262 (GNP) was die eiser vir ‘n tydperk van ongeveer 5 ure onregmatig opgesluit.  Hy is skadevergoeding ten bedrae van R65 000.00 gedurende Desember 2010 toegeken.  Volgens Koch, supra, was die monetêre waarde van hierdie toekenning R80 000.00 gedurende 2014.

[22] Met verwysing na onder andere hierdie gesag het beide advokate aan die hand gedoen (sonder om ‘n skikking te bereik) dat ‘n bedrag van R120 000 gepaste skadevergoeding vir elk van die eisers behoort te wees.  Ek aanvaar sonder twyfel dat hulle na deeglike oorweging tot hierdie slotsom gekom het, maar ek kan ongelukkig nie daarmee saamstem nie.  Ek is egter nie aan hulle submissies gebonde nie en sal gevolglik die aangeleentheid verder moet oorweeg waarna ‘n vasstelling gemaak sal word.  Die gesag hierbo na verwys is slegs riglyne om ‘n hof behulpsaam te wees met die vasstelling van skadevergoeding.  Dit is egter steeds belangrik om te let op die feite en omstandighede van elke betrokke geval. Dit beteken dat daar geïndividualiseer moet word met inagneming van die algemene beginsels en riglyne hierbo na verwys.

[23]  Beide eisers se arrestasie en aanhouding spruit voort uit dieselfde voorval.  Albei moes aan die Polisie bekend gewees het, aangesien hulle lede van ‘n gemeenskapsforum was wat hulle pligte in samewerking met die Polisie uitgevoer het.  Die eerste eiser is van sy huis af weggelok onder die voorwendsel dat hy ‘n verklaring moes gaan aflê, terwyl die tweede eiser op ‘n brutale wyse in boeie ten aanskoue van sy buurman weggeneem is.  Albei is in die nag gearresteer en verder aangehou. 

[24] In beide gevalle bespeur ek arrogansie en venynigheid in die optrede van die betrokke lede van die Polisie.  In albei gevalle is daar met groot bravade by die eisers se huise opgedaag.  Dit is opmerklik dat geen redes aangevoer is waarom die arrestasies nou juis in die nag en sonder ‘n lasbrief uitgevoer moes word nie.  Die eerste eiser, ‘n man van amper 60 jaar op daardie stadium, word sonder meer tussen ander vermeende misdadigers in ‘n sel gestop.  Vir die tweede eiser word daar spottenderwys gesê dat hy moet weghardloop sodat hulle hom kan skiet.  Hy is toe later ook saam met  verskeie ander vermeende misdadigers in ‘n sel opgesluit.

[25] Albei eisers is onder uiters onaangename omstandighede vir vier dae lank aangehou.  Nie een van hulle was toegelaat (vir welke rede ookal) om die kos wat vir hulle gebring was, te eet nie.  Toilet- en wasgeriewe was glad nie na wense nie.  Die voorval moes tot ‘n mindere of meerdere mate ‘n negatiewe invloed op hulle gesinslewe gehad het.  Verder, hulle arrestasie en aanhouding sou in alle waarskynlikheid vroeër of later ook in die omgewing waar hulle woonagtig was,  bekend geword het.

[26] In Masisi v Minister of Safety and Security, supra, het Makgoka R daarop gewys dat ‘n individu se reg op vryheid een van die belangrikste waardes is wat gekoester moet word.  Waar die arres boonop met kwaad­willigheid gepaard gaan, behoort ‘n hoër bedrag aan skadevergoeding toegeken te word.  Hy het dit soos volg geartikuleer (par 18):

"The right to liberty is an individual’s most cherished right, and one of the foundational values giving inspiration to an ethos premised on freedom, dignity, honour and security.  Its unlawful invasion therefore strikes at the very fundament of such ethos.  Those with authority to curtail that right must do so with the greatest of circumspection, and sparingly.  In Solomon v Visser & Another 1972 (2) SA 327 (C), at 345C-E, it was remarked that, where members of the police transgress in that regard, the victim of abuse is entitled to be compensated in full measure for any humiliation and indignity which result.  To this I add that, where an arrest is malicious, the plaintiff is entitled to a higher amount of damages than would be awarded, absent malice.”

[27] Ek vereenselwig myself met hierdie dictum.  Die skadevergoeding wat toegeken moet word, moet in verhouding staan met die arrogante en venynige wyse waarop die betrokke lede van die Polisie teenoor die eisers opgetree het, die vernedering wat hulle moes ondergaan, die uiters onaangename tydperk van 4 dae waartydens hulle in aanhouding verkeer het en die trauma wat hulle moes verduur.  Aan die ander kant moet ek ook in gedagte hou dat die oogmerk van die toekenning nie moet wees om die eisers op enige wyse te verryk nie, maar om genoegdoening aan hulle te gee vir dit wat hulle moes deurmaak.  Met inagneming van al hierdie omstandighede, is ek van oordeel dat die eisers elk op ‘n bedrag van R135 000.00 geregtig is.

BEVEL: Ek maak die volgende bevel: Die eerste verweerder word gelas om:

(1) R135 000.00 aan die eerste eiser (J F van der Schyff) te betaal;

(2) R135 000.00 aan die tweede eiser (G Botha) te betaal;

(3) rente a tempore morae op elk van voormelde bedrae te betaal, bereken vanaf datum van vonnis tot datum van betaling;

(4) die koste van beide eisers te betaal.

_________________________

D S FOURIE

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF

PRETORIA

Datum: 4 Maart 2015

VAN DER SCHYFF & BOTHA V MIN V POLISIE & ANDERE