South Africa: High Courts - Gauteng

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2008 >> [2008] ZAGPHC 400

| Noteup | LawCite

Breitenbach v Breitenbach (25683/2002) [2008] ZAGPHC 400 (14 November 2008)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

/LVS

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA


(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)



SAAKNOMMER: 25683/2002

DATUM: 14/11/2008


ONRAPORTEERBAAR







In die saak tussen:



BREITENBACH RENIER EISER



EN


BREITENBACH LYNETTE VERWEERDER


UITSPRAAK


BOTHA R:


Die eiser en die verweerderes was voorheen getroud. Op 9 September 1999 is hulle huwelik ontbind. `n Skikkingsooreenkoms is by die egskeidingsbevel ingelyf. Klousule 3 daarvan het voorsiening gemaak vir die verdeling van die gemeenskaplike boedel.


Klousule 3.5 van die skikkingsooreenkoms lui as volg:

Die eerste verweerder (dit is die eiser) sal aan die eiseres (dit is die verweerder) die bedrag van R50 000.00 (vyftig duisend rand) betaal teen R2 000.00 (twee duisend rand) per maand met die eerste betaling op die 1e Oktober 1999 en daarna op die 7e (sewende) van elke daaropvolgende maand betaal.”


Klousule 3.9 lui as volg:

Die 1e verweerder sal sy belang in East Rand Cranes behou as sy uitsluitlike eiendom en alle ander bates nie hierbo genoem.”


In die besonderhede van eis beweer die eiser dat East Rand Cranes (Pty) Ltd (East Rand) se besigheid geleë is te gedeelte 3 van erf 193 New Era Uitbreiding 1, Springs.


Voorts beweer hy dat die titel akte van die eiendom aandui dat die verweerderes `n 25% aandeel in die eiendom besit.


Verder word daar beweer dat daar uitdruklik mondeling, alternatiewelik stilswyend alternatiewelik geïmpliseerd ooreengekom is dat die verweerderes haar 25% aandeel in die eiendom aan die eiser by voorlegging van die nodige oordragsdokumente sou oordra.


Daar word beweer dat die verweerderes op 6 Junie 2000 by monde van haar prokureur bevestig het dat sy die oordrag dokumente sou teken mits die eiser die bepalings van die skikkingsooreenkoms nakom.


Die eiser beweer dat hy met die uitsondering van klousule 3.5 die skikkingsooreenkoms nagekom het. Hy beweer dat hy op die ou end R66 646.46 ingevolge klousule 3.5 betaal het.


Hy vra vir `n bevel dat die verweerderes gelas word om die nodige dokumente te onderteken ten einde haar aandeel in die eiendom aan hom oor te dra.


In die alternatief beweer hy dat die skikkingsooreenkoms nie die ware bedoeling van die partye weergee nie en dat klousule 3.9 gewysig moet word om na die woord “eiendom” die volgende woorde te bevat “asook die onroerende eiendom getitel te Erf 193, New Era x1, Springs gehou onder titelakte T41106/94.”


In die alternatiewe eis word dieselfde regshulp gevra.


Die verweerderes het eerstens `n spesiale pleit van verjaring ge-opper.


Op die meriete het die verweerderes gepleit dat die eiser sekere wanvoorstellings aan haar gemaak het, dat sy die skikkingsooreenkoms op grond van die wanvoorstellings aangegaan het en dat sy vanweë die wanvoorstellings uit die skikkingsooreenkoms teruggetree het.


Die wanvoorstellings was:

  1. die versuim om te openbaar dat `n maatskappy waarvan die eiser die alleen aandeelhouer was, naamlik Trade Windows 34 (Pty) Ltd (Trade Windows) aandele ter waarde van R1 200 000.00 gehad het, alternatiewelik `n plaas genaamd Paarl (Gedeelte 7 van 124) gehou onder titelakte T117218/1997 (die plaas);

  2. die versuim om te openbaar dat hy beskik het oor R300 00.00 in kontant wat hy as deposito op die plaas kon betaal;

  3. die versuim om te openbaar dat hy die maandelikse paaiemente op die plaas kon betaal;

  4. die versuim om te openbaar dat die polisse wat hy ingevolge klousule 3.7 aan die verweerderes moes sedeer, nie sedeer kon word nie;

  5. dat sy maandelikse trekkings ongeveer R10 000.00 per maand was;

  6. die versuim om te openbaar dat hy nie van voornemens was om die skikkingsooreenkoms na te kom nie.


Die verweerderes beweer dat sy, as sy van die ware feite bewus was, nie van haar eis op onderhoud afstand sou gedoen het; nie sessie van die twee polisse sou aanvaar het; en nie sou toegestem het tot die oordrag van die eiendom geleë te Crest straat 16, Sun Air Park, Brakpan nie.


Die verweerderes beweer dat sy die eiendom te Crest Straat 16 vir R920 000.00 verkoop het. Sy bied teruggawe van een helfte van daardie bedrag asook alle ander bedrae wat sy ingevolge die skikkingsooreenkoms ontvang het, onderhoud uitgesluit.


Ten aansien van die eiendom pleit sy dat sy uit die hoofde van die huwelik binne gemeenskap van goed die eienaar van `n halwe aandeel daarin was. Dit is so omdat die eiser voor die egskeiding die oorblywende 50% aandeel van die ander mede-eienaars gekoop het.


In die alternatief word die volgende gepleit:

  1. dat die eiser nie nakoming van die skikkingsooreenkoms kon eis omdat hy nie sy verpligtinge nagekom het nie; en

  2. dat klousule 3.9 van die skikkingsooreenkoms nie voldoen aan die bepalings van Wet 68 van 1981 nie.


In haar teeneis vra die verweerderes die volgende regshulp:

[a] bekragtiging van die kansellasie van die skikkingsooreenkoms;

[b] `n verdeling van die gemeenskaplike boedel;

[c] die aanstelling van `n likwidateur vir die gemeenskaplike boedel.


In die alternatief vra sy dat die eiser in die plek van die twee polisse wat nie gesedeer kan word nie, twee polisse ter waarde van R500 000.00 aan haar sedeer, of R500 000.00 aan haar betaal.


In `n verdere alternatiewe eis vra sy `n verdeling van die eiendom (erf 193).


In `n laaste alternatief vra sy `n bedrag gelyk aan een helfte van die plaas bekend as gedeelte 7 van Paarl 124.


Die eiser het gerepliseer deur te beweer dat die verweerderes se teeneis verjaar het.


Ten aansien van die spesiale pleit het hy beweer dat die skikkingsooreenkoms deel van die hofbevel is en dus onderworpe is aan `n verjaringstermyn van 30 jaar. In die alternatief het hy beweer dat verjaring gestuit is deur die verweerderes se erkenning dat hy geregtig is op oordrag in sy naam.


Ten aansien van die pleit voer hy aan dat die verweerderes nie kon terugtree nie omdat sy `n eleksie uitgeoefen het om nakoming van die skikkingsooreenkoms te eis.


Wat die teeneis betref word die bewerings daarin vervat ontken.


In `n dupliek het die verweerderes beweer dat haar teeneis nie kon verjaar het omdat verjaring nie kon begin loop voordat sy redelikerwys kennis kon gedra het van die feite wat dit onderlê nie. In die alternatief voer sy aan dat ingevolge artikel 13(2) van Wet 68 van 1969 kan haar teeneis nie verjaar voor die eiser se eis verjaar het nie.


Die eiser se eerste getuie was mnr Johan Grové, wat sy prokureur was toe die egskeidingsbevel verleen is.


Sy eie betrokkenheid het eers begin in ongeveer Mei 1999, soos blyk uit `n skrywe gedateer 7 Mei 1999, waarin hy die verweerderes (eiseres) se prokureur, mnr Prosser, in kennis gestel het dat hy nou namens die eiser (eerste verweerder) optree. Sien A269.


Hy het verwys na die korrespondensie wat hy geërf het toe hy die saak oorgeneem het.


Dit begin met `n aanmaningsbrief van mnr Prosser aan die eiser persoonlik. Dit is gedateer 11 November 1997. In die skrywe word dokumentasie oor bates en laste, finansiële state van East Rand Cranes, besonderhede oor polisse en beleggings gevra. Sien A31-33.


Hy het bevestig dat erf 193 die besigheidsplek van East Rand Cranes was. Die besigheid van die BK, later `n maatskappy, was die diens en herstel van hyskrane.

Toe die eiser hom kom sien het, was mnr Nel nog sy vennoot.


A34, wat notas gedateer 27 November 1997 bevat, is afkomstig uit mnr Prosser se kantoor. Op 27 November 1997 is daar `n aantekening oor `n belegging van R1 miljoen wat die eiser en mnr Nel by First Bowring sou hê.


Die eiser se eerste prokureur was mnr Anton Kilian. Op 11 Desember 1997 het hy `n brief aan mnr Prosser geskryf waarin hy skikkingsvoorstelle gemaak het. Sien A35-37. Die brief verwys na die eiser se 50% belang in East Rand Crane en `n halwe aandeel in `n belegging van R171 000.00 by First Bowring. Daar word beweer dat die gebou van East Rand Cranes afbetaal is. Daar word voorgestel dat die verweerderes die woonhuis (gewaardeer op R300 000.00) kry en die eiser die aandeel in die besigheid (East Rand Cranes) en die belang in die belegging by First Bowring.


In `n skrywe gedateer 15 Desember 1997 antwoord mnr Prosser dat die aanbod van die huis aanvaarbaar is maar hy opper bedenkings oor die besigheid en die belegging. Sien A 38-41. Hy vra ook besonderhede van die eiser se polisse en vra magtiging om die eiser makelaar te nader.


Later het mnr Prosser wel `n drukstuk van Sanlam gekry met besonderhede van polisse.


In `n skrywe gedateer 15 Januarie 1995 het mnr Prosser besonderhede gevra van die belegging en die erf nommers van die besigheid se persele.


In Februarie 1998 het mnr P Retief op die toneel gekom as die eiser se prokureur. Sien A54, `n skrywe gedateer 9 Februarie 1998, waarin hy sekere besonderhede oor die belegging gee. Hy meld ook dat die verband op die woonhuis afbetaal is.


A60 is `n munisipale waardasie gedateer 25 Februarie 1998 van erf 193. Die totale waardasie beloop R250 000.00.


Hy weet nie waar die dokument vandaan kom nie, maar mnr Prosser het dit gesien en aanvaar.


A64 is `n brief gedateer 15 Januarie 1998 waarin mnr Prosser van `n makelaar besonderhede vra van die eiser en die verweerderes se polisse. Sien A64.


In `n skrywe gedateer 18 Februarie 1998 het mnr Prosser aangedui dat die verweerderes bereid was om nominale onderhoud te aanvaar. Sien A72-74.


Hy het verduidelik dat die verweerderes, `n onderwyseres, al voor die egskeiding ongeskik verklaar is en `n pensioen ontvang het. Ten tyde van die egskeiding het sy weer gewerk by die Laerskool Volkskool. In die brief word aangedui dat die verweerderes bereid was om die besigheid aan die eiser te laat toekom, maar dat sy nie die eiser se waardasie aanvaar nie.


A80 is `n drukskrif wat op die besigheid betrekking het. Daar is `n aantekening dat mnr Nel as vennoot verwyder is en dat die besigheid die perseel by die eiser huur. Hy vermoed dat die dokument op 24 Februarie 2004 deur die verweerderes se huidige prokureur, mnr Botes, versend is. Hy is nou met die verweerderes getroud.


In A81, gedateer 27 Februarie 1998, het mnr Retief die munisipale waardasie gedateer 25 Februarie 1998 aangeheg. Sien A81. Daar word voorgestel dat die verweerderes die huis kry en die eiser die aandeel in die besigheid.


In `n brief gedateer 6 Maart 1998 het mnr Prosser verwys na huishoudelike uitgawes wat die deur die besigheid betaal is. Sien A86-89. Die getuie het bygevoeg dat die verweerderes by die besigheid betrokke was.


In `n brief gedateer 17 Maart 1998 het mnr Retief voorgestel dat die gemeenskaplike boedel verdeel word. Sien A90-92.


In `n brief gedateer 7 Mei 1998 het mnr Prosser skikkingsvoorstelle met benadeling van regte gemaak. Sien A97-99. Daarin word voorgestel dat die verweerderes die huis kry, die eiser die belang in die BK en dat die polisse verdeel word maar dat die eiser die premies betaal.


Hy het verwys na korrespondensie oor die verkoop van `n voertuig waarvan die opbrengs veronderstel was om vir die aankoop van `n ander voertuig gebruik te word. Sien A100 en A101.


In A105-106 gedateer 20 Mei 1998 het mnr Retief sekere skikkingsvoorstelle gemaak. Dit het behels dat die verweerderes die huis sou kry, dat die eiser die besigheid sou kry en die polisse verdeel sou word.


In A109-111 gedateer 22 Mei 1998 het mnr Retief aan sy korrespondent uiteengesit wat die eiser se bedes moes wees. Dit het ingesluit `n bevel dat die bates van die boedel verdeel word.


In `n skrywe gedateer 18 Junie 1998 het mnr Retief beweer dat die verweerderes in besit was van al die gemeenskaplike bates behalwe die belang in die BK. Sien A117.


In `n brief gedateer 14 Augustus 1998 het mnr Prosser aangedui dat daar net drie uitstaande geskilpunte was, naamlik oordrag koste van die huis, gedingskoste en `n onderneming van die eiser om wentelkrediet by Standard Bank te betaal. Sien A123.


A129 en A130 gaan oor die dispuut oor die wentelkrediet.

In A133 gedateer 4 September 1998 stel mnr Retief weer voor dat die verweerderes die huis kry, dat hy die belang in die besigheid behou en dat die polisse gelyk op verdeel word.


In A136 gedateer 29 September 1998 het mnr Prosser `n konsep skikkingsakte na mnr Retief gestuur. In mnr Retief se antwoord gedateer 6 Oktober 1998 is daar geen verwysing na die huis en die besigheid nie. Sien A137. Die getuie lei af dat die twee items nie meer in geskil was nie.


A144-145 was die eiser se blootleggingsverklaring. In die eerste skedule is daar `n verwysing na erf 193 wast beskryf word as `n vennootskapsbate.


Die verweerderes se blootleggingsverklaring (A151-162) verwys na bankstate van die eiser en die besigheid.


Op 7 Desember 1998 is daar `n voorverhoor konferensie gehou. Sien A174-185. In paragraaf 1.5 is die genotuleer dat dit gemene saak was dat die boedel verdeel moes word. In paragraaf 4 word dit genotuleer dat die eiser toestem dat `n forensiese ouditeur sy besigheidsbelange ondersoek.


In `n brief gedateer 7 Januarie 1999 skryf mnr Retief aan mnr Prosser dat alles geskik is behalwe onderhoud vir die verweerderes en koste. Sien A201. Hy lei egter af uit die brief van mnr Prosser gedateer 8 Januarie 1999 dat die verweerderes bereid was om haar eis vir onderhoud te laat vaar. Sien A202.


In `n brief gedateer 13 Januarie 1999 dui mnr Retief aan dat die eiser `n konsep skikkingsakte van die verweerderes verwerp. Sien A204.


In `n brief gedateer 20 Januarie 1999 stel mnr Prosser voor dat, soos in die voorverhoor konferensie ooreengekom, die boedel verdeel word en dat die boedel waardeer word om vas te stel of die verweerderes op onderhoud geregtig is.


A210, gedateer 25 Januarie 1999, is `n brief van mnr Prosser aan die verweerderes waarin hy meld dat `n mnr Sabbagh die besigheid sou besoek. Sien A210. Die doel was volgens die getuie om die besigheid te waardeer.


Dit voltooi die dokumente wat die getuie geërf het.


In sy eerste brief aan mnr Prosser gedateer 7 Mei 1999, dui hy aan dat die eiser nie dokumente aan die forensiese ouditeur beskikbaar gaan stel nie. Sien A269. Die eiser se houding was dat sy vennoot nie gelukkig met `n oudit was nie en dat die waarde aan die hand van die finansiële state bepaal kon word.


Die finansiële state van die besigheid (A289-302) is beskikbaar gestel. Sien A306.

`n Waardasie van die eiser se aandeel in die besigheid soos op 30 Junie (R258 913.00) is beskikbaar gestel. Sien A303-305.


Hy het verwys na die eiser se antwoord op `n Reël 35(3) aansoek. Sien A319-325.


In `n brief gedateer 20 Augustus 1999 het die eiser al sy voorstelle teruggetrek. Sien A330.


Op daardie stadium was dit sy advies aan die eiser dat `n hof nie `n boedel sal verdeel as die partye nie kan ooreenkom nie.


Hy het terugverwys na A271, `n brief van mnr Prosser gedateer 10 Mei 1999, aan die besigheid se vorige ouditeur, mnr Marais, waarin hy verwys na die feit dat die eiser tot `n forensiese oudit toegestem het. Die getuie het bygevoeg dat mnr Marais die hof as `n getuie namens die verweerderes bygewoon het.


In die skrywe gedateer 14 Mei 1999 het mnr Prosser die getuie daarop gewys dat `n aansoek gebring kan word om `n forensiese oudit af te dwing. Sien A27-277. Geen aansoek is ooit gebring nie.


A344-352 is `n konsep skikkingsooreenkoms afkomstig van mnr Prosser. Daarvolgens sou die verweerderes nominale onderhoud aanvaar. Die verweerderes sou die huis kry. Die eiser sou sy aandeelhouding in East Rand Cranes behou asook enige ander bates tans in sy besit. Sien klousule 5-3 op A343.


A353-357 was `n aanbod tot skikking van die eiser. Daar word voorgestel dat die boedel gelykop verdeel word.


Op 6 September 1999 het die getuie `n skrywe aan mnr Prosser gerig waarin hy voorstel dat die eiser sy halwe aandeel in die huis aan die verweerder oordra en dat elkeen die roerende bates in sy besit hou. Daar is geen verwysing na die erf van die besigheid nie.


Op 9 September 1999 was hy self by die hof teenwoordig. Hy en mnr Prosser het onderhandel terwyl die saak afstaan. Hy het die skikkingsooreenkoms uitgeskryf. Die besonderhede van die polisse het hy van mnr Prosser gekry.


Hy het die hele ooreenkoms deurgegaan. Hy het verwys na klousule 3.9 wat lui dat die eiser sy belang in East Rand Cranes sal behou as sy uitsluitlike eiendom “sowel as alle ander bates nie hierbo genoem”. Omdat die verweerderes gekry het was sy wou, het hy dit ingesit. Hy sit gewoonlik so `n bepaling in ingeval iets vergeet word.


Hy het ook verwys na klousule 4.3 waarvolgens die partye geen verdere eise teen mekaar sou hê nie behalwe soos in die ooreenkoms uiteengesit.

Klousule 4.6 bepaal dat alle wysigings op skrif moes wees en deur albei partye onderteken moes word.


Die ooreenkoms is toe `n hofbevel gemaak.


In `n brief gedateer 5 Oktober 1999 het mnr Prosser gekla dat een Sanlam polis `n annuïteit was wat nie sedeer kon word nie en dat die ander een in Desember 1998 afgekoop is. Hy het die moontlikheid genoem dat die verweerderes weens wanvoorstelling uit die ooreenkoms kon terugtree. Sien B408.


Op 8 Desember 1999 het mnr Prosser die eiser aangemaan om sy maandelikse betaling van R2 000.00 aan te suiwer. Sien B423. Dit was die maandelikse betaling wat die eiser ingevolge klousule 3.5 moes maak ter betaling van `n bedrag van R50 000.00.


Op 21 Desember 1999 is `n lasbrief uitgereik teen die eiser vir R46 000.00. Sien B425.


In `n skrywe gedateer 15 Desember 1999 het mnr Prosser gedreig om `n aansoek oor die polisse te bring. Sien B459. Die getuie het verduidelik dat sy houding was dat mnr Prosser die nommers van die polisse gegee het en dat hy nie geweet het dat een polis nie meer bestaan nie. Al hierdie feite was in Desember 1999 aan hom en mnr Prosser bekend.


Mnr Prosser het uiteindelik oordrag van die eiser se aandeel in die huis na die verweerderes bewerkstellig.


Op 11 Februarie 2000 het hy `n brief aan mnr Prosser geskryf waarin hy gemeld het dat die verweerderes geld op die kinders se polisse getrek het. Die eiser het R14 100.00 op hierdie polisse terugbetaal. Sien B495.


Op 16 Julie 2000 het mnr Prosser `n brief geskryf waarin hy aandring daarop dat die eiser `n bedrag van R18 000.00 betaal. Hy het gedreig met sekwestrasie en minagting verrigtinge. Sien B497.


In `n skrywe gedateer 16 Februarie 2000 het hy daarop gewys dat net R44 000.00 verskuldig was en dat die eiser bedrae wat hy op die polisse inbetaal het, sou aftrek. Sien B499.


Op 7 Maart 2000 het mnr Prosser aangedui dat hy R32 000.00 sou aanvaar. Sien B501.


Op 26 Mei 2000 het hy `n skrywe aan mnr Prosser gerig waarin hy hom meegedeel het dat die eiser mnr Nel se aandeel in die besigheid verkry het, en dat die vaste eiendom (erf 193) in die naam van vier partye geregistreer is. Hy het hom meegedeel dat hy instruksies ontvang het om registrasie te verkry en wou verneem of die verweerderes enige probleme sou hê om die nodige oordragdokumente te onderteken. Sien B520.


Op 6 Junie 2000 het mnr Prosser `n brief aan hom gestuur waarin hy sê dat hy nie dink dat daar `n probleem met die registrasie van erf 193 sou wees nie mits die eiser by die hofbevel bly. Sien B528.


Hy het verwys na verdere korrespondensie oor die balans van die bedrag van R50 000.00. Op die ou end is die kapitale bedrag geskik op R30 000.00. Die bedrag is betaal. Sien C711. Daar was nog `n dispuut oor koste en rente. Die aansoek teen die eiser is sine die uitgestel. Sien B544.


In 2002 was daar `n insident toe die eiser met `n hartaanval in die hospitaal was.


Hy was op die stadium reeds weg by sy firma maar op versoek van sy broer, Braam Grové, het hy die skikking van die balans van die bedrag van R50 000.00 op R30 000.00 hanteer.


Sonder die bedrag van R30 000.00 was die skuld op datum. Dit was met inagneming van skuldvergelyking. Terwyl die eiser in die hospitaal was, is tekenmagte aan sy seun gegee om die besigheid te beskerm.


Hy het die eerste keer gehoor van die verweerderes se kwart aandeel in erf 193 toe hy opdrag gekry het om mnr Nel se aandeel oor te dra.


Ten tyde van die skikking was daar geen twyfel dat die erf geregistreer was in die name van die eiser en mnr Nel nie. Niemand het gesê dat die verweerderes `n kwart aandeel gehad het nie.


Die polisse is nie weer genoem nie. Die bedrag wat die afgekoopte polis opgelewer het, was tussen R2 000.00 en R3 000.00.


Hy het verwys na sewe konsep skikkingsooreenkomste wat almal van mnr Prosser afkomstig was. Sien D1000-1057. Almal bevat `n bepaling dat die eiser die besigheid sou kry asook alle ander bates in sy besit.


Hy het verwys na D1061-1187, bankstate, belasting opgawes, tjeks ens wat die verweerderes voor die egskeiding blootgelê het.


Op 9 September 1999 het die partye nie self aan die onderhandelinge deelgeneem nie.


In kruisverhoor het hy verduidelik dat die eiser deur ene Orton na hom verwys is.


Hy het saamgestem dat hy `n fout gemaak het toe hy gesê het dat die eiser en die verweerderes se huwelik van korte duur was.


Hy het toegegee dat die verweerderes `n gelyke aandeel in die gemeenskaplike boedel gehad het. Hy is gevra oor sy advies dat `n forensiese oudit van die eiser se besigheidsbelang nie nodig was nie. Hy het verwys na die beskikbaarheid van finansiële state en die feit dat die eiser se vennoot ongelukkig was. Dan het hy daarop gewys dat mnr Prosser, ten spyte van sy dreigemente, nooit `n forensiese oudit afgedwing het nie.


Hy het bevestig dat volgens die 1998-1999 finansiële state van East Rand Cranes die twee aandeelhouers se leningsrekenings elk R247 382.00 bedra het en dat hulle direkteursvergoeding ten bedrae van R93 855.00 ontvang het.


Hy is verwys na `n waardasie van mnr Morrison gedateer 30 Junie 1999 waarvolgens die waarde van `n 50% belang in East Rand Cranes op R258 913.00 bepaal is. Dit sluit in die waardasie van die aandele op R11 531.00, asook die leningsrekening.


Hy is verwys na `n ooreenkoms tussen die eiser en mnr J.L Nel gedateer 30 Junie 1998 ingevolge waarvan mnr Nel sy aandeel in East Rand Cranes aan die eiser vir R557 766.50 verkoop het. Sien Kennisgewings Bundel 115-116. Die prys is gebaseer op `n waardasie van `n 100% aandeel op R1 115 533.00. Die ooreenkoms meld ook dat mnr Nel onderneem het om hangende die egskeidingsgeding geen inligting oor die transaksie aan die verweerderes of haar regsverteenwoordigers te openbaar nie. Hy het kennis van die ooreenkoms ontken.


Hy het bevestig dat hy van die rol van prokureurs geskrap is. Volgens hom het die hof hom nie geskrap oor die klagtes van kliënte nie, maar omdat die hof bevind het dat hy gelieg het oor die redes waarom hy nie by dissiplinêre verrigtinge verskyn het nie.


Hy is verwys na sy brief van 26 Mei 2000 aan mnr Prosser waarin hy sê dat die eiser nou sy vennoot se halwe aandeel bekom het. Hy het verduidelik dat hy sy instruksies van die eiser bekom het.


Hy is verwys na die feit dat mnr Nel op 31 Augustus 1999 gesekwestreer is. Sien Kennisgewings/313. Die punt is gemaak dat hy nie kort voor 20 Mei 2000 sy aandeel kon verkoop het nie. Hy het dit vreemd gevind dat mnr Nel se trustee nie die belang in erf 193 opgetel het nie.


Hy is verwys na `n koopkontrak ingevolge waarvan die eiser met effek van 1 Julie 2004 26% van die aandele in East Rand Cranes vir R5 miljoen aan ene Mbatha verkoop het.


Hy is gevra wanneer hy besef het dat die eiser nie `n 50% aandeel in erf 193 het nie. Hy het geantwoord dat dit na die egskeiding was.


Dit is aan hom gestel dat daar nie een brief is waaruit dit blyk dat die verweerderes die twee polisse wat gesedeer is, uitgesoek het nie. Hy het verwys na die polis nommers wat op `n konsep skikkingsakte ingeskryf is. Dit was nie sy handskrif nie. As hy geweet het dat die polisse nie sedeer kon word nie, sou hy hulle nie ingesluit het nie.


Wat betref die verweerderes se 25% aandeel in erf 193, het hy herhaal dat haar belang nie ter sprake was nie. Niemand het besef dat `n kwart aandeel in haar naam geregistreer was nie. Mnr Prosser het gedink dat die erf in die name van mnr Nel en die eiser geregistreer was.


Hy dink dat mnr Prosser klousule 5.3 van die skikkingsooreenkoms opgestel het. Hy is verwys na mnr Retief se skrywe van 18 Junie 1998 (A117) waarin hy beweer dat die verweerderes al die bates van die boedel besit behalwe die besigheid. Hy is gevra hoe dit met klousule 5.3 rym. Hy het geantwoord dat hy nie weet wat mnr Retief bedoel het nie. Mnr Retief se stelling was nie korrek nie.


Hy is verwys na die eiser se antwoorde in nadere besonderhede ten aansien van sy bates en sy inkomste. Hy het bevestig dat die eiser onder die item polisse die nommers verskaf het van die einste polisse wat in die skikkingsooreenkoms vermeld word.


Hy is daarop gewys dat die eiser gesê het dat hy R10 000.00 per maand uit die besigheid getrek het.


Hy het saamgestem dat daar nie in die nadere besonderhede gesê is wat die waarde van erf 193 was nie.

Hy het ontken dat hy van die plaas Paarl of van Trade Windows geweet het.


Hy was nie bewus van enige finansiële rede waarom die eiser die egskeidingsaksie op 9 September 1999 sou wou afhandel nie. Hy is verwys na `n ooreenkoms ingevolge waarvan die eiser as genomineerde van `n te stigte maatskappy die plaas Paarl van ene HAJ van Rensburg vir R1, 150 miljoen gekoop het. Sien A311-318. `n Deposito van R300 000.00 was betaalbaar. Die ooreenkoms is geteken op 18 Julie 1999. Volgens klousule 4 moes oordrag nie voor 10 September 1999 geskied nie. Hy het ontken dat hy geweet het van die ooreenkoms en die R300 000.00 wat as deposito betaal is.


Hy is verwys na LB4 (Pleitstukke p88), `n skedule wat wys dat die balans van die koopprys van die plaas Paarl afbetaal is in 25 paaiemente, nie een waarvan minder as R30 000.00 bedra het nie. Hy het bevestig dat die eiser gesê het dat sy inkomste R10 000.00 per maand is.


Hy het ontken dat hy dokumente weggesteek het. Mnr Prosser het meganismes tot sy beskikking gehad.


Hy is gevra hoe die verweerderes kennis kon gedra het van feite waarvan selfs nie hy kennis gedra het nie.


Hy het geantwoord dat sy die kennis kon verkry het as sy behoorlik na die finansiële state gekyk het.


Hy is daarop gewys dat die oorspronklike blootlegging van die eiser net die finansiële state van die erf 193 vennootskap soos op 28 Februarie 1997 blootgelê het. Hy het saamgestem dat dit die posisie weerspieël soos dit was voor die ooreenkoms met mnr Nel.


Hy het saamgestem dat die eiser se aanvullende blootlegging in die egskeidingsaksie (A364), gedateer 9 September 1999, niks van `n finansiële aard blootgelê het nie.


Hy het saamgestem dat net voor die egskeiding het die eiser niks gerep van die ooreenkoms met Nel en die aankoop van die plaas Paarl nie.


Dit is aan hom gestel dat daar nie een brief is wat bevestig dat hy die kapitale bedrag van die eis ingevolge klousule 3.5 op R30 000.00 geskik het nie. Hy is verwys na verskillende briewe van mnr Prosser wat die indruk skep dat die kapitale bedrag nie geskik is nie: C703, C704, C708 en C715. Hy is verwys na `n brief van Grové en Deysel, die eiser se prokureurs, waarin gesê word dat die balans gedebatteer moes word. Sien C712. Hy moes toegee dat dit blyk uit die brief van mnr Prosser gedateer 15 Januarie 2002 dat die bedrag van R30 000.00 op rekening aanvaar is.



Hy het aanvaar dat die verweerderes die opbrengs van die voertuig gebruik het om `n ander een te koop.


Hy het ook aanvaar dat die Old Mutual polisse in die naam van die verweerderes was, met die kinders as begunstigdes.


Hy is verwys na verdere korrespondensie tussen mnr Prosser en die eiser se prokureurs en advokaat en het saamgestem dat daar geen dokument is wat aantoon dat die eis ingevolge klousule 3.5 geskik is nie.


Ten aansien van sy skrapping het hy verduidelik dat hy vir die Prokureursorde gesê het dat hy die dissiplinêre verhoor weens ander verpligtinge nie kon bywoon nie. In werklikheid het hy huweliksprobleme gehad.


Die volgende getuie namens die eiser was mnr Braam Grové, broer van mnr Johan Grové. Hy is die huidige prokureur van die eiser.


Op 10 Oktober 2001 het hy mnr Prosser verwittig dat hy nou namens die eiser optree. Sien C673. Wat nog afgehandel moes word was die polisse, erf 193, die oordrag van die huis, die balans van die bedrag van R50 000.00, rente en koste.


Met verwysing na mnr Prosser se brief van 23 Oktober 2001 (C682) het hy verduidelik dat die eiser daarop aangedring het dat advokaat de Kock namens hom moes optree.


Hy het `n probleem met die skedule tot die brief. Sien C684. Hy het verskeie items in die skedule bevraagteken: die aparte advokaatsfooie, korrespondensie ens.


Op 112 Januarie 2002 het hy dit duidelik gemaak dat advokaat de Kock namens die eiser kon optree. Sien C707.


Op 14 Januarie 2002 is R30 000.00 inbetaal. Sien C711. Dit is bevestig in `n skrywe gedateer dieselfde dag (C712). In die brief meld hy dat hy graag die balans van die geld wat mnr Prosser beweer verskuldig is, wil debatteer. Met die balans het hy bedoel die koste.


Met betrekking tot mnr Prosser se nota’s van hulle ontmoeting op 30 Januarie 2002, kan hy nie onthou wat sy voorstel was nie. Sien C728 en 728A, en 729 en 729A.


Mnr Prosser se skrywe van 4 Februarie 2002 waarin `n balans van R39 117.63 geëis word (C732) wys weer dat hulle nou verder van mekaar was.


Op 27 Februarie 2002 het mnr Prosser aangedui dat hy nou bereid was om met advokaat de Kock te praat. Sien C735.


Daarna het mnr Prosser weer voortgegaan om `n eksekusie veiling te reël. Sien C754. Op 10 Julie 2002 het hy `n brief geskryf om `n uitstel van die veiling te verkry. Sien C777. Uiteindelik het mnr Prosser onderneem om die verkoping te kanselleer as verkwiste koste ten bedrae van R2 000.00 betaal word.


Op 17 Julie 2002 het hy `n brief aan mnr Prosser geskryf oor die oordrag van erf 193. Sien C795. Daarin spreek hy die mening uit dat die eiser nou aan al die bepalings van die skikkingsakte voldoen het. Net die koste was nog uitstaande. Na mnr Prosser se antwoord op 30 Julie 2002 (sien C798) is dagvaarding uitgereik.


In kruisverhoor is hy gevra waar die verweerderes ooreengekom het om haar aandeel in erf 193 oor te dra. Hy het verwys na die brief C728. Volgens hom was paragraaf 4.1 van die eiser se nadere besonderhede korrek.


Hy het bevestig dat hy nie kon sê of die eiser die verweerderes mislei het nie. Hy was nie betrokke nie. Hy weet ook nie of die eiser die enigste aandeelhouer van East Rand Cranes was nie. Hy het geen kennis van enige van die beweerde wanvoorstellings gedra nie.


Hy kon ook nie kommentaar lewer op die verweerderes se bewerings oor wat sy sou gedoen het as sy behoorlik ingelig was.


Hy het bevestig dat volgens die eiser hy nie aan die skikkingsakte hoef te voldoen om oordrag van erf 193 te kry nie.


Hy het saamgestem dat die laaste bedrag van R2 000.00 wat die eiser betaal het afgetrek moet word omdat dit ten aansien van koste betaal is.


Toe dit aan hom gestel is dat ten minste R11 000.00 nie betaal is nie, het hy bevestig dat hy dit nie kon betwis nie.


Hy het saamgestem dat die polisse nooit sedeer is nie.


Hy het bevestig dat hy dit nie goedgedink het om `n voorwaarde by te voeg tot die betaling van R30 000.00 nie. Hy het dit beskou as `n betaling in volle en finale vereffening. Hy het saamgestem dat hy nooit so gesê het nie.


Met betrekking tot mnr Prosser se nota’s op C729 het hy ontken dat hy R20 000.00 aangebied het. Hy het saamgestem dat die bedrag van R2 000.00 betaal is om `n eksekusie veiling af te weer.


Mnr Prosser het nooit gesê hoe die rente bereken is nie.


Hy het dit nie as nodig beskou om sy nota’s beskikbaar te maak nie. Hulle is geprivilegieerd.


Na die getuie se getuienis het die eiser sy saak ten aansien van sy eis gesluit.


Me McManus het toe om absolusie van die instansie gevra. Die aansoek is van die hand gewys weens redes wat ek in `n kort uitspraak verstrek het.


Daarna het die verweerderes, nou Mev Botes, getuienis afgelê.


Sy is op 20 Desember 2003 met mnr Botes, haar huidige prokureur, getroud. Sy was `n onderwyseres met `n vier jaar diploma.


Haar ouers het `n bydrae van R100 000.00 gemaak vir die aanbou van `n woonstel aan die gemeenskaplike woning.


Sy het sekretariële dienste vir East Rand Cranes verrig toe die besigheid nog van hulle huis bedryf is.


Erf 193 is in 1995 gekoop. Hulle het R80 000.00 of R85 000.00 op hulle huis geleen om die koop te finansier.


Na die besigheid op erf 193 bedryf is, het sy nie meer toegang tot die besigheid gehad nie omdat `n sekretaresse gehuur is.


In 1995 het dit nog goed gegaan met die huwelik.


In 1996-1997 het die eiser al `n verhouding met me Orton gehad.


In 1996 is sy medies ongeskik verklaar.


In 1997 het sy na `n naamlose oproep uitgevind van die verhouding tussen die eiser en me Orton.


Sy het in November 1997 slaap terapie ontvang.


Die eiser het haar forseer om tydelik werk te aanvaar. Sy lei af dat hy dit met `n plan gedoen het.


Hulle was in 1997 20jaar getroud.


Sy het die korrespondensie wat mnr Prosser namens haar gevoer het, beaam.


Ten aansien van die brief van mnr Prosser gedateer 11 November 1997 aan die eiser het sy verduidelik dat sy R104 979.44 uit haar pensioen aan die eiser geleen het. Hy het `n Mercedes voertuig daarmee gekoop. Sy het ook R30 000.00 op die huis verband betaal sodat geld vir erf 193 se aankoop geleen kon word.


Die Mercedes het sy verkoop toe mnr Prosser gesê het dat sy dit moes gaan haal.


Met verwysing na die brief gedateer 16 Desember 1997 van mnr Prosser aan mnr Kilian, het sy verduidelik dat sy geen kennis gehad het van die polisse wat die eiser gehad het nie. Sien 1/8.


In mnr Retief se brief van 27 Februarie 1997 word daar voorgestel dat die eiser sy vennootskapsbelang in die besigheid behou. Sien 1/20.


Sy het daarop gewys dat daar geen verwysing na erf 193 was nie.


Die voorstel dat die Mercedes verkoop word, is opgevolg. Sy het dit ingeruil op `n Jetta wat sy op huurkoop gekoop het.


Die twee Old Mutual polisse was in haar naam. Sy het geld daarop geleen vir haar regskoste.


In mnr Prosser se brief van 6 Maart 1998 word daar verwys na huishoudelike uitgawes wat deur die besigheid betaal is. Sien 1/24. Die Nels het dieselfde voordeel ontvang. Die eiser het die betalings gestaak.


In mnr Retief se skrywe van 17 Maart 1998 word die dreigement gemaak dat die huis en die besigheid verkoop moet word as sy nie die eiser se voorstelle aanvaar nie. Sien 1/28.


Die eiser het haar altyd gedreig. Hy het ook gedreig om sy boedel oor te gee.


Sy het daarop gewys dat daar in mnr Prosser se brief van 7 Mei 1998 (1/29) en mnr Retief se antwoord van 20 Mei 1998 (1/32) geen verwysing na erf 193 is nie.


Die bewering in mnr Retief se brief van 18 Junie 1998 (1/37) dat al die bates van die boedel behalwe die besigheid in haar besit was, was nie waar nie. Sy het die huis, die meubels en haar belang in erf 193 besit.


Sy was nie bewus van die transaksie 12 dae later ingevolge waarvan die eiser mnr Nel uitgekoop het nie.


In die brief van mnr Prosser gedateer 14 Augustus 1998 (1/38) was daar geen melding van erf 193 nie. Sy het verwys na die voorverhoor konferensie gehou op 7 Desember 1998 waar dit genotuleer is dat die partye dit eens is dat die gemeenskaplike boedel verdeel moes word. Sien 1/51. Sy het verduidelik dat dit haar nie sou gepas het nie as alles verkoop moes word nie, want dan sou sy op die straat gesit het. Sy wou die huis gehad het.


Sy het verwys na die feit dat die eiser tot `n forensiese oudit toegestem het. Sien 1/67.


Aan die begin van 1999 is die saak uitgestel omdat hulle nie die nodige dokumentasie kon kry nie.


In Maart 1999 het sy `n Reël 35(3) kennisgewing afgelewer. Sien 1/83. Die ooreenkoms met mnr Nel is nie in antwoord daarop blootgelê nie.


Sy het verwys na die eiser (eerste verweerder) se antwoord op `n versoek om nadere besonderhede waarin hy slegs sê dat hy “a shareholding” in East Rand Cranes het. Sien 1/101. Sy het bygevoeg dat hy ook `n 100% aandeel in die erf gehad het, maar haar gekorrigeer en gesê dat dit `n 50% aandeel was.


Sy weet nie hoe die eiser uit sy beweerde inkomste mnr Nel kon betaal nie.


In die nadere besonderhede is geen melding van erf 193 of die 100% belang in East Rand Cranes nie.


Die bedrag van R3 700.00 wat die eiser aan mev Orton betaal het, was volgens haar mev Orton se verband paaiement. Sien 1/104.


Sy het verwys na mnr Johan Grové se eerste skrywe waarin hy sy opdrag oorgedra het dat geen dokumente vir `n forensiese oudit beskikbaar gestel gaan word nie. Sien 1/114.


Sy het verwys na mnr Grové se brief van 11 Mei 1999 waarin hy gesê het dat net die aandeel van die eiser relevant was, en dat onbeperkte toegang tot die boeke van East Rand Cranes nie nodig was nie. Sien 1/118.


Sy het verwys na die 1999 finansiële state van East Rand Cranes, ongeteken, wat verwys na die eiser en mnr Nel . Sien 1/159. Die ouditeur se dekbrief verwys na “all members”. Sien 1/160. Mnr Nel word in die state as `n direkteur aangedui. Sien 1/161. In die state word `n leningsrekening ten gunste van mnr Nel aangedui. Sien 1/166. Die aandeelhouding reflekteer twee groepe van 50 aandele elk. Sien 1/165.


Sy het die eiser se waardasie van sy belang in die besigheid vir R258 000.00 gekontrasteer met die waarde van R582 100.00 wat voorkom in sy ooreenkoms met mnr Nel. Sien 1/176.


Sy het verwys na `n reeks konsep skikkingsaktes en uitgewys dat daar geen verwysings na erf 193 daarin voorkom nie.


Die eiser het die huis in Oktober 1997 verlaat. Sy was emosioneel uitgeput. Op `n stadium het sy die eiser by die fabriek besoek. Dit was toe sy die Mercedes Benz gaan haal het. Toe sy water nodig gehad het, het hy haar water in `n gebarste koppie aangebied.


Die eiser het haar gedwing om weer skool te hou.


Die dag van die egskeiding wat sy alleen in die hof. Haar advokaat het vir haar gesê dat as sy nie vir die huis teken nie, sal die eiser hom laat sekwestreer.


As sy geweet het wat sy nou weet, sou sy nie geteken het nie.


1/257 is die aanbod om te koop ten opsigte van erf 193. Dit is gedateer 15 Maart 1995. Die prys was R200 000.00. Die deposito was R85 000.00.


Sy is verwys na mnr Retief se brief aan mnr Kilian gedateer 9 Februarie 1998, waarin beweer word dat mnr Kilian se voorstelle op 11 Desember 1997 ongemagtig was. Sien 1/264. Haar kommentaar was dat sodra die eiser in `n hoek was, het hy `n ander prokureur gekry.


Sy het die munisipale waardasie van erf 193 van R250 000.00 op 25 Februarie 1998 gekontrasteer met die waarde van R390 000.00 vier maande later in die ooreenkoms met mnr Nel. Sien 1/176.


Sy het verwys na `n aktes soek ten opsigte van die plaas Paarl gedateer 3 November 2003. Op die stadium het sy mnr Botes geken. Hy het haar gebel en gevra of sy geweet het dat die plaas voor die egskeiding gekoop is. Die gesprek het op 3 November 2003 plaasgevind. Volgens die soek het oordrag op 29 Oktober 1999 plaasgevind.


Sy het die punt gemaak dat die eiser erken het (pleitstukke 107) dat hy die deposito en die paaiemente op die plaas betaal het.


Die ooreenkoms met mnr Nel is aangeheg aan `n antwoord op haar Reël 35(3) kennisgewing gedateer 11 November 2006. Sien 1/289.


Sy het verwys na mediese verslae en ander dokumente wat in verband staan met haar ongeskiktheidsverklaring.


1/350 is `n aanstellingsbrief gedateer 5 Januarie 2000 waarvolgens die eiser en mnr B Morrison as trustees van die Paarl Familie Trust aangestel is. 1/350A is `n besluit waarvolgens die eiser se aandele in East Rand Cranes aan die Paarl Familie Trust oorgedra word. Dit is gedateer 17 Januarie 2000. 350C-AB is `n skenkingsakte wat op die trust betrekking het.


1/359-366 is `n koopakte ten opsigte van die plaas Paarl. Dit is geteken op 17 Julie 1999.


Volgens `n nota van mnr Prosser het die eiser se prokureur op 17 September 1999 gebel oor reëlings om die partye se dogter na `n plaas te neem. Sy het nie geweet watter plaas ter sprake was nie.


1/368-373 is die transport akte ten opsigte van die oordrag tussen mnr van Rensburg en Trade Windows.


Volgens `n nota gedateer 8 April 2000 het sy mnr Prosser se sekretaresse meegedeel dat die eiser twee besighede het genaamd Windows 99 en All in One Crane. Sien 1/374. Volgens mnr Prosser se nota op 9 April 2002, moes die besighede nie vir beslaglegging in aanmerking geneem word nie. Sien 1/375.


Sy is verwys na paragraaf 12.2 van die eiser se besonderhede van eis. Sy het ontken dat daar enige dwaling was. Sy het nie in die skikkingsakte gesoek na `n verwysing na erf 193 nie. Sy het nie aan erf 193 gedink nie. Sy het nie aan mnr Prosser gesê om erf 193 te vermeld nie. Die rede was dat dit in haar naam was.


Met betrekking tot mnr Prosser se skrywe van 6 Junie 2000 (A528) waarin hy gesê het dat sy geen probleem sou hê om oordragdokumente te teken ten aansien van erf 193 mits die eiser die skikkingsooreenkoms nakom, het sy gesê dat mnr Prosser geen instruksie van haar gehad het nie.


Ten aansien van mnr Prosser se nota’s van `n konsultasie op 7 Februarie 2002 (2/397) het sy verduidelik dat haar dogter vir haar gesê het dat die eiser haar 25% aandeel wou uitkoop.


Sy is verwys na paragraaf 7 van haar verklaring ter afwering van summiere vonnis (Pleitstukke p23) waarin sy sê dat sy uit geldnood vir haar prokureur opdrag gegee het om toe te stem tot die oordrag van haar aandeel in erf 193 mits die eiser sy verpligtinge ingevolge die skikkingsooreenkoms nakom.


Sy het verskeie passasies uit haar antwoordende verklaring in die summiere vonnis aansoek bevestig.


Sy het bevestig dat mnr Prosser in `n skrywe gedateer 27 September 2002 gesê het dat erf 193 nie deel van die skikking was nie. Sien 2/403-404.


Ten aansien van die polisse gemeld in klousule 3.7 het sy gesê dat sy nie geweet het wat hulle waarde was nie.


Sy het verwys na skrywes waarin mnr Prosser gekla het oor die polisse (2/439 en 2/441) en bevestig dat die eiser nooit daarop geantwoord het nie.


Daarna het sy die hele geskiedenis van die verhaal vir die bedrag van R46 000.00 aan die hand van die korrespondensie behandel.


Sy het verwys na `n bedrag van R3 146.44 wat die eiser elektronies in haar rekening deponeer het. Dit was na sy `n tjek vir die bedrag geweier het. Mnr Prosser het toe aangedui dat die elektroniese betaling op rekening ten aansien van koste en rente aanvaar word. Sien 2/502.


Op 14 Januarie 2002 het die eiser `n bedrag vir R30 000.00 betaal. Volgens `n brief van sy prokureur, ook gedateer 14 Januarie 2002, sou die balans later gedebatteer word. Sien 2/552.


Uiteindelik is daar weer `n veiling gereël vir 26 Julie 2002. Nadat die eiser onderneem het om verkwiste koste ten bedrae van R2 000.00 te betaal, is die veiling afgestel.


Sy het getuig dat haar seun kort na sy 21ste verjaardag vir haar gesê het dat die plaas en East Rand Cranes nou syne is.


Die koopkontrak ten opsigte van die plaas het sy die eerste keer gesien in die eiser se blootlegginsverklaring van 27 September 2005.


Sy het mnr Johan Grové se getuienis dat sy die Sanlam polisse uitgekies het, ontken.


Sy het die bedes in haar teeneis bevestig en bygevoeg dat sy bereid is om die totale verkoopprys van haar huis ten bedrae van R 920 000, 00 terug te tender.

Voor haar kruisverhoor begin het, het sy daarop gewys dat haar seun die vorige dag die hof bygewoon het. Sy het vertel hoe sy van haar seun vervreemd geword het nadat hy by die eiser gaan werk het en hoe die seun druk op haar uitgeoefen het om haar aandeel in erf 193 aan die eiser oor te dra. Tydens hierdie verduideliking het sy gesê dat dit in 2006 is wat haar seun vir haar gesê het dat die plaas en East Rand Cranes nou syne is.


In kruisverhoor het sy verduidelik dat sy in November 2003 vir mnr Botes gesê het dat sy gedagvaar is en dat hy toe `n akte soek gedoen het. Daarna het hy mnr Prosser betaal en haar lêer oorgeneem.


Sy is verwys na haar antwoordende verklaring in die summiere vonnis aansoek. Op daardie stadium was mnr Botes haar prokureur.


Sy is gevra oor die feit dat daar kennis gegee is dat ‘n kliniese sielkundige, dr Allers, geroep sou word. Sy het bevestig dat sy op 9 September 1999 goed geweet het wat aangaan ofskoon sy onder emosionele druk was. Haar siekte het geen rol gespeel nie. Die eiser het haar gedreig met insolvensie.


Sy is verwys na haar aanvanklike pleit wat op 3 Maart 2004 afgelewer is. Sy is verwys na die mondelinge ooreenkoms wat in paragraaf 8 daarvan beweer word. Sy het geen kennis van so `n ooreenkoms gedra nie. Sy het bevestig dat hierdie bewering later in antwoord op vrae tydens `n voorverhoor konferensie gestel, laat vaar is. Sien Pleitstukke 133.

Sy het ontken dat sy mnr Prosser opdrag gegee het om die brief gedateer 6 Junie 2000 (A528) te skryf. Dit is aan haar gestel dat die eiser se regsverteenwoordigers nie verlof gegee is om met mnr Prosser te konsulteer nie. Sy het geen kennis daarvan gedra nie.


Dit is aan haar uitgewys dat dit nie aan mnr Johan Grové gestel is dat die eiser gedreig het om sy boedel te laat sekwestreer nie. Sy het verduidelik dat mnr Prosser vir haar gesê het dat as die boedel nie gelikwideer word nie, sal die eiser homself insolvent laat verklaar omdat die boedel so verarm was.


Sy is gevra wat sou gebeur as die boedel gelikwideer word. Sy het saamgestem dat `n likwidateur versteekte bates kon opspoor. Toe sy gevra is hoekom sy nie `n likwidasie wou hê nie, het sy geantwoord dat sy nie geld gehad het nie. Op die ou end het dit geblyk dat haar beswaar was dat sy met `n likwidasie nie meer `n dak oor haar kop sou hê nie. Daar is nooit `n voorstel aan haar gemaak dat sy die huis in `n likwidasie kon behou nie.


Sy het aanvaar dat die huis in 1999 R 300 000, 00 werd was. Die waarde van die huis inhoud was R 100 000, 00.


Sy is gevra wat sy gedink het die besigheid werd was toe sy onderhandel het. Sy het geantwoord dat sy nie kon sê nie. Niemand is toegelaat om die besigheid se boeke te ondersoek nie. Hulle het in die duister geskik.


Sy het sekretariële dienste vir die besigheid verrig toe dit nog van hulle huis bedryf is. In die begin is haar kredietwaardigheid vir die besigheid gebruik. Sy het haar pensioen gebruik om die huis verband te verlaag sodat geld vir die besigheid geleen kon word.


Sy het saamgestem dat die eiser die tjek van sy maandelikse trekking altyd vir haar gegee het. Sy het ontken dat dit voortgeduur het na die eiser die huis verlaat het.


Na die besigheid verskuif het na `n gehuurde perseel is sy gesê dat sy daarvan moes wegbly. Sy het nie kennis gedra daarvan dat daar besluit is dat die twee aandeelhouers se vrouens nie by die besigheid betrokke moes wees nie.


Sy is gevra of sy `n bedrag van R2 800, 00 wat die eiser haar gegee het om aan ene Mark te betaal, gebruik het. Sy het geantwoord dat sy nie kon onthou nie. Sy is gevra of sy geld getrek het op die eiser se oortrokke rekening om mnr Prosser te betaal. Sy het geantwoord dat as dit so was, dan was dit al geld wat tot haar beskikking was terwyl die eiser in weelde gelewe het. Dit is toe aan haar uitgewys dat haar prokureur in `n skrywe gedateeer 31 Augustus 1998 (A130) erken het dat sy die bedrag van R 2 800, 00 gebruik het en `n bedrag van R992, 93 getrek het. Sy het die twee items toe erken en verduidelik dat hulle moes leef.


Sy het ontken dat sy geld wat haar seun vir haar gegee het om sy klere rekening te betaal vir haarself aangewend het.


Dit is aan haar gestel dat haar seun haar vergesel het na die Old Mutual omdat hy daarvoor moes teken dat sy geld op die Old Mutual polisse geld leen. Sy het geantwoord dat sy nie daarvan kennis dra nie.


Mnr Prosser het vir haar gesê dat die eiser vir tyd speel en dat hy lieg en bedrieg. Sy kan nie onthou of mnr Prosser gesê het dat die eiser bates wegsteek nie. Iets was nie vir haar lekker nie. As sy geweet het wat sy nou weet sou sy nooit geteken het nie. Eers op 3 November 2003, na die aktes soek, het sy van die plaas uitgevind. Op 9 September 1999 het sy nie van die plaas en die ooreenkoms met mnr Nel geweet nie. Sy het gesien dat die eiser in weelde leef aan die motors wat hy gery het. Sy het nie bewyse gehad nie.


Daar was stories dat die eiser vir die tweede verweerder in die egskeidingsaak, mev Orton, `n huis gekoop het.


By die hof het sy die skikkingsooreenkoms net vlugtig deurgegaan. Sy is gesê dat sy die huis kry en die eiser East Rand Cranes. Sy het geteken op die basis dat die eiser `n 50% belang in East Rand Cranes gehad het. As sy geweet het dat hy `n 100% belang gehad het, sou sy nie geteken het op die grondslag dat sy `n huis ter waarde van R 300 000, 00 kry nie.


Sy het ontken dat sy kontak met mnr Nel gehad het. Mnr Nel was wel teenwoordig die dag toe sy die eiser en mev Orton gekonfronteer het. Sy het vir hom gesê dat sy die bates van die besigheid gaan waardeer. Sy kan ook onthou dat sy vir hom gesê het dat hy seker moes maak dat alles op die tafel is. Dit is aan haar gestel dat mnr Nel sal getuig dat sy verskeie telefoon gesprekke met hom gehad en dat sy na Oktober 1997 inligting oor East Rand Cranes by hom wou kry. Sy het geantwoord dat hy dan maar so moet sê. Sy het ontken dat sy ander personeel lede van die besigheid gebel het. Dit is aan haar gestel dat mnr Nel sal sê dat hy vir haar gesê het dat die eiser besig was om sy aandeel te koop en dat sy ook geweet het dat die eiser besig was om die Nels se aandeel in erf 193 te koop. Sy het dit ontken.


Sy het aanvaar dat daar dokumentasie moet wees ten aansien van die oordrag van die Nels se halwe aandeel. Dit is aan haar gestel dat sy en die eiser en mnr en mev Nel vir daardie doel na `n prokureur gegaan het. Sy het geantwoord dat as mnr Nel dit sê, weet sy nie daarvan nie. Sy kan dit nie herroep nie. Toe sy gevra is of mnr Nel die waarheid sal praat as hy so sê, het sy geantwoord dat as mnr Nel so sê sal sy baie bly wees, want dan het sy ‘n 50% aandeel. Toe dit aan haar gestel is dat sy weier om standpunt in te neem, het sy geantwoord dat sy nie gaan erken of ontken nie.


Toe dit aan haar gestel is dat mnr Nel betrokke was in `n besigheid wat kers was uitgevoer het, het sy gesê dat dit die eerste keer is dat sy daarvan hoor. Sy is daarop gewys dat die Nels se aansoek om rehabilitasie deel van haar stukke is en dat dit verwys na die kers was besigheid. Sy kon toe onthou dat iets van was gesê is.


Dit is aan haar gestel dat sy al lank al van die verkoop van mnr Nel se aandeel geweet het. Sy het dit ontken. Dit is aan haar gestel dat mnr Nel die eiser versoek het om haar te vra om op te hou om hom by die huis te bel. Sy het dit ontken.


Sy het ontken dat sy ene Brenda Schutte, die eiser se sekretaresse, lastig geval het vir inligting oor die besigheid. Sy het `n soortgelyke stelling wat betrekking het op ene Len van Tonder ook ontken. Sy ken van Tonder want sy het vir hom skoolgehou.


Dit is aan haar gestel dat sy die hoof van haar seun se skool genader het en gedreig het om haar seun uit die skool te neem as die skool die eiser weer toelaat om `n rugby span te borg. Sy het dit ontken. Sy het die hoof gaan spreek oor die feit dat haar seun harsingskudding in rugby opgedoen het.


Die stelling dat sy mnr van Tonder gevra het om dokumente van die besigheid te steel en aan haar te oorhandig, het sy as `n totale leuen bestempel.


Sy het ontken dat sy vir mev Orton se werkgewer, Ring Rollers, gesê het dat mev Orton vertroulike inligting aan `n mededinger verstrek het. Daar was wel sulke stories.

Dit is aan haar gestel dat sy op haar garage kaart kruideniersware gekoop het. Sy het geantwoord dat sy net brood en melk daarmee gekoop het omdat mens nie kruideniersware by die garage kon koop nie.


Sy is gevra waar sy die bank state en ander finansiële dokumente van die eiser en die besigheid gekry het wat sy blootgelê het. Sy het geantwoord dat sy dit gekry het by posbus 8964, Minnebron. Met verwysing na die bank state het sy bevestig dat sy die nommers gehad het van twee bank rekeninge van die besigheid en een rekening van die eiser.


Sy het bevestig dat sy die besigheid se ouditeure, mnre Marais en Morrison by die hof gesien het. Sy het nie met hulle gepraat nie en hulle aan mnr Prosser oorgelaat.


Dit is aan haar gestel dat sy getuienis oor die eiser en die besigheid se bank rekenings voor die hof kon geplaas het. Sy het geantwoord dat sy nie geld gehad het nie.


Dit is aan haar gesuggereer dat die bedrag van R50 000, 00 `n teenprestasie was vir haar afstanddoening van onderhoud. Sy het dit ontken en gesê dat dit aangebied is in ruil vir die terugtrekking van haar eis teen mev Orton.

Sy is gevra hoekom sy afstand gedoen het van haar eis om onderhoud. Sy het geantwoord dat sy wou gehad het dat die eiser vir haar moes sorg.


Sy is na verskeie konsep ooreenkomste verwys en daarop gewys dat hulle verwys na die Jetta, terwyl die uiteindelike skikkingsooreenkoms nie na die Jetta verwys nie.


Dit is aan haar gestel dat die verwysing na East Rand Cranes erf 193 ingesluit het. Sy het nie saamgestem nie. Dit was iets wat sy gehad het en sy sou dit nie teruggegee het nie.


Sy het getuig dat sy nie somme gemaak het oor die waarde van wat sy gekry het nie. Mnr Prosser het gesê dat sy `n dak oor haar kop en `n kar moes hê.


Sy is verwys na `n brief wat sy op 17 Junie 1999 aan mnr Prosser gestuur het waarin sy verwys na bewyse van die eiser se nuwe voertuie en sy direkteurskap. Sien A285. Die bewys was `n kontrak gedateer 3 Junie 1999 ten aansien van `n bakkie wat die eiser as direkteur van East Rand Cranes geteken het. Sien D1061. Dit is aan haar gesuggereer dat sy daaruit moes aflei dat die eiser die alleen direkteur van East Rand Cranes was.


Sy is daarop gewys dat haar prokureur in `n Reël 35(3) kennisgewing wat op 4 Oktober 2005 afgelewer is, gevra het vir `n afskrif van die ooreenkoms tussen die eiser en mnr Nel.


Sy het bevestig dat toe sy die ooreenkoms tussen die eiser en mnr Nel in Oktober 2005 gesien het, het sy vir die eerste keer agtergekom dat die eiser ook mnr en mev Nel se aandeel in erf 193 gekoop het.


Van die aankoop van die plaas het sy eers op 3 November 2003 na die aktes soek bewus geword.


Sy is verwys na haar antwoordende verklaring gedateer 7 November 2002 in die summiere vonnis aansoek waarin sy gesê het dat die eiser gedurende die huwelik die Nels se halwe aandeel uitgekoop het. Sien Pleitstukke p23. Haar verduideliking was dat sy nie weet waar mnr Prosser dié inligting vandaan gekry het nie. Sy het net vinnig na die verklaring gekyk toe sy dit geteken het. Sy het bitter min met mnr Prosser gekonsulteer.


By wyse van `n onderbreking het sy die hof gewys op iets wat sy die vorige dag raakgesien het, naamlik `n lys van polisse wat oënskynlik van haar afkomstig is. Sien D1089. Sy het beweer dat haar handtekening op die dokument vervals is. Dit is aan haar gestel dat die dokument deur haar blootgelê is. Sy het dit nie aanvaar nie.


Sy het weer bevestig dat die brief van mnr Prosser gedateer 6 Junie 2000 (A528) sonder haar opdrag geskryf is. Sy is verwys na die bewering in haar antwoordende verklaring in die summiere vonnis aansoek tot die strekking dat sy weens geldnood ingestem het om oordrag van erf 193 te gee as die eiser die skikkingsooreenkoms nakom. Sien Pleitstukke p23. Sy het verduidelik dat mnr Prosser haar gebel het voor die brief geskryf is. Sy was so desperaat dat sy gesê het dat sy sou teken as die eiser uitbetaal. Daarna het sy gesê dat sy gesê het dat sy sou teken as sy vir erf 193 uitbetaal word.


Dit is aan haar uitgewys dat in haar antwoordende verklaring sy verwys het na haar 50% belang. Sy het verduidelik dat sy dit eers later gesien het.


Toe haar dogter en seun gesê het dat hulle met die eiser na `n plaas gaan, het hulle nie gesê watter plaas dit was nie. Daar was drie plase in die familie waarheen hulle kon gegaan het. Sy het nooit geweet dat hulle na `n plaas by Thabazimbi gaan nie.


Sy het bevestig dat sy skilderye uitgestal het, onder andere op een geleentheid te Leeupoort. Sy het ontken dat sy toe sy die uitstalling te Leeupoort gehou het, die wens uitgespreek het om die eiser se plaas te sien. Sy het ontken dat sy geweet het dat haar seun en sy huidige vrou met Oujaar 1998 die plaas besoek het.


Dit is aan haar gestel dat sy aanvanklik getuig het dat haar seun ten tyde van sy 21ste verjaardag vir haar gesê het dat die plaas en East Rand Cranes nou syne was. Haar seun is op 9 Januarie 1980 gebore. Sy het geantwoord dat sy `n fout gemaak het en dat sy dit reggestel het. Sy het eers in 2003 van die plaas verneem. Sy het ook gesê dat sy ontsteld was oor haar seun se gedrag die dag wat hy by die hof was.


Sy is verwys na `n nota van mnr Prosser gedateer 8 April 2002 dat sy gebel het en gesê het dat sy baie inligting gekry het van `n sekretaresse van die eiser wat bedank het. Sien 1/374. Sy kon nie sê wie die sekretaresse was nie. Vir `n oomblik het sy gedink dat die sekretaresse mnr Prosser se sekretaresse kon gewees het. Sy kon nie sê wie die sekretaresse was nie. Al wat die sekretaresse gesê het, was dat daar bedrog was. Sy het ook naamlose oproepe ontvang waarin net gemeld is dat die eiser bedrog gepleeg het.


Die verwysing in die nota na besighede soos Windows 1999 en All in One Crane was gebaseer op stories wat die rondte gedoen het.


Dit is aan haar gestel dat mnr Prosser nie geïnteresseerd was in ander besighede behalwe vir die doeleindes van uitwinning nie. Sy het dit ontken.


Die waarde van die plaas ten tyde van die egskeiding is met haar debatteer. Op die ou end het sy aanvaar dat die plaas nog nie in die naam van die eiser geregistreer was nie en dat al wat in die gemeenskaplike boedel gesetel het, die deposito van R300 000, 00 was.


Die kwessie van die polisse is met haar behandel. Sy is verwys na `n brief van Sanlam gedateer 10 Junie 1999 aan mnr Prosser. Sien A282. Aangeheg by die brief was `n uitdruk van die eiser se polisse. Sien A283-284. Dit bevat `n verwysing na die twee polisse wat in die skikkingsooreenkoms voorkom, uitkeer polis 13792796x8 en annuïteit 13792795x0. Sien D1079. D1078 is `n lys van polisse in haar handskrif. Die lys van polisse D1089 met haar vervalste handtekening het sy die vorige dag die eerste keer gesien. Sy het ontken dat sy ooit gekonsulteer is oor watter polisse sy sou kry. Sy het ontken dat mnr Prosser vir mnr Johan Grové gesê het dat sy die twee polisse wou hê want hy het haar nooit gevra nie.


Sy het bevestig dat sy nooit die waarde van die polisse wat sy sou kry bereken het nie. Sy het ontken dat die keuse van die polisse wat sy sou kry ooit met haar bespreek is. Mnr Prosser het nie die voordele van die polisse met haar bespreek nie. Volgens haar was die polisse `n bysaak. Sy het nie geweet dat ‘n annuïteit nie sedeer kan word nie. Sy was nie bereid om toe te gee dat daar aan albei kante ten aansien van die polisse fouteer is nie.


Dit is aan haar gestel dat die annuïteit nou R178 000, 00 werd is en dat premies ter waarde van R87 000, 00 daarop betaal is. Sy wou dit nie bevestig nie. Sy het aangedui dat sy nie `n beswaar daarteen sou hê as daar beveel word dat voordele gelykstaande aan die voordele van die annuïteit aan haar betaal word nie.


Sy is verwys na die eiser se opdrag aan Sanlam om die twee polisse aan haar te sedeer. Sien B410. Sy het dit as `n slim set beskryf.


Sy het vir mnr Prosser gesê dat die eiser haar bedrieg het. Sy is verwys na mnr Prosser se brief waarin hy die moontlikheid van `n tersydestelling van die skikkingsooreenkoms noem. Sien B408. Sy het verduidelik dat daar nie geld vir ‘n aansoek om tersydestelling was nie. Dit is aan haar gestel dat die stappe wat mnr Prosser geneem het om die ooreenkoms af te dwing onversoenbaar was met `n tersydestelling van die skikkingsooreenkoms. Sy het geantwoord dat sy nie kan sê hoe mnr Prosser gedink het nie. Daar was nie geld vir `n aansoek om tersydestelling nie.


Sy is verwys na die lasbrief tot uitwinning gedateer 21 Desember 1999. Sien B428. Volgens haar was daar nie konsultasies nie, maar sy het toegegee dat sy `n beëdigde verklaring afgelê het. Sy het saamgestem dat sy vir mnr Prosser gesê het om met die uitvoering van die lasbrief voort te gaan. Mnr Prosser het nie vir haar gesê dat hulle òf die lasbrief kon uitvoer òf die skikking kon ter syde stel nie.


Sy het saamgestem dat die oordrag van die huis vertraag is omdat dokumente verlore geraak het. Op die ou end het die eiser sy verpligtinge in hierdie opsig nagekom nadat mnr Johan Grové druk op hom geplaas het.


Sy is verwys na die aansoek waarin sy betaling van die bedrag van R42 000, 00 en oordrag van die huis geëis het. Sien B546. Sy het bevestig dat sy mnr Prosser hiervoor opdrag gegee het. Sy het ontken dat mnr Prosser ooit die alternatief van `n aansoek om tersydestelling van die skikkingsooreenkoms bespreek het.


Die moontlikheid van die oordrag van gelykwaardige polisse is nooit oorweeg nie. Sy is verwys na mnr Prosser se skrywe van 14 Augustus 1998 (A123) waarin hy sê dat sy bereid was om van haar eis om onderhoud afstand te doen. Sy het volhard dat sy steeds onderhoud wou hê.


Sy het volgehou dat sy vir mnr Prosser gesê het dat sy `n geregistreerde mede eienaar van erf 193 was.


Sy het getuig dat sy na mnr Prosser gegaan het en vir hom gesê het dat dit tyd was dat sy huur vir erf 193 kry. Sy is daarop gewys dat daar geen skrywe is met so `n versoek nie.


Dit is aan haar uitgewys dat mnr Prosser altyd probeer het om die geheel van erf 193 in eksekusie te verkoop, nie `n onderverdeelde aandeel nie. Sy het geen gesprek met mnr Prosser voor die beoogde verkoping gehad nie. Sy het getuig dat sy nie geweet het wat mnr Prosser bedoel het nie. Sy is ook na die voorwaardes van die beoogde verkoping verwys. Sien D520.


Sy het ontken dat die weglating van `n verwysing na erf 193 in die skikkingsooreenkoms `n gemeenskaplike fout was.

Sy is verwys na die eiser se Sanlam portefeulje soos op 1 Januarie 1999. Sien A282-283. Sy is daarop gewys dat die uitkeer polis nie daarin vermeld word nie. Sy kon geen gesprek oor hierdie dokument onthou nie. Sy het ontken dat die insluiting van die uitkeer polis `n fout was. Dit was bedrog.


Toe dit aan haar gestel is dat sy vir die annuïteit vergoed kan word deur `n gepaste bevel het sy dit aanvaarbaar gevind.


Sy het ontken dat daar enige eiendomme in haar naam geregistreer is. Sy koop, herstel en verkoop wel huise. As sy die volle verkoop prys van die huis moet terug aanbied, sal sy dit kan doen. Haar man sal haar help. Sy het bevestig dat sy wel haar dogter met die aankoop van `n huis gehelp het.


Sy is meegedeel dat mnr Prosser beskikbaar is om te getuig en is gevra of hy as `n getuie geroep gaan word. Sy het geantwoord dat sy hom graag as getuie sou wou sien. Hy sal net die waarheid praat.


In herverhoor is sy verwys na `n brief gedateer 14 Mei 1999 (1/120) waarin mnr Prosser vir mnr Grové geskryf het dat die eiser ses maande tevore voor haar en mnr Prosser in mnr Retief se kantoor gesê het dat hy sy mede aandeelhouer se aandele en leningsrekening uitgekoop het. Mnr Prosser het dit genoem om aan te toon dat die beswaar teen `n forensiese oudit op grond van mnr Nel se ongemaklikheid daarmee, nie geldig was nie. Sy het herhaal dat sy eers op 8 November 2006 kennis verkry het van die ooreenkoms met mnr Nel.


Toe sy die gesprek met haar seun gehad het, was hulle op pad huis toe. Haar man, mnr Botes, het die telefoon oorgeneem.


Die verweerderes se volgende getuie was haar voormalige prokureur, mnr Prosser. Hy het getuig dat hy die vorige aand vir die eerste keer gekonsulteer is en dat daar nie tyd was om al die dokumentasie deur te werk nie.


Mnr Prosser se getuienis is gelei aan die hand van korrespondensie en ander dokumente, beginnend met sy brief aan die eiser gedateer 11 November 1997. Sien 1/1. In die algemeen het hy die inhoud van die dokumente waarna hy verwys is, bevestig.


Ten aansien van sy brief gedateer 15 Desember 1997 in antwoord op voorstelle van mnr Kilian, het hy saamgestem dat dit voorkom of erf 193 as deel van die besigheid beskou is. Hy het bevestig dat erf 193 in sy brief van 18 Februarie 1998 (1/17) gladnie genoem is nie. Dieselfde was die geval met sy brief gedateer 7 Mei 1998 aan mnr Retief. Sien 1/29.


Hy het bevestig dat dit altyd sy oogmerk was om `n gelyke verdeling van die gemeenskaplike boedel te bewerkstellig.


Hy het bevestig dat die eiser op die voorverhoor konferensie gehou op 7 Desember 1998 tot `n forensiese oudit toegestem het.


Hy het bevestig dat daar geen verwysing na erf 193 was in die eiser (eerste verweerder) se nadere besonderhede vir verhoor nie. Sien 1/101. In daardie nadere besonderhede verwys die eiser na die twee polisse wat in hierdie aksie ter sprake is.


Met verwysing na sy brief van 14 Mei 1999 (1/120) het hy bevestig dat hy en die verweerderes moes geweet het dat die eiser nou `n 100% aandeelhouer en East Rand Cranes was.


Hy is verwys na die brief van die ouditeur en die aangehegte finansiële state van East Rand Cranes en het die verwysings na mnr Nel en twee direkteure en aandeelhouers bevestig. Sien 1/159 en 1/160-166.


Volgens sy nota van `n voorverhoor konferensie gedateer 31 Augustus 1999 was die helfte van die besigheid R258 000, 00 werd en die polisse R20 000.00. Sien 1/125. Sy waardasie van die besigheid was afkomstig van die ouditeur se waardasie gedateer 30 Junie 1999. Sien 1/175. Die waardasie het betrekking gehad op `n 50% belang. Hy kan nie onthou dat die verskil tussen dié waardasie en die inligting dat die eiser mnr Nel se aandeel uitgekoop het, bespreek is nie.


Die ooreenkoms tussen mnr Nel en die eiser het hy nooit gesien nie. Dit stem ooreen met wat hy vertel is.


Hy het die verskeie konsep ooreenkomste bevestig.


Op die verhoor dag op 9 September 1999 het die verweerderes nie aan die onderhandelinge deelgeneem nie. Sy het nie naby hom en mnr Grové gesit nie.


Die skikkingsooreenkoms is met hom behandel. Ten aansien van klousule 3.9 het hy gesê dat hy dit nie so sou bewoord het nie omdat `n maatskappy ter sprake was. Erf 193 is nooit bespreek nie.


Met verwysing na paragraaf 7 van die besonderhede van eis het hy ontken dat daar ooit `n uitdruklike ooreenkoms was dat die verweerderes haar aandeel in erf 193 sou oordra. Hy het ook die beweerde stilswyende ooreenkoms ontken.


Hy is verwys na sy skrywe aan mnr Grové gedateer 6 Junie 2000 waarin hy gesê het dat hy nie glo dat sy kliënt `n beswaar sou hê daarteen om haar belang in erf 193 oor te dra mits die eiser die skikking nakom nie. Sien A528. Hy het afgelei dat hy nie instruksies kon verkry nie omdat hy gesê het dat hy glo dat sy kliënt nie `n beswaar sal hê nie.


Ten aansien van die Sanlam polisse het hy getuig dat hy nie kan onthou wie hulle uitgekies het nie.


Hy het paragrawe 6.2 en 7 van die verweerderes se verklaring ter afwering van summiere vonnis bevestig. Die verweerderes het nie geld gehad nie. Sake is dikwels oor die telefoon bespreek.


Hy het sy brief gedateer 5 Oktober 1999 waarin hy die moontlikheid van terugtrede uit die skikkingsooreenkoms weens wanvoorstelling ten aansien van die polisse ge-opper het, bevestig. Sien 2/439.


Hy kon nie onthou dat daar sprake was daarvan dat die eiser die verweerderes se aandeel in erf 193 sou koop nie. Volgens sy nota gedateer 7 April 2002 het die verweerderes vir die eiser gesê dat sy `n 50% aandeel in die erf gehad het. Sien 1/306.


Hy het bevestig dat hy die bedrag van R30 000, 00 op rekening ontvang het.


In kruisverhoor is hy verwys na verskillende dokumente wat op assuransie polisse betrekking het. Hy kon die dokumente nie onthou nie, maar het nie ontken dat hy hulle ontvang het nie. Hy het bevestig dat hy die brief van Sanlam gedateer 10 Junie 1999 gerig aan hom ontvang het. Sien A282. Hy het bevestig dat die uitkeer polis 37592796x8 nie daarop voorkom nie. Hy het nie geweet dat dié polis nie meer aktief was nie. As hy dit nie raakgesien het nie, het hy die vraag gevra waarom die eiser hom nie daarop gewys het nie. Hy weet nie of hy geweet het dat `n annuïteit nie gesedeer kon word nie.


Hy het aanvaar dat die insluiting van die annuïteit in die ooreenkoms die resultaat van `n fout van hom en mnr Grové kon gewees het.


Hy kon nie sê waar die geskatte waarde van die polisse op R20 000, 00 vandaan gekom het nie.


Hy kon nie sê of die uitkeer polis per abuis in die skikkingsooreenkoms beland het nie. Hulle moes aanvaar wat aangebied is.


Hy het aanvaar dat as hy gesien het dat die uitkeer polis nie meer bestaan het nie, hy dit sou ge-opper het.


Hy het ontken dat mnr Grové die polis nommers by hom gekry het. Hy het hulle eenvoudig uit sy konsep gekry.


Hy was nie bereid om te aanvaar dat die eiser `n fout met die uitkeer polis kon gemaak het nie.


Hy het saamgestem dat hy `n algemene mandaat van die verweerderes gehad het om vir haar `n gelykop verdeling te kry.


Hy is verwys na sy brief gedateer 7 Mei 1998 (A197) waarin geen melding gemaak word van onderhoud vir die verweerderes nie. Die brief is met haar toestemming geskryf en sy het waarskynlik `n afskrif daarvan ontvang. Die verskillende konsep ooreenkomste sou hy ook aan haar verduidelik het.


Die rede waarom hy nie in `n likwidasie van die boedel geïnteresseerd was nie, was die likwidasie koste.


Hy is verwys na sy skrywe van 5 Oktober 1999 aan mnr Grové (B408) waarin hy die moontlikheid van die tersydestelling van die skikkingsooreenkoms ge-opper het. Hy is gevra of daar besluit is om nie met die tersydestelling voor te gaan nie. Hy het geantwoord dat daar nie so seer so besluit is nie. Die verweerderes kon so `n prosedure nie bekostig nie. Hy het saamgestem dat die besluit om uit te win geneem is nadat hy geweet het dat hy die skikkingsooreenkoms kon tersyde stel.


Hy wou nie saamstem dat die verweerderes `n keuse uitgeoefen het nie.


Dit was nie nodig om `n opdrag van die verweerderes te kry om beslag te lê nie, want dit was haar reg.


Hy het verskillende stappe wat hy gedoen het om die skikking af te dwing bevestig. Hy het bevestig dat die verweerders se magtiging ten minste uit haar beëdigde verklarings blyk.


Hy kon nie onthou of hy met die verweerderes konsulteer het nie, maar hy sou dit waarskynlik gedoen het.


Hy is verwys na sy nota van 8 April 2002. Sien C742. Hy het verduidelik dat die nota in 2002 gemaak is. Hy het aanvaar dat die besighede waarna die verweerderes verwys het na die egskeiding verkry is en dat hy daardie besighede net as relevant beskou het vir uitwinning. Hy het ontken dat die nota daarop sinspeel dat die verweerderes nie kon teruggaan op `n keuse wat sy uitgeoefen het nie. Die verweerderes was finansieel genoodsaak om geld te verhaal.


Hy dink nie die verweerderes het geweet dat sy `n geregistreerde mede-eienaar van erf 193 was nie. As hy geweet het dat sy `n 25% aandeel in haar naam geregistreer gehad het, sou hy anders opgetree het. Hy moes aanvaar het dat erf 193 geregistreer was in die naam van die beslote korporasie of `n ander entiteit. Hy sou ook nie op die eiendom as geheel beslag gelê het as hy geweet het van die verweerderes se belang nie.


Toe hy die verkoping adverteer het, moes hy geweet het van die uitkoop van mnr Nel se belang. Dit sou hy in November 1998 geweet het. Na die eiser Nel se belang gekoop het sou hy die alleen aandeelhouer in die besigheid en die alleen eienaar van erf 193 gewees het.


Hy is verwys na die munisipale waardasie van erf 193 gedateer 25 Februarie 1998. Hy het verduidelik dat hy gewoonlik 25% by die munisipale waardasie getel het.


Hy het saamgestem dat aanvaar kan word dat hy tot die uitreiking van die lasbrief nie vir die verweerderes vertel het dat sy `n 25% belang in erf 193 gehad het nie.


Dit is aan hom gestel dat die besigheid en erf 193 saam beskou is. Hy het nie saamgestem nie en geantwoord dat dit twee verskillende entiteite is. Hy het egter saamgestem dat dit nooit beoog was dat die verweerderes erf 193 sou kry en die eiser se besigheid nie. Die besigheid en die erf was afsonderlik omdat elkeen `n aparte waarde gehad het.


Dit is aan hom gestel dat die verweerderes nooit vir hom gesê het dat sy nie wou hê dat hy erf 193 behandel omdat sy dit wou hou as `n soort pensioen. Hy kon nie so iets onthou en het geantwoord dat sy geld nodig gehad het om `n wanbalans aan te vul.


Hy kon nie onthou of hy na die egskeiding gevra is om huur vir erf 193 te vra nie.


Toe dit geblyk het dat die verweerderes die geregistreerde eienaar van `n deel van erf 193 was, was dit `n groot verrassing vir haar.


Toe dit aan hom gestel is dat dit altyd beoog is dat erf 193 saam met die besigheid sou gaan, het hy gesê dat dit vir waarde moes wees en daar was nie waarde nie. As die verweerderes die verskil betaal was, sou sy nie `n probleem gehad het om oordrag te gee nie.


Hy het bevestig dat hulle op 9 September 1999 besluit het om te onderhandel op die waardes wat verskaf is.


Hy het ontken dat hy aanvaar het dat die skikkingsooreenkoms `n billike verdeling bewerkstellig het. Dit het dit verteenwoordig wat hy gemeen het finansieel haalbaar was. Die skikking is aanvaar om koste te spaar.


Hy sou nie al die klousules met die verweerderes bespreek het nie, want sommige het al in konsepte voorgekom. Die betaling van R50 000.00 is beding om die helftes uit te balanseer.


In herverhoor het hy bevestig dat mnr Grové se brief van 7 Mei 1999 (A114) verwys het na `n mede-aandeelhouer. So is daar ook verwysings na mede aandeelhouers en direkteure in die finansiële state gedateer 5 Julie 1999. Sien 1/160.


Hy het sy nota van 31 Augustus 1999 bevestig, waarvolgens hy aangeteken het dat `n halwe aandeel in die besigheid R258 000.00 werd was. Sien A341A.


Hy het verwys na sy skrywe gedateer 28 September 2001 aan die balju. Sien C671. Die verwysing na betekening op die Nels wys dat hy moes gedink het dat hulle nog `n 50% aandeel in erf 193 gehad het.


Hy het bevestig dat erf 193 nooit in die skikking aangespreek is nie. Dit moes `n oorsig aan die kant van hom en mnr Johan Grové gewees het.

Die verweerderes se derde getuie was haar huidige eggenoot en prokureur, mnr F S Botes. Hy het getuig terwyl die getuienis van mnr Prosser afgestaan het.


Hy het verduidelik hoe hy die aktes soek ten opsigte van die plaas op die internet gedoen het. Hy het eers met behulp van die eiser se ID nommer vasgestel dat hy `n belang in Trade Windows het en het toe die aktes soek op Trade Windows gedoen. Daarna het hy en die verweerderes mnr Prosser gaan sien. Dit het daartoe gelei dat hy die verweerderes se lêer by mnr Prosser oorgeneem het.


Hy het vertel van `n geleentheid in 2005 of 2006 toe hy voor die verweerderes by die huis gekom het. Die verweerderes het ingery, maar nie uit haar kar geklim nie omdat sy besig was om op haar sel foon te praat. Hy kon hoor dat sy in `n argument met haar seun betrokke was. Op die ou end het hy haar sel foon geneem en die seun verbied om kontak met sy moeder te hê as hy hom nie gedra nie.


Hy het verwys na die ooreenkoms tussen mnr Nel en die eiser en bevestig dat hy nie voorheen daarvan bewus was nie. Die ooreenkoms ten aansien van die plaas het hy eers gesien toe dit op 27 September 2005 blootgelê is.


Hy het die aktes soek nie gedoen omdat die verweerderes vir hom gesê het dat daar `n plaas was nie. Sy het vir hom gesê dat die eiser ander besighede gehad het. Daarom het hy met `n maatskappy soek begin. Hy is self `n akte vervaardiger.


Hy is verwys na die blootlegging wat deur die verweerderes afgedwing is. Duisende dokumente van die besigheid is blootgelê, maar dit was bron dokumente. Daar was geen verwerkings of dokumente wat kon dien vir die opstel van finansiële state nie. Hy is meegedeel dat die verweerderes die boeke opnuut sou moes opskryf. Die blootlegging was nutteloos.


Die eiser is in 2005 verhinder om met mnr Prosser te konsulteer op advies van die verweerderes se advokaat. Daar is uiteindelik besluit om mnr Prosser te roep omdat nuwe feite na vore gekom het en omdat die verweerderes uitgedaag is om dit te doen.


Toe die verweerderes haar saak op haar teeneis gesluit het, het die eiser aansoek gedoen om absolusie van die instansie ten aansien van haar eis om restitusie. Die aansoek is van die hand gewys op grond van redes wat ek verskaf het.


Opeenvolgend moet die volgende geskilpunte aangespreek word :

  1. of die verweerderes ingevolge die skikkingsooreenkoms verplig is om haar aandeel in erf 193 aan die eiser oor te dra;

  2. of die verweerderes andersins onderneem het om haar aandeel in erf 193 aan die eiser oor te dra;

  3. of die eiser sy verpligtinge ingevolge die skikkingsooreenkoms nagekom het;

  4. of die eiser se eis vir oordrag van die verweerderes se aandeel in erf 193 verjaar het;

  5. of die eiser wanvoorstellings teenoor die verweerderes gepleeg het wat haar geregtig gemaak het om uit die skikkingsooreenkoms terug te tree;

  6. of die verweerderes enige reg om uit die skikkingsooreenkoms terug te tree verbeur het as gevolg van stappe wat sy gedoen het om die skikkingsooreenkoms af te dwing;

  7. of die verweerderes se reg om uit die skikkingsooreenkoms terug te tree verjaar het; en

  8. indien die verweerderes geregtig is om uit die skikkingsooreenkoms terug te tree, of restitusie moontlik is, en indien wel, op watter grondslag dit moet geskied.


Die eerste vraag behels die vertolking van die skikkingsooreenkoms.


Dit is duidelik dat daar geen direkte verwysing in die skikkingsooreenkoms na erf 193 is nie. Klousule 3.9 bevat egter ‘n frase wat beskou kan word as `n indirekte verwysing na erf 193. Ek verwys na die sinsnede “en alle ander bates nie hierbo genoem”. Op `n bloot letterlike vertolking het hierdie sinsnede die gevolg dat daar geen bates in die gesamentlike boedel is wat oor die hoof gesien is nie. Dit is waarskynlik dat die partye juis sou bedoel het dat die skikking alle bates behels.


As `n mens kyk na die skema van die fisiese verdeling maak dit sin dat erf 193 saam met die besigheid na die eiser sou gaan. Die ooreenkoms begin deur die bates op te noem wat na die verweerderes sou gaan : die huis, die inhoud daarvan en die motor. Dan volg die bates wat na die eiser sal gaan. Die aangehaalde sinsnede is `n bekende meganisme om te dien as `n vangnet vir enigiets wat uitgelaat mag gewees het. Soos reeds gesê is daar niks vreemds daarin dat die besigheid en erf 193 saam na die eiser sou gaan nie. Die besigheid is op die erf bedryf en die erf het nooit ekonomies los van die besigheid gefunksioneer nie. Dit mag wees dat die erf en die besigheid meer werd was as die bates wat na die verweerderes sou gaan. Daarvoor is daar tot `n mate gekompenseer deur die kontant bedrag wat die eiser die verweerderes moes betaal. Dit is duidelik uit die getuienis van mnr Prosser dat die bedrag, anders as wat die verweerderes dink, bedoel was om enige finansiële regstelling in die wanbelans van die verdeling te bewerkstellig. Selfs met die betaling van R 50 000, 00 sou daar nog steeds `n wanbalans wees. Mnr Prosser was terdeë daarvan bewus maar hy het dit duidelik gemaak dat die verweerderes genoodsaak was om te aanvaar wat haar aangebied was.


Dit is nie `n geval dat die partye totaal van erf 193 vergeet het nie. Die korrespondensie en ander dokumentasie wys duidelik dat hulle bewus was van die erf, die feit dat die verband afbetaal was, en die munisipale waardasie. Mens kan alleen aanneem dat dit alles verreken is in berekeninge wat gemaak is.


Die verweerderes se getuienis dat sy altyd wou klou aan haar aandeel van erf 193 is na my mening `n nagedagte wat geïnspireer is deur die ontdekking dat `n kwart aandeel nog in haar naam geregistreer is. Ek heg meer waarde aan die houding wat weerspieël word in mnr Prosser se brief van 6 Junie 2000 (B528) waarin hy die mening uitgespreek het dat hy nie glo dat die oordrag van die kwart aandeel in erf 193 vir die verweerderes `n probleem sou oplewer nie. Die brief gee mnr Prosser se houding weer. Hy was een van die twee persone wat die skikkingsooreenkoms formuleer het. Dit wys dat hy geredelik aanvaar het dat erf 193 aan die eiser toegeken is.


Ek is dus van mening dat op `n eenvoudige vertolking van die skikkingsooreenkoms erf 193 aan die eiser toegeken is. Dit sou dus insluit die onverdeelde aandeel wat in die naam van die verweerderes geregistreer was.


Die verweerderes het gepleit dat as dit die effek van die skikkingsooreenkoms is, dan is dit ongeldig omdat dit nie voldoen aan die vereistes van die Wet op Vervreemding van Grond, 1981 (Wet 68 van 1981) nie. Die antwoord op dié pleit is eerstens dat die ooreenkoms wel deur die partye onderteken is en dat die eiendom wel by noodwendige afleiding beskryf is. In die tweede plek is dit so dat `n ooreenkoms ter verdeling van `n gemeenskaplike boedel nie een van die transaksies is wat aan die Wet hoef te voldoen nie. Vervreemdings, ten opsigte waarvan vormvereistes voorgeskryf word, sluit net verkopings, ruiltransaksies en skenkings in.


My gevolgtrekking is dus dat die eiser wel ingevolge klousule 3.9 van die skikkingooreenkoms geregtig is op oordrag van die onverdeelde aandeel in erf 193 wat in die naam van die verweerderes geregistreer is. Hierdie gevolgtrekking maak dit eintlik onnodig om vas te stel of die verweerderes andersins onderneem het om haar aandeel aan die eiser oor te dra. Vir soverre die eiser steun op die brief van mnr Prosser gedateer 6 Junie 2000, moet ek dit duidelik maak dat ek van mening is dat daardie brief volgens sy eie bewoording net mnr Prosser se eie mening weergee, en nie enige opdrag van die verweerderes nie.


Die volgende vraag is of die eiser sy verpligting ingevolge die skikkingsooreenkoms nagekom het. Van belang hier is sy verpligting ingevolge klousule 3.5 om `n bedrag van R 50 000, 00 in maandelikse paaiemente van R 2 000, 00 te betaal.


Dit is gemene saak dat die eiser agterstallig geraak het met sy paaiemente en dat die volle balans van die bedrag van R 50 000, 00 opeisbaar geword het. Dit is duidelik dat die eiser steun op die betalings wat hy in aanhangsel B op p15 van die Pleitstukke bundel uiteengesit het. Die eiser se probleem is egter dat die laaste betaling van R 2000, 00 waarop hy steun nie so `n betaling is nie, maar `n bedrag wat betaal is ter skikking van die verkwiste koste verbonde aan die afstel van ‘ n eksekusie veiling wat vir 26 Julie 2002 adverteer is. Sien C790, C792 en C793. Die resultaat is dat die eiser op sy eie weergawe nie sy verpligtinge ingevolge die skikkingsooreenkoms nagekom het nie. Ek kan net meld dat dit gemene saak is dat daar nog `n dispuut is oor die koste van die verrrigtinge wat die verweerderes ter afdwinging van die eiser se verpligtinge ingevolge klousule 3.5 ingestel het, maar ek beskou enige verpligting om daardie koste te betaal nie as `n verpligting ingevolge die skikkingsooreenkoms nie.

Waar die eiser nie sy verpligtinge ingevolge klousule 3.5 volledig nagekom het nie, het hy een van die bewerings in die besonderhede van sy vordering nie bewys nie en kan hy ontmoet word met die exceptio non adimpleti contractus. Ek kan byvoeg soos later sal blyk, dat die eiser nie sy verpligtinge ten aansien van die oordrag van polisse nagekom het nie.


Mnr Greyling het aanvaar dat die eiser nie sy verpligting ingevolge die skikkingsooreenkoms 3.5 nagekom het nie. Hy het gesteun op `n tender wat hy gemaak het in die verweerderes se aansoek om absolusie van die instansie. Die tender was algemeen en vaag en was in elk geval nie vergesel van `n aanbod om koste tot op datum te bepaal nie.

Volledigheidshalwe behandel ek kortliks die verweerderes se spesiale pleit dat die eiser se eis verjaar het. Die eenvoudige antwoord daarop is dat die eis uit `n hofbevel spruit en derhalwe onderworpe is aan `n verjaringstermyn van 30 jaar. Daar is in sommige jurisdiksies `n teensinnigheid om skikkingsooreenkomste hofbevele te maak en in Thutha v Thutha 2008(3)SA494 TkH op 508G-H is daar gesê dat die praktyk om skikkingsooreenkomste by hofbevele in te lyf onwenslik is. Die feit is dat hierdie praktyk in hierdie afdeling algemeen gevolg word. Die voordele wat daardeur bereik word sluit in dat eksekusie direk gehef kan word, soos wat in hierdie geval gebeur het. Soos ek dit sien is die praktyk geoorloof . Ek kan aan geen rede dink waarom skulde spruitende uit so `n bevel nie behoort te verjaar net soos skulde wat spruit uit hofbevele wat verleen is sonder inlywing van skikkingsooreenkomste nie.


Me Rosenberg SC, wat saam met me McManus namens die verweerderes verskyn het, het verwys na De Ujfallussy v De Ujfallussy 1989(3) SA 18 AA as gesag vir die proposisie dat die bron van die eiser se eis nie die hofbevel is nie en dat die verjaringstermyn dus drie jaar is. Daardie saak gaan egter oor `n skikkingsooreenkoms wat aan `n eiseres `n opsie gegee het om onroerende eiendom te koop. Die hof het bevind dat die uiteindelike koopooreenkoms die bron van die eiseres se eis was en dat dit aan die voorgeskrewe vormvereistes moes voldoen. Dit is nie die feite in hierdie saak nie. Die eiser ontleen sy reg op oordrag aan klousule 3.9 wat deel van `n hofbevel is.

Dit bring my by die verweerderes se teeneis. Die eerste vraag is of die eiser wanvoorstellings gepleeg het wat die verweerderes geregtig gemaak het om uit die skikkingsooreenkoms terug te tree.


Dit is vir `n begin van belang dat die eiser nooit oor hierdie aspek getuig het nie, en dit ten spyte van aanduidings dat hy die verweerderes wel mislei het.


Die volgende wesenlike wanvoorstellings blyk uit die getuienis:

  1. die eiser het die verweerderes mislei oor sy inkomste

  2. die eiser het die verweerderes mislei oor die omvang van sy belang in East Rand Cranes en die waarde daarvan

  3. die eiser het die verweerderes mislei oor die plaas wat hy aangekoop het of ten minste oor die bedrag van R 300 000, 00 wat hy beskikbaar gehad het om een dag na die egskeiding as deposito op die plaas te betaal.


Bogenoemde aangeleenthede is ook aangeleenthede ten opsigte waarvan hy sy prokureur, mnr Johan Grové, mislei het.


Die eiser het die verweerderes mislei toe hy in nadere besonderhede gesê het dat sy inkomste net R 10 000, 00 per maand was. Dit is duidelik uit die tempo waarteen die plaas afbetaal is dat hy oor `n inkomste moes beskik het wat aansienlik hoër as R 10 000, 00 per maand was. Dit blyk ook uit die bedrag wat hy aan mnr Nel kon betaal, R 582 100, 00, dat hy oor `n baie hoër inkomste moes beskik het. Dit was `n hoogs wesenlike wanvoorstelling en dit behoef geen betoog dat as die verweerderes die waarheid geweet het, dat sy op `n ander grondslag sou geskik het.


Die wanvoorstelling ten aansien van sy belang in East Rand Crane blyk daaruit dat hy die indruk geskep het dat hy net `n 50% aandeel in die maatskappy gehad het en dat sy aandeel net R 258 913, 00 werd was. Daar is by herhaling verwys daarna dat hy net `n belang in die besigheid gehad het, in teenstelling tot `n volle belang. Die besorgdheid van sy sogenaamde vennoot is gebruik as `n verskoning om ‘n forensiese oudit te weier. `n Waardasie van die besigheid wat klaarblyklik beoog het om die waarde van `n 50% belang weer te gee, is voorgelê. Finansiële state is voorgelê wat onmiskenbaar die indruk geskep het dat daar twee aandeelhouers was met ‘n gelyke aandeelhouding en gelyke leningsrekeninge. Les bes was daar die klousule in die kontrak met mnr Nel waarin hy onderneem het om hangende die afhandeling van die egskeiding niks van die uitkoop van sy aandeel teenoor die verweerderes se prokureur te rep nie. Die feit dat die eiser wel op `n stadium aan mnr Prosser gemeld het dat hy mnr Nel se aandeel gekoop het, doen nie af aan die effek van enige van hierdie wanvoorstellings nie. Daar is geen aanduiding dat die eiser by daardie geleentheid relevante inligting soos die effektiewe datum van die transaksie, die koopprys ensovoorts verskaf het nie. Die relevansie van die wanvoorstellings aangaande die eiser se belang in East Rand Cranes spreek vanself. Waar daar voorgehou is dat die eiser se belang in East Rand Cranes R 258 913, 00 werd was, sou die verweerderes , as sy behoorlik ingelig was, geweet het dat die eiser se belang in East Rand Cranes (sonder erf 193) ten minste dubbel daardie bedrag werd was. Weereens sou sy waarskynlik op `n ander grondslag geskik het as sy dit geweet het.


Dieselfde geld vir die bedrag wat beskikbaar was as deposito op die plaas. Die eiser het die bestaan van hierdie bedrag bloot verswyg. Dit was `n aansienlike bedrag en hy was regtens verplig om die bestaan daarvan te openbaar. Dit was per slot van sake `n bate van die gemeenskaplike boedel. Dit gaan verder. Die regte uit hoofde van die skriftelike ooreenkoms, wat voor 10 September 1999 aangegaan is, was reeds `n bate in die gemeenskaplike boedel.


Die verweerderes steun ook op wanvoorstellings ten aansien van die twee polisse wat aan haar oorgedra moes word maar wat nie oorgedra kon word nie. Hier is ek van oordeel dat daar nie soseer ‘n wanvoorstelling was nie, maar doodgewone wanprestasie of onmoontlikheid van prestasie. Dit is duidelik dat die polisse genoem is in nadere besonderhede op `n stadium toe die uitkeer polis nog bestaan het. Daarna het hulle hulle weg gevind in mnr Prosser se konsep skikkingsaktes. Op die 9de September 1999 is hulle waarskynlik onnadenkend oorgeskryf in die skikkingsakte. Onder die omstandighede dink ek nie dat mens hier kan praat van bedrog nie.


Die gevolgtrekking waartoe ek geraak het, is dus dat die eiser die verweerderes wel mislei het en dat die wanvoorstellings wat hy gepleeg het die verweerderes wel geregtig gemaak het om uit die skikkingsooreenkoms terug te tree.


Namens die eiser word daar betoog dat die verweerderes afstand gedoen het van haar reg om terug te tree, of dit verbeur het, as gevolg van die stappe wat sy gedoen het om die ooreenkoms af te dwing. In hierdie verband steun die eiser op al die stappe wat gedoen is om betaling van die bedrag van R 50 000, 00 af te dwing nadat dit tot haar kennis gekom het dat die twee polisse nie oorgedra kon word nie.


Eleksie is ‘n vorm van afstanddoening. Sien Bekazaku Properties (Pty)Ltd v Pam Golding Properties (Pty)Ltd 1996(2)SA 537 K op 542F. Die leerstuk van eleksie veronderstel dat die party wat verplig is om ‘n keuse te maak ten volle op hoogte is van die onderliggende feite. Sien United Dominions Corporation v Van Eyssen 1961(1)SA 53 SR op 57 F-H. In hierdie geval is dit juis die posisie dat die verweerderes eers na Julie 2002, toe sy die afdwinging van klousule 3.5 laat vaar het, kennis opgedoen het van die ware feite ten opsigte van die wanvoorstellings waarop haar teeneis vir terugtrede gegrond is.


Onder die omstandighede is ek van oordeel dat daar nie gesê kan word dat die verweerderes `n eleksie uitgeoefen het ten gunste van instandhouding van die skikkingsooreenkoms met kennis van die wanvoorstellings nie. Sy het dus nie haar reg tot terugtrede verloor nie.


Die volgende vraag is of die verweerderes se reg tot terugtrede verjaar het.


Dit is duidelik dat die bewyslas om verjaring te bewys op die eiser is. Sien Gericke v Sack 1978(1)SA 521 A. Die eiser moet ook aspekte bewys wat meer bepaald binne die kennis van die verweerderes sou val, soos wanneer sy van die wanvoorstellings bewus geword het of daarvan bewus kon geword het. Sien Gericke se saak supra op 828 C.


Soos reeds gesê, meen ek nie dat die verweerderes se ontdekking dat die twee polisse nie oorgedra kon word relevant is tot die kwessie van wanvoorstelling nie. Die eiser het egter op die verkryging van daardie kennis gesteun as die tydstip wanneer verjaring moes begin loop.


Die vroegste wat die verweerderes kennis opgedoen het van die wesenlike feite wat haar teeneis vir terugtrede onderlê, was op 3 November 2003 toe die aktes soek gedoen is wat aan die lig gebring het dat die eiser `n belang het in Trade Windows en dat Trade Windows op sy beurt die geregistreerde eienaar van die plaas was. Die ander kennis oor die waarde van die besigheid, die kontrak met mnr Nel en die inhoud van die koop kontrak van die plaas, is later opgedoen.


Die verweerderes se teeneis is op 3 Maart 2003 afgelewer.


Die enigste vraag is of die verweerderes op `n vroeëre stadium van die wanvoorstellings bewus moes gewees het.


Artikel 12(2) en (3) van die Verjaringswet, 1969 (Wet 68 van 1969) lui as volg:

(2) Indien die skuldenaar die skuldeiser opsetlik verhinder

om van die bestaan van die skuld te wete te kom, begin

verjaring nie loop voordat die skuldeiser van die

bestaan van die skuld te wete kom nie.

(3) `n Skuld word nie geag opeisbaar te word voordat die

skuldeiser van die identiteit van die skuldenaar en van

die feite waaruit die skuld ontstaan, kennis dra nie:

met dien verstande dat `n skuldenaar geag word

sodanige kennis te dra indien hy dit deur die

uitoefening van redelike sorg kon bekom het”.


Dit is duidelik uit die getuienis dat die eiser die verweerderes opsetlik verhinder het om kennis van die ware feite te bekom. Die ooreenkoms met mnr Nel is `n voorbeeld. Die verberging van die ooreenkoms ten aansien van die plaas, is nog `n voorbeeld. Dit bring mee dat subartikel (2) van toepassing is en dat verjaring eers begin loop vanaf die tydstip wat die verweerderes kennis van die ware feite opgedoen het, ongeag of sy dit deur die uitoefening van redelike sorg vroeër kon opgedoen het. In elk geval, al is subartikel (3) van toepassing, meen ek nie dat dit in die mond van die eiser, wat die verweerderes mislei het, en inligting aan haar weerhou het, lê om te sê dat sy haar nie so maklik moes laat mislei het en dat sy deur sy bedrog moes gesien het. Die verweerderes het inderdaad getuig dat sy altyd gevoel het dat iets nie pluis (kosjer) was nie, maar dat sy nie haar vinger daarop kon lê nie. In die verband is die uitspraak in Minister of Finance and Others v Gore NO 2007(1)SA 111 HHA op 120 C-121 B van belang. `n Blote suspisie in teenstelling tot `n geregverdigde geloof is nie genoeg om juridies te ag dat `n skuldeiser kennis gedra het van die feite waarop sy eis gegrond is nie. Dit is na my mening die geval in hierdie saak.


Wat die plaas betref het die eiser die getuienis van sy seun en skoondogter aangebied. Dit is so vaag dat niks daaruit afgelei kan word nie. Die eiser het moeite gedoen om te sorg dat die plaas nie voor die egskeiding op sy naam oorgedra word nie. Geen ondersoek op daardie stadium aan die hand van die vae bewerings wat Juan en Heleen Breitenbach sê hulle gemaak het, sou aan die lig gebring het dat die eiendom deur die eiser aangekoop is nie. Die eiser het nie in die aanloop tot die egskeiding enigiets ten aansien van die aankoop van die plaas openbaar nie. Hoe moes die verweerderes met haar beperkte middele `n ondersoek aangepak het? In elk geval, die eiser se seun en skoondogter was nie onpartydige getuies nie. Die verweerderes was sekerlik ook nie `n onpartydige getuie nie, maar op die waarskynlikhede kan ek nie aanvaar dat sy, as sy pertinent meegedeel is dat die eiser `n plaas aangekoop het, die inligting sou ignoreer het nie.


My gevolgtrekking is dus dat daar geen basis is om te ag dat die verweerderes haar kennis van die wanvoorstellings opgedoen het voor sy dit daadwerklik opgedoen het nie.


Dit bring my by die laaste vraag: of restitusie bewerkstellig kan word, en indien wel, op watter grondslag dit moet geskied.


Dit is deur al die partye aanvaar dat dit verdeling van die gemeenskaplike boedel tersyde gestel kan word terwyl ontbinding van die huwelik en die bepalings aangaande onderhoud en toesig en beheer bly staan. Daardie bepalings kan in elk geval nie ongedaan gemaak word nie of het akademies geword.


Die partye het albei aanvaar dat vir die doeleindes van restitusie en `n uiteindelike verdeling van die boedel die polisse apart beskou kan word. Dit maak sin, want die polisse is afsonderlik verdeel op die grondslag dat daar `n gelyke verdeling sou wees. Waar dit nie gebeur het nie, is die eiser se aanbod om die voordele van die annuïteit , wanneer dit uitbetaal word, aan die verweerderes te laat toekom, veronderstel om die wanbelans ten aansien van die polisse reg te stel. Me Rosenberg het aanvaar dat die aanbod genoegsaam is en dat dit `n gelyke verdeling ten aansien van die polisse sal bewerkstellig. Die aanbod is gemaak op die grondslag dat die verweerderes vanaf die datum van die hofbevel die eiser sal vergoed vir alle premies wat hy moet betaal.


Daar was `n groot debat oor of die bates waardeer moes word soos op datum van egskeiding (10 September 1999) en of hulle deur die likwidateur volgens huidige waardes gewaardeer en dan verdeel moes word.


Mnr Greyling het betoog dat die verdeling moet geskied aan die hand van die waardes wat die bates op 10 September 1999 gehad het. Hy het betoog dat die hof trouens self op die getuienis die bates kon waardeer en bepaal wat die balans is wat die eiser moet betaal. Dan sou die aanstelling van `n likwidateur nie nodig wees nie.


Me Rosenberg het betoog dat die hof nie die waarde van die bates soos op 10 September 1999 kan bepaal nie. Sy het betoog dat as 10 September 1999 die relevante datum is, die likwidateur sou moes bepaal wat die waarde van die plaas was en wat die werklike waarde van die eiser se belang in East Rand Cranes was. Sy het daarop gewys dat daar getuienis was dat die eiser die plaas al voor hy dit aangekoop het begin verbeter het. Dan het sy betoog dat die inkomste wat East Rand Cranes gegeneer het om die verband op die plaas so vinnig af te betaal, dui op `n hoër waardasie van East Rand Cranes as wat uit die finansiële state of die ooreenkoms met mnr Nel blyk.


Me Rosenberg het egter betoog dat die hof eenvoudig die verdeling van bates (polisse uitgesluit) ter syde moes stel en dit aan die likwidateur moet oorlaat om hulle volgens huidige waardes te waardeer. Dit volg dan dat ten aansien van die huis `n finansiële regstelling van R920 000.00 gemaak moet word want dit is die bedrag waarvoor die verweerderes die huis verkoop het.


Mnr Greyling het heftig beswaar gemaak teen wat hy beskou het as `n frontverandering aan die kant van die verweerderes.


Hy het betoog dat die saak deurgaans gevoer is op die grondslag dat die boedel herverdeel moet word volgens die waardes van bates op 10 September 1999. Hy het verwys na `n tussentydse aansoek waartydens daar betoog is dat die verweerderes finansiële inligting na die datum van egskeiding benodig om terug uit te werk wat die eiser se bates en inkomste ten tyde van egskeiding was.


Daar is verwys na paragraaf 3.10 in die verweerderes se repliserende verklaring in `n blootleggingsaansoek waar die volgende gesê is:

It is common cause that the joint estate must be valued as at the date of the divorce”. Sien Kennisgewings 255.

In sy openingsbetoog het mnr Greyling inderdaad na hierdie paragraaf verwys as `n toegewing dat die regsposisie is dat die verdeling moes geskied soos op datum van egskeiding.


Na advokaat Greyling sy openingsbetoog gelewer het, het advokaat Rosenberg die volgende mededelings gemaak:

MEV ROSENBURG: soos die hof behaag. U Edele, daar is net een submissie wat ek aan die hof wil maak met betrekking tot u, Edele, se vraag aan my geleerde vriend die verdeling van die boedel wanneer is die regs aangepaste datum. Dit is u, Edele, die 9 September of die 10 September 1999, die datum van die egskeiding.

HOF: 1999?

MEV ROSENBERG: Ja u, Edele.

HOF: Ja.

MEV ROSENBURG: Ja u, Edele, die egskeiding September 1999, maar u, Edele daar is een aspek wat ek vir u, Edele kan uitlig die verweerderes het geëis dat die skikkingsakte ter syde gestel word en dat `n likwidateur aangestel word. Die likwidateur, Edele, sal dan die waarde van die boedel op daardie datum bepaal en dat die bates soos dit daar bestaan het aan die partye toedeel u, Edele, sodat elkeen van hulle `n helfte van die gemeenskaplike boedel sou kry”.


Mnr Greyling het betoog dat die eiser benadeel sou word as die verdeling nie geskied op 1999 waardes nie. Hy het betoog dat hy die saak anders sou gevoer het as hy daarvan bewus was dat die verweerderes gaan betoog dat die bates volgens huidige waardes verdeel moet word.


Soos ek dit sien het die verweerderes die reg gehad om terugtrede te eis en ook skadevergoeding te eis.


Haar teeneis, soos in die pleitstukke geformuleer, is een wat op terugtrede gerig is. Mnr Greyling se argument veronderstel dat sy skadevergoeding eis: die bedrag wat sy sou ontvang het uit die verdeling as geen wanvoorstelling gepleeg is nie.


Daar is geen basis in die pleitstukke vir mnr Greyling se siening nie. Daar is ook geen aanduiding dat die verweerderes in enige voorverhoorkonferensie te kenne gegee het dat sy die basis van haar teeneis verander nie.


Die bewering in paragraaf 3.10 is bloot dat dit gemene saak is dat bates soos op datum van egskeiding waardeer moet word. Die waardes van bates op datum van egskeiding was relevant tot die kwessie of daar wanvoorstellings ten aansien van die waardes van bates was.


Dit is egter waar dat die aangehaalde woorde van advokaat Rosenberg, komende na mnr Greyling se stelling dat daar `n erkenning was dat die verdeling van die boedel soos op datum van egskeiding gedoen moet word, die indruk geskep het dat me Rosenberg ook van mening was dat die verdeling volgens waardes ten tyde van egskeiding moes geskied.


Dit blyk uit die oorkonde dat ek die juridisie korrektheid van so `n erkenning, as dit `n erkenning was, betwyfel het.


Na my mening was die eiser gewaarsku dat hy nie sonder meer kon aanvaar dat `n verdeling op die waardes van bates ten tyde van egskeiding gedoen kon word nie.


Tot die mate dat me Rosenberg erken het dat die verdeling moet geskied volgens waardes ten tyde van egskeiding, was dit `n regsdwaling wat die hof nie bind nie. Sien van Niekerk v Jantjies [1996] a All SA 517 OK op 520 i-j.


In elk geval was die houding van die verweerderes nie onomwonde nie, want sy het eers die bedrag van R460 000.00 nie later die bedrag van R920 000.00, die opbrengs van die huis, teruggetender. Die tender was kennelik nie op 1999 waardes gebaseer nie.


Op die ou end is die hof gebonde aan die pleitstukke en die reg. Dit sou geen verskil aan die lei van getuienis gemaak het dat die eiser mag gedink het dat daar met 1999 waardes gewerk gaan word nie. Daar kon nooit sprake daarvan gewees het dat huidige waardes bewys moes word nie, want hulle moes deur `n likwidateur bepaal word.


Om al hierdie redes is ek van oordeel dat die hof nie gebonde is aan enige sogenaamde erkenning dat die verdeling volgens 1999 waardes gedoen moet word nie.


Na my mening spreek dit vanself dat as die verdeling van bates tersyde gestel word, die partye die bates wat hulle kragtens die skikkingsooreenkoms ontvang het, moet teruggee en dat hulle dan waardeer en opnuut verdeel moet word. Vir soverre `n party nie restitusie kan bewerkstellig nie, kan `n monetêre regstelling gemaak word. Daar is geen regsbasis aan my voorgehou vir `n konstruktiewe restitusie nege jaar in die verlede nie.


In die geval van die eiser is die probleem veroorsaak deur die feit dat hy die plaas laat registreer het in die naam van Trade Windows en sy belang in East Rand Cranes aan die Paarl Familie Trust oorgedra het, ondervang deur die feit dat die Paarl Familie Trust solidêre aanspreeklikheid met hom aanvaar het vir enige bedrag wat hy voortvloeiende uit die uitspraak van hierdie hof moet bepaal. Ofskoon Trade Windows nie so `n onderneming gegee het nie is die Paarl Familie Trust die eienaar van die aandele in Trade Windows.


Volgens die getuienis het die Paarl Familie Trust 26% van die aandele in East Rand Crane aan mnr Mabatha verkoop. Die restitusie wat gemaak moet word is dus net ten aansien van die oorblywende 74% van die aandele. Daar is geen basis in die getuienis gelê vir enige monetêre aanpassing om die opbrengs van die transaksie met mnr Mabatha in te reken nie.


Dit bring my by die bevel wat gemaak moet word. Uit die voorgaande volg dit dat die eis van die hand gewys moet word en paragraaf 3 van die skikkingsooreenkoms (verdeling) ter syde gestel moet word. `n Likwidateur moet aangestel word. Ek sal die partye die geleentheid gee om op die persoon van `n likwidateur ooreen te kom. Ek sal `n bevel maak volgens dit wat in betoog vir die advokate aanvaarbaar was. Die aanbod ten aansien van die annuïteit sal in die bevel beliggaam word.


Dit is nie moontlik om premies te voorsien hoe die waardasie en herverdeling sal verloop nie. Die mees bevredigende oplossing sal wees as daar nie `n fisiese verdeling van bates sal wees nie, maar net `n finansiële regstelling deur die party wat tans die meeste bates in sy besit het. Dit is vermoedelik die eiser. Dit mag egter weer dat `n fisiese verdeling onvermydelik is. As `n finansiële regstelling nodig is, mag dit wees dat terme toegestaan moet word of sekuriteit verskaf moet word. Ek kan voorsien dat dit nodig sal wees dat die verweerderes haar onverdeelde aandeel in erf 193 aan East Rand Cranes of `n ander entiteit moet oordra. Dit is nie moontlik om te voorsien wat alles nodig mag wees om die herverdeling uit te voer nie. Daarom sal ek bloot gelas dat die likwidateur die reg sal hê om die hof te nader om sodanige bevele of aanwysings te verkry as wat nodig mag wees om uitvoering aan die herverdeling te gee.


Dit bring my by koste. Daar was verrigtinge voor Du Plessis R toe daar gepoog is om sekere dispute ingevolge Reël 33(4) afsonderlik te bereg. Die koste verbonde daarvan is voorbehou. Ek sal gelas dat dit koste in die geding moet wees. Die advokate het dit aanvaarbaar gevind.


Daar is ander voorbehoue koste wat voorbehou is in tussentydse aansoeke.


Ek sal eenvoudig gelas dat hulle voorbehou bly. Dit was nie vir my moontlik om daardie koste te besleg nie.


Die groot debat oor koste was of ek koste op `n skaal tussen prokureur en eie kliënt moet gelas, soos deur die verweerderes versoek.


`n Bestraffende koste bevel is gepas waar `n litigant hom in litigasie op `n afkeurenswaardige wyse gedra het.


Ek kan dit nie miskyk dat hierdie saak voortspruit uit bedrog wat in litigasie gepleeg is. In hierdie saak het dit die verweerderes elf hofdae gekos om die skikking wat sy weens wanvoorstelling aangegaan het ter syde gestel te kry. Dit is niks minder as billik dat sy so min as moontlik skade moet ly aan regskoste. Na my mening is `n bevel dat die eiser die gedingkoste op `n skaal tussen prokureur en kliënt betaal, van pas .


`n Bevel dat prokureur en eie kliënt koste betaal moet word gaan een stappie verder. Dit is veronderstel om die uiterste afkeur van `n hof weer te gee. Sien Cambridge Plan AG v Cambridge DIet (Pty) Ltd and Others 1990(2) SA 574 T op 589E. In hierdie geval sal ek so `n bevel weerhou omdat die eiser in hierdie saak deur ondernemings wat hy namens die Paarl Familie Trust gegee, `n klip uit die pad van die verweerderes gerol het.


Dit spreek vanself dat die verweerderes op die koste van twee advokate geregtig is. Die stukke was omvangryk en verskillende regspunte was ter sprake.


Ek voel nie gelukkig oor die onnodige duplikasie in die hof bundels nie maar met teenstrydige verduidelikings van die balie was dit nie vir my nodig om vas te stel wie daarvoor verantwoordelik is nie.


Die volgende bevel word gemaak:

  1. Die eiser se eis word van die hand gewys.

  2. Die verdeling van die gemeenskaplike boedel soos vervat in klousule 3 van die skikkingsooreenkoms ingelyf by die hofbevel gedateer 10 September 1999 in saak 33193/97 WPA word tersyde gestel.

  3. `n Likwidateur moet die bates van die gemeenskaplike boedel waardeer. As die partye nie binne 7 dae na hierdie uitspraak op die persoon van die likwidateur ooreenkom nie, sal die likwidateur `n persoon wees aangewys deur die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters.

  4. Die gemeenskaplike boedel moet as volg verdeel word:

    1. Ten aansien van die assuransie polisse moet die eiser sodra polis nommer 13792795x0 uitbetaal word, die ekwivalent van alle betalings wat hy ontvang aan die verweerderes betaal. Die verweerderes moet vanaf datum van hierdie bevel, die ekwivalent van alle premies deur die eiser betaal, aan hom oorbetaal. Die eiser moet steeds die premies op die polis betaal. Alle betalings deur die verweerderes betaalbaar moet gemaak word binne een week na die eiser `n betrokke premie betaal het. Alle uitbetalings deur die eiser betaalbaar moet gemaak word binne `n week nadat hy `n betrokke betaling ontvang het.

    2. Alle ander bates wat die partye ingevolge die skikkingsooreenkoms ontvang het en nog in hulle besit het, moet waardeer word. Dit is die meubels, die eiser se belang in East Rand Cranes en die eiser se belang in Trade Windows 34 (Pty) Ltd. Vir die doeleindes hiervan word die belang van die Paarl Familie Trust in East Rand Cranes en in Trade Windows 34 (Pty) Ltd geag die eiser se belange te wees. Ook ingesluit by bates wat waardeer moet word is erf 193, New Era uitbreiding 1, Springs en die onverdeelde aandele daarin.

    3. Bates nie meer in die verweerderes se besit, naamlik die huis, die Jetta voertuig en die bedrag van R50 000.00 betaalbaar ingevolge klousule 3.5 van die skikkingsooreenkoms moet ingebring word teen R920 000.00, R50 000.00 en R48 000.00 onderskeidelik.

    4. Die totale waarde van die gesamentlike boedel moet bereken word en `n verdelingsrekening moet opgestel word op `n 50:50 basis.

    5. As daar `n balans deur die eiser betaalbaar is, sal dit betaalbaar wees gesamentlik en afsonderlik deur hom en die Paarl Familie Trust.

    6. Die likwidateur sal geregtig wees om die hof te nader om aanwysings of bevele te verkry ten einde uitvoering aan die herverdeling te gee.

    7. Die koste van die likwidateur moet uit die gesamentlike boedel verhaal word.

  5. Die eiser moet die koste van die saak (insluitende die koste van twee advokate) betaal op die skaal tussen prokureur en kliënt. Die koste sal insluit die koste voorbehou in die verrigtinge voor Du Plessis R. Alle ander voorbehoue koste bly voorbehou.





_______________________

C. BOTHA

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF.