South Africa: High Courts - Gauteng

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2005 >> [2005] ZAGPHC 103

| Noteup | LawCite

Van der Merwe v Premier van Mpumalanga (29007/00) [2005] ZAGPHC 103 (1 October 2005)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

88


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)


Saaknr. 29007/00






In die saak tussen


ANNA FRANCINA VAN DER MERWE Eiseres


en



PREMIER VAN MPUMALANGA Verweerder




UITSPRAAK




C.J. CLAASSEN R


[1] Die eiseres in hierdie aangeleentheid tree op in haar persoonlike en in haar verteenwoordigende hoedanigheid as moeder en voog van R., ‘n minderjarige dogter, gebore op [Day] [Month] 1993, wat ten tye van die verhoor 12 jaar oud was. Die eiseres se eis is teen die verweerder in sy verteenwoordigende hoedanigheid as provinsiale uitvoerende hoof van die Departement van Gesondheid van die Mpumalanga Provinsie, vir deliktuele skade as gevolg van R. se permanente en volkome bilaterale blindheid en die sequelae daarvan. Die eis het sy oorsprong in die feit dat R. prematuur in die Rob Ferreira Hospitaal te Nelspruit gebore is. Die premature geboorte het aanleiding gegee tot ‘n toestand wat bekend is as retinopatie van prematuriteit (Retinopathy of Prematurity, “ROP”) wat die direkte oorsaak van die gesigsverlies is omdat dit onbehandel gelaat is. Die beweerde nalatigheid van die verweerder se geneeshere en/of verpleeg personeel word as volg in paragraaf 6 van die eiseres se besonderhede van vordering vervat:


“6.1 Hulle het versuim om die minderjarige tydig en/of gereeld te ondersoek;


6.2 Hulle het versuim om die minderjarige tydig te verwys vir ondersoek deur

‘n oftalmoloog;


6.3 Hulle het versuim om die minderjarige te monitor vir die ontwikkeling van retinopatie van prematuriteit;


6.4. Hulle het versuim om die minderjarige betyds en/of enigsins te verwys vir behandeling van retinopatie van prematuriteit;


6.5 Hulle het versuim om die minderjarige se behandeling so toe te pas of uit te voer dat die ontwikkeling van retinopatie van prematuriteit voorkom word;


6.6 Hulle het versuim om die insident te voorkom terwyl hulle deur die uitoefening van redelike sorg, vaardigheid en behendigheid dit kon en moes gedoen het.”


[2] Ofskoon die aksie aanvanklik bestry is, het die verweerder deliktuele aanspreeklikheid toegegee om sodanige skadevergoeding wat bevind mag word voort te gespruit het uit die ROP wat die minderjarige opgedoen het, te betaal. Die kwessie van die verweerder se aanspreeklikheid is dus reeds beslis. Die enigste kwessie wat tans vir beregting dien is die quantum van die eiseres se skadevergoeding in haar verteenwoordigende hoedanigheid vir die sequelae voortspruitend uit R. se totale verlies van sig.


[3] Dit is gemeensaak dat die verweerder behoorlik aangemaan is ingevolge die bepalings van Artikel 2 van die Wet op Beperking van Regsgedinge (Provinsiale- en Plaaslike Besture), Nr. 94 van 1970.


[4] Die eiseres se eis vir skadevergoeding word baseer op die lex Aquiliae en die sui generis aksie vir pyn, lyding en ongerief. Sy eis gelede en toekomstige mediese-, hospitaal- en aanverwante kostes, toekomstige verlies van verdienste, alternatiewelik verdienvermoë en algemene skadevergoeding. Dit dien vermeld te word dat die minimale eis vir gelede mediese koste nie in geskil is nie (ofskoon dit streng gesproke ‘n eis is wat tradisioneel tuis hoort by ‘n eis in die ouer se persoonlike hoedanigheid) en ten opsigte waarvan ‘n wysiging tydens die verhoor toegestaan is.


[5] Die eiseres se gewysigde eis is ten opsigte van R5 338 025,00, toepaslike rente daarop, koste van die geding, rente op koste asook die koste verbonde aan die beveiliging van enige toekenning totdat R. meerderjarigheid bereik.


GESKILPUNTE


[6] Die eis vir gelede mediese koste in die bedrag van R1 134,00 soos gepleit in paragraaf 9.2 van eiseres se besonderhede van vordering, is nie in geskil nie. Volledigheidshalwe is die besonderhede van vordering gewysig deur invoeging van die woorde “persoonlike hoedanigheid en in haar” direk na die woord “haar” in paragraaf 1 daarvan. Daar was geen beswaar teen die wysiging nie.


[7] Die restant van die eiseres se eis onder die skadehoofde uiteengesit in paragrawe 9.2, 9.3 en 9.4 van die besonderhede van vordering is steeds in geskil. Die skadehoofde word as volg in die besonderhede van vordering gepleit:


“9.2 Toekomstige mediese behandeling


Soos uiteengesit in die aktuariele verslag van mnr.

G Jacobson gedateer 17 Augustus 2005 saamgelees

met die eiseres se hoofde van betoog 2 480 092,00


9.3 Toekomstige verlies van verdienste alternatiewelik

verdienvermoë


Soos per voormelde aktuariele verslag (Basis IV) 2 156 799,00


9.4 Algemene skadevergoeding


Dit is nie doenlik om afsonderlik te vermeld

hoeveel ten opsigte van elk van die onderstaande

geëis word nie:


  • Pyn, leiding en ongerief (gelede en

toekomstige)


  • Verlies van lewensgenietinge (gelede en

toekomstige)


  • Permanente ongeskiktheid


  • Permanente skending 700 000,00”



[8] Die verweerder wou geen formele erkennings maak ten opsigte van enigeen van die skadehoofde en die samestellende dele daarvan nie. Die eiseres was dus verplig om elke aspek te bewys ten spyte daarvan dat dit duidelik was dat heelwat van sodanige aspekte, óf nie deur die verweerder se deskundiges in geskil geplaas is nie, óf was dit aspekte ten opsigte waarvan die verweerder oor geen strydige deskundige opinie beskik het nie. Dit het bygedra tot onnodige getuienis met gevolglike verlenging van die duur van die verhoor en gevolglike onnodige vermorsing van openbare fondse. Die eiseres is onnodig belas met prokureur en klient koste wat met ‘n meer redelike benadering vermy kon gewees het. Hierdie aspek dra by tot verdere vermindering van enige toekenning wat aan die eiseres ten behoewe van die minderjarige gemaak word. Ofskoon dit ‘n party se reg is om van ‘n ander party te verg dat laasgenoemde sy of haar eis na behore bewys, is dit ewe redelik om van ‘n owerheidsliggaam te verwag dat behoorlike en tydige ondersoek na eise gedoen word sodat onnodige geskilpunte, vertraging en vermorsing van koste vermy kan word deur bewys van ‘n saak te verg waar daar óf eensgesindheid onder deskundiges bestaan óf daar andersyds geen weersprekerende getuienis bestaan en aangebied kan word nie. Volgens Mnr. De Waal, namens die eiseres, was dieselfde werkswyse skynbaar deur die verweerder gevolg toe die kwessie van aanspreeklikheid voor die hof gedien het. Aanspreeklikheid is eers toegegee op die oggend van die verhoor nadat daar reeds ooreengekom is op afsonderlike beregting van geskilpunte en terwyl die verweerder oor geen weersprekende getuienis ten aansien van die kwessie van aanspreeklikheid beskik het nie. Hierdie aspek is belangrik wat betref die uitoefening van ‘n diskresie met betrekking tot rente wat later hierin behandel sal word.


ALGEMENE REGSBEGINSELS BY DIE TOEKENNING VAN SKADEVERGOEDING VIR PERSOONLIKE BESERINGS



[9] Die basiese beginsel onderliggend tot ‘n toekenning van skadevergoeding in terme van die lex Aquiliae is dat die vergoeding beraam moet word met die oog daarop om die eiseres, sover moontlik, in die posisie te plaas waarin sy sou gewees het indien R. van geboorte af nie blind nie, maar siende was.1 By die berekening van skade moet nie net daadwerklike positiewe verliese (damnum emergens) maar ook negatiewe verliese in die aard van ‘n vermoë of potensiaal wat R. verhoed is om te bereik, (lucrum cessans), in aanmerking geneem word vir sover dit voortspruit uit die delik.2 Toelating moet gemaak word vir die feit dat toekomstige verliese noodwendig ‘n spekulatiewe element betrek by die beoordeling van wat redelike skadevergoeding is. Ofskoon skade op ‘n oorwig van waarskynlikhede bewys moet word, vereis geregtigheid dat ‘n gebeurlikheidstoelating gemaak moet word selfs vir blote moontlikhede van sekere vorme van skade of verlies.3 Die feit dat dit moeilik is om in ‘n bepaalde geval ‘n bedrag skadevergoeding te bepaal, vereis steeds dat die hof moet poog om op die beskikbare getuienis ‘n redelike beraming te maak. Dit beteken egter nie dat waar daar ‘n aantal moontlikhede is, die hof die moontlikheid wat die minste gunstig is vir die eiseres moet kies omdat sy die bewyslas dra en nie kon bewys dat ‘n meer gunstige moontlikheid toegepas behoort te word nie.4


[10] As ‘n algemene uitgangspunt moet die vraag of ‘n eiser/es inderdaad die fondse wat toegeken gaan word, sal aanwend, en hoe hy of sy dit sal doen, beantwoord aan die hand van die feite in elke besondere geval.5


[11] Ten opsigte van die berekening van ‘n eis vir die verlies van verdienste of verdienvermoë word daar, afhangende van die metode van berekening wat gebruik word, gebruiklik voorsiening gemaak vir sekere faktore en gebeurlikhede deur middel van ‘n gebeurlikheidsaftrekking.6 Gebeurlikhede is beskryf as:


“Hazards that normally beset the lives and circumstances of ordinary people.”7


In Shield Insurance Co Limited v Booysen 1979 3 SA 953 A op 965G het Trollip AR gesê dat gebeurlikhede:


Involves, by its very nature, a process of subjective impression or estimation rather than objective calculation…”


[12] Die toepassing van ‘n gebeurlikheidsaftrekking is gebruiklike praktyk ten opsigte van alle eise vir ‘n verlies van verdienste, alternatiewelik verdienvermoë waar daar gebruik gemaak word van die berekeningsmetode waarvolgens ‘n eiser/es se pre- en postmorbiede verdienpotensiaal op ‘n wiskundige of aktuariële basis bereken word in teenstelling met ‘n algemene lompsom. Daarteenoor is gebeurlikheidsaftrekkings by eise vir toekomstige hospitaal-, mediese- en aanverwante kostes en eise vir hulpmiddels, assistant, huisverbeterings, ens nie noodwendig gebruiklik nie. Soms is dit glad nie van pas om ‘n gebeurlikheidsaftrekking ten opsigte van hierdie skadehoofde te maak nie. Dit hang egter telkens af van ‘n verskeidenhied van faktore en die spesifieke feite van die geval. Alhoewel daar geen vaste reël in hierdie verband is nie sal die toepassing van byvoorbeeld verdiskontering (in teenstelling met ‘n nul verdiskonteringskoers), gewoonlik geen gebeurlikheidsaftrekking verg nie. Aktuariële berekeninge maak ook dikwels voorsiening vir die bepaalde eiser se lewensverwagtig, wat opsigself ‘n toelating vir vervroegde afsterwe is. Gebeurlikheidsaftrekkings word ook soms gebruik om ‘n ietwat liberale toekenning te temper vir die kans dat die volle bedrag nie benodig mag word nie. Daarteenoor is daar ‘n verskeidenheid van positiewe gebeurlikheidsfaktore wat juis ‘n aftrekking mag weerlê soos byvoorbeeld ‘n onderskatting van die aantal of tipe behandelings of hulpmiddels wat benodig word, die feit dat koste teen ‘n veel hoër empo mag eskaleer as wat voorsien is, dat inflasie teen ‘n hoër koes mag plaasvind, ens. Leiding moet in sulke omstandighede gevind word in sake waar daar uitgebreide reekse hulpmiddels en verwante kostes toegelaat is wat oor ‘n betreklike lang tydperk strek.


[13] In Oberholzer v National Employers’ General Insurance Co Limited C&B IV A 3-1 is gebeurlikheidsaftrekkings ten opsigte van die verlies aan verdienste wel toegelaat, maar nie ten opsigte van aanverwante onkostes wat sou resorteer onder hulpmiddels en toekomstige mediese koste nie. Ten spyte daarvan dat daar in daardie saak deur die verweerder voorgestel is dat ‘n algemene aftrekking van 10% gemaak behoort te word, laat Nel R. hom op A3-9 soos volg daaroor uit:


“The actuaries have, in their calculations, taken into account (plaintiff’s) reduced life expectancy. The only other important factor could be a longer period of ill-health than normally expected. There is no evidence to suggest this and in any event if it were to happen his expenditure for additional nursing aids would propbably rise dramatically. In my view no deduction should be made.”


[14] In Wessels v AA Onderlinge Assuransie Assosiasie C&B IV A3-19 verklaar Strydom R. op A3-32:


“Gebeurlikheidsaftrekkings is myns insiens nie vatbaar vir wiskundige en deskundige benaderings nie. Dit is ‘n aangeleentheid wat deur die hof self beoordeel en bepaal moet word met inagneming van alle tersaaklike feite en algemene billikheidsoorwegings.”


Hierdie opmerking is gemaak ten opsigte van die toepassing van sodanige aftrekkings by die berekening van ‘n verlies aan verdienste. Geen gebeurlikheidsaftrekking ten opsigte van toekomstige mediese- en aanverwante koste is in daardie saak toegelaat nie.


[15] In Dusterwald v Santam Insurance Limited C&B IV A3-45 is ten opsigte van velerlei soortgelyke uitgawes ‘n gebeurlikheidsaftrekking van 5% toegelaat (en in ander gevalle selfs so hoog as 30% op grond van die spesifieke aard van die betrokke uitgawe en die feite van die saak). Howie R. het gelas dat daar ‘n nul verdiskonteringskoers toegepas moet word.


[16] In ‘n volbank beslissing van hierdie afdeling by monde van Du Plessis R. in Poo v President Insurance Co Limited C&B IV A3-96, is op appėl ten opsigte van sekere items geen gebeurlikheidsaftrekking gemaak nie en ten opsigte van een aspek ‘n gebeurlikheidsaftrekking van so hoog as 25% deur die hof a quo onveranderd gelaat.


[17] Daar is onlangs in hierdie afdeling ‘n soortgelyke benadering deur Claassen R. in Van Deventer v Premier van Gauteng C&B Vol V E2-1 op E2-15 gevolg soos in Poo toegepas. In hierdie saak is die benadering verkies om na elke besondere uitgawe ten opsigte waarvan geëis word, afsonderlik te kyk eerder as om ‘n globale en oorkoepelende gebeurlikheidsaftrekking te maak. Die toepassing van ‘n globale of oorkoepelende gebeurlikheidsaftrekking kan juis onredelik benadelend teen ‘n eiser/es inwerk.


[18] Die Hoogste Hof van Appėl het onlangs (25 Mei 2004) die volgende verklaar by monde van Brand AR, in De Jongh v Du Pisanie NO(obo JG Rabe) C&B J2-103 op J2-119 (par 47):


Gebeurlikheidsfaktore kan uiteraard nie met matematiese presiesheid bepaal word nie. Dit hang ten nouste saam met die feite en omstandighede van die bepaalde saak. Die verhoorregter moet die billike gebeurlikheidsfaktor, met inagneming van hierdie feite en omstandighede, in die uitoefening van sy diskresie bepaal….”


Van groter belang vir die huidige saak, is daardie hof se benadering met betrekking tot die koste wat toegelaat is vir die beseerde se toekomstige versorging of bystand. Die hof a quo het ‘n gebeurlikheidsfaktor van 10% afgetrek. Namens die verweerder is daar betoog dat ‘n gebeurlikheidsfaktor van 20% afgetrek moet word. Ter ondersteuning van laasgenoemde argument is namens die verweerder gewys op die moontlikhede dat die versorgingskoste mag wegval indien die beseerde in ‘n inrigting opgeneem word of dat hy aan groter mortaliteit blootgestel is as gevolg van sy geneigdheid om ten spyte van sy potensiële epileptiese aanvalle, ‘n motor te bestuur. Ofskoon die hof bevind het dat daar meriete in die verweerder se betoog was, bevind die hof dat daar geen gebeurlikheidsaftrekking ten opsigte van hierdie koste gemaak moet word nie. Die hof beklemtoon die feit van positiewe gebeurlikhede naamlik dat die koste verbonde aan toekomstige versorging moontlik meer mag wees as wat toegelaat word.8


[19] Die benadering ten opsigte van gebeurlikheidsaftrekkings vir die kostes van hulpmiddels soos motors, die bou van of aanbou tot woonhuise, helpers of assistente, ens., aan die hand van die spesifieke feite van elke geval word geillustreer in die voormelde sake strekkend vanaf Oberholzer tot De Jongh. Die oorhoofse beginsel wat toepassing vind is dat die mate van enige gebeurlikheidsaftrekking, diskresionêr is.9


[20] Die toets by die oorweging van voorsiening vir hulpmiddels, apparaat en soortgelyke items word deur Kriegler R. (soos by toe was) in die hof a quo in Poo supra op A3-105 soos volg geformuleer:


“Neither of the two cases referred to, nor any other authority of which I am aware, serves as authority for the proposition advanced, namely that an item of expenditure, in order to be recoverable, has to be established as a necessity. The test, as I understand it and which I intend applying in this case, is whether it has been established on a balance of probabilities that the particular item of expenditure is reasonably required to remedy a condition or to ameliorate it.” (Eie beklemtoning).


[21] In Dhlamini v Government of the Republic of South Africa C&B III 554 of 582 word die beginsel, met betrekking tot ‘n spesifieke item of uitgawe, soos volg gestel deur Kriegler R. (soos hy toe was):


Where … the expenditure was incurred for a different, albeit commendable purpose, or is out of proportion to the condition it was incurred to eliminate or abate, it will be irrecoverable. It will then not be regarded as reasonable.”


[22] Toekomstige hospitaal-, mediese en aanverwante kostes vorm, streng gesproke, deel van algemene skade, alhoewel dit gebruiklik is om dit as spesiale skade te eis.10


[23] Ten opsigte van die benadering by die toekenning van algemene skade vir pyn, lyding, ongerief, skending, tydelike en permanente ongeskiktheid, verlies aan lewensgenietinge, ens, het die Hoogste Hof van Appėl by monde van Navsa AR in Road Accident Fund v Marunga 2003 5 SA 164 (HHA) op 169E soos volg verklaar:


[23] This Court has repeatedly stated that in cases in which the question of general damages comprising pain and suffering, disfigurement, permanent disability and loss of amenities of life arises a trial Court in considering all the facts and circumstances of a case has a wide discretion toward what it considers to be fair and adequate compensation to the injured party


[24] At 535B and following of the Protea case Potgieter JA considered what regard whould be given to awards in previously decided cases. After considering dicta in several decisions of this Court the learned Judge of Appeal stated that there was no hard and fast rule of general application requiring a trial court or a Court of appeal to consider past awards. He pointed out that it would be difficult to find a case on all fours with the one being heard but nevertheless concluded that the awards in decided cases might be of some use and guidance.11 (Eie beklemtoning)

Met verwysing na ‘n opmerking van Broome ARP in Wright v Multilateral Motor Vehicle Accidents Fund C&B IV E3-31 haal Navsa AR soos volg aan op 170F [par 27]:


I consider that when having regard to previous awards one must recognise that there is a tendency for awards now to be higher than they were in the past. I believe this to be a natural reflection of the changes in society, the recognition of greater individual freedom and opportunity, rising standards of living and the recognition that our awards in the past have been significantly lower than those in most other countries.”


[24] In ‘n ongerapporteerde uitspraak wat op 7 Maart 2003 gelewer is deur Mynhardt R. in Marinda Jacobs (Burger) v Padongelukkefonds saaknr 32466/00 verklaar die geleerde verhoorregter op p 19 van die getikte transkripsie met betrekking tot die hulp wat ander sake bied soos volg:


Uit die aard van die saak moet toekennings wat in die verlede in sulke sake gemaak word aangepas word tot huidige waardes.”


En op p 46 word die volgende gesê:

Ek het reeds daarna verwys dat die bedrae wat in die verlede toegeken is in gegewe gevalle aangepas moet word om die huidige waardes in 2003 daarvan te bepaal en dat vir daardie doel die aanpassing soos te vind in The Quantum Yearbook 2003 deur Robert Koch, aangewend kan word.”


[25] In SA Eagle Insurance Co Ltd v Hartley [1990] ZASCA 106; 1990 4 SA 833 A op 841 D word die volgende verklaar:


“The need for even-handedness requires that, when camparing awards in comparable cases, regard must be had to the purchasing power of the currency at the time when such cases were decided, otherwise one would not be comparing comparables.”


AKTUARIëLE BENADERING


[26] Daar is geen geskil tussen die partye ten opsigte van die aktuariële benaderingswyse van mnr. G Jacobson soos vervat in sy aktuariële verslag van 10 Augustus 2005 nie (Bewysstuk “B”, p 141A-141D). ‘n Verdere berekening gedateer 17 Augustus 2005 is na afloop van die getuienis deur Jacobson gedoen om dit meer in pas te bring met die getuienis en die betoogshoofde van mnr De Waal namens die eiseres.


[27] Die 66 skade items is deur Jacobson bereken en in “Appendix I” van sy verslag uiteengesit. Ingevolge hiervan is die volgende berekeninge gemaak:


APPENDIX 1

______________________________________________________________________________

Description of Non-Medical/ Cost Quantity Frequency Plus Capitalized

Medical Expenses Medical Item per VAT Value

_________________________________Unit_________________________________________

DR DA BIRRELL … Medical costs increased by C.P.l. of 4.16% p.a.

from 23.8.2004 to 1.8.2005

1. Conservative treatment Medical R 20 780.99 1 Once only 0% R 20 781

2. Allowance for treatment of Medical R 41 561.99 1 Once only 0% R 41 562

future injuries

DR. H. L E KONIG … Medical costs increased by C.P.l. of 4.16% p.a.

from 16.8.2004 to 1.8.2005

3. Orbital implants (each eye) Medical R 25 786. 76 2 Once only 0% R 51 574

4. Orbital implants (sic) Medical R 9 878. 69 2 Every 2 (3) 0% R 323 547

(each eye) years


DR H KONIG


5 . Opthalmologist consul- Medical R 350. 00 1 Two times 0% R 22 225

tations (cost instructed) per year


MS B. PURCHASE … Medical costs increased by C.P.L of 4.49% p.a.

from 9.12.2004 to 1.8.2005

6. Psychotherapy Medical R 0. 00 52 At age/s 20./.. 0% R 0

(PsySSA rates)


MR K F TRUTER … Medical costs increased by C.P.L. of 4.49% p.a.

from 27.10.2004 to 1.8.2005


7. Psychotherapy (50 Medical R 376.22 1 Every 1.3 years 0 % R 9 376

over life) from age 12

8. Family therapy Medical R 376.22 10 Once Only 0 % R 3 762

9. Career counselling Medical R 0 00 1 At age/s 20/ 0 % R 0


OCCUPATIONAL THERAPYJOINT MINUTE OF GROPP/VLOK


10 . Occupational therapy Medical R 311 40 7. 5 Yearly from age 0 % R 16 935

until age 20 12 to age 20


11. Therapist travel time Medical R 204.00 7.5 Yearly from age 12 to age 20 11 094

12. Independence training Non Medic R 12 000.00 1 At age/s 18/ 0 % R 10 327

(assume 60 days)

13. Occupational therapy Medical R 311.40 24 At age/s 20 / 0 % R 6 115

(long term)

___________________________________________________________________________

Description of Non-Medical/ Cost Quantity Frequency Plus Capitalized

Medical Expenses Medical Item per VAT Value

_________________________________Unit_________________________________________


14. Home visits Medical R 204.00 12 At ages/s 20 / 0 % R 2 003

15. Care giver training Medical R 311.40 5 Every 15 years 0 % R 3 428

from age 18

16. Home visits Medical R 204.00 2 Every 15 years 0 % R 898

from age 18

MS G VLOK

17. Care assistant (to age 18) Non-Medic R 1 800 00 14 Yearly from age 0 % R 140 426

12 to age 18

18. Additional allowance Non-Medic R 520.00 12 Yearly from age 0% R 34 772

12 to age 18


19. Factotum Non-Medic R 3500.00 14 Every 1 years from 0 % R 1 303 568

age 18

20. Relief assistance Non-Medic R 84.00 52 Every 1 years from 0 % R 116 204

21. Walking white cane (as Non-Medic R 180.00 1 Every 7 years from 0 % R 753

an adult) age 18


MS S GROPP … Medical costs increased by C.P.I. of 4.2% p.a.

from 20.9.2004 to 1.8.2005

22. Food for guide dog Non-Medic R 103.62 1 12 times per year 0 % R 39 479

23. Medication/ Vetinary care Non-Medic R 1554.29 1 Every 1 year/s 0 % R 49 349

24. Training of g uide dog Non-Medic R 7771.46 1 Every 9 years 0 % R 31 443

25. 3-week guide dog Non-Medi c R 2176.01 1 Every 9 years 0 % R 8 804

course (100 p/d assumed)

26. Memo machine Non-Medic R 621-72 1 Only once 0 % R 622

27. Talking radio alarm clock Non-Medic R 435.20 1 At age/s 12 / 16 / 0 % R 829

28. Talking braille wrist watch Non-Medic R 373.03 1 At age/s 12 / 16 / 0 % R 711

29. Spot a line pen Non-Medic R 72.53 1 Once only 0 % R 73

30. The Bible on tape Non-Medic R 62.17 1 Once only 0 % R 62

31. Tape recorrder Non-Medic R 362.67 1 Once only 0 % R 363

32. Casettes Non-Medic R 62.17 1 Yearly from age 0 % R 237

12 to 16


33. Talking calculator Non-Medic R 124.34 1 Once only 0 % R 124

34. Talking radio/ alarm clock Non-Medic R 435.20 1 Every 5 years from 0 % R 2 469

age 18

35. Talking/ Braille wrist watch Non-Medic R 373.03 1 Every 5 years from 0 % R 2 117

age 18

36. Spot a line pen Non-Medic R 108.80 1 At age / s 18 / 0 % R 94

___________________________________________________________________________

Description of Non-Medical/ Cost Quantity Frequency Plus Capitalized

Medical Expenses Medical Item per VAT Value

_________________________________Unit_________________________________________


37. The Bible on tape Non-Medic R 62.17 1 Every 10 years from 0% R 191

age of 18

38. Tape recorder Non-Medic R 362.67 1 Every 5 years from 0 % R 2 058

age 18


39. Casettes for recorder (from Non-Medic R 124.34 1 Every 1 years from 0 % R 3 530

age 16 assumed) age 16

40. Pocket memo machine Non-Medic R 621.72 1 Every 7 years from 0 % R 2 600

age 18

41. Bread cutting board Non-Medic R 62.27 1 Once only 0 % R 62

42. Liquid level indicator Non-Medic R 89.11 1 Every 3 year/ s 0 % R 988

43. Braille/talking timer Non-Medic R 82.90 1 Every 10 year/ s 0 % R 306

44. Medicine dispenser Non-Medic R 72.53 1 Every 10 year/s 0 % R 268

45. Money template Non-Medic R 12.43 1 At age/s 12/ 18/ 0 % R 23

46. Perkins Braille Non-Medic R 3 626.68 1 Every 10 years 0 % R 13 401

47. Braille paper Non-Medic R 22.00 1 Every 1 year/s 0 % R 724

48. Braille abacus Non-Medic R 124.34 1 Once only 0 % R 124

49. Braille World Atlas Non-Medic R 725.34 1 Once only 0 % R 725

50. Computer Non-Medic R 5 756.06 1 Every 7 year/s 0 % R 29 062

51. Voice Speaking softaware Non-Medic R 9 621.07 1 Every 7 year/s 0 % R 48 577

52. Scanner Non-Medic R 5 050.41 1 Every 5 years from 0 % R 28 655

age 18

53. Printer Non-Medic R 2 703.43 1 Every 5 year /s 0 % R 18 546

54. iIndex Basic Braille embosser Non-Medic R 34 064.91 1 Once only 0 % R 34 065

55. Sony digital memo machine Non-Medic R 1 657.91 1 Every 10 yra 0 % R 6 126

56. Soccer balls Non-Medic R 165.79 1 At age/s 12/ 18/ 0 % R 308

57. Blind circket ball Non-Medic R 25.90 1 At age/s 12/ 18/ 0 % R 48

58. Dominoes Non-Medic R 196.88 1 Once only 0 % R 197

59. Braille plastic cards Non-Medic R 113.98 1 Every 10 year/s 0 % R 421

60. Domestic assistance Non-Medic R 82.90 (sic) 1 Every 1 years 0 % R 2065

from age 20


61. Gardener Non-Medic R 82-90 52 Every 1 years 0 % R 107 355

from age 20

62. Domestic (if has a Non-Medic R 82.90 104 Yearly from age 0 % R 35 479

family) 24 to age 30


63. Domestic until youngest Non-Medic R 82.90 52 Yearly from age 0 % R 34 032

child 18 30 to 45


___________________________________________________________________________

Description of Non-Medical/ Cost Quantity Frequency Plus Capitalized

Medical Expenses Medical Item per VAT Value

_________________________________Unit_________________________________________


64. Transport allowance Non-Medic R 103.62 1 12 times per year 0 % R 39 479

65. Prinshof (fees + transport Non-Medic R 10 569.19 1 Yearly from age 12 R 76 638

+after care + 220 meals p.a.) to age 20


MR D LEWIS

66. Career counselling Non-Medic R 4 000.00 1 At ages 20 / 30 / 0 % R 7 774

40 /

_________________

TOTAL VALUE OF MEDICAL EXPENSES R 2 749 953”

______________



GETUIENIS EN DIE EVALUERING DAARVAN


[28] Die getuienis wat voor die hof gedien het, het bestaan uit dokumentasie12, deskundige verslae geliasseer namens die eiseres13, deskundige verslae geliasseer namens verweerder14 en mondelingse getuienis deur die eiseres geroep. Nadat eiseres se getuies getuig het, het verweerder sy saak gesluit en geen weerleggende getuienis aangebied nie. Vervolgens handel ek kortliks met die getuies wat getuig het.


EISERES


[29] Eiseres is die biologiese moeder van R. Sy is geskei van die biologiese vader, ene Rossouw wie later oorlede is. R. het egter ‘n goeie verhouding met haar stiefpa, mnr. Van der Merwe. Die huidige huislike opset is stabiel. Die eiseres is tans in diens by Pretoria Universiteit as ‘n sekretaresse by die Ekonomiese en Bestuurskunde Fakulteit. Sy het ‘n programmeerderskursus gedoen in Namibië en het R. van kleins af groot gemaak met die idee dat sy tersiêre studies by ‘n universiteit moet voltooi. Die voordeel as R. aan die Universiteit van Pretoria sou studeer, is dat slegs 25% van universiteitsfooie betaal is.


[30] Die eiseres beskryf R. as ‘n lewendige en selfstandige kind met ‘n wil om onafhanklik te funksioneer. Sy lees baie en munt uit in musiek (klavier Graad 2 by Unisa), blokfluit en solosang (met 5 goue medaljes by Rentmeester eisteddfod). Sy kompeteer by Unisa met siende kinders. Sy ry ook fiets en doen atletiek, swem, drama en speel blokfluit in die skool orkes. Sy het ook deelgeneem aan blinde krieket. Vanweë haar hiperaktiwiteit het sy baie stimulasie nodig.


[31] Sy voel die gemis in haar lewe dat sy nie haar ouers en broers kan sien nie. Sy wil graag leer om sms-boodskappe op haar selfoon te stuur maar kan dit nog nie doen nie. Sy ervaar rug- en hoofpyne vanweë haar vooroor gebuktheid wanneer sy sit. Sy is ‘n mooi meisie.15 Haar sensitiwiteit vir uiterlike skoonheid is besig om te ontwikkel. Sy sukkel om met hoëhakskoene te loop. Sy weet egter dat sekere klere pas by mekaar en ander nie. Sy leer om haar klere te eien aan die tekstuur daarvan, maar soms gebeur dit dat sy tot haar eie verleentheid nie bypassende klere dra nie. Sy haat dit om ‘n wit stok te gebruik as sy loop want sy wil nie graag hê ander moet agterkom sy is blind nie. Sy is bewus van die ritmiese heen en weer beweeg van haar oë (horisontale nystagmus) en loop dus eerder met ‘n sonbril rond. Sy het voorheen by verjaarsdag geleenthede gesing maar onlangs het sy begin weier om dit te doen aangesien sy skaam was vir die feit dat sy blind is. Die eiseres sukkel om R. te help met haar huiswerk aangesien die eiseres nie braille vaardig is nie. Eiseres het bevestig dat die konstante hulp wat R. verg ‘n stremming op die gesin is.


[32] R. is tans in die Prinshof Skool vir Swaksiendes en Blindes. Dit is geleë naby die dieretuin in Pretoria, regoor ‘n taxi staanplek. Dit is nie die mees wenslike omstandighede nie aangesien die eiseres al tweemaal aangeval is toe sy R. daar gaan aflaai het.


[33] R. doen alles tweemaal stadiger as ‘n siende kind. Sy eet stadiger en doen haar daaglikse toilet stadiger. Sy het ‘n braille horlosie waarvolgens sy die tyd kan bepaal. Wanneer die gesin by vreemde plekke is moet sy eers tuisgemaak word ten opsigte van die omgewing en altyd dopgehou word deur iemand van die gesin. Sy het al twee keer steke in die kop opgedoen vanweë botsings met goed waarin sy vasgeloop het. Vir haar eie veiligheid loop sy met haar hande voor haar gesig as sy by trappe afgaan aangesien sy in die verlede al by trappe afgeval en seergekry het. Sy kry meer seer as ‘n gewone kind. Sy val oor spoedhobbels in parkeer terreine. Haar frustrasievlakke is hoog as sy nie iets kan regkry nie. Sy is bang om openbare vervoer te gebruik en onseker by vreemde mense. Al hierdie faktore plaas ‘n groot stremming op die eiseres en haar gesin.


[34] Die eiseres het bevestig dat die indiensneming van ‘n assistent vir haar as werkende moeder en die gesin as geheel ‘n groot bate sou wees. Sy is gekritiseer omdat sy eers in Julie 2005 vir die eerste keer aanspraak gemaak het op die indiensneming van so ‘n assistant. Sy is eers in Julie deur een van die terapeute ingelig van die moontlikheid dat so ‘n assistant as deel van die skadevergoeding bekostigbaar kan wees. Myns insiens kan sy nie verkwalik word dat sy op so ‘n laat stadium daarop being aandring het nie. Sy is nie voorheen ingelig van haar regte in dié verband nie. Voorts sal die hulp van ‘n assistant meer belangrik word soos wat R. ouer word en meer aktiwiteite beoefen waarheen sy rondgery moet word. Ek vind dus geen rede om haar in hierdie opsig te diskrediteer nie. Die eiseres het trouens bevestig dat daar ruimte is vir die huisvesting van so ‘n assistant in ‘n tuinwoonstel op die perseel waar hulle tans woonagtig is. Volgens haar vereiste moet dit iemand wees wat ook ‘n bestuurderslisensie het.


[35] R. lees baie en luister baie kasette. ‘n Braille drukker alleen kos ongeveer R60 000.00. Om die Bybel in braille te huisves verg spasie en groter rakke. Die Bybel in Braille kom in 5 kartondose en braille boeke is groter as die normale A4 bladsy.


[36] R. se genietinge om enige plek te gaan uiteet word beperk deur die feit dat slegs Wimpy braille spyskaarte het. Sy wil graag self die spyskaart lees en bestel, wat sy nie by gewone ander restourante kan doen nie. Sy is ook bang vir kruisings wat deur verkeersligte beheer word aangesien nie alle verkeersligte vir blindes met klankveranderings aangepas is nie. Sy luister na ander mense wat oor teerpaaie loop en soms stel sy haarself in gevaar omdat ander mense ontydig die straat kruis. Sy beleef dat haar eie veiligheid bedreig word. ‘n Assistent sal op hierdie terrein ‘n groot mate van selfversekerdheid daarstel. Dit is aanvaarde praktyk dat ‘n gidshond nie ‘n substituut vir ‘n assistent is nie. R. is baie lief vir diere en sal baie graag ‘n gidshond wil hê.


[37] R. is nie altyd bewus wanneer haar maandstonde begin nie en het al die verleentheid ervaar dt sy deur haar klere lek en deur ander mense daarvan vertel moes word. Sy sukkel om publieke toiletgeriewe te gebruik. Sy kan nooit alleen na ‘n publieke toilet gaan nie en indien sy nie vroulike gesellinne het nie moet haar broers haar soms na die dames toilet inneem tot verleentheid van hulle en R.. Haar persoonlike higiëne word op eienaardige maniere bedryf. As sy met haar skoene in kougom trap gryp sy daarna om dit van haar skoene af te trek sonder om te weet dit is kougom wat uit die monde van ander kom.


[38] Sy begin tans om rekenaarvaardig te word. Die rekenaarklawers is nie altyd duidelik gemerk nie dus moet sy nog versigtig te werk gaan en maak dikwels foute. Sy is ook redelik vaardig in die kombuis en kan roereiers maak maar is bang vir die oond en gebruik liewers die mikrogolfoond.


[39] Myns insien was die eiseres eerlik en openhartig en daar is geen rede om enige aspek van haar getuienis in twyfel te trek nie. Haar getuienis is ook nie werklik aangeval in kruisverhoor nie. Daar is tydens argument gesuggereer dat die eiseres R. se nood oordryf het. Ek verwerp hierdie argument aangesien daar myns insiens geen aanduiding van enige oordrywing aan die eiseres se kant te bespeur was nie.


ME EYBERS-PURCHASE16


[40] Me Eybers-Pruchase is ‘n geregistreerde Opvoedkundige Sielkundige. Sy het bevestig dat R. al die normale mylpaal ontwikkelings geopenbaar het. R. het egter nog nie haar blindheid ten volle aanvaar nie. Haar intellek is getoets volgens die SAISB toetse, gestandardiseerd vir blinde leerders. Volgens haar resorteer R. wat verbale IK betref, in die superieure kategorie, en wat non-verbale IK betref, in die bo gemiddelde kategorie. Haar algehele IK val binne die superieure kategorie. R. het definitief potensiaal vir universitêre opleiding maar het ‘n assistent nodig om die wisselvallighede van normale klasbywoning aan ‘n universiteit te oorkom. Purchase het na haar eerste ondersoek van R., ‘n tweede verslag opgestel na aanleiding van ‘n ondersoek wat 2 jaar en 8 maande later plaasgevind het. Hiervolgens word aangedui dat haar skolastiese prestasie nog steeds goed is. Sy ervaar egter emosionele probleme vanweë sosialiserings belemmeringe met vriende. Sy benodig egter meer stimulasie en benodig psigoterapie vanweë haar vrees om te misluk. Haar intellektuele vermoëns is nog steeds aanduidend van geslaagde universitêre opleiding alhoewel dit moontlik langer sal neem en dus koste verswarend op haar ouers sal inwerk. Haar indiensnemings potensiaal sal ook redelik beperk wees. Indien sy nié blind was nie sou daar geen daling in haar IK te wagte gewees het nie en sou sy dus suksesvol ‘n graad en nagraadse kwalifikasies aan ‘n universiteit kon voltooi.


[41] Purchase se getuienis is gelewer op ‘n duidelike, logiese en klaarblyklike objektiewe wyse. Sy het die indruk geskep dat sy goed onderlê is in haar veld van deskundigheid. In kruisverhoor is dit aan haar gestel dat sy met die samestelling van die eerste verslag nog nie ‘n opvoedkundige sielkundige was nie, maar slegs ‘n psigometris (soos trouens deur haar toegegee is). Wat egter van belang is, is dat sy ten tye van getuienisaflegging as opvoedkundige sielkundige gekwalifiseers was en inderdaad die eerste verslag in daardie hoedanigheid weer oorgweeg het en deel van haar deskundige mening gemaak en bevestig het. Gevolglik is daar geen rede om haar getuienis op enige aspek ten aansien waarvan sy getuig het, in twyfel te trek nie.


MNR KOBUS TRUTER17


[42] Mnr. Truter is ‘n kliniese sielkundige wat R. ondersoek het. Hy het bestig dat sy ongeluksvatbaar is en dat sy tans ‘n merkwaardige verlies aan lewensgenietinge ly. Hy meld onder andere die volgende:


  • Sy voel dat sy eendag haar lewensmaar met ‘versigtigheid’ sal moet kies: As sy trou sal sy graag met ‘n siende persoon wil trou;


  • Sy is onseker of sy eendag haar kinders sal kan versorg;


  • Die ouers is ook van mening dat sy haarself moeilik fisies sal kan verdedig (is ‘n maklike prooi vir aanvalle);


  • Dat sy waarskynlik afhanklik sal wees van ‘n gidshond;


  • Dat sy bygestaan moet word met byvoorbeeld die trek van geld by ‘n kitsbank;


  • Die aanduidings in die meeste hysbakke is nie braille nie;


  • Die ouers weier om haar alleen te laat (sy is voortdurend in die sorg van andere);


  • Sy kan net sekere kunsvorme waardeer;


  • R. was ongelukkig toe sy vermeld het dat maats geneig is om haar te spot (deur tekens te wys en sy dit nie kan warneem en interpreteer nie). Haar sosiale kring is klein en beperk.”


[43] Hy het ook bevestig dat sy verdere sielkundige sessies sal benodig teen R365 per sessie. Die toetse vir haar IK wat hy aangewend het was nie gestandardiseer vir blindes nie en het dus nie dieselfde waarde as dié gedoen deur Purchase nie.


[44] Truter het op ‘n ewe oortuigende, deeglike en objektiewe wyse sy getuienis afgelê. ‘n Soortgelyke konklusie word gemaak ten opsigte van sy getuienis.


MNR D. LEWIS18


[45] Mnr. Lewis is ‘n bedryfsielkundige. Hy is self fisies gestremd en het getuienis in ‘n rolstoel afgelê. Hy was ‘n indrukwekkende getuie wat met groot oortuiging en selfervaring die gebrek aan lewensgenietinge van ‘n gestremde persoon kon uitstippel. Hy bevestig ook dat R. geen probleme sou ervaar om matriek te skryf indien sy nie blind was nie. Hy skets 4 scenarios, naamlik:


(i) ‘n Loopbaan gebaseer bloot op Graad 12.

(ii) ‘n Loopbaan gebaseer op Graad 12 plus addisionele opleiding benede tersiêre of universitêre opleiding.

(iii) ‘n Loopbaan gebaseer op Graad 12 plus ‘n diploma van ‘n universiteit of ‘n tegniese kollege.

(iv) ‘n Loopbaan gebaseer op Graad 12 plus ‘n universiteitsgraad van 3 jaar.


[46] Volgens Statistiek Suid-Afrika se sensus van 2001 bekend as “Prevalence of Disability in South Africa”, blyk dit dat gestremde persone slegs 54% kans het om in diens geneem te word in vergelyking met normale indiwidue. Sy sal egter loopbaan leiding nodig hê. Haar grootste behoefte sal gesnoegsame mobiliteit wees. ‘n Blinde persoon ervaar probleme met ‘n onafhanklike lewenstyl ten opsigte van voorbereiding van maaltye, hantering van geld, inkopies, ligte en swaar huiswerk en die gebruik van ‘n telefoon. Haar werkspotensiaal word belemmer deur ‘n onvermoë om vryelik te beweeg en te reis. Haar beperkte keuse van loopbane is ‘n groot belemmering. ‘n Blinde persoon het ook nie dieselfde moontlikheid van “incidental learning” wat ‘n siende persoon het nie. ‘n Blinde persoon het ook geen toegang tot non-verbale komunikasie nie. Lewis se konklusie is dat scenario (iv) inderdaad aangewese is vir R. en dat ‘n assistent nodig sal wees om haar by te staan om hierdie ideale te bereik. In ‘n addendum tot sy verslag word die take van so ‘n assistent uiteengesit asook die toepaslike salarisse.


DR. T. BIRRELL19


[47] Dr Birrell is ‘n ortopediese chirurg. Hy het bevestig dat R. ‘n swak liggaamshouding het wat toekomstige chirurgiese ingrype sal verg. Voorts is hy ook die mening toegedaan dat sy ‘n 100% kans het om haar in die toekoms sodanig te beseer dat chirurgiese ingrype nodig sal wees. Hiervoor begroot hy ‘n eenmalige bedrag van R40 000-00 vir behandeling van toekomstige beserings. Ortopedies sal sy ook ly aan rug- en hoofpyne. Sy sal ook drie maande op siekteverlof geplaas moet word vir die toekomstige chirurgiese ingrype. Hy beraam ook konserwatief ‘n bedrag van R20 000-00 vir toekomstige ortopediese behandeling. Die deskundigheid van dr Birrell as ‘n ortopediese chirurg was nie werklik betwis nie en word aanvaar. Die enigste aspek ten aansien waarvan sy getuienis werklik aangeval is, is ten opsigte van sy voorsiening vir die moontlikheid dat R. in die toekoms kan val of ander beserings opdoen, dat dit tot frakture aanleiding kan gee en dat sy ook verdere behandeling ten opsigte daarvan en ten opsigte van die gevolge van ‘n slegte postuur mag benodig. Dr Birrell het die mening uitgespreek dat sy toelating waarskynlik in hierdie verband ontoereikend en konserwatief is. Daar bestaan geen werklike rede om sy deskundigheid of die inhoud van sy getuienis in twyfel te trek nie. Die vraag of daar ‘n toelating gemaak behoort te word vir die kans van besering as sy sou val, moet op grond van al die getuienis beslis word. Dr Birell se getuienis is van hulp om die koste daarvan te bepaal.


DR H KöNIG20


[48] Dr König is ‘n oftalmoloog. Hy bevestig R. se horisontale nystagmus. Die linkeroog is ongemaklik en die regteroog is mikroftalmies. Sy sal ptise (kolaps en inkrimping van oog) van albei oë ontwikkel met sekondêre kroniese inflammatoriese reaksie. Sy behoort ‘n oogspesialis elke 6 maande vir die res van haar lewe te besoek. Sy sal later ook ‘n enukluasie van albei oë benodig met geïntegreerde orbitale implantate. Die koste word uiteengesit in die Staatskoerant tariewe. Tydens kruisverhoor is dit duidelik gemaak dat die deskundigheid van König hoegenaamd nie in geskil is nie. Uit sy getuienis blyk dit ook dat hy ‘n besondere belangstelling in ROP het asook in die gevolge en behandeling daarvan. Sy mening word ook heelhartig ondersteun deur dr Horak, die oftalmoloog wat deur die verweerder as deskundige voorgehou is. Die gesamentlike verslag opgestel deur hierdie geneeshere, is sprekend van hierdie ooreenstemming. Sy getuienis is ook op geen aspek aangeval nie.


ME S. GRöPP EN ME G. VLOK21


[49] Dit is geleë om die getuienis van die twee arbeidsterapeute gesamentlik te behandel. Me Gröpp het namens die eiseres getuig. Me Vlok het ‘n regsmediese verslag namens verweerder afgelewer maar is nie deur verweerder as getuie geroep nie. Die eienaardige van hierdie saak is dat eiseres haar saak probeer bewys het via die regsmediese verslag geliasseer deur Vlok terwyl die verweerder sy saak probeer bewys het via die regsmediese verslag van Gröpp, asook die gesamentlike verslag wat deur die twee arbeidsterapeute opgestel is. Die mees kontensieuse aspek van hierdie saak was die onderskeie sieninge van die arbeidsterapeute aangaande die nodigheid om ‘n assistent vir R. aan te stel.


[50] Vlok se hantering van die nodigheid vir die aanstelling van ‘n assistent is ‘n dienstige punt om die debat in hierdie verband te begin. Sy wy 7 paragrawe daaraan onder die opskrif “CARE”. Gerieflikheidshalwe word haar paragrawe genommer en lees dan soos volg:


1. The writer recommends that while R. lives with her family she needs an assistant 5 days a week at 8 hours per day at all inclusive salary of R1 800-00 per month.


2. This salary would be costed over a 14-month year to provide leave and bonus facilities. An additional amount of R520-00 per month costed over 12 months is indicated, to cover costs of uniforms, food, travel, etc.


3. Once R. moves out of the family home she should have the help of a factotum, the person who would be responsible to assist her in and about the home, as well as when in the community.


4. This person will be responsible to assist R. with some aspects of daily living relating to housekeeping, gardening, maintenance and repairs. She will also be responsible for accompanying R. when leaving the home and to drive the vehicle, should R. be in a position to acquire such a vehicle.


5. The factotum will assist with shopping, attending at the bank, correspondence, accompany her to doctors, as well as assisting her with attendance of classes should she attend a university. The writer would recommend a salary of approximately R3500-00 per month, costed over a 14 month year, to make provision for leave and bonus facilities. Additional after hour work would be required and the use of a relief person may be indicated for a further 16 hours per week. The latter would be costed according to the domestic wage legislation.


6. This help would need to be discounted against the help that R. would have utilized in the home, had she been a single person despite the accident.


7. Should R. marry, the additional 16 hours per week could fall away.”22



[51] In die gesamentlike verslag opgestel deur die twee arbeidsterapeute blyk dit dat geen voorsiening gemaak is vir ‘n assistent tydens R. se skooljare terwyl sy nog by haar ouers woonagtig is nie.23 Gröpp het tydens haar getuienis afgewyk van hierdie standpunt en toegegee dat die voorstelle van Vlok baie meer aanvaarbaar is. Sy het toegegee dat ‘n assistent nodig sal wees, onder andere, om R. by te staan met die volgende huishoudelike en ander take: Die kyk na die skoonheid van eetgerei; opmerking van vlekke op kos; doen van inkopies; kontrolering van pryse; die lees van vorms by banke, poskantore en ander instansies; die assistering om haar te begelei na vreemde plekke, funksies, vriende, vergaderings, opvoerings, ens.; vervoer na-ure; uitkies van klere of huishoudelike noodsaaklikhede; hulp met die estetiese oorsig van meubels en bepaling van kleurskakerings; hulp met onthale; hulp met basiese herstelwerk in die huis en die regmaak van elektriese proppe; grimering, naelversorging, ens.; kookmetodes van kos en lees van resepte; herstel van klere, aanwerk van knope; die merk en kies en bêre van blikkieskos; die merk en bêre van medisyne; assistering by noodgevalle; hulp met kinder versorging en hul huiswerk; kontrole dat gewaste klere skoon en gestryk is; die skoonmaak van die huis.


[52] Dit het duidelik geblykdat Gröpp besondere goeie kennis het van die alledaagse behoeftes van blinde persone in die samelewing, hul probleme en hul algemene funksionering. In hierdie saak het haar uitgebreide ervaring in hierdie verband egter geblyk ‘n mate van ‘n remskoen te wees aangesien die inslag waarop Gröpp aanvanklik haar opinie in hierdie saak uitgespreek het, gedoen is op ‘n verkeerde regsbasis, ofskoon dit altyd haar bedoeling was om ‘n aanbeveling met betrekking tot redelike kompensasie te maak. Sy is hewig en by herhaling aangeval oor die feit dat sy haar mening verander het nadat sy verwittig is van die korrekte regsbasis waarop haar professionele mening verlang word. Sy het toegegee dat haar aanvanklike toelating ten opsigte van veral die assistent ontoereikend was indien in aanmerking geneem word dat gepoog moet word om R. sover as moontlik te plaas in die posisie waarin sy sou gewees het indien sy nie blind gebore was nie. Haar verduideliking vir haar meningsverandering in hierdie verband was logies verantwoordbaar. Daar is, myns insiens, geen rede om haar geloofwaardigheid daaromtrent te betwyfel nie. Indien sy hieroor gekritiseer moet word, val dieselfde kritiek Vlok ook toe. Vlok het weer op haar beurt van ‘n liberale toelating vir R. ten opsigte van ‘n assistent, beweeg na ‘n uiters konserwatiewe benadering.


[53] Gewag is spoedig gemaak namens die verweerder dat Vlok steeds ‘n getuie van die eiser was ofskoon die verweerder kennis gegee het dat haar getuienis as deskundige namens die verweerder aangebied wou word. Dit is opvallend en ietwat verbasend dat die verweerder so geredelik hierdie standpunt ingeneem het en nie die getuienis van Vlok gelei het nie. Dit is vreemd dat die verweerder geen bydrae wou lewer om die vertroebeling wat ten opsigte van die arbeidsterapeute ontstaan het, op te helder nie. Dit gaan per slot van sake nie hier om ‘n spel wat gespeel word, of om die een of ander kunsgreep op jou teenstander uit te haal nie. Daar word immers van deskundige getuies verwag om objektief en eerlik te wees in die uitspreek van opinies en dat hul uitsluitlike oogmerk moet wees om die hof by te staan in sy moeilike taak om tot ‘n billike en regverdige slotsom aangaande skadevergoeding te kom. Die rede waarom mnr De Waal besluit het om die verweerder se deskundig getuie te roep, was juis om die hof die voordeel te gee van die totaliteit van die arbeidsterapeutiese getuienis. Dit gaan hier om skadevergoeding wat aan ‘n minderjarige betaalbaar is. Dit is die partye se plig om die hof van soveel inligting moontlik te voorsien in die maak van ‘n belangrike en moeilike besluit aangaande ‘n baie kontensieuse aspek.


[54] Dit is egter waar dat beide Gröpp en Vlok ietwat klei getrap het ten opsigte van die regs grondslag waarop toegelaat moes word vir ‘n assistent.24 Die een ding wat egter soos ‘n paal bo water staan is dat beide dit eens was dat hulp in die vorm van ‘n assistent nou reeds nodig is (indien die bystand wat benodig word nie eenvoudig op haar familielede en veral haar moeder afgeskuif word nie) en ook vir die res van R. se lewe nodig sal wees. Nie een van die arbeidsterapeute se getuienis moet noodwendig as ongeloofwaardig afgemaak word nie alhoewel dit vatbaar is vir kritiek. Hul onsekerheid aangaande die mate en omvang van ‘n regverdige toelating vir ‘n assistent, is heelwaarskynlik ook toe te skryf aan die feit dat die huidige omstandighede en vereistes van hierdie sake vir beide nuut was.


[55] Uit die samehang van al die getuinis, veral die getuienis van die ander deskundige getuies en die getuienis van die eiseres, kan die behoeftes van R. na behore gepeil word en het beide arbeidsterapeute tog ‘n wesentlike bydrae gelewer ten opsigte van die grondslag waarop voorsiening vir ‘n assistent gemaak kan word, benewens al die ander aspekte ten opsigte waarvan daar grootliks eensgesindheid was.


BENADERINGSWYSE


[56] Vervolgens sal die getuienis bespreek word aan die hand van die volgende skadehoofde en aspekte:


1. Gelede mediese koste;

2. Toekomstige hospitaal-, mediese- en aanverwante kostes (insluitend hulpmiddels, ens);

3. Toekomstige verlies aan verdienste, alternatiewelik verdienvermoë;

4. Algemene skadevergoeding;

5. Samevatting;

6. Rente op die toekenning ingevolge artikel 2A van die Wet op Voorgeskrewe Rentekoerse, Nr. 55 van 1976;

7. Koste;

8. Koste van beveiliging van fondse deur middel van die oprigting van ‘n trust

en die kostes van die trustee.

9. Konsepbevel.


GELEDE MEDIESE KOSTE


[57] Die eis vir R1 134,00 is nie in geskil nie. Dit dien egter vermeld te word dat hierdie bedrag eers ingevoeg is ‘n dag voor die aanvang van die verhoor by ooreenkoms tussen die partye. Geen rente op die bedrag vir die tydperk voor datum van vonnis, kan dus gehef word nie.


TOEKOMSTIGE HOSPITAAL- MEDIESE- EN AANVERWANTE KOSTE


[58] Elke komponent of uitgawe wat onder hierdie skadehoof tuis hoort sal vervolgens individueel hieronder aangespreek word. Geriefshalwe sal na elke individuele uitgawe verwys word soos dit in die aktuariële verslag25 per item geïdentifiseer word.


Ortopediese koste

[59] Tydens sy getuienis het dr Birrell gemeld dat mediese inflasie volgens sy ondervinding hoër is as gewone inflasie en het hy ook die inflasiekoes ten opsigte daarvan geskat op 8% - 10%. Vir doeleindes van dié aktuariële berekening is die gewone inflasiekoers wat deur die aktuaris ten opsigte van alle berekening gebruik is, aangewend aangesien dit ‘n kontensieuse aspek is of mediese inflasie werklik soveel hoër is as die gewone inflasiekoers. Birrell se toelating is redelik en billik en daar is reeds ruimskoots in sy benaderingswyse toegelaat vir gebeurlikhede in dié sin dat hy van mening is dat daar meer as een so ‘n gebeurlikheid mag plaasvind en dat die koste van selfs een insident moontlik meer mag wees as waarvoor hy voorsiening maak, veral as daar komplikasies is. Myns insiens moet daar geen gebeurlikheidsaftrekking ten opsigte van hierdie uitgawes gemaak word nie. Ofskoon dit tydens kruisverhoor namens die verweerder geblyk het asof dit gesuggereer word dat R. eintlik geen groter kans het om te val en haar te beseer as ‘n siende persoon nie, is die getuienis van die beserings wat sy reeds opgedoen het en gewone logika genoegsaam om só ‘n suggestie konklusief tot onhoudbaarheid te verdoem.


[60] Die verlies as deel van ortopediese kostes sal dan soos volg wees:

Item 1

Konserwatiewe behandeling R20 781,00

Item 2

Toelating vir behandeling van toekomstige besering 41 562,00

_________

R62 343,00



Oftalmologiese uitgawes

[61] Volgens die verslag van dr König se getuienis en sy verslag gedateer 16 Augustus 200426 gelees met die gesamentlike verslag van die oftalmoloë gedateer 10 Augustus 200527, is dit waarskynlik dat R. enukleasie van albei oë sal benodig waarvoor sy orbitale inplantings sal moet kry.28 Die aanvanklike koste per oog beloop, met toelating van ‘n aanpassing vir inflasie sedert 2004, die bedrag van R25 786,76. Die koste ten opsigte van beide oë sal ‘n bedrag van R51 574,00 beloop. Hierdie aanvanklike koste sluit die onkoste ten opsigte van ‘n kunsoog in.


[62] Dit word afgelei uit die getuienis van dr König, saamgelees met die eiseres se getuienis, dat hierdie uitgawes ten opsigte van die enukleasie in die afsienbare toekoms gedoen sal word aangesien R. toenemend selfbewus word as gevolg van haar oë. Myns insiens moet sy die voordeel kry om so spoedig moontlik daardie operasie te ondergaan (ongeag of dit daadwerklik spoedig gedoen word). Gevolglik moet geen gebeurlikheidsaftrekking daarvoor gemaak word nie. As sy sou besluit om langer daarmee te wag mag die toelating van die oftalmoloë juis as gevolg van moontlike verhoogde mediese inflasie ontoereikend wees. Dit sou dus onbillik wees om dan nog ‘n gebeurlikheidsaftrekking te maak.


[63] Daarna sal R. ongeveer elke twee jaar ‘n vervanging van die kunsoog29 moet ondergaan om voorsiening te maak vir veranderinge in die oogkas en die weefsel daarbinne soos wat R. ouer word. Die koste in 2004 (welke bedrag die deskundiges net so oorgedra het na hulle gesamentlike verslag), aangepas met inflasie, beloop ‘n bedrag van R9 876,69 per oog wat neerkom op ‘n totale bedrag van R323 547. Ten opsigte van die toelating vir vervanging van die kunsoë was König baie beslis dat ‘n twee jaar tussenpose tussen elke passing van kunsoë ‘n goeie gemiddelde is. Daar is derhalwe in daardie benadering reeds positiewe en negatiewe gebeurlikhede ingebou in dié sin dat dit óf vroeër as twee jaar óf effens later mag nodig wees. In hierdie verband is dit noemenswaardig dat die aktuariële berekening reeds voorsiening maak vir die kans vir vervroegde afsterwe aangesien die berekening gedoen is met inagneming van die toepaslike lewenstabelle. In ‘n sekere opsig is die berekening ook konserwatief omdat dit nie voorsiening maak vir die moontlikheid van die aangaan van hierdie uitgawes indien R. langer sou lewe as die normale lewensverwgting wat toegepas is nie. Gevolglik is dit, myns insiens, onnodig om enige gebeurlikheidsaftrekking toe te pas ten opsigte van hierdie uitgawe.


[64] König en Horak is dit eens dat R., ongeag watter vorm van behandeling vir haar toegelaat word, steeds twee maal per jaar ‘n oftalmoloog behoort te besoek.30 Voorsiening moet dus vir hierdie uitgawe gemaak word. Geen gebeurlikheidsaftrekking behoort daarvoor gemaak te word nie. Die bedrag wat hiervoor toegelaat word is die wat König toelaat as synde in ooreenstemming met mediese fonds tariewe en nie die verhoogde privaattariewe nie. R. is streng gesproke op laasgenoemde geregtig, en derhalwe is die berekening reeds konserwatief. Mnr. De Waal deel my mee dat dit bevestig is deur König dat sy fooi en die mediese fonds tarief vir sodanige konsultasies R350,00 beloop. Hierdie aspek is nie tussen die partye in geskil nie.


[65] Aangesien dit waarskynlik is dat R. enukleasie van albei oë sal benodig en König getuig het dat in daardie geval sy nie die konjunktivale flap prosedure31 aan elke oog sal hoef te ondergaan nie, is laasgenoemde prosedure in die uiteensetting van die uitgawes in die aktuariële verslag buite rekening gelaat.


[66] Die uitgawes wat onder hierdie aspek van die saak tuis hoort beloop dan die volgende:


Item 3

Orbitale implaltingsprosedures 51 574,00

Item 4

Kunsoë elke 2 jaar

R32 547 minus 5% 307 370,00

Item 5

Oftalmologiese konsultasies 22 225,00

___________

R381 169,00

___________



Sielkundige kostes

[67] Hierdie kostes soos toegelaat deur Purchase oorvleuel met die psigoterapie wat Truter toelaat en gevolglik word item 6 van die aktuariële berekening buite rekening gelaat ofskoon sy twee sessies méér toelaat. Konserwatisme by toelatings word dus steeds vooropgestel.


[68] Die terapie32 soos voorgestaan deur Truter is logies verantwoordbaar en word toegelaat. Sy getuienis in hierdie verband is ook op geen basis aangeval nie. Geen toelating onder item 9 van die aktuariële verslag word toegelaat nie, aangesien dit oorvleuel met die koste wat onder item 66 vir beroepsleiding toegelaat is.


[69] Myns insiens moet geen gebeurlikheidsaftrekking ten opsigte van hierdie uitgawes, soos uiteengesit in items 7 en 8, toegelaat word nie, enersyds omdat ‘n groot gedeelte daarvan onmiddellik en in die medium termyn (en slegs die restant daarvan op die lang termyn) benodig gaan word, en andersyds omdat die toelating vir die psigo- en familieterapie baie konserwatief en moontlik ontoereikend mag wees. R. is geregtig op die maksimum voordele wat redelikerwys regverdigbaar is.


[70] Die uitgawes wat in hierdie verband toegelaat word is soos volg:


Item 7

Psigoterapie 9 376,00

Item 8

Familieterapie 3 762,00

_________

R13 138,00

--------------


Arbeidsterapeutiese uitgawes

[71] Dit sal dienstig wees om ter aanvang die arbeidsterapeutiese onkostes wat nie in geskil is nie, te bespreek. Hierdie uitgawes word gebaseer op die eerste gesamentlike verslag van die arbeidsterapeute.33 Jacobson het items 10 tot 14, en 21 tot 59 net so oorgeneem uit die eerste gesamentlike verslag34 en die bedrae slegs aangepas vir inflasie tot op datum van sy verslag. Slegs die “Electronic bathroom”, in die tabel vermeld, is uitgelaat.


[72] Die partye is eensgesind ten opsigte van die redelikheid en kostes ten opsigte van items 21 tot en met 33 in die aktuariële verslag vermeld. Ten opsigte van hierdie items sal enige gebeurlikheidsaftrekking onvanpas wees omdat dit uitgawes is wat in die volgende paar jaar en selfs gouer aangegaan sal word, met uitsondering van items 22, 23, 24 en 25 wat eers aangegaan sal word as R. 18 jaar oud word. Laasgenoemde kostes hou verband met die verkryging van ‘n gidshond. Gidshonde word nie verskaf aan persone onder die ouderdom van 18 jaar nie. Dit is egter beslis seker dat die uitgawes aangegaan sal word en dus is ‘n gebeurlikheidsaftrekking ontoepaslik.


[73] Die volgende uitgawes soos vervat in Jacobson se verslag is, myns insiens, redelik en word toegelaat:


Item 21

Wit kierie 753,00

Item 22

Kos vir gidshond 39 479,00

Item 23

Medikasie en vetinêre sorg 49 349,00

Item 24

opleiding van gidshond 31 443,00

Item 25

Drieweek gidshond kursus 8 804,00

Item 26

Opname masjien 622,00

Item 27

Pratende radio/wekker 829,00

Item 28

Pratende/braille horlosie 711,00

Item 29

“Spot a line” pen 73,00

Item 30

Bybel op kasset 62,00

Item 31

Bandopnemer 363,00

Item 32

Kasette 237,00

Item 33

Pratende optelmasjien 124,00

___________

R 132 849,00

___________


[74] Die volgende aantal items behels meestal items wat oor ‘n langer tydperk aangekoop en benodig sal word (met die uitsondering van enkele items wat onmiddellik of in die kort tot medium termyn benodig sal word). Talle items hier vermeld, sou reeds vantevore ook aangekoop gewees het en mag dit wees dat die frekwensie waarteen sulke hulpmiddele benodig word moontlik langer uit mekaar benodig word. Ten opsigte van enkele items soos byvoorbeeld die pratende radio/wekker, pratende/braille horlosie, Bybel op kasset en die geldsorteerder moet in berekening gebring word dat soortgelyke (maar waarskynlik goedkoper) uitgawes in ieder geval aangegaan sou gewees het indien R. sou kon sien. ‘n Klein gebeurlikheidsaftrekking van 5% is dus van pas.


[75] Die volgende uitgawes is redelik en word toegelaat:

Item 34

Pratende radio-wekker 2 469,00

Item 35

Pratende braille horlosie 2 117,00

Item 36

“Spot a line” pen 94,00

Item 37

Bybel op kasset 191,00

Item 38

Bandopnemer 1 058,00

Item 38

Kasette vir opneemapparaat 3 530,00

Item 40

Sak opname apparaar 2 600,00

Item 41

Broodsnybord 62,00

Item 42

Vleistofvlak indikator 988,00

Item 43

Braille/pratende tydhouer 306,00

Item 44

Medisyne toediener 268,00

Item 45

Geldsorteerder 23,00

Item 46

Perkins brailler 13 401,00

Item 47

Braille papier 724,00

__________

R 28 831,00

MINUS 5% R 27 389,00



[76] Daar word vervolgens gehandel met items 48 tot en met 64. Ten opsigte van items 48 en 49 (Braille telraam en wêreldatlas), behoort geen gebeurlikheidsaftrekking toegepas te word nie. Ofskoon R. moontlik ‘n handrekenaar en atlas sou benodig as sy siende was, is die huidige kostes van hierdie items so minimaal in vergelyking met ‘n braille telraam en braille wêreldatlas, dat ‘n gebeurlikheidsaftrekking onbillik sou wees. Dit mag ook blyk dat sy moontlik meer as een maal in haar lewe hierdie items sal moet koop.


[77] Ten opsigte van items 50 tot 53 (rekenaar, pratende sagteware, skandeerder en drukker) word insgelyks geen gebeurlikheidsaftrekking gemaak nie alhoewel R. waarskynlik ook rekenaar, sagteware, skandeerders en drukkers sou benodig het sou sy nie haar sig verloor het nie. In hierdie geval is die berekening egter gedoen op ‘n veronderstelling ten opsigte van die rekenaar en sagteware, dat dit elke 7 jaar vervang word en die ander items elke 5 jaar. Dit het tydens die getuienis van Gröpp, Vlok en ook Lewis na vore gekom dat tegnologie egter so snel ontwikkel dat hierdie tussenposes van vervanging, besonder lank is. Dit behels dus reeds ‘n ingeboude element van konserwatisme wat nie verder afgewater behoort te word met ‘n gebeurlikheidsaftrekking nie.


[78] Wat die sogenaamde “Index Basic Braille Embosser” (item 54) betref, sou R. natuurlik glad nie so ‘n apparaat benodig het nie. Dit behoef dus geen betoog dat daar geen gebeurlikheidsaftrekking daarvoor gemaak moet word nie, veral omdat dit net eenmaal aangekoop sal word.


[79] Die uiteensetting van hierdie uitgawes is soos volg:


Item 48

Braille telraam 124,00

Item 49

Braille wêreldatlas 725,00

Item 50

Rekenaar 29 062,00

Item 51

Pratende sagteware 48 577,00

Item 52

Skandeerder 28 655,00

Item 53

Drukker 18 546,00

Item 54

“Index Basic Braille Embosser” 34 065,00

___________

R159 754,00

___________



[80] Ten opsigte van item 55, die Sony digitale opneemapparaat, moet ‘n gebeurlikheidsaftrekking van hoogstens 5% toegepas word om toe te laat vir die moontlikheid dat R. in ieder geval tot ‘n mate ‘n soortgelyke apparaat sou benodig het indien sy nie haar sig verloor het nie. Die bedrag wat toegelaat word ten opsigte van hierdie item, is soos volg:


Item 55

Sony digitale opneemapparaat 6 126,00

MINUS 5% R 5 820,00


[81] Vir die redes uiteengesit in paragraaf [12] hierbo en aangesien ‘n baie konserwatiewe toelating gemaak word wat aantal betref ten opsigte van items 56 tot en met 59 word, behoort geen gebeurlikheidsaftrekking toegelaat te word nie. Die berekening ten opsigte van daardie items, is soos volg:


Item 56

Sokkerballe 308,00

Item 57

Blinde krieketbal 48,00

Item 58

Dominos 197,00

Item 59

Braille plastiese speelkaarte 421,00

________

R 974,00

________


[82] Ten opsigte van item 60 (huishulp), is die berekening gedoen op grond van ‘n toelating wat voorgestel is deur Gröpp in paragraaf 4 van haar verslag.35 Die berekening in die aktuariële verslag is egter nie korrek nie aangesien dit slegs voorsiening maak vir ‘n huishulp eenmaal per jaar terwyl dit bereken moes word op ‘n huishulp eenmaal per week, soos wat die geval is met item 61 ten opsigte van die tuinier. Die bedrag van R2 065,00 behoort dus R107 355,00 te wees.

[83] Dit wil voorkom asof die arbeidsterapeute volgens die eerste gesamentlike verslag36 voorsien het dat die faktotum wat toegelaat word ook diens moet doen as ‘n huishulp. Dit is egter duidelik uit die getuienis van Lewis dat ‘n persoon wat as ‘n faktotum benodig word indien R. op haar eie woon, ‘n persoon sal moet wees wat op ‘n hoër vlak funksioneer as wat normaalweg van ‘n blote huishulp verwag sou word. Dit sou onredelik wees om te verwag dat so ‘n persoon as ‘n huishulp diens moet doen aangesien dit juis die effek mag hê dat so ‘n persoon gefrustreerd mag raak en dood eenvoudig nie werk van daardie aard sal wil doen nie. Dit mag heel waarskynlik ‘n hoë omset van assistente tot nadeel van R. tot gevolg hê. Dit is duidelik dat kontiuiteit sover moontlik gehandhaaf moet word.


[84] Dit is verder baie duidelik uit die getuienis dat R. wel iemand nodig sal hê om basiese huishoudelike take soos skoonmaak, was en stryk van klere, afstof, vensters was en dies meer benodig. Daarteenoor moet toegegee word dat sy, indien sy ‘n beroep sou betree, waarskynlik in ieder geval ‘n huishulp sou benodig en waarskynlik in diens sou geneem het. As sy egter siende was, sou sy die keuse gehad het om sonder ‘n huishulp klaar te kom soos haar ma, die eiseres, verkies het om te doen. Sy het nou nie daardie keuse nie. Item 60 oorvleuel ook vanaf ouderdom 24 met die huishulp wat toegelaat word in item 62. Teen daardie agtergrond en tot voordeel van die verweerder word item 60 (wat, soos reeds vermeld eintlik ‘n bedrag van R107 365 beloop) vir doeleindes van toekenning van skadevergoeding, buite rekening gelaat, maar sal in ag geneem word by die oorweging van gebeurlikhede onder items 62 en 63.


[85] Die toelating vir ‘n tuinier (item 61) spruit voort uit die verslag van Gröpp. Daar is nie daarvoor voorsiening gemaak in enigeen van die gesamentlike verslae nie (behalwe in soverre die arbeidsterapeute tuinwerk as deel van “home management” beskou). Dit wil voorkom asof voorsien is dat die faktotum as ‘n tuinwerker moet optree. Dieselfde oorweging wat hierbo ten opsigte van die huishulp aangevoer is, geld hier.37 Dit is vergesog om te verwag dat ‘n persoon wat op die vlak van ‘n faktotum moet funksioneer, ook as ‘n tuinwerker moet optree. Dit is egter presies wat Vlok voorstel in haar verslag.38 Myns insiens behoort ‘n afsonderlike toelating gemaak te word vir ‘n tuinier vir R..


[86] Ten opsigte van die tuinier is daar egter ‘n aantal aspekte wat in aanmerking geneem behoort te word en wat daartoe aanleiding gee dat daar nie geargumenteer kan word dat geen gebeurlikheidsaftrekking toepaslik is nie. Ten eerste is die berekening gedoen op die basis van ‘n tuinier vanaf die ouderdom 20. Dit mag wel wees dat R. eers heelwat later op haar eie gaan woon. Tweedens kan dit kwalik betwyfel word dat R. in alle waarskynlikheid tot ‘n mate van die hulp van ‘n tuinier gebruik sou maak indien sy siende was, selfs al was dit net vir ‘n gedeelte van haar lewe. Derdens mag dit ook so wees dat indien sy met ‘n siende persoon sou trou (of indien sy met so ‘n persoon sou getrou het), daardie man vir ‘n tydperk die tuinwerk sou behartig het. Teen hierdie agtergrond moet ‘n substansiële aftrekking toegepas word, veral ook omdat die berekening oor so ‘n lang tydperk strek. Myns insiens sal ‘n toepaslike gebeurlikheidsaftrekking in hierdie verband in die orde van 35% redelik wees.


[87] Die berekening ten opsigte hiervan is dus soos volg:


Item 61

Tuinier 107 355,00

MINUS 35% R 66 781,00



[88] Dit blyk gemeensaak te wees dat beide arbeidsterapeute dit nodig geag het dat R. tot een of ander mate op sekere stadiums van haar lewe die hulp van ‘n huishulp sal benodig. Die oorwegings ten opsigte van oorvleueling en die onredelikheid om te verwag dat ‘n faktotum ook as ‘n huishulp moet optree, word hier herhaal. Dit moet egter in gedagte gehou word dat items 62 en 63 opeenvolgend in tydperk is en nie oorvleuel nie. Item 62 strek vanaf ouderdom 24 tot 30 en item 63 vanaf ouderdom 30 tot 45. Item 62 is egter ‘n berekening van die toelating vir ‘n huishulp vir 16 uur per week soos voorsien in die gesamentlike verslag.39 Die tarief waarteen dit bereken is, naamlik R80,00 per dag, is die bedrag voorgestel deur Gröpp en nie Vlok nie. Die bedrag van R82,90(aangepas vir inflasie) is egter alombekend in die stedelike gebiede as ‘n redelike vergoeding. Met verwysing na items 17 en 18, wat later behandel sal word, is die toelating van item 62 vir ‘n huishulp vir ‘n periode van 6 jaar tussen ouderdomme 24 en 30 patent redelik. Op grond van die argument wat hierbo aangevoer is, nl. dat daar nie van ‘n persoon soos ‘n faktotum verwag kan word om ook as ‘n huishulp op te tree nie, is daar in hierdie berekening ‘n ingeboude voordeel vir die verweerder. Daar is in die tydperk 18 tot 24 jaar glad nie voorsiening gemaak word vir ‘n huishulp nie. In die berekening van item 62 moet daar egter ‘n substansiële gebeurlikheidsaftrekking toegelaat word vir die moontlikheid dat R., indien sy siende was, in ieder geval ‘n huishulp in diens sou geneem het. ‘n Verdere aspek wat meewerk tot ‘n substansiële gebeurlikheidsaftrekking is die feit dat R. se huislede reds gebruiklikerwys oor die weg kom sonder ‘n huishulp. Aangesien die berekening inderwaarheid gedoen is op die veronderstelling dat R. tot ouderdom 18 jaar steeds by haar familie sal bly, verteenwoordig ‘n 50% gebeurlikheidsaftrekking vir die koste van ‘n huishulp, ‘n baie konserwatiewe toelating in die guns van die verweerder.


[89] Die berekening ten opsigte van item 62 sien gevolglik soos volg daaruit:


Item 62

Huishulp (tydens verblyf by familie) 35 479,00

MINUS 50% 17 740,00


[90] In item 63 word voorsiening gemaak vir ‘n huishulp wat R. moet bystaan met die grootmaak van kinders tussen die ouderdom 30 tot 45 jaar. Die veronderstelling van bystand oor ‘n tydperk van 15 jaar mag ietwat liberaal voorkom. In die lig van die skamele toelating wat reeds gemaak is in terme van item 62 (en daar in die praktyk ‘n oorvleueling mag wees, indien R. kinders sou hê tussen die ouderdom 24-30), sal ‘n gebeurlikheidsaftrekking van nie meer as 30%, enige liberale element met konserwatisme temper. Voorts moet ook in gedagte gehou word dat afstand gedoen is van die bedrag van R107 355 ten opsigte van ‘n huishulp tot ouderdom 20.40


[91] Gevolglik is die berekening ten opsigte van hierdie item, soos volg:


Item 63

Huishulp (met kinders) 34 032,00

MINUS 30% = R23 822,00


[92] Indien die uitgawes vermeld in items 17, 18, 19 en 20 toegestaan word behoort items 64 en 65 van die aktuariële berekening buite berekening gelaat te word. Daar is in ieder geval geen basis in die getuienis gelê vir die uitgawe in item 65 nie.


[93] Vervolgens dien items 17 tot 20 vir verdere bespreking en behels dit ook die mees kontensieuse aspek van hierdie saak. Ter aanvang dien dit vermelding dat dit nie van gesinslede verwag kan word om in te staan as assistente vir enige hulp wat benodig word as gevolg van ‘n bepaalde gestremdheid wat ‘n persoon nalatiglik aangedoen is nie. Uit die getuienis wat aangebied is deur veral die eiseres, is dit duidelik dat daar ‘n aansienlike las op haar (en waarskynlik ook op sekere van die ander gesinslede) in hierdie verband rus. Die voorstel van Vlok word juis baseer op die veronderstelling dat die moeder moet instaan as ‘n assistant vir R.. Dit is regtens ounhoudbaar.


[94] Mnr Joubert namens die verweerder het betoog dat dit sinneloos is om voorsiening te maak vir ‘n huishulp terwyl R. nog in haar ouerhuis woonagtig is en dat hierdie bedrag heeltemal buite rekening gelaat moet word. Ek gaan nie akkoord met hierdie argument nie. Die vraag is eenvoudig hoekom die eiseres belas moet word met die addisionele stremming wat ‘n blinde kind in die huis meebring indien die skadevergoeding bereken moet word op die basis om R. so na as moontlik te plaas in die situasie waarin sy sou gewees het as sy siende was. Indien R. siende was, sou daar heelwat minder stremming op die huisgesien en op die eiseres gewees het. Die eiseres se getuienis in hierdie verband was onbetwis en moet dus aanvaar word. Myns insiens is dit onlogies om die delikpleger die voordeel te gee van ‘n toegewyde en liefdevolle moeder wat haarself te buite gaan om sorgbehoewend op te tree in belang van die benadeelde, synde R.. Was R. op hierdie stadium siende, sou die eiseres meer vryheid en minder verantwoordelikheid gehad het ten opsigte van R.. R. sou van publieke vervoer kon gebruik maak en sou nie konstante toesig nodig gehad het nie. Myns insiens, moes die delikpleger voorsien het dat naasbestaandes wesentlik op ‘n nadelige wyse beinvloed sou word as die kind van geboorte af blind sou wees.


[95] Die voorstel van Vlok en Gröpp is dat ‘n toelating van 16 ure per week vir ‘n assistent soos bedoel in item 17 toegelaat word. Ofskoon hulle dit nie in getuienis wou toegee nie, is dit onlogies en onprakties om te verwag dat iemand in diens geneem kan of moet word op ‘n ad hoc basis om effektiewelik 2 ure per dag elke week bystand te verleen. Dit geld ook vir die nuwe voorstel van Vlok in die tweede gesamentlike verslag.41 Die voorstel van 16 ure per week is duidelik ‘n metode wat deur die arbeidsterapeute aangewend word om dit wat hulle meen ‘n redelike berekening verteenwoordig, weer te gee. Dit is egter die taak van hierdie hof om daardie berekening te doen. Dit gaan hier nie net om ‘n berekeningsmetode nie, maar om die bepaling van ‘n behoefte waaraan op ‘n praktiese wyse uitvoering gegee moet word. Dit is vreemd dat Vlok hiervan afgewyk het. Haar verduideliking, dat sy haar later verlaat het op Gröpp se uitgebreide kennis van blinde persone, is onoortuigend. Soos reeds aangedui, moet die behoeftes bepaal word volgens wat redelikerwys nodig is om R. so na as moontlik te plaas in die posisie waarin sy sou gewees het as sy nie van geboorte blind was nie. Myns insiens, is die toelating vir ‘n assistent soos aanvanklik deur Vlok in haar regsmediese verslag42 toegelaat, prakties en redelik.


[96] Die toelating wat hier gemaak word moet ook gesien word teen die agtergrond van Lewis se mening dat die toelating vir ‘n tydperk van 14 maande per jaar waarskynlik ontoereikend is indien alle aspekte van vergoeding by indiensneming in aanmerking geneem word. Daarbenewens mag dit ook wees dat die salaris waarvoor voorsiening gemaak word ontoereikend mag wees. Laastens strek die tydperk ten opsigte waarvan die toelating vir ‘n assistent en die addisionele bedrag in item 18 gemaak word, oor ‘n betreklike kort tydperk van 6 jaar. Om hierdie redes word ‘n gebeurlikheidsaftrekking nie toegelaat nie.


[97] Ten spyte van die ommeswaai in die menings van beide arbeidsterapeute is ek die mening toegedaan dat die eiseres op oorwig van waarskynlikhede en in oënskou van ‘n conspectus van al die getuienis, daarin geslaag het om bewys te lewer dat die indiensneming van ‘n assistent ‘n redelike uitgawe is. Dit is geykte reg dat die mening van ‘n deskundige die hof op geen wyse bind nie aangesien dit slegs een van die feite is wat in oorweging geneem word waarop die uiteindelike bevinding berus. In R v Gouws 1967 4 SA 527 E op 528D verklaar Kotzé R. soos volg:


The prime function of an expert seems to me to be to guide the court to a correct decision on questions falling within his specialised field. His own decision should not, however, displace that of the tribunal which has to determine the issue to be tried.”


[98] Ofskoon dit in Van Wyk v Lewis 1924 AD 437 op 447/8 gegaan het om die opinie van deskundiges met betrekking tot die vraag of ‘n geneesheer redelik opgetree he, is die strekking van wat die hof by monde van Innes HR gesê het, ewe toepaslik:


The testimony of experienced members of the profession is of the greatest value on a question of this kind. But the decision of what is reasonable under the circumstances is for the Court to decide; it will pay high regard to the views of the profession, but it is not bound to adopt them.”


[99] Die waarskuwing wat gerig is in Reckitt & Colman SA (Pty) Limited v S C Johnson & Son SA (Pty) Limited 1993 2 SA 307 A op 31rE-F by monde van Harms Wn AR (soos hy toe was) mag eweveel ook hier van toepassing wees:


“The evidence of the psychologists and linguistic experts tendered in this regard was singularly unhelpful, if not inadmissible because, as is so often the case, in the final analysis it tended to disguise opinion as a statement of scientific principle or fact and attempted subtly to displace the Court’s value judgment with that of the witness.”


[100] In item 19 van die aktuariële verslag word ‘n faktotum toegelaat vanaf ouderdom 18. R. sal waarskynlik op ouderdom 18 haar skoolloopbaan voltooi en begin studeer. Die vlak van bystand wat sy dan sal benodig is volgens die getuienis van die arbeidsterapeute, Truter en Lewis van so ‘n aard dat dit duidelik is dat die eiseres op daardie stadium geen rol sal kan vervul nie. Boonop werk die eiseres ook voldag. ‘n Gewone assistent soos toegelaat tydens haar skoolloopbaan mag dan eweneens ontoereikend wees.


[101] Myns insiens is die toelating van ‘n faktotum, soos uiteengesit in die aktuariële berekening, heeltemaal redelik. Daar sal ook geredelik toegelaat moet word vir ‘n faktotum vir die restant van R. se lewe. Dit mag egter wees dat die behoefte aan ‘n faktotum by beëindiging van haar werksloopbaan wegval, maar aan die ander kant, soos wat sy ouer word, sal haar behoefte aan bystand as gevolg van haar gestremdheid tesame met die gewone gevolge van veroudering na alle waarskynlikheid wel die hulp van ‘n assistent verg.


[102] Myns insiens, moet geen gebeurlikheidsaftrekking t.o.v. ‘n faktotum gemaak word nie. Ek word genoop tot hierdie slotsom in die lig van Gröpp en Lewis se getuienis met betrekking tot die aard en omvang van die pligte, funksies en vlak van bystand wat van ‘n faktotum benodig sal word wanneer R. op Universiteit is en later in ‘n beroep staan. Die bedrag van R. 3 500-00 sal na alle waarskynlikheid geheel en al ontoereikend wees. Dit wil voorkom asof so ‘n persoon op die Peromnes vlak 15/ Patterson vlak B143 sal moet funksioneer wat ‘n basiese maandelikse salaris in die ope arbeidsmark van tussen R3 800 en R5 100,00 vereis, minstens wat betref bystand tydens haar werksloopbaan. Sou haar behoefte ten opsigte van meer gespesialiseerde bystand in ‘n beroep verhoog, sal dit selfs daardie basiese salaris by verre oorskry. Lewis het egter vermeld dat assistente nie noodwendig op daardie vlak vergoed word nie. Die kans dat die arbeidsmark egter kan verander, veral waar die bewustheid van werknemersregte steeds aan die toeneem is, val nie te betwyfel nie. Lewis het ook getuig dat die toelating vir 14 maande waarskynlik nie na behore voorsiening maak vir die werklike koste verbonde aan die indiensneming van so ‘n persoon nie. Om voormelde redes behoort die bedrag uiteengesit in item 19 nie onderwerp te word aan ‘n gebeurlikheidsaftrekking nie.


[103] Mnr Joubert namens die verweerder het die beginsel van die toelating van ‘n assistent ten sterkste betwis. Hy het sterk gesteun op die saak van Troos Transport t/a Ekonoliner Luxury Coach Lines v Abrahams 1999 2 SA 142 (K) ter ondersteuning van sy standpunt. Die kwessie van ‘n assistent vir ‘n blinde persoon het pertinent in daardie saak ter sprake gekom. ‘n Volbank van die Kaapse Provinsiale Afdeling by monde van Conradie R. (soos hy toe was) het geweier om die koste van ‘n assistent toe te laat. Op 145 I tot 146 A word die volgende gesê:


The cost of a personal attendant has been sparingly awarded in the South African case law. It has, as far as I know, been allowed only in the case of aggravated physical injury where there have been pressing medical indications for the employment of a care-giver, that is to say, where there has been seen to be a need for assistance, equipment and facilities directly related to the injury.”


Daar word verwys na vier sake waar dit wel toegeken is. Daar kan natuurlik kwalik in die huidige saak geargumenteer word dat die behoefte vir ‘n assistent nie direk voorts spruit uit die feit dat R. haar sig verloor het nie. Op 146 H tot 147 A gaan die hof in hierdie verband ten opsigte van die weiering om ‘n assistent toe te laat, soos volg voort:


“In the present case, there is no expert evidence that the plaintiff, who has been trained to be independent in his personal management, needs an attendant for medical reasons. The award was not made on this basis. It was made to generally improve his lot. To my way of thinking, it would set a dangerous precedent to allow the injured victim of a delict the cost of a full-time companion to ease his burden under circumstances such as one has here. I do not doubt that all kinds of victims with disabilities who find it difficult to get about would like to have companions to help them to be more mobile and generally make them feel better, but the trend in our jurisprudence has not been that expansive and with good reason: the social cost of compensation on such a generous scale would be too large a burden to carry.”


[104] Die feite in die Troos saak is te onderskei van dié in die huidige saak:


1. Dit is heeltemal korrek dat in die Troos saak, daar geen deskundige getuienis was wat die grondslag vir die toelating van ‘n assistent gelê het nie. In casu was daar natuurlik oorweldigende deskundige getuienis wat die noodsaak daarvoor aangedui het (om nie eers te praat van die eiseres se eie getuienis nie).


2. Geeneen van die sake waarna Conradie R. verwys maak melding daarvan dat assistente “spaarsamig” toegelaat moet word nie. Dit is telkens in ons howe toegeken in elke geval waar die toelating vir ‘n assistent redelik was. Die toets met betrekking tot die vraag van wanneer ‘n assistent toegelaat moet word of nie is natuurlik nie of dit ‘n “expansive trend” is of nie. Dit is een van redelikheid in die besondere omstandighede van elke afsonderlike geval.


3. Die kwessie van die soiale koste van kompensasie “on such a generous scale” as synde “too large a burden to carry” is geheel en al irrelevant en laat heeltemal die belange van die beseerde buite rekening. In daardie saak, soos die huidige, was daar geen getuienis betreffende die “social cost of compensation” nie. Ons howe, soos hierbo aangetoon, vereis dat ‘n gebalanseerde benadering gevolg word by die toekenning van skadevergoeding. Die wyse waarop Conradie R. sekere aspekte as ‘n algemene reël gestel het, bots, met eerbied, lynreg met die vereiste van ‘n gebalanseerde benadering. Ek moet nie verstaan word asof ek sou bevind dat die slotsom in daardie saak verkeerd was nie. Dit was waarskynlik korrek gewees in die lig van die feit dat daar geen deskundige getuienis ter ondersteuning daarvan was nie. Die redes vir die uitspraak met betrekking tot ‘n assistent is egter met eerbied hoogs aanvegbaar.


4. Die ratio vir die weiering om ‘n assistant toe te laat is ook obiter dictum. Die ware rede vir die weiering was gegrond op die feit dat die koste van ‘n assistant as deel van die vergoeding vir verlies aan lewensgenietinge beskou is, welke eis reeds voorheen deur die partye geskik is. Die vraag vir beregting in die Troos saak was of die koste van ‘n assistant deel kon vorm van ‘n eis vir toekomstige mediese kostes al dan nie. Soos hierbo gesê, het die hof bevind dat die eis ingeklee was as ‘n eis vir verlies aan lewensgenietinge. Aldus was dit nie streng gesproke nodig om te beslis of die Suid Afrikaanse reg hierdie tipe kostes in skadevergoeding aksies gedoog al dan nie.


[105] Om bostaande redes is die Troos saak geen gesag op grond waarvan ‘n assistant vir R. geweier behoort te word nie. Trouens, die gesag waarna reeds hierbo verwys is toon die teendeel aan. In Kloppers v Rondalia Assurance Corporation of SA Limited C&B Vol II p 289 op 294 motiveer Claassen R. die toelating van ‘n assistent soos volg:


Blind persons require assistance to run a home. Transportation is also a great problem. A domestic servant and a car driver seem desirable for a blind person to be independent. These servants must be people of high integrity. The lack of independence, the insecurity of employment and the anxiety caused by financial worries are major problems for all blind people.

The probabilities indicate that there seems to be no reason why Gert should not have become an independent, financially secure personality. Saying this I am, of course, speculating for who knows what the future could hold for such a child even with normal sight. Yet I think an award should be made that will make him financially independent and enable him to pay for reasonable assistance and attendance.” (My beklemtoning.)


[106] Ten opsigte van die beginsel om ‘n assistent aan ‘n beseerde te verleen, is in De Jong v Du Pisanie NO supra op J2-117 par. [36] gemaan dat dit oordadig sou wees om vir ‘n sogenaamde “ideale model van versorging” voorsiening te maak. Teen daardie agtergrond is daar egter wel voorsiening gemaak vir wat die hof as die “goedkoper model” beskou het. ‘n Belangrike feit waarop hierdie keuse gebaseer was, was geleë daarin dat die hof bevind het dat die addisionele koste van versorging wat deur die eiser se deskundiges voorgestaan is waarskynlik nooit aangegaan sou word nie, aangesien daar nie werklik persone is wat op daardie vlak versorging sou kon verleen nie. Dit is natuurlik nie die geval in die huidige saak nie. Wat egter wel deurlopend in De Jongh v Du Pisanie bevestig is, is die vereiste van billikheid en redelikheid by die toelating van hulp.


[107] Teen bostaande agtergrond word gevolglik die koste soos volg toegelaat:


Item 17

Assistant tot ouderdom 18 140 426,00

Item 18

Addisionele toelating 34 772,00

Item 19

Faktotum 1 303 568,00

__________

R1 478 766,00


[108] Ten opsigte van die gemeenskaplike toelating deur die arbeidsterapeute vir ‘n na-ure assistant soos bereken in item 20 van die aktuariële verslag, het mnr. Joubert geargumenteer dat dit oorvleuel met die toelating vir ‘n huishulp wat reeds toegelaat is. Dit moet egter in gedagte gehou word dat die toelating vir ‘n huishulp soos hierbo uiteengesit nie gedoen is op die beginsel dat die hulp na-ure verleen word nie. Verder, is dit belangrik om in aanmerking te neem dat die arbeidsterapeute weer eens aanvaar dat R. se verwagte eggenoot noodwendig siende sal wees. Hulle veronderstel dat indien sy saam met iemand woon, sy nie bystand na-ure sal benodig nie. Die arbeidsterapeute motiveer ook hierdie bystand slegs op die basis van sekuriteitsredes. Hierdie redenasie is nie logies en prakties nie. Daar is geen sekerheid dat sy wel sal trou met ‘n siende persoon nie. Maar selfs al sou sy ‘n siende persoon trou, ontstaan die veraag wat gedoen moet word as haar man na-ure werk of uitsdtedig is. Die toelating vir óf ‘n faktotum óf ‘n gewone assistant (item 17 en 19) maak nie voorsiening vir die lewering van dienste na-ure nie. Dit is dus nie onredelik om vir daardie na-ure situasie toe te laat soos bereken in item 20 nie, mits die bedrag getemper word deur die toepassing van ‘n gebeurlikheidsaftrekking. ‘n Gebeurlikheidsaftrekking in die orde van 15% behoort, myns insiens, in hierdie omstandighede redelik te wees.


[109] Die berekening ten opsigte van item 20 is dan soos volg:


Item 20

Aflosbystand na-ure R116 204,00

MINUS 15% R 98 773,00


[110] ‘n Laaste aspek is die feit dat daar op grond van König se getuienis en die gesamentlike verslag van die oftalmoloë geargumenteer is dat daar ‘n 11.7% kans was dat R. in ieder geval blind sou wees. Dit is egter nie die getuienis nie. König het pertinent getuig dat die 11.7% wat hier ter sprake is, die persentasie is waarbinne persone ressorteer wat totaal blind is tot persone wat 20/200 sig het. Op grond daarvan en gemeet aan die waarskynlikhede was die kans dat R. in ieder geval totaal blind sou wees (en gevolglik in ieder geval die hulpmiddels wat hierbo bespreek is, sou benodig het) baie skraal en gevolglik onwaarskynlik. Vir sover gebeurlikheidstoelatings gemaak is, is genoegsaam toegelaat vir enige kans op blindheid ondanks behoorlike hospitaal behandeling onmiddellik na geboorte. Dit is immers ‘n kans wat slegs ‘n onbekende gedeelte van 11,7% sou behels. Ten opsigte van daardie items waar geen gebeurlikheidsaftrekkings gemaak is nie is daar ‘n “ingeboude” element van konserwatisme wat gebalanseer word deur die positiewe gebeurlikhede.


[111] Op grond van die voorgaande uiteensetting beloop die totale toekenning onder hierdie skadehoof (arbeidsterapeutiese onkoste) die bedrag van R2 015 668,00.


Beroepsleiding

[112] ‘n Laaste aspek ten opsigte waarvan daar klaarblyklik geen geskil is nie aangesien dit geensins tydens die getuienis van óf Truter óf Lewis aangeval is nie, is die kwessie van beroepsleiding soos vermeld in item 66. Lewis het breedvoerig verduidelik wat die aanpassings is wat ‘n gewone siende persoon dikwels in sy beroep moet maak soos wat tegnologie en die vereistes van ‘n beroep verander. ‘n Blinde persoon, vir die redes wat deur al die deskundiges breedvoerig op rekord gepaas is, vind dit moeiliker en is minder aanpasbaar vir veranderings. Myns insiens is ‘n toelating vir beroepsleiding dus redelik en behoort daar geen gebeurlikheidsaftrekking daarvoor gemaak te word nie. Daar word konserwatief slegs vir 3 sessies van beroepsleiding voorsiening gemaak.


[113] Die berkening ten opsigte hiervan is soos volg:


Item 66

Beroepsleiding R7 774,00


TOEKOMSTIGE VERLIES AAN VERDIENSTE


[114] Volgens die getuienis van Purchase, Truter en Lewis (ten spyte van die verskille in R. se IK, soos getoets deur eersgenoemde twee persone, welke toetse verskillend is in dié sin dat een toets spesiaal vir blindes ontwerp is en die ander nie), is al drie van hierdie deskundiges dit eens dat R. oor die pre-morbiede potensiaal beskik het om minstens, na graad 12, ‘n drie jaar graad of diploma te kon voltooi. Lewis het dit selfs gepostuleer dat nagraadse universitêre studies geensins uitgesluit was nie.


[115] Namens die verweerder is geen aspek van die getuienis van enigeen van die relevante deskundiges met betrekking tot R. se pre-morbiede potensiaal en hul getuienis met betrekking tot die waarskynlike verloop van haar studies enigsins in geskil geplaas nie. Wat wel aangeval was, was hul getuienis met betrekking tot haar waarskynlike post-morbiede potensiaal. Dit het voorgekom asof daar namens die verweerder gesuggereer is dat R. nie meer oor die potensiaal beskik om ‘n drie jaar diploma of graadkursus te voltooi nie. Die model wat deur Lewis voorgestaan is as deel van óf scenario (iii) óf scenario (iv) is egter ‘n benaderingswyse wat eintlik tot voordeel van die verweerder strek en neig na konserwatisme. Indien dit die verweerder se standpunt is dat R. slegs graad 12 sou behaal en geen tersiêre opleiding sal ondergaan nie en op daardie tydstip dus die arbeidsmark sal betree, sal die post-morbiede gebeurlikhede waarskynlik heelwat minder wees aangesien sy op ‘n heelwat laer vlak sal funksioneer. Die teenkant van dieselfde muntstuk is egter dat sy op ‘n heelwat laer vlak sal verdien soos uiteengesit word in die aktuariële berekeninge as Basis (i).44 Indien bevind sou word dat R. post-morbied wel oor die vermoë beskik om tersiêre opleiding in die aard van ‘n 3 jaar graad of diploma te voltooi alvorens sy die arbeidsmark betree, sal sy natuurlik op ‘n veel hoër vlak moet kompeteer met persone wat nie gestrem is nie wat uiteraard sal beteken dat die gebeurlikhede waarvoor voorsiening gemaak moet word heelwat hoër is ofskoon die salaris wat sy sal verdien weer op sy beurt heelwat hoër sal wees.


[116] Ek stem egter saam met mnr De Waal se standpunt dat die grondslag soos voorgestaan deur die eiseres se deskundiges die aanvaarbare uitgangspunt is. ‘n Opportunistiese benaderingswyse, bloot omdat dit tot voordeel van R. is (ten spyte daarvan dat die verweerder die deur vir so ‘n benadering wawyd oopgemaak het) is myns insiens afkeurenswaardig.


[117] Ek konkludeer dus dat, veral in die lig daarvan dat daar nie werklik enige effektiewe beswaar teen Lewis se voorgestelde benadering ingebring is nie, scenario (iv) van die aktuariële verslag45 heeltemal redelik is.


[118] Dit is geykte reg dat ‘n hof ten opsigte van die vasstelling van ‘n bedrag vir ‘n eis onder hierdie skadehoof in wese twee benaderings kan volg. Die eerste is die lompsom benadering en die ander is die aktuarieel berekende benadering. Mynhardt R. behandel die drie verskillende benaderingswyses wat ‘n hof by die berekening van ‘n verlies aan verdienste in aanmerking kan neem in Botha & ‘n Ander v Santam Beperk C&B Vol V B4-3946. Wat daar as die sogenaamde tweede en derde opsies beskryf is, is ‘n variasie van die tweede benadering waarna hierbo verwys is, naamlik die aktuarieel berekende benadering. In daardie saak, waar dit ook gegaan het om ‘n dogter wat op ‘n ouderdom van 20 maande beseer is en hoegenaamd nog geen werksrekord gevestig het nie, het Mynhardt R. verkies om die derde opsie te volg. Mynhardt R. het dit as meer billik beskou indien die pre-morbiede en post-morbiede situasies afsonderlik beoordeel word en gebeurlikheidsaftrekkings ten opsigte van elk op grond van die beskikbare getuienis gemaak word.


[119] Op B4-45 word die volgende gesê met betrekking tot ‘n bepaling van die toepaslike gebeurlikheidsaftrekking:


“By die bepaling van die persentasie gebeurlikheidsfaktore is ‘n hof natuurlk daarop aangewese om in die toekoms te tuur, en tot ‘n mate in die kristalbal te kyk. In die onderhawige geval is dit presies dieselfde situasie, maar wat dit miskien nog moeiliker maak, is die feit dat Rianet beseer was op ‘n stadium toe sy ongeveer 20 maande oud was, en op hierdie stadium wat die hof die aangeleentheid moet bereg, is sy nagenoeg agt jaar oud. In verskeie opsigte het hierdie feit die hof probleme besorg, sowel as vir die advokate, omdat ‘n mens met soveel omsekerhede te doen het, en omdat daar nog, tot op die huidige stadium, en veral toe sy beseer was, nie duidelike patrone neergelê is en gevestig is nie. Hoe dit ookal sy, en hoe moeilik dit ookal mag wees onder die gegewe omstandighede, die hof het ‘n taak om te vervul en kan die hof nie daarvan terugdeins nie.”


[120] Tot ‘n baie groot mate is dit dus ‘n waarde-oordeel wat die hof in die uitoefening van sy diskresie moet maak op grond van sekere feitelike gegewens en onsekere afleidings wat daaruit voortspruit. Uit die aard van die saak moet die waarskynlikhede oorwegend in gedagte gehou word, en is dit eintlik van deurslaggewende belang, aangesien daar, in ‘n situasie soos hierdie in die besonder, weining, indien enige, aspek is waaroor definitiewe feite bevindinge gemaak kan word, en is die hof aangewese daarop om op die waarskynlikhede tot ‘n bevinding te kom.


[121] Op B4-51/2 van die Botha saak verwys Mynhardt R. na sekere faktore wat die pre-morbiede gebeurlikheidspersentasie beïnvloed en aan die hand waarvan die hof uiteindelik ‘n bepaling moet maak ten opsigte van welke gebeurlikheidsaftrekking toepaslik is. Die eerste faktor is die kans dat die getroffene se werksloopbaan vroeër tot ‘n einde mag kom. Die tweede is dat die loopbaan deur siekte onderbreek of beëindig kan word. Die derde is dat werkloosheid in aanmerking geneem moet word en die vierde is die moontlikheid dat die getroffene in die huwelik kan tree en dat dit haar werksloopbaan kan beïnvloed.


[122] Op B4-53 wys Mynhardt R. daarop dat daar met inagneming van die vier faktore hierbo genoem gewoonlik ‘n aftrekking van tussen 10% en 15% gemaak word ten opsigte van die pre-morbiede gebeurlikhede. Verdere faktore wat spesifiek en uniek aan die feite van daardie saak was (en grootliks met die feite van die huidige saak ooreenstem), is byvoorbeeld dat die beseerde baie jonk was en nog geen werksloopbaan gevestig het nie. In daardie saak was die dogter tydens die verhoor heelwat jonger en het haar skoolloopbaan geen bepaalde patroon gewys met betrekking tot ‘n keuse van vakke nie. In daardie opsig het R. in hierdie saak reeds verder gevorder en kan ‘n beter aanduiding gevorm word aangsien sy besonder goed vaar veral in sekere spesifieke vakke soos musiek, wiskunde en taalvermoëns.


[123] Die hof wys dan verder op B4-55 in die Botha saak daarop dat die berekeninge gemaak is op gemiddelde inkomstes terwyl dit heel moontlik is dat die persoon wat ter sprake is op ‘n hoër vlak sou kon verdien. Ook in daardie saak was dit tussen die verskillende deskundiges gedebatteer of die dogter ‘n graad-kwalifikasie of ‘n diploma sou behaal. Die hof het ook in aanmerking geneem dat sy waarskynlik ‘n hoë IK gehad het voor die ongeluk. Daar is aanvaar dat sy oor die verstandelike vermoëns sou beskik het om ‘n graad-kwalifikasie aan ‘n universiteit te behaal. Die gesinsopset was ook sterk beklemtoon aangesien dit geblyk het dat die ouers se houding ‘n belangrike rol sou speel wat betref die beïnvloeding en motivering om wel ‘n graad-kwalifikasie te behaal. Dit is ook die geval in casu.


[124] Teen hierdie agtergrond het die hof of B4-60 van die Botha saak bepaal dat ‘n ietwat verhoogde pre-morbiede gebeurlikheidsaftrekking van 20% in orde is. Op grond van die feit dat daar tot ‘n groot mate raakpunte is met daardie saak, sal ek ook in hierdie geval ‘n pre-morbiede gebeurlikheid van 20% aftrek.


[125] In die Botha saak het die beseerde dogter breinskade opgedoen benewens ‘n permanente verlies van haar linkeroog wat haar kognitiewe funksionering negatief beïnvloed het. Na oorweging van al die relevante getuienis in daardie saak, bevind Mynhardt R. dat die dogter warskynlik post-morbied standerd 8 spesiale onderwys sou slaag. Ten spyte daarvan en na oorweging van die beroepsmoontlikhede wat in die vooruitsig gestel is, bepaal die hof op B4-76 ‘n gebeurlikheidsfaktor op 80%. R. is klaarblyklik heelwat beter daaraan toe, alhoewel sy ook verskeie struikelblokke sal ervaar om in die ope arbeidsmark te kompeteer. Aldus behoort ander gebeurlikheidspersentasies afgetrek te word as in die Botha geval. Mynsinsiens is die ander persentasies soos vervat in Jacobson se berekeninge, heeltemaal aanvaarbaar en redelik.47 Mnr. Joubert het nie ernstiglik die redelikheid van Jacobson se berekeninge in hierdie verband aangeveg nie.


[126] Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat, soos hierbo uitgestippel, die feit dat R. se post-morbiede werksloopbaan bepaal word op scenario (iv) (graad 12 tesame met ‘n drie jaar graad-kursus), reeds nadelig teen haar inwerk en in die guns van die verweerder is. Dit is egter so dat daar ‘n vertraging van 2 jaar ingebou is in die voltooiing van haar studies in die aktuariële berekening. Daar is egter geen voorsiening gemaak vir vervroegde aftrede nie ten spyte daarvan dat Vlok in haar verslag van mening is dat daar wel ‘n vervroegde aftrede sal wees.48 Sy het hierdie standpunt tydens haar getuienisaflegging bevestig. Dat daar ernstige en beduidende probleme voorsien word vir R. in die ope arbeidsmark is die één gemene faktor wat soos ‘n goue draad deur al die deskundige verslae loop, insluitende dié van Vlok. Die gesamentlike verslae van die arbeidsterapeute bevestig dit ook by herhaling. Daardie faktore word nie weer hier herhaal nie.


[127] In die huidige saak is die aktuariële berekening selfs nog meer verfyn as wat die geval was in die Botha saak waarna so pas verwys is. Die berekening is eerstens gedoen op die veronderstelde vordering tot die Patterson B-5 vlak wat ‘n gemene faktor is op elkeen van die vier basisse waarop die berekening gedoen is.49 Die waarskynlikhede dui daarop dat daar weining twyfel kan wees dat R. minstens tot die B-5 vlak sou vorder en gevolglik is die pre-morbiede gebeurlikheidsaftrekking van 15% in pas met wat gewoonlik in gevalle toegepas word waar daar ‘n redelike mate van sekerhied (in die sin van waarskynlikheid) bestaan. Die gebeurlikheidsaftrekking van 60% ten opsigte van die post-morbiede gebeurlikheid, dui op ‘n 40% kans dat R. wel ‘n beroep sal bekom en in daardie beroep sal funksioneer op die B-5 vlak tot en met aftrede. Hierdie benadering is redelik en moontlik selfs konserwatief ten gunste van die verweerder.


[128] Wat vordering verder as die Patterson B-5 vlak betref, word hoër gebeurlikhede in die pre- sowel as die post-morbiede situasie toegepas. ‘n 20% gebeurlikheid word toegepas ten opsigte van die pre-morbiede situasie om voorsiening te maak vir die feit dat vordering verder as die B- vlak in die pre-morbiede situasie meer kompeterend sou wees en dat daar minder en minder werksgeleenthede bestaan hoe hoër mens opbeweeg met die piramide soos beskryf deur Lewis. Die gebeurlikheidsaftrekking van 20% in die omstandighede van hierdie geval is redelik. Wat die post-morbiede situasie verder as die B-5 vlak betref, word effektiewelik toegelaat dat daar ‘n 35% kans is dat R. ten spyte van haar blindheid sal vorder en kan meeding op die vlak soos bereken deur mnr Jacobson tot en met normale aftrede. Dit is eweneens ‘n redelike benadering.


[129] Ter illustrasie daarvan dat die benadering hierbo voorgestaan redelik is, word verwys na die saak van Mance v Road Accident Fund C&B Vol V J2-10 op J2-20 waar Cleaver R., ten opsigte van ‘n jong man wat veelvuldige beserings opgedoen het en die sequelae van daardie beserings op die feite van daardie saak ‘n wesentlike invloed sou hê op sy vermoë om in die toekoms te verdien, ‘n 40% post-morbiede gebeurlikheidsaftrekking toegelaat het. Dit is gedoen ten spyte van die feit dat die hof reeds toegelaat het dat die eiser in daardie saak op ‘n aansienlik laer vlak sou verdien vir die res van sy lewe (wat opsigself ‘n 100% gebeurlikheid vir daardie feit is). Indien daardie benadering vergelyk word met die huidige benadering in R. se saak, blyk dit duidelik dat ‘n post-morbiede aftrekking van 60% voor en 65% na die Patterson B-5 vlak, redelik is. Daar is geen inherente gebeurlikheid opgesluit in die veronderstelde vlak van post-morbiede verdienste nie aangesien dit presies dieselfde is as pre-morbied.


[130] Op grond van die voorgaande is die toekomstige verlies van verdienste soos uiteengesit in Jacobson se verslag van 25 Julie 2005 op bladsy 133 van Bewysstuk “B”, die bedrag van R2 156 799,00. Myns insiens is dit ‘n redelike bedrag en word toegestaan.




ALGEMENE SKADEVERGOEDING


[131] Benewens die beginsels wat toepassing vind by die toekenning van bedrae vir algemene skadevergoeding soos reeds hierbo uiteengesit, was daar sedert die einde 2002 en begin van 2003 ‘n redelike kentering in die bedrae wat deur ons howe toegeken is vir algemene skadevergoeding. Een van die duidelikste aanduidings van hierdie feit is die toekenning van R80 000,00 vir ‘n sweepslag-besering van ‘n eiseres se nek en rug waar daar ook emosionele of sielkundige trauma gevolg het, soos wat die geval was in die Burger saak supra. ‘n Kontensieuse aspek in die maak van toekennings deur howe is natuurlik die waardevermindering van geld. Die blote feit dat hierdie aspek vir dekades reeds ‘n aktiewe onderwerp is wat dikwels na vore kom in gewysdes, is ‘n sterk aanduiding van die aktualiteit daarvan en dat dit ‘n aspek is waarmee dikwels geworstel word. Die vlam van hierdie debat het weer onlangs helderder begin brand soos hieronder bespreek. Een ding wat egter duidelik is, is dat die kwessie van waardevermindering van geld ‘n belangrike faktor is ongeag aan watter kant van die draad mens jouself bevind.


[132] In die Marunga saak supra50 moes die Hoogste Hof van Appèl in Maart 2003 ‘n toekenning maak aan ‘n 19 jarige man wie se beserings hoofsaaklik bestaan het uit ‘n fraktuur van die linker femur waarvoor hy chirurgie ontvang het, en ongeveer 2 maande in traksie gelê het en ‘n verdere 3 maande gehospitaliseer was. Sy been het skeef aangegroei en was daar ook ‘n verkorting van die been. Hy was ‘n aktiewe sportman wat nie in die toekoms aan sport sou kon deelneem nie. ‘n Bedrag van R175 000,00 is toegeken (nadat ‘n vroeëre toekenning deur die hof a quo in die bedrag van R375 000,00 verminder is).


[133] Daarteenoor word daar dikwels in sake waar die omvang van algemene skadevergoeding in geskil is, sterk klem gelê op die oënskynlik temperende effek van De Jongh v Du Pisanie NO supra waar ‘n aanvanklike toekenning deur die hof a quo in die bedrag van R4000 000,00 verminder is na R250 000,00. In hierdie saak het die beseerde (Rabe), benewens ortopediese beserings aan sy nek, rug, regter skouer, regter knie en regter enkel ‘n breinbesering opgedoen, veroorsaak deur ‘n verbrokkelde frontale skedelfraktuur wat tot in die oogkaste en wangbene gestrek het. Dit het ‘n verandering in sy persoonlikheid teweeggebring asook ‘n inkorting van sy verstandelike vermoë. Die persoonlikheidsverandering het gemanifesteer in apatie, woedebuie, aggressie, gebrek aan insig en oordeel asook ‘n verhoogde seksdrang. Hy het ook sy reuk en smaaksin verloor. Hy het ook epileptiese aanvalle gekry wat egter tot ‘n mate verbeter het met die gebruik van medikasie. In paragraaf [60] en verder bespreek die hof die stygende tendens van toekennings in algemene skade in die meer onlangse verlede en maan die hof dat gewaak moet word teen die voortsetting van ‘n tendens van “verdubbeling” (vir sover daar so ‘n tendens mag wees) en die lukrake toepassing van die Verbruikersprysindeks aangesien dit die hof se diskresie aan bande kan lê. Die hof het weer eens daarop gewys dat konserwatisme by die toekenning van algemene skadevergoeding sy oorsprong het in ‘n behoefte dat daar ook teenoor die verweerder billikheid moet geskied.


[134] Alhoewel die hof nie in beginsel teen ‘n stygende tendens in toekennings is nie, en bevestig het dat dit een faktor is wat in aanmerking geneem moet word, word pertinent daarop gewys dat die belangrikste faktor in die vasstelling van algemene skadevergoeding die diskresie is waarmee die hof beklee is. Toekennings in vorige sake is wel ‘n nuttige hulpmiddel wat ook dien as riglyn omdat “konsekwentheid in toekennings ‘n inherente vereiste van billikheid is”51. Brandt AR verklaar pertinent soos volg:


“Dit vervang nie die Hof se diskresie met ‘n letterknegtige gebondenheid aan die aangepaste waarde van vorige toekennings nie.”


In paragraaf 65 van die uitspraak word die stygende tendens van toekennings soos volg bespreek:


“Die stygende tendens van toekennings in die onlangse verlede is, soos ek alreeds gesê het, duidelik waarneembaar. Die effek daarvan is egter weer eens nie met matematiese presiesheid bepaalbaar nie. Dit is onseker presies wanneer die tendens begin het en wanneer dit sal eindig nie. Dit het bes moontlik reeds tot ‘n einde gekom. ‘n Bepaalde toekenning uit die verlede waarna verwys word, kon dus reeds met inagneming van die tendens geskied het. As die vorige beslissing wat as maatstaf dien reeds met inagneming van die stygende tendens gemaak is, kan dit nouliks geregverdig word om op grond van dieselfde oorweging sonder enige bykomstige rede, ‘n verdere styging toe te laat. Daarbenewens verg die tendens klaarblyklik nie die vermingvuldiging van vroeëre toekennings met ‘n voorafbepaalde of bepaalbare faktor nie. Op die ou end is die tendens maar net nog ‘n oorweging wat die Hof geregverdig is om in ag te neem wanneer hy, by die uitoefening van sy diskresie, na vorige toekennings, veral in ouer sake, as riglyn verwys. Die hof vind geen botsing tussen die uitspraak in die Marunga- saak en die uitspraak in die saak onder bespreking nie. Daar word pertinent daarop gewys dat Navsa AR in die Marunga-saak uitdruklik noem dat die stygende endens maar slegs een van die oorwegings is op grond waarvan ‘n uiteindelike toekenning berus. Daarbenewens, so verklaar die hof, verwys Navsa AR pertinent na die dicta uit die Wright-saak suprawat daarop dui dat die toekenning in daardie saak wat as maatstaf gebruik is, reeds met inagneming van die stygende tendens gemaak is. Derhalwe moet daarteen gewaak word om verdere verdubbeling of dramatiese verhoging toe te laat.” (Eie beklemtoning)


[135] Wat wel van belang is, is dat die De Jongh en Marunga sake die belang van die hof se diskresie met inagneming van die besondere feite van die saak beklemtoon. Net soos daar in talle sake reeds bevestig is dat die hof die stygende tendens van toekenning en die vermindering in die waarde van geld na behore in ag moet neem as een van die faktore in die bepaling van ‘n gepaste bedrag algemene skadevergoeding, moet ‘n hof ook versigtig wees om nie onredelik konserwatief te wees omdat konserwatisme sterk beklemtoon is in die De Jongh saak nie. Soos ek die sake verstaan is geen nuwe beginsels ingevoer deur òf die Marunga saak, òf die De Jongh saak nie. Dit is eintlik maar net ‘n herhaling van ‘n tema wat soos ‘n goue draad deur die talryke gerapporteerde sake wat handel met persoonlike beserings, loop.


[136] Wat verder van belang is, is dat die De Jongh saak sterker standpunt inneem teen die “verdubbeling”-beginsel. Dit ondermyn hoegenaamd nie ‘n gebalanseerde toepassing van verhoging van toekennings nie. Waar dit gevolglik duidelik blyk in die oorweging van vorige uitsprake in soortgelyke sake dat daar nog geen “verdubbeling” (of minstens ‘n wesentlike aanpassing) gedoen is op grond van toekennings wat in voorafgaande sake gedoen is en waarop die ander hof gesteun het nie, is ‘n behoorlike aanpassing vir die waardevermindering van geld onontbeerlik. Sou dit nie gedoen word nie, is die verwysing na en steun op vorige sake geheel en al nutteloos aangesien daar dan kwalik ‘n vergelyking gemaak kan word van wat die kwantitatiewe waarde-oordeel is wat die howe in sodanige vorige sake toegepas het. Dit is en bly egter steeds maar een van die faktore wat in aanmerking geneem behoort te word in die besluit van wat redelike en billike algemene skadevergoeding is.


[137] ‘n Goeie voorbeeld van hoe die beginsel in die praktyk toepassing gevind het, is te vinde in die saak van Delport NO(obo Helen van Rooyen) v Road Accident Fund (C&F) Vol 5 A4-1 waar Hartzenberg R. met sterk beklemtoning van die ooreenstemming van daardie saak met die saak van Marine & Trade Insurance Company Limited v Katz No (AA) 1979 4 SA 961, ‘n bedrag van R1 250 000,00 in Maart 2003 toegeken het, ‘n toekenning wat opsigself, soos in die Katz-saak, ietwat van ‘n waterskeiding was. Wat verder van belang is, is dat die Padongelukkefonds aansoek gedoen het om verlof tot appèl en dat die aansoek deur die Hoogste Hof van Appèl van die hand gewys het.


[138] Teen hierdie agtergrond is, myns insiens, die korrekte benadering doodeenvoudig ‘n gebalanseerde een wat ietwat neig na konserwatisme. Wat egter verder duidelik is, is dat net soos daar nie oormatige gewig aan die Verbruikersprysindeks geheg behoort te word in die uitoefening van die hof se diskresie nie, is die Verbruikersprysindeks (ongeag of dit die sogenaamde “CPI” of “CPIX” is) tans die enigste betroubare barometer van die waardevermindering van geld. Dit sou net so verkeerd wees om die vermindering in die waarde van geld te heeltemaal ignoreer as om dit oormatiglik liberaal toe te pas in die aanpassing van ‘n toekenning.


[139] Een aspek wat weinig, indien enige, aandag geniet in gerapporteerde sake is die feit dat algemene skadevergoeding, veral waar daar met die maak van die toekenning gepoog word om vergoeding toe te staan vir toekomstige pyn, lyding, ongerief, verlies van lewensgenietinge, ens., ‘n toekenning is wat op huidige geldwaarde berus sonder inagneming van die tempo waarteen daardie geld se waarde in die toekoms sal afneem. Die toekenning word immers gemaak op die basis dat dit ook moet dien as monetêre vergoeding vir dit wat in die toekoms ervaar sal word. Dit moet egter vermeld word dat daar wel tot ‘n mate groei verwag kan word indien die beseerde se fondse na behore belê word. ‘n Mens hoef maar net te kyk na die ouer toekennings in betreklik ernstige gevalle om te sien hoe die waarde van geld erodeer is. Indien dit toegeken sou gewees het vir ‘n persoon wat vandag nog lewe, is dit treffend ontoereikend indien dit vergelyk word met huidige toekennings.


[140] Soos telkens in die verdele deur ons howe verklaar, vind mens selde ‘n gerapporteerde saak wat in alle opsigte vergelykbaar is met die saak wat vir beregting dien. Hierdie probleem vind pertinente toepassing in die huidige saak. Daar moet onderskei word tussen sake waar dit gaan om die verlies van een of twee oë. In sommige van die gevalle waarna verwys sal word, is daar tot die een of ander mate ander beserings ook ter sprake. Dit maak egter nie sodanige sake noodwendig ontoepaslik as riglyne nie. Soos hieronder aangetoon blyk dit byvoorbeeld dat die getuienis met betrekking tot die sequelae heel moontlik heelwat meer beperk was as wat in die huidige saak die geval is.


[141] Wat egter van belang is, is dat ons howe die verlies van sig as ‘n ernstige besering beskou met ingrypende veranderings en aanpassings in en wesentlike inkortings van verskeie aspekte van ‘n persoon se lewe. Dat dit moontlik in sommige sake onderskat is (dikwels as gevolg van ‘n gebrek aan getuienis soos hierbo vermeld), blyk ook uit sekere van die gewysdes waarna hieronder verwys sal word. ‘n Ander aspek wat ter aanvang genoem moet word, is die feit, soos ook deur König treffend beskryf is tydens sy getuienisaflegging, dat daar ‘n baie groot en wesentlike verskil is tussen byvoorbeeld blote ligpersepsie en totale blindheid. Soos deur hom genoem, is ‘n persoon wat selfs net ligpersepsie (om nie eers te praat van gedeeltelike visie nie) het, veel beter daraan toe as ‘n persoon wat totaal blind is. Hierdie aspek moet insgelyks in gedagte gehou word wanneer daar ‘n vergelyking getref word tussen dié sake waar daar slegs verlies van een oog was (of waar daar slegs ‘n gedeeltelike verlies van sig was of selfs ‘n mate van sig behoue gebly het) en dié wat handel met totale verlies van sig. Daarom sou dit nie logies en wetenskaplik korrek wees om toekennings vir die verlies van een oog bloot te verdubbel in die geval van ‘n verlies van beide oë nie. Laasgenoemde is onbetwisbaar baie meer ernstige as gevolg van die totale gestremdheid wat dit veroorsaak.


[142] Met die bespreking van die sake hieronder sal die huidige geldwaarde van vorige toekennings soos dit voorkom in RJ Koch The Quantum Year Book 2005 (“Koch”) telkens tussen hakies ná die waarde van die toekennings vermeld word.


[143] In 1972 is ‘n bedrag van R25 000,00 (R819 000) deur Claassen R. toegeken as algemene skadevergoeding in die saak van Kloppers v Rondalia Assurance Corporation of SA Limited supra. Dit was ‘n geval waar ‘n seun wat 7 jaar oud was ten tye van die botsing, die verlies, (vir alle praktiese doeleindes), van die totaliteit van sy sig gely het. Hy het egter ook ‘n ernstige hoofbesering opgedoen wat aanleiding gegee het tot ‘n persoonlikheidsverandering en ‘n 25% kans op epilepsie. Wat egter benadruk moet word is dat die breinbesering, alhoewel dit ‘n negatiewe invloed gehad het op die seun se dryfkrag, inisiatief en leierskap, sy intellek en sensitiwiteit in wese onaangetas gelaat het. Hy was gevolglik besonder bewus van die aard en omvang van sy gestremdheid. Die hof het sterk klem gelê op die feit dat hy vergoed moet word vir die feit dat hy die lyding wat gepaardgaan met blindheid vir 60 jaar sal moet verduur. Voorts, alhoewel aanvaar is dat hy vir alle praktiese doeleindes blind was, het hierdie seun egter steeds perifere visie gehad. Van verdere belang is die feit dat die verlies aan dryfkrag, inisiatief en leierskap merendeels ‘n impak sou hê op sy vermoë om te verdien eerder as sy algemene skadevergoeding. In daardie verband het hy ook skadevergoeding ten opsigte van ‘n verlies aan verdienvermoë ontvang. Hierdie saak stem in vele opsigte ooreen met die feite in casu behalwe dat R. nie die pyn en lyding van ‘n breinoperasie ervaar het nie, ofskoon sy wel vier oogoperasies ondergaan het, en minstens een operasie in elke oog en waarskynlik minstens een ortopediese operasie in die toekoms sal ondergaan. Dit skep opsigself die risiko vir komplikasies soos bloeding, infeksie, ens. wat nog geensins aangespreek is onder enige van die ander skadehoofde nie.



[143] In Strougar v Charlier C&B Vol II 316 is ‘n bedrag van R6 000,00 (R165 000) in 1974 toegeken waar ‘n man sy een oog verloor het as gevolg van ‘n aanranding. Dit dien egter benadruk te word dat daar weining getuienis aangebied is oor die aanpassing wat die eiser moes maak. Desnieteenstaande het die hof die verlies van ‘n oog insgelyks beskryf as “a very serious injury”.


[144] In AA Onderlinge Assuransie Assosiasie Beperk v Sodoms C&B Vol III 105 is ‘n bedrag van R10 000,00 (R134 000,00) vir die verlies van sig in die regteroog toegereken as billike vergoeding in 1980. Die Appèlhof het die verlies van die gebruik van een oog beskryf as “‘n vry ernstige besering waarvoor daar ruimskoots vergoed behoort te word52. In daardie saak is ook gemaan teen die slaafse navolging van ‘n verbruikersindeks aangesien dit die “beweegruimte” van die hof te veel aan bande kan lê. In Mthembu v Minister of Law & Order C&B Vol IV T3-1 is ‘n bedrag van R55 000,00 (R162 000) toegeken in 1991 waar die eiser die sig in sy regteroog verloor het. Die hof het die aard van die besering in hierdie saak as minder ernstige as in die Sodoms saak beskou.

[145] ‘n Persoon het, benewens ‘n ernstige fraktuur van die regter humerus en ‘n borskasbesering, die sig in sy regteroog verloor in Button v SA Eagle Insurance Company Limited C&B Vol III, p 323. ‘n Bedrag van R22 500,00 (R301 000) is in 1980 daarvoor toegeken.


[146] In Van Dyk v Mutual & Federal Versekeringsmaatskappy Beperk C&B Vol III p 226 is ‘n bedrag van R30 000,00 (R348 000) in hierdie afdeling in 1981 toegeken waar ‘n seun wat ten tye van die motorongeluk 5 jaar oud was bykans sy totale sig verloor het en vir alle praktiese doeleindes blind gelaat is. Hy het egter steeds 20% visie in een oog oorgehou wat hom toegelaat het om vaagweg groter voorwerpe te kon sien. Wat egter baie belangrik is ten einde ‘n behoorlike waarde oordeel oor hierdie toekenning te vel is dat die hof geen toekenning gemaak het vir pyn, lyding en ongerief nie en dat die toekenning slegs gemik is op die verlies van lewensgenieting en ontsiering. Gevolglik kan verwag word dat hierdie toekenning aansienlik hoër sou gewees het indien dit ‘n toekenning was vir al die gebruiklike skadehoofde wat tuis hoort onder algemene skadevergoeding. Die seun in daardie saak was aansienlik beter daaraan toe as wat die geval is met R. aangesien hy steeds 20% van sy sig behou het. Die belang daarvan is, soos reeds vermeld, treffend deur König geïllustreer.

[147] In Prosser NO v Commercial Union Insurance Company of SA Limited C&B Vol IV A4-130 is ‘n bedrag van R100 000,00 (R216 000) in 1994 toegeken waar die eiser getref is met blindheid in sy linkeroog. Daar was ook egter ernstige hoofbeserings wat aanelding gegee het tot die klassieke simptome van ‘n frontale lob-besering.


[148] ‘n Bedrag van R125 000,00 (R213 000) is toegeken as algemene skadevergoeding waar ‘n minderjarige dogter, ten tye van die ongeluk ‘n baba van 20 maande, ‘n ernstige hoofbesering opgedoen het asook haar linkeroog verloor het, in Botha & ‘n Ander v Santam Beperk C&B Vol V B4-39. Hierdie toekenning is gemaak in 1997. Dit is egter van belang om te meld dat die bedrag vir algemene skadevergoeding ooreengekom is en nie ‘n toekenning is wat onafhanklik deur die hof na oorweging van die feite gemaak is nie.


[149] In 1997 het die kwessie van ‘n 29-jarige skrynwerker wat algehele en permanente verlies van sig in beide oë opgedoen het in ‘n motorongeluk in Troos Transport t/a Ekonoliner Luxury Coach Lines v Abrahams supra vir beregting gedien. ‘n Bedrag van R100 000,00 (R170 000) is in berekening gebring as algemene skadevergoeding. Hierdie bedrag was egter ‘n vooraf ooreengekome bedrag en is nie onafhanklik deur die hof toegeken nie. Vir die redes reeds hierbo vermeld, is hierdie saak van weinig waarde vir sover dit die toekenning van algemene skadevergoeding vir algehele blindheid betref.


[150] In Edem v Road Accident Fund C&B V I 3-1 het die eiseres in arbitrasieverrigtinge ‘n bedrag van R120 000,00 (R153 000) in 2001 ontvang as algemene skadevergoeding waar sy volkome blind gelaat is as gevolg van ‘n besering in die regteroog en slegs 20% oorblywende visie in die linkeroog gehad het as gevolg van ‘n voorafbestaande toestand. Benewens die feit dat hierdie ‘n saak in die Kaapse Arbitrasie Forum was, is die bedrag algemene skadevergoeding vooraf ooreengekom en gevolglik van weinig waarde.


[151] Welke aspekte van die getuienis het betrekking op R. se algemene skadevergoeding? Myns insiens, openbaar die getuienis baie duidelik dat R. in die verleede reeds en in die toekoms ‘n buitengewone verlies aan lewensgenietinge sal ervaar. Dit is gemeensaak dat R. op 5 April 1993 prematuur gebore is. As gevolg van ‘n gebrek aan toepaslike behandeling, het sy retinopatie ontwikkel as gevolg waarvan sy geen sig het nie en sedertdien totaal blind is. Sy het op ‘n baie jong ouderdom reeds vier chirurgiese ingrepe aan haar oë ondergaan. Ten spyte van die agterstand waarmee sy haar lewe begin het, het R. nogtans haar ontwikkelingsmylpale met reëlmaat bereik en selfs ‘n groot mate van onafhanklikheid aangeleer. Haar skoolprestasies is deurgaans besonder goed. Sy ervaar, soos verwag kan word, egter episodes van hartseer as gevolg van haar gebrek en openbaar dikwels ‘n hunkering om dinge te sien, veral hoe haar ouers en haar broers lyk. Soos deur die deskundiges getuig is, sal hierdie hunkering altyd bestaan en waarskynlik sterker word soos wat sy self moontlik in die huwelik tree en ‘n moeder word. Sal sal nooit sien hoe haar eggenoot of haar kinders lyk nie. Sy sal nooit ‘n reënboog sien nie. Sy sal nooit die veelkleurigheid van ‘n blommetuin ervaar nie. ‘n Mooi sonsopkoms of sonsondergang is nie vir haar beskore nie. Die visuele stimulasie en plesier wat siende persone put uit die natuurskoon, hul eie omgewing, televisie, rolprente en dergelike dinge sal sy nooit ervaar nie. Sy sal slegs sekere kunsvorme kan waardeer en sal nooit ‘n mooi foto of skildery kan waardeer nie. Sy wat so lief is vir musiek, sal nooit ten volle ‘n opera in prag opvoerings kan waardeer nie omdat sy nooit die skoonheid van fabelagtige dekor sal sien nie.


[152] Roschelle ervaar vereensaming wanneer sy nie by die skool is nie, omdat sy nie vryelik met maats sosiaal kan verkeer nie. Sy sukkel om in vreemde omgewings aan te pas en beseer haarself ook van tyd tot tyd. Hierdie aspek sal altyd ‘n probleem wees. Haar blindheid veroorsaak op verskeie gebiede dikwels groot frustrasie wat aanleiding gee tot fases van neerslagtigheid, slapeloosheid en algemene irritasie. R. is besonder lief om te “lees” en het byvoorbeeld alle Braille boeke in haar skool se biblioteek reeds gelees. Sy is afhanklik van boeke in braille of boeke wat op kasset of derglike hulpmiddels geplaas is.


[153] Sy sal bv. uitgebuit kan word. Alhoewel uitbuiting sekerlik in enige verhouding of in die daaglikse lewenswandel van siende persone die geval is, is die moontlikheid substansieel vergroot in R. se geval, enersyds omdat sy blind is en andersyds omdat sy ‘n betreklike groot bedrag geld sal ontvang en moet bestuur. Sy sal ‘n mate van blootgesteldheid in enige liefdesverhouding ervaar. As ‘n gestremde persoon is sy meer blootgestel in die huidige samelewing aan aanvalle en kan sy haarself nie werklik verdedig of self gevaarsituasies vroegtydig sien en vermy soos ‘n siende persoon nie. ‘n Eenvoudige voorbeeld hiervan is byvoorbeeld dat sy bygestaan sal moet word in die trek van geld by ‘n kitsbank. Sy sal waarskynlik met ‘n gidshond en ‘n wit kierie vir die res van haar lewe oor die weg moet kom.

[154] Sy sal altyd afhanklik wees van ‘n persoon om haar met heelwat take te help soos byvoorbeeld die keuse van klere, die versorging van kinders en haar gesin, die rondbeweeg van plek tot plek buite haar onmiddellike bekende omgewing en dies meer. Hierdie aspek is egter ‘n tweesnydende swaard. Alhoewel sy sodanige bystand benodig om haar so onafhanklik as moontlik van haar gesinslede en ander mense in die samelewing te maak (en die druk te verlig op haar onmiddellike gesinslede wat weer vir haar tot voordeel is) mag die teenwoordigheid van ‘n assistent op sigself frustrasie skep en ‘n konstante herinnering wees aan haar ontoereikenheid op talle gebiede.


[155] Die getuienis het haar selfbewustheid met haar uiterlike voorkoms en toestand van blindheid soos wat sy in ‘n jong dame ontluik, geopenbaar, soos treffend deur haar moeder geillustreer. Daar is, myns insiens, ook ‘n geldige verskil in benadering in gevalle waar ‘n man ontsier is teenoor gevalle waar ‘n vrou ontsier is. Indien R. se geval vergelyk word met Van Dyk se saak is dit opvallend duidelik dat R. oorweldigend slegter daaraan toe is as wat die geval was met die seun in die Van Dyk saak. Daar het hy 20% visie in een oog oorgehou wat, volgens die verduideliking van König ‘n hemelsbreë verskil in funksionaliteit, onafhanklikheid en lewensgenieting maak. Ook moet weer eens daarop gewys word dat in die Van Dyk saak die bepaling van die toekenning geen toelating gemaak is vir pyn, lyding en ongerief nie Haar selfbewustheid sal lewenslank van tyd tot tyd ‘n struikelblok (of minstens ‘n bekommernis of bron van herinnering) wees. Ofskoon sy besonder aktief is aan skoolaktiwiteite soos sport, musiek, sanguitvoerings en voordragte, het haar selfbewustheid veroorsaak dat sy reeds by twee geleenthede “verhoogvrees” ontwikkel het.


[156] As gevolg van die feit dat R. as ‘n gestremde in ‘n siende wêreld vir die res van haar lewe moet funksioneer, sal sy op ‘n gereelde basis aan haar gestremdheid herinner word en frustrasies ervaar in alledaagse take soos byvoorbeeld die stuur van SMS boodskappe op ‘n selfoon wat, veral tans in haar ouderdomsgroep, ‘n besonder aktuele aktiwiteit is.


[157] Sy sal pyn, lyding en ongerief verduur met die toekomstige chirurgiese prosedures wat deur König in die vooruitsig gestel is.


[158] As gevolg van die afwesigheid van haar onvermoë om visuele stimuli te ervaar en te evalueer, sal groter konsentrasie van haar geverg word in alledaagse funksionering. Vir haar sal dit moeiliker wees as ‘n siende persoon om instruksies te volg ten opsigte van die ontwikkeling van nuwe vaardighede en konsepte. Sy is ontneem van die waardevolle leerproses bekend as “accidental learning” wat siende persone het. In byna alle aspekte van persoonlike funksionering is sy stadiger en sal sy daaraan herinner word. Haar moeder het die voorbeeld gegee dat sy stadiger eet en dikwels nie haar kos klaar eet nie as sy hoor dat ander persone reeds klaar is. Hierdie probleem mag ook in die toekoms in persoonlike verhoudinge frustrasie skep wat sy ook sal ervaar. Dit sal waarskynlik ook spanning in ‘n liefdesverhouding en in ‘n verhouding met haar eie kinders skep. Visuele kommunikasie soos lyftaal en gesigsuitdrukking, selfs ‘n glimlag, is vir vir haar verberg in ‘n waas van donkerte.


[159] Omdat R. in elke nuwe situasie haarself moet oriënteer wat haar omgewing en die plasing voorwerpe betref, is sy blootgestel aan beserings soos byvoorbeeld brandwonde en, soos Birrell getuig het, die moontlikheid van die opdoen van frakture as sy sou val. Uit veral die verslag van Vlok is dit duidelik dat R. nie ‘n outomatiese sin vir posisie en beweging het nie. Sy ervaar ook ‘n probleem met balans aangesien visie ‘n belangrike rol speel in die handhawing van balans. Ofskoon sy geleer word om ‘n goeie postuur te handhaaf, word voorsien dat sy nek-, spier- en hoofpyne mag ervaar.


[160] R. is gekortwiek ten opsigte van eenvoudige take soos skryf met ‘n potlood of pen en die gebruik van ‘n skêr. Sy sal altyd ‘n ernstige inperking ervaar wat betref geskrewe kommunikasie in ‘n sienende wêreld. Frustrasie en spanning sal ook deur haar ervaar word weens haar gestremdheid eerstens in die keuse van beroepe en daarna wanneer van haar verwag word om na behore in ‘n beroep te funksioneer. Ten spyte van die toelating van spesiale hulpmiddels, assistente ens, sal sy nooit kan funksioneer soos wat die geval was indien sy nie haar sig verloor het nie.


[161] Soos reeds vermeld, mag hierdie hulpmiddels en assistente ook in bepaalde situasies opsigself ‘n herinnering wees aan haar gestremdheid. Sy het reeds erge vernedering ervaar byvoorbeeld in ‘n situasie waar sy onverwags begin menstrueer het en die onderwyseres haar by die skool moes bystaan, ten spyte daarvan dat dit oënskynlik baie taktvol hanteer was. Die gebruik van ‘n publieke toilet op haar eie is buite die kwessie aangesien sy nie kan sien wat die toestand (higiënies en andersinds) van haar omgewing is nie.


[162] Van Reenen R. het die verlies aan lewensgenietinge van ‘n blinde persoon treffend opgesom op bladsy 229 in die Van Dyk saak supra waar die volgende gesê word:


“Dit verg geen sterk verbeelding om te begryp wat die verlies van jou sienvermoë vir ‘n mens sal beteken in die daaglikse omgang nie. Jy sal verstote wees van al die genot wat geskep word deur die aanskoue van ‘n natuurtoneel, van die diere in die veld, die blommeprag in jou tuin, die voorkoms en die bewegings en gevare, gesigsuitdrukkings van die mense om jou heen, van jou eie familielede, jou eggenoot en jou kinders. Jy word ontsê van die normale beoefening van meeste van die buitelig en binnenshuise vermaak en ontspanning, die genot wat ‘n goeie stukkie spel op die sportveld verskaf, die behaaglike aanskoue van ‘n aanvallige medemens. Jy kan nie na willekeur na die biblioteek of die boekwinkel stap en vryelik ‘n boek of tydskrif van die rak haal om sommer net met die deurblaai jou daarin te verlustig nie.”


Sy sal ook nooit koerant kan lees nie.


[163] Daar is klaarblyklik aspekte ten opsigte waarvan daar nie spesifiek voorsiening voor gemaak is onder die ander skadehoofde nie, soos byvoorbeeld akkommodasie vir ‘n assistant, wat opsigself ‘n aansienlike uitgawe mag wees. Dit blyk verder dat die intervalle vir vervanging van sekere hulpmiddels soos rekenaars ten opsigte waarvan ‘n toelating deur die arbeidsterapeute gemaak is, besonder lank is gegewe die snelontwikkelende aard van daardie tegnologie. Dit is nie onwaarskynlik nie dat tegnologie mettertyd steeds beter hulpmiddels vir algemene gebruik deur blindes ontwikkel sal word, soos byvoorbeeld die elktroniese “bioniese oog” wat tans deur Doubell in Kanada ontwikkel word. Al die bogenoemde faktore wat nie na behore in aggeneem kan word onder spesifieke skadehoofde nie, sal wel tot ‘n mate deur die bedrag van algemen skade gedek word.


[164] Teen die voorgaande agtergrond en in die lig van die besondere feite van hierdie saak is, myns insiens, ‘n toelating ten opsigte van algemene skadevergoeding in die orde van R700 000,00 nie onredelik nie.


SAMEVATTING


Samevattend word die volgende toekennings gemaak:

1. Gelede mediese kostes 1 134,00

2. Ortopediese kostes 62 343,00


3. Oftalmologiese uitgawes 381 169,00


4. Sielkundige kostes 13 138,00


5. Arbeidsterapeutiese uitgawes 2 015 668,00


6. Beroepsleiding 7 774,00


7. Toekomstige verlies aan verdienstes 2 156 799,00


8. Algemene skadevergoeding 700 000,00

____________

R5 338 025,00

____________



RENTE OP DIE TOEKENNING INGEVOLGE ARTIKEL 2A VAN DIE WET OP VOORGESKREWE RENTEKOERSE NR. 55 VAN 1975


[165] Die eiseres het aansoek gedoen vir ‘n spesiale toekenning van rente ingevolge artikel 2A van die Wet op Voorgeskrewe Rentekoerse Nr 55 van 1975. Mnr De Waal het betoog dat statutêre kennisgewing van die eiseres se eis aan die verweerder gegee is op 16 Oktober 2000 en dat dit op 3 November 2000 ontvang is. Daarna is dagvaardiging uitgereik en is dit op 14 November 2000 op verweerder beteken. Hy het betoog dat die besonderhede van vordering die eis genoegsaam uiteensit om die verweerder in staat te stel om ‘n billike berekening daarvan te kon maak. Hy het aangevoer dat verweerder geregtig was op ‘n billike tydperk na ontvangs van die dagvaardiging om sodanige berekening te maak en dat so ‘n tydperk sou verval het op 1 Januarie 2001. Sedert laasgenoemde datum het ‘n tydperk van 4 jaar en 231 dae verloop. Hy het die hof versoek om ‘n diskresie uit te oefen in eiseres se guns deur rente teen 15,5% toe te staan op ‘n bedrag van ten minste R200 000,00. Hy het gesteun op die gesag soos uiteengesit in Adel Builders (Pty) Ltd v Thompson 2000 4 SA 1027(SCA) op 1031 G en SA Eagle Insurance Co Ltd v Hartley [1990] ZASCA 106; 1990 4 SA 833 (AA). Ek is egter die mening toegedaan dat die huidige saak nie ‘n geval is waar ‘n diskresie ten gunste van die eiseres uitgeoefen moet word om rente op ‘n ongelikwideerde bedrag toe te staan nie. Ek stem saam met die argument van mnr Joubert dat hierdie nie ‘n gepaste geval is om rente te gelas van datum van betekening van dagvaardiging nie. Die meriete van hierdie saak is reeds op 29 November 2001 beslis. Die terughouding van die kwantum gedeelte van die eis, soos deur die eiser getuig, was ten einde R. kans te gee om te ontwikkel alvorens die quantum aangespreek word. Daar bestaan geen regverdiging waarom die verweerder aanspreeklik gehou moet word vir hierdie tydsverloop in die vorm van ‘n rente bevel nie. Heelwat van die reeds gelede mediese kostes is ook aangegaan eers nadat betekening van die dagvaardiging plaasgevind het. ‘n Groot gedeelte van die skade wat gevorder is het ook betrekking op die toekoms en kan dus nie rente draend wees nie. In die omstandighede word eiseres se versoek om ‘n rente bevel geweier.


KOSTE


[166] Aangesien eiseres suksesvol was, is die verweerder verplig om haar koste te betaal op ‘n skaal soos tussen party en party. Hierdie koste sal ook insluit betaling van die volgende:


1. Koste van ‘n senior advokaat, welke koste sal insluit die redelike koste en fooie ter voorbereiding van geskrewe betoogshoofde. Die saak was myns insiens van sodanige kompleksiteit dat ek die partye uitdruklik versoek het om die hof van hulp te wees met die opstel en verskaffing van hoofde van argument. In die besonder moet ek meld dat mnr De Waal se hoofde onontbeerlik was vir die behoorlike beregting van hierdie saak;


2. Die redelike koste vir die verkryging van alle regsmediese en aktuariële verslae van die eiseres se deskundiges wat aan die verweerder beskikbaar gestel is;


3. Die redelike voorbereidingsfooie en die redelike takseerbare koste ten aansien van die bywoning van gesamentlike ontmoetings van deskundiges en bywoning van die hofverrigtinge (wat insluit die lewering van getuienis) van die volgende deskundiges:


3.1. Dr H L J König;

3.2 Me B L Eybers-Purchase;

3.3 Me Santie Gröpp;

3.4 Mnr David Lewis;

3.5 Mnr Kobus Truter;

3.6 Dr D A Birrell


Die deskundiges waarna hierbo berwys word, word as noodsaaklike getuies verklaar. Die eiseres word ook as ‘n noodsaaklike getuie verklaar.


KOSTE VAN BEVEILIGING VAN FONDSE DEUR MIDDEL VAN DIE OPRIGTING VAN ‘N TRUST EN KOSTES VAN DIE TRUSTEE


[167] Die partye is dit eens dat die fondse wat toegeken word ten opsigte van R. na behore beveilig moet word. Die verweerder is aanspreeklik om die koste daaraan verbonde te betaal. Ek stem saam dat die trustakte wat hierby aangeheg word, die minderjarige se belange na behore sal beskerm.


[168] Ten slotte word die volgende bevel uitgereik:




















1. Die verweerder word gelas om die bedrag van R5 338 025,00 aan die eiseres te betaal;

2. Die verweerder word gelas om die koste verbonde aan die oprigting van die trust en die trustee se koste verbonde aan die beheer van die trustfondse te betaal bereken op die bedrag van R5 338 025,00 welke koste bereken moet word ooreenkomstig en sal insluit:

2.1 Die tarief soos uiteengesit in artikel 84(1)(b) van die Boedelwet, Nr. 66 van 1965 en die regulasies wat in terme van artikel 103 daarvan gepromulgeer is soos uiteengesit in die aktuariële verslag van mnr. G. Jacobson gedateer 17 Augustus 2005;

2.2 Die koste ten opsigte van getrouheidsversekering teen 0.6% van die jaarlikse kapitaal;

2.3 Die koste van die jaarlikse oudit van die trust deur ‘n geoktrooieerde rekenmeester bereken teen ‘n fooi van 0,5% van die jaarlikse kapitaal; en

2.4 Die voormelde koste moet bereken word op die veronderstelling dat helfte van die beleggingsopbrengs uit die trustfondse verkry is uit dividende en rente, en die ander helfte uit kapitaalgroei.

3. Die verweerder word gelas om rente op die bedrag van R5 338 025,00 aan die eiseres te betaal teen 15.5% per jaar bereken vanaf datum van vonnis tot datum van betaling;

4. Die verweerder word gelas om die eiseres se getakseerde party en party koste op die Hooggeregshofskaal te betaal welke koste sal insluit:

4.1 Die koste van ‘n senior advokaat wat insluit die redelike koste en fooie verbonde aan die voorbereiding van geskrewe betoogshoofde soos versoek deur die hof;

4.2 Die redelike koste van verkryging van alle regsmediese en aktuariële verslae van die eiseres se deskundiges wat aan die verweerder beskikbaar gestel is.

4.3 Die redelike voorbereidingsfooie, indien enige, van die volgende deskundiges:

4.3.1. Dr H L J König;

4.3.2 Me B L Eybers-Purchase;

4.3.3 Me Santie Gröpp;

4.3.4 Mnr David Lewis;

4.3.5 Mnr Kobus Truter;

4.3.6 Dr D A Birrell

4.4 Die redelike takseerbare koste van die eiseres se deskundiges ten aansien van die bywoning van die gesamentlike ontmoetings van deskundiges en voorbereiding van die gesamentlike verslae;

4.5 Die redelike takseerbare fooie van die deskundiges uiteengesit in paragrawe 4.3.1 tot 4.3.6 hierbo gebaseer op die gemelde deskundiges se redelike takseerbare uurtariewe vir bywoning van die verhoor; asook lewering van getuienis.

5. Die eiseres se prokureurs van rekord word gemagtig en gelas om die bedrag van R5 338 025,00 minus haar prokureur en eie kliënt koste (“die kapitale bedrag”) oor te betaal aan ‘n trust wat binne een maand na datum hiervan deur die eiseres opgerig sal word en welke trust:

5.1 se trustakte die bepalings sal bevat soos meer volledig uiteengesit in die konsep trustakte wat as aanhangsel “A” hierby aangeheg word;

5.2 se hoofdoel sal wees om die kapitale bedrag ten gunste van R. van der Merwe te beheer en te administreer;

5.3 se eerste trustee Mariëtte Geldenhuys sal wees met die magte en bevoegdhede soos uiteengesit in die gemelde konsep trustakte;

5.4 ontbind sal word sodra die genoemde R. van der Merwe 21 jarige ouderdom bereik en alle bates, regte, verpligtinge en opbrengste verkry en opgedoen deur die trust, haar sal toeval.

6. Dit word gelas dat by betaling van die eiseres se getakseerde koste deur die verweerder, sodanige koste so gou doenlik na betaling by die kapitale bedrag gevoeg sal word en daarmee gehandel sal word soos uiteengesit in paragraaf 5 hierbo.

7. Indien die gemelde trust binne een maand opgerig word, word die trustee daarvan gemagtig om die eiseres se prokureur en eie kliënt koste uit die trustfondse te betaal vir sover en indien geen aftrekking daarvan geskied het soos in paragraaf 5 hierbo uiteengesit is nie;

8. Indien die trust nie binne een maand na datum hiervan opgerig sou word nie, word die eiseres gelas om die hof binne een maand daarna te nader ten einde verdere voorskrifte van die hof te verkry met betrekking tot die wyse waarop daar met die kapitale bedrag tot voordeel van R. van der Merwe gehandel moet word.

9. Die trustee word gelas om ‘n bedrag van R3000-00 per maand vanaf datum tot en met ontbinding van die trust, op die eerste dag van elke daaropvolgende maand te deponeer in ‘n genomineerde bankrekening wat in die naam van die minderjarige deur die eiseres geopen moet word;

10. Totdat die trustee in staat is om beheer te neem van die kapitale bedrag en daarmee te handel in terme van die trustakte, word die eiseres se prokureurs van rekord gemagtig en gelas om

10.1 die bedrag waarna in paragraaf 9 hierbo verwys te deponeer in die gemelde bankrekening; en

10.2 enige redelike betalings te maak ten opsigte van enige behoefte wat mag ontstaan en redelikerwys nodig is om R. van der Merwe se belange te dien.

11. Dit word gelas dat die fondse waarna in paragraaf 9 hierbo verwys word, moet dien om in R. van der Merwe se onmiddellike en uitsluitlike alledaagse finansiële behoeftes te voorsien, welke bedrag betaalbaar sal wees bo en behalwe die restant van die werklike finansiële behoeftes van R. van der Merwe en wat uit die trusfondse betaalbaar mag wees.

12. Die eiseres word gemagtig om die fondse waarna in paragraaf 9 hierbo verwys word te behartig na haar uitsluitlike goeddunke onderworpe daaraan dat dit aangewend moet word vir die redelike behoeftes van en tot voordeel van R. van der Merwe. Die eiseres word gemagtig om tekenmagte te verky op die rekening oopgemaak soos bedoel in paragraaf 9 hierbo.

13. Die bedrag waarna in paragraaf 9 hierbo verwys word moet jaarliks met ingang van 1 September 2005 aangepas word met 10% of die gemiddelde jaarlikse gepubliseerde verbruikersprysindeks, welke een ookal die hoogste is.































GEDATEER TE JOHANNESBURG OP HIERDIE …. DAG VAN OKTOBER 2005




______________________________________

C.J. CLAASSEN

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF



Advokaat namens eiseres: Adv W.P. de Waal S.C.

Prokureurs namens eiseres: Adams & Adams

Advokaat namens verweerder: Adv S. Joubert

Prokureurs namens verweerder: Staatsprokureur

Die saak was aangehoor op 10-12, 16 en 18 Augustus 2005.




















1 Sien Union Government (Minister of Railways & Harbours) v Warneke 1911 AD 657 op 665.

2 Sien Whitfield v Phillips 1957 3 SA 318 (AA) op 329; Guggenheim v Rosenbaum (2) 1961 4 SA 21 W op 34G-H.

3 Sien Burger v Union National South British Insurance Company 1975 4 SA 72 W op 74H-75G;

Van Oudtshoorn v Northern Assurance Co Limited 1963 2 SA 642 A op 650-651.

4 Sien Southern Insurance Limited v Bailey NO 1984 1 SA 98 A op 113G-114F; Burger v Union National South British Insurance Company supra..

5 Sien Bailey NO v Southern Insurance Co Limited supra op 119.

6 Sien Sigournay v Gillbanks 1960 2 SA 552 A op 569A-B.

7 Sien Van der Plaats v SA Mutual Fire & General Insurance Co Ltd (AD) Corbett & Buchanan The Quantum of Damages in Bodily and Fatal Injury Cases (hierinlater na verwys as “C&B”) Vol III, 160 op 168.

8 Sien De Jongh v Du Pisanie supra par [49].

9 Sien Van der Plaats v SA Mutual Fire and General Insurance Co 1980 3 SA 105 (AA) op 114G; De Jongh v Du Pisanie supra.

10 Sien Dhlamini v Government of South Africa supra op 580; Shasha v President Insurance Co Limited C&B IV A2-8 op A2-10.

11 Sien ook De Jongh v Du Pisanie NO supra par 56-57.

12 Sien Bewysstuk “A”.

13 Sien Bewysstuk “B”

14 Sien Bewysstuk “C”

15 Sien foto’s op bladsy 49 en 50 van Bewysstuk “C”.

16 Sien Bewysstuk “B” bladsy 6 tot 18.

17 Sien Bewysstuk “B” bladsye 79 – 111.

18 Sien Bewysstuk “B” bladsy 73 tot 96 O.

19 Sien Bewysstuk “B” bladsye 60 – 69.

20 Sien Bewysstuk “B” bladsy 70 – 72 N.

21 Sien Bewysstuk “B” bladsy 19 tot 36 O en Bewysstuk “C” bladsy 14 – 50.

22 Sien Bewysstuk “C” bladsy 40.

23 Sien Bewysstuk “B” bladsy 36J.

24 Op instruksies van die Hof het Gröpp en Vlok weer samesprekings gevoer om te besin oor die ware toets: Om R.. te plaas in die posisie waarin sy sou gewees het as sy nie van geboorte af blind was nie. Ook moes hulle besin oor die behoefte aan ‘n assistent tydens haar skoolloopbaan.

25 Sien par. [27] hierbo.

26 Sien Bewysstuk “B”, pp 70 en 71.

27 Sien Bewysstuk “B” p 72M.

28 Item 3 van Jacobson se aktuariële verslag.

29 Item 4 van Jacobson se aktuariële verslag; verkeerdelik beskryf as, “orbital implants”.

30 Item 5 van Jacobson se aktuariële verslag,

31 Sien Bewysstuk “B” bladsy 71.

32 Items 7 en 8 van die aktuariële verslag.

33 Sien Bewysstuk “B”, bladsy 36G-K.

34 Sien Bewysstuk “B” , bladsye 36G tot J en die tabel wat daar verskyn.

35 Sien Bewysstuk “B” bladsy 31.

36 Bewysstuk “B”, bladsy 36J.

37 Sien par. [83] supra.

38 Sien Bewysstuk “C”, bladsy 40, 4de paragraaf.

39 Sien Bewysstuk “B” bladsy 36J.

40 Sien par. [84] supra.

41 Sien Bewysstuk “B”, bladsy 36M, eerste paragraaf.

42 Sien Bewysstuk “C”, bladsy 40, eerste en tweede paragrawe onder “Care”.

43 Sien Bewysstuk “B” bladsye 96K, L en M.

44 Sien Bewysstuk “B”, bladsy 130.

45 Sien Bewysstuk “B”, bladsy 133.

46 Sien op B4-44 en B4-45.

47 Sien Bewysstuk “B” par. 5 op bladsye 129 en 130 asook op bladsy 133.

48 Sien Bewysstuk “C”, bladsy 45.

49 Sien Bewysstuk “B”, bladsy 133.

50 Sien paragraaf [23] hierbo.

51 Sien par. [64] van De Jongh supra.

52 Sien p. 109 van Sodoms.