South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2013 >> [2013] ZAFSHC 117

| Noteup | LawCite

S v Zwane (47/2013) [2013] ZAFSHC 117; 2014 (1) SACR 285 (FB) (27 June 2013)

Download original files

PDF format

RTF format


VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA


Hersieningnommer: 47/2013


In die hersiening tussen:-


DIE STAAT

en


LINDA BRIAN ZWANE

_____________________________________________________


CORAM: KRUGER, R et JORDAAN, R

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: KRUGER, R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 27 JUNIE 2013

_____________________________________________________



[1] Hierdie is ‘n hersieningsuitspraak. Beskuldigde is in die distrikshof te Lindley op sy skuldigpleit skuldig bevind aan besit van 380 kg dagga en gevonnis tot 5 jaar gevangenisstraf. Die beskuldigde is ‘n 45 jarige man wat mense genees met dagga waaruit hy R500 – R700 per maand verdien afhangende van die besigheid. Ek het die landdros gevra of die vonnis nie te swaar vir ‘n eerste oortreder vir besit van dagga is nie, aangesien eerste oortreders gewoonlik nie direkte gevangenisstraf vir besit van dagga gegee word nie, met verwysing na S v Mbatha 2000 (2) SASV 409 (W).


[2] In sy antwoord wys die landdros daarop dat die gewig in S v Mbatha 100 kg was, nie 380 kg soos in die onderhawige geval nie. Hy sê dit plaas die saak in ‘n ander kategorie. Die landdros wys ook daarop dat handeldryf en besit van dagga veelvuldig in sy distrik, wat naby Lesotho is, voorkom. Daar is groot hoeveelhede dagga wat uit Lesotho na die Republiek op pad is.


[3] Die insette van die Direkteur van Openbare Vervolgings is ook verkry. Mnr Denysschen van daardie kantoor het moeite gedoen en ‘n goed gemotiveerde verslag gestuur wat ondersteun word deur die Adjunk Direkteur, Adv J.H.S. Hiermstra SC. Mnr Denysschen wys daarop dat, hoewel die beskuldigde aan besit van dagga skuldig bevind is, het die beskuldigde op sy eie weergawe hom aan “handel” soos in die Wet gedefinieer, skuldig gemaak, want hy wou die dagga voorskryf en aan ander voorsien. In sy pleitverduideliking vra die landdros: “Vir wat sou u die dagga gebruik?”, waarop beskuldigde antwoord: “Ek genees mense daarmee”. Dit klink na voorskryf en voorsien.


[4] Dit is belangrik om daarop te let dat daar by dagga nie net twee eenvoudige kategorieë van besit en handel is nie. Die doel waarvoor besit word is belangrik, soos Mnr Denysschen uitwys en die doel van besit is al in ‘n aantal sake oorweeg:


  1. Gebruik om beeste te voer: S v Moorosi 1999 (1) SASV 336 (O) te 337c-d;


  1. Vir eie gebruik: S v Masia 1997 (2) SASV 687 (O) te 689e;

  2. Handel: S v Legoa 2003 (1) SASV 13 (HHA).


[5] Die gewig van die dagga is al by meerdere geleenthede in ag geneem as ‘n beduidende faktor by vonnisoplegging. In S v Legoa sê Cameron AR: “Given the amount of dagga...” (par [29]). Ook in S v Sithole 2005 (2) SASV 504 (HHA) gee die hof besondere aandag aan die gewig van die dagga (par [15]). Die bevinding in S v Nkombini 1990 (2) SASV 465 (Tk) te 470b – c: “The quantity of dagga possessed has little, if any, effect on the sentence to be imposed” moet gelees word in die samehang van die hele uitspraak van White R, wat riglyne aan landdroste gee en sê dat die hoeveelheid dagga by handel van groot belang is (468g – h), maar by besit van mindere belang is. White R sê daar is nie ‘n glyskaal vir strawwe vir besit wat die straf swaarder maak na gelang van die hoeveelheid nie (met verwysing na S v Mkwina and Others 1966 (1) SA 814 (N) te 818A).


[6] Dit bly ‘n feit dat die rede vir beskuldigde se besit ‘n oorweging by vonnisoplegging is. Hier het die beskuldigde ‘n baie groot hoeveelheid dagga besit, nie vir eie gebruik, nie vir sy beeste of posduiwe nie, maar om aan die gemeenskap toe te dien. Sodanige besit regverdig ‘n swaarder straf as besit vir eie gebruik. Die hoeveelheid, 380 kg, dui op die omvang van beskuldigde se voorgenome toediening of voorskrifte aan die gemeenskap. Direkte gevangenisstraf is hier geregverdig.


[7] ‘n Vonnis van 5 jaar direkte gevangenisstraf vir ‘n eerste oortreder vir besit van dagga is swaar. Na my mening is hierdie ‘n geval waar ‘n deel van die gevangenisstraf opgeskort moet word ten einde die beskuldigde die kans te gee om aan te toon dat hy afsien van sy oortreding van die Wet.

[8] BEVEL


  1. Die skuldigbevinding word bekragtig.


2. Die vonnis word vervang met die volgende:

5 jaar gevangenisstraf, waarvan 2 jaar vir 5 jaar opgeskort word op voorwaarde dat beskuldigde nie skuldig bevind word aan ‘n oortreding van artikel 5(b) of 4(b) van Wet 140 van 1992 gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie.


  1. Hierdie vonnis word geag opgelê te gewees het op 13 Junie 2013.





____________

  1. KRUGER, R


Ek stem saam.




_______________

A.F. JORDAAN, R



/spieterse/wm