South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2012 >> [2012] ZAFSHC 131

| Noteup | LawCite

Quad Ostrich Farming (Pty) Ltd v Rautenbach NO (1687/2012) [2012] ZAFSHC 131 (28 June 2012)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

25



VRYSTAAT HOË HOF, BLOEMFONTEIN

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA


Saak Nr. : 1687/2012

In die aansoek tussen:-


QUAD OSTRICH FARMING (PTY) LTD ........................................Applikant


en


AJ RAUTENBACH N.O. ............................................................Respondent


[In sy hoedanigheid as Trustee van

die Rau Easy Farming Trust]



GELEWER DEUR: SNELLENBURG, AJ



AANGEHOOR: 21 JUNIE 2012



GELEWER: 28 JUNIE 2012




[1] Die applikante doen aansoek

(i) in facie curiae dat verlof verleen word om die kennisgewing van mosie te wysig sodat dit voorsiening maak dat kondonasie verleen word, as eerste bede, vir die versuim om die appèl aan te teken in terme van die bepalings van Landdroshof reël 51(3) en deurhaling van die verwysing (in die bestaande bede) na die bevel van 13 Augustus 2009;

(ii) indien die wysiging toegestaan word vir ‘n verdere bevel dat die appèl teen die uitspraak gelewer op 12 Februarie 2009 onder Reitz Landdroshof siviele saakomslag nommer 277/2007, herleef [die kennisgewing van mosie verwys na ‘terug geplaas word’] en

(iii) koste van die aansoek indien dit geopponeer word. Die aansoek is deur die applikant te rolle geplaas as `n gewone bestrede mosie.

Markante kronologiese agtergrond:

[2] Die respondent het die applikant in die Landdroshof, Reitz, gedagvaar vir betaling van R45 600.00 ten aansien van goedere verkoop en gelewer. Die pleitstukke is nie voor hierdie hof geplaas nie, maar die volgende blyk uit die verklarings wat in hierdie verrigtinge liasseer is:

2.1 Die dagvaarding is op 26 September 2007 uitgereik onder siviele saakomslag nommer 277/2007. Die applikant het vervolgens ‘n teeneis ingestel vir betaling van R60 000.00.

2.2 Dit is nie bekend wanneer die respondent sy versoek om nadere besonderhede tot die verweerskrif liasseer het nie, maar op 27 Januarie 2008 het die respondent, in terme van die bepalings van die toe geldende landdroshofreël 60(2), aansoek gedoen vir ‘n bevel dat die applikant gelas word (verplig word) om die nadere besonderhede te verskaf. So bevel is deur die landdros verleen.

2.3 ‘n Antwoord op die versoek is op ‘n datum onbekend liasseer, alhoewel die inhoud van beide die versoek en antwoord nie voor die hof dien nie.

2.4 Op 27 Maart 2008 rig die respondent ‘n verdere aansoek in terme van die bepalings van landdroshofreël 60(3) tot die hof, vir vonnis op grond daarvan dat die applikant nie aan die hofbevel van 27 Januarie 2008 voldoen het nie. Dit blyk dat aangevoer is dat daar nie behoorlike besonderhede verskaf is ten aansien van paragraaf 1.1 van die aanvanklike versoek (en gevolglik die hofbevel) nie.

2.5 Na aanleiding van die partye se argumente bevind die landdros dat die antwoord wat verskaf is dubbelsinnig, vaag en ontwykend is, wat die respondent kan benadeel. Die landdros staan egter nie die vonnis toe nie, maar verleen aan die applikant ‘n verdere geleentheid, deur te gelas dat volledig voldoen moet word aan die hofbevel binne 10 dae vanaf datum van bevel, met ander woorde, voor of op 12 Mei 2008.

2.6 Op 12 Februarie 2009 rig die respondent ‘n verdere aansoek vir vonnis tot die hof in terme van landdroshofreël 60(3). Ter aanvang van die argument het die applikant deur sy plaaslike prokureur, Mev Van Wyk, aansoek gedoen vir uitstel van die aansoek vir twee weke. Die basis vir die aansoek sal hieronder behandel word wanneer die meriete van die hierdie aansoek beoordeel word. Die aansoek om uitstel is afgewys en vonnis in die guns van die respondent verleen.

2.7 Op 26 Maart 2009 [30 hofdae na die uitspraak] rig die applikant se prokureurs van rekord, ‘n skrywe waarin geboekstaaf word dat die prokureurs instruksies hou om teen die landdros se bevel van 12 Februarie 2009 te appelleer na die Vrystaatse Hoë Hof, Bloemfontein, maar dat die appèl nie ooreenkomstig die bepalings van Landdroshof reël 51(3), binne die voorgeskrewe tydperk aangeteken is nie. Die prokureurs versoek die respondent se prokureurs in terme van die bepalings van landdroshofreël 60(5) om toe te stem tot ‘n verlenging van die tydperk waarbinne die appèl aangeteken moes word. Die respondent se prokureurs weier skriftelik, op 1 April 2009, om aldus toe te stem.

2.8 Op 20 April 2009 rig die applikant ‘n aansoek om kondonasie in terme van die bepalings van landdroshofreël 60(5), gelees met reël 51(3), welke aansoek afgewys word op 14 Mei 2009. Die uitspraak word eers gelewer op 13 Augustus 2009 en na ‘n versoek vir redes, gedateer 25 Augustus 2009, word dié verskaf op 17 September 2009.

2.9 In al die aansoeke is koste teen die applikant verleen wat takseerbaar en betaalbaar is.

2.10 Op 6 Oktober 2009, liasseer die applikant ‘n ‘kennisgewing van appèl’ teen beide die bevele van 12 Februarie 2009 sowel as 13 Augustus 2009.

2.11 Op 23 Oktober 2009 verskaf die landdros ‘n skriftelike opgaaf van redes ingevolge die bepalings van die toe geldende landdroshofreël 51(8), bykomend tot die skriftelike redes wat reeds verskaf is.

2.12 Op 25 April 2012 [ongeveer 2½ jaar nadat die gewaande kennisgewing van appèl liasseer is en 3 jaar en 2 maande nadat die bevel waarteen geappelleer wil word verleen is] word die onderhawige aansoek uitgereik.

2.13 Blykens die bewerings in die funderende verklaring is die ‘appèl’ op 26 Mei 2011, op onreëlmatige wyse vir aanhoor op 31 Oktober 2011 te rolle geplaas, maar eweneens verwyder van die rol op 5 Oktober 2011. Geen oorkonde is voorberei of verskaf nie, met die gevolg dat die respondent se prokureurs van rekord geweier het om ‘n ooreenkoms te bereik rakende `n datum waarop die ‘appèl’ aangehoor kan word. Dit blyk dat datums skriftelik aangevra is van die respondent, deur die applikant, op onderskeidelik 6 Oktober 2011 en 29 November 2011. Geen verdere stappe is geneem voordat hierdie aansoek uitgereik is nie. Tot op hede is geen prokurasie liasseer nie.

2.14 Van belang by die kronologie, is die respondent se antwoord op die versoek vir datums van 6 Oktober 2011, waarby vorige korrespondensie deur die respondent se prokureurs gedateer onderskeidelik 16 September 2011 en 27 September 2011 aangeheg word. In die skrywe van 16 September 2011, verwys die respondent se prokureurs na navrae oor die appèl oorkondes reeds gedurende Mei 2011, met die gewaande te rolle plasing asook meerdere navrae, in daardie verband, daarna sonder sukses. Dit word ook op rekord geplaas dat daar onderneem is deur die applikant se prokureurs, om die oorkonde te verskaf teen 16 September 2011. Die skrywe van 27 September 2011 boekstaaf dat geen stukke of oorkonde ontvang is teen 16 September 2011, of daarna nie, en plaas op rekord ‘n mededeling deur die applikant se prokureurs dat die respondent kan aanvaar dat die appèl abandoneer is, indien geen stukke geliasseer word teen 16 September 2011 nie. Die applikant se prokureurs het nie gereageer op die skrywe nie.



Aansoek om wysiging met aanvang van argument:

[3] Met aanvang van die verrigtinge het Mnr Olivier, namens die applikant, op rekord geplaas dat die applikant ‘n wysiging van die kennisgewing van mosie verlang, wat neerkom op die volgende:

(i) dat die verwysing in die bestaande bede na die uitspraak van 13 Augustus 2009 deur gehaal word;

(ii) dat die bestaande bedes hernommer word nadat ‘n nuwe bede 1 ingevoeg word om voorsiening te maak dat kondonasie aan die applikant verleen word vir die versuim om aan landdroshofreël 51(3) te voldoen en dat die tydgrens vir aantekening van die appèl in terme van die landdroshofreël dienooreenkomstig verleng word. Die bedes is nie behoorlik formuleer nie, maar die omvang van die wysiging blyk redelik duidelik uit die repliserende verklaring, soos toegelig deur die betoogshoofde wat namens die applikant liasseer is.



[4] Mnr Cilliers, namens die respondent, het bewaar gemaak teen die voorgenome wysiging op die basis dat geen grondslag in die stukke deur die applikant uitgemaak is vir die wysiging nie.



[5] Die wysiging word in facie curiae versoek. Daar is in die repliserende verklaring verwys daarna dat die applikant, die hof by aanhoor van die aansoek, sou versoek om die kennisgewing van mosie te wysig. Dit het gevolg na aanleiding van die respondent se opponerende verklaring waarin die punt geneem is dat die aansoek fataal gebrekkig is vanweë die afwesigheid van kondonasie vir die versuim om die appèl binne die voorgestelde tydperk in te stel.

Toepaslike regsbeginsels:

[6] Die kennisgewing van mosie is ‘n pleitstuk en aldus vatbaar om gewysig te word. Die algemene reël by wysigings is bevestig in Devonia Shipping Ltd v MV Luis (Yeoman Shipping Co Ltd Intervening) 1994 (2) SA 363 (C) te 369F - I:



The general rule is that an amendment of a notice of motion, as in the case of a summons or pleading in an action, will always be allowed unless the application to amend is mala fide or unless the amendment would cause an injustice or prejudice to the other side which cannot be compensated by an order for costs or, in other words, unless the parties cannot be put back for the purposes of justice in the same position as they were when the notice of motion which it is sought to amend was filed.’



[7] In aansoeke konstateer die beëdigde verklarings wat namens partye liasseer word, beide die pleitstukke sowel as die getuienis namens die onderskeie partye. Transnet Ltd v Rubenstein 2006 (1) SA 591 (SCA) para 28. Uniforme Reël 28 vind eweneens toepassing by die voorgenome wysiging van ‘n kennisgewing van mosie.



[8] Dit is insgelyks gevestigde reg dat ‘n applikant sy saak moet uitmaak in die funderende verklaring. National Council of Societies for the Prevention of Cruelty to Animals v Openshaw [2008] ZASCA 78; 2008 (5) SA 339 (SCA) para [29].



[9] `n Party is geregtig, om afhangend van omstandighede, kennis te gee dat hy van voornemens is om by die aanvang van die verhoor (mosie) aansoek te doen vir ‘n wysiging. In so geval is die ander party geregtig om beswaar te maak, selfs by aanvang van die verrigtinge en indien beswaar gemaak word, sal die party ‘n substantiewe aansoek moet rig vir verlof om te wysig. Sien Nel v Mathews 1973 (1) SA 184 (T); Marais v Smith en 'n Ander 2000 (2) SA 924 (W). Daardie riglyne is nie die wet van Mede en Perse nie. Die hof het altyd `n diskresie om sy eie prosedures te reguleer, en met behoorlike oorweging van moontlike nadeel van die prosedure vir die ander party, mag die hof soos in hierdie geval, so aansoek oorweeg op die stukke wat reeds liasseer is. As gevolg van die feit dat die repliserende verklaring nie tydig liasseer is nie, het die respondent nie geleentheid gehad om met die wysiging te handel in die betoogshoofde nie. Daar is wel beswaar gemaak met aanvang van die verrigtinge en die basis vir die beswaar is op rekord geplaas. Geen formele aansoek vir die wysiging is gedoen nie.



[10] In lig van my siening van die aansoek, meen ek nie dat die wysiging die respondent sal benadeel nie en sal ek gevolglik verlof verleen dat die kennisgewing van mosie dienooreenkomstig gewysig word en, soos versoek, ag dat dit aldus gewysig is om te lees soos geformuleer in die bevel hieronder. Dit moet egter nie as ‘n beginsel beskou word nie. Die wysiging moet as reël behoorlik formuleer word ten einde die teenkant die geleentheid te gee om dit behoorlik te oorweeg. Ek meen nie dat dit in enige van die partye se belang is dat hierdie aansoek uitgestel moet word nie. Ek het die bede wat die applikant versoek, maar nie geformuleer het nie, gevolglik geformuleer na aanleiding van die aanwysing in die repliserende verklaring. Die funderende stukke handel wel met die buitentydse aantekening van die beweerde appèl, en die respondent het op daardie bewerings geantwoord. Wat betref die skrapping van die verwysing na die bevel van 13 Augustus 2009 in die bestaande bede, het ek my bedenkinge of dit wel foutiewelik in die kennisgewing van mosie vervat is. Die inhoud van die ‘kennisgewing van appèl’ en die funderende verklaring toon onteenseglik dat die applikant deurgaans die bedoeling gehad het, reg of verkeerd, om ook ten aansien van daardie bevel te appelleer en kondonasie in die verrigtinge te versoek. Hoe dit ook al sy, die skrapping benadeel nie die respondent nie.



Kondonasie vir die versuim om Landdroshofreël 51(3) en Hoë hofreël 50(1) na te kom:

[11] Met die kennisgewing van mosie gewysig versoek die applikant gevolglik die volgende regshulp:

1. Dat kondonasie aan die applikant verleen word vir die versuim om aan landdroshofreël 51(3) te voldoen en dat die tydgrens vir aantekening van die appèl in terme van die landdroshofreël, dienooreenkomstig verleng word;

2. Dat die appèl teen die uitspraak gelewer op 12 Februarie 2009 onder Reitz Landdroshof siviele saakomslag nommer 277/2007, terug geplaas word; en-

3. Dat sou die Respondent die aansoek opponeer, die Respondent gelas word om die koste vir die aansoek te betaal.’



[12] Dit is nie duidelik waarom die applikant ‘n aansoek in terme van die bepalings van landdroshofreël 60(5) gerig het, om die versuim om die appèl tydiglik aan te teken, te kondoneer nie. Die hofreël self sluit die landdroshof se jurisdiksie uit om die tydperk vir aantekening van die appèl te verleng en gevolglik die nie-nakoming te kondoneer. Die reël se aanhef ten tyde van die rig van die aansoek het as volg gelees in Engels:



Subject to the provisions of rule 17(1)(b), any time limit prescribed by these rules, except the period prescribed in rule 51(3) and (6), may at any time whether before or after the expiry of the period limited, be extended…’



Sien ook Suid-Westelike Transvaalse Landbou Koöperasie v Kotze [2000] 1 All SA 170 (NC) te 173h -174c.

Dit is eweneens nie duidelik waarom die aansoek nie gewoon op daardie basis opponeer en van die hand gewys is nie, ten minste wat betref die regshulp betreffende die kondonasie vir laat aantekening van die appèl. So aansoek moet na die Hoë Hof gerig word. Die aard van die regshulp bepaal of die aansoek aangehoor moet word deur ‘n hof wat jurisdiksie het om ‘n appèl vanaf die laerhof aan te hoor [saamgestel uit twee regters] óf deur ‘n enkel regter in die onbestrede of bestrede mosiehof.



[13] Die partye was dit klaarblyklik eens dat hierdie hof, bestaande uit slegs een regter, bevoeg is om die aansoek aan te hoor. Die applikant het enersyds nie aansoek gedoen by die griffier dat die aansoek voor ‘n hof dien wat saamgestel is soos `n hof van appèl nie, met ander woorde twee regters en, andersyds het die respondent nie beswaar gemaak teen die plasing van die aansoek in die bestrede mosiehof nie. Vir die redes wat volg meen ek wel dat hierdie hof die aansoek, met die gewysigde regshulp soos dit nou daar uitsien, mag aanhoor.



[14] In Van Aswegen v De Swardt Motors (Pty) Ltd 1958 (1) SA 125 (O) het De Villiers, R bevind dat waar ‘n appèl behoorlik aangeteken en voortgesit is, slegs ‘n hof wat ‘n appèl mag aanhoor, ‘n aansoek wat verband hou met ‘n aangeleentheid van die appèl mag aanhoor, soos wat die geval sou gewees het met die wysiging van die kennisgewing van appèl of om kondonasie waar ‘n bevel verval het. Die hof het daardie feite onderskei van die feite wat die onderwerp gevorm het van die bevinding in Cloete Bros. (Pty.) Limited v Harding 1954 (3) SA 565 (O) te 126H -127B [Van Blerk J en De Villiers J] waar beslis is dat ‘n enkel regter in hierdie afdeling wel jurisdiksie het



to hear an application for an order condoning a failure to note and prosecute an appeal timeously against a magistrate's court judgment.’



In Motsamai v Read and Another 1961 (1) SA 173 (O) te 174A-E bevind Smit Wnd RP dat die praktyk ontstaan het om



matters ancillary to the appeal from a lower court, to the Full Court which alone has the jurisdiction to hear such appeals’

te bereg. Die regter steun onder andere op die Van Aswegen uitspraak (supra) vir die bevinding.



[15] In hierdie geval is daar nie sprake van ‘n appèl wat bestaan en gevolglik enige ‘matter ancillary’ daartoe nie. `n Party is nie by magte om ‘n kennisgewing van appèl, wat buite die voorgeskrewe tydperk is, te liasseer voordat `n aansoek vir kondonasie van die versuim nie eers uitgereik is nie. Sien Murray & Daddy (Pty) Ltd v Floros 1959 (4) SA 137 (N). Die kennisgewing van appèl is gevolglik onreëlmatig en bring geen regsgevolge teweeg nie. Op die basis soos bevind in Cloete Bros. (Pty.) Limited v Harding 1954 (3) SA 565 (O), het hierdie hof gevolglik wel die bevoegdheid om die aansoek aan te hoor. Dit sou ‘n ander saak gewees het indien die applikant wel geregtig was om regshulp te versoek dat die appèl herleef, synde dat ‘n appèl dan bestaan het. In daardie geval sou hierdie hof, soos huidiglik saamgestel, geen jurisdiksie gehad het nie. Myns insiens sou dit ook die geval gewees het indien ‘n kennisgewing van appèl liasseer was (die appèl gevolglik aangeteken was) nadat hierdie aansoek uitgereik was. Dit is nie die geval huidiglik nie.



[16] In die omstandighede huldig die applikant die mening dat die ‘kennisgewing van appèl’ se liassering met kondonasie reëlmatig sal raak en dat ‘n appèl sal bestaan wat kan herleef. Dit is kennelik nie die geval nie. Die applikante kan in die omstandighede nie slaag met die regshulp dat ‘die appèl herleef’ nie, aangesien daar geen appèl bestaan wat kan herleef nie. Geen appèl is met die aanhoor van die aansoek aangeteken nie. Indien die applikant se versuim om in terme van Landdroshof reël 51(3) te handel egter kondoneer word en die tydgrens verleng word, sal die applikant die kennisgewing van appèl kan lewer. In so geval sal die applikant nie nodig hê om die appèl te laat herleef nie, aangesien al die voorgeskrewe tydperke vanaf datum van die kondonasie sal loop. Die tydperk van versuim is egter in lig van die voormelde meer as drie jaar, wat die onus wat die applikant moet kwyt aansienlik bemoeilik.



[17] Dit mag wel in belang wees van partye om eerder so aansoek in elk geval te rolle te plaas, voor ‘n hof wat jurisdiksie het om ‘n appèl aan te hoor, vernaam waar dit oor die vooruitsig op sukses met die appèl handel. In hierdie aangeleentheid meen ek nie dat dit in belang van die partye is, waar die hof in elk geval jurisdiksie het, om die aansoek uit te stel sodat dit voor twee regters kan dien nie. Die rede daarvoor is onder andere geleë in juis die vooruitsigte op sukses met die voorgenome appèl. Ek handel later daarmee.



[18] Waar `n party kondonasie verlang vir die nie-nakoming van die bepalings van landdroshofreël 51(3), sal dieselfde onus geld as waar ‘n appèl verval het en moet gegronde rede [“good cause”] aangetoon word. In United Plant Hire (Pty) Ltd v Hills and Others 1976 (1) SA 717 (A) te 720F - G is die toets as volg gestel:



It is well settled that, in considering applications for condonation, the Court has a discretion, to be exercised judicially upon a consideration of all of the facts; and that in essence it is a question of fairness to both sides. In this enquiry, relevant considerations may include the degree of non-compliance with the Rules, the explanation therefore, the prospects of success on appeal, the importance of the case, the respondent's interest in the finality of his judgment, the convenience of the Court, and the avoidance of unnecessary delay in the administration of justice. The list is not exhaustive.

These factors are not individually decisive but are interrelated and must be weighed one against the other; thus a slight delay and a good explanation may help to compensate for prospects of success which are not strong…’



[19] Die party wat kondonasie verlang moet nie slegs ‘n volledige verduideliking gee vir die hele tydperk van die versuim nie, maar die verduideliking moet ook redelik wees. Sien Van Wyk v Unitas Hospital and Another (Open Democratic Advice Centre as Amicus Curiae) [2007] ZACC 24; 2008 (2) SA 472 (CC).



[20] Die applikant se verduideliking vir die versuim is enersyds nie volledig nie en andersyds nie redelik nie. Die applikant vermeld met betrekking tot die versuim om die appèl binne die voorgeskrewe tydperk aan te teken dat, nieteenstaande instruksies om die appèl aan te teken, die applikant se prokureur die moontlikheid van ‘n skikking ondersoek het. Die versuim word met daardie enkele vae stelling verduidelik. Wat dit egter tot inhoud gehad het, verduidelik die applikant nie. Geen korrespondensie tot dié effek is aangeheg nie. Dit is gemene saak tussen die partye dat die beweerde moontlikheid nooit met die respondent opgeneem is nie. Die verduideliking voldoen nie aan die vereistes wat gestel word nie. Dit is nie volledig of redelik nie.

[21] Die applikant verduidelik die aansienlike verloop van die tydperk van versuim, vanaf datum van die versoek om toestemming tot verlening van die tydgrens, in terme van landdroshofreël 60(5), tot die hede aan die hand van

(i) die gebrekkige aansoek om kondonasie in die Landdroshof;

(ii) die onreëlmatige plasing van die ‘appèl’ deur sy prokureurs;

(iii) werksdruk van die prokureurs wat tot gevolg gehad het dat die appèl nie behoorlike en tydige aandag geniet het nie;

(iv) die feit dat sy prokureurs op ‘n stadium kantore getrek het, met die gevolg dat die lêers vir ‘n periode nie ter hand was nie; en

(v) die feit dat die prokureur wat belas was met die aangeleentheid tydelik vergeet het van die appèl en daarna bedank het, met die gevolg dat ‘n ander prokureur eers later bewus geraak het van die probleem. Saamgeneem blameer die applikant sy versuim op die nalatigheid van sy prokureurs en aanvaar die prokureurs verantwoordelikheid daarvoor.



[22] Die applikant verduidelik egter nie werklik waarom die aansoek om kondonasie nou eers voor die hierdie hof dien nie. ‘n Aansoek om kondonasie moet gemaak word die oomblik wat die party (sy prokureur) besef dat die hofreëls nie nagekom is nie. Die verloop van insiggewende periodes tussen die insidente waarop die applikant steun vir die versuim word eweneens nie verduidelik nie. Hierdie is kennelik ‘n geval waar die applikant nie die gevolge van die nalatigheid van sy prokureur kan ontsnap nie, indien dit werklik die rede vir die versuim was. Sien Ferreira v Ntshingila 1990 (4) SA 271 (A) veral 281 en 282. Ek het ernstige bedenkinge of die applikant die ware gronde vir die versuim voor die hof geplaas het.



[23] Die applikant beweer dat dit vertrou het dat die aangeleentheid deur die prokureurs hanteer sou word. Die applikant beweer nie dat daar enige navrae deur dit gerig is in verband met die vordering van die appèl en wat die frekwensie van die navrae sou wees nie. Meer as drie jaar het verloop. Die enigste oplewing was telkens met pogings om die vonnis uit te win. Die enigste gevolgtrekking wat regverdig is in die omstandighede, is dat die applikant geen belangstelling getoon het in die appèl nie. `n Algemene stelling dat dit deurgaans begerig was om die appèl voort te sit, is nie op sigself genoegsaam nie. So bedoeling moet blyk uit die party se optrede. `n Ander aspek wat ernstige twyfel laat oor die applikant se beweerde begeerte om met die appèl te volhard, is die respondent se prokureurs se skrywe van 27 September 2011 waarin geboekstaaf word dat aan die laasgemelde prokureurs meegedeel is dat hulle kan aanvaar dat die appèl abandoneer word indien geen stukke teen 16 September 2011 ontvang word nie. Soos gemeld is geen skriftelike reaksie op die skrywe gerig nie. Daar sal verwag word, indien die stelling in die skrywe nie korrek was nie, dat dit onmiddellik, skriftelik ontken sou word deur die applikant se prokureurs. Dit is nooit voor die huidige verrigtinge ontken nie en is die skrywe in die repliserende verklaring nie direk en pertinent ontken, as synde dat so mededeling nooit gemaak sou gewees het nie.



[24] Bykomend tot die voormelde, beskik die applikant oor uiters swak, indien nie geen, vooruitsigte op sukses met die appèl nie. Die applikant se voorgenome appèl behels die oorweging van die uitoefening van ‘n diskresie deur die voorsittende beampte. Eerstens moet die verloop van die aangeleentheid tot op die punt waar die aansoek om uitstel voor die landdros gedien het, in ag geneem word. Ruim geleentheid is aan die applikant verleen om aan die hofbevel te voldoen. Op die stadium wat die aansoek voor die hof gedien het, het daar reeds `n jaar en vyf maande verstryk vandat die dagvaarding uitgereik is en is ‘n soortgelyke aansoek nie verleen nie, maar is die applikant ‘n verdere geleentheid gegun om te voldoen aan die hofbevel. In daardie periode het die saak glad nie gevorder nie. Die applikant was toe reeds vir ‘n geruime tyd in versuim.



[25] Op die dag wat die aansoek in terme van landdroshofreël 60(3) weer voor die landdros gedien het, is uitstel mondelings in facie curiae versoek. Uit die rekord blyk duidelik dat die enigste grond waarop die uitstel versoek is, was dat die applikant se Bloemfontein regsverteenwoordigers self die aansoek wou argumenteer. Vir daardie rede is twee weke uitstel versoek. Geen ander grond(e) vir die uitstel is verskaf en blyk uit die rekord nie. In hierdie verrigtinge beweer die applikant dat die rede vir die uitstel was dat hulle in afwagting was van verdere inligting van ‘n derde party wat hulle in staat sou stel om aan die hofbevel te voldoen. Dit is egter nooit aan die landdros voorgehou as ‘n grond waarop die aansoek uitgestel moes word nie.



[26] Daardie gronde wat nou voor hierdie hof geplaas word is gevolglik nie aan die hof benede voorgehou en het nie deel gevorm van die feite en omstandighede aan die hand waarvan die landdros sy diskresie moes uitoefen nie. Die applikant poog gevolglik om die uitoefening van die diskresie op appèl aan te val op gronde wat nie voor die landdros gedien het toe hy sy diskresie uitgeoefen het nie. Geen korrespondensie blyk eens gerig te gewees het deur die applikant se prokureurs aan die respondent se prokureurs om uitstel te versoek op daardie basis nie.



[27] Gevolglik was die enigste basis wat aan die hof voorgehou was, en gevolglik aan die hand waarvan die landdros sy diskresie regterlik moes uitoefen, die feit dat die applikant se Bloemfontein regsverteenwoordigers self die aansoek wou opponeer (argumenteer) te Reitz. Geen substantiewe aansoek om op daardie spesifieke grond uit te brei is voor die hof geplaas nie. Die aansoek en regsbeginsels ter sprake, is nie op sigwaarde ingewikkeld nie en geen rede is voor die hof benede geplaas of geargumenteer waarom die plaaslike prokureur te Reitz nie in staat was om die aansoek te argumenteer nie. Daar mag stellig goeie gronde wees waarom dit in belang van ‘n litigant mag wees dat ‘n bepaalde regsverteenwoordiger ‘n aansoek hanteer, maar indien die gronde nie voor die hof geplaas word nie, kan dit immers nie oorweeg word nie. Die landdros se bevinding op die grond wat voor hom gedien het, word ook nie op daardie basis aangeveg nie. Selfs al sou, vir doeleindes van argument, aanvaar word dat die grond waarop die applikante hulle nou beroep voor die landdros gedien het, sou daar steeds geen ruimte wees vir die bevinding dat die landdros nie in die omstandighede die uitstel sondermeer kon weier nie. Geen besonderhede, selfs in hierdie aansoek, word verskaf aangaande wat die verdere inligting behels het, wanneer dit ter hand sou kom, waarom nieteenstaande die verloop van meer as ‘n jaar dit nog nie beskikbaar was en so meer, word verskaf nie. In die omstandighede is daar geen ruimte om te bevind dat die landdros nie sy diskresie, regterlik uitgeoefen het nie.



[28] Die respondent se belang in finaliteit van die vonnis word nie behoorlik aangespreek deur die applikant nie. In soverre die gesag hierbo konstateer dat die oorweging



in essence it is a question of fairness to both sides’

[United Plant Hire (Pty) Ltd v Hills and Others supra], blyk dit oorweldigend dat die verlening van die vergunning in die omstandighede wesenlik onbillik sal wees. Selfs al sou daar ‘n vooruitsig van sukses wees met die appèl, is die versuime en verontagsamings van die hofreëls so grof en flagrant, dat die kondonasie vir die versuim om aan landdroshofreël 51(3) te voldoen, nie verleen moet word nie.



[29] Vir die voormelde redes het die applikant na my mening nie daarin geslaag om gegronde rede aan te voer vir kondonasie van die versuim nie.



[30] Gevolglik word volgende bevele verleen:

  1. Verlof word aan die applikant verleen om die kennisgewing van mosie te wysig;

  2. Die bedes in die kennisgewing van mosie word gewysig om as volg te lees:

1. Dat kondonasie aan die applikant verleen word vir die versuim om aan landdroshofreël 51(3) te voldoen en dat die tydgrens vir aantekening van die appèl in terme van die landdroshofreël, dienooreenkomstig verleng word;

2. Dat die appèl teen die uitspraak gelewer op 12 Februarie 2009 onder Reitz Landdroshof siviele saakomslag nommer 277/2007, terug geplaas word; en-

3. Dat sou die Respondent die aansoek opponeer, die Respondent gelas word om die koste vir die aansoek te betaal.’

  1. Die aansoek word van die hand gewys word met koste.

_______________________

N. SNELLENBURG, WND R



Namens die applikant: Adv. J L Olivier In opdrag van: Bredenkamp Prokureurs BLOEMFONTEIN



Namens die respondent: Adv. H J Cilliers

In opdrag van:

Naudes Prokureurs, BLOEMFONTEIN



NS/sp