South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2011 >> [2011] ZAFSHC 116

| Noteup | LawCite

McIntosh v McIntosh en Anders (3037/2007) [2011] ZAFSHC 116 (14 July 2011)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

VRYSTAAT HOË HOF, BLOEMFONTEIN

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA


Saaknommer: 3037/2007

In die saak tussen:-


ANGUS JOHN McINTOSH ..............................................................Eiser


en


CLEMENCE JEANNE MOIRA McINTOSH .............Eerste Verweerderes


CENTINEL MINING INDUSTRY

RETIREMENT FUND .......................................................Tweede Verweerder


THE MINE EMPLOYEES PENSION FUND ...................Derde Verweerder


_____________________________________________________


CORAM: VAN ZYL, R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 14 JULIE 2011

_____________________________________________________


  1. Hierdie is `n uitspraak in `n gestelde saak wat handel met eerste verweerderes se beweerde aanspraak in `n egskeidingsgeding op die helfte van maandelikse pensioenbetalings wat eiser, as reeds afgetredene, ontvang, op die basis dat dit in die gemeenskaplike boedel val en voorts, indien sy sodanige aanspraak het, die verpligting, aldan nie, van tweede en derde verweerders om die maandelikse oorbetalings aan eerste verweerderes te maak.


Die pleitstukke as agtergrond:

  1. Eiser en eerste verweerderes is met mekaar getroud in gemeenskap van goedere op 7 Oktober 1967. Eiser het in die onderhawige aksie eerste verweerderes gedagvaar vir ʼn bevel van egskeiding en gepaardgaande regshulp, onder andere ook vir `n bevel tot verdeling van die gemeenskaplike boedel. Eerste verweerderes het die “Centinel Mining Industry Retirement Fund” en die “Mine Employees Pension Fund” as tweede en derde verweerders onderskeidelik gevoeg. Daarop het eerste verweerderes in paragraaf 4.1 van haar gewysigde teeneis gepleit dat eiser ʼn lid is van beide tweede verweerder en derde verweerder en het sy voorts as volg gepleit:

4.2 Eerste verweerderes pleit dat die pensioenfondse wat geadministreer word deur die tweede en derde verweerders deel vorm van die gemeenskaplike boedel en dat eerste verweerderes bygevolg geregtig is op 50% van die pensioenvoordele.


4.3 Dat tweede en derde verweerders verplig is om aan eerste verweerderes te betaal 50% van die kapitale waarde/ pensioenfondsbelang soos op datum van egskeiding binne `n periode van 60 (sestig) dae vanaf datum van egskeiding, alternatiewelik dat tweede en derde verweerders verplig is om 50% van die maandelikse pensioenfonds wat betaal word deur tweede en derde verweerders, aan eerste verweerderes uit te betaal.”


Gevolglik het eerste verweerderes addisioneel tot haar vorderings vir die betaling van onderhoud en die betaling van haar mediese koste, ook die volgende in bede 4 van haar gewysigde teeneis gevorder:

Verdeling van die gemeenskaplike boedel wat sal insluit dat die pensioenfondse wat geadministreer word deur die tweede en derde verweerders ʼn bate in die gemeenskaplike boedel is en dat tweede en derde verweerders bygevolg binne ʼn periode van 60 (sestig) dae vanaf datum van egskeiding aan eerste verweerderes moet oorbetaal 50% van die pensioenfonds- waarde soos op datum van egskeiding, alternatiewelik dat tweede en derde verweerders gelas word om 50% van die maandelikse pensioenfondsvoordele wat die eiser toekom aan eerste verweerderes oor te betaal.”


[3] In eiser se gewysigde verweerskrif tot die gewysigde teeneis het hy voormelde paragraaf 4 van eerste verweerderes se teeneis erken en ten opsigte van haar vorderings, het eiser gepleit dat eerste verweerderes net geregtig is op ʼn bevel van egskeiding en verdeling van die gemeenskaplike boedel – nie op onderhoud en mediese koste ook nie.


[4] In tweede en derde verweerders se verweerskrif tot eerste verweerderes se gewysigde teeneis, welke gepleit is op die basis dat eerste verweerderes by wyse van haar gewysigde teeneis bedoel het om van tweede en derde verweerders verweerders in rekonvensie te maak, het tweede en derde verweerders as volg op voormelde paragraaf 4 van eerste verweerderes se gewysigde teeneis gepleit:

5.1 The Funds deny that the plaintiff is entitled to a benefit other than a pension payable in accordance with the rules of the Funds.


5.2 On or about September 2005 the plaintiff retired, and became entitled to the pension benefits from the second defendant and the third defendant as provided in their rules.


5.3 Accordingly, the plaintiff no longer has any pension benefits which can form part of the joint estate.


5.4 Accordingly further, the Funds are not in possession of any pension benefits of the plaintiff, and are not in a position to make any payment to the first defendant.


5.5 Alternatively or additionally to paragraph 5.3 and 5.4: there is no legal obligation on the Funds to make payment to the first defendant in respect of any entitlement she may have as against the plaintiff (which is denied).


5.6 The first defendant can also not base a cause of action against the Funds on the provisions of section 7(7) and 7(8) of the Divorce Act 70 of 1979 (read with the definition of ‘pension interest’ in section 1 of the Divorce Act):

(a) the plaintiff is only a pensioner of the Funds entitled to a monthly pension;

(b) apart from a monthly pension the plaintiff has no right to any other benefit;

(c) accordingly, the plaintiff has no ‘pension interest’ as contemplated in the Divorce Act.

5.7 Save as aforesaid, the Funds deny the contents of these pararaphs.”


Die gestelde saak:

  1. Ten tyde van Reël 37 samesprekings wat plaasgevind het op 30 Julie 2010, die notule waarvan verskyn op p. 220 tot p. 225 van die geïndekseerde pleitstukke, het die partye ooreengekom dat die geskilpunte geskei word en dat die volgende geskilpunte by die aanvang van die verhoor vooraf in terme van Reël 33(4) bereg sal word:

2.4.1 Of eiser se pensioenfonds/voordele deel van die gemeenskaplike boedel van eiser en eerste verweerderes vorm soos meer volledig uiteengesit in die gewysigde paragraaf 4 van eerste verweerderes se gewysigde verweerskrif en indien wel:


2.4.2 of eerste verweerderes geregtig is op die gewysigde smeekbede 4 van haar verweerskrif.” [sic]


Die partye het ook ooreengekom dat tweede en derde verweerders ʼn gestelde saak sal voorberei en vir goedkeuring aan eiser en eerste verweerderes voorlê. ʼn Ooreenkoms is ook genotuleer met betrekking tot die liassering van betoogshoofde namens al die tersaaklike partye.

  1. Hoewel ʼn gestelde saak, soos opgestel namens tweede en derde verweerders, geliasseer is, is die dokument nie deur of namens enige van die partye onderteken nie.


  1. By die aanvang van die verrigtinge het mnr. Heymans, namens eiser, ʼn gemeenregtelike tender op eerste verweerderes se teeneis gemaak in die volgende terme:


1. ʼn Bevel van egskeiding.


2. Verdeling van die gemeenskaplike boedel.


3. Dat eiser 50% van sy maandelikse pensioenbetalings wat hy vanaf tweede en/of derde verweerder ontvang, na verrekening van inkomstebelasting, aan eerste verweerderes sal betaal ter vervanging van enige onderhoudsplig en/of plig om eerste verweerderes se mediese koste te betaal.


4. Dat eiser en eerste verweerderes elk hul eie koste betaal.


Mnr. Heymans het dit pertinent op rekord geplaas dat die gevolgtrekking namens eiser gemaak is dat eerste verweerderes nie geregtig is op voormelde pensioen- betalings voortspruitend uit die huwelik gesluit in gemeenskap van goed nie, aangesien die maandelikse pensioenbetalings nie deel vorm van die gemeenskaplike boedel nie. Eiser se aanbod om dit te betaal word gedoen op die basis dat dit die betaling van onderhoud deur eiser aan eerste verweerderes daar sal stel.


  1. Voormelde tender is nie deur eerste verweerderes aanvaar nie. Mnr. Grobler, namens eerste verweerderes, het aangedui dat dit eerste verweerderes se saak is dat sy in ieder geval geregtig is op 50% van die maandelikse pensioenbetalings wat eiser gaan ontvang uit hoofde daarvan dat dit deel vorm van die gemeenskaplike boedel. Gevolglik verlang eerste verweerderes dat eiser addisioneel daartoe ook ʼn bedrag onderhoud per maand aan haar betaal, sowel as dat eiser haar mediese koste betaal.


  1. Mnr. Van der Berg, namens tweede en derde verweerders, het aangedui dat tweede en derde verweerders nie ʼn regsbeswaar teen die terme van die tender het nie, maar wel sodanige regsbeswaar het teen die regshulp wat eerste verweerderes in bede 4 van haar gewysigde teeneis gevorder het, welke bede ek reeds in paragraaf 2 hierbo aangehaal het.


  1. Daaropvolgend het die regsverteenwoordigers (in die hof) ooreengekom dat ʼn stel feite wat gemeensaak is aan my voorgehou sal word en dat die vraagstukke wat daaruit voortspruit ooreenkomstig die bepalings van Reël 33(4) apart bereg word. Hierdie ooreengekome feite is toe uiteengesit in ʼn dokument, Bewysstuk A, en lees dit as volg:


1. Dit is gemeensaak dat die eiser ʼn lid was van die tweede en derde verweerders tot en met sy aftrede op of omtrent September 2005.


2. Dit is gemeensaak dat by eiser se aftrede hy geregtig geraak het op pensioen. Dit eiser het ʼn keuse uitgeoefen om opsie A op bladsy 34 en verder van die verhoorbundel te neem wat aan hom ʼn maandelikse pensioen tot gevolg gehad het.


3. Die eiser ontvang tans en sal voortgaan tot sy dood om maandeliks `n pensioen vanaf die fondse te ontvang.


4. Die eerste verweerderes gee toe dat sy nie geregtig is op ʼn lompsom betaling vanaf die fondse nie.


5. Die Hof word gevra om die volgende vraagstukke te bereg:


5.1 Val die maandelikse bogemelde betalings binne die gemeenskaplike boedel.


5.2 Indien wel is die eerste verweerderes geregtig tot ʼn bevel teen die tweede en derde verweerders vir betaling daarvan.”


Ek het gevolglik in terme van van Reël 33(4) gelas dat die vraagstukke uiteengesit in Bewysstuk A apart bereg word ooreenkomstig die feitelike basis wat daarin uiteengesit is. Dit was ook gemeensaak tussen die partye dat die inhoud van voormelde Bewysstuk A en my beregting van die vraagstukke daarin, ook onderworpe is aan die algehele inhoud van die pleitstukke soos dit op daardie stadium gestaan het.


Mnr. Van der Berg het ook ʼn verhoorbundel bestaande uit 41 bladsye opgehandig as Bewysstuk B. Hy het daarop gewys dat slegs bladsye 34 tot 36 daarvan egter relevant is vir doeleindes van die beregting van die onderhawige vraagstukke.


Betoë namens die partye ten opsigte van die eerste vraagstuk:

  1. Mnr. Heymans het betoog dat eiser se maandelikse pensioenbetalings wat hy ontvang solank as wat die partye nog getroud is, wel in die gemeenskaplike boedel val en dat ʼn hof daaroor kan beskik. Mnr. Heymans het voorts betoog dat die oomblik wat die pensioenbelang ʼn party toeval, word dit ʼn bate in die gemeenskaplike boedel en is dit nie meer ʼn pensioenbelang nie, maar in hierdie geval het die toekomstige maandelikse pensioenbetalings nog nie vir eiser toegeval nie en daarom kan dit nie geag word op datum van egskeiding ʼn bate in die gemeenskaplike boedel te wees nie. Aangesien die toekomstige maandelikse betalings wat eiser gaan ontvang na datum van egskeiding nie ʼn “pensioenbelang” daarstel soos bedoel in Artikel 1 van die Wet op Egskeiding, No. 70 van 1979 (hierinlater na verwys as die “Wet op Egskeiding”) nie, is die bepalings van Artikel 7 van die Wet op Egskeiding nie van toepassing nie en is daar geen basis waarop eerste verweerderes geregtig kan wees op sodanige toekomstige betalings nie. Mnr. Heymans het voorts betoog dat alwaar eerste verweerderes in paragraaf 4 van Bewysstuk “A” toegegee het dat sy nie op datum van egskeiding geregtig is op enige lompsom betaling vanaf tweede en derde verweerders nie, aangesien eiser die keuse uitgeoefen het om by sy aftrede slegs ʼn maandelikse pensioen te ontvang, kan eerste verweerderes ook nie aanspraak maak op toekomstige maandelikse betalings nie.


  1. Mnr. Grobler het by die aanvang van sy betoog aangedui dat dit nie eerste verweerderes se saak is dat Artikel 7 van die Wet op Egskeiding enigsins van toepassing is in die onderhawige geval nie, aangesien daarin gehandel word met ʼn pensioenbelang waar die tersaaklike party op datum van egskeiding nog nie bedank het as lid van die pensioenfonds nie, wat nie hier die geval is nie. Mnr. Grobler het voorts aangedui dat die rede waarom eerste verweerderes nie poog om die helfte van die herinvesteerde kapitaalbedrag te vorder nie, is omdat eerste verweerderes gebonde is aan die eleksie wat eiser gemaak het toe hy opsie A uitgeoefen het wat slegs aan hom ʼn maandelikse pensioenbetaling tot gevolg het.


Mnr. Grobler het daarop betoog dat eerste verweerderes se vorderingsreg op die helfte van eiser se toekomstige maandelikse pensioenbetalings voortspruit uit die gemenereg. Hy het ter ondersteuning van sy argument eerstens verwys na die uitspraak in GOVERNMENT EMPLOYEES PENSION FUND vs NAIDOO AND ANOTHER 2006(6) SA 304 (SCA) en betoog dat ooreenkomstig hierdie uitspraak ʼn pensioenbelang, sodra dit die tersaaklike party toeval, ʼn bate in die gemeenskaplike boedel vorm en Artikels 7(7) en 7(8) van die Wet op Egskeiding dan nie meer van toepassing is nie. Dit verander dan van ʼn pensioenbelang na ʼn reg of voordeel wat binne die gemeenskaplike boedel val. Ter verdere ondersteuning van hierdie argument het hy ook verwys na die uitsprake in DE KOCK vs JACOBSON AND ANOTHER 1999(4) SA 346 (WLD) en ELESANG vs PPC LIME LTD AND OTHERS 2007(6) SA 328 (NCD).


Mnr. Grobler het gevolglik betoog dat die vraagstuk uiteengesit in paragraaf 5.1 van Bewysstuk “A” ten gunste van eerste verweerderes beslis moet word.


  1. Mnr. Van der Berg het in sy betoog verwys na die uitspraak in SEMPAPALELE vs SEMPAPALELE AND ANOTHER 2001(2) SA 306 (OPD), waarin Musi, R (soos hy toe was) op 310F beslis het dat voor Artikels 7(7) en 7(8) van die Wet op Egskeiding op die wetboek geplaas was, ʼn party se pensioenbelang nie geag was `n bate in sy boedel te wees nie en gevolglik het dit nie deel gevorm van die gemeenskaplike boedel van sodanige party en sy eggenoot nie. Mnr. Van der Berg het ook verwys na die uitsprake in OLD MUTUAL LIFE ASSURANCE CO (SA) LTD AND ANOTHER vs SWEMMER 2004(5) SA 373 (SCA) en ELESANG vs PPC LIME LTD AND OTHERS, supra, waarin dieselfde mening gehuldig is. Wat betref die uitspraak in GOVERNMENT EMPLOYEES PENSION FUND vs NAIDOO, supra, waarna mnr. Grobler ook verwys het, het mnr. Van den Berg betoog dat die omstandighede van daardie geval anders was as in die onderhawige geval, aangesien dit, aldus sy betoog, gehandel het met ʼn lompsom betaling wat ten tyde van die egskeiding reeds aan die tersaaklike party betaalbaar was en dus deel gevorm het van die gemeenskaplike boedel van die partye. Daarteenoor, aldus sy verdere betoog, het die toekomstige pensioenbetalings in die onderhawige geval nog nie eiser toegeval nie en is dit tans nog nie aan die eiser betaalbaar nie - dit val eiser eers elke toekomstige maand toe en is dit gevolglik nog nie opeisbaar en betaalbaar aan eiser nie en dus ook nie aan eerste verweerderes nie. Derhalwe vorm hierdie toekomstige maandelikse pensioenbetalings nie ooreenkomstig die gemenereg word `n bate in eiser se boedel nie.


Gevolglik het mnr. Van der Berg aan die hand gedoen dat die vraagstuk in paragraaf 5.1 van Bewysstuk “A” teen eerste verweerderes beslis moet word.


  1. In sy repliek, het mnr. Grobler uitgewys dat wat Artikel 7(7) se plasing op die wetboek gedoen het, is om ʼn fiksie te skep. Dit skep ʼn fiksie deur te bepaal dat die pensioenbelang wat nog nie die tersaaklike party toegeval het nie en derhalwe nog nie binne sy boedel val nie, geag moet word binne sy boedel en dus binne die gemeenskaplike boedel te val. In die onderhawige geval het eiser egter reeds bedank en is daardie reg reeds gevestig.


Tersaaklike regsbeginsels en regspraak ten opsigte van die eerste vraagstuk:

  1. In Artikel 1 van die Wet op Egskeiding word “pensioenbelang”, onder andere, as volg omskryf (ek verwys slegs na die gedeelte wat na my mening tersaaklik is in die onderhawige geval):

Pensioenbelang, met betrekking tot ʼn party in ʼn egskeidingsgeding wat –

(a) ʼn lid is van ʼn pensioenfonds ..., die voordele waarop daardie party as so ʼn lid ingevolge die statute van daardie fonds geregtig sou gewees het as sy lidmaatskap van die fonds op die datum van die egskeiding beëindig sou geword het weens sy bedanking uit sy betrekking;

(b) ...”


Die tersaaklike gedeeltes (vir doeleindes van hierdie geding) van Artikel 7 van die Wet op Egskeiding lees as volg:

7(7)(a) By die bepaling van die vermoënsregtelike voordele waarop die partye in enige egskeidings-geding geregtig is, word ʼn party se pensioenbelang, behoudens paragrawe (b) en (c) geag deel van sy bates te wees.

(b) ...

(c) ...


(8) Ondanks die bepalings van enige ander wet of van die statute van enige pensioenfonds –

(a) kan die hof wat ʼn egskeidingsbevel ten opsigte van ʼn lid van so ʼn fonds verleen, ʼn bevel gee dat –

(i) enige deel van die pensioenbelang van daardie lid wat uit hoofde van subartikel (7) die ander party in die betrokke egskeidingsgeding toekom of aan hom toegewys word, deur daardie fonds aan daardie ander party betaal moet word wanneer enige pensioenvoordele ten opsigte van daardie lid toeval;

(ii) die griffier van die betrokke hof onverwyld die betrokke fonds in kennis stel dat ʼn aantekening in die rekords van daardie fonds gemaak word dat daardie deel van die betrokke pensioenbelang aldus aan daardie ander party betaalbaar is en dat die administrateur van die pensioenfonds, binne een maand van ontvangs van sodanige kennisgewing, skriftelike bewys van sodanige aantekening aan die griffier lewer;

(b) is enige wet wat van toepassing is met betrekking tot die vermindering, oormaking, oordrag, sedering, verpanding, verhipotekering of inbeslagneming van die pensioenvoordele, of enige reg ten opsigte daarvan, in daardie fonds, mutatis mutandis, met betrekking tot daardie ander party se reg ten opsigte van daardie deel van die betrokke pensioenbelang.


  1. Uit voormelde definisies blyk dit duidelik dat Artikels 7(7) en 7(8) van die Wet op Egskeiding handel met ʼn pensioenbelang wat op datum van egskeiding nog nie die tersaaklike lid toegeval het nie. Hierdie artikels kan, soos tereg deur al drie regsverteenwoordigers uitgewys, gevolglik nie in die onderhawige geval enigsins toepassing vind nie. Dit is ook aldus bevind in GOVERNMENT EMPLOYEES PENSION FUND vs NAIDOO AND ANOTHER, supra, op 305J tot 306B waar daar met verwysing na die bepalings van Artikel 7(7) en 7(8) van die Wet op Egskeiding as volg beslis is:

What these provisions envisage is an award to the non-member spouse of any part of the member spouse’s ‘interest’ calculated as at the date of the divorce but with effect from some time in the future when the pension benefit accrues to the member’s spouse. (Compare Old Mutual Life Assurance Co. (SA) Ltd and Another vs Swemmer 2004 (5) SA 373 (SCA) in para [18].) Once the pension benefit has accrued, the provisions of ss 7(7) and 7(8) are no longer applicable (see De Kock vs Jacobson and Another 1999 (4) SA 346 (W) at 349 F to G). In the present case, Mr. Naidoo resigned from his post as the Clarewood Hospital in February 2004. By reason of his resignation, he ceased to be a member of the appellant (the Fund) … His pension benefit thereupon accrued to the joint estate of himself and his wife. An order in terms of ss 7(7) and 7(8) of the Divorce Act was accordingly no longer competent.”


  1. Ek meen dat dit op hierdie stadium gepas is om daarop te wys dat nadat die onderhawige aangeleentheid geargumenteer is, het mnr. Van der Berg aanvullende betoogshoofde geliasseer (waarvoor hy bedank word), welke ook op eiser en eerste verweerder se onderskeie prokureurs van rekord beteken is. Die doel van hierdie betoogshoofde, soos ook spesifiek daarin vermeld, was om ʼn uitspraak onder my aandag te bring wat sedertdien deur die Hoogste Hof van Appèl gelewer is op 31 Mei 2011 in die aangeleentheid van ESKOM PENSION AND PROVIDENT FUND vs KRUGEL AND ANOTHER, saaknommer 689/2010, ʼn afskrif waarvan aangeheg was tot voormelde betoogshoofde. Dit was ʼn ongeopponeerde appèl teen die uitspraak van die Hof a quo waar die Hof a quo ʼn aansoek in terme van Artikel 30P van die Wet op Pensioenfondse, Wet 24 van 1956 (hierinlater na verwys as “die Wet op Pensioenfondse”), vir die hersiening van tweede respondent se tersaaklike beslissing, van die hand gewys het. Die beslissing van tweede respondent het appellant verplig om `n aantekening in sy rekords te maak met betrekking tot eerste respondent se reg op betaling van `n gedeelte van van haar gewese man, die lid, se pensioenvoordeel aan haar wanneer dit aan hom betaalbaar is. Die agtergrondfeite blyk uit paragraaf [2] van die uitspraak en verder:

[2] Krugel resigned from Eskom on 31 January 1993. Upon his resignation, he elected to defer his pension benefit in the Fund in accordance with Rule 30(2) of the Fund’s rules and thus became a deferred pensioner. He and the first respondent were divorced on 14 September 2001. The settlement agreement which they concluded and was made an order of court recorded, inter alia, that:

[Krugel] is a member of a pension fund and has a pension interest in the Eskom Pension Fund. The parties have agreed that the first respondent is entitled to 25% of [Krugel’s] pension interest with Eskom Pension Fund as calculated on date hereof, payable to the [first respondent] as soon as [Krugel] becomes entitled to the pension benefits. [Krugel’s] attorneys … will secure the registration of an endorsement against the record of the aforementioned pension fund, in order to register the above provision against it. [Krugel] undertakes to give on demand any assistance needed in connection with the above.’

[3] However, when approached, the Fund refused to register the required endorsement against its records on the basis that the divorce was granted after Krugel had already elected to become a deferred member and no longer had a pension interest in the Fund as contemplated in the Divorce Act 70 of 1979, read together with s 37D of the Pension Funds Act. This prompted the first respondent to lodge a complaint in terms of s 30A of the Pension Funds Act …

[4] The second respondent, relying on the provisions of s 37D(6) of the Pension Funds Act, found that the provisions of s 37D(4)(d) – which deem the accrual date to a member of ‘any portion of the pension interest assigned to the non-member’s spouse in terms of the decree of divorce’ – include a deferred or preserved benefit to be regarded as pension interest capable of being shared upon divorce and that the fact that Krugel’s ‘benefit was deferred or preserved until the age of 55 does not affect the right of the non-member spouse to obtain her share as at the date of divorce’. She concluded that the benefit was deemed, in terms of s 37D(4)(a) of the Pension Funds Act, to have accrued to the member spouse on the date on which the decree of divorce was granted. Thus, she upheld the complaint and made an order against the Fund in terms of which it was ordered to pay the first respondent or transfer her portion of the pension interest to a pension fund (depending on her election) in terms of s 37D(4)(b)(i) and (iii) of the Pension Funds Act.

[5] The Fund was not satisfied with the second respondent`s determination and, in challenge, launched a s 30P application, the result of which is the subject of this appeal. The court below upheld the second respondent`s findings and conclusion. ”


Soos deur mnr. Van der Berg in sy betoogshoofde uitgewys, het die Hoogste Hof van Appèl beslis dat waar `n lid bedank het voor sy egskeiding, het hy nie meer `n pensioenbelang vir doeleindes van Artikels 7(7) en 7(8) van die Wet op Egskeiding nie. Daar is as volg in paragraaf [12] van die uitspraak beslis:

[12] Here, as indicated above, Krugel resigned from his job at Eskom on 31 January 1993, long before his divorce. His pension interest, which is a benefit determinable only at the date of an employee’s resignation, had already become payable to him before the divorce. Clearly, he could not again be deemed to become entitled to a resignation benefit. He simply no longer had a pension interest for purposes of ss 7(7) and 7(8) of the Divorce Act and s 37D(4)(a) of the Pension Funds Act, which is specifically designed for purposes of section 7(8)(a). An order premised on the terms of these provisions, therefore, was no competent.’


Dit is dus `n soortgelyke bevinding as wat in voormelde GOVERMENT EMPLOYEES PENSION FUND-uitspraak gemaak is, waarna ek reeds in paragraaf 16 hierbo verwys het.


  1. Gevolglik moet mnr. Grobler se betoog waarop hy wél steun vir doeleindes van die eerste vraagstuk, synde dat sodra ʼn pensionbelang ʼn lid toeval, dit ʼn bate in die gemeenskaplike boedel van daardie lid en sy/haar eggenote/eggenoot vorm, deurdat dit verander vanaf ʼn pensioenbelang na `n voordeel of reg, oorweeg word.


[19] In DE KOCK vs JACOBSON AND ANOTHER, supra, was spesifiek ook maandelikse pensioenbetalings, soos in die onderhawige geval ter sprake. Die aangeleentheid, wat voortgespruit het uit `n dispuut met betrekking tot `n akte van dading gesluit tussen die partye, het as `n gestelde saak voor die Hof gedien. Die partye was in gemeenskap van goedere getroud. Ten tyde van die egskeiding was die applikant reeds met pensioen en was hy geregtig op ʼn maandelikse pensioen wat hy maandeliks ontvang het en steeds sal ontvang tot en met sy dood en was hy voorts geregtig op die betaling van ʼn lompsom bedrag. Die tweede respondent, synde die applikant se gewese eggenote, het beweer dat applikant se maandelikse pensioenbetalings `n boedelbate is wat vatbaar is vir verdeling, terwyl die applikant die teendeel beweer het. Die Hof moes dus die regsvraag beslis of die applikant se reg op die maandelikse pensioenbetalings betaalbaar aan applikant in terme van die reëls van die tersaaklike pensioenfonds, ʼn boedelbate is wat vatbaar is vir verdeling. Die Hof het op dieselfde basis as in die GOVERNMENT EMPLOYEES PENSION FUND-beslissing bevind het dat die bepalings van Artikel 7(7) van die Wet op Egskeiding nie in sodanige geval toepassing vind nie. Die Hof het egter wel op 349B beslis dat alwaar die pensioen die applikant toegeval het voor die egskeiding, “the pension interest was converted into a (an accrued) right”. Daar is dan in die uitspraak as volg voortgegaan op 349H en verder:

The question then remains whether the right to the pension is part of the community of property. There is to my mind no reason in principle why the accrued right to the pension should not form part of the community of property existing between the parties prior to the divorce. …See Hahlo (op cit at 161), where he says:

The joint estate consists of all the property and rights of the spouses which belonged to either of them at the time of the marriage or which were acquired by either of them during the marriage.’ (Eie beklemtoning)


The right to a pension is a right which vests in the parties to a marriage in community of property in undivided shares. …


The applicant conceded that the cash part of the rights which accrued to the applicant on his retirement fall within the community of property. The right which was exercised against the pension fund had two components, a right to a cash payment and a right to monthly payments by way of pension. There is no logical or legal reason why both the component rights should not form part of the joint estate. (Eie beklemtoning)


Accordingly the answers to the questions put are these:

1. The right to the pension which accrued in 1996 is not a pension interest in terms of the Divorce Act 70 of 1979.

2. The right to the pension is an asset in the joint estate.”


[20] Voormelde uitspraak is ook gevolg in ELESANG vs PPC LIME LTD AND OTHERS, supra, waarna mnr. Grobler ook in sy betoog verwys het. Hoewel daar in daardie geval nie maandelikse pensioenbetalings ter sprake was nie, meen ek dat die besliste beginsels steeds in die onderhawige geval toepassing vind. In die uitspraak is ʼn onderskeid getref tussen ʼn “pension interest”, welke nog nie ʼn lid toegeval het nie, en ʼn “pension benefit”, synde waar sodanige pensioenvoordeel wel reeds die lid toegeval het teen datum van egskeiding. Daar is toe ook spesifiek beslis dat sodanige pensioenvoordeel wat reeds ʼn lid toegeval het voor egskeiding, inderdaad deel vorm van die gemeenskaplike boedel. In die verband is daar as volg op 333E tot H beslis:

[19] This does not, however, mean that the applicant will not be entitled, in the divorce action, to any part of the pension benefits which have accrued to the third respondent.

[20] As already pointed out a pension interest does not by common law form part of the assets of a joint estate. A distinction must, however, be drawn between a pension interest which has not yet accrued and one which has accrued and has in the process been converted into a pension benefit (see Sempapalele vs Sempapalele and Another (supra) at 311). In the case of a pension benefit the accrued right would form part of the joint estate (see De Kock vs Jacobson and Another (supra) at 349 H, Sempapalele vs Sempapalele and Another (supra) at 311 C and Maharaj vs Maharaj and Others (supra) at 650-1).

[21] … The fact is that the accrued right (pension benefit) is in any event going to be part of the joint estate and, in principle at least, the applicant is going to be entitled to one half of the nett value of that estate …”


[21] In die ongerapporteerde uitspraak in HEATHER CLARK MARIA vs HEATHER CLARK PETER BRIAN, saaknommer 36245/2007, gelewer deur die Transvaalse Provinsiale Afdeling (soos dit toe bekend was) op 28 Augustus 2008, waarin ook maandelikse pensioenbetalings waarvan die reg daartoe die lid toegeval het voor datum van egskeiding ter sprake was, is insgelyks in paragraaf 26 van die uitspraak as volg beslis:

The respondent was a member of the TPA pension fund from which he retired on 30 December 1992 whereupon his pension interest was converted into a right to a monthly pension payment which in turn constituted an asset in his estate.”


  1. By my nalees en bestudering van die ongerapporteerde beslissing van die Hooste Hof van Appél in ESKOM PENSION AND PROVIDENT FUND, supra, kon ek niks in daardie uitspraak vind wat voormelde beslissings waarin bevind is dat ʼn pensioenvoordeel wat ʼn party toegeval het voor datum van egskeiding, wat insluit die reg op toekomstige maandelikse betalings, ooreenkomstig die gemenereg binne die gemeenskaplike boedel van die partye val, omverwerp nie. Inteendeel, na my mening bevestig daardie uitspraak juis laasgenoemde beginsel wat die toekomstige maandelikse pensioenbetalings betref. Die lid het in daardie geval bedank voor datum van egskeiding en het hy die opsie van `n “uitgestelde pensioen” gekies wat tot gevolg gehad het dat sy pensioenvoordeel, ooreenkomstig die reëls van die fonds, aan hom betaal sou word op `n toekomstige datum wat tussen sy 50ste en 60ste verjaarsdag val. Sien paragraaf [2] van die uitspraak, saamgelees met voetnoot 2 daartoe. Soos reeds uitgewys, het die hof bevind dat Artikels 7(7) en 7(8) van die Wet op Egskeiding nie van toepassing is nie, omdat, aldus die bevinding, die pensioenvoordeel hom toegeval het voor datum van egskeiding – dus, nieteenstaande die feit dat hy die opsie gekies het dat dit eers in die toekoms betaalbaar sal wees. Dit is dus in wese `n soortgelyke situasie as die onderhawige – hoewel die pensioenvoordeel eers in die toekoms (maandeliks) betaalbaar is (soortgelyk as die uitgestelde pensioenbetaling), het dit, ooreenkomstig daardie uitspraak, eiser reeds toegeval voor datum van egskeiding. Daar is dus geen rede waarom die toekomstige maandelikse pensioenbetalings, nie as `n bate binne eiser se boedel en dus binne die gemeenskaplike boedel val nie.


  1. Gevolglik is ek van mening dat die eerste vraagstuk in paragraaf 5.1 van bewysstuk A, ten gunste van eerste verweerderes beslis moet word.


Betoë namens die partye ten opsigte van die tweede vraagstuk:

[24] Wat die tweede vraagstuk betref, het mnr. Grobler betoog dat Artikel 37A van die Wet op Pensioenfondse nie van toepassing is in ʼn geval soos die onderhawige nie, omdat in hierdie geval dit nie meer handel met ʼn pensioenbelang nie, maar met ʼn reg of vorderingsreg wat die gemeenskaplike boedel toekom, waarvan eerste verweerderes die helfte eienaar is. Aldus sy betoog kan die tersaaklike wetgewing in ieder geval nie enige gemeenregtelike regte waarop eerste verweerderes geregtig is, haar ontneem op ʼn wyse dat sy nie daardie reg teenoor tweede en derde verweerders kan afdwing nie. Sy verdere submissie was dat Artikel 37A van die Wet op Pensioenfondse op die wetboek geplaas is om pensioenbelange te beskerm teen derde partye, terwyl in die onderhawige geval eerste verweerderes ʼn direkte vorderingsreg ten opsigte van die pensioenvoordele teenoor die tersaaklike pensioenfondse, synde tweede en derde verweerders, het.


  1. Mnr. Van der Berg het betoog dat Artikel 37A van die Wet op Pensioenfondse ʼn totale diskwalifikasie bevat met betrekking tot die vermindering, oordrag of inbeslagneming van pensioenvoordele, ten opsigte waarvan daar pertinent drie uitsonderings vervat is in Artikels 37B, 37C en 37D, waarvan nie een in die onderhawige geval van toepassing is nie. Gegewe dat die Wet, aldus mnr. Van der Berg se betoog, baie duidelik in die verband is, het hy aan die hand gedoen dat ek nie by magte is om tweede en derde verweerders te gelas om 50% van die toekomstige maandelikse pensioenbetalings aan eerste verweerderes te maak nie.


Tersaaklike regsbeginsels en regspraak ten opsigte van die tweede vraagstuk:

  1. Soos ter aanvang deur mnr. Van der Berg betoog is, was die gemeenregtelike posisie tot dien effekte dat ʼn party se pensioenbelang wat op datum van egskeiding hom nog nie toegeval het nie, nie `n bate in sodanige party se boedel was nie en het dit dus ook nie deel gevorm van ʼn gemeenskaplike boedel nie. Sien SEMPAPALELE vs SEMPAPALELE AND ANOTHER 2001(2) SA 306 (O) op 310F; MAHARAJ vs MAHARAJ [2002] 2 ALL SA 34 (D) op 37B; OLD MUTUAL LIFE ASSURANCE CO (SA) LTD AND ANOTHER vs SWEMMER 2004(5) SA 373 (SCA) op 383D en ELESANG vs PPC LIME LTD AND OTHERS, supra, op 332G tot H. Die invoering van die omskrywing van “pensioenbelang” in Artikel 1 van die Wet op Egskeiding, tesame met Artikels 7(7) en 7(8) daarvan, het hierdie gemeenregtelike posisie verander deur `n fiksie te skep deur te bepaal dat ʼn pensioenbelang van een party wat op datum van egskeiding nog nie daardie party toegeval het nie, geag moet word sodanige party toe te val op datum van egskeiding en geag moet word deel te wees van sodanige party se boedel by die bepaling van die vermoënsregtelike voordele waarop die partye in `n egskeidingsgeding geregtig is.


  1. Daar sou egter nie uiting gegee kon word aan voormelde wysiging van die gemenereg nie, aangesien Artikel 37A(1) die vermindering of oordrag van pensioenvoordele verbied. `n Geparafraseerde gedeelte van Artikel 37A(1) van die Wet op Pensioenfondse lees as volg:

37A. Pensioenvoordele kan nie verminder, oorgedra of in beslag geneem word nie. – (1) Behalwe in die mate by hierdie Wet ... veroorloof, kan geen voordeel waarvoor in die statute van ʼn geregistreerde fonds voorsiening gemaak word ... of reg op so ʼn voordeel, of reg ten opsigte van bydraes deur of ten behoewe van ʼn lid gestort ... verminder, oorgedra of andersins gesedeer of verpand of met verband beswaar word nie, of ingevolge ʼn vonnis of bevel van ʼn geregshof in beslag geneem of aan enige vorm van tenuitvoerlegging onderwerp word nie ... en in die geval waar die betrokke lid of bevoordeelde poog om so ʼn voordeel of reg oor te dra of andersins te sedeer, of om dit te verpand of met verband te beswaar, kan die betrokke fonds betaling daarvan terughou of opskort ...”


Gevolglik is Artikel 37D(1)(d)(i) van die Wet op Pensioenfondse op die wetboek geplaas ten einde uitvoering te kan gee aan die voormelde bepalings van Artikel 1 en Artikels 7(7) en 7(8) van die Wet op Egskeiding. Dit lees as volg:

`n Geregistreerde fonds kan...aftrek van `n lid se voordeel of minimum individuele reserwe, na gelang van die geval...enige bedrag wat uit bedoelde voordeel of minimum reserwe aan `n nie-lid eggenoot ingevolge `n bevel kragtens artikel 7(8)(a) van die Wet op Egskeiding...toegewys is.”


  1. Soos egter blyk uit die regspraak waarmee ek reeds gehandel het en op welke basis ek dan ook die eerste regsvraag ten gunste van eerste verweerderes beslis het, was en is dit steeds die gemeenregtelike posisie dat ʼn pensioenbelang wat vóór datum van egskeiding ʼn party toeval, wél `n bate in sy boedel vorm en dus ook in die gemeenskaplike boedel van sodanige party en sy eggenoot val. Anders as in die geval waar die voordeel op datum van egskeiding nog nie die lid toegeval het nie, het die bepalings van die Wet op Egskeiding het nie hierdie gemeenregtelike posisie verander nie. Daar was gevolglik, na my mening, dus regtens geen gefundeerde rede waarom die wetgewer nodig gehad het of sou bedoel het om in die Wet op Pensioenfondse met hierdie regsposisie te handel nie. Dit blyk duidelik uit voormelde Artikel 37D(1)(d)(i) dat die wetgewer daarin slegs handel met ʼn situasie waar daar `n aftrekking van `n lid se pensioenvoordeel plaasvind ooreenkomstig die bepalings van Artikel 7(8)(a) van die Wet op Egskeiding. Daar blyk dus geen bepaling in die wetgewing te wees wat die fonds magtig tot aftrekkings van pensioenvoordele in omstandighede soos die onderhawige nie, synde waar die pensioenvoordeel reeds die begunstigde toegeval het voor die datum van egskeiding en Artikel 7(8) van die Wet op Egskeiding dus nie toepassing vind nie.


In die gemenereg was en is daar geen regsbasis waarop `n nie-lid `n pensioenfonds voortspruitend uit `n egskeidingsgeding sou kon verplig om `n aftrekking op `n pensioenvoordeel van `n lid direk aan die nie-lid te betaal nie. Die vorderingsreg wat `n nie-lid op die helfte van die pensioenvoordeel verkry wanneer die voordeel die lid toeval voor datum van egskeiding, is `n vorderingsreg teenoor die lid – níe teenoor die fonds nie. Die gemeenregtelike posisie was dus dat ʼn party wat geregtig is op die oorbetaling van die helfte van sodanige pensioenvoordeel wat op datum van egskeiding reeds die begunstigde daarvan toegeval het, sy/haar vorderingsreg direk teenoor sodanige begunstigde sou moes uitoefen. Hierdie gemeenregtelike posisie blyk geensins deur die bepalings van die Wet op Pensioenfondse gewysig te wees nie. Dit is dus nie `n geval, soos deur mnr. Grobler betoog, dat die Wet op Pensioenfondse die regte wat die nie-lid in terme van die gemenereg gehad het, wysig of wegneem nie.


  1. Soos tereg deur mnr. Van der Berg in sy aanvullende betoogshoofde uitgewys, is daar in die verband in ESKOM PENSION AND PROVIDENT FUND vs KRUGEL AND ANOTHER, supra, beslis dat `n fonds se reg om aftrekkings van `n pensioenvoordeel te maak uiters beperk is en slegs gedoen kan word onder omstandighede spesifiek gemagtig deur die Wet op Pensioenfondse. In paragraaf [8] en verder van die uitspraak, is as volg beslis:

[8] A pension fund’s right to make deductions from a pension benefit is highly circumscribed and may be exercised only as expressly provided by section 37D and 37A of the Pensions Fund Act. Relevant for present purposes is s 37D which, in subsection (1)(d)(i), allows a fund to ‘deduct from a member’s benefit or minimum individual reserve, as the case may be … any amount assigned from such benefit or individual reserve to a non-member spouse in terms of a decree granted under section 7(8)(a) of the Divorce Act, 1979’.

[9] The first respondent`s entitlement (die “entitlement” verwys na die fonds se verpligting om `n aantekening in hul rekords te maak ten opsigte van eerste respondent se regte op die pensioenvoordeel), if any must therefore derive from the provisions of ss 7(7) and 7(8) of the Divorce Act... >

[10] …

[11] … Once the pension benefit has accrued...at which time the pension interest converts into a pension benefit, the provisions of ss 7(7) and 7(8) are no longer applicable.

[12] … He simply no longer had a pension interest for purposes of ss 7(7) and 7(8) of the Divorce Act and s 37D(4)(a) of the Pension Funds Act, which is specifically designed for purposes of section 7(8)(a). An order premised on the terms of these provisions, therefore, was not competent.

[13] ….

[14] …

[15] Finally, it should be mentioned that this finding does not leave the first respondent without remedy. The divorce settlement agreement between her and Krugel … remains binding. It is therefore open to her to claim her share of his deferred pension benefit when it is claimed by him after reaching the age of 55 years.”


Die appél is gevolglik gehandhaaf op die basis dat die appellant fonds nie verplig was om so aantekening in hul rekords te maak en `n betaling voortspruitend daaruit aan eerste respondent te maak nie.

  1. Na my mening is daar gevolglik geen basis waarop die tweede vraagstuk ten gunste van eerste verweerderes teen eerste en tweede verweerders beslis kan word nie.


Koste:

  1. Wat die koste betref, blyk dit ʼn redelike komplekse situasie te wees waarbinne ek my diskresie moet uitoefen.


  1. Wanneer daar teruggegaan word na die pleitstukke, in besonder paragraaf 4 van eerste verweerderes se gewysigde teeneis, saamgelees met bede 4 daarvan, blyk dit uit eiser se gewysigde verweerskrif op die teeneis dat eiser erken het dat eiser ʼn lid is van tweede en derde verweerders, dat die pensioenvoordele deel vorm van die gemeenskaplike boedel en dat eerste verweerderes geregtig is op 50% van die pensioenvoordele, dat tweede en derde verweerders verplig is om aan eerste verweerderes 50% van die kapitale waarde soos op datum van egskeiding te betaal, alternatiewelik dat tweede en derde verweerders verplig is om 50% van die maandelikse pensioenvoordele wat betaal word deur tweede en derde verweerders aan eiser, aan eerste verweerderes uit te betaal.


Die enigste aspek wat eiser ten opsigte van voormelde betwis het, was tot dien effekte dat dit eiser se saak was dat eerste verweerderes nie geregtig is op 50% van die totale boedel (dus ingesluit die pensioenvoordeel) en dan addisioneel daartoe ook op verdere onderhoud en medies nie. Aldus eiser is eerste verweerderes net geregtig op `n bevel van egskeiding en verdeling van die gemeenskaplike boedel (ingesluit die pensioenvoordeel).


  1. Selfs in die skriftelike betoogshoofde wat namens eiser ten opsigte van die gestelde saak geliasseer is, was dit eiser se standpunt dat “hy nie die eise van eerste verweerderes teenstaan in soverre dit enige pensioenbelang aanbetref nie”. (paragraaf 40 van eiser se skriftelike betoogshoofde)


Inteendeel, mnr. Heymans het so ver gegaan as om in paragrawe 42 en 43 van die skriftelike betoogshoofde te beweer dat dit nie duidelik is op welke gronde tweede en derde verweerders hul verset teen die aansprake van eerste verweerderes nie en is daar voorts die reg namens eiser voorbehou om ʼn bestraffende kostebevel “teen verweerders en in besonder tweede en derde verweerders aan te vra indien dit blyk dat hulle opponering hiervan onjuridies en onhoudbaar is”.


  1. By die aanvang van die verrigtinge het mnr. Heymans onder andere as volg aangedui:

Ons gaan nie standpunt inneem dat sy reg is nie. Ons sit neutraal terug. Dit is nie ons geveg nie. Ons is bereid om haar 50% te gee van wat ons toeval en as dit blyk dat die bedrag van omtrent R1,7 miljoen val wel in die gemeenskaplike boedel en die tweede en derde verweerders moet dit betaal, good for her.” [sic]


Terselfdertyd het mnr. Heymans egter meerdere kere aangedui dat na heroorweging van die regsposisie, eiser van oordeel is dat die maandelikse pensioenbetalings nie `n pensioenbelang daarstel waarop eerste verweerderes geregtig is nie.


Nadat bewysstuk A ontvang is en ek ooreenkomstig die bepalings van Hofreël 33(4) gelas het dat die twee vraagstukke in Bewysstuk A apart bereg word, het mnr. Heymans die betoog namens eiser geopen en het hy in direkte kontras met eiser se pleitstukke, betoog en aan die hand gedoen dat eerste verweerderes, uit ʼn juridiese oogpunt, nie geregtig is op enige vorderings ten opsigte van eiser se pensioenvoordele nie en het hy betoog dat beide die vraagstukke uiteengesit in bewysstuk A, teen eerste verweerderes beslis moet word. Hoewel mnr. Heymans spesifiek aangetoon het dat eiser steeds bereid is om 50% van die pensioenbetalings wat hy per maand in die toekoms gaan ontvang aan eerste verweerderes te betaal, is hierdie aanbod nie op die basis dat eerste verweerderes daarop geregtig is as synde dat dit deel vorm van die gemeenskaplike boedel nie, maar word dit as onderhoud aangebied.


  1. Gegewe dat laasgenoemde argumente met ander woorde gerig was teen `n bevinding ten gunste van eerste verweerderes wat die twee vraagstukke in bewysstuk A betref, terwyl ek nou die eerste vraagstuk wel ten gunste van eerste verweerderes beslis het, meen ek dat dit derhalwe geag moet word dat eerste verweerderes 50% suksesvol jeens eiser was. Wat die tweede vraagstuk betref, meen ek dat dit `n aspek is wat eiser in wese glad nie raak nie en is dit na my mening, vir doeleindes van koste, dus irrelevant teenoor eiser dat eerste verweerderes nie hiermee suksesvol was nie. As eiser volstaan het met die houding wat hy in die pleitstukke gehad het en nie aktief die onderhawige gestelde saak teen eerste verweerderes opponeer het nie, sou die resultaat uiteraard anders (ten gunste van eiser) gewees het. Alwaar eiser egter sy standpunt rakende die regsposisie verander het en aktief daarmee volhard het, meen ek dat eiser vis-à-vis eerste verweerderes aanspreeklik behoort te wees vir 50% van eerste verweerderes se regskoste ten opsigte van die gestelde saak.


  1. Wat eiser se posisie vis-à-vis tweede en derde verweerders betref, meen ek dat mnr. Van der Berg tereg ten tyde van sy argument aan die hand gedoen het dat dit belangrik is om in ag te neem dat eerste verweerderes die tweede en derde verweerders gevoeg het nadat die aksie begin is en dat daar derhalwe nie werklik ʼn nexus is tussen eiser aan die een kant en tweede en derde verweerders aan die ander kant nie. Ek is gevolglik van mening dat eiser nie in hierdie omstandighede met betrekking tot die gestelde saak op enige wyse aanspreeklik gehou kan of behoort te word vir enige koste van tweede en derde verweerders nie, en ook nie vice versa nie.


  1. Wat die posisie tussen eerste verweerderes aan die een kant en tweede en derde verweerders aan die ander kant betref, is dit so dat gegewe my bevinding op die meriete van die twee vraagstukke uiteengesit in die gestelde saak, dit in effek tot gevolg het dat eerste verweerderes 50% suksesvol was vis-à-vis tweede en derde verweerders, maar dat tweede en derde verweerders insgelyks 50% suksesvol was vis-à-vis eerste verweerderes. Onder sodanige omstandighede meen ek in die uitoefening van my diskresie dat dit reg en billik is dat eerste verweerderes aan die een kant en tweede en derde verweerders aan die ander kant elk 50% van mekaar se regskoste behoort te betaal.


  1. Gevolglik word die volgende bevele gemaak:


  1. Ten opsigte van die vraagstukke vervat in paragraaf 5 van die gestelde saak uiteengesit in bewysstuk A, word as volg bevind:


    1. Ten opsigte van paragraaf 5.1, word ten gunste van eerste verweerderes bevind dat die maandelikse pensioenbetalings van eiser binne die gemeenskaplike boedel val.


    1. Ten opsigte van paragraaf 5.2, word bevind dat eerste verweerderes nie geregtig is tot ʼn bevel ter betaling daarvan teen tweede en derde verweerders nie.


  1. Ten opsigte van die koste:


2.1 Wat eiser betref, word eiser gelas om sy eie koste ten opsigte van die gestelde saak en die argumentering daarvan, te betaal. Eiser word voorts gelas om 50% van eerste verweerderes se koste van die gestelde saak en die argumentering daarvan, te betaal.


2.2 Wat eerste verweerderes betref, word sy gelas om 50% van tweede en derde verweerders se koste ten opsigte van die gestelde saak en die argumentering daarvan, te betaal.


2.3 Wat tweede en derde verweerders betref, word hul gelas om 50% van eerste verweerderes se koste van die gestelde saak en die argumentering daarvan te betaal, welke betaling gesamentlik en afsonderlik moet geskied, betaling deur die een die ander kwytgeskeld te word.


____________

C. VAN ZYL, R






Namens die eiser: Adv. P.J. Heymans

In opdrag van:

Cooper Majiedt Ing.

BLOEMFONTEIN


Namens die eerste verweerderes: Adv. S. Grobler

In opdrag van:

Honey Prokureurs

BLOEMFONTEIN


Namens die tweede en

derde verweerders: Adv. P. van der Berg

In opdrag van:

McIntyre & Van der Post

BLOEMFONTEIN