South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2009 >>
[2009] ZAFSHC 107
| Noteup
| LawCite
Standard Bank van Suid-Afrika (Bpk) v Freitas en Ander (6341/2008) [2009] ZAFSHC 107 (26 October 2009)
Download original files |
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Aansoeknommer : 6341/2008
In die aansoek tussen:-
STANDARD BANK VAN SUID-AFRIKA BEPERK Applikant
en
ANTHONY HARRIS FREITAS Eerste Respondent
VERMAAK EN DENNIS PROKUREURS Tweede Respondent
_____________________________________________________
CORAM: VAN ZYL, R
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR: VAN ZYL, R
_____________________________________________________
GELEWER OP: 26 OKTOBER 2009
_____________________________________________________
[1] Hierdie is die keerdag van ‘n bevel nisi wat op ‘n dringende basis deur my kollega, Hancke R, toegestaan is in die volgende terme:
“1. Kondonasie word aan die applikant verleen vir die nie-nakoming van die hofreëls ten aansien van vorm en betekening.
2. ‘n Bevel nisi word uitgereik keerbaar op 6 November 2008 om 9h30 wat die respondente oproep om redes, indien enige, aan te voer waarom die volgende regshulp nie verleen sal word nie:
2.1 Die tweede respondent word gelas om ‘n bedrag van R182 356.37, synde ‘n krediet in die naam van die eerste respondent, aan die firma Lovius Block Prokureurs, Bloemfontein, alternatiewelik die Balju oor te betaal.
2.2 Lovius Block Prokureurs word gelas om die bedrag van R182 356.37 in hul trustrekening te hou ter krediet van die eerste respondent hangende die afhandeling van die aksie onder saaknommer 498/2008 in hierdie hof.
2.3 Die firma Lovius Block Prokureurs word gemagtig om, indien vonnis teen die eerste respondent ten behoewe van die applikant verleen word, sodanige bedrag as wat die hof onder saaknommer 498/2008 mag gelas, aan die applikant te betaal.
2.4 Eerste respondent word gelas om die koste van hierdie aansoek te betaal.
2.5 Tweede respondent word gelas om die koste van die aansoek te betaal, slegs indien dit opponeer word.
3. Hangende die keerdatum geld die regshulp in paragrawe 2.1 tot 2.3 as tydelike interdik met onmiddellike werking.
4. Verlof word aan die applikant verleen om die bevel ingevolge hofreëls aan die eerste en tweede respondente te beteken.”
[2] Slegs eerste respondent opponeer die gevorderde regshulp.
[3] Dit blyk uit die aansoekstukke dat applikant op of omtrent 1 Februarie 2008 onder saaknommer 498/08 dagvaarding teen eerste respondent uitgereik het vir die vordering van die bedrag van R171 702.15, tesame met rente daarop teen 18% per jaar daagliks bereken en maandeliks saamgestel vanaf 27 Desember 2007 tot datum van betaling, sowel as koste op ‘n skaal soos tussen prokureur en kliënt. Hierdie vordering spruit daaruit voort dat eerste respondent hom as borg en mede-hoofskuldenaar ten gunste van applikant verbind het vir die betaling van alle bedrae geld verskuldig deur ‘n maatskappy bekend as The Southern Lesotho Construction (Edms) Bpk (hierinlater na verwys as “die maatskappy”) aan applikant tot ‘n maksimum bedrag van R250 000.00, welke maatskappy die gevorderde bedrag aan applikant verskuldig is voortspruitend uit oortrokke fasiliteite verleen deur applikant aan die maatskappy. `n Afskrif van die dagvaarding is aangeheg tot die aansoekstukke as aanhangsel “S2” en die borgstellingsooreenkoms is aangeheg as aanhangsel “B” tot die dagvaarding. Dit word nie deur eerste respondent ontken dat oortrokke fasiliteite deur applikant aan die maatskappy toegestaan is nie en ook nie dat eerste respondent hom aldus as borg en mede-hoofskuldenaar verbind het nie. Dit word wel deur eerste respondent ontken dat die maatskappy, en dus eerste respondent, die gevorderde bedrag of enige bedrag geld aan die applikant verskuldig is. Eerste respondent ontken ook dat daar op die rente komponent ooreengekom is soos deur applikant beweer. In terme van die borgstelling is ooreengekom dat ‘n saldosertifikaat, uitgereik deur ‘n bestuurder van applikant, prima facie bewys daar sal stel van die bedrag deur eerste respondent aan applikant verskuldig. Sodanige sertifikaat is inderdaad aangeheg tot die dagvaarding as aanhangsel “A”. In terme van die borgstelling het eerste respondent ook ooreengekom dat alle regskoste betaalbaar sal wees op die skaal soos tussen prokureur en kliënt.
[4] In die funderende verklaring, sowel as in die dagvaarding, word beweer dat eerste respondent se adres geleë is te Yorkstraat 12, Waverley, Bloemfontein. Uit die borgstelling blyk dit dat eerste respondent die adres van die maatskappy, synde Letholistraat 26, Maseru, gekies het as sy domicilium citandi et executandi. Eerste respondent beweer in sy opponerende verklaring dat hy woonagtig is te Kikivela Nr. 11, h/v Loop- en Kerkstrate, Ladybrand.
[5] Ter verduideliking van die vermelding van voormelde adres van Yorkstraat 12, beweer applikant in sy funderende verklaring dat applikant voorafgaande die uitreiking van die dagvaarding vasgestel het dat eerste respondent oor hierdie adres beskik deurdat ‘n aktes-nasoek aangetoon het dat die huis geleë te hierdie eiendom op 24 April 2003 in die naam van eerste respondent geregistreer is. Hierdie aktes-nasoek, gedateer 16 November 2007, is aangeheg tot die funderende verklaring as aanhangsel “S4”.
[6] Applikant gaan dan voort in die funderende verklaring om te verduidelik dat daar gepoog is om die dagvaarding op eerste respondent te Yorkstraat 12 te beteken, maar dat die balju ‘n relaas van nie-betekening uitgereik het deurdat eerste respondent die gegewe adres verlaat het. ‘n Afskrif van hierdie relaas is aangeheg as aanhangsel “S3” tot die funderende verklaring. Hierdie relaas is gedateer 4 Februarie 2008. Gedurende Februarie, Maart, Mei en Augustus 2008 het applikant verskeie instansies instruksies gegee om applikant poog op te spoor met verwysing na, onder andere, die adres geleë te Yorkstraat 12 sowel as die adres geleë te Letholistraat 26, Maseru, maar, aldus applikant, sonder sukses.
[7] Op of omtrent 26 Augustus 2008 het applikant se prokureur van rekord vasgestel dat voormelde eiendom van eerste respondent geleë te Yorkstraat 12, verkoop is aan Eden Island Trading vir ‘n bedrag van R1 400 000.00. Op daardie stadium was die proses van oordrag van die eiendom in die naam van die koper nog aan die gang. Applikant se prokureur van rekord het dus op daardie datum ‘n skrywe aan Mnre. Vermaak en Dennis Prokureurs, synde tweede respondent hierin en die prokureursfirma wie verantwoordelik is om toe te sien tot die registrasie van die eiendom in naam van die koper, gerig waarin versoek is dat die bedrag wat applikant vanaf eerste respondent vorder, synde R171 702.15, plus rente en koste wat alreeds aangegaan is ten bedrae van nagenoeg R1 140.00, aan Mnre. Lovius Block oorbetaal word teen registrasie van die eiendom. ‘n Afskrif van hierdie skrywe is aangeheg as aanhangsel “S14” tot die funderende verklaring. Daarna het verdere korrespondensie tussen Mnre. Lovius Block en tweede respondent gevolg, waarop tweede respondent eventueel by wyse van die skrywe gedateer 9 September 2008, aangeheg as aanhangsel “S17” tot die funderende verklaring, aangetoon het dat eerste respondent se huidige prokureur van rekord aangestel is om hom te verteenwoordig teen applikant se vordering en dat beide eerste respondent en die koper daarop aandring dat die registrasieproses voortgaan. Op laasgenoemde datum het eerste respondent se prokureur van rekord ook aan Mnre. Lovius Block kennis gegee by wyse van die skrywe aangeheg as aanhangsel “S19” tot die funderende verklaring, dat eerste respondent enige aansoek om die oordrag van die eiendom op te skort en/of om op die eiendom of opbrengs daarvan beslag te lê, sal opponeer.
[8] Dit dien vermeld te word dat tweede respondnet intussen by wyse `n skrywe gedateer 8 September 2008, aangeheg tot die funderende verklaring as aanhangsel “S18”, `n saldosertifikaat met betrekking tot die beweerde uitstaande balans bereken op 31 Oktober 2008, vanaf applikant aangevra het. `n Sertifikaat gedateer 30 September 2008, aangeheg tot die funderende verklaring as aanhangsel “S20”, is daarop uitgereik, waaruit dit blyk dat die maatskappy die bedrag van R 182 356.37, tesame met rente daarop teen 18% jaarliks bereken en maandeliks saamgestel vanaf 25 April 2008 tot datum van betaling, aan applikant verskuldig is. Dit is dan ook op grond van hierdie sertifikaat en berekening wat die bedrag in die Kennisgewing van Mosie gevorder is.
[9] Voorafgaande die loods van die aansoek en wel op 7 Oktober 2008 het Lovius Block weereens ‘n skrywe aan eerste respondent se prokureur van rekord gerig, aangeheg as aanhangsel “S22” tot die funderende verklaring, waarin aangetoon is dat daar aansoek gedoen gaan word om die verkoop van die eiendom op te skort tensy eerste respondent onderneem om die bedrag wat aan applikant verskuldig is, uit die opbrengs van die verkoping oor te betaal. Geen reaksie is op hierdie skrywe ontvang nie, waarop die onderhawige aansoek geloods is.
[10] Laasgenoemde vorm die agtergrond tot die onderhawige aansoek. Ter verdere ondersteuning van die regshulp wat applikant in die aansoek vorder, is die volgende bewerings ook deur applikant in die funderende verklaring gemaak:
Na applikant se beste wete en kennis beskik eerste respondent oor geen ander bates binne die RSA nie en is die opbrengs van die verkoping wat gevorder word en in trust gehou moet word, die enigste bate waarop applikant eventueel sal kan beslag lê wanneer hy vonnis teen eerste respondent verkry. (Aansoekstukke, p. 15, par. 32)
Die verslae deur die onderskeie opspoorders staaf applikant se vrees dat applikant met ‘n leë vonnis sal sit indien die fondse nie beveilig word nie.
(Aansoekstukke, p. 15 – 16, par. 32)
Applikant sal onherroeplike skade ly indien ‘n bevel nie verleen word soos versoek nie, welke bevel geen benadeling vir eerste respondent inhou nie, deurdat eerste respondent in ieder geval rente sal verdien op die bedrag indien daardie bedrag aan hom betaal sal word indien hy sou slaag met sy verweer teen applikant se vordering.
(Aansoekstukke, p. 16, par. 33)
Die balans van gerief bevoordeel applikant. (Aansoekstukke, p. 16, par. 33)
Eerste respondent het geen verweer teen die vordering van applikant nie.
(Aansoekstukke, p. 16, par. 33)
“Die applikant het geen ander remedie as om hierdie hof op ‘n dringende basis te nader vir die verkryging van die regshulp nie aangesien, soos reeds vermeld, hierdie die enigste bate van die eerste respondent is wat aan die applikant bekend is, die opspoorders geen ander adres of bates van die Eerste Respondent kon opspoor nie en dat die Applikant van sy kontraktuele regte en remedies ontneem sal word deurdat dit geen voldoening aan sy vordering sal verkry indien die bedrag nie in die trustrekening gehou word hangende finalisering van die aksie nie. Applikant voer aan dat dit bona fide gepoog het om die bevrediging van sy vordering te bevredig (sic), maar dat Eerste Respondent klaarblyklik nie enige samewerking wil verleen nie. Die Applikant het goeie rede, uit hoofde van die voormelde agtergrond, om te glo dat die Eerste Respondent die geld sal wegmaak en selfs buite die hof se jurisdiksie sal neem om die vonnis te frustreer.”
(Aansoekstukke, p. 16 – 17, par. 34)
Volledigheidshalwe moet vermeld word dat ten tyde van die aanhoor van die aansoek, ek addisioneel tot voormelde, ook deur mnr. Fischer, namens applikant, daarop gewys is dat applikant gepoog het om die dagvaarding te die adres te Ladybrand deur eerste respondent in sy opponerende verklaring weergegee, op eerste respondent te beteken. Die relaas dui egter aan dat die adres nie bekend is in Ladybrand nie.
Ek meen egter dat ek nie werklik waarde aan die relaas kan heg vir doeleindes van ondersteuning van applikant se aansoek nie. Die redes hiervoor is eerstens dat die relaas nie deel vorm van enige beëdigde verklaring nie (ek sou verwag dat daar gepoog moes word om sodanig te beteken onmiddellik na ontvangs van die opponerende verklaring ten einde dan die relaas in repliek aan te spreek voortspruitend uit eerste respondent se bewering in die opponerende verklaring dat hy aldaar woonagtig is). Gevolglik kan ek hoogstens die relaas op sigwaarde daarvan interpreteer. Wanneer dit gedoen word, blyk dit tweedens dat die relaas geensins die adres aantoon wat na bewering onbekend is in Ladybrand nie en dui dit verdermeer ook nie die datum aan van wanneer daar gepoog is om aldus te beteken nie. Die enigste datum wat aangedui word, is die datum waarop die relaas uitgereik is, wat niksseggend is. Die relaas neem dus na my mening nie applikant se saak enigsins verder nie.
[11] Die mees relevante verwere of basisse van opponering van die onderhawige aansoek wat deur eerste respondent geopper word, is die volgende:
11.1 Hierdie hof het nie jurisdiksie om die aansoek te opponeer nie, deurdat die borgstelling deur eerste respondent onderteken is op ‘n stadium toe hy in Lesotho woonagtig was en sou die maatskappy nie enige betaling aan die applikant maak nie, sou eerste respondent sodanige betaling vanaf Lesotho doen.
(Aansoekstukke, p. 62, par. 7)
Eerste respondent ontken dat die maatskappy, en dus eerste respondent, die gevorderde bedrag of enige bedrag geld aan die applikant verskuldig is. Inteendeel, volgens eerste respondent beskik die maatskappy oor `n kredietbalans in die bank ten bedrae van R100 000.00.
(Aansoekstukke, p. 62, par. 8 en p.63, par. 10)
Eerste respondent het nie enige kennisgewing in terme van artikel 129 en artikel 130 van die Nasionale Kredietwet, Wet 34 van 2005, ontvang nie.
(Aansoekstukke, p. 63, par. 10.2)
Addisioneel tot voormelde krediet bankbalans, beskik die maatskappy oor ‘n eiendomsportefeulje in Lesotho ter waarde van ongeveer R6 miljoen en toerusting, trokke en ander voertuie ter waarde van ongeveer R3,5 miljoen, waarvan applikant bewus is.
(Aansoekstukke, p. 64, par. 13)
Eerste respondent beskik ook oor nog ‘n onroerende eiendom in Langenhovenpark, Bloemfontein, welke geregistreer is in sy naam, soos blyk uit bl. 3 van die aktes-nasoek aangeheg as aanhangsel “S4” tot applikant se funderende verklaring. Hierdie eiendom het ‘n waarde van tussen R450 000.00 en R520 000.00, terwyl die uitstaande verband daarop ongeveer R160 000.00 beloop.
(Aansoekstukke, p. 64, par. 14)
Dit was onnodig om die aansoek op ‘n dringende basis te loods en is die gebruikmaking van die dringende proses ‘n misbruik van die hofproses.
(Aansoekstukke, p. 67, par. 24 en p. 68, par. 26)
Applikant se prokureur van rekord kon eerste respondent se huidige residensiële adres by eerste respondent se prokureur van rekord verkry.
(Aansoekstukke, p. 69, par. 27)
Addisioneel tot die bovermelde onroerende eiendom te Langenhovenpark wat eerste respondent in Suid-Afrika besit, besit hy ook ‘n ledebelang in ‘n beslote korporasie wat handel dryf in klere, welke ledebelang ongeveer R1 miljoen werd is. Verdermeer beskik hy ook oor huishoudelike meubels en toebehore tot die waarde van ongeveer R60 000.00 tot R70 000.00, sowel as klaar afbetaalde voertuie ter waarde van ongeveer R230 000.00. Indien vonnis dus teen eerste respondent toegestaan sou word, beskik eerste respondent oor meer as genoeg bates in Suid-Afrika ten einde daardie vonnis uit te win.
(Aansoekstukke, p. 69, par. 28.1)
Gevolglik word ontken dat applikant onherstelbaar benadeel sal word indien die aangevraagde regshulp nie toegestaan word nie. Inteendeel, eerste respondent sal sodanig benadeel word, aangesien eerste respondent reeds ondernemings aan derde partye gegee het ten opsigte van die betaling van die netto koopprys van die eiendom geleë te Yorkstraat 12 aan hulle. Gevolglik bevoordeel die balans van gerief ook vir applikant.
(Aansoekstukke, p. 70, par. 29.2 – 29.3)
Daar is wel alternatiewe remedies tot die beskikking van applikant deurdat applikant aksie en/of aansoek in die Lesotho Hooggeregshof kan instel teen beide die maatskappy sowel as eerste respondent, veral gegewe die bates waaroor die maatskappy beskik, waarna reeds hierbo verwys is.
(Aansoekstukke, p. 70. par. 30 en p. 71, par. 30.3)
Eerste respondent wys uit dat daar geen nexus bestaan tussen applikant se vordering en die fondse waarop applikant poog beslag te lê nie.
(Aansoekstukke, p. 71, par. 30.4)
Eerste respondent vorder gevolglik dat applikant se vordering van die hand gewys word met koste op ‘n skaal soos tussen prokureur en kliënt.
(Aansoekstukke, p. 72, par. 33)
[12] In die repliserende verklaring is slegs die volgende aspekte aangespreek:
12.1 Die feit dat hierdie hof jurisdiksie het deurdat eerste respondent te alle tersaaklike tye woonagtig was in die Vrystaat en tans in Ladybrand woonagtig is. Dit word voorts uitgewys dat die borgstelling waarop applikant se vordering gebaseer is, gesluit is en onderteken is deur eerste respondent te Ladybrand.
12.2 Daar word op gedetaileerde wyse gehandel met die versending van die kennisgewings in terme van artikels 129 en 130 van die Nasionale Kredietwet, asook die wyse waarop eerste respondent die maatskappy se oortrokke fasiliteite bedryf het wat tot gevolg gehad het dat applikant eventueel die rekening van die maatskappy oorhandig het aan die regsdepartement van applikant vir invordering daarvan.
12.3 Hoewel die maatskappy teen 1 Augustus 2007 die bedrag van R213 431.75 aan applikant verskuldig was, is daar drie oordragte gemaak vanuit beleggingsrekenings van die maatskappy gedurende Desember 2007, wat tot gevolg gehad het dat die verskuldigde bedrag verminder is tot R171 702.15. Rente wat daarna daarop bereken is, het die verskuldigde balans teen Junie 2008 te staan gebring op R182 356.37.
12.4 Hoewel eerste respondent sowel as die maatskappy op deurlopende basis bankstate ontvang het, het eerste respondent nooit die korrektheid daarvan bevraagteken nie.
12.5 Uit die bewerings gemaak deur eerste respondent in die opponerende verklaring, blyk dit duidelik dat eerste respondent poog om sekere krediteure te bevoordeel bo die applikant deur die ondernemings wat applikant teenoor derde partye gegee het met betrekking tot die betaling van die opbrengs van die verkoping van die huis, terwyl eerste respondent steeds geld aan applikant verskuldig is.
[13] Alvorens ek voortgaan om met sekere regsbeginsels te handel, meen ek dit is doelmatig om reeds op hierdie stadium met twee van eerste respondent se verwere te handel. Die eerste is dié ten opsigte van hierdie hof se beweerde gebrek aan jurisdiksie. Sonder om in besonderhede daarmee te handel, meen ek dit blyk onteenseglik dat hierdie hof wel oor die vereiste jurisdiksie beskik, deurdat eerste respondent op sy eie weergawe, in Ladybrand woonagtig is. Hierdie verweer kan dus nie slaag nie.
Die tweede verweer is die bewering dat dit onnodig was om die aansoek op `n dringende basis te geloods het en dat dit `n misbruik van die hofproses daarstel. Na my mening het my kollege Hancke, R, reeds die aspek van dringendheid beslis deur die verlening van die kondonasie bevel en is ek nie by magte om daardie beslissing te heroorweeg nie. In ieder geval, gegewe my bevinding waartoe ek later hierin raak, meen ek dat dit onnodig is om verder met hierdie aspek te handel.
Dit moet vermeld word dat mnr. Hefer, namens eerste respondent, nie met voormelde verwere volhard het in óf sy betoogshoofde óf sy mondelinge betoog nie, na my mening heeltemal tereg.
[14] Mnr. Fischer en mnr. Hefer was dit eens dat alwaar daar in die onderhawige geval ʼn tussentydse interdik gevorder word wat nie vindikatories of quasi-vindikatories van aard is nie, dit as vertrekpunt aanvaar moet word dat die gebruiklike vereistes vir sodanige tussentydse interdik ten minste deur applikant aangetoon moet word, welke vereistes die volgende is:
“(a) a prima facie right;
(b) a well-grounded apprehension of irreparable harm if the interim relief is not granted and the ultimate relief is eventually granted;
(c) a balance of convenience in favour of the granting of the interim relief; and
(d) the absence of any other satisfactory remedy.”
Sien ERASMUS SUPERIOR COURT PRACTICE, Van Loggerenberg en Farlam, op p. E8-9. Sien ook STERN AND RUSKIN N.O. v APPLESON 1951 (3) SA 801 (WLD) op 813 B
[15] Dit is egter ook gemeensaak tussen die partye dat die bepaalde tipe tussentydse interdik wat in die onderhawige geval gevorder word, die tipe interdik is wat in die Engelse reg bekend staan as die “Mareva injunction”. Hierdie tipe remedie word opsommenderwys as volg in LAWSA, W.A. Joubert, derde heruitgawe, vol. 11, par. 335 op p. 301 beskryf:
“English law has developed a species of interim interdict, known as the Mareva injunction, in terms of which a respondent is prevented from disposing of its assets in order to defeat a judgment the Applicant believes it will obtain in due course. In particular, the order is so structured as to prevent a respondent from placing its assets beyond the reach of the applicant.
South African law recognises a similar remedy. It allows an interdict in respect of the respondent’s property to which the applicant can lay no claim. In order to succeed in obtaining an order preventing the respondent from dealing freely with its assets (without granting the applicant any preference), the applicant must show that the respondent is wasting or secreting assets with the intention of defeating the claims of creditors.”
Sien ook THE LAW AND PRACTICE OF INTERDICTS, C.B. Prest, op p. 164.
[16] Uit vermelde blyk dit dus duidelik dat daar in `n geval soos die onderhawige ʼn verdere vereiste tot die vier vereistes van ʼn gebruiklike tussentydse interdik bestaan, welke vereiste as volg verwoord en vasgelê is deur die Appèlhof (soos dit toe bekend was) in KNOX D’ARCY LTD AND OTHERS v JAMIESON AND OTHERS [1996] ZASCA 58; 1996 (4) SA 348 (AD) op 371 H tot 372 H, na welke passasie mnr. Hefer ook in sy betoogshoofde verwys het:
“The nature of the interdict sought by the petitioners is to prevent the respondents from concealing their assets. The petitioners do not claim any proprietary or quasi-proprietary right in these assets. It is conceded that the assets are the unencumbered property of the respondents. The interdict sought was therefore of an unusual nature. It is not the usual case where its purpose is to preserve an asset which is in issue between the parties. Here the petitioners lay no claim to the assets in question. …
As to the nature of the interdict, this was dealt with by Stegmann J in 1994 (3) SA at 706 B to 707 D and in 1995 (2) SA at 591 A tot 600 F. The latter passage was largely devoted to showing that it is not necessary for an applicant to show that the respondent has no bona fide defence to the action. This conclusion was not attacked before and I agree with it.
What then must an applicant show in this regard? … However, in Mcitiki and Another v Maweni 1913 CPD 684 at 687 Hopley J stated the affect of earlier cases as follows:
“… They all proceed upon the wish of the Court that the plaintiff should not have an injustice done to him by reason of leaving his debtor possessed of funds sufficient to satisfy the claim, when circumstances show that such debtor is wasting or getting rid of such funds to defeat his creditors, or is likely to do so.”
The question which arises from this approach is whether an applicant need show a particular state of mind on the part of the respondent, i.e. that he is getting rid of the funds, or is likely to do, with the intention of defeating the claims of creditors. Having regard to the purpose of this type of entity, the answer must be, I consider, yes, except possible in exceptional circumstances. As I have said, the effect of the interdict is to prevent the respondent from freely dealing with his own property to which the applicant lays no claim. Justice may require this restriction in cases where the respondent is shown to be acting mala fide with the intent of preventing execution in respect of the applicant’s claim. However, there would not normally be any justification to compel the respondent to regulate his bona fide expenditure so as to retain funds in patrimony for the payment of claims (particularly disputed ones) against him.”
Voormelde beginsels is ook weereens toegepas en bevestig in JANSE VAN RENSBURG NO AND ANOTHER v MINISTER OF TRADE AND INDUSTRY AND ANOTHER NNO 2001 (1) SA 29 (CC) op p. 44, par. 33, waar as volg beslis is:
“However, the common law governing interdicts to restrain the alienation or free use of assets has a further requirement. In the context of an application for an ex parte interdict to restrain respondents from dissipating or hiding assets, E M Grosskopf JA referred with approval to the general requirements for an interim interdict. He also emphasised an additional factor to be considered when an interdict is sought to prevent a respondent from ‘freely dealing with his own property to which the applicant lays no claim’. He held that such an applicant
‘[needs to] show a particular state of mind on the part of the respondent, i.e. that he is getting rid of the funds, or is likely to do so, with the intention of defeating the claims of creditors’.”
[17] Mnr. Fischer het ten tyde van sy betoog in die hof daarop gewys dat mnr. Hefer klaarblyklik in sy betoogshoofde toegee dat applikant ʼn behoorlike saak uitgemaak het ten opsigte van die vereiste van ʼn prima facie reg. Wat betref die vereistes van onherstelbare benadeling vir applikant, het mnr. Fischer aan die hand gedoen dat dit die outomatiese gevolg daarvan sal wees indien eerste respondent toegelaat sou word om sy enigste bate van waarde, aldus die argument, te vervreem sonder dat die bedrag geld wat nodig is om applikant se vordering te delg, intussen op beslag gelê word nie. Derhalwe begunstig die balans van gerief ook die applikant. Mnr. Fischer het verwys na die opponerende verklaring en aan die hand gedoen dat die bewerings daarin met betrekking tot die beweerde bates waaroor die maatskappy beskik ongesubstansieerde bewerings is. Verdermeer het hy aan die hand gedoen dat die feit dat eerste respondent beweer dat hy reeds ondernemings gegee het aan derde partye met betrekking tot die opbrengs wat uit die huisverkoping verkry gaan word, sowel as sy bewering in paragraaf 30.2 op bladsy 71 van die aansoekstukke tot dien effekte dat hy nie bereid is om samewerking aan die applikant te verleen deur applikant se vordering te betaal nie, sowel as sy voortdurende bewerings dat applikant die maatskappy en eerste respondent in Lesotho kan dagvaar, aanduidend is van eerste respondent se mala fides, wat verdermeer bevestig word deur die repliserende verklaring. In die verband was dit mnr. Fischer se betoog dat sodra eerste respondent se mala fides sodanig vasstaan, behoort die opponerende verklaring van eerste respondent met uitsterste omsigtigheid beoordeel te word. Dit was derhalwe mnr. Fischer se betoog dat die enigste redelike en objektiewe afleiding wat uit eerste respondent se ingesteldheid gemaak kan word, is dat eerste respondent die bedoeling het om applikant se vordering te negeer en te frustreer.
[18] Teenoor voormelde het mnr. Hefer betoog dat daar twee redes is waarom applikant nie suksesvol met die aansoek kan wees nie. Die eerste hiervan is omdat applikant nie ʼn “particular state of mind” aan die kant van eerste respondent aangetoon het soos deur die KNOX D’ARCY LTD AND OTHERS v JAMIESON AND OTHERS-beslissing vereis word nie, met ander woorde dat nie aangetoon is dat eerste respondent bates of fondse vervreem met die bedoeling om die vordering van applikant te negeer of te frustreer nie. Die tweede basis waarop mnr. Hefer betoog het dat applikant nie suksesvol kan wees met die aansoek nie, was tot dien effekte dat applikant nie die vereiste elemente van onherstelbare benadeling, balans van gerief en geen alternatiewe remedie aangetoon het nie. In die verband het mnr. Hefer betoog dat dit onbetwis op die stukke staan dat eerste respondent oor die onroerende eiendom te Langenhovenpark beskik en is die ekwiteitwaarde wat eerste respondent daaraan koppel, insgelyks onbetwis. In die verband het mnr. Hefer daarop gewys dat dit insiggewend is dat applikant geensins gepoog het om in repliek op hierdie bewerings te antwoord nie.
[19] Alvorens ek voortgaan, wens ek die volgende te vermeld. Na my mening is die bate-posisie van die maatskappy nie regtig relevant nie, aangesien die voorgenome aksie teen eerste respondent gerig is en nie teen die maatskappy nie, welke applikant geregtig is om te doen gegewe die aard van die borgstelling alwaar eerste respondent homself ook as mede-hoofskuldenaar verbind het. Ek handel dus nie verder daarmee nie.
Verdermeer is ek van mening dat eerste respondent se blote betwisting van applikant se prima facie vordering, nie per se geag kan word as aanduidend te wees van mala fides aan sy kant nie. Dit moet in gedagte gehou word dat die saldosertifikaat slegs prima facie bewys van die vordering daarstel en dit dus nie op `n oorwig van waarskynlikhede geag kan word dat eerste respondent nie moontlik `n verweer daarteen kan hê soos deur hom beweer nie.
[20] Wanneer daar in die lig van voormelde regsbeginsels en die onderskeie betoë van die advokate dan weer gelet word op die inhoud van die aansoekstukke, blyk dit dat die essensie van die bewerings wat applikant maak wat oorweeg moet word met betrekking tot die vraag of daar ʼn behoorlike saak uitgemaak is wat betref eerste repondent se bedoeling met betrekking tot die verkoop van die huis en wat die gevolge daarvan vir applikant sal wees, die volgende is:
20.1 Die opbrengs van die verkoping is die enigste bate waarop applikant sal kan beslag lê wanneer hy vonnis teen eerste respondent verkry en sal applikant dus ʼn leë vonnis hê indien die fondse nie beveilig word nie.
20.2 Die huis, of dan die opbrengs van die huis, die enigste bate van die eerste respondent is wat aan die applikant bekend is.
20.3 Respondent wil nie enige samewerking verleen met betrekking tot die bevrediging van applikant se vordering nie en het applikant goeie rede uit hoofde van die totaliteit van die agtergrond om te glo dat eerste respondent die opbrengs van die huis sal wegmaak en selfs buite die Hof se jurisdiksie sal neem om die vonnis te frustreer.
[21] Wanneer die opponerende verklaring egter bestudeer word, blyk die volgende:
21.1 Eerste respondent beskik oor nog ʼn onroerende eiendom geleë te Langenhovenpark, die waarde waarvan ongeveer R450 000-00 tot R520 000-00 beloop en die uitstaande verband welke ongeveer R160 000-00 beloop. Geen antwoord is in die repliek hierop gemaak nie. Verdermeer, en baie belangrik, is dat die eienaarskap van hierdie eiendom as `n feit blyk uit die uittreksel van ʼn aktes-nasoek wat deur applikant self aangeheg is tot die funderende verklaring as aanhangsel “S4”. Gevolglik moes hierdie feit tot applikant se kennis gewees het op die stadium wat die onderhawige aansoek geloods is. Desnieteenstaande nader die applikant die hof met ʼn bewering en op die basis dat die eiendom geleë te Yorkstraat 12 die enigste bate is waaroor eerste respondent na die beste van applikant se wete beskik en voorts op die basis dat indien daardie bate vervreem word en daar nie op ʼn gedeelte van die opbrengs beslag gelê word nie, enige vonnis wat applikant teen eerste respondent sal verkry ʼn leë vonnis sal wees. Die feit dat eerste respondent wel oor die onroerende eiendom te Langenhovenpark ook beskik, negeer na my mening enige basis waarop applikant die onderhawige aansoek kon loods. Addisioneel daartoe is daar geen bewering dat eerste respondent poog om daardie bate ook te vervreem nie. Daar kan dus na my mening ook nie sprake wees daarvan dat applikant `n ingesteldheid aan die kant van eerste respondent aangetoon het as synde dat hy sy bates vervreem of poog om dit te doen met die bedoeling applikant se vordering of die uitvoering van enige vonnis, te frustreer nie.
21.2 Verdermeer en addisioneel tot voormelde het eerste respondent in paragraaf 28.1 op bladsy 69 van die opponerende verklaring, bewerings gemaak met betrekking tot sy ledebelang in ʼn beslote korporasie welke ongeveer R1 miljoen werd is, sowel as bewerings met betrekking tot die waarde van sy huishoudelike meubels en toebehore, sowel as opbetaalde voertuie. Nieteenstaande hierdie bewerings, het applikant geensins gepoog om op hierdie bewerings te antwoord in die repliserende verklaring nie.
[22] Gevolglik en in besonder by gebrek aan enige antwoorde hierop in die repliserende verklaring, is ek van mening dat wanneer die geykte toets soos neergelê in PLASCON-EVANS PAINTS LTD v VAN RIEBEECK PAINTS (PTY) LTD [1984] ZASCA 51; 1984 (3) SA 623 (A) toegepas word, hierdie bewerings deur eerste respondent aanvaar moet word (dit is addisioneel tot die feit dat eerste respondent se eienaarskap van die eiendom geleë te Langenhovenpark in ieder geval as ʼn feit blyk uit die aktes-nasoek).
[23] Selfs indien dus aanvaar sou word dat applikant ʼn prima facie saak uitgemaak het met betrekking tot sy vordering teen eerste respondent, het voormelde tot gevolg, soos tereg deur mnr. Hefer betoog, dat applikant geensins ʼn saak uitgemaak het met betrekking tot die ander vereistes van ʼn tussentydse interdik nie en in besonder het applikant geen saak uitgemaak met betrekking tot die besonderse vereiste dat aangetoon moes word dat die vervreemding van die eiendom geskied met die bedoeling om applikant se vordering te frustreer nie en dat indien daar nie op daardie opbrengs beslag gelê word nie, daar geen ander beslagbare bates beskikbaar gaan wees nie. Dit is dus na my mening ʼn geval soortgelyk aan dit wat in STERN AND RUSKEN NO v APPLESON, supra, beslis is waar op 813 H die volgende bevinding voorkom:
“What the applicants have to establish is that … objectively considered, there are good grounds for fearing that he intends to make away with his assets in order to defeat the applicants’ claims. … The applicants’ allegations, such as they are, are denied and there is no evidence from which it is legitimate to infer that the respondent has any such intention.”
[24] Gevolglik is ek van mening dat die bevel nisi opgehef moet word.
KOSTE:
[25] Wat die koste van die aansoek as sulks betref, blyk daar geen rede te wees waarom die koste nie die uitslag van die aansoek behoort te volg nie. Ek meen egter nie dat daar enige basis is waarop applikant gelas moet word om die koste op `n skaal soos tussen prokureur en kliënt te betaal soos deur eerste respondent gevorder in sy opponerende verklaring nie.
[26] Daar is egter wel ʼn sekere koste-aspek wat addisioneel aangespreek moet word. Dit blyk dat eerste respondent op 20 Oktober 2008 kennis gegee het van sy voorneme om die keerdag te vervroeg tot Dinsdag, 21 Oktober 2008. Die aangeleentheid het voor Beckley, R gedien wie klaarblyklik aangedui het dat hy van oordeel was dat die aansoek om vervroeging sonder meriete was, deurdat Reël 6(8) daargestel is ten einde gebruik te kan word deur ʼn persoon wat verras is deur ʼn bevel wat ex parte verleen is. In hierdie geval was eerste respondent egter as gevolg van die voorafgaande skrywes deeglik bewus van applikant se voorneme om die hof met die onderhawige aansoek op ʼn dringende basis te nader en kon hy derhalwe nie geag word “to have been taken by surprise by an order granted ex parte”. (Sien ERASMUS Superior Court Practice, supra, op p. B1-53 en die gesag aldaar aangehaal). Gevolglik het die partye by ooreenkoms die aansoek van die rol verwyder en die koste het oorgestaan vir latere beregting. Mnr. Fischer het derhalwe versoek dat eerste respondent gelas moet word om daardie koste te betaal. Mnr. Hefer het, heeltemal tereg, toegegee en aangebied dat eerste respondent verantwoordelik sal wees vir die koste van 21 Oktober 2008. Ek is gevolglik van mening dat sodanige bevel inderdaad gepas is. Daar is geen spesiale kostebevel in die aansoek teen eerste respondent gevorder nie en kan hierdie kostebevel dus slegs op party en party basis wees.
[27] Derhalwe word die volgende bevele verleen:
1. Die bevel nisi word opgehef, met koste.
2. Eerste respondent word gelas om die koste teweeggebring deur die kennisgewing van vervroeging van die keerdatum, wat insluit die koste van 21 Oktober 2008, te betaal.
____________
C. VAN ZYL, R
Namens die applikant: Adv. P.U. Fischer
In opdrag van:
P.D. Yazbek
Lovius Block Prokureurs
BLOEMFONTEIN
Namens die eerste respondent: Adv. J.J.F. Hefer
In opdrag van:
W. le Roux
Goodrick & Franklin
BLOEMFONTEIN
/sp