South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2007 >> [2007] ZAFSHC 3

| Noteup | LawCite

Pashake and Another v S [2007] ZAFSHC 3 (22 January 2007)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Appèl Nr. : 233/2006


In die appèl tussen:-


FANYANE EPHRAIM PASHAKE Eerste Appellant

AMOS MACHABELA Tweede Appellant


en


DIE STAAT Respondent


_____________________________________________________


CORAM: MALHERBE RP et VAN DER MERWE R

_____________________________________________________


AANGEHOOR OP: 12 FEBRUARIE 2007

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: MALHERBE RP

_____________________________________________________


GELEWER OP: 15 FEBRUARIE 2007

_____________________________________________________


Hierdie is ‘n borgappèl. Die verrigtinge in die hof a quo was deels in Engels en deels in Afrikaans. Die argumente voor ons is in Afrikaans voorgedra. Ek vind dit gerieflik om hierdie uitspraak in Afrikaans te lewer.


Appellante is onderskeidelik beskuldigdes 1 en 3 in ‘n saak in die Streekhof waarin hulle teregstaan op elf aanklagte van diefstal van groot hoeveelhede kopergeleier (koperkabel) van, onder andere, Spoornet en Eskom gedurende die periode September tot Desember 2005. Na bewering is altesaam 4 603 meter kopergeleier gesteel met ‘n totale waarde van R171 390,00. Aanklagte 12 en 13 beweer oortredings van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Wet Nr. 121 van 1998) deurdat hulle gedurende dieselfde tydperk as lede van ‘n kriminele bende die genoemde diefstalle gepleeg het. Volgens die klagstaat is hulle op 5 Desember 2005 gearresteer. Op 10 Julie 2006 weier die Steeekhof hulle borgaansoek. Hierdie appèl is teen daardie weiering gerig.


By die verhoor van die borgaansoek was dit gemenesaak tussen die staatsaanklaer en die regsverteenwoordiger van appellante dat die betrokke misdrywe onder Bylae 5 van die Strafproseswet (Wet 51 van 1977) val en dat appellante derhalwe ingevolge artikel 60(11)(b) van die Wet in bewaring aangehou moes word tensy hulle


getuienis aanbied wat die hof oortuig dat belang van geregtigheid [hulle] vrylating veroorloof.”


Ingevolge artikel 65(4) van dieselfde Wet word die landdros se beslissing nie op appèl tersyde gestel nie tensy die Hof van appèl oortuig is dat daardie beslissing verkeerd is.


Appellante se Hoofpunte van Betoog was laat afgelewer. Hulle het ‘n aparte aansoek om kondonasie van hierdie versuim gebring. Die gevraagde kondonasie is by die aanvang van die appèl verleen.


Appellante het nie mondelings getuig nie maar hulle getuienis by wyse van beëdigde verklaring voorgelê. In daardie verklarings het hulle hulle persoonlike omstandighede uiteengesit, o.a. hulle ouderdomme, hulle familie-samestelling, hulle inkomste en bates en die feit dat hulle vaste adresse het. Beide onderneem ook in hulle verklarings om die verhoor van die saak getrou by te woon. Vir die Staat het slegs die ondersoekbeampte, Inspekteur Van Deventer, getuig. Sy getuienis kan soos volg opgesom word:

Die Staat het ‘n sterk prima facie saak teen appellante; indien hulle skuldig bevind word, staar hulle langtermyn gevangenisstraf in die gesig; hulle kan maklik landuit vlug; hy glo nie hulle sal hulle verhoor enduit bywoon nie. Laasgenoemde is dan ook die grond waarop die landdros borgtog vir appellante geweier het. Sy sê die volgende ten opsigte van eerste appellant:


Taking all this into consideration accused nr 1 has more reason to decide not to stand trial............

Accused nr 1 is therefore without doubt a flight risk. It is therefore obvious that the interest of the State outweighs his interest in his personal freedom.”


Van tweede appellant sê sy die volgende:


When we come to accused nr 3 he has more previous convictions than accused nr 1 and 2. This therefore shows he has the propensity of committing offenses. When we take this into consideration it is likely that whilst he is out on bail he may commit other offences. Though he has another previous conviction of being an illegal immigrant and the Defence correctly pointed out that it is a very old one and that it dated back to 1983, but nothing has been suggested whatsoever that he is not – he was not an illegal immigrant then. It is therefore doubtful that accused nr 3 is a South African citizen. The charge sheet also shows that accused nr 2 is a Lesotho national. That was not disputed and it is accepted................

When we take all this into account accused nr 3 will be tempted not to stand trial and leave the country. His interest in his personal freedom are therefore outweighed by the interest of the State and to my mind it is in the interest of justice that he be denied bail and same is therefore DENIED.”


Die misdrywe waarop die appellante teregstaan, is ernstig en word tereg deur die howe met swaar vonnisse gestraf. Die vooruitsig om vir ‘n lang periode na die gevangenis te gaan, moet noodwendig as aansporing dien om liewer die verhoor te probeer ontduik as om dit getrou by te woon.


Dit is gemenesaak dat daar aan eerste appellant twee paspoorte uitgereik is wat onderskeidelik in 2011 en 2013 verval. Inspekteur Van Deventer getuig dat eerste appellant kort na sy arrestasie ontken het dat hy enige paspoorte het en eers die oggend van die borgaansoek die paspoort wat in 2013 verval, asook ‘n verouderde identiteitsdokument, oorhandig het. Dit is nie ontken nie. Hy getuig ook dat beide paspoorte binne twee jaar na mekaar uitgereik is. Dit is ook nie ontken nie. Daar is aan hom in kruisondervraging gestel dat een van die paspoorte, asook eerste appellant se identiteitsdokument, gesteel is toe sy voertuig gekaap is. Die getuie het geantwoord dat die “gesteelde” paspoort nie as gesteel of verlore by die Departement van Binnelandse Sake aangemeld is nie. Benewens die genoemde twee paspoorte, was dit ook gemenesaak dat eerste appellant ‘n tydelike paspoort maklik bekom het en op sy eie weergawe ongeveer ses keer na Swaziland gereis het vir besigheidsdoeleindes. Dit was ook gemenesaak dat dit baie maklik is om as’t ware oor ons landsgrense te glip na ons buurstate. Ek kan nie fout vind met die landdros se konklusie dat eerste appellant ‘n “flight risk” is nie.


Alhoewel tweede appellant nie ‘n paspoort het nie, was hy vantevore vir kort periodes in eerste appellant se diens. Die Staatsaak is juis dat hy en die ander beskuldigde as handlangers van eerste appellant die misdrywe gepleeg het deurdat hulle as ‘n bende opgetree het onder leiding van eerste appellant. Dit is vir tweede appellant ewe maklik om oor die landsgrense te vlug en sy verhoor te ontduik.


Tweede appellant het ‘n lang lys vorige veroordelings, waaronder “escaping or attempt to escape” gedurende 1991. Daarbenewens is hy reeds gedurende 1983 binne enkele maande tweekeer skuldig bevind daaraan dat hy ‘n verbode persoon is en die land by ‘n ander plek as ‘n grenspos binnegekom het. Ook wat hom betref, meen ek dat tereg bevind is dat hy nie die hof oortuig het dat sy vrylating in belang van geregtigheid sal wees nie.


Gevolglik word die appèl van beide appellante afgewys.




_________________

J.P. MALHERBE, RP



Ek stem saam.





________________________

C.H.G. VAN DER MERWE, R



Namens appellante: Adv. S.J. Reinders

In opdrag van:

Giorgi & Gerber Prokureurs

BLOEMFONTEIN



Namens die respondent: Adv. R. Hoffman

In opdrag van:

Direkteur van Openbare Vervolgings

BLOEMFONTEIN



/sp