South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2007 >> [2007] ZAFSHC 24

| Noteup | LawCite

Von Schimper v Monastery Diamond Mining Corporation Ltd (551/2006) [2007] ZAFSHC 24 (9 March 2007)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)



Saak Nr. : 551/2006



In die saak tussen:


F.J. VON M SCHIMPER Applikant


en


MONASTERY DIAMOND MINING

CORPORATION LTD Respondent




AANGEHOOR OP: 30 NOVEMBER 2006



UITSPRAAK DEUR: C.J. MUSI R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 22 JANUARIE 2007



INLEIDING

[1] Op 30 November 2006 het ek bevele tot die volgende effek gemaak:

1. Die beëdigde verklarings van die voorlopige likwidateurs Petrus Jacobus Maryn Van Staden en Yusuf Ebrahim word geskrap met koste.

2. Die aansoek dat Van Jaarsveld en STRB prokureurs die koste vand die aansoek om verlof om te appelleer de bonus propriis moet betaal word van die hand gewys. Elke party word gelas om sy eie koste te betaal.”


Wat volg is my redes vir daardie bevele:


AGTERGROND


[2] Ek het op 1 Junie 2006 in die saak tussen F.J. von M Schimper (applikant) en Monastery Diamond Mining Corporation LTD (Respondent) die volgende bevel gemaak:


(a) Dat die toekenning van die arbiter Oud Regter M D J Steenkamp waarvan ‘n afskrif aangeheg is by die stukke as bylaag “A” ‘n bevel van hierdie hof gemaak word.

  1. Dat die respondent gelas word om rente aan applikant te betaal op die bedrag van R204 000.00 teen 15.5% per jaar bereken vanaf 1 Maart 2005 tot datum van betaling.

  2. Dat die respondent die koste – insluitend die koste van 2 Maart 2006 en 4 Mei 2006 moet betaal.”


[3] Op 1 Junie 2006, die dag waarop bogenoemde uitspraak gelewer is het meneer Auret Pritchart Van Jaarsveld, die enigste direkteur van Monastery ‘n finale aanmaning vir die betaling van R1 140 197.41 aan Monatery gestuur met die doel om Monastery te likwideer.


[4] Op 21 Junie 2006 het Monastery aansoek gedoen om verlof om te appelleer. Op 10 Julie 2006 is die kennisgewing van ter rolle plasing geliaseer en op die applikant beteken. Die aansoek om verlof om te appelleer was ter rolle geplaas om op 15 September 2006 aangehoor te word.


[5] Intussen, op 4 Julie 2006 het Auret Pritchard Van Jaarsveld in die Hooggeregshof (Tranvaalse Provinsiale Afdeling (TPA))as skuldeiser aansoek gedoen vir die likwidasie van Monastery. Op 3 Augustus 2006 is die maatskappy finaal gelikwideer.


[6] Op 8 Augustus 2006 is Van Jaarsveld deur sy prokureurs, Havingas Prokureurs te Pretoria, in kennis gestel van die likwidasie. Op 14 Augustus 2006 het hy ‘n afskrif van die likwidasie bevel van sy prokureurs ontvang.


[7] Op 21 Augustus 2006 is Petrus Jacobus Maryn Van Staden en Yusuf Ebrahim as voorlopige likwidateurs van Monastery aangestel deur die Meester van die Hooggeregshof TPA. Op 4 September 2006 het Van Staden aan Van Jaarsveld bevestig dat hy as ‘n likwidateur van Monastery aangestel is. Op 6 Oktober 2006 gee hy ‘n afskrif van sy sertifikaat van aanstelling aan Van Jaarsveld. Alhoewel Van Jaarsveld nie seker is van die datum nie beweer hy dat hy tydens een van sy konsultasies met Van Staden aan hom genoem het dat daar ‘n aansoek om verlof om te appelleer hangend is en dat die genoemde aansoek op 15 September 2006 op die rol is. Op 21 Augustus 2006 het hy dit weereens onder Van Staden se aandag gebring waarop Van Staden hom meegedeel het dat sy bevoeghede as direkteur en beampte van die maatskappy op 3 Augustus 2006 geëindig het.


[8] Op 14 Augustus 2006 het me Gill Markham van Smith Tabata Buchanan Boyes (STRB), Monastery se prokureurs, per e-pos ‘n skrywe aan Van Jaarsveld gerig wat as volg less:


I refer to my letter dated 11 July, 2006 and confirm that the matter is to be heard on 15 September, 2006. Please advise me as to whether you require any assistance at this stage. I look forward to hearing from you.”


[9] In antwoord op hierdie skrywe reageer Van Jaarsveld op 30 Augustus 2006 as volg:


Attached please find a copy of the order granted on 3 August 2006. The appointment of the liquidator is expected to happen this week. I expect him to then officially notify you and to stop the Schimper matter in Bloemfontein. In the mean time let’s just wait.” (my onderstreping).


STRB se antwoord hierop, op 1 September 2006, is die volgende:


Please advise me as to whom is appointed liquidator of Monastery Diamond Mining Corporation and I will then liaise with him regarding the stopping of further litigation with Schimper.”


[10] Op 1 September 2006 het Van Jaarsveld ‘n e-pos aan Van Staden gestuur waarin hy die volgende sê:


Ingesluit ‘n e-pos van STRB Attorneys in Johannesburg. Hulle het dit ook gister herhaal. Ek het vir hulle laat weet dat die maatskappy in likwidasie is, maar dat hulle van jou sal hoor wat om te doen. Ek dink hulle is bang die ander party gaan by die hof opdaag as hulle nie betyds laat weet word nie.” (my onderstreping).


[11] Op 6 September 2006 het die likwidateurs aan STRB bevestig dat hulle aangestel is en laasgenoemde versoek om hulle lêer te sluit.


[12] Eers, op 7 September 2006 rig STRB ‘n skrywe aan hulle korrespondente Israel Sackstein Matsepe waarin hulle die volgende versoek rig:


Our client, Monastery Diamond Mining Corporation (Pty) Limited, has been liquidated and I would appreciate it if you would confirm with both the plaintiff and the Court that this matter will not be proceeding in the light of the liquidation…”


[13] Op 13 September 2006 is applikant deur STRB se korrespondente telefonies in kennis gestel dat Monastery gelikwideer is. Toe daar aangedring word op bewys van likwidasie is daar op 14 September 2006 ‘n skrywe gestuur waarin STRB die volgende instruksie aan hulle korrespondente gegee het.


Please advise the other side that a liquidator has been appointed, he is Mr Van Staden of St Adens International Pretoria, telephone number … We are therefore not able to make any tenders and they should liaise with Mr Van Staden in that regard. In any event I assume that the other side will include their costs in their claim against the insolvent company in due course. At this stage I suggest that you merely file a notice of removal and it will then be up to the other side to decide whether they wish to bring an application against the liquidator costs or merely file a claim including a claim for costs in the insolvent estate.

A requested I enclose herewith a copy of the final order of liquidation.”


[14] Meneer Honiball van Israel Sackstein Matsepe bevestig dat sy firma op 7 September 2006 ‘n skrywe ontvang het vanaf STRB met die strekking dat Monastery gelikwideer is en dat die applikant en die Hof dienooreenkomstig ingelig moet word. Omdat die betrokke lêer nie gevind kon word nie en meneer Honiball uitstedig was tussen 11 en 12 September 2006 kon daar nie aandag aan hierdie aangeleentheid gegee word nie. Op 13 September 2006 het meneer Honiball die teenkant (mnr Holtzhausen) geskakel en hom gesê van die verwikkelinge. Mnr Holtzhausen het versoek dat die applikant se koste betaal of getender moet word. Op 14 September 2006 het hy ‘n skrywe van STRB ontvang dat hulle nie bereid is om die koste te tender nie. Hy het tervergeefs probeer om vir Holtzhausen te kontak. Op 15 September 2006 het hy verneem dat die applikant hierdie aansoek gaan loods. Nadat hy instruksies ontvang het van STRB om die aansoek te opponeer het hy ‘n advokaat aangestel.


[15] Op 15 September 2006 het die applikant by wyse van ‘n kennisgewing suksesvol aansoek gedoen om ‘n bevel dat:


Auret Pritchard van Jaarsveld en Smith Tabata Buchanan Boyes opgeroep word om redes aan te voer voor hierdie Hof op Donderdag, 12 Oktober 2006 waarom hulle nie gesamenlik en afsonderlik gelas sal word om die koste van die aansoek vir verlof om te appelleer in saaknommer 551/2006 te betaal nie.”


Tydens laasgenoemde aansoek het Mnr Cronje namens Van Jaarsveld en STRB verskyn om die aansoek te opponeer. Hy het pertinent aangedui dat hy vir alle praktiese doeleindes instruksies het om namens die twee respondente (Van Jaarsveld en STrB) te verskyn.


DIE LIKWIDATEURS


[16] Op 28 November 2006 het die likwidateurs ‘n bevel in die TPA (Southwood R) bekom. Die relevante gedeeltes van laasgenoemde bevel lees as volg:


2. That the applicants are authorised to appear, duly represented by an attorney and counsel in the Free State Provincial Division of the High Court on 30 November 2006, in the proceedings conducted in that Division under case number 551/2006, between F J V Schimper (as the applicant) and The Monastery Diamond Mining Corporation (Pty) Ltd (as the respondent) for the purpose of the order in paragraph three (3).

  1. That the applicants are authorised to object to any continuance of whatsoever nature of the proceedings, referred to in two (2) above on the said date.

  2. That the applicants are authorised to request a costs order in their favour (against the said F J V Schimper) at the proceedings on 30 November 2006.”


[17] Meneer Vlok het in hierdie Hof namens die likwidateurs verskyn. Mnr Danzfuss namens die applikant het beswaar gemaak teen die verskyning en my versoek om die beëdigde verklarings van die voorlopige likwidateurs te skrap met koste. Mnr Vlok het betoog dat sy verskyning op lasgewing van die TPA is en dat die verrigtinge voor my verrigtinge is soos bedoel in artikel 359 (1)(a) van die Maatskapye Wet, Wet 61 van 1973 (die Wet). Sy opdrag was dus om my te wys op die bestaan van artikel 359 (1)(a) van die Wet.


Artikel 359 (1)(a) van die Wet lees as volg:


(1) Wanneer die Hof ‘n bevel vir die likwidasie van ‘n maatskappy gegee het of ‘n spesiale besluit vir die vrywillige likwidasie van ‘n maatskappy ingevolge artikel 200 geregistreer is –

  1. word alle siviele geregtelike stappe deur op teen die betrokke maatskappy opgeskort totdat ‘n likwidateur aangestel is; en …”

[18] Die doel van artikel 359 word as volg uiteengesit in Meskin (ed) Henochsberg on the Companies Act Vol 1 bladsy 758.

The purpose of these provisions (in the words of Widgery LT in Langley Constructions (Brixham) Ltd v Wells [1969] 2 All ER 46 (CA) at 47 with reference to the similar section (231) in the 1948 English Act) “is to ensure that when a company goes into liquidation the assets of the company are administered in an orderly fashion for the benefit of all the creditors and that particular creditors should not be able to obtain an advantage by bringing proceedings against the company.”


[19] Meneer Vlok het geargumenteer dat die aansoek dat STRB en of Van Jaarsveld die koste van die aansoek om verloef om te appelleer moet betaal steeds verrigtinge teen die maatskappy is aangesien dit voortspruit uit ‘n geskil tussen die maatskappy en die applikant.


[20] Ek stem ongelukkig nie saam met meneer Vlok se argument nie. Alhoewel die stukke van die aansoek in die TPA nie voor my is nie is dit duidelik dat die likwidateurs toestemming verkry het om “toe te tree” tot die verrigtinge tussen Von M Schimper (applikant) en Monastery (respondent). Sien paragraaf 2 van Southwood R se bevel. Die verrigtinge voor my – alhoewel dit voortspruit uit die aangeleentheid tussen Von M Schimper en Monastery – was tussen Von M Schimper en Auret Van Jaarsveld en STRB prokureurs. Monastery was glad nie ‘n party nie en het geen risiko geloop dat enige bevel van watter aard ook al teen dit gemaak word nie. Daar was dus op 30 November 2006 geen verrigtinge tussen Von M Schimper en Monastery voor my nie.


My siening strook ook met wat Magid R in King Pie Holdings (Pty) LTD v King Pie (Durban) (Pty) LTD 1998 (4) SA 1240 (D & CLD) te 1248 bevind het te wete.


In my judgment, the phrase “civil proceedings” where it appears in s359 (1) of the Act must be limited in its application to proceedings in which, as De Villiers CJ said in Collet v Priest, an order in the nature of a declaration of rights or of giving or doing something” is sought against the company in question.” (my onderstreping).


[21] Dit is ook duidelik dat artikel 359 (1)(a) van die Wet bepaal dat slegs verrigtinge teen of deur die maatskappy in likwidasie opgeskort word. In casu was daar – soos hierbo aangetoon – geen verrigtinge teen die maatskappy nie. Dit was glad nie nodig vir die likwidateurs om my attend te maak op ‘n statutêre bepaling wat irrelevant is vir die beregting van die aangeleentheid voor my nie. Waarom hulle wou toetree om ‘n gevolg wat ex lege gereël word uit te lig gaan my verstaand te bowe. Om hierdie redes is die aansoek om die beëdigde verklarings van die voorlopige likwidateurs te skrap met koste toegestaan. Ek keer dan terug na die aansoek teen Van Jaarsveld en STRB prokureurs.


[22] Van Jaarsveld en STRB het die aansoek op verskeie gronde opponer. In kort het die argumente op die volgende neergekom:

  • Dat dit ‘n interlokutêre aansoek is wat ook getref word deur die bepalings van artikel 359 (1)(a) van die Wet.

  • Dat Van Jaarsveld en STRB nie partye voor die Hof was nie en enige koste bevel teen hulle onontvanklik is.

  • Dat hierdie Hof nie jurisdiksie het nie aangesien Van Jaarsveld en STRB nie in hierdie Hof se jurisdiksie gebied woon of besigheid doen nie.

  • Dat Van Jaarsveld en STRB nie mala fide of onredelik opgetree het nie.


[23] Meneer Snellenberg het geargumenteer dat hierdie verrigtinge onder dieselfde saak nommer (551/2006) as die aansoek om verlof om te appeller (die hoofsaak) geroep was en dat die verrigtinge alhoewel dit interlokutêr is ook opgeskort word deur die werking van artikel 359 (1)(a) van die Wet. Ek het reeds daarop gewys dat hierdie verrigtinge nie siviele geregtelike stappe teen die maatskappy is nie. Dit is interlokutêre verrigtinge. Reël 6 (11) van die Hofreëls bepaal as volg:


Ondanks die voorgaande subreëls, kan interlokutoriese aansoeke en aansoeke wat betrekking het op hangende gedinge, geskeid by kennisgewing, gesteun deur desbetreffende beëdigde verklarings, en ter rolle geplaas word vir ‘n tyd deur die griffier toegewys of deur ‘n regter vasgestel”


[24] Alhoewel die aansoek betrekking het op ‘n hangende geding kan dit verskillend of onderskeibaar wees van die hoofsaak. Dit is dus verrigtinge wat “subordinate or accessory to, while at the same time being distinct from the main proceedings” is. Sien Massey Ferguson (SA) Ltd v Ermelo Morfors (Pty) Ltd, 1973 (4) SA 206 (T) te 214 G; Antares (Pty) Ltd v Hammond 1977 (4) SA 29 WLD te 30 D. Die aansoek geskied by wyse van kennisgewing en nie kennisgewing van mosie nie. Dit sal derhalwe onder dieselfde saak nommer geroep word.


[25] Alhoewel daar nie behoorlike betekening op Van Jaarsveld en STRB was nie moet daar nie uit die oog verloor word dat STRB se korrespondente kennis gegee is van die aansoek. Meneer Honiball van Israel Sackstein Matsepe Ingelyf het instruksies ontvang van STRB om die aansoek te opponeer. Op dieselfde dag (15 September 2006) het Honiball ‘n advokaat aangestel om namens Van Jaarsveld en STRB te verskyn. Meneer Cronje het inderdaad namens Van Jaarsveld en STRB verskyn. Hy het die volgende op rekord geplaas.


Die respondente is in geen wyse daar omskryf nie, so hulle is nie siteer nie, maar vir doeleindes praktiese doeleindes het ek instruksie om namens hulle twee vandag hier te verskyn en met my prokureur van rekord teenveroordig in die hof, beteken dit ten behoewe van daardie twee respondente aanvaar…”


[26] Dit respondente was ook tydens die aanhoor van die aansoek op die keerdatum verteenwoordig. Daar is dus geen benadeling vir hulle nie. Die feit dat hulle nie behoorlik siteer is nie is ook nie fatal nie. Dit blyk duidelik uit die stukke in die hoofgeding wie Van Jaarsveld en STRB is. Die kennisgewing dat daar ‘n aansoek om ‘n koste bevel de bonis propriis teen hulle gebring gaan word is na my mening in orde. Die applikant kan in elk geval – afhangende van die omstandighede – voor uitspraak vra vir ‘n koste bevel de bonis propriis. Die Hof kan ook in gepaste omstandighede, sonder kennis, mero motu so ‘n bevel maak, met ‘n bevel met betrekking tot ‘n aansoek om tersyde stelling van die bevel binne ‘n bepaalde tydperk nadat die bevel tot ‘n party se kennis gekom het. Sien Standard Band v Jacobsohn’s Trustee 1899 SC 352 te 353 – 354 waar De Villiers CJ met verwysing na de bonis propriis bevele gesê het.

The proper time to apply for such an order is before or at the time when judgment is given in the suit…”

Ayliff v Estate Wood 1928 CPD 210 te 214. Machumela v Santam Insurance Co. Ltd 1977 (1) SA 660 (A) 664. Die aansoek kan ook na die tyd gebring word.


[27] As algemene reël word kostebevele slegs teen persone of instansies wat voor die hof is gemaak. ‘n Kostebevel de bonis propriis is slegs van toepassing waar ‘n persoon in ‘n verteenwoordigende hoedanigheid optree of litigeer. Herbstein and Van Winsen: The Civil Practice of the Supreme Court of South Africa 4de uitgawe te 728 stel dit as volg:


An award of costs de bonis propriis may be made only when a person acts or litigates in a representative capacity. It is unusual to order a litigant in a fiduciary position to pay costs de bonis propriis, and good reason for such a course should be shown, such as want of bona fides, negligent or unreasonable action or improper conduct by a trustee or executor.”


[28] Die beginsels wat van toepassing is by die maak van kostebevele de bonis propriis word deur Innes HR in Vermaak’s Executor v Vermaak’s Heirs 1909 TS 679 te 691 as volg opgesom:


The whole question was very carefully considered by this Court in Potgieter’s case (1908 TS 982) and a general rule was formulated to the effect that in order to justify a personal order for costs against a litigant occupying a fiduciary capacity his conduct in connection with the litigation in question must have been mala fide, negligent or unreasonable.”


Sien ook Grobbelaar v Grobbelaar 1959 (4) SA 719 (A) te 725 B-C; Khan v Mzovuyo Investments (Pty) Ltd 1991 (3) SA 47 (TK GD) te 48.


[29] In P Bezuidenhout – Larochelle Boer v Wetoruis Boer 1983 (2) SA 233 (O) te 236 F-G is gesê dat ‘n koste de bonis propriis bevel:


het ten doel om ‘n party teen ‘n rekening van sy eie verteenwoordiger, hetsy die verteenwoordiger ‘n prokureur is al dan nie, te vrywaar, of anders gestel, om ‘n party se verteenwoordiger tot self betaling van koste te verplig.”


[30] Dit is derhalwe duidelik dat daar wel ‘n koste bevel de bonis propriis ten ‘n prokureur gemaak kan word indien hy kennis gegee is alhowel hy nie ‘n party tot die geding is nie. Sien ook Visser v Cryopreservation Technologies CC 2003 (6) SA 607 (TPD).


[31] In Francarmen v Gulmini and Another 1982 (2) SA 485 (WLD) was daar geargumenteer dat ‘n direkteur teen wie daar ‘n koste bevel de bonis propriis gemaak was nie in ‘n verteenwoordigende hoedanigheid gehandel of litigeer het nie. Die argument is verwerp en die Hof bevind dat waar die litigasie in ‘n maatskappy se naam ingestel of verdedig word maar die litigerende partye effektiewelik direkteure of mede eienaars van die maatskappy is, is die Hof bevoeg om een van hulle te gelas om die koste de bonis propriis te betaal. In BS Finance Corp v Trusting Engineering 1987 (4) SA 518 (WLD) was daar bevind dat:


where the sole director and shareholder of a company litigates on behalf of that company in a manner which cannot be to the advantage of the company, and in a vexations and thoroughly dishonest manner – and, in so doing tells deliberate lies – the Court is entitled and in fact should, in a proper case, penalise such deponent which and appropriate order of costs de bonis propriis.”

[32] In Crundall Brothers (PVT) LTD v Lazarus NO and Another 1991 (3) SA 812 (ZHC) het ‘n direkteur van ‘n maatskappy ‘n funderende eedsverklaring afgelê waarin hy die integriteit van twee senior lede van die regsberoep aangeval het en hulle van onetiese, mala fide en onbehoorlike optrede beskuldig het. Die hof het die beskuldigings verwerp en hom beveel om die koste de bonis propriis te betaal. Dit is dus duidelik dat daar in gepaste gevalle wel ‘n koste bevel de bonis propriis teen ‘n direkteur wat ‘n eedsverklaring in ‘n geding afgelê het gemaak kan word. Hier het ons ook met die enigste direkteur van Monastery te doen. Hy het die opponerende eedsverklaring in die hoofsaak afgelê. Dit is op sy instruksies dat die aansoek om verlof om te appelleer geliaseer is. Hy het aansoek gedoen vir die likwidasie van Monastery welwetend dat daar ‘n aansoek om verlof om te appelleer in hierdie Hof hangend is. Hy het nie, op die oog af, Monastery se prokureur van rekord, STRB, in hierdie verrigtinge tydig in kennis gestel van die aansoek om likwidasie nie. Daar moet ook daarop gewys word dat hy vroeër al kon aansoek doen het vir die opskorting van hierdie verrigtinge. Artikel 358 van die Wet gee hom uitdruklik daardie opsie. Artikel 358 (1)(a) van die Wet lees as volg:


Te eniger tyd na die voorlegging van ‘n aansoek om likwidasie en voordat ‘n likwidasiebevel gegee is, kan die betrokke maatskappy of ‘n skuldeiser of lid daarvan wanneer ‘n aksie of geding deur of teen die maatskappy aanhangig is in ‘n hof in die Republiek, aansoek doen by daardie hof om die opskorting van die verrigtinge en die hof kan die verrigtinge dienooreenkomstig opskort of belet op die voorwaarde wat hy goeddink.”


[33] Alhoewel Van Jaarsveld dus nie ‘n party in die hoofsaak was nie, was die applikant se aansoek dat hy die koste de bonis propriis betaal regtens ontvanklik.


[34] Die argument dat hierdie Hof nie jurisdiksie het oor STRB en Van Jaarsveld nie omdat hulle nie in hierdie Hof se jurisdiksie gebied woonagtig is of besigheid doen nie en dat daar geen skuldoorsaak in hierdie hof se jurisdiksie gebied ontstaan het nie is na my mening ook sonder meriete. Kostebevele is voortvloeiende bevele. Sien Ayliff v Estate Wood supra 212. Dit is bevele wat voortvloei uit koste aangegaan voor litigasie en/of tydens litigasie. Sien FNB of Southern Africa LTD t/a Westbank v First East Cape Financing (Pty) Ltd 1999 (4) SA 1073 (SECLD) vir die posisie met betrekking tot – voor – litigasie koste. Indien koste aangegaan is om litigasie in ‘n bepaalde hof te begin of voort te sit is dit logies en gerieflik dat die hoofsaak en bykomstige of voortvloeinde aangeleenthede – soos koste – deur daardie hof bereg word.


[35] In Van Gorkom and Noonan v Davies 1914 TPD-WLD 572 te 575 het Mason R die volgende gesê:


The wife, however, can only obtain these costs upon the specific order of a judge, who has a discretion not only as to the amount but also as to the granting or refusal of the order. That discretion he exercises upon consideration of the condition and position of both parties and the circumstances of the case. Whilst Rebuffus (sec 31) states expressly that those applications should be made to the judge who has cognisance of the principal cause, and that seems necessarily to follow from the application being regarded as provisional or preliminary portion of the principal action”


[36] In FNB Southern Africa LTD t/a Wesbank v First East Cape Financing supra te 1077 C-D het Mbenenga WR die respondent se betoog dat slegs die hof wat jurisdiksie het oor die meriete, jurisdiksie het in verband met koste tereg nie verwerp nie. In Rantenbach v Symington 1995 (4) SA 583 (O) te 587 C-D het Lombard R heeltemal tereg aanvaar dat hy ‘n kostebevel de bonis propriis teen prokureurs van Johannesburg wat namens ‘n party in die Vrystaat litigeer het kan maak. Sien ook Joubert LAWSA 2de uitgawe Vol 3 deel 2 bladsy 208 paragraaf 290, AC Cilliers Law of Costs paragraaf 202.


[37] Na my mening het hierdie Hof jurisdiksie om die aansoek aan te hoor en die gepaste regshulp te verleen. Die proposisie tot die teendeel is onlogies, ongerieflik en absurd. Waarom moet ‘n party wat ‘n kostebevel de bonis propriis teen ‘n prokureur of direkteur wat nie in hierdie hof se jurisdiksie woonagtig is of besigheid doen ‘n aparte aansoek in ‘n ander hof instel? Die ander hof het nie “cognisance of the principal cause” nie. Waarom moet die aangeleentheid stuksgewys in twee verskillende howe afgehandel word – die meriete in hierdie hof en die koste de bonis propriis in die hof in wie se jurisdiksie gebied die respondent woonagtig is of besigheid doen? Ek wend my nou tot die meriete.


VAN JAARSVELD EN STRB

[38] Die applikant het na ontvangs van STRB se opponerende eedsverklaring aan laasgenoemde genoem dat hulle STRB se verduidelikking aanvaar en die aansoek teen STRB terug trek. Dit is steeds die applikant se houding dat hy nie met die aansoek om ‘n kostebevel teen STRB voort gaan nie. Die applikant wou egter nie STRB se koste tender nie. Dit is om hierdie rede dat STRB die aansoek bestry. Omdat die applikant nie voort gaan met die aansoek teen STRB nie gaan ek nie myself verder uitlaat oor die meriete van die aansoek teen hulle nie, maar ek sal wel later handel met die rede vir die koste bevel wat ek hierin gemaak het.


[39] Wat Van Jaarsveld betref is dit so dat sy beweegrede en optrede suspisieus en vatbaar is vir kritiek. Dit blyk egter dat hy die voorlopige likwidateurs tydig in kennis gestel het van die hangende saak te Bloemfontein. Hy het ook die likwidasie bevel vir sy prokureurs (STRB) gestuur. Ek kan nie bevind dat hy, as enigste direkteur, van Monastery doelbewus, roekelos en nie in die belang van Monastery opgetree het nie. Wat die meriete van die aansoek betref, kan daar nie sonder meer gesê word dat Van Jaarsveld mala fide was nie.


[40] Wat die koste van hierdie aansoek betref, is dit so dat die applikant in die donker gehou was tot 13 September 2006. STRB het reeds op 30 Augustus 2006 verneem van Monastery se likwidasie. Hulle hou nie op om namens Monastery op te tree nie so ook laat weet hulle nie die hof of die teenkant tussen 1 en 7 September 2006 dat Monastery gelikwideer is nie. Toe STRB uiteindelik op 7 September 2006 ‘n skrywe aan hulle korrespondente rig dui hulle steeds aan dat Monastery hulle klient is. Hulle het op 30 Augustus 2006 reeds geweet of moes op daardie datum geweet het dat hulle mandaat automaties tot ‘n einde geloop het. Sien Goodricke & Son v Auto Protection Insurance Co 1968 (1) SA (AD) te 722 H. Dit is STRB se korrespondente (agente) wat die leêr soek laat raak het en sodoende nie vir die applikant betyds in kennis gestel het. As gevolg van die problem by STRB se agente het die applikant eers op 14 September 2006 skriftelike bevestig ontvang dat Monastery onder likwidasie geplaas is. Daar is geen verduideliking aan die applikant verskaf aangaande die rede vir die vertraging – tussen 1 en 13 September 2006 – nie. Al wat die applikant in effek meegedeel is, is dat hy maar moet sien hoe hy sy koste verhaal van die boedel van Monastery. Dit is ook duidelik dat STRB hierdie probleem voorsien het en nogsteeds traag opgetree. Daar moet onthou word dat Van Jaarsveld reeds op 1 September 2006 aan Van Staden geskryf het dat STRB is bang die ander party gaan by die hof opdaag as hulle nie betyds laat weet word nie. Ondanks hierdie vrees doen hulle niks vir vier hof dae.


[41] Indien hulle die Hof en die applikant betyds kennis gegee het dat hulle mandaat ipso iure geëindig het as gevolg van Monastery se likwidasie sou daar heel waarskynlik nie ‘n aansoek gebring gewees het nie. Die e-pos van 14 Augustus vanaf me Gill Markham na Van Jaarsveld laat ook die wenkbrone lig. Indien die saak op die rol geplaas is om op 15 September 2006 aangehoor te word kan ‘n persoon maar net vra, wat se hulp “assistance” sou Van Jaarsveld nog nodig gehad het. Die e-pos van 30 Augustus 2006 waarin Van Jaarsveld vir Markham inlig van die likwidasie bevel word nie voort afgegaan deur ‘n verduideliking dat Monastery in tussen gelikwideer was nie. Die trant van daardie skrywe is van so aard dat dit vatbaar is vir die afleiding dat Van Jaarsveld aanvaar het dat die persoon aan wie hy die e-pos skryf weet van die aansoek om likwidasie. Dit daar gelaat.


[42] Van Jaarsveld het op 4 Julie 2006 reeds aansoek gedoen vir Monastery se likwidasie. Hy moes toe reeds geweet dat daar aansoek gedoen was om verlof om te appelleer. Hy het geweet dat die status van Monastery verander gaan word. Hy moes ook voorsien het dat daardie status verandering ‘n impak gaan hê op die hangende verrigtinge. Hy sê immers self hy het dit geweet en dit is die rede waarom hy herhaaldelik vir Van Staden van die aansoek vertel het. Toe hy bewus word dat die ander party onnodiglik koste sal aangaan is sy houding “In the mean time let’s just wait.” Ek vind dit in elk geval hoogs onwaarskynlik dat Van Jaarsveld nie vir STRB in kennis sou gestel het van die aansoek om likwidasie nie. Maar al aanvaar ek dat dit wel die geval was – en ek aanvaar dit – is dit duidelik dat Van Jaarsveld as enigste direkteur van Monastery, as hoofskuldeiser van Monastery, as applikant om Monastery te likwideer en as ‘n persoon wat besef het dat die likwidasie ‘n impak op die verrigtinge in hierdie hof sal hê sy prokureurs tydig in kennis moes gestel het van die likwidasie. Om onder hierdie omstandighede ‘n onskuldige applikant wat net sy regte wou afdwing “out of pocket” te stel by wyse van ‘n koste bevel sal nie redelik en billik wees nie. Geregtigheid vereis nie so optrede nie. Elke party behoort sy eie koste te dra.


[43] Ek het om bovermelde redes die bevele soos in paragraaf 1 hierbo uiteengesit gemaak.




_______________

C.J. MUSI, R



Namens die applikant: Adv. F.W.A. DANZFUSS (SC)

In opdrag van:

Webbers

BLOEMFONTEIN



Namens Van Jaarsveld: Adv. N. SNELLENBURG

In opdrag van:

Honey Prokureurs

BLOEMFONTEIN




Namens STRB Prokureurs: Adv. P. R. CRONJE

In opdrag van

Israel Sackstein Matsepe Inc

BLOEMFONTEIN



Namens voorlopige Likwidateurs: Adv J. VLOK

In Opdrag van

Voorlopige Likwidateurs


/ms