South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2007 >> [2007] ZAFSHC 117

| Noteup | LawCite

S v Motaung (594/07) [2007] ZAFSHC 117 (27 September 2007)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Hersiening Nr. : 594/07


In die hersiening tussen:


DIE STAAT


versus


MAKHABANE MOTAUNG


_____________________________________________________


CORAM: WRIGHT, R et VAN ZYL, R

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: WRIGHT, R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 27 SEPTEMBER 2007

_____________________________________________________



[1] Die beskuldigde, ‘n 23-jarige man, is skuldig bevind aan die oortreding van artikel 5(b) van Wet 140 van 1992 (handel in 103,65 kg dagga) en gevonnis tot 4 (vier) jaar gevangenisstraf waarvan 1 (een) jaar op gepaste voorwaardes vir 4 (vier) jaar opgeskort is.


[2] Hierdie Hof het navraag gerig met betrekking tot die vonnis wat opgelê is en het die landdros onder meer in sy redes die volgende vermeld:

Die hof het ter versagting in ag geneem dat die beskuldigde relatief jonk is en as eerste oortreder voor die hof staan. Hy is ‘n Lesotho burger wat ‘n misdryf in sy buurland kom pleeg. Die hof het verder verreken dat die sosio- ekonomiese omstandighede van die beskuldigde haglik is. Hy en sy afhanklikes leef duidelik onder die broodlyn, vandaar ook sy wending na misdaad.”


[3] In die lig van bogemelde sou dit in elk geval geen doel gedien het om ‘n boete op te lê nie. Beskuldigde sou dit klaarblyklik nie kon betaal nie. Weens die erns van die misdaad kon ‘n baie lae boete in elk geval nie opgelê gewees het nie.


[4] Dit is ongetwyfeld so dat ons hier met ‘n ernstige misdaad te doen het en dat die belange van die gemeenskap van belang is en dat die hof die gemeenskap moet beskerm teen kontak met dwelms. Dit is egter welbekend dat dagga ‘n minder ernstige dwelmstof is as meeste van die ander dwelms en dat ‘n eerste oortreder in die geval van dagga ietwat ligter behandel word.


[5] Veral van belang by die versagtende faktore is die feit dat die beskuldigde skuldig gepleit het en absoluut eerlik met die hof was ten opsigte van al die feite van die saak en nie geskroom het om te vermeld dat hy dit wou verkoop het in Senekal nie. Op 23-jarige ouderdom is hy in elk geval nog betreklik jeugdig en vermeld hy verder dat hy geen kinders het nie, maar dat sy vrou swanger is. Hy vermeld ook dat hy werkloos is, maar slegs soms stukwerkies doen waarvoor hy ongeveer R100,00 per maand verdien het. Hy vermeld verder dat daar nog minderjarige kinders van sy suster is wat ook onder sy sorg is. Die kinders is onderskeidelik 6 jaar en 4 jaar oud.


[6] Myns insiens, met inagneming van die bogemelde en veral die feit dat beskuldigde ‘n eerste oortreder is, is die vonnis tog sodanig onvanpas dat daar mee ingemeng behoort te word.


[7] Bygevolg word die skuldigbevinding bekragtig maar die vonnis tersyde gestel en vervang met die volgende:

4 (vier) jaar gevangenisstraf waarvan 2 (twee) jaar gevangenisstraf opgeskort word vir 4 (vier) jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie weer skuldig bevind word aan die oortreding van artikel 5(b) van Wet 140 van 1992 gepleeg gedurende die opskortingstydperk nie.


Die vonnis moet geag word opgelê te gewees het op 28 Mei 2007.



______________

G.F. WRIGHT, R



Ek stem saam.





____________

C. VAN ZYL, R


/sp