South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2007 >> [2007] ZAFSHC 109

| Noteup | LawCite

Qwemico Distributors (Edms) Bpk v Sonlaagte Boerdery (Edms) Bpk and Another (3150/2005) [2007] ZAFSHC 109 (25 May 2007)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)



Saak Nr. : 3150/2005



In die saak tussen:


QWEMICO DISTRIBUTORS (EDMS) BPK Eiser


en


SONLAAGTE BOERDERY (EDMS) BPK 1ste Verweerder


PIETER JOHANNES VAN ABO 2de Verweerder




AANGEHOOR OP: 13 – 16 MAART 2007



UITSPRAAK DEUR: C.J. MUSI, R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 25 MEI 2007




[1] Die eiser in die hoofeis, Qwemico Distributors (Edms) Bpk, vorder ‘n bedrag van R382 173. 42 plus rente teen ‘n koers van prima plus 10.5% vanaf datum van aanmaning van die Eerste Verweerder, Sonlaagte (Edms) Bpk, en die Tweede Ververder Pieter Johannes Van Abo. Die Eiser beweer dat die gelde verskuldig is uit hoofde van ‘n skriftelike krediet ooreenkoms ingevolge waarvan die Eiser landbou chemiese produkte op krediet aan die Eerste Verweerder gelewer het. Die eiser beweer voorts dat die Tweede Verweerder ‘n borgstelling onderteken het en homself teenoor Eiser verbind het as borg en mede-hoofskuldenaar vir die Eerste Verweerder se verpligtinge teenoor die Eiser.


[2] Die Eerste Verweerder vorder, in ‘n teeneis, ‘n bedrag van R2 840 794.60 plus rente a tempore morae van die Eiser. Die Eerste Verweerder beweer dat dit skade gely het as gevolg van die feit dat die Eiser se verteenwoordiger, meneer Du Plessis, nie die terme van ‘n mondelingse ooreenkoms tussen Du Plessis en die Tweede Verweerder nagekom het nie en dus kontrakbreuk gepleeg het. Ek sal gerieflikheidshalwe na die partye verwys soos hierbo uiteengesit.


[3] By die aanvang van die verhoor het ek, in ooreenstemming met die partye se ooreenkoms, beveel dat die kwantifisering van die Eerste Verweerder se teeneis sal oorstaan vir latere beregtiging en dat die meriete van die teeneis saam met die Eiser se eis aangehoor moet word.

[4] Die partye het ook tereg ooreengekom dat elke party die bewyslas dra ten aansien van sy eis en dat die Eiser die begin las dra.


[5] Namens die Eiser het Barend Du Plessis, Herbert Gustav Lammerding, Linda Margaret Laubsher, Elmar Nel en Edward Matthys Odendaal (nie in hierdie volgorde) getuig. Namens die twee verweerders het Pieter Johannes Van Abo getuig.


[6] Meneer Barend Du Plessis het ‘n kursus in Oes Beskerming (2004) en ‘n kurses as Besmetings-adviseur (2005) suksesvol voltooi aan die Tswane Universiteit van Tegnologie. Hy was gedurende 2001 tot 2006 as agent werksaam by die Eiser. Sy pligte was onder andere om kliente te werf vir die Eiser; bestellings te plaas en aflewerings te doen; advies te gee en om behulpsaam te wees met aansoeke om krediet.


[7] Hy ken die Tweede Verweerder baie goed aangesien hy (Du Plessis) voor hom groot geword het. Hy bevestig dat die Tweede Verweerder op 5 Oktober 2005 ‘n kredietaansoek onderteken het. Indien daar ‘n wysiging van die kredietooreenkoms is dan moet die klient ‘n ander aansoek invul en onderteken. Op 8 November 2001 het die Tweede Verweerder ‘n tweede aansoek om krediet geteken. Alhoewel hy nie by was toe die Tweede Verweerder dit onderteken het nie, het Tweede Verweerder se sekretaresse hom geskakel en hom versoek om die dokument by haar te kry. Hy het dit by haar gaan haal. Hy het dit ook onderteken. Hy het geen bevoegdheid om enige kontraksterm of voorwaarde te wysig nie. Hy het bevestig dat die kontraksterme op die agterkant van die bestelvorm en afleweringsnota voorkom. Dit verskyn ook op die kredietaansoek. Die kredietaansoek en die bestelvorm bevat soortgelyke terme.


[8] Hy bevestig dat hy ‘n behoefte bepaling gemaak het vir die Eerste Verweerder (VW 1). Hy bevestig voorts dat hy en die Tweede Verweerder die bestelvorm (VW 2) op 22 Oktober 2004 onderteken het. Dat die rekening nommer 12786 wat daarop verskyn die Eerste Verweerder se rekening nommer was wat deur die Eiser in 2000, aan laasgenoemde toegeken was. Sy getuienis is dat die Tweede Verweerder met meneer Lammerding, die bestuurende direkteur van Eiser, gepraat het en dat daar ooreengekom is dat die goedere gelewer kan word maar dat betaling op 28 Februarie 2005 sou geskied. Die Tweede Verweerder het “Indien gif werk” op die bestelvorm aangebring. Hy sê egter dat dit nie ‘n term van die ooreenkoms was nie en hy, as agent, kan in elk geval nie waarborg dat die gif sal werk. Volgens hom was die kredietaansoek wat op 8 November 2001 onderteken was nie net vir die 2001/2002 seisoen nie.


[9] Hy ontken dat daar ‘n mondelingse ooreenkoms tussen hom as verteenwoordiger van Eiser en die Tweede Verweerder tot stand gekom het. Hy getuig dat daar tydens die plaas van die bestelling vir die 2004/2005 seisoen bespreek was watter produkte vir onkruidbeheer op die lande deur die eerste verweerder benodig en toegedien moet word; wanneer die produkte toegedien moet word; in watter hoeveelhede dit toegedien moet word en met die gebruikmaking van watter metodes en toerusting dit toegedien moet word; en met watter tussenposes en onder watter omstandighede dit toegedien moet word of, waar van toepassing, nie toegedien moet word nie of in mindere of meerdere hoeveelhede toegedien moet word; altyd in ooreenstemming met die voorskrifte van die vervaardigers van die produkte. Die eiser het onderneem om slegs die produkte en die hoeveelhede daarvan wat aldus benodig word aan die eerste verweerder te verkoop en te lewer wanneer dit vir toediening benodig word, vir welke doel die eiser ‘n kwotasie aan die eerste verweerder sal verskaf. Voorts het die eiser onderneem om die eerste verweerder se spuittoerusting en –apparaat wat in verband met die bespuiting gebruik word te kalibreer en aan te pas ten einde te verseker dat eerste verweerder met die hulp, advies en bystand van die eiser die produkte in korrekte hoeveelhede, op die regte tye, met die regte spuittoerusting en in ooreenstemming met die gebruiksaanwysings van die vervaardigers daarvan toedien. Sy getuienis is dat kalibrasie ‘n opsionele diens is aangesien baie boere dit self doen. Hy doen egter net die kalibrasie en is nie in beheer van wat daarna gebeur nie aangesien hy nie altyd tydens die vermenging en aanwending van gif teenwoordig kan wees nie. Die korrekte toediening van gifstowwe is ‘n delikate proses en kan deur verskillende faktore negatief beinvloed word. Die faktore is byvoorbeeld die spoed van die trekker, die vermenging van die gifstowwe en die aanwending van die gifstowwe.


[10] Hy het voorts bevestig dat sy aanbeveling van gifstowwe aan Eerste Verweerder, binne die aanbeveling van die etikette wat deur die verwaardiger op die gifstowwe aangebring is. Hy het daarop gewys dat die vervaardigers van Gaurdian sekere voorsorgmaatreëls en instruksies op hulle etikette aangebring het en dat hy glad nie beheer het oor hoe en waar die produk gestoor word nie; die metode, tyd en aanwending van die gifstof nie; die vermening dosis ens.


[11] Daar was op geen stadium enige klagte van ‘n oordosis of dat daar te veel gifstowwe gespuit was onder sy aandag gebring nie. So ook was die prosedure uiteengesit in die bestelvorm en die kredietooreenkoms met betrekking tot klagtes nie gevolg deur die Verweerders nie. Hy bevestig dat Nel, Eerste Verweerder se plaasbestuurder alle afleweringsnotas onderteken het.


[12] Gedurende kruisondervraging getuig hy dat die 2000 kredietooreenkoms sou bly voortbestaan het totdat die situasie verander maw vir toekomstige seisoene en nie net die 2000/2001 seisoen nie. Dit is strydig met die ooreenkoms se uitdruklike bepaling dat dit slegs vir daardie seisoen geld. Hy onthou nie dat hy die Tweede Verweerder in kennis gestel het van sy kredietlimiet nie. Hy bevestig dat Tweede Verweerder nie die kredietaansoek gelees het nie en dat Tweede Verweerder gesê het hy kan die aansoekvorm by sy sekretasesse kry. Hy bevestig ook dat die nota op die bestelvorm (VW 2) ‘n term is en nie net ‘n vergunning of uitstel nie. Hy bevestig dat die kontrak wat hulle verhouding beheers het was VW 2. Hy het ook bevestig dat daar baie meer Gaurdian afgelewer was as wat bestel was. Daar was op sy berekeninge slegs 12 x 25 liters nodig en bestel maar hy lewer bykans 21 x 25 liters af. Hy het ook toegegee dat indien daar te veel Gaurdian toegedien word kan dit skade veroorsaak.


[13] Herbert Gustav Lammerding se getuienis is dat hy die bestuurende direkteur van Eiser is. Hy is altesaam 41 jaar in die landbou chemiese bedryf. Hy beskik oor ‘n BSc landbou wat hy in 1964 aan die Universiteit van Pretoria verwerf het. Agente het geen benoegdheid om kontraksterme te verander nie.


[14] Hy het nie die Tweede Verweerder geken nie alhoewel hy baie lank met sy Pa besigheid gedoen het. Die Tweede Verweerder het ook nooit enige skade veroorsaak deur gifstowwe onder sy aandag gebring nie. Gedurende Februarie 2005 het hy ‘n telefoniese gesprek met die Tweede Verweerder gehad waartydens die Tweede Verweerder hom meegedeel het dat hy hulle gedurende April 2005 sal betaal wanneer sy belegging vry kom. Tydens daardie gesprek het die Tweede Verweerder glad nie melding gemaak van enige skade wat hy gehad het nie. Hy ontken dat die kredietooreenkoms slegs van toepassing was vir die 2001/2002 seisoen. Hy erken dat alle krediet vir die 2001/2002 seisoen deur die Verweerders betaal was. Volgens hom was die ooreenkoms dat die skuld op 28 Februarie 2005 betaal word slegs ‘n vergunning en nie ‘n term van die ooreenkoms nie. Op 22 Junie 2006 was daar ‘n gesprek tussen hom en Tweede Verweerder waartydens Tweede Verweerder hom meegedeel het dat sy agent Du Plessis te veel Gaurdian toegedien het. Hy het Tweede Verweerder versoek om hom al die gegewens te gee. Tweede Verweerder het gesê hy het deskundige verslae wat hy aan hom sal gee. Dit was nie gedoen nie. Einde Augustus 2006 is die teeneis gelewer. Hy het die kwantum van die hoofeis bevestig.


[15] Linda Margaret Laubsher is ‘n debiteure klerk te die Eiser vir die afgelope 8 jaar. Sy is in beheer van rekeninge en die ontvang van betalings. Daar word slegs een rekening nommer aan ‘n klient toegeken vanaf die begin van die verhouding tot die einde daarvan. Sy bevestig dat Eerste Verweerder se rekening nommer 12786 is. Sy het ook die eisbedrag bevestig.


[16] Elmar Nel se getuienis is dat hy vanaf April / Mei 2004 tot April / Mei 2005 as plaasbestuurder vir Tweede Verweerder gewerk het. Hy erken dat hy gedurende daardie periode afleweringsnotas onderteken het vir gif wat deur Du Plessis afgelewer was. Hy kan egter nie onthou hoeveel Gaurdian daar afgelewer was nie. Hy was verantwoordelik vir die meng en toedien van gifstowwe insluitend Gaurdian. Hy was egter nie altyd daar tydens die proses van menging en toediening van gifstowwe nie. Hy kan nie onthou of die mielies ‘n sambokagtige voorkoms gehad het nie. Toe hy diens verlaat het was daar geen klagte van Tweede Verweerder in verband met die oes nie. Hy bevestig dat Du Plessis gereeld na die spuite gaan kyk het. Gedurende kruisondervraging, getuig hy dat indien die gifstowwe klaar is het hy na Tweede Verweerder gegaan en hom ingelig. Tweede Verweerder sal kyk of die spuite reg is en dan sal hy meer gifstowwe bestel. Die plaaswerkers het die gifstowwe vermeng en toegedien.


[17] Edward Matthys Odendaal se getuienis is dat hy vir die afgelope vier of vyf jaar grond vir weiding, by die Tweede Verweerder huur. Gedurende Augustus / September 2005 het hy gif by die Tweede Verweerder gekoop. Hy het 5 x 25 liter kanne Suprazine gekoop. Daar was ander gifstowwe ook in die stoor onder andere 2 x 25 liters Gaurdian. Die meeste van die gifstowwe was oud.


[18] Die Tweede Verweerder Pieter Johannes Van Abo het as volg getuig. Hy boer sedert 1987 voltyds. Hy het op ‘n plaas groot geword en het sedert 1982 deeltyds geboer. Hy beskou homself as deskundige in somer gewas verbouing en saai boerdery. Hy bevestig dat Du Plessis hom gedurende 2001 versoek het om ‘n kredietaansoek te voltooi en onderteken. Hy het gesien dat bladsy een van die dokument aandui dat dit ‘n kredietaansoek is. Hy het Sonlaagte Boerdery Maatskapy Beperk daarop geskryf. Elke bladsy parafeer en dit onderteken in sy hoedanigheid as direkteur van Eerste Verweerder. Hy het dit vir sy sekretaresse gegee en haar versoek om al die ander besonderhede daarop aan te bring en dit vir Du Plessis te gee. Daar was nooit ‘n ooreenkoms dat hy as borg sou teken nie. Indien sy aandag daarop gevestig was dat hy as borg ook teken dan sou hy nie die dokument onderteken het nie. Hy het glad nie die dokument gelees nie.


[19] Hy bevestig dat Du Plessis gedurende 2004 (3 jaar na ondertekening van die kredietaansoek) ‘n kwotasie vir hom uitgewerk het en dat hy ‘n bestelling geplaas het (VW 2). Hy het met Lammerding gepraat en reëlings is getref dat hy op 28 Februarie 2005 sal betaal. Aangesien die vorige jaar se behoefte bepaling (R350 000) en die uiteindelik gelewerde produkte (R700 000) astronomies verskil het, het hy sy ontevredenheid met die toedrag van sake aan Du Plessis openbaar. Du Plessis het genoem dat Malan, Tweede Verweerder se vorige plaasbestuurder, nie die korrekte spuitkoppe gebruik het nie. Hy het nuwe spuitkoppe gekoop en geinstalleer. Hy het op die bestelvorm (VW 2) geskryf “indien gif werk” as term van die ooreenkoms. Hy het dit nie as ‘n grap beskou nie. Hy het egter nie die teenkant van die bestelvorm gelees nie maar was bewus daarvan dat dit sekere voorwaardes bevat wat op hom van toepassing is. Volgens hom het die bestelvorm (VW 2) die verhouding tussen hulle beheers en was dit die enigste kontrak.


[20] Die ooreenkoms tussen hom en Du Plessis was dat daar, as gevolg van die koue en nat toestande, slegs 70% van die aanbevele dosis toegepas moet word. Du Plessis moes dagliks die toediening van die gif moniteer en hy moes dagliks die spuite nagaan.


[21] Daar was 2070 hektaar mielies geplant alhoewel daar aanvanklik vir 2200 hektaar begroot was. Daar was dus meer as twee maal die aanbevele dosis Gaurdian toegedien. Indien daar te veel gif op die mielies toegedien word dan het die mielies ‘n sambokagtige voorkoms. Sommige mielies groei hierdie voorkoms uit ander nie. Hy het gemerk dat van sy mielies inderdaad ‘n sambokagtige voorkoms gehad het. Hy het vir Du Plessis daarvan vertel en laasgenoemde het gesê dat dit nie Gaurdian is wat dit veroorsaak het nie.


[22] Hy bevestig dat hy gedurende Februarie 2005 ‘n telefoniese gesprek met Lammerding gehad het waartydens hy aan hom genoem het dat hy hulle gedurende April 2005 sal betaal.


[23] Hy bevestig dat hy ou gifstowwe aan Odendaal verkoop het. Hy bevestig ook dat as deel van die ooreenkoms tussen hom en Eiser moes Du Plessis hom adviseer oor watter gifstowwe gebruik moet word en wanneer dit toegedien moet word. Hy moes die spuite kalibreer. Hy moes ook toesig hou oor die vermenging en toedien proses. Volgens hom sou hy nie die gifstowwe vanaf Eiser gekoop het nie indien Du Plessis gesê het dat hy nie sy weg oopsien om hierdie bykomstige dienste te lewer nie.


[24] Gedurende kruisondervraging getuig hy dat hy oor die graad LLD in Strafreg beskik. Hy bevestig dat hy nie die kredietaansoek gelees het nie. Hy het ook nie die teenkant van die bestelvorm gelees nie. Hy getuig dat die vermening en toedien van die gifstowwe en die kalibrasie van die spuite Du Plessis se uitsluitlike verantwoordelikheid was. Hy moes ook toesien dat die trekkers se revolusies korrek is. Hy sê dat hy vir Du Plessis gesê het dat hy hom elke dag op die plaas wil hê en toe Du Plessis aandui dat dit moeilik gaan wees het hulle ooreengekom dat Du Plessis elke tweede dag daar sal wees. Volgens hom was Nel, sy plaasbestuurder, heeltemaal onervare. Hy erken dat hy afgewyk het van die vervaardigers se aanbevele dosis en dat hy self die risiko gedra het dat gras en onkruid tussen die mielies sou groei. Hy het ook toegegee dat sy eis wat gebaseer is op 45 eenhede Gaurdian verkeerd is en dat slegs 21 eenhede gelewer is.


[25] Aangesien die getuienis met betrekking tot die ondertekening van die borgskap in wese nie in geskil is nie sal ek eers daarmee handel. Dit is gemenesaak dat die Tweede Verweerder nie die ooreenkomste van 5 Oktober 2000 (in sovere dit relevant is) en 8 November 2001 gelees het nie. Dit is ook gemenesaak dat die feit dat hy ‘n aansoek om krediet en ‘n borgskap onderteken nooit onder sy aandag gebring was nie. Inteendeel Du Plessis het hom pertinent meegedeel dat hy ‘n aansoek om krediet onderteken. Du Plessis was self nie bewus van die inhoud van die kredietooreenkoms nie. Du Plessis het hom ook nie gesê dat die 8 November 2001 ooreenkoms nie net vir seisoen geld nie.


[26] Die regsposisie, soos wat ek dit verstaan, is dat ‘n party wat ‘n kontraktuele dokument onderteken daardeur sy instemming tot die kontraksterme betuig. Indien hy/sy dit onderteken sonder om dit te lees en dit blyk later dat daar terme is waarmee hy/sy nie tevrede is nie sal hy gebonde wees aan daardie kontrak omdat hy/sy die argitek is van sy/haar eie neutelige posisie. Die party kan egter aanspreeklikheid ontduik indien hy/sy kan aantoon dat die dokument as gevolg van ‘n wanvoorstelling, bedrog, dwang, onbehoorlike beinvloeding, onregmatigheid of iustus error onderteken is. George v Fairmead (Pty) Ltd 1958 (2) SA 465 (A) te 471 B; Dlovo v Brian Porter Motors Ltd 1994 (2) SA 518 (C); Kempston Hire (Pty) Ltd v Suyman 1988 (4) SA 465 te 468 D – F; Keens Group Co (Pty) Ltd v Lötter 1989 (1) SA 585 (C) te 589. Christie RH: The Law of Contract in South Africa 5de uitgawe te 178 – 179 verwys na ‘n ander verweer en stel dit as volg:


A further defence that can be welcomed as part of our law is that the document which was signed without being read contained a term or terms which the reasonable person would not expect to find therein… Does the reasonable person present for signature without reading (as opposed to signature after clause-by-clause discussion) a document containing terms which no reasonable person would expect to find therein? Or put it another way, because it is a known fact of life that people habitually sign contracts without reading them only because they assume they do not contain unexpected terms, can it be said that the unwitting signatory of a contract which does contain unexpected terms has so conducted himself that a reasonable person would believe he has assented to those unexpected terms? The answer to both questions must surely be no, and the caveat subscriptor rule should therefore not apply in these circumstances.”


In George v Fairmead supra te 471 A – C het Fagan HR die toets as volg gestel:


When can an error be said to be Justus for the purpose of entitling a man to repudiate his apparent assent to a contractual term? As I read the decisions, our Courts, in applying the test, have taken into account the fact that there is another party involved and have considered his position. They have, in effect, said: Has the first party – the one who is trying to resile – been to blame in the sense that by his conduct he has led the other party, as a reasonable man, to believe that he was binding himself?... If his mistake is due to misrepresentation, whether innocent or fraudulent, by the other party, then, of course, it is the second party who is to blame and the first party is bound.”


Die geleerde hoofregter het homself as volg uitgelaat oor die bewyslas, te 472 A – B:


“…(t)he party who seeks relief must convince the Court that he was misled as to the purport of the words to which he was thus signifying his assent. That must, in each case, be a question of fact, to be decided on all the evidence led in that particular case.”


n Onnodige en tydrowende herhaling van die feite van soortgelyke sake is dus nie behulpsaam nie. Dit is die feite van hierdie saak wat deurslaggewend is.


[27] In die 5 Oktober 2000 ooreenkoms is die “borgskap” in dieselfde druk as die ander voorwaardes gedruk en dit lees as volg:


8. Die aansoeker staan in sy persoonlike hoedanigheid borg vir enige verskuldige bedrae.”


In die 8 November 2001 ooreenkoms is die ander voorwaardes in kleiner druk en onmiddellike onder daardie voorwaades staan die volgende:


EK, DIE ONDERGETEKENDE BEVESTIG DAT DIE INLIGTING HIERIN VERSKAF WAAR EN JUIS IS EN DAT EK DIE VOORWAARDES VIR DIE TOESTAAN VAN KREDIET GELEES HET, DIT VERSTAAN EN DAT ALLE TRANSAKSIES AANGEGAAN MET DIE MAATSKAPPY ONDERHEWIG SAL WEES AAN DIE VERMELDE VOORWAARDES.


EK WAARBORG DAT (INDIEN DIE AANSOEKER ‘N MAATSKAPPY, BESLOTE KORPORASIE OF TRUST IS):

  1. DAT EK GEMAGTIG IS OM DIE MAATSKAPPY, BESLOTTE KORPORASIE OF TRUST HIERIN TE BIND; EN

  2. DAT REKENINGE STRENG VOLGENS TERME VEREFFEN SAL WORD, EN EK MYSELF BIND AS BORG IN SOLIDIUM EN MEDE-HOOFSKULDENAAR VAN DIE MAATSKAPPY, BESLOTE KORPORASIE OF TRUST TEN GUNSTE VAN QWEMICO DISTRIBUTORS (PTY) LTD.”


Op die eerste bladsy van die ooreenkoms is daar in groot vet letters die volgende gedruk.

KREDIET AANSOEK

CREDIT APPLICATION


[28] Me Haupt het veel gewag gemaak van die feit dat die tweede verweerder in 2000 ook ‘n borgskap onderteken het. Hierdie feit is neutral want sy getuienis is in elk geval dat hy ook nie daardie ooreenkoms gelees het nie. Wat egter opvallend is, is dat die 2000 ooreenkoms slegs agt voorwaardes bevat wat 15 reëls bestaan. In daardie ooreenkoms is die borgskap egter in ‘n aparte paragraaf vervat – alhoewel in dieselfde druk. In die 2001 ooreenkoms (wat veel langer is en by verre meer klousules bevat) word die borgskap nie as aparte paragraaf hanteer nie maar so as ‘n nagedagte. Die naam van Eiser word in vet hoofletters gedruk maar ‘n belangrike bepalings – soos borgskap – word genoem nadat die aansoeker vermaan word dat rekeninge streng volgens terme vereffen moet word. Die borgskap was nie opsigtelik of opvallend gemaak nie. Die leser se aandag word nie spesifiek getrek na die borgskap nie. In Keens Group Co (Pty) Ltd v Lötter supra te 591 B – D het Tebbutt R die volgende gesê:


I do not think that it can be said that when a man applies for credit for his company he can reasonably expect to find a condition in the application form in which he at that stage, i.e at application stage, binds himself as surety for his company’s obligations should such credit facilities be granted. It may be different if he undertook that, should the facilities be granted, to obtain the suretyship either of himself or his co-directors, but I do not feel that he could reasonably be expected to think that he might be binding himself in advance as a surety for whatever amount of credit facilities the plaintiff may extend to his company. A suretyship obligation bears with it serious and far-reaching consequences and I feel that before a person can be held bound as a surety he should know that he is so binding himself. Defendant was in the present case not alerted to this fact, either by the plaintiff or its representatives, or by anything in the form that he signed. By using this type of form I feel the plaintiff has only itself to blame if the defendant was under a misapprehension, as he says he was, as to what the real effect was of the form when he signed it.”

Ek stem volmondig saam met Tebbutt R.


[29] Dit is ook opvallend dat Eiser nie die aansoek as ‘n aansoek om krediet en borgskap tipeer nie. Dit word slegs ‘n aansoek om krediet genoem. Eiser het glad nie sy agente – wat verantwoordelik was om toe te sien dat kliente die kontrakte teken – opgelei of hulle meegedeel dat hulle kliente daarop attent moet maak dat hulle ‘n borgskap ook teken. Du Plessis was ook geluksalig onbewus van die borgskap in die aansoek om krediet. Die Tweede Verweerder het die dokument duidelik slegs in sy hoedanigheid as direkteur onderteken en nie in sy persoonlike hoedanigheid nie.


[30] Alhoewel die dokument vir ‘n paar dae in die Tweede Verweerder se kantoor was en hy ‘n regsgeleerde is, is dit duidelik en onbetwis dat hy glad nie die dokument gelees het nie. Hy het slegs sy paraaf, handtekening en die naam van die maatskappy op die dokument aangebring. Die Tweede Verweerder se getuienis dat hy nie geweet het dat hy ‘n borgskap teken nie is nie onwaarskynlik nie. Die Eiser se agent het hom onskuldiglik mislei deur te noem dat hy slegs ‘n kredietaansoek moet onderteken. Hy was ook mislei oor die aard en inhoud van die dokument. Hy was ook nie gesê dat die dokument vir meer as een seisoen geld nie. Na my mening behoort die Tweede Verweerder onder hierdie omstandighede nie aanspreeklik gehou te word as borg en mede hoofskuldenaar vir die Eerste Verweerder se skuld nie.


[31] Dit is gemenesaak dat Eerste Verweerder nie ‘n kontantklient van Eiser was nie. Dit is gemenesaak dat die partye op 8 November 2001 ‘n skriftelike ooreenkoms gesluit het in terme waarvan die Eerste Verweerder aansoek gedoen het om krediet voortspruitend waaruit die Eerste Verweerder dan landbou chemiese produkte by Eiser op skuld sou aankoop. Die eerste vraag wat beantwoord moet word is of daardie ooreenkoms slegs vir die 2001/2002 seisoen gegeld het of deurlopend was. Tweedens of daardie ooreenkoms alleen die regsverhouding tussen die partye beheers het.


[32] Lammerding se getuienis is dat die kredietooreenkoms nie seisoenal was nie en deurlopend geldig was. Sy getuienis was tot ‘n mate deur Du Plessis gestaaf. Die Tweede Verweerder beweer dat die kontrak slegs vir die 2001/2002 seisoen gegeld het. Die Eerste Verweerder beweer dat dit alle bedrae waarvoor krediet aan dit verleen was vir die 2001/2002 seisoen ten volle betaal het en dat die ooreenkoms van 8 November 2001 nie meer gegeld het nie. Dit is in elk geval gemenesaak dat die Eerste Verweerder al sy verpligtinge teenoor die Eiser vir die 2001/2002 seisoen nagekom het.


[33] Me Haupt het daarop gewys dat die 8 November 2001 kontrak uitdruklik bepaal dat:


DIE ONDERVERMELDE VOORWAARDES HET SONDER UITSONDERING BETREKKING OP DIE BESTELLINGS EN DIE AANSOEKER ERKEN DAT HY HULLE DEURGELEES HET EN VERSTAAN DAT DIE ANSOEKER GEBONDE SAL WEES AAN DIE VOORWAARDES MET BETREKKING TOT ELKE BESTELLING WAT GEPLAAS WORD.”


Haar argument was dat hierdie ‘n duidelike aanduiding was dat die ooreenkoms vir meer as een seisoen geldig was. Die argument is ‘n vereenvoudiging van die problem. ‘n Persoon of maatskappy kan binne ‘n bepaalde seisoen meer as een bestelling plaas. Die feit dat daar slegs na bestellings verwys word help glad nie die Eiser nie.


[34] Dit is insiggewend dat klousule 8 van die 2001 ooreenkoms bepaal dat:


Alle transaksies sal op ‘n kontant – basis plaasvind tensy reëlings vir krediet vooraf getref is, in welke geval die koopprys betaalbaar is binne dertig (30) dae vanaf datum van die staat.”


[35] Hierdie klousule beteken nie noodwendig dat reëlings vir krediet slegs een keer getref moet word nie en dan is daar ‘n krediet fasiliteit wat voortdurend bestaan nie. Ek sê dit want die ooreenkoms swyg oor die toeken van ‘n kredietlimiet. Alhoewel Lammerding getuig het dat die kredietlimiet aangepas of verhoog was is daar geen bepaling in die ooreenkoms dat die kredietlimiet hersien sal word en wanneer of hoe dit hersien sal word nie. Die Eerste Verweerder was nooit in kennis gestel dat dit ‘n kredietlimiet het wat elke jaar of deurgaans vir elke bestelling gebruik kan word nie. Die feit dat daar slegs een rekening nommer toegeken is beteken nie dat daardie ooreenkoms deurlopend sal geld nie. Die interne administratiewe reëlings van Eiser is nie aanduidend van ‘n seisoenale of deurlopende ooreenkoms nie. ‘n Rekening nommer kan aan ‘n klient toegeken word al is die ooreenkoms seisoenal. Lammerding se getuienis oor hierdie aspek kan myns insiens nie aanvaar word nie want dit is in stryd met die ooreenkoms. Loubsher se getuienis vat ook nie die aspek verder nie aangesien haar getuienis slegs oor irrelevante administratiewe aspekte handel. Na my mening het die Eiser nie op ‘n oorwig van waarskynlikhede aangetoon dat die ooreenkoms nie seisoenal was nie.


[36] Daar is ‘n ander rede waarom die eis nie kan slaag nie. Klousule 1 van die 2001 ooreenkoms bepaal dat:


Enige besondere bepalings of voorwaardes waaroor die partye ooreengekom het met betrekking tot afslag of betaling (of enige ander besondere bepaling of voorwaarde) sal alleenlik van krag wees indien dit op die MAATSKAPPY se bestelvorm aangeteken is, en sal in elke geval onderhewig wees aan die aanvaarding van die KLANK se bestelling deur die MAATSKAPPY en aan hierdie kontrakvoorwaardes.”


Die betrokke bestelvorm (VW 2) gedateer 22 Oktober 2004 bevat die inskrywing dat “betaling 28 Februarie soos ooreengekom met Lammie. Indien gif werk.” Lammerding beweer dat hierdie nie ‘n kontraksterm was nie maar slegs ‘n vergunning. Hierdie getuienis van Lammerding word weerspreek deur Du Plessis. Du Plessis se getuienis is dat VW 2 die ooreenkoms is waarvolgens die aankope vir die 2004/2005 jaar gemaak was. As agent het hy en die Eerste Verweerder ‘n ooreenkoms gesluit en die terme daarvan was deur VW 2 reguleer. Volgens sy getuienis sou die betaling op 28 Februarie 2005 nie ‘n vergunning wees nie maar inderdaad ‘n term van die ooreenkoms na oorlegpleging met Lammerding. Na my mening probeer Lammerding die gevolge van daardie term ontduik deur te beweer dat dit slegs ‘n vergunning was. Du Plessis en die Tweede Verweerder sê immers dat dit die ooreenkoms was vir daardie jaar. Lammerding se getuienis rakende die vergunning kan dus nie aanvaar word nie. Die Eiser het nie gepleit dat VW 2 hulle regsverhouding met Eerste Verweerder beheers het nie en derhalwe moet die eis afgewys word.


[37] Indien ek verkeerd is is dit in elk geval duidelik dat die 2001 ooreenkoms nie alleen kan staan nie. Die 2001 ooreenkoms moet – ten einde sin te maak – saam met VW 2 gelees word. Dit is immers ook die strekking van klousule een daarvan. Daar is nie gepleit dat die 2001 ooreenkoms in samehang met VW 2 die skuldoorsaak is nie. Lammerding se getuienis dat VW 2 en die voorwaardes op die keersy van VW 2 nie ‘n ooreenkoms daarstel nie, is nie aanvaarbaar nie. Dit word verwerp. Me Haupt aanvaar ook dat die 2001 ooreenkoms saam met VW 2 gelees moet word. In haar betoogshoofde noem sy dat


Voorts ondersteun paragraaf 1 van die kredietooreenkoms(te) op alle waarskynlikhede, die Eiser se weergawe dat die uitstel tot betaling op VW 2 aangebring is om uitvoering te gee aan paragraaf 1 van die kredietooreenkoms.”


Die Eiser het egter glad nie op VW 2 gesteun nie en dus het Eiser nie ‘n skuldoorsaak op sterkte daarvan uitgemaak nie. Die hoofeis kan om hierdie rede ook nie slaag nie. Na my mening behoort die hoofeis afgewys te word.


[38] Wat die teeneis betref moet ek byvoorbaat noem dat die Eiser se getuies te wete Lammerding, Nel, Du Plessis my besonder beindruk het as goeie en geloofwaardige getuies. Alhoewel ek vroeër hierin negatiewe geloofwaardigheidsbevindinge teen Lammerding gemaak het was dit vir my duidelik dat hy wat die opdragte aan agente, sy verhouding met kliente, en die tegniese aspekte opreg was en in alle opsigte die waarheid vertel het.


[39] Lammerding se getuienis dat die kalibrering, behoefte bepaling en advisering slegs ‘n diens is word gestaaf deur Du Plessis. Tweede Verweerder gee self toe dat daar boere is wat hulle eie kalibrering doen. Dit is hoogs onwaarskynlik dat Du Plessis wat slegs as agent vir Eiser werksaam was en op ‘n kommissie basis gewerk het in wese sou toestem om sonder ekstra vergoeding voltyds in diens van die Verweerders te wees. Volgens Tweede Verweerder het Du Plessis onderneem om die vermenging en toediening van gif dagliks moniteer. Hy moes die spuitkoppe kalibreer. Volgens Tweede Verweerder was sy ooreenkoms met Du Plessis dat laasgenoemde na alles moes kyk wat ingesluit het die trekkers se spoed of revolusies.


[40] Nel, wat Tweede Verweerder se plaasbestuurder was se getuienis is duidelik dat dit sy pligte was. Hy staaf ook vir Du Plessis dat dit glad nie Du Plessis se pligte was nie.


[41] Die Tweede Verweerder se getuienis dat die mielies ‘n sambokagtige voorkoms gehad het is ook onwaarskynlik. Aldus die Tweede Verweerder was die 2004/2005 seisoen een van die bestes in die land en een van sy slegtes naas 1992. Hy het vermoed dat die skade deur gifstowwe veroorsaak kon gewees het. Hy het – volgens hom en Du Plessis ontken dit – vir Du Plessis gewys op die skade en Du Plessis het hom verseker dat dit nie Gaurdian is nie. Hy het daarna niks omtrent die saak gedoen nie. Nieteenstaande die groot finansiele verlies wat hy gely het probeer hy nie – deur middel van deskundiges en ander boere wat ‘n suksesvolle oeste gehad het – vasstel wat diè problem met sy oes is of was nie. Hy het nie die sambokagtige voorkoms onder die aandag van sy plaasbestuurder gebring nie.


[42] Alhoewel daar meer Gaurdian verskaf was as waarvoor daar aanvanklik begroot was is dit duidelik uit Nel en Du Plessis se getuienis dat dit nie noodwendig beteken dat al daardie gifstowwe vermeng en toegedien is nie. Nel se getuienis is dat hy die plaaswerkers gewys het hoe om die vermenging en toediening te doen. Hy kon ook nie deurgaans die proses moniteer nie aangesien hy met ander pligte besig was. Hy noem dat die gifstowwe kon vermors gewees het en selfs gesteel gewees het. Hy het self al die afleweringsnotas onderteken nadat hy die te kort met Tweede Verweerder bespreek het. Alhoewel Du Plessis erken het dat hy ook sonder aanvraag Gaurdian afgelewer het beteken dit nie dat hy totale beheer oor die hele proses gehad het nie.


[43] Die Tweede Verweerder het ook toegegee dat daar verskeie faktore is wat kan inwerk op die doeltreffendheid van Gaurdian en ander landbou chemiese produkte. Hy het ook erken dat hy kontra die vervaardigers se aanbevele dosis besluit het om die dosis met 70% te verminder.


[44] Na my mening is dit duidelik dat die Eerste Verweerder aan strooihalms vashou. Daar was duidelik geen mondelingse ooreenkoms tussen Tweede Verweerder en Du Plessis dat laasgenoemde verantwoordelik sal wees vir al die vermenging en toediening van die landbou chemiese produkte nie. Die Tweede Verweerder poog om opsetlik en leuenagtig ‘n diens uitbrei tot ‘n verpligting om al die pligte van ‘n plaasbestuurder of eienaar oor te neem. Na my mening het die teeneis geen meriete nie en behoort dit afgewys te word.


[45] Me Haupt het my versoek om te gelas dat elke party sy eie koste moet betaal. Mnr Van Rooyen het betoog dat daar geen rede is waarom tweede verweerder wat suksesvol was in sy verweer nie ‘n koste bevel in sy guns moet kry nie. Na deeglike oorweging van die feite van hierdie saak is ek van mening dat daar nie goeie gronde bestaan wat my noodsaak om af te wyk van die algemene reël dat koste die uitslag volg nie.


[46] Gevolglik maak ek die volgende bevel:

(a) Die hoofeis word afgewys met koste.

(b) Die teeneis word afgewys met koste.




____________

C.J. MUSI, R



Namens die eiser: Adv. L. C. Haupt

In opdrag van:

Honey Prokureurs BLOEMFONTEIN



Namens die verweerders: Adv. P. C. F. Van Rooyen SC

In opdrag van:

Hill, McHardy & Herbst BLOEMFONTEIN


/ms