South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2005 >> [2005] ZAFSHC 117

| Noteup | LawCite

S v Mofokeng (59/2005) [2005] ZAFSHC 117 (3 February 2005)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)



Hersienings Nr. : 59/2005



DIE STAAT


versus


NTSHINKI JABULANI MOFOKENG




CORAM: VAN DER MERWE R et VOGES WND R



UITSPRAAK: VOGES WND R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 3 FEBRUARIE 2005




Hierdie aangeleentheid is deur die landdros van Bethlehem na hierdie hof verwys vir hersiening.


Sy is van mening dat die beskuldigde se reg op ‘n billike verhoor aangetas is en dat dit in belang van geregtigheid nodig is dat die huidige verrigtinge tersyde gestel en die beskuldigde de novo voor ‘n ander landdros verhoor moet word.


Die verhoor het alreeds gevorder tot in die verdedigingsaak toe die beskuldigde aangedui het dat die hoftolk nie korrek tolk nie.


Nadat ‘n ander tolk gevra was om die getuienis van die betrokke getuie oor te tolk, het dit geblyk dat “daar wel dele was wat die tolk nie elke woord oorgetolk het nie of selfs verkeerd getolk het”.


Daarna, aldus die landdros, “het die Staat sowel as Mnr de Beer die hof meegedeel dat hulle tevrede is met Mnr Mbango se getolkte weergawe van die verrigtinge en dat die saak net voortgesit moet word met ‘n ander tolk. Beide van hulle se mening is dat aangesien die getuie nog onder kruisverhoor is, die Staat en die verdediging nog steeds die geleentheid het om die weersprekings tydens haar getuienis en kruisondervraging op te klaar”.


Aangesien daar nog geen skuldigbevinding was nie, is artikel 304(A) van die Strafproseswet Nr 51 van 1977 natuurlik nie van toepassing nie.


n Hoër hof het die bevoegdheid om die verrigtinge van ‘n laerhof voor die voltooiïng daarvan te hersien. Hierdie bevoegdheid moet egter spaarsamig uitgeoefen word, omdat dit nie in belang van regspleging is dat hofgedinge broksgewys afgehandel word nie. Die algemene reël is dat die uitoefening van hierdie hersieningsbevoegdheid beperk word tot daardie seldsame gevalle waar onreg nie anders vermy kan word nie. (Sien LE GRANGE EN ‘N ANDER v LOUBSER N.O. EN ‘N ANDER 1990 (2) SASV 202 (O) en gesag daarin vermeld.)


In die onderhawige verrigtinge bekla nóg die verdediging nóg die Staat hulle tans oor ‘n onbillike verhoor.


Aangesien die verhoor nog nie afgehandel is nie, kan foute wat met die vertolking van getuienis ingesluip het, indien dit wel so gevind word deur enige van die partye, nog uitgewys en reggestel word.


Sonder om die twee vertolkings te vergelyk, is dit nie moontlik om die omvang en effek van die tolk se fout(e) te beoordeel nie.


Dit kan nie tans bevind word dat die beskuldigde nie ‘n billike verhoor gehad het nie. Die situasie mag vanselfsprekend anders wees sou ‘n appèl of hersiening volg ná afhandeling van die verhoor.


Ek is nie tevrede dat ingryping op hiersiening voor afhandeling van die verrigtinge in die landdroshof tans noodsaaklik is nie.


Die saak word na die landdroshof terugverwys vir afhandeling.



________________

M. VOGES, WND R



Ek stem saam.






________________________

C.H.G. VAN DER MERWE, R



/sp