South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2004 >> [2004] ZAFSHC 27

| Noteup | LawCite

Mtholo v S [2004] ZAFSHC 27 (29 April 2004)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE-VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Appèl No.: 271/2002


In die saak tussen:


THEMBA MTHOLO Appellant


en


DIE STAAT Respondent


___________________________________________________________


CORAM: MALHERBE R.P. et VAN ZYL Wnd.R.

___________________________________________________________


AANGEHOOR OP: 26 APRIL 2004

___________________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: MALHERBE R.P.

___________________________________________________________


GELEWER OP: 29 APRIL 2004

___________________________________________________________


Appellant is ‘n 28-jarige eerste oortreder wat in die Streekhof te Villiers verskyn het op aanklag van oortreding van artikel 5(b) van Wet 140 van 1992 deurdat hy handel gedryf het in 108,6 kilogram dagga ter waarde van R108 600,00. Die klagstaat verwys na artikel 51(2)(a) van die Strafregwysigingswet (Wet Nr.105 van 1997) wat ‘n minimum vonnis van 15 jaar gevangenisstraf voorskryf vir ‘n eerste oortreder wat skuldig bevind word aan handeldryf in dagga ter waarde van R50 000,00 of meer tensy die hof bevind dat daar wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat die oplegging van ‘n mindere vonnis regverdig. Appellant was verteenwoordig deur ‘n prokureur en het skuldig gepleit op die aanklag. In sy geskrewe pleitverduideliking ingevolge artikel 112(2) van die Strafproseswet het appellant onder andere die beweerde waarde van die dagga erken asook dat hy kennis dra van die bepalings van die genoemde Strafregwysigingswet. Hy is skuldig bevind soos aangekla en gevonnis tot 7 jaar gevangenisstraf. Hierdie appèl is slegs teen die opgelegde vonnis gerig.


Die oorkonde toon aan dat appellant in Soweto woonagtig is en dat hy die dagga op die N3 snelweg tussen Natal en Gauteng vervoer het met die doel om dit te verkoop toe hy daarmee in sy besit betrap is. Die Landdros beskryf hierdie snelweg as die hoofroete waarlangs dagga van Natal na Johannesburg vervoer word en meld ook dat daar geweldig baie soortgelyke sake in die distrik van Villiers voorkom waarby groot hoeveelhede dagga betrokke is. Met betrekking tot die bestaan aldan nie van wesenlike en dwingende omstandighede sê die Landdros die volgende:


Nou in die verband neem die Hof dan in aanmerking die beskuldigde se persoonlike omstandighede. Sy ouderdom van 38, dat hy ongetroud is maar wel twee kinders het wat by sy ouma woon vir wie hy sorg, dat hy werkloos was ten tyde van die voorval maar los werkies hier en daar gedoen het. Die Hof neem verder in aanmerking dat die beskuldigde wel skuldig gepleit het, al die elemente van die misdaad erken het en daardeur ‘n mate van berou getoon het. Dit is dan ook so dat die beskuldigde heel moontlik nie die volle bedrag soos erken van R108 600 sou gekry het nie, aangesien hy heel moontlik maar meer ‘n middelman was wat die dagga vervoer het om weer aan ‘n ander verskaffer te verkoop. Die Hof neem dan uitsprake soos deur die Verdediging en die Staat ook uitgewys in aanmerking soos onder andere S v MORABUDI (?) 1999 (2) SACR 664 (A). Ook onder andere uitsprake soos S v HLATSWAYO EN KALI 1999 (2) SASV 651 (OVS Provinsiale Afdeling). Dan die bekende saak waarna ook verwys is S v MATHE 1998 (2) SASV 225 (Vrystaat) en dan ook die belangrike uitspraak van S v MALGAS 2001 (1) SACR 469 (A).


Indien hierdie uitsprake as riglyne in aanmerking geneem word blyk dit dat sou die Hof bevind dat ‘n beskuldigde ‘n onreg sou aangedoen word sou hy die minimum vonnis opgelê word dit ook op sigself as wesenlike en dwingende omstandighede kan aanvaar word. In die lig van die leiding wat gekry word uit hierdie regspraak is die Hof dan van oordeel, saamgeneem met die beskuldigde se persoonlike omstandighede dat dit wel ‘n wesenlike en dwingende omstandigheid daarstel en dat dit vir die beskuldigde tot nadeel sal wees sou hy die minimum vonnis opgelê word – die bedoel eintlik ‘n onreg teen die beskuldigde sou wees sou hy die minimum vonnis opgelê word. Maar indien gekyk word na vonnisse wat in daardie sake ook opgelê is blyk dit baie duidelik dat daar lang termyn gevangenisstraf opgelê word vir persone wat met hierdie groot hoeveelhede dagga handeldryf.”


Ek stem saam met die Landdros se bevinding dat daar wesenlike en dwingende omstandighede aanwesig is wat die oplegging van ‘n mindere vonnis as die voorgeskrewe minimum vonnis regverdig.


Namens appellant het Mnr. Van Heerden na die volgende beslissings verwys ter ondersteuning van sy betoog dat die opgelegde vonnis getemper behoort te word deur ‘n gedeelte daarvan op te skort:


S v MBATHA 2000 (2) SASV 409 (W).

In hierdie saak was die beskuldigde ‘n 44-jarige eerste oortreder wat skuldig bevind is aan besit van 100 kilogram dagga ter oortreding van artikel 4(b) van Wet 140 van 1992. Sy vonnis van 7 jaar gevangenisstraf is op hersiening verminder na ‘n boete van R3 000,00 of 12 maande gevangenisstraf, plus ‘n verdere 12 maande gevangenisstraf wat voorwaardelik opgeskort is vir 5 jaar.


S v MKHIZE 2000 (1) SASV 410 (W).

In hierdie saak is die beskuldigde skuldig bevind aan handeldryf in kokaïne. Sy het ‘n vorige veroordeling gehad van handeldryf in dagga en het die kokaïne aan ‘n polisielokvink vir R110,00 verkoop terwyl die opgeskorte gedeelte van haar vonnis vir die dagga oortreding nog oor haar kop gehang het. Haar vonnis van 12 jaar gevangenisstraf wat in die laerhof opgelê is, is op appèl verminder na 8 jaar waarvan 3 jaar voorwaardelik opgeskort is.


Mnr. Steyn het verwys na die beslissing in hierdie Afdeling in S v MATHE 1998 (2) SASV 225 waar ‘n vonnis van 7 jaar gevangenisstraf opgelê is aan ‘n tweede oortreder wat skuldig bevind is aan handeldryf in 133,9 kilogram dagga. In ‘n Volbank beslissing in hierdie Afdeling in S v KHANJWAYO; S v MIHLALI 1999 (2) SASV 651 is 6 jaar gevangenisstraf opgelê aan twee vroulike eerste oortreders wat onderskeidelik in 76,4 kilogram en 69 kilogram dagga handel gedryf het. In die lig van hierdie laasgenoemde vonnisse kan daar nie met die vonnis in die onderhawige saak ingemeng word nie.

Gevolglik word die volgende bevel uitgereik:


1. Die appèl misluk. Beide die skuldigbevinding en vonnis word bekragtig.

___________________

J.P. MALHERBE R.P.




EK STEM SAAM


_________________

C VAN ZYL Wnd.R.




Namens Appellant: Adv. F.J. van Heerden

i.o.v.

Regshulpraad

Bloemfontein



Namens Respondent: Adv. C.F. Steyn

i.o.v.

Direkteur: Openbare Vervolgings

Bloemfontein




/scd